A. JAKOB WORSTEL MET GOD. (Lees asb. Gen 32:1-32)
Mahanáim.
Jakob se konfrontasie met Laban en sy broers was, Goddank, nou verby, maar so ‘n stryd laat ‘n mens emosioneel uitgeput na en dan het die ontmoeting met Esau nog voorgelê, dus het sy Hemelse Vader dit goed geag om sy oë te open sodat hy die groep engele kon sien wat nog deurentyd besig was om hom op sy aardse stofpad te beskerm.
Engele is natuurlik geestelike wesens maar kan in ‘n gedaante aan die mens verskyn wat die omstandighede die beste sal dien. Aan Abraham het hulle in menslike gedaante verskyn (Gen 18) maar hier, aan Jakob, as ‘n magtige leërmag van hemelwesens (32:1,2), om hom moed vir die toekoms te gee, wetende dat Esau nie net met hom en sy klein groepie mense te doen sou kry nie, maar met ‘n weermag van magtige hemelwesens. Daarom het Jakob hierdie plek Mahanáim genoem; “Twee laers”; Jakob se laer van mense en vee en God se laer van engele. (Sien ook Ps 34:8; 91:11; Heb 1:14 en 2 Kon 6:17).
Wanneer ons in opdrag van God op pad is, is ons voortdurend onder die beskerming van die Allerhoogste. (‘n Teks wat die Here so dikwels vir my gegee het, is Heb 13:5: “ … Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”)
Slegte nuus: Esau is op die oorlogspad en hy trek reguit in jou rigting.
Jakob stuur toe boodskappers vooruit om Esau, wat hom intussen in die landstreek Seïr, die latere Edom, gevestig het, voor te berei op sy terugkeer na die land Kanaän en laat hom ook weet dat hy vee sowel as slawe en slavinne verwerf het. Hiermee wou hy waarskynlik sê dat hy oor voldoende eiendom beskik het en nie op pad was om sy erfporsie wat hy agtergelaat het, te op te eis nie.
Die boodskappers was binne ‘n ommesientjie weer terug en dít met die ontstellende nuus dat Esau reeds van Jakob se terugkeer verneem het (moontlik van reisende koopmans) en besig was om hom, vergesel van 400 manne, tegemoet te trek (32:3-6).
‘n Honger haat.
Dit was beslis nie ‘n verwelkomingsgeselskap nie. Esau het sy haat oor die onreg wat Jakob hom aangedoen het, twintig jaar lank vertroetel en net die aanhoor van sy naam, het die vergeldingsdrang weer woes laat opvlam. Destyds het hy gesweer dat hy hom sou doodmaak, en nou was dit sy kans. Hy wou hom vermorsel.
(Familie wrokke en fetes duur soms geslagte lank; ook tussen stamme en nasies en baie onskuldiges in die nageslagte ly daaronder).
Hoop vir die beste maar berei voor vir die ergste.
Nieteenstaande die visie van die skare van engele wat gedurigdeur besig was om hom te vergesel en te bewaak, het Jakob benoud geword van vrees toe hy hierdie ontstellende tyding kry.
Haastig het hy sy laer in twee verdeel en hulle buite sig van mekaar verwyder sodat, as Esau die een groep sou vernietig, die ander darem behoue sou bly.
‘n Sinvolle petisie.
Daarmee het sy slim mens bedinkte planne van bokvellietjies om die arms en latte in die krippe opgedroog. Net Een kon hom uit hierdie verknorsing red en so het hy hom toe in gebed tot die Here gewend en hom op drie gronde vir verlossing beroep;
- Dat Hy die God van Abraham was (die God wat bepaalde beloftes aan Abraham gemaak het, en daarby moes hou);
- Dat hy wat Jakob was, nie uit eie beweging na Kanaän (en na Esau) teruggekeer het nie maar dat hy dit in opdrag van God gedoen het en,
- Derdens, dat die Here ook aan hom, Jakob, persoonlike beloftes van bewaring en seën die nag by Bet-el gemaak en dit ook nagekom het en alles wat hy nou besit het was deur God aan hom gegee; waarom dan sou die Here toelaat dat hy nou weer van alles gestroop word en selfs ook sy lewe verloor; dit maak mos nie sin nie?
Hoe waardeer die Here dit tog nie wanneer ons onomstootlike waarhede in ‘n weldeurdagte voorlegging in Sy hand plaas, maar met die nederige hart van ‘n Jakob wat getuig uit sy woorde: “ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan U kneg bewys het; …” Met ander woorde: “Here, my pleidooi berus op geregtigheid, nogtans pleit ek dat U dit uit genade vir my sal doen.”
Golwe van versagmiddels.
Nadat hy hom eers so tot God gewend het, het Jakob gedoen wat ookal prakties binne sy vermoë was deur vredesoffers vooruit te stuur om sy berou en onderdanigheid te betoon met die hoop om Esau se hart sag te maak (32:13-21) en wat ‘n magdom van geskenke was dit nie! Dit was nie maar net ‘n halfhartige gebaar nie, maar ‘n oortuigende vloed van welwillendheid.
Soms moet ons ‘n baie groot prys betaal om vrede met andere te bewerk of om dit te bewaar. Ons doen dan wat binne ons vermoë is en vertrou God vir wat ons nie kan doen nie.
‘n Geestelike oorlog, geveg in menslike krag.
Toe dit nag geword het, het Jakob sy vroue, kinders en ander mense deur die Jabbok drif laat trek maar self agtergebly – waarskynlik om ongestoord verder te kon bid.
Toe gebeur daar ‘n eienaardige ding. Skielik oorval ‘n man hom uit die donkerte. Hy het egter geen wapen in sy hand gehad nie, dus was sy bedoeling skynbaar nie om hom summier dood te maak nie. Die man het egter met alle geweld met hom begin stoei asof hy hom deur brute krag wou oorweldig.
Jakob moes uit die veld geslaan gewees het. Wat was dié onbekende man se bedoeling met sy aanval? Daar was egter geen tyd om hieroor te besin nie, want hy moes homself verdedig. Hy was waarskynlik sterk en gehard, gewoond om sy skape teen aanvalle van beide mens en dier te beskerm en het nie net weerstand gebied nie, maar probeer om die vreemdeling te oorweldig en sodoende sy aanslag te beeindig en hom te dwing om rekenskap te gee waarom hy hom aangeval het.
Dit was egter nie so maklik nie, want hoe meer verbete Jakob geveg het, hoe kragtiger het sy aanvaller weerstand gebied sodat dit ‘n gelykop stryd was wat uur na uur voortgeduur het.
Soos wat die geveg voort gewoed en Jakob homself aanhoudend die vraag bly afvra het wat tog die rede vir hierdie sinnelose aanval was, het hy geleidelik bewus begin raak van die feit dat hierdie opponent geen gewone man was nie, maar ‘n goddelike wese en dat die worsteling waarin hy met hom gewikkel was, ‘n stryd om lewe en dood was wat verband gehou het met sy konflik met Esau; as hy hierdie Man kon oorwin, sou hy ook oor Esau die oorhand kon kry; so nie, sou Esau hom oorwin.
Teen dagbreek was Jakob uiteindelik besig om die vreem-deling te oorweldig. Dié versoek hom toe om hom te laat gaan omdat die dag besig was om te breek. Jakob, nou in beheer van die geveg, maar ook vas oortuig dat die vreemdeling ‘n besoeker uit die hemele was, het egter geweier en het besluit om sy kans te benut en hom te dwing om hom eers te seën voordat hy hom sou laat gaan.
Dit was ‘n heel nuwe wending wat die vreemdeling nie kon toelaat nie, daarom het hy, met aanwending van bonatuurlike krag, vir Jakob so hard op sy heup se potjie geslaan dat dit uitgeglip het.
Skielik was die bordjies verhang. In groot pyn en met net een been om hom te stut, het Jakob besef dat hy verloor het. Wat nou? Dit was vir hom baie duidelik dat hierdie worstelstryd deur God georkestreer was en dat hy hierdie Man moes oorrompel en dwing om hom te seën, so nie sou Esau hom die volgende dag ook oorweldig en hom en alles wat vir hom dierbaar was, vernietig.
Maar oorrompel kon hy Hom nie meer nie want sy manlike krag was totaal gebroke. Hy was nou desperaat maar het die stryd nie gewonne gegee nie, net sy strategie verander. Terwyl hy hulpeloos aan sy Opponent vashou om homself te stut, het hy geween en Hom gesmeek (Hos 12:5) om hom te seën want daarsonder sou hy gladnie verder kon bestaan nie.
Sy fisiese stryd het dus oorgegaan in ‘n geestelike geloofstryd, die desperate vasgryping van ‘n drenkeling aan die enigste Verlosser wat hom kon red.
Die Vreemdeling vra hom toe na sy naam en toe hy skaam erken dat dit “Bedrieër was” (Jakob), seën Hy hom geestelik deur aan hom ‘n nuwe karakter te skenk wat Hy beskryf deur die naam “Israel” (Stryder van of met God) omdat hy met die mense en met God geworstel en oorwin het.
Wat het eintlik hier plaasgevind?
God het Jakob se konflik met Esau aangegryp om hom tot totale vleeslike gebrokenheid te bring; ‘n algehele wantroue in sy eie vermoë om sy lewe deur manipulasie en bedrog te bevorder en ‘n volkome vertroue in God om sy lewe ten beste te bestuur.
Hierdie was waarskynlik die belangrikste oomblik in Jakob se ganse lewe en ‘n glansryke oorwinning vir God se genade en wysheid om die sondige geaarheid van die mens so mank te slaan dat Hy deur Sy Gees die troon van sy hart kan bestyg en van hom ‘n nuwe wese kan maak wat die karakter van die Hemelse Koning, sy Vader kan weerspieël.
‘n Bewende bedrieër het in die donker nag duskant die Jabbok gekniel en ‘n oorwinnende stryder van God het die volgende oggend na dagbreek triomfantelik aan die oorkant uitgestap. Jakob se grootste behoefte was nie om uit die hand van Esau verlos te word nie; dit kon die engele in ‘n oogwink vir hom doen, maar om van sy ou Adamsnatuur bevry te word wat aanleiding tot sy konflik met Esau gegee het. Nou was Jakob op ‘n nuwe hoogtepunt in sy ontwikkeling tot ‘n waardige patriarg vir God se volk, Israel.
Die stryd van die vlees teen die Gees.
Ongeag die onderwerp waarvoor ons bid, gryp God elke oomblik wat ons so in noue kontak met Hom verkeer aan, om ons na Sy beeld te verander.
Ter opheldering:
- In Ou Testamentiese tye het die Engel van die Here (Jesus Christus in die Nuwe Testament) soms aan Sy mense in menslike gedaante verskyn om aan hulle opdragte te gee, hulle te bemoedig, beloftes aan hulle te maak, ens. Dat hierdie Man God self was, word bevestig deur die feit dat Hy vir Jakob geseën en dat Jakob dit self verklaar het (32:26-30).
- Hierdie fisiese worsteling van die Man met Jakob, was vir hom ‘n baie besondere en unieke ondervinding maar toon ook aan ons hoe vêr die Here gewillig is om ‘n pad met ons te loop en hoeveel tyd Hy gewillig is om aan ons te bestee, en met ons te worstel, om ons onreine karakters te heilig.
- Die Engel het natuurlik Sy goddelike krag beperk om aan Jakob die geleentheid te bied om deur worsteling geleidelik tot die besef van sy totale onmag te kom, maar om ook tot ‘n nuwe hoogte van geloof in die almag en liefde van die Heer te styg.
- Die mense, van wie die Skrif praat, oor wie Jakob geloofsoorwinnings behaal het, was seker primêr, Laban en sy broers.
- Wanneer God ‘n nuwe geestelike werk in ‘n mens se lewe wil doen, begin Hy dikwels by die fisiese of materiële en werk daarvandaan deur na die geestelike vlak. Harde en benouende omstandighede kan die hart voorberei vir ‘n dieper werk van die Heilige Gees.
- Die Here, die Almagtige kan ons in ‘n oogwink oorweldig maar Hy doen dit nie; nee Hy bied net genoeg weerstand dat ons, onsself geestelik moeg kan baklei in ons opstand teen Hom. Dan wanneer ons moeg geworstel is om ons eie wil te handhaaf, verlos Hy ons genadiglik met een kaphou van hierdie innerlike mag (of wet, soos Paulus dit noem) wat vir ons en andere om ons, soveel pyn en onrus besorg. In daardie oomblik leer ons om aan Jesus te kleef, dan huil en smeek ons en skielik beleef ons ‘n bevryding wat ons nooit geken het nie. Terwyl ons teen God worstel, begeer ons inderwaarheid dat Hy moet oorwin.
Opsommend: die seën wat Jakob daardie nag om geworstel en ontvang het, alhoewel hy dit nie op daardie stadium so ingesien het nie, was primêr die verbreking van die mag van sy eie wil en die vermoë om toe te laat dat God se wil en Gees in sy lewe heers. Die ou natuur sou voortaan mank loop en die nuwe natuur in Christus sou die pas aangee.
Vanuit hierdie nuwe gesagsposisie sou hy, in nederigheid, ook vir Esau sonder vrees tegemoet kon gaan. Jakob het nou die vleeslike wapens van bedrog neergelê en die wapens van die Gees aangegord waarteen Esau geen verweer sou hê nie.
Is jy en ek ook gewillig om só, ‘n nag, of nagte deur met Jesus te worstel om van die mag van ons ou natuur verlos te word en die toekoms in Sy krag tegemoet te gaan?
B. JAKOB WORD VERSOEN MET ESAU EN VESTIG HOM BY SUKKOT (Lees asb Gen 33).
Israel in aksie.
Jakob was nou nie meer bang vir Esau nie en het voor sy hele laer uit, Esau tegemoetgegaan. Soos wat hulle al nader en nader aan mekaar gekom het, het hy homself voor sy broer wat hy so lelik verontreg het, neergebuig, ja, nie net eenmaal nie maar sewe agtereenvolgende kere tot waar die twee groepe mekaar ontmoet het.
Soete versoening.
‘n Wonder van Goddelike genade was besig om af te speel: Esau, die wreker, se hart was ineens gebroke en het sy broer, nie met ‘n uitgestrekte swaard nie, maar met uitgetrekte arms tegemoet geloop en wenende om die hals geval. Dit was nie eers nodig om die ou twis uit te praat nie want God het die versoeningswerk reeds in hulle harte gedoen gehad; al wat oorgebly het, was om te huil van blydskap om mekaar weer te sien.
Wyse vêrsiendheid.
Esau wou nie die geskenke hê nie omdat die Here hom ook ‘n ryk man gemaak het, maar Jakob het daarop aangedring om sy opregtheid te bewys en dat die vee altyddeur vir Esau voor oë sou wees, sou die ou wrok dalk weer in Esau sy hart opvlam.
‘n Arend vlieg hoër as ander voëls.
Jakob het ook Esau se aanbod om saam met hom na sy tuiste in Seïr te trek, nederig maar ferm van die hand gewys omdat, na die nag wat God so ‘n diep werk in sy se hart gedoen het, hy geweet het dat alhoewel hy en Esau bloedbroers was, hulle nie hegte geestelik bande gedeel het nie en nooit gelukkig saam sou kon woon nie.
Hy was ook diep bewus van die roeping van God op sy lewe en moes gaan waar God hom gelei het. Net soos wat daar skeiding tussen Lot en Abraham gekom het en soos wat Abraham vir Ismael moes wegstuur sodat hy nie saam met die geroepe Isak sou erf en woon nie, wou God uit Jakob se nageslag vir Hom ‘n unieke volk bou en hierin sou Esau en sy nageslag ‘n ewige hindernis wees. Jakob het toe eers na Sukkot getrek en hom daarna verder weg by Sigem gevestig. (33:17-19)
Kinders van God moet sovêr hulle kan, met almal in vrede lewe, maar baie versigtig wees met wie hulle hegte vriendskapsbande smee, omdat dit hulle verhouding met God en die uitwerking van sy plan in hulle lewens, ernstig kan benadeel.
My God.
By Sigem het Jakob vir God ‘n altaar opgerig en dit genoem “Die God van Israel is God.” (33:20). Die doel van die altaar was dat hy voortdurende lofoffers aan God kon bring want sy hart was vol van dankbaarheid. Die naam wat hy aan die altaar gegee het, is baie betekenisvol. Hy het dit nie “Die God van Abraham en Isak is God” genoem nie, maar “Die God van Israel is God” dws. “My God, is God.” Die Here (Jesus) met wie Hy die nag deur geworstel het, het nou vir hom baie persoonlik geword.
Hoe persoonlik is Jesus vir jou en my?
C. DINA EN DIE SIGEMIETE (GEN 34)
‘n Jongmeisie stap onder God se beskerming uit.
Dina, Lea se dogter, het uitgegaan om die dogters van die land te leer ken. Dit was hoogs ongewoon in daardie tyd vir ‘n dogter om alleen in ‘n vreemde stad te gaan rondloop.
Miskien was sy rebels omdat sy die enigste dogter was en haar broers al die aandag gekry het. Weens die onderlinge twis tussen Jakob se twee vrouens, Ragel en Lea, was daar nie ‘n hegte band tussen die lede van die gesin nie, wat meegebring het dat hulle, en dan ook sy, onafhanklik opgetree het; elkeen vir homself.
As sy dan die land en sy mense wou verken, kon sy tog haar broers gevra het om haar te vergesel, maar dit lyk eerder of sy uit die huis uit weggeloop het. Sy wou dalk nie net die dogters van die land gaan sien nie, maar wou ook self deur die seuns van die land gesien word.
‘n Skoelapper gevang in ‘n spinnekopweb.
Hierin was sy ongelukkig meer as suksesvol want Sigem, die seun van Hemor, die heerser van die stad, het haar nie net opgemerk nie, maar was so aangegryp deur haar skoonheid dat hy haar daar en dan die hof gemaak en uiteindelik, meegevoer deur sy seksuele passie, verkrag het.
Sy handelinge was impulsief en boos en selfs sy latere liefdesverklaring, kon hierdie onreg nie uitwis nie. Passie mag alleenlik binne die mure van ‘n huwelik wat in Christus gefundeer is, skietgegee word.
Versoening? Nee!
Sigem het nie net teen Dina gesondig nie, maar ook teen die families aan beide kante en dit het vir beide families ernstige gevolge ingehou; veel meer as wat hy ooit voorsien het. Seksuele wandade bring altyd pyn en lyding mee.
Hemor en Sigem het baie gedoen om die onreg te probeer uitwis deur hulle te laat besny, alhoewel nie sonder bybedoelings nie. Eerstens was dit sodat Sigem die meisie van sy drome kon bekom en tweedens was daar die verwagting dat hulle in Jakob hulle se rykdom aan vee en ander besittings sou deel.
Waarom so ongenaakbaar?
Waarom het Simeon en Levi so drasties opgetree? Jakob se familie het hulle self ten regte gesien as eenkant gesit deur God, afgesonder om vir Hom ‘n volk te wees maar het nie ingesien dat om deur God eenkant gesit te wees, nie beteken het dat hulle beter as andere was nie.
Hulle moes ten minste erken het dat Dina ook skuld aan die saak gehad het; tewens, sy het ná die voorval nie weer huistoe gegaan nie, maar sommer by Sigem agtergebly. Verder moes hulle daaraan gedagtig gewees het dat hulle eie familie ook nie onbesproke van karakter was nie soos wat later gesien sou word. Ruben, bv sou met sy pa se byvrou omgang hê; Juda met sy skoondogter Tamar onder die indruk dat sy ‘n straatvrou was en dan sou die broers ook nog saamstaan om een van hulle as slaaf te verkoop.
Die donker skadu van oneerlikheid val op geslag na geslag.
Ons sien ook weer die bedrieglike streep in hierdie familie deurslaan deurdat Simeon en Levi die Sigemiete oorhaal om hulle te laat besny met die uitdruklike bedoeling om hulle dan te vermoor. Ons het tevore reeds opgemerk: “Die appeltjie val nie vêr van die boom af nie.” Hulle vader was al vir ‘n nag by die Jabbok maar hulle nog nie.
Toorn en grimmigheid was in hul gelaatstrekke.
Hierdie was twee uiters gewelddadige manne wat nie ge-skroom het om al wat manlik in Sigem was, te verdelg nie. Op sy sterfbed sou Jakob hulle later vervloek in plaas van seën (Gen 49:5-7).
Símeon en Levi is broers. Hulle wapens is werktuie van geweld. Laat my siel nie kom in hulle raad nie, laat my eer nie eens wees met hulle vergadering nie. Want in hul toorn het hulle manne doodgeslaan, en in hulle moedswilligheid het hulle beeste vermink. Vervloek is hulle toorn, want dit is heftig; en hulle grimmigheid, want dit is hard. Ek sal hulle verdeel in Jakob en hulle verstrooi in Israel.
Die geweld kring wyer uit.
Jakob se ander seuns moet regtens gesien word as mede-pligtiges na die daad, want hulle het op die buit afgestorm en alles geroof: vrouens, kinders, vee en alle ander besittings.
Hierdie was voorwaar ‘n klad op die naam van die Jakob gesin.
‘n Vingerwysing na Jakob.
Het hy sy kinders behoorlik in die vrese van die Heer opgevoed? Sy ouers was nie goeie rolmodelle vir hom nie en hy en sy vrouens was op hulle beurt nie goeie rolmodelle vir hulle kinders nie.
Persoonlike aanspreeklikheid.
Die seuns was egter reeds volwasse manne en moes reg gedoen het, al was hulle nie reg geleer nie. ‘n Mens moet nooit die fout vir jou eie wandade by ‘n ander gaan soek nie. Jy moet weet dat die Here jou persoonlik vir jou dade verantwoordelik sal hou.
Net ‘n hartoorplanting kan die kinders van die mens red.
Ons sien ook weer so duidelik dat alle mense se kinders met sondige harte in die wêreld kom en slegs deur wedergeboorte kinders van God kan word.
D. JAKOB REINIG SY MENSE EN VERTREK NA BET-EL (Lees asb. Gen 35:1-8)
Spanning.
Jakob was natuurlik baie ontsteld oor die gebeure en ook bevrees dat die ander inwoners van die land op hulle wraak sou neem. (Hierdie keer was hy darem nie self die sondebok nie.) Hulle vlug egter nie weg nie maar bly daar woon totdat God op ‘n dag aan hom opdrag gee om weg te trek uit die omgewing waar hulle hul naam so sleggemaak het en om hulle in Bet-el te vestig. Sodoende sou die spanning in die gemeenskap ontlont word.
‘n Dubbele skandaal verg ‘n deeglike reiniging.
Voordat hulle sou vertrek, het Jakob egter eers tot die gevolg-trekking gekom dat dit hoog tyd was om alle werksaamhede te staak en ‘n slag geestelik deeglik huis skoon te maak in sy gesin, want so in die stilligheid het allerhande onreinheid ingesluip.
Eers die opsigtelike dinge.
Hy gee toe opdrag dat al die afgode en oorbelle (wat moontlik ook weens bygeloof gedra was) aan hom oorhandig moes word. Dit was sekerlik nie sonder ‘n maat van protes en lang-lip gesigsuitdrukkings, veral onder die dames, gedoen nie, maar nadat die kamp van hoek tot kant skoongemaak is, begrawe Jakob die hele hoop onheilighede onder die terpen-tynboom buite Sigem, (hopelik baie diep). Verbrand kon hy hulle nie want baie van die items was uit goud en silwer gegiet. (Soos tevore gemeld is, was die afgode waarskynlik meer iets soos gelukbringers; nogtans was dit iets waarop die eienaars vertrou het, in plaas van op God.)
Toe kom die reiniging nader aan die lyf.
Hierna kom Jakob se verdere opdrag dat ‘n ieder en ‘n elk hom of haar nou deeglik moes reinig en skoon klere moes aantrek; ‘n simboliese handeling wat gedui het op die geestelike reiniging van die hart. ( In daardie stowwerige omgewing waar mens en vee sommer baie na aan mekaar geleef het, kon die manne ook fisies baie daarby baat!)
So staan hulle dan toe ‘n paar dae later soos kinders gereed vir hul eertse skooldag, wit-skoon voor vader Jakob wat hul elkeen noukeurig maar ook met welgevalle inspekteer.
Raak nie aan My uitverkorenes nie!
Nou was hulle gereed om ‘n splinternuwe toekoms in te gaan en net toe hulle oppak en wegtrek, gebeur daar ‘n wonderlike ding: ‘n skrik van God kom oor die inwoners van daardie land sodat hulle Jakob en sy mense nie agternajaag om die Sigemiete se dood te wreek nie. Dít was die Here se antwoord op Jakob hulle se geestelike verootmoediging. As die HERE behae het in die weë van ‘n man, dan laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hou.” (Spr 16:7).
E. GOD VERSKYN WEER AAN JAKOB (Lees asb. Gen 35:9 – 15).
In Lus, dit is Bet-el, behoue aangekom saam met al sy mense, bou Jakob eers vir die Here ‘n altaar, want dit is waar die Here hom die eerste keer na sy vlug vir sy broer ontmoet het.
Hier verskyn die Here ook weer aan Jakob, seën hom en bevestig Sy beloftes asook sy nuwe naam, Israel (35:9-12).
Die Here en Sy kinders.
Die Here se genade oor sy kinders is oneindig groot, Hy straf hulle nie na die mate van hul ongeregtighede nie, maar vergewe hulle en plaas hulle skuld op die rekening van sy Seun Jesus Christus wat later aan die kruis daardie volle rekening sou vereffen (Ps 103:8-12). Nieteenstaande al hulle tekort-kominge, gebruik die Here hulle dan, dikwels in sleutel posisies in Sy Koninkryk en boonop beloon Hy hulle ook nog in die hiernamels daarvoor.
Jakob se gedenkalbum.
Dit is ook interessant om op te let dat Jakob dikwels op plekke waar hy besondere belewenisse met God gehad het, gedenk-stene opgerig en sommige selfs ook met olie gesalf het.
Ons geheues is tog so kort en ons vergeet so gou watter groot dinge die Here vir ons gedoen het. ‘n Dagboek of kantaantekeninge in ons Bybels kan baie help.
F. DOOD VAN DEBORA, RAGEL EN ISAK (GEN 35:8-29)
Dit is interessant dat Rebekka se oppasser, Debora, nie meer in Isak se huishouding was nie, maar by Jakob s’n aangesluit het waar sy ook, in die omgewing van Bet-el oorlede is (Gen 35:8). Ragel is later oorlede, onderweg na Betlehem en wel tydens haar bevalling met die geboorte van haar tweede seun, Benjamin (35:16-20).
Pa/oupa Isak se afsterwe.
Jakob het waarskynlik tyding ontvang dat sy vader, Isak, waarskynlik nie meer lank sou lewe nie en het hom in Hebron gaan besoek. Esau het ook daarheen oorgekom en die twee broers kon dus saam van hom afskeid neem en hom daarna begrawe (35:27-29).
Die Here was wonderlik goed vir Isak deur aan hom die vreugde te verleen om voor sy dood sy twee seuns weer versoen te sien, kennis te neem van die groot seën wat God op hulle uitgestort het en te weet dat hulle twee hom sou begrawe.
As jongman was hy gewillig om sy lewe in gehoorsaamheid aan God en sy vader, op die berg Moria, op die altaar te lê. Gee God nie dalk ook daaraan erkenning deur hom in die lewe te hou tot op die ouderdom van 180 jaar, 5 jaar, ouer selfs as sy vader Abraham nie? Wat ‘n mooi en geseënde einde!
Sjoe, eers asemskep en dan verder trek.
Nou kan ons weer asemhaal na al die spanning van Jakob se lewensverhaal tot hier toe – maar vir hom sou daar nog ‘n hele paar bergpasse voorlê, eerdat hy, leunende op sy kierie oor die wenstreep sou skuifel.
G. JAKOB SE KINDERS (35:23-26)
Oor sy twaalf seuns is reeds kommentaar gelewer in die vorige studiegids, maar dit is goed om hul name te onthou aangesien nog baie van hulle nageslag gehoor sal word. Hulle was:
By Lea: Ruben, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon.
By Ragel: Josef en Benjamin.
By Bilha (Ragel se slavin): Dan en Naftali.
By Silpa (Lea se slavin): Gad en Aser.
Hierdie 12 seuns het die 12 aartsvaders geword waaruit die Here sy volk Israel gebou het (Gen 30:20,21).
Jakob se 1 dogter (by Lea): Dina.