Isak en Jakob deel 2, Gen 29-31

Jacob kissing Rachel

A. JAKOB WERK VIR LABAN, TROU MET LEA EN RAGEL EN HET BAIE KINDERS (LEES GEN 29; 30:1-24)

Jakob op pad na Haran.

So het Jakob toe, na sy droom nag by Bet-el, “sy voete opgelig” en die lang pad na Haran in Paddan-Aram aangepak. Hy was nou ongeveer 97km vanaf sy ouerhuis te Berseba en 10km ten noorde van die latere Jerusalem. Dit sou hom meer gemoedsrus gegee het dat hy sy broer Esau ontvlug het, maar daar het nog ‘n baie lang en gevaarlike pad vir hom voorgelê.

(Afhangende van die roete wat hy gevolg het, kon dit sowat 650km  gewees het wat hy moes reis. Teen 25km per dag sou sy reis 26 dae geduur het. ‘n Mens wonder darem of sy skatryk vader nie vir hom ‘n kameel kon voorsien het nie? Of het hy so in alleryl gevlug dat dit veiliger was om te voet pad te gee?

Die ironie van die drama.

Wat tog ironies is, is dat, na al die manipuleerdery om Esau se erfporsie te bekom, hy nou alles net so aan sy broer moes agterlaat en met ‘n minimum lewensmiddele die toekoms moes ingaan. Die geestelike seën van God het wel op hom gerus en hom vergesel waar hy ookal sou gaan, maar die materiële seëninge, dié het hy verbeur.)

Nes skrop by die familie.

Toe hy uiteindelik die herders van Haran asook sy niggie Ragel by ‘n put aantref, was hy oorstelp van verligting en vreugde en het die trane oor sy wange gevloei.

Die ontvangs wat hy van Laban gekry het, was net so hartlik. Maar hy moes tog verduidelik waarom hy so uit die bloute daar opdaag: “En hy het aan Laban al hierdie dinge vertel,” (29:13) Al die dinge? Dat hy en sy ma (Laban se suster) sy pa so bedrieg het en dat hy ‘n voortvlugtige was omdat sy broer hom wou doodmaak? Dit sou ‘n groot verleentheid gewees het om met die hele mandjie patats uit te kom en gedagtig aan sy geneigdheid om nie al te eerlik te wees nie, kan ‘n mens maar net wonder – miskien het hy tog die ware storie oorgedra omdat hy oortuig was dat hy reg opgetree het om sy pa om die bos te lei omdat hy Esau se eersgeboortereg van hom gekoop het.

Hoe dit ookal sy, vir die volgende maand kon hy uitrus terwyl hy sy familie se gasvryheid geniet het. (29:2-14) Die Here het Sy Bet-el belofte gestand gedoen en hom deur Laban met verblyf, kos en klere versorg. (Die uitstryk van die kinkels in sy karakter sou eers later kom.)

Hy lê ‘n basis vir sy toekoms.

Maar Jakob was ‘n vlytige en handige man wat selfs tussen vreemdelinge die inisiatief kon neem (29:10) en het sekerlik al gou begin om hand by te sit met die boerdery. Laban het dit opgemerk en na verloop van ‘n maand vir hom ‘n dienskontrak aangebied (29:15).

In die tussentyd kon hy sy oë nie afhou van die beeldskone Ragel nie en sy het seker ook laat blyk dat sy hom nie te onaardig gevind het nie. Maar hoe nou gemaak, want hy het nie eers ‘n skaaplam gehad om haar pa as bruidskat aan te bied nie maar toe dié met ‘n wersksaanbod kom, sien hy sy geleentheid en sluit hy met Laban ‘n kontrak dat hy vir sewe jaar lank net vir kos, klere en vir sy dogter, Ragel, sou werk (29:15-19).

Hierdie “langtermyn belegging” van sy lewe dui ook daarop dat hy besef het dat dit onverstandig sou wees om te wag op die onsekere dag dat sy broer se woede teenoor hom sou bedaar het. Hy moes met sy lewe voortgaan en vrede maak met die feit dat hy sy erfporsie verloor het, want Esau was nou in beheer daarvan en sou dit verseker nie prysgee nie.

Wat niemand van hom kon wegneem nie, was God se seën wat sy vader oor hom uitgespreek en wat die Here by Bet-el aan hom bevestig het. Hy het dus besluit om die pad wat die Here vir hom oopgemaak het, te volg en, soos wat ons later sal sien, was dit die beste pad.

Ons moet die beste maak van die omstandighede waarin die Heer ons geplaas het.

Vasbyt maat.

So pas Jakob toe skape op, onder die skroeiende son en deur die vriesend koue nagte, en verloor hy ‘n lam deur die toedoen van ‘n leeu of jakkals, moet hy dit vergoed. Maar hy byt vas, trou aan sy woord, vir sewe volle jare. Elke keer as hy wil opgee, sien hy Ragel se lokkende, vonkelende oë en versterk dit sy wil om deur te druk: nog net twee jaar, een jaar, ses maande, 3 dae.

Raak jongmanne vandag nog so verskriklik verlief op meisies? As voornemende skoonpa’s deesdae sulke voorwaardes aan voornemende skoonseuns stel, sal sowel huwelike as egskei-dings selde voorkom!

Wie is wie?

Uiteindelik breek die groot dag aan en versamel Laban al die manne vir die bruilofsfees wat daelank sou duur. Daar sit Ragel, lieflik opgetooi in haar bruidskleed, maar so versluier dat Jakob eintlik nie veel van haar te sien kry nie. Sag daal die donkerte neer oor die landskap en word Ragel na haar tent begelei om vir haar eerste nag met haar bruidegom voor te berei.

Het Laban dalk sekergemaak dat sy skoonseun ‘n paar ekstra sopies na binne laat gly het: dit was nie bo hom verhewe om so iets te gedoen het nie. Veel later lig Jakob die tentklap op en verdwyn na binne.

Daardie nag word hy en sy bruid een soos wat God dit bedoel het maar kort na dagbreek die volgende môre, trek Jakob die karos so effens weg om haar gelaatstrekke net weer in te drink. Maar toe, met ‘n skok, vlieg hy orent en bulder: “Maar dit is dan Lea!” Laban het hom gruwelik bedrieg en heimlik sy dogter Lea met hom laat trou (29:22-27). Desperaat soek hy na ‘n uitkomkans, maar nou was dit verby; hy het haar beken en haar, haar maagdelikheid ontneem.

Wat jy saai, dít, ja dít, sal jy maai.

Soos wat hy, Jakob, en sy moeder Rebekka saamgespan en sy pa bedrieg het, het Laban en sy dogter Lea agteraf gekonkel en hom verkul.

Soos wat Isak weens sy blindheid nie kon sien dat hy besig was om Jakob in plaas van Esau te seën nie, is Jakob se oë in die nagdonker tent daarvan weerhou om te sien dat hy besig was om met Lea omgang te hê in plaas van met Ragel.

Soos wat Isak die saad van God se seën oor Jakob gesaai het en dit nie weer kon herroep nie, het Jakob sy saad aan Lea toegesê, iets wat hy ook nie weer kon herroep nie.

Die Meester Tuinier besig om ‘n baie besondere boom te snoei.

“Here waarom, waarom het U wat alwetend is, dit oor my toegelaat; sewe jaar lank het ek my afgesloof?” Hoe pas dit in by die droom van die leer en U beloftes van daardie nag by Bet-el?

God bewerk nie die onreg nie maar Hy gebruik dit wel ten goede en hier het Hy Laban en Lea se slinkse plan gebruik om ‘n begin te maak om die lelike, wilde loot van oneerlikheid weg te snoei uit  Jakob se lewe.

Die aartsvader van God se volk moes geheilig en gereinig word sodat hy ‘n boom kon word wat begeerlike geestelike vrugte sou dra, waarvan al die volke van die wêreld sou kon eet.

En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? (Heb 12:5-7).

Jakob sou baie duidelik kon sien hoedat hierdie twee insidente in sy lewe met mekaar verband hou en het seker gedurende die dae en weke daarna, wanneer hy alleen met sy gedagtes by die skape in die veld was, diep hieroor nagedink.

Straf of tug?

Die sielevyand kon hom selfs aangeval en laat twyfel het of die Heer se beloftes aan hom bewaarheid sou word soos wat ook met ons gebeur wanneer ons sondig, maar dan is dit belangrik om te verstaan dat daar ‘n groot verskil tussen tugtiging en vergelding is. ‘n Boom wat vrug dra word gesnoei sodat dit meer vrug kan dra en nie omdat die eienaar dit haat en wil straf omdat dit nie voldoende vrug dra nie (Joh 15:2).

Met so ‘n skoonpa het ‘n man nie vyande nodig nie.

Miskien het Laban in die vroeë oggendson sy kommetjie warm bokmelk sit en drink en gehoor hoe Jakob daar in sy tent te kere gaan en hoe Lea oor en oor kerm dat sy in die ding ingedwing was en nie kon waag om nee te sê nie.

Die volgende oomblik staan Jakob rooi in die gesig voor hom en praat en beduie oor die skrynende onreg hom aangedoen. Tong in die kies kyk hy anderpad, trek sy skouers op en antwoord dat dit in hulle kultuur nie gebruiklik is om die jonger dogter voor die ouere in die huwelik uit te gee nie.

En toe, om Jakob verder te verstrik om hom vir nog sewe jaar sonder vergoeding te werk, bied hy ewe vroom aan dat hy binne ‘n week, sommer met Ragel ook kon trou (29:27). Dan hét hy mos gekry het wat hy wou gehad het, nie waar nie? “Kyk nou net hoe goed is ek vir jou; en dit nadat jy my so uitgekryt het!”

Laban was ‘n slinkse manipuleerder – self min gewerk, maar lang tye in die skadu van die tentflap sit en beplan hoe hy andere vir hom kon laat werk.

In ‘n hoek.

Hoe kon Jakob hierdie aanbod weier? Hy wou dan so verskriklik graag vir Ragel gehad het – en sy vir hom? Dus het hy maar kopskuddend ingestem en dié keer met sy geliefde bruid getrou en by haár geslaap.

So het die Here darem vir hom ‘n troosprys bewerk, maar wat ‘n wrang huwelik was dit nie in vergelyking met dit waarna hy en Ragel sewe jaar lank uitgesien het nie.

 Die bitter vrugte van Laban se bedrog.

Wat Laban nie in ag geneem het nie, is dat hy Jakob in poligamie gedompel en sy twee dogters in lewenslange vyandskap teenoor mekaar opgestel het. Sonde dra altyd bitter vrugte.

 Weer iets moois in Jakob se lewe.

Dit is darem verskriklik om sewe jaar lank te swoeg vir iemand wat jy eintlik nooit wou gehad het nie en met wie jy nou vir die res van jou lewe mee sou moes saam lewe en voor moes sorg! Jakob se reaksie op dit wat hom aangedoen was, was tog prysenswaardig. Hy het nie soos Esau gedreig om sy verkuller, Laban, te vermoor nie, maar het Lea as vrou aanvaar, vir haar gesorg en by haar geslaap sodat sy ook haar eie kinders kon hê.

Te veel vrouens in Jakob se lewe veroorsaak gedurige huismoles.

Laban het vir Lea ‘n slavin by name Silpa gegee en vir Ragel ‘n slavin by name Bilha (29:24; 29:29). Hierdie name is belangrik want dié twee vroue se seuns sou ook deel van die latere 12 aartsvaders van God se volk wees.

So was Jakob toe binne ongeveer twee weke, vier dames ryker: twee vroue en hul twee slavinne, maar dit was geensins ‘n gelukkige, wen, situasie nie want Lea was verskriklik afgunstig op Ragel omdat sy Jakob se liefling was en het aan die een seun na die ander geboorte geskenk in ‘n verbete, maar tevergeefse poging om Jakob se liefde daardeur te probeer wen. Sy het Ragel selfs geblameer dat sy haar man afgeneem het (30:15). Haar emosies was gedurigdeur in ‘n warboel en het haar rede oorheers, want dit was eintlik sý wat Rágel se man gekaap het.

Wat Ragel betref: sy was onvrugbaar en hoe meer seuns Lea gebaar het, hoe hoër het haar frustrasie en jaloesie opgevlam totdat dit op ‘n dag op Jakob oorgekook en sy hom toegesnou het: “Gee vir my kinders, anders sterf ek”. Maar sý skuld was dit verseker nie want hy was baie vrugbaar en het mettertyd 12 seuns en ‘n dogter verwek!

Op ‘n ander dag weer, toe hy stokflou van die veld af terugkom, het Lea hom langs die pad voorgestaan en sommer prontuit met die deur in die huis geval met die woorde: “Jy moet na mý kom want ek het jou eerlik gehuur vir my seun se liefdesappels,” en moes hy maar vredesonthalwe gedwee maak soos sy beveel het en daardie nag by haar gaan slaap het. (‘n Liefdesappel was seker ‘n vrug wat hulle geglo het vrugbaarheid bewerk.)

Ragel het hierdie kompetiese tussen haar en haar suster as “bomenslike worstelinge” beskryf (30:8). Toe die twee vroue tydelik nie meer kinders kon voortbring nie, het hulle selfs hul slavinne ingespan om die wedloop om die meeste seuns te baar, te probeer wen.

Wie was die wenner; wat sê die telbord was die eindtelling?

Wat sal jy kies: mooi maar onvrugbaar of vrugbaar maar nie eintlik mooi nie?

Alhoewel Ragel die mooiste was, was Lea die vrugbaarste en het sy aan ses seuns die lewe geskenk; net soveel as Ragel en die twee slavinne saam.

Verder wil dit voorkom asof sy ‘n dieper verhouding as Ragel met die Heer gehad en haar probleme in gebed na Hom geneem het (29:32, 33, 35 en 30:17). Haar seuns het ook ‘n groter rol in die God se Koninkryk gespeel as dié van Ragel.

Laasgenoemde se oudste seun, Josef het vir sy familie, sowel as vir die Egiptenare en baie ander, as redder opgetree tydens die sewe jaar lange droogte wat later gekom het, maar Moses weer, wat die volk uit Egipte gelei en deur wie die Here die eerste vyf boeke van die Bybel gegee het, was uit die geslag van Lea se seun Levi, so ook Aäron uit wie die priesterorde gestam het (Ex 2:1)asook die Leviete wat by die tabernakel en tempel diens gedoen het (29:34).

Dan was daar ook nog Lea se seun Juda (29:35) wat as die leier van al die stamme na vore getree en uit wie hul grootste koning, Dawid, sowel as die Seun van God, die Verlosser van die mensdom gebore is.

‘n Mens moet nie moed opgee wanneer dit lyk of jy minder talente het of deur omstandighede in ‘n swakker posisie as andere beland het nie; vertrou op God en laat Hy jou lewe bevrug na Sy eie goeddunke.

Vir baie van God se kinders loop die telbord nog aan na hulle dood.

Die sesde Rolspeler.

Behalwe dié vyf rolspelers in die Jakob gesin, was God ook nog daar en besig om agter die skerms, en te midde van al die onmin, vir Homself twaalf manne op te rig wat Hy as aartsvaders vir Sy verbondsvolk, Israel, sou gebruik. Prys die Here! Hy is groter as al die woelinge hier op aarde.

 B. JAKOB WORD RYK EN VERLAAT VIR LABAN (Lees asb Gen. 30:25 – 31:55)

Jakob hou by sy kontrak

Alhoewel Jakob die versoeking nie kon weerstaan om sake in sy guns te manipuleer nie, was hy tog ook ‘n man van sy woord en het hy die bykomende sewe jare met toewyding gewerk en sodoende die volle koopprys vir sy twee vroue betaal, voordat hy kennis gegee het dat hy nou na sy land wou terugkeer.

Die skaal is besig om te swaai.

Gedurende hierdie periode het Laban duidelik waargeneem dat sy vee bonatuurlik vinnig aanteel en vrektes uitsonderlik selde voorgekom het. Hy kon nie anders as om te besef dat hy dit alleenlik aan Jakob se teenwoordigheid kon toeskryf. Op hierdie pad van sukses was Jakob die leier. Hy het sy oë op die Here gehou, Hom vertrou, die regte ding op die regte tyd gedoen het en hy wat Laban was, het maar net in Jakob se voetspoor agterna gedrentel en geoes wat hy gesaai het.

Myne is myne en joune is ook myne.

Maar Laban was inhalig, het alles vir homself gehou en Jakob niks gegun nie. Hy het nie uit eie beweging, omdat sy eie hart hom daartoe opgewek het, vir Jakob ‘n gunstiger werksoor-eenkoms aangebied waarkragtens hy sy eie boedel kon opbou en in die behoeftes van sy groot gesin kon voorsien nie. Dit het hom goed gepas dat sy skoonseun niks anders as ‘n behoeftige plakker op sy grond was en slawe arbeid sonder vergoeding moes verrig nie. (En dit wat Jakob ingebring het, het Laban boonop nog verkwis ook (31:15)).

Jakob kry ‘n voet in die deur en kan begin om te beding.

Dit was eers toe Jakob wou wegtrek en hy geen ander opsie gehad het nie, dat Laban noodgedwonge tot ‘n gunstiger loon ingestem het (30:31-34). ‘n Ooreenkoms is bereik waarkrag-tens Jakob al die gespikkelde vee asook die gespikkelde aanwas sou kry. Op dié voorwaarde sou hy voortgaan om Laban se vee te versorg terwyl hy sy eie aan sy seuns afgegee het om te versorg en ‘n afstand van 3 dagreise tussen die onderskeie troppe gestel het (30:28-36).

‘n Skaakspel waarin die skaakbord self gedraai word; 10 x.

Met ‘n manipuleerder aan elke kant, kan ‘n mens verwag dat daar skuiwe en teen skuiwe sou kom. Laban was in ‘n sterker bedingingsposisie want die vee waaruit Jakob se deel moes kom, was syne en hy het sy magsposisie misbruik deur die ooreenkoms 10 maal eensydig te verander (31:7,41).

Wanneer die bont vee vinnig vermeer het, wou hy húlle hê maar wanneer die effe kleuriges ongelooflik aangeteel het, wou hy húlle weer hê en die arme Jakob moes maar keer op keer net “Ja baas, ja baas” en inval by die nuwe kontrak want daar was geen arbeidshof tot wie hy hom kon wend nie.

Laban het oneerbaar opgetree. Hy was geneig om op oneerlike wyse vir homself voordeel te bekom; dit was blykbaar ‘n familie eienskap – dit het dik in die bloed geloop.

Gesnoei, geskaaf en gebeitel.

God het weer agter die skerms voortgegaan om Laban se oneerlikheid te gebruik om Jakob te tugtig en die oneerlike karaktertrek uit sý lewe uit te suiwer. Hy was nou aan die ontvangkant van ‘n kullery en besig om die pyn daarvan aan sy eie lyf te voel. Maar hy was nog nie gereed om sy saak aan God oor te laat nie; o, nee, hy was verontreg en kwaad, veglustig. Hy sou self vir sy regte baklei. (Hy’t lank genoeg op my getrap.)

Albei manne veg met vleeslike wapens.

Misbruik van mag of heimlike bewimpeling; beide is sonde. Jakob kon nie soos Laban openlik die aanwas van die vee in sy guns draai nie, maar het dit heimlik gedoen deur latte met wit strepe in die trôe te sit sodat die vee bont lammers sou hê (30:37-42).

Was dit reg of verkeerd van Jakob om die aanwas so te probeer manipuleer? En meer nog: was dit ‘n opdrag van God, of was dit Jakob se eie plan – soos die bokvelletjies wat sy ma om sy arms gewerk het om sy pa te mislei ?

As ons sê dit was Jakob se eie plan, bloot ‘n menslike versinsel of bygeloof van daardie tyd dat ‘n mens jou vee op dié manier kan manipuleer, waarom het sy vee dan bonatuurlik vinnig vermeerder? Die Here sou Hom tog nie by Jakob se oneerlikheid laat betrek het deur ‘n wonder vir hom te bewerk nie.

God doen wat regverdig is.

Moontlik het die Here gladnie Jakob se “operasie latte” gebruik nie. Die feit dat die Here in ‘n droom vir hom gewys het dat die bokramme wat die kleinvee dek, almal bont was, was miskien om vir hom te sê: “Moet nie op ‘n oneerlike wyse probeer om jouself te bevoordeel nie want Ek, wat regverdig oordeel, is reeds besig om jou buite maat te seën” (31:10-12). Moontlik het die Here net eenvoudig Jakob se geloof geëer omdat sy saak reg en Laban s’n verkeerd was. Hoe dit ookal sy, die Here het Jakob se vee buitengewoon laat vermeerder en hy het sommer baie ryk geword (30:43). Ons herhaal: as God vir ons is, wie kan teen ons wees (Rom 8:31,32)?

Aanbly of wegtrek: ‘n antwoord van Bo.

Weer het die opsie om weg te trek ter sprake gekom. Dié keer was dit nie Jakob se beplande oplossing om uit ‘n moeilike situasie te ontvlug nie, maar het God hom opdrag gegee om terug te keer na sy land en familie en belowe dat Hy met hom sou wees (31:3).

Ongeag hoe moeilik ‘n mens se omstandighede is, moet jy nie sommer daaruit weg vlug nie maar op God wag om jou daaruit te lei na ‘n plek wat Hy vir jou voorberei het. (Israel het ook nie uit Egipte gevlug nie maar is deur God in waardigheid uitgelei.)

As Jakob die vorige keer sy eie kop gevolg en van Laban af padgegee het, sou hy as ‘n brandarm man moes swerf in die hoop om elders voorspoediger te kon wees, maar God wou eers vir hom rykdomme uit Laban se eiendom gee en nou, ses jaar later, het hy as ‘n besonder welgestelde man die toekoms tegemoetgegaan.

Hy het altesaam 20 jaar vir Laban gewerk: 14 jaar vir sy 2 vroue en 6 jaar vir sy vee (31:41).

Sy geloof kan nog nie daarbo bykom nie, al staan hy op sy tone.

Met die wegganery het Jakob se geloof dat God in staat was om hom op ‘n waardige wyse van Laban afskeid te laat neem, hom weer in die steek gelaat. Nadat hy die saak in detail met sy twee vroue bespreek het (wat baie mooi was om te doen) het hy besluit om te vlug terwyl Laban weg was om sy kleinvee te gaan skeer.

Kon sy twee vroue hom nie reggehelp het nie – die vrou is dan veronderstel om vir die man ‘n toepaslike hulp te wees; saam moet hulle van die Here hoor.

(In ons jong dae het ek op ‘n slag vir my vrou gesê: “Jy weet hoe driftig ek is, moet nou nie, wanneer ek vir iemand wil kwaadword, my nog  verder aanhits soos ‘n foksterriër nie. As ek dan verkeerd optree, moet ek agterna alleen die kastaiíngs uit die vuur krap en staan jy vêr weg en blameer my ook nog asof jy geen aandeel in die ellende gehad het nie. Nou ja … moet nie praat hoe ek haar al in die sop laat beland het nie.)

Terug na die Jakob storie: as óns die storie moes skryf, sou ons hierdie wegtrek op ‘n meer diplomatiese wyse wou beskryf, maar God stap sommer padlangs en sê dat Jakob vir Laban “mislei” het deur hom nie in te gelig het dat hy hom sou verlaat nie (31:20).

Rageltjie, skattebol, waarop sit jy?

Maar die oneerlikheid eindig nie by Jakob nie. Ragel, sy engel vroutjie met die blink oë, het haar pa se huisgode “gegaps” (31:19). Sy het dus ook ‘n skelmstreek gehad. In daardie gesin was dit elkeen vir homself.

(Die huisgode was blykbaar iets soos gelukbringers en, alhoewel nie gelykgestel aan God nie, tog afgode. Terloops, waarom laat mense figure op hul lywe tatoeër; is dit dalk ook ‘n soort van gelukbringer? Ek vra maar net want ek het nog nie met so ‘n beskilderde vriend daaroor kon praat nie.)

Terug na die vorige paragraaf; wee die kinders wat uit so ‘n dubbele onheilige bloedlyn gebore word; en tog, is dit nie maar waar van die meeste families waaruit die menslike geslag voortgeplant word nie? Maar die Here laat die aanwas toe want Hy is groot genoeg om aan elke kind wat gebore word, individuele aandag te gee om dié na Homself te trek.

20 Jaar se harde arbeid kon op niks uitgeloop het deur een verkeerde besluit.

Jakob is toe vir ‘n tweede keer in sy lewe in alleryl aan die wegvlug van ‘n onheil wat hy op homself gehaal het. Dié keer vlug hy vir Laban, want hy het geweet dat dié hom agterna sou sit, wat hy ook gedoen het en dit, vergesel van ‘n mini weermag van sy broers wat geweld voorspel het (31:17-21).

Die verhouding tussen dié twee manne het so versuur dat dit amper weer, soos destyds met Esau, op ‘n menseslagting, ‘n gesinsmoord, uitgeloop het. Beide Jakob en sy seuns kon uitgemoor gewees het. Hulle kon hulle probleme nie meer uitpraat nie alhoewel hulle gesigsuitdrukkings dit alles vir mekaar gesê het; ‘n koue oorlog.

Selfs in gelowige (Christen) families en kerke kan emosies soms so hoog opvlam dat bloed vloei, of ten minste dat  woorde wat bloed trek oor en weer geslinger word.

God, hou die situasie dop en tree op.

Die Here het genadiglik tussenbeide getree deur Laban in ‘n droom te waarsku om Jakob geen kwaad aan te doen nie (31:24). (Dankie tog Here, U is ons vrede. Rig 6:24; Spr 16:7).

Toe hy en sy gevolg Jakob inhaal, was die wind uit Laban se seile want hy kon nie waag om God se waarskuwing te verontagsaam nie.

Smalend.

Om sy verleentheid teenoor sy “weermag” wat hy onnodiglik opgekommandeer het en teenoor Jakob hulle te verberg, en om sy meerderwarige posisie te handhaaf, het hy hom toe maar tot sarkasme gewend en Jakob spottend, verkleinerend  gevra of hy dan só verskriklik huistoe verlang het dat hy moes vertrek sonder om sy familie te groet (31:30)!

Skaamteloos uitoorlê ‘n dogter haar pa.

Nog ‘n doringtak waarmee Laban vir Jakob kon kasty, was die kwessie van die vermiste huisgode. Dit was darem mos skandelik vir die Here se witbroodjie om sy skoonpa se eiendom te steel.

Oor hierdie beskuldiging was Jakob verstaanbaar baie onthuts en het hy summier die doodsvonnis uitgespreek oor die een by wie dit gevind mag word, min wetende dat sy geliefde Rageltjie die sondebok was.

Daar was donker kolle in haar lewe waarvan haar dierbare man nie geweet het nie; die liefdesbril het net die mooi gesiggie, die onskuldige diep-bruin oë en die lang omkrul wimpers gesien. Sê die Woord dan nie in Jer 17:9 nie: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja verdorwe is dit; wie kan dit ken?”

Maar Rageltjie was blykbaar geoefen om haarself uit sulke moeilike situasies te wikkel. Sy versteek die afgode toe in haar kameelsaal, gaan sit daarop en maak verskoning dat sy nie kon opstaan nie omdat sy nie wel was nie. In die proses moes sy nog ‘n leuen by haar sonde byvoeg maar haar verligting dat sy nie uitgevang is nie, het haar ligte skuldgevoel heeltemal oorskadu.

Weer het Laban bedroë daarvan afgekom want God het dit só toegelaat ter wille van Jakob, Sy geliefde. Boonop het Jakob hom deeglik afgeransel vir al die onreg van die verlede wat hy moes verduur.

Die rolle word omgeruil: Jakob word die wenner, Laban die verloorder.

Nou verander Laban sy benadering en doen homself voor as die groot vredemaker wat daar was om ‘n vredesverbond met Jakob te sluit sodat hulle nie later van jare mekaar kwaad sou aandoen nie – of het hy uiteindelik tot die besef gekom dat Jakob, God se man was met wie ‘n mens liewer in vrede moes lewe.

Jakob laat hom dit maar wel geval sodat hulle die voorgestelde vredesverbond kan sluit. Almal word betrek om elk ‘n klip te soek en as gedenkteken op te stapel (31:44-55).

Jakob die vredemaker.

Hy gaan ‘n stap verder, bring ‘n offer aan God en nooi sy agtervolgers om saam met hom te eet. Jakob, wat solank vertrap was, neem die inisiatief oor en tree as leier van die groep na vore.

Hierdie is ‘n belangrike beginsel: die leier moet eerste vergewe en die hand van vrede na die verloorder toe uitsteek en daarin sal almal dan ook kan sien wie geestelik die sterkere is.

Jakob, God se man, oorwinnaar.

“Daar is laastes wat eerste sal wees en eerstes wat laaste sal wees,” (Luk 13:30). Soms lyk dit of die mens wat onreg doen heelpad voor is, maar God bepaal wie eertse oor die wenstreep sal gaan, al duur die wedloop ook 20 jaar.

So ‘n pragtige slothoofstuk.

Die episode eindig darem mooi en rustig waar vader Laban met sy skoonseun, met wie hy so lank saamgeleef en geboer het, vrede maak, sy dogters seën en huistoe vetrek (om self sy skape te gaan oppas).


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → ISAK EN JAKOB, DEEL 2 . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha