A. GEBOORTE VAN JAKOB EN ESAU (Lees asb Gen 25:19-28).
Beeldskoon maar onvrugbaar.
Die huwelik tussen Isak en Rebekka wat soos ‘n sprokie begin het met ‘n beeldskone bruid wat uit ‘n vêr land met ‘n karavaan van kamele aangery gekom het na ‘n skatryk bruidegom wat haar langs die pad teen sonsondergang verlangend ingewag het, se romantiese wittebroodsdae was nou reeds lank verby, bykans 20 jaar al (25: 20,26) en nog was daar geen kind uit die huwelik gebore nie. Wat ‘n teleurstelling; wat ‘n beproewing.
Die sage wat Abraham en Sara moes deurleef deur 25 jaar lank vir die geboorte van hul eersteling te bid en vertrou, is hier in die lewens van hul erfopvolger en sy vrou herhaal. Weereens was dit ‘n uitgerekte geloofstryd wat gestry moes word om God se linie van gelowiges voort te sit. Die seun wat gebore moes word, moes nie maar net die resultaat wees van ‘n man en vrou wat bymekaar gekom en op natuurlike vleeslike wyse ‘n kind verwek het nie; nee die kind moes uit die egpaar se vertroue op God verwek word.
Verwekking van geloofskinders.
Hierdie is ‘n uiters belangrike beginsel omdat dit eweneens geld by die wedergeboorte van ‘n mens wanneer hy God vertrou om deur die werking van die Heilige Gees sy onvrugbare “dooie” gees aan te raak en ‘n geestelike kind vir God op dié wyse te verwek. Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is. (Joh 1:12,13)
(Abraham en Sara, Isak en Rebekka, Jakob en Ragel het dus almal deur daardie trauma gegaan, nie net terwille van hulleself nie, maar ook ter wille van ons wat na hulle, deur geloof in God as geestelike babas wedergebore moet word!)
Geloof in aksie.
Hulle was ook vasgevang in ‘n magstryd tussen twee koninkryke; die ryk van die duisternis teen die Ryk van die Lig. Eeue lank, sedert die Paradys, het hierdie oorlog toe al gewoed tussen God wat Sy verlore aardse koninkryk wou terugwen en die duiwel wat dit ten alle koste wou verhoed. Die Here wou vir Homself weer ‘n volk oprig vanuit die groot volkesee van ongelowiges en daaruit wou Hy die Messias, die Verlosser van die mensdom voortbring wat die hoof van die bose sou verbrysel. Elke mens word deur hierdie stryd geraak, of hy nou wil of nie, en dié wat hulle reeds aan die Here se kant geskaar het, word soveel meer geteiken. Dit is dus nog ‘n rede waarom Jakob en Rebekka nie ‘n kind kon voortbring nie.
Maar hulle geloofstryd was ook goed vir hulle, omdat dit hulle geestelik laat groei het, net soos wat die wedergeboorte van ‘n mens maar net die vertrekpunt van ‘n lang reis van vertroue op God is. Sê die Skrif dan nie: “Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.”(Heb 10:38).
Tweé karperde trek saam die kar deur die drif.
Isak het Rebekka nie alleen gelaat om hierdie stryd op haar eie te stry nie, of, erger nog, ‘n maklike uitweg gekies deur ‘n kind by ‘n byvrou te verwek soos Abraham nie, maar die regte ding gedoen en sy vrou bygestaan deur die Here in gebed om uitkoms te smeek. Dit was ‘n intense stryd en God het sy gebed verhoor.
God het die vrou as ‘n hulp vir die man geskape, maar daar kom tye dat sý ook die hulp van haar huweliksvennoot baie, baie nodig het en dan moet hy haar nie blameer vir haar onvermoë om haar kant te bring, haar bydrae te lewer nie, maar eerder Isak se voorbeeld volg deur vir haar te bid. So groei huweliksmaats al nader aan mekaar en val die huwelik nie vas in die modder driwwe van die lewe nie.
“Double for your trouble,” maar nog meer “trouble”.
Rebekka het toe sommer ‘n tweeling verwag, meer as waarop hulle gehoop het. Soos dit dikwels met sulke swangerskappe gaan, het sy baie ongemak verduur. Vir ‘n tydlank het sy oor haar lot loop en kla en gesê dat dit beter sou wees om dood te gaan as om so te ly. Eers was sy ongelukkig omdat sy nie ‘n kind kon kry nie en nou sielsongelukkig oor die prys wat sy moes betaal om ‘n baba in haar arms te kon vashou.
Leer en regeer.
Selfs vir die gelowige sal daar altyd uitdagings in dié lewe wees; die een is nog nie behoorlik verby nie, dan is die volgende een alweer op jou, soos die golwe van die see wat moeiteloos inrol en oor jou breek.
Wat is jou opsies? Om terug te hardloop strand toe en heerlik in die son te gaan lê en bak? Nee, geestelike gesproke beteken dit om op te gee, handoek in te gooi, die kar te pak en al die pad terug huistoe te kruie.
‘n Beter opsie is om te leer hoe om onder die golf deur te duik waar die water kalmer is en dan aan die anderkant weer uit te skiet met die golf wat agter jou rug breek.
Nog ‘n beter opsie is om te leer om branderplank te ry en dan juis die golwe te gebruik om jou ure van genot te verskaf terwyl jy regop staan en moeiteloos oor die kruine gly. Die gesoute brander-plankryer is gedurig op die uitkyk vir groter golwe. (Lees asb. Jakobus 1:1-4 en mediteer daaroor, sodat jy hierdie ongemaklike waarheid beter kan verstaan.)
Vasgeval op 50?
Rebekka was blykbaar meer van ‘n manipuleerder as ‘n bran-derplankryer (27:5-17). Sy het eerder probeer om die golwe van die lewe te verander om haar te pas as om die teenhede van die lewe te gebruik om haar innerlike self te verander. Volgens sommige vertalings het sy soms oorweeg om eerder te sterf as om haar lewensvaardighede te verbeter.
Ons sien dit ook daarin dat sy later aan, in haar middeljare of selfs later nog, op dieselde plek vasgeval was en nie die konflik met haar skoondogters kon hanteer nie (27:46). Laat ons onsself tog die guns doen en geestelike branderplankry vaardighede aanleer, dan sal die lewe tog soveel plesieriger wees en as ander Christene sien hoe jy op die storm golwe ry, sal hulle jou vra om hulle ook daardie vaardighede te leer. Hoe lyk dit?
Ons ken mos die humoristiese opmerking, “As alles faal, probeer gebed.”
Maar vlees en bloed kan net sóveel verduur. Uiteindelik het Rebekka sovêr gekom om die Here oor haar probleem te gaan raadpleeg.
Ons moet meer bid en minder murmureer – kies die kortpad van gebed bo die langpad van teenoor almal rondom jou te kla. Hoeveel woorde bid ek en hoeveel woorde kla ek? Wanneer in kleingroepbyeenkomste aan gelowiges geleent-heid gegee word vir gebed, praat almal hoe lank om hul probleme vir mekaar te beskryf, maar wanneer geleentheid daarna gegee word om vir mekaar te bid, daal daar ‘n doodse stilte neer wat wys dat ons gemakliker is om met mekaar oor ons probleme te praat as om met God daaroor te praat.
Daar is vrae wat net God kan antwoord.
Waarheen het sy gegaan om die Here te raadpleeg? Kon dit wees dat sy na Salem gereis het om met Melgisédek (14:18), die Koning van vrede, die Priester van God haar probleem te bespreek? Indien wel, het sy haar pyn na Jesus geneem.
So spreek die Here; ‘n duidelike en omvattende antwoord.
Die Here het haar dadelik geantwoord. Dit was amper of Hy op haar gewag het om na Hom te kom want die twee seuns wat sy in die lewe sou bring, sou ‘n besondere rol in die wêreldgeskiedenis speel en Hy wou dit vooruit vir hierdie gesin sê, sodat hulle kon weet dat Hy in beheer was en besig om hulle lot te bestuur.
Hy het Rebekkea naamlik geantwoord dat sy ‘n tweeling sou hê en dat dit vooruit bepaal was dat die oudste die jongste sou dien, dws. wie van die twee sou heers. Hy het verder voorspel dat hulle tot twee afsonderlike nasies sou aangroei.
Nie die einde van die stryd nie, maar moed vir die stryd.
Laat ons daarop let dat die Here nie haar probleem weggeneem het nie, maar haar insig gegee het in die rol wat sy besig was om te speel om Sy plan te vervul. Dit het haar moed gegee om haar beproewing enduit te kon verduur.
Voordat sy van God gehoor het, was sy baie gespanne want dit was haar eerste kind en die simptome het daarop gedui dat alles moontlik nie wel was met die ontwikkeling van die outjie nie. Onsekerheid wat tot vrees lei, is die vyand van gesondheid en blydskap.
Twee seuns sien die lig; Esau en Jakob.
Uiteindelik is die seuns gebore. Die eersgeborene, Esau, was bedek met ‘n mantel van rooi hare. Van geboorte af al het hy ‘n besondere “macho” (hipermanlike) beeld vertoon. Hy het dan ook ontwikkel tot ‘n jagter, ‘n besondere jagter. Dit was nie vir hom ‘n nering om vir die gesin waarvan hy deel was, te sorg nie, maar eerder ‘n sport, ‘n opwinding om sy begeerte na plesier en avontuur te bevredig. Hy laat ‘n mens dink aan die woeste Nimrod wat ‘n geweldige jagter maar ook ‘n geweldenaar was (Gen 10:8,9).
Die laasgeborene was Jakob, “Bedrieër,” genoem omdat hy by geboorte sy broer, Esau, se hakskeen vasgehou het. Was dit weens ‘n heersende bygeloof dat hy so genoem was; miskien na aanleiding van God se uitspraak dat die slang (die duiwel) die mens in die hakskeen sou byt? Of was dit dalk ‘n profetiese woord uit die mond van Isak?
Wat die geval ookal was, Jakob het in sy later lewe hierdie naam gestand gedoen en homself op ‘n slinkse wyse bo sy broer, pa en oom bevoordeel.
Die mooi in sy lewe, aan die anderkant, was dat hy ‘n vredeliewende man was wat sy aandag by die daaglikse take van die lewensonderhoud bepaal het; ‘n staatmaker.
Is God se profesie aangaande die twee seuns bewaarheid?
Vir ons begin ‘n kind se bestaan eers werklikheid word wanneer die moeder vir die eerste keer lewe voel, maar vir God begin dit kort na konsepsie al – eintlik voor die grondlegging van die wêreld.
Esau se nageslag, die Edomiete (die woord beteken rooi) het hulle mettertyd suid en oos van die Dooie See gevestig. Toe die Here honderde jare later die land Kanaän aan die nageslag van Jakob gegee het, het Hy Israel nie toegelaat om hulle aan te val nie, alhoewel hulle geweier het om hulle deur hul land te laat trek. Later van tyd het hulle bittere vyande van koning Dawid geword.
Gedagtig aan hierdie vyandskap wat mettertyd tussen die twee nasies sou ontwikkel, wonder ‘n mens of dit vêrgesog sou wees om te sê dat dit reeds in die baarmoeder tussen die twee aartsvaders begin en soveel lyding vir Rebekka veroor-saak het? Sommige vertalings sê dat hulle met mekaar geworstel het. Die stryd tussen lig en duisternis ken geen grense nie.
Hierdie vyandskap duur vandag nog voort en sal voortgaan totdat hierdie wêreld tot ‘n einde sal kom.
‘n Klein jakkalsie verniel ‘n Christen wingerd.
Beide Isak en Rebekka het hulleself skuldig gemaak aan begunstiging van die een seun bo die ander. Isak se gunsteling was Esau, omdat hy lekker wildsvleis huistoe gebring het. Jakob weer, was Rebekka se witbroodjie. Hierdie begunstiging van een kind bo die ander sou beide ouers duur te staan kom.
Dit is natuurlik moontlik dat ouers om persoonlikheidsredes meer tot een kind aangetrokke voel as tot ‘n ander, maar dit moet hulle vir hulself hou en nie toelaat dat dit sigbaar word nie.
As beelddraers van God, die volmaakte Vader, moet elkeen van hul kinders vir hul ewe kosbaar wees; eweveel aandag, liefde, geskenke en geleenthede ontvang. ‘n Kind wat verwerp voel, sal moontlik nie sy volle potensiaal in die lewe bereik nie omdat hy homself as minderwaardig sal beskou.
Hoe dan nou gemaak wanneer een kind voorbeeldig leef en die ander homself en die gesin gedurigdeur in die verleentheid dompel? Selfs hier moet die ouers duidelik laat blyk dat hulle die een se mooi lewenswandel waardeer en die ander se onaanvaarbare optrede veroordeel, maar as persone, albei ewe liefhet.
B. ESAU VERKOOP SY EERSGEBOORTEREG AAN JAKOB (LEES GEN 25: 29-34)
‘n Goue geleentheid.
Hierdie insident was, sovêr ons uit die konteks kan aflei, nie vooraf beplan nie; dit het sommer net skielik, onverwags gebeur, soos toe die slang Eva onverhoeds in die Paradys in ‘n gesprek betrek het.
Jakob het net klaar ‘n lekker kooksel lensies voorberei gehad, toe Esau moeg en honger van die veld (‘n jagtog?) af terugkom. Esau het Jakob van sy kos gevra. Die feit dat sy presiese woorde aangeteken is, is belangrik: “Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg!” (25:30) Hy kom oor as ‘n persoon wat nie ‘n duit omgee of hy fatsoenlik optree of nie; ‘n losbandige tipe wat net vir die oomblik leef.
Jakob, op sy beurt, het seker jarelank al loop en tob en besin oor die probleem dat sy ouer broer, Esau, en nie hy nie, op die wetlike regte van die eersgeborene aanspraak kon maak. Dit het gewoonlik behels dat die eersgebore seun ten minste ‘n dubbele porsie van sy vader se boedel sou erf en boonop ná sy vader se dood, sy pa se posisie as gesinshoof sou oorneem.
Jakob kon dit nie verwerk nie. Hy was afgunstig op Esau. Die feit dat sy broer heeldag en aldag agter die wild aan was en nie sy kant gebring het wat betref die bestuur van sy pa se groot boerdery nie, het die saak net vererger. Dan was daar ook nog die profetiese woorde van God dat hy oor sy broer sou heers. woorde wat sy ma stellig met hom gedeel het. Hy het aldeur loop en wonder en beplan hoe hy dié bordjies kon verhang.
En nou skielik was die kans van ‘n leeftyd daar. Blitsvinnig het hy dit raakgesien, dit aangegryp. Hy het sy broer mos geken en geweet hoe impulsief hy kon optree. “Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my,” het hy sag, listig, geantwoord. Hier was geen sprake van broederliefde nie; dit was blatante uitbuiting.
“Kyk ek gaan sterwe en wat baat my eersgeboortereg my dan?” het Esau traak-my-nie-agtig teëgekap sonder om vir ‘n oomblik oor die ontsaglike implikasies van sy besluit na te dink. Esau het net gelewe vir die hier en die nou. Hy wou sy behoeftes onmiddellik bevredig hê. Hy het sy optrede teenoor homself goedgepraat en homself bedrieg deur sy probleem te vergroot.
Die duurste pot sop ooit.
Jakob was halfpad deur die gaping maar wou die transaksie onherroeplik beklink. “Sweer eers vir my,” het hy met lis aangedring. En … Esau het gesweer! Binne ‘n paar sekondes het hy sy kosbare erfbesitting vir ‘n bord sop verkwansel. Toe het hy geëet, gedrink, opgestaan en weggegaan. Vir ‘n paar minute se genot het hy ‘n leeftyd se voordele verloor. Boonop was die Here God ‘n getuie van die transaksie en Sy kommentaar was dat Esau ‘n onheilige man was wat sy eersge-boortereg verag het (Heb 12:16).
Wees gereed want die Esau keuse kom onverwags.
Hierdie brokkie Skrif is so toepaslik vir elke jongmens. As ‘n matriekklas, drie, vier jaar later ‘n re-unie sou hou en elkeen sou vertel wat intussen met hom of haar gebeur het, sou twee groepe, die Jakob en die Esau groepe, reeds duidelik uitstaan. Daar sal diegene wees wat reeds ‘n graad behaal het of in ‘n goeie beroep staan en uitsien na ‘n belowende, sekere toekoms teenoor dié wat verleë, skaam, met ‘n vuil, leë bord voor hulle sit; verlore geleenthede wat hulle nooit weer sal kry nie. Dit is ironies dat ‘n mens sy belangrikste besluite neem, nie op die ouderdom van 45 jaar of ouer wanneer hy reeds baie lewenswysheid opgedoen het nie, maar tussen die ouder-domme van 15 en 25 jaar wanneer hy nog so deur emosie en begeerte gedrewe is. Dit is dan dat hy die fondament lê vir die volgende 40 tot 60 jaar van sy lewe.
As jy die lewe ligtelik opneem en onverantwoordelik of selfs roekeloos lewe, sal die lewe self met jou die spot dryf. Dit is so wonderlik dat God aan elkeen van ons ‘n absolute vrye keuse gee, maar … wat ‘n ontsaglike verantwoordelikheid is dit nie. Dit is behoorlik asof jy agter die stuurstang van ‘n vliegtuig inskuif en op jou eie, sonder opleiding self moet opstyg vir ‘n vlug wat baie jare sal duur en deur baie storms sal gaan voordat jy jou bestemming sal bereik. Daarom, wees verstandig, van skool af al, en vra die Meester Instrukteur, Jesus, om in jou te kom woon en jou oomblik na oomblik te leer hoe om geestelik veilig te vlieg en dit geniet.
(Oor die kwessie van God se uitverkiesing van Jakob bo Esau, sal ons in ‘n latere studiegids meer sê.)
C. ISAK IN GERAR EN BERSÉBA. SY VERBOND MET ABIMĖLEG (LEES GEN 26:1-35)
Isak beplan maar God rig sy voetstappe.
Daar het ‘n hongersnood in die land gekom, seker as gevolg van ‘n droogte. Isak moes besluit hoe hy sy familie, slawe en sy menigte van vee in die lewe sou hou. Hy trek toe na die omstreke van Gerar wat onder beheer was van die Filistynse koning Abiméleg, maar met die gedagte om verder te versit tot in Egipte waar die Nyl-rivier deurentyd vir goeie oeste gesorg het.
Maar, die Here breek toe in op sy gedagtes en sê vir hom om nie daarheen te gaan nie maar hom daar by Gerar te vestig. Die Here het hom toe ook bemoedig en die beloftes wat hy aan Abraham gemaak het, aan hom bevestig.
“Die appeltjie val nie vêr van die boom af nie.”
Net toe dit lyk of alles tot ruste gekom het en weer normaal verloop, duik ‘n anderssoortige probleem op. Die duiwel laat mos nie ‘n oomblik verbygaan om die lewe vir ons te versuur nie. Die skone Rebekka, en dit selfs op haar gevorderde leeftyd van moontlik al so by die 60 jaar, was, heel onskuldig, die oorsaak van die probleem.
Isak was naamlik bevrees, en met goeie rede, dat die manne van dié vreemde land waarin hy hom bevind het, hom sou doodmaak om sy vrou te bekom. Toe hulle hom dus uitvra oor haar het hy, in navolging van sy pa Abraham se voorbeeld, geantwoord dat Rebekka sy suster was. Vrees het hom gedryf om ‘n leuen te vertel. So is die probleem ontlont; altans so het hy gedink.
Uitgevang.
Ongelukkig vir hom kyk die koning toe eendag deur sy venster en sien hoedat hy vir Rebekka liefkoos. Dit doen ‘n broer tog nie met sy suster nie! Daar en dan tree die heidense Abiméleg die gelowige Isak aan. Hy is nie net betrap dat hy oneerlik was nie maar ook dat hy sonder rede aanvaar het dat hierdie leier geen morele beginsels gehad het nie. Wat meer is: sy sondige optrede kon die koning en sy volk in sonde gedompel en God se oordeel oor hulle gebring het. Wat ‘n verleentheid vir Isak!
Sonde is sonde en die Here verskoon dit nie; allermins in die lewens van Sy uitverkorenes. Maar Hy is ook genadig: nadat Hy ‘n heiden gebruik het om Isak se kop behoorlik te skrop, laat hy hom vry uitgaan en boonop met die gerustheid dat hy geen verdere vrees vir sy lewe hoof te hê nie. God het hom uit die penarie verlos.
God seën Sy struikelende dienskneg honderdvoudig.
Die Here het nie net sy skuld vergewe en vergeet nie, maar hom oorvloediglik geseën sodat hy selfs in ‘n jaar van droogte, 100-voudig geoes het.
Die Here het nie die droogte opgehef nie, maar dit oorheers. Hy het gehandel asof dit nie eers bestaan het nie. Hy laat Homself deur geen omstandighede begrens of inperk nie.
Ons kan egter deur kleingelowigheid vir onsself grense stel deur meer ag te gee op die “droogtes” om ons, as op die grootheid van God bo-oor ons.
Die Here se seën het nie by die een goeie oes geëindig nie; Hy het aangehou en aangehou om hom oorvloediglik te seën sodat sy troppe kleinvee, beeste en ander besittings buitensporig toegeneem het. Hierdie oorvloedige seën oor Isak, het ‘n ongewenste uitwerking op sy Filistynse bure gehad deurdat dit hul jaloesie en gramskap opgewek het. Uit hatigheid en moontlik ook om hom te verdryf, het hulle die putte wat hy en sy vader, Abraham, gegrawe het, vol grond gegooi. In ‘n land wat so skaars aan water is, kon sulke optrede tot oorlog aanleiding gegee het maar Isak het dit geduldig verduur – “Die ander wang gedraai.” Later het Abiméleg hom reguit gevra om weg te trek.
Laat staan en laat God oorneem.
Om te veg vir jou regte, klippe te gooi en bande aan die brand te steek, of sommer net met die tong te baklei, is die weg van die sondige mens. Om prys te gee wat ander onregverdiglik van jou opeis, verg geloof, maar die loon wat God gee, is baie groter as dit wat die mens van jou kan wegneem.
Isak het hom toe in die dal van Gerar gaan vestig maar ook hier het die Filistyne hom vervolg sodat hy na Berséba verhuis het. Uiteindelik het hy rus en vrede gevind. Hier het God vir die tweede keer aan hom verskyn, hom bemoedig om nie bevrees te wees nie en die beloftes wat Hy aan Abraham gemaak het aan hom bevestig. Wat ‘n lafenis!
Die Here sal nie toelaat dat ons onbepaald en bo ons kragte beproef word nie maar op die regte tyd uitkoms gee en vir ons lewensruimte skep.
Die bordjies is verhang (Ps 37:34).
Nou was dit Abiméleg se beurt om in die knyp te wees en in vrees te lewe want Isak en sy mense het so magtig geword dat hy hulle as ‘n bedreiging vir sy veiligheid gesien het. Hoed in die hand het hy kom pleit dat hulle ‘n vredesverdrag moes sluit.
Hoor net hoe huigel hy: “…jy moet ons geen kwaad doen nie, net soos ons jou nie aangeraak en aan jou niks as goed gedoen het nie en jou in vrede weggestuur het.” (26:29)
Isak het maar stilgebly oor al sy putte wat toegestop was en die bakleiery met sy veewagters en het eerder vir sy vyande ‘n maaltyd berei en aan hul versoek voldoen deur te onderneem om hulle geen kwaad aan te doen nie.
Is dit nie wonderlik nie dat sy teëstanders uiteindelik ruiterlik moes erken: “Jy is nou eenmaal die geseënde van die Here.” Wanneer ons God se pad loop sal andere ‘n hemelse lig om ons sien skyn.
Esau sorg altyd vir slegte nuus.
Aan die einde van die hoofstuk lees ons weer van Esau en weer is dit ‘n slegte berig. Weer het hy ‘n lelike fout begaan, hierdie keer deur twee ongelowige vrouens te trou. Hulle was vir hul skoonouers tot ‘n bittere verdriet.
Sy dwase stap het dus ook die mense om hom geraak. Die feit dat hy in ‘n huis van gelowiges grootgeword het, het hom niks gebaat nie. Sy hart was verkeerd.
D. JAKOB WORD GESEËN IN DIE PLEK VAN ESAU (Lees asb Gen 27:1-46).
Isak se jare het aangestap. Hy was reeds blind en het nie geweet hoeveel tyd hy nog op aarde sou oorhê nie en wou die Here se seën oor sy erfopvolger uitspreek voordat dit te laat sou wees.
Die eersgeboortereg en die patriargale seën.
Die eersgeboortereg was tweeledig. Die aardse voordele het van die begunstigde se pa gekom in die vorm van ten minste tweemaal soveel van sy vee, slawe, ens as wat die ander kinders sou kry, asook die gesag oor die familie. Die hemelse of geestelike voordele, het van God gekom in die vorm van ‘n geseënde lewe wat die begunstigde sou beërwe deur die vader se handoplegging en die uitspreek van profetiese woorde soos wat hy dit ookal sou goedvind. Die oorgaan van die materiële voordele het gewoonlik saamgeval met die uitspreek van die seën.
Verwarring.
As eersgeborene was Esau natuurlik in dié bevoorregte posisie. Maar hy het dan sy eersgeboortereg aan Jakob verkwansel gehad? Dit wil egter voorkom asof hy van mening was dat hy slegs sy materiële efporsie kwyt was en nie sy patriargale seën nie, want hy roep later uit: Sou hulle hom Jakob noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip het? My eersgeboortereg het hy geneem, en daar het hy nou my seën geneem! (27:36).
Die verdere vraag wat ontstaan is of Isak enigsins bewus was van hierdie transaksie tussen sy twee seuns. Moontlik wel, want met die uitspreek van sy seën oor Jakob (wat hy gedink het Esau was) maak hy geen melding van die oorgaan van sy boedel op hom nie.
Nog ‘n vraag is of Isak geweet het dat die Here vir Rebekka gesê het dat Jakob en sy nageslag oor Esau en sy nageslag sou heers? Indien hy dit wel geweet het, het hy dit net eenvoudig geïgnoreer want hy het Esau oor Jakob aangestel: Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees ‘n heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. (27:29).
‘n Huwelik wat versuur het.
In hul ouderdom was Isak en Rebekka nie meer so na aan mekaar soos in hul jonger dae nie, met die gevolg dat die kwessie van wie van die twee seuns voorrang moes geniet, nie deur hulle gesamentlik voor die aangesig van die Here deur gebid en uitgepluis was nie. Die kommunikasielyne was verbreek. Elkeen het gedink hy was reg en het homself ten koste van die ander een laat geld. Die vennote het opponente geword; die liefdesnessie ‘n bokskryt.
Korrupsie in die huis van die Vader en Moeder van baie nasies.
Toe Rebekka sien dat Isak vas besluit het om vir Esau te seën en nie vir Jakob nie, het sy ‘n slinkse plan beraam om haar wil deurgevoer te kry. Sy het naamlik besluit om die blinde Isak te bedrieg sodat hy Jakob sou seën in plaas van Esau. Hierin het sy haar man se gesag ondermyn in plaas daarvan om hom te ondersteun. Dit moes vir hom in sy ouderdom ‘n pynlike terleurstelling gewees het.
Sy het God ook nie vertrou om Sy belofte na te kom nie maar haar eie vleeslike planne beraam. Dít het so amper haar seun se lewe gekos.
G’n wonder jou naam is “Bedrieër” nie.
Jakob het met sy ma saamgespan om sy pa te bedrieg. Hierin het sy naam “Bedriër” waar geword. Sy onderhoud met Isak was ‘n naelbyt ervaring. In die proses moes hy twee leuens vertel en selfs die Here se Naam bysleep om sy blinde pa te verkul. Isak het hom toe geseën in plaas van Esau. Jakob het nou wel die eersgeborene se seën ontvang maar sou vir ewig met ‘n skuldgevoel daaroor rondloop.
Die verrotte appel het ‘n gesonde kern.
Wat tog lofwaardig was in sy optrede, is dat hy absoluut oortuig was dat God se seën wat deur bemiddeling van sy vader na hom sou kom, van hom ‘n geseënde, voorspoedige man sou maak.
Dit is ware geloof wat nooit deur God misgekyk word nie. God se seën was vir Jakob so kosbaar dat hy dit ten alle koste wou bekom. (Dit is amper soos om vir jouself ‘n Bybel te steel.)
Met verloop van tyd sou God hierdie kosbare kern van geloof verder laat groei, terwyl Hy terselfdertyd die verraderlike, skelm karaktertrek sorgvuldig sou uitsny.
Onse Here het ons mos lief en Hy gooi nooit die baba saam met die badwater weg nie.
God se wil geskied.
Dit is ook verblydend om te sien hoedat die Here, deur toe te laat dat die dwaashede van die mens sy gang gaan, toesien dat Sy eie wil geskied deurdat Sy uitverkore Jakob bo Esau verhef word. Hy ontvang die krediet en hulle drie die blaam en skande.
Alle dinge werk ten goede mee vir die wat God liefhet (Rom 8:28). Anders gestel: gee vir die duiwel genoeg tou, dan hang hy homself. Hy sal die ganse ewigheid lank terugkyk en sy tande kners as hy sien hoedat hy keer op keer deur die Here getroef (uitoorlê) is.
Bewaar jou seëninge of verloor dit.
Vergelyk nou Jakob se gesindheid met dié van Esau wat hierdie lewensbelangrike voordele vir ‘n pot lensiesop verkoop het. Hy het beide sy eersgeboortereg en sy patriargale seën langs die pad verloor. Nou was dit te laat vir berou en te laat selfs vir trane!
Wat jy in ‘n onbesonne oomblik doen, verraai dikwels die ware gesindheid van jou hart. Miskien het hy intussen maar gehoop vir die beste; gehoop dat Jakob sou vergeet van die dag met die sop, maar hy het nie. Dit was ook in die hemel opgeteken: “Esau verkoop sy eersgeboortereg – prys, een pot sop”. Dit is so ‘n skandelike daad; amper soos ‘n bruid wat haar duur diamantring vir ‘n “hamburger” verruil. Sy sondige daad het hom jarelank agtervolg en uiteindelik ingehaal.
Miljoene mense sal in die oordeelsdag bitter berou hê oor hul verkwiste tyd en geleenthede, maar dan, ongelukkig te laat. Trane wat na die dood gestort word, tel nie.
Die Heer gee noú aan jou die reg om die ewige lewe te beêrf (Joh 1:12). Wat ‘n verkwisting sal dit nie wees as jy hierdie erfporsie waarvoor Jesus Sy lewe moes gee, nie na waarde skat nie.
Boonop hoof jy dit nie eers soos Jakob te steel nie; neem dit net aan in geloof en oorhandig jou lewe aan die Heer. Ek sê weer: God self gee jou die reg om dit te doen. Hy bied jou hierdie reuse diamant op ‘n skinkbord aan. Gaan jy soos Esau dit verag, dit eenkant toe stoot en eerder “daardie rooi goed” nader trek, opslurp, jou mond met die rugkant van jou hand afvee en jou ou pad stap asof niks gebeur het nie? Nee, iets hét gebeur en God hét gesien. Kies nou en kies reg; jou ewige toekoms gaan nou oor besluit word en hierdie besluit sal jou agtervolg vir die res van jou lewe.
Nog ‘n Kain en Abel tragedie?
Gesinsmoord het skielik gedreig en dit binne hierdie familie van uitverkore gelowiges. Esau het soos ‘n verwoede bul in die kamp stof opgeskop en gedreig om Jakob te vermoor in plaas daarvan dat hy sy eie fout erken en homself daarvoor blameer. Die moeilikste woorde om uit te spreek is “Ek is jammer”, tog is dit woorde van bevryding.
Weer was dit die konkelende Rebekka wat die plan beraam het om Jakob se lewe te red. Hy moes na hul bloedverwante weggestuur word onder die voorwendsel dat hy daar ‘n gelowige vrou moes gaan kry en nie soos Esau met die Kanaäniete sou ondertrou nie.
Dit was natuurlik maklik om haar man hiertoe oor te haal want hy het intussen vrede gemaak met die flater wat hy begaan het deur amper die verkeerde seun (Esau) as erfgenaam te benoem, en Sara se voorstel het natuurlik ook sin gemaak.
Was Rebekka se haastige plan nou die moeite werd?
Sou ‘n mens toevallig op ‘n veiling beland en ‘n gebruikte Tv vir ‘n aansienlike prys aankoop, kan dit jou suur te staan kom, want tuis aangekom, vind jy dalk dat dit net ‘n leë kas met ‘n skerm was en dat jou ouers boonop, soos tevore belowe, ‘n geskenkbewys in jou posbus gelaat het waarmee jy ‘n nuwe Tv van jou keuse by ‘n handelaar kan gaan afhaal. Natuurlik sou jy jouself wou skop omdat jy so dom en oorhaastig opgetree het.
Wat ons met hierdie illustrasie wil vra is: wat het Rebekka nou eintlik bereik deur haar man te bedrieg en wat het Jakob bereik deur sy broer met ‘n slap riem te vang en sy pa om die bos te lei? Het God nie voor die geboorte van die seuns reeds vir Rebekka gesê dat Jakob oor Esau sou heers nie? En Hy was nie van Isak se seën of van Rebekka en Jakob se knoeiery afhanklik om Sy doel te bereik nie.
‘n Familie kenmerk.
Daar was ‘n inherente element van oneerlikheid in hierdie familie, sowel as in hul bloedverwante van Paddan-Aram wat nog verder sou uitspeel in die lewens van Jakob, Laban en Ragel.
As die duiwel eers ‘n vastrapplek in ‘n familie gekry het, gebruik hy sy houvas meedoënloos om hulle ondergang te probeer bewerk.
E. DROOM EN GESIG VAN JAKOB BY BET-EL (Lees asb. Gen 28:1-22)
Isak het verantwoordelikheid aanvaar vir wat hy gedoen het.
Isak het gehou by die seën wat hy oor Jakob uitgespreek het en ook by sy aanwysing van hom as die seun op wie die roeping wat op Abraham se lewe was, sou oorgaan. Waarom? Eerstens sekerlik uit eerbied vir God in Wie se Naam hy opgetree het. Tweedens het hy en Rebekka moontlik met mekaar hieroor gepraat en het hy besef dat Jakob God se uitverkorene was en nie Esau nie. Hierdeur sou hy grootliks getroos en gerusgestel gewees het dat die wil van God tog deur al die bedrog heen geskied het.
Die wrange vrug van sonde.
Die familie was nou verskeur deur hul gebrek aan onderlinge liefde en vertroue. Mettertyd, na baie jare, het Jakob weer vir sy vader Isak voor sy dood gesien (35:27-29) maar die Skrif gee geen aanduiding dat Rebekka haar liefling seun ooit weer kon omhels nie – die wrange vrug van sonde.
‘n Bekommerde jongman vlug naarstiglik vir sy lewe.
Nou was Jakob weg uit sy ouerhuis en vêr weg van die beskerming van sy moeder.
Hy het na sy oom Laban in Haran gevlug. (As ‘n mens moet vlug is dit beter om na ander kinders van die Here te vlug as na wêreldlinge toe.)
Stoksiel alleen lê hy, moeg en uitgeput, in die veld met sy kop op ‘n klip. Vêr bo hom flonker die sterre wat getuies was toe die Here aan sy oupa, Abraham beloof het dat sy nageslag net so talryk soos hulle sou wees en daardie belofte, so het sy pa hom verseker, rus nou op hom.
Maar kon hy daarop reken, hy wat sy broer en pa so verkul het? Sou die oordeel van ‘n regverdige God hom nie êrens langs die pad inhaal nie? Sou ‘n wilde dier hom nie verskeur of ‘n rowerbende hom vermoor nie? Uiteindelik oorweldig die moegheid hom en dompel hy weg in die slaap.
Kontak met die hemel.
Maar toe gebeur ‘n wonder. Ewe skielik sien hy ‘n leer staan wat vanaf die aarde tot in die hemel reik, met engele wat daarteen opklim en neerdaal, terwyl God self bo-aan die leer staan.
Toe begin die Here met hom praat, maar sy woorde is nie soos wat hy te wagte was, woorde van oordeel en strafaan-kondiging nie, maar vertroostend, bemoedigend.
Die Here ken die twyfel in sy hart en wil dit vervang met geloof en hoop, daarom bevestig Hy aan hom, hierdie klein, nikswerd, sondige mensie dat Hy hom sou beskerm, en dat sy nageslag sal wees soos die stof van die aarde waarop hy lê – geen enkele woord van verwyt nie!
God doen dit uit vrye genade en om Sy eie planne met die geslag wat Hy vir homself wou oprig, ten uitvoer te bring en nie omdat Jakob ‘n wonderlike man was nie.
Aangevuur deur God.
Vroeg die oggend is hy op. Nog verstom en oorweldig deur sy nagtelike ondervinding, neem hy die klip wat onder sy hoof was, rig dit as ‘n gedenksteen op en salf dit met olie. Dan rig hy sy hart tot dié God wat hy daardie nag persoonlik ontmoet het en beloof hy om Hom as sy God te dien.
God het baie maniere om ons lojaliteit te verkry: soms deur tugtiging, dikwels deur onverdiende guns en seëninge. Geen teregwysing sou ooit in Jakob se hart so ‘n reaksie van heelhartige toewyding teweeg kon bring as wat hierdie kosbare, liefdevolle woorde gedoen het nie. Van hierdie oomblik af sou Jakob aan die Here uitverkoop wees.
O, die grootheid en heerlikheid van God; hoe kan dit ‘n mens tog nie oorweldig nie! Ons is per slot van rekening deur Hom en vir Hom geskape. In Hom leef ons, beweeg ons en vind ons, ons bestaan. Nou kon “Die Bedrieër” sy pad na Haran met vertroue en vreugde aanpak.
Die geseënde beloof tiendes aan die Een wat hom sou seën.
Interessant ook dat hy beloof het om aan die Here tiendes te gee van alles waarmee die Here hom sou seën. Ons gee tiendes aan ons gemeente of aan die een of ander instelling wat die Here se Koninkryk bou, maar aan wie sou hy dit gegee het? Dalk aan Melgisédek die Koning van Salem?