HIERDIE STUDIEGIDS MAG GRATIS AFGELAAI WORD VIR PERSOONLIKE GEBRUIK
GOD KOM WOON IN DIE MIDDE VAN SY VOLK
Openbaring van God se almag, heiligheid en genade.
In die verlossing uit Egipte het die Here Sy almag geopenbaar deur die plae wat Hy gebruik het om die mag van Egipte en sy afgode te verbreek.
In Sy gebooie, insettinge en verordeninge wat Hy in groot detail daarna aan Sy volk gegee het, het Hy Sy heiligheid geopenbaar wat so geweldig was, dat geen mens dit kon waag om in Sy teenwoordigheid in te gaan nie; selfs die berg waarop God verskyn het, was afgekamp sodat hulle dit nie sou aanraak en sterf nie. God was daar bo-op die berg, gehul in ‘n wolk waaruit blitse geflits het en die mens daaronder; nietig en bevrees. Hulle was afgeskei van mekaar. Sy verloste volk kon nie deur die onderhouding van Sy wette heiliger word en as’t ware so treetjie vir treetjie teen die berg uitklim nie; hulle was geestelik te swak om Sy gebooie volmaak te onderhou.
Tog was Sy begeerte nog steeds om as hulle God in hulle midde te woon, soos wat Hy in die Paradys met Adam en Eva verkeer het. As hulle dan nie na Hom toe kon kom nie, was daar net een uitweg: Hy sou na hulle moes afdaal, maar …, maar, op ‘n wyse wat nie aan Sy heiligheid afbreuk sou doen nie. Daarom het Hy ‘n ander pad uitgewerk deur vir Sy volk die tabernakel, priesterorde en offerandes te skep. Dit was ‘n volmaakte weg waardeur hulle in Sy heilige teenwoordigheid toegelaat kon word.
‘n Bloedoffer.
Enigeen wat tot die oortuiging gekom het dat hy voor God ‘n sondaar was wat die dood deur die hand van God verdien het, kon naamlik ‘n offerdier na die tabernakel bring en daar sy hande op die dier se kop plaas waardeur hy simbolies sy skuld aan die hom oorgedra het. Die dier is dan keelaf gesny en gedeeltelik, of in geheel, op die altaar verbrand. So het die skuldige mens díe onskuldige dier se lewe in die plek van sy eie aan God offer. Onskuldige bloed moes vergiet word om die skuld van die skuldige mens uit te wis. Hierdie bloedoffers het natuurlik heengewys na die onskuldige Seun van God wat Sy lewe vir die skuldige mens sou aflê. Deur daardie offer, kon God beide regverdig en genadig wees; regverdig deurdat Hy die sonde tot die laaste greintjie gestraf het, en genadig omdat Hy die mens volkomelik vergewe en as kind aangeneem het. Hierdie eenvoudige, praktiese plan, was God se plan; nie die mens s’n nie.
Uitbeelding van die verlossingsplan.
Hierdie versoeningsplan het die Here in beeldvorm (soos ‘n videoprent) vir Sy volk deurgegee en wel as ‘n tabernakel, priesters en offerandes. Die tabernakel was ‘n groot tent wat reg in die middel van die kamp opgeslaan was, met sy ingang aan die oostekant. Daaromheen was die Leviete gekamp (Num 1:53) wat verantwoordelik was vir die tabernakel se versorging, met Moses, Aäron en die se priesterseuns aan die oostekant (Num 3:38). Buitekant om die Leviete, was die twaalf stamme gekampeer, elk op ‘n bepaalde plek by hul vaandels (Num 2:1-34). Die Here het sigbaar bedags as ‘n wolkkolom en snags as ‘n vuurkolom op die tabernakel gerus (Num 9:15,16) en ook in die Allerheiligste, tussen die gerubs; bokant die versoendeksel. So het die Here dan tussen Sy mense kom woon en was hulle altyddeur van Sy teenwoordigheid bewus.
Hierdie visuele (sigbare) uitbeelding van God se teenwoordigheid by Sy volk is ook vir ons van groot betekenis, want die NT-se gelowige is ‘n tempel (tabernakel) van God, en behoort net so bewus te wees van die Heilige Gees wat binne-in hom woon (1 Cor 6:19).
DIE TABERNAKEL EN BYBEHORE (Ex 26:1-37).
Redes vir God se voorskrifte.
Ons moet deurentyd daarop let dat daar praktiese redes was waarom die Here ‘n bepaalde voorskrif gegee het, maar dikwels ook ‘n geestelike rede. So, bv., moes die tabernakel van pale en materiaal saamgestel word sodat dit maklik op- en afgeslaan kon word want Israel sou vir die volgende 40 jaar ‘n nomadiese bestaan voer – dus ‘n praktiese rede. Dit is in die middel van die kamp opgeslaan en ‘n wolk- en vuurkolom het daarop gerus sodat die volk kon sien dat hul God in hul midde kom woon het en dat hul fokus op Hom sou wees – ‘n geestelike rede.
Verder; op aarde is ons vreemdelinge en bywoners (1 Pet 2:11) wat in tentwonings woon (2 Cor 5:1) tog is God in ons midde.
Materiaal vir die tabernakel (Ex 25:1-9, Ex 35:1-36:7).
In antwoord op ‘n oproep van God, het elkeen wie se hart hom daartoe opgewek het, van die rykdom wat hy van die Egiptenare geeís het, geskenk vir die vervaardiging van die tabernakel, die woonplek van God (Ex 35:5). Die gawes het so ingestroom dat die volk later gevra moes word om nie meer te gee nie. ‘n Mens is verbaas om te sien wat hulle alles in hul besit gehad het.
Die vroue wat by die tabernakel in diens sou wees, het ‘n besondere skenking gedoen; hulle het hul koperspieëls gegee (Ex 38:8) om gesmelt en vir die vervaardiging van die koperwaskom gebruik te word! In ‘n sin kan ‘n mens sê dat hulle gewillig was om ‘n bietjie slegter te lyk, sodat die Here beter kon vertoon in sy werke.
En elke vrou wat kunsvaardig was, het met haar eie hande gespin en die spinsel gebring: die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en die fyn linne (Ex 35:25).
Pers, persrooi, bloedrooi: sommige Engelse vertalings verkies “blou, pers en bloedrooi”. Pers is ongetwyfeld die kleur van die adelstand en heersers (Luk 16:19). Jesus is ‘n pers/purper kleed omgehang toe hulle Hom bespot het as sou hy die koning van die Jode wees (Joh 19:2). Bloedrooi, wat elders ook as skarlaken beskryf word (Jes 1:18) kan verwys na sonde. Ons wil dikwels die rooi kleur in verband bring met die bloed van Christus maar die Skrif doen dit nie. Purperrooi/persrooi: talle plekke in Skrif word skarlaken gekoppel aan rykdom, grootheid en prag (Open 18:16).
Dit wil dus eerder voorkom of die kombinasie van pers, purperrooi/persrooi en bloedrooi, bedoel was om die koninklikheid van God uit te beeld. Dit was die kleure wat in ‘n koning se paleis as versiering gebruik was en hierdie tent was God se woning, daarom moes slegs koninklike kleure gebruik word.
Vakmanne vir die vervaardiging van die tabernakel (Ex 35:30; 36:2)
Daarby het die Here twee manne, Besáleël en Ohóliab, aangewys, gesalf en met spesiale gawes toegerus; wysheid, intelligensie, kennis en bekwaamheid, om planne uit te dink sodat alles kunstig verrig kon word. Hulle was dus besonder begaafde binnenshuise versierders en hulle het weer andere by die werk betrek.
Wat ‘n voorreg om so by die werk van God betrokke te kan wees. Sommige kon net van hul besittings gee; andere weer, het die talente gehad om die materiaal te verwerk. Hoeveel van die lewensmiddele, tyd en gawes wat God my gegee het, het ek tot dusvêr teruggeploeg in Sy Koninkryk of gaar ek dit op: vir wie? Die wat nie gegee het nie, sou later verleë en skuldig moes toekyk toe die tabernakel opgerig is en die Gees van God in die vorm van ‘n wolk daarop neergedaal het, wetende dat hulle niks van hulself daarin ingebou gehad het nie.
Voorhof (Ex 27:9-19).
Die tabernakel was geplaas binne ‘n voorhof waarvan die muur/omheining, bestaan het uit 60 pilare op koper voetstukke, tussenin toegespan met linnestof. Sy afmetings in el (‘n el is ongeveer 0,5m) was 100x50x5 hoog (ongeveer 50x25x2,5m). Nuuskieriges kon dus nie van buite af inkyk nie – dit was daar vir mense wat ernstig was met God; hulle kon deur die ingang ingaan. Die Leviete en priesters wat rondom gewoon het en waarvan die mans op ‘n stadium 22 000 beloop het (Num 3:39) het ‘n verdere muur van mense gevorm wat die tabernakel teen ontheiliging beskerm het.
Die toegangspoort, in die middel van die oostelike wand, was 10 meter wyd met 4 pilare. Die voorhof is altyd opgeslaan met sy lang kante noord en suid en sy koppenent met ingang oos. Waarom na die Ooste, is onseker, maar dit is ook waar die stam van Juda, die leier van al die stamme en die stam waaruit Jesus gebore sou word, aangewys was om laer op te slaan. In Eseg 43:2 en 4, waar die profeet sy visie van die nuwe tempel weergee, meld hy dat die heerlikheid van die Here in die huis ingetrek het deur die poort waarvan die voorkant na die ooste lê en dat Sy koms was soos die geruis van baie waters, en die aarde geglans het van sy heerlikheid. In Mal 4:2 word weer na Jesus verwys as die Son van geregtigheid wat vir die wat Hom vrees, opgaan, en die son kom natuurlik in die Ooste op en wanneer Jesus weer kom, sal Sy koms wees soos weerlig wat uit die Ooste uitslaan en tot in die Weste skyn (Mat 24:27). Die oostelike kant van die laer was die fokuspunt van al die geestelike aktiwiteite.
Vandag staan dit elkeen vry om hom te posisioneer waar hy wil sovêr dit die dienswerk van God betref; tog is daar nie juis ‘n samedromming aan die oostekant van die laer om betrokke te raak nie en is die meeste tevrede om hulself aan die suidekant te vestig, waar hulle uit die oog is en met hul eie dinge kan aangaan.
Die koper brandofferaltaar (Ex 27:1-8)
Binne die voorhof en direk teenoor die toegangspoort, was die vierkantige brandofferaltaar van 2,5m en 1,5m hoog, gemaak van akasiahoutplanke, oorgetrek met koper en hol van binne. Op die hoeke was daar horings, ook oorgetrek met koper.
Die altaar was rondom van ‘n lys voorsien, aan die onderkant waarvan ‘n tralienetwerk van koper geheg was wat tot by die helfte van die altaar gereik het. Die netwerk is voorsien van ‘n ring op elke hoek waardeur die draaghoute gesteek is. Daar is ‘n verskil van opinie oor hoe dit presies saamgestel was. Een moontlikheid is dat die lys aan die boonste rand van die altaar geheg was en na binne geprojekteer het. Die altaar (wat nie ‘n boom gehad het nie), is dan halfvol met sand gemaak (Ex 20:24,25) en die tralienetwerk aan die lys geheg om tot by die sand te reik en sodoende die altaar se wande teen die vuur te beskerm.
Die kopergereedskap wat by die altaar gebruik is, het bestaan uit potte, skoppe, komme, vuurpanne en vurke.
Die offer is deur vuur gereinig.
Die vuur is aanvanklik deur God self aangesteek (Lev 9:24) en moes voortdurend aan die brand gehou word (Lev 6:12,13); dit was heilige vuur.
Die primêre Bybelse simboliek van vuur is dat dit dui op die heiligheid van God wat alles wat onrein is waarmee dit in aanraking kom, tot as verbrand – alles wat nie uit God is nie, word verteer. (Maar ‘n edelmetaal soos goud (en silwer) word deur vuur gesmelt en gelouter sodat dit volkome suiwer kan word (Mal 3:3).
Die gloeiende kole wat die offerdier verteer het, het reiniging gebring vir die persoon wat die offer gebring het. Die dier was natuurlik dood en het geen pyn gevoel nie, maar Jesus, die Lam van God, is eers gegésel, daarna is ‘n doringkroon gevleg en op Sy kop gedruk en toe is hy lewend aan die kruis vasgespyker waar hy stadig deur die heiligheid van God (die heilige kole) verteer is, totdat Hy uitgeroep het: “Dit is volbring,” en Sy Gees aan Sy Vader oorgegee het. Hy het al die nodige pyn gedra sodat ons pynloos geheilig kan word.
In Jesaja 6:1-7 lees ons hoedat die profeet, toe hy God sien, verskriklik bevrees geraak het oor die onreinheid van sy lippe en uitgeroep het “Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe … ”, ‘n Engel het toe met ‘n tang ‘n gloeiende kool van die altaar afgeneem en sy lippe daarmee aangeraak. Dit het hom nie gebrand nie, tog het die seraf hom verseker, “Jou skuld is weg en jou sonde is versoen.” Dit was vir hom so ‘n groot verligting dat hy homself as ‘n prediker aan God aangebied het. Jesus reinig ons sonder dat dit ons seermaak.
Die brandofferaltaar was strategies geplaas.
Die brandofferaltaar was dus die heel eerste item wat ‘n mens teëgekom het wanneer jy deur die poort in die voorhof ingegaan het en alle Israeliete was tot op hierdie punt toegelaat. Hier kon ‘n persoon sy offerande aan die diensdoende priester oorhandig wat dit volgens voorskrif namens hom aan God geoffer het. Omdat hierdie voorskrif van ‘n bloed brandoffer van God gekom het, kon die persoon met ‘n geruste hart huistoe gaan, met die versekering dat sy sondeskuld vereffen is.
Dit geld vandag nog; wanneer die mens met God wil wandel, is sy eertste stap om by die brandofferaltaar aan te meld en homself in geloof in Christus aan God te offer. Het jy dit al gedoen?
Die vier horings van die altaar.
Horings word op talle plekke in die Woord vermeld waar dit mag, gesag of heerskappy simboliseer (Openb 17:12). Hier, by die tabernakel, beeld dit waarskynlik uit, Christus se oorwinning oor sonde, dood en die duiwel op grond van Sy offer aan die kruis. Hy het, soos die offerdier, swak geword sodat die mens sy gesag wat hy in die Paradys verloor het, kon herwin en saam met die opgestane Christus as koning kan heers. Die kruis waar Jesus in swakheid gekruisig is, word vir die Christen die simbool van oorwinning.
Die koperwaskom (Ex 30:17-21).
Tussen die brandofferaltaar en die tabernakel is ‘n koperwaskom met sy voetstuk geplaas en vol water gehou, waarmee Aäron en die ander priesters hulle hande en voete gewas het voordat hulle met die offergawes gewerk of in die tabernakel ingegaan het. Dit was nodig omdat hul voete vol stof geword en hulle hande besmet is met dit waarmee hulle ookal in kontak gekom het.
Die dag wanneer die mens gered word, word hy van sonde gereinig deur die bloed van Jesus (1 Joh 1:7) maar soos die priesters moet die kind van God ook self deelneem in sy daaglikse reiniging van sonde deur dit te belei sodra hy daarvan bewus word (1 Joh 1:9).
Benewens skuldbelydenis, het die Here ook vir ons die waterbad van Sy Woord gegee (Ef 5:26). Wanneer ons die Woord bestudeer, bepeins en glo, raak ons bewus van die vuil kolle in ons lewens en kan ons verlossing vind deur Sy bloed en Sy Gees.
Sommige kinders van die Here is so besig met die alledaagse lewe en vind net nie die tyd om te stort, hande te was en tande te borsel of hul klere te ruil nie, met die gevolg dat hulle allerhande reukwerendende middels soos om vroom praatjies te praat en ‘n vissie op hul motor te plak, moet gebruik om hul geestelike toestand vir die mense om hulle weg te steek, maar, maar o weë, die Here sien die hart aan (1 Sam 16:7). Ja, ek weet, sommige Bybeltekse is soos ‘n skropborsel en rof op die vel, maar dit is darem só lekker om skoon anderkant uit te kom, gereed om weer saam met ons Vader deur die straat te loop sonder dat Hy Hom vir ons moet skaam.
Die tabernakel self (Ex 26).
Die tabernakel se afmetings was 30x10el (15x5m) en het bestaan uit ‘n akasiahout raamwerk van steile (5m hoog en 2.25m breed) verbind met dwarshoute, oorgetrek met goud en met voetstukke van silwer.
Akasiahout is baie hard, verrot nie maklik nie en word nie deur termiete of ander insekte gevreet nie; dit is dus duursame hout. Die ark van die Getuienis, die versoendeksel, die tabernakel se steile, die brandofferaltaar en ook die reukofferaltaar is van akasiahout gemaak en met goud oorgetrek. Goud is natuurlik ‘n edelmetaal wat nie deur wind, water, son of wat ookal verweer word nie – (kyk maar na die goue ring aan jou vinger wat jy al 10 of 20 jaar lank dra). Dit was dus baie duursaam en geskik om die woestynlewe te trotseer.
Maar daar was ook ‘n geestelike konnotasie. Goud was die kosbaarste en begeerlikste van alle metale; die metaal waarvan konings se krone vervaardig is. Dit was die beste wat die mens kon gee om ‘n woonplek vir sy God te bou.
Die hout en goud wat saamgevoeg is, laat ‘n mens dink aan die houtkruis waaraan die Seun, die Kosbaarste “goud” wat die Vader kon gee, gehang is om vir die mens ‘n nuwe huis in die hemele te verwerf.
Die dubbeldraad linne het ‘n baie praktiese doel gedien want dit het verseker dat die menigte doeke wat vir die voorhof en tabernakel self gebruik is, nie maklik sou skeur wanneer dit gedurig hanteer is nie. Dit sou ook nie teen die lig deurskyn nie.
Die kleure van die behangsels wat as bedekking van die ingang tot die voorhof sowel as bedekking van die tabernakel self gebruik is, was pers, purperrooi en bloedrooi. (Oor hierdie kleure het ons vroeër in hierdie lesing reeds gepraat,)
Dit steile is met twee lae van sulke helderkleurige tentdoeke van dubbeldraad linne oordek wat vasgeheg is met lissies en hakies. Daar bo-oor is ‘n tentseil, uit bokhaar geweef, gedrapeer, dan een uit rooigeverfde ramsvelle en bo-oor dit alles, ‘n seil vervaardig uit robbevelle.
Aan die binnekant is dit in twee dele verdeel.
‘n Bedekking van gordyne aan sy oostelike koppenent, het toegang tot die tabernakel verleen.
Dit was dus geen gewone tent nie, maar ‘n kunswerk wat God self ontwerp en waarvan Hy ‘n model aan Moses op die berg Sinai vertoon het; ‘n aardse woonplek vir die Koning van konings waarvan die goud, silwer en die kleure van die tentdoeke getuig het.
(Tot tyd en wyl die tabernakel voltooi was, het Moses blykbaar ‘n kleiner tent opgerig waar hy met God ontmoet het.)
Die Heiligdom (Ex 25:23-30).
Aan die binnekant is die tabernakel met ‘n voorhangsel in twee dele, die Heiligdom en Allerheiligste, afgeskort. Slegs die priesters was hierin toegelaat. Wanneer ‘n priester die tabernakel binnegetree het, het hy hom in die Heiligdom, groot 5x10x5m hoog, bevind. Daarin was slegs drie items geplaas naamlik, die kandelaar, die tafel met die toonbrode, en die reukofferaltaar.
Die goue kandelaar (Ex 25:31- 40).
Die kandelaar was aan die linkerkant wanneer jy in die Heiligdom ingekom het; na aan die suidelike wand.
Aangesien daar geen vensters was waardeur natuurlike lig kon binnedring nie, was die kandelaar se lig, die enigste lig in die Heiligdom. Hierdie lig moes gedurig deur die toevoeging van olie, brandend gehou word en moes soggens en saans deur ‘n priester bedien word (Ex 27:20,21).
Alle geestelike lig (openbaring) kom van God: deur die natuur (Rom 1:18-20), Sy Woord (Ps 119:105) en Sy Gees (1 Kor 2:10). Jesus is die vleesgeworde Woord (Joh 1:14) wat in die wêreld gekom het om elke mens te verlig (Joh 1:9) en in Hom was geen duisternis nie. In Sy wese is Hy suiwer goud, suiwerder selfs as die goud waaruit die kandelaar gemaak was.
Die kandelaar en sy ses arms is alles saam uit een stuk goud geslaan – wat ‘n vernuftige werk – want Jesus en sy dissipels (elkeen wat aan hom behoort) is een liggaam deur die Heilige Gees wat hulle saamsnoer.
Die ses arms van die kandelaar kan dui op die Here se diensknegte (6 is die getal van die mens) deur wie Hy die lig van Sy woord versprei. Die sentrale staander was simbolies van Jesus self uit Wie alles spruit.
Die sewe lampe (Lev 24:4) was deel van die kandelaar. Sewe is die getal van volmaaktheid. Die lig wat God deur Sy Woord en Gees gee, is volmaak (Ps 19:18). Niks mag daaraan toegevoeg en niks mag daarvan weggeneem word nie (Open 22:18). Enige ander lamp en olie, is mensgemaakte lering en is vals. Die opening van Sy Woorde gee lig (Ps 119:130).
Die amandelbloeisels en knoppe. Die amandelboom is een van die bome wat in Israel heel eerste in die seisoen bloei en is simbolies van God se ywer (wakkerheid) om Sy Woord in vervulling te laat gaan (Jer 1:11,12). Die bloeisels dui op die Woord wat reeds geopenbaar is en besig is om in vervulling te gaan en die knoppe, dui op Woord wat nog geopenbaar sou word en later in vervulling sou gaan; dws die res van die Ou- en die geheel van die NT. Die geboorte, sterwe en opstandingvan Jesus, is byvoorbeeld in Gen 3:15 al geprofeteer maar het sowat 2000 jaar na die maak van hierdie kandelaar eers gebeur.
Olie is simbolies van die Heilige Gees (Mat 25:1-13). Slegs suiwer uitgestampte olyfolie kon gebruik word (Ex 27:20).
Om lig van God te ontvang, is ‘n geweldige voorreg en daardie lig moet gekoester word (deur suiwer lering en uitlewing daarvan, aan die brand gehou word) want die Here waarsku dat Hy Sy kandelaar uit ‘n gemeente kan wegneem (Open 2:5). So ‘n gemeente sal voortgaan met hul aktiwiteite, maar onwetend in geestelike duisternis voortploeter. Dieselfde geld vir ‘n mens wat nie volgens die lig wat hy van God ontvang, leef nie.
Alhoewel die lampe se primêre doel was om lig te gee, is dit betekenisvol dat dit ook uit 7 klein vuurtjies bestaan het en vuur is tekenend van die heiligheid van God. Die lig wat hulle gegee het, het gespruit uit die heilige wese van God – uitstraling vanuit die hart van God.
Die tafel met die toonbrode (Ex 25:23-30; Lev 24:5-9).
Hierdie tafeltjie van akasiahout met afmetings, 1x1x1,5m hoog, was ook met goud oorgetrek en het aan die regterkant, die noordekant, gestaan. Daarop moes 12 plat koeke (ook genoem toonbrode) wat op ‘n voorgeskrewe wyse voorberei is (Lev 24:5), in twee stapels van ses elk voor die aangesig van God neergesit word. By elke stapel moes suiwer wierook bygevoeg word. Dit moes elke Sabbatdag gedoen word. Dit alles was ‘n vuur- en gedenkoffer aan die Here. Dit het aan Aäron en sy seuns toegekom en net hulle mag dit geëet het.
Die getal 12, dui daarop dat die brode deur die priesters, namens die twaalf stamme daar geplaas en ook names hulle geëet moes word. Dit wys heen na Jesus wat deur Sy offer vir ons die Brood van die Lewe wat uit die hemel neergedaal het, geword het (Joh 6:35). As ons Sy vlees eet en Sy bloed drink, het ons die ewige lewe (Joh 6:54). Dit beteken dat ons totale geestelike lewe afhang van ons geloof in Hom.
Die reukofferaltaar (Ex 30:1-10).
Nadat die besoeker goddelike lig deur die kandelaar en geestelike versadiging deur die toonbrode ontvang het, loop sy hart oor van dankbaarheid waarvoor die Here die reukofferaltaar vir hom beskikbaar gestel het om sy aanbidding en lof aan God deur middel van reukwerk te bring.
Hierdie altaar was van akasiahout gemaak, vierkantig, 50x50cm x 1m hoog, met vier horings, een op elke hoek, is voorsien van draagringe en was met goud oorgetrek. Van die drie items in die heiligdom, was dit naaste aan die Allerheiligste geplaas, net duskant die voorhangsel waaragter die ark met versoendeksel was.
Ook hier is vuur gebruik. Heilige kole was vanaf die brandofferaltaar in ‘n goue pan na die reukofferaltaar gebring. Spesiaal voorbereide speserye (sien later) is dan daaroor gestrooi. Dit het ‘n aangename geur afgegee wanneer dit deur vuur verbrand is. Dit was Aäron, die hoëpriester, se taak om twee maal per dag op dié wyse reukwerk aan God te offer. Die heerlike geur sou die tabernakel vul en waarskynlik tot buite toe waarneembaar wees en ook aan sy priesterlike kleed kleef wanneer hy na buite sou gaan.
Van die reukwerk is ook voor die ark van Getuienis neergesit waar Moses met God ontmoet het.
Ons kan soveel uit hierdie Skrif leer. Ons gebede is vir God soos kosbare reukwerk soos wat in Openb 5:8 geskryf staan: en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is. Maar ons moet nie net bid, “Here gee my dit,” en “Here gee my dat,” nie, maar Hom ook loof en dank vir gebede wat Hy verhoor het: Ps 50:14: Offer dank aan God, … . Ons lofoffer moet ook nie net in die kerk gebring word nie, maar oral waar ons rondbeweeg: Heb 13:15: Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.
Die Allerheiligste (Ex 26:33).
Die agterste deel van die tabernakel, ‘n kubus van 5x5x5 meter, is die Allerheiligste genoem. ‘n Kubus was blykbaar in OT-se tye die simbool van volmaaktheid omdat, ongeag van watter kant af jy daarna gekyk het, dit perfek simmetries was. In Openb. 21:16 word die Nuwe Jerusalem as ‘n kubus beskryf. Miskien kan die liefde van God ook as ‘n kubus gesien word: lengte, breedte, diepte, hoogte? (Efes 3:18).
Ons lees nie van enige lamp in die Allerheiligste nie. Sommige Skrifverklaarders meen dat lig van God uitgegaan en dit deurentyd verlig het, maar ons vind nie eintlik Skrif bevestiging daarvoor nie. Die meer waarskynlike beskouing, is dat God nie net die voorhangsel nie, maar ook die duisternis gebruik het om Homself vir die mens te bedek tot tyd en wyl die Soenoffer gebring en die gordyn, die voorhangsel geskeur was.
Alleenlik die hoëpriester, Aäron, was in die Allerheiligste toegelaat, en dan ook net eenmaal per jaar op die Groot Versoendag wanneer hy vir die volk se sonde versoening gaan doen het (Lev 16).
Toe die gekruisigde Jesus eeue later Sy laaste asem uitgeblaas het, was die volle skuld vir die mens se sonde betaald en op daardie presiese oomblik, het die voorhangsel in die tempel, wat die tabernakel later vervang het, van bo na onder in twee geskeur (Mat 27:51). Aäron moes elke jaar weer en weer ingaan met die bloed van ‘n offerdier om vir die volk se sondes versoening te doen maar Jesus, ons ewige Hoëpriester, het na Sy kruisdood met Sy eie bloed net eenmaal in die hemelse heiligdom ingegaan om eens en vir altyd vir die mens se sonde versoening te doen (Heb 9:11-14).
Die Allerheiligste was natuurlik simbolies van God se onbedinkbare heiligheid waarin geen mens durf waag om in te gaan nie. Jesus se soenoffer het die weg gebaan vir elkeen om direk na die Vader te kan gaan en Een tot een met Hom te kan praat soos wat Moses gedoen het. Meer hieroor later.
Die Ark van die Getuienis (ook genoem die Verbondsark) (Ex 25:10-22).
In die Allerheiligste was die Ark van die Getuienis (ook genoem die Verbondsark) gemaak van akasiahout en binne en buite oorgetrek met goud. Dit is van ringe voorsien, en draaghoute wat nooit verwyder mag word nie, en niemand mag dit aangeraak het nie. Wanneer die tabernakel afgeslaan word, moes die ark met die voorhangsel bedek word.
In die ark was die Getuienis, die (een of) twee kliptafel(s) waarop die Here die Tien gebooie met Sy vinger geskryf het (Deu 10:2,5) ‘n goue kruik met manna (Ex 16:33, Heb 9:4) en die staf van Aäron wat twaalf maal per jaar geblom het (Num 17:10). Later is ‘n goue wierookbak ook bygevoeg (Heb 9:4). Bo-op die ark was die versoendeksel (Ex 25:10-22) waarop twee gerubs met uitgestrekte vlerke waarvan die punte aan mekaar raak, oor die ark gewaak het. Bokant die versoendeksel en tussen die twee gerubs, was God in die gedaante van ‘n wolk deurentyd sigbaar teenwoordig (Lev 16:2) en van daar af het Hy met Moses gespreek en aan hom alles meegedeel wat Hy Sy volk Israel moes beveel (Num 7:89). Langs die ark is ‘n wetboek wat deur Moses kort voor sy dood geskryf is, neergelê (Deut 31:26).
Die twee kliptafels met God se gebooie (samevattend van Sy ganse wil), is baie betekenisvol, want dit vorm die basis waarop die Here se verhouding met Sy volk berus het: ‘n heilige lewenswandel, gekoppel aan sondevergifnis op grond van ‘n bloedoffer. Dit is ‘n skriftelike getuienis of kontrak van God se voorwaardes wat net so deur Sy volk aanvaar moes word. Daardeur het God vir hulle gesê, “So het ons ooreengekom; dit is My getuienis teen julle; julle kan nie sê dat julle nie geweet het nie.”
Die manna was ter herinnering aan God se wonderbaarlike voorsiening in hul behoeftes terwyl die staf hulle sonde om teen God in opstand te kom, in gedagte geroep het.
Wanneer die laer na ‘n ander omgewing versit het, het die ark, gedra deur die priesters, vooruit getrek om, onder leiding van die wolk van God se teenwoordigheid vir hulle ‘n kampeerplek aan te wys (Num 10:33-36; Jos 3). Die simboliek hiervan is voor-die-hand-liggend, naamlik dat die wat aan God behoort, deur God gelei moet word om hul godgegewe bestemming te bereik. Hoe dikwels tog beland ons in groot ellende omdat ons ons eie roete uitwerk. Die Woord sê, “Daar is ‘n weg wat vir die mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” (Spr 14:12). Maar dan gee God ook weer kosbare beloftes soos in Ps 25:12: Wie tog is die man wat die HERE vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies.
Alles moes met bloed gereinig word
Dit is so belangrik om te let op die belangrike rol wat die bloed van ‘n offerdier in Israel se verhouding met God gespeel het. Selfs fisiese voorwerpe moes, omdat hulle deur mensehande en uit aardse materiaal gemaak was, versoening voor gedoen word, voordat dit gebruik kon word. Ons noem net ‘n paar voorbeelde:
Brandofferaltaar (Ex 29:37; Lev 4:34).
Die reukofferaltaar (Ex 30:10).
Die tabernakel en al sy bybehore: En hy het ook die tabernakel en al die gereedskap van die diens net so met die bloed besprinkel. En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie. (Heb 9:21,22).
Dit word oor en oor beklemtoon dat die hele velossingsplan van God om die kruisdood van Sy Seun Jesus draai.
Sommige items en persone moes gesalf word (Ex 30:26-33).
Die Tent van Samekoms (tabernakel), ark van die getuienis, tafel met toonbrode, kandelaar, reukofferaltaar, waskom en brandofferaltaar moes allees met die voorgeskrewe olie gesalf word. Elkeen wat daarna aan hierdie gesalfde voorwerpe geraak het, het heilig geword. Ook Aäron en sy seuns, die priesters, moes gesalf word om die priesteramp te kan bedien.
(Heilig beteken, “afgesonder van die wêreld en toegewy aan God.”) Soos die tabernakel en die priesters, is elke wedergebore kind van God, afgesonder vir Hom om op een of ander wyse deur Hom gebruik te word om andere geestelik te bedien, maar om dit te kan doen, moet daar ‘n bonatuurlike element in ons lewens kom, soos die aangename geur wat die priesters en die tabernakel omring het, sodat andere met wie ons in aanraking kom, kan waarneem dat die Here op ‘n spesiale wyse in ons teenwoordig is; dat Hy ons in besit geneem het.
Daarom het Jesus Sy dissipels ook opdrag gegee om nie dadelik na Sy hemelvaart in Sy diens uit te gaan nie, maar om in Jerusalem te vertoef totdat hulle die “Belofte van die Vader” ontvang het (Han 1:4) en met die Heilige Gees gedoop is (Han 1:5). Wanneer Hy oor hulle sou kom, sou hulle krag ontvang om Sy getuies te wees tot aan die uiteindes van die aarde (Han 1:8). In Jes 61:1 getuig die profeet van Jesus dat Hy gesalf was om die blye boodskap te bring (Sien ook Han 10:38).
Die heilige salfolie en reukwerk (Ex 30:22-38).
Die salfolie moes streng volgens goddelike voorskrif voorberei word en het bestaan uit mirre, kaneel, kalmoes, kassie en olyfolie. Dit was heilig en niemand mag dit volgens daardie voorskrif nagemaak het nie; so nie sou hy sterwe.
Die reukwerk wat voor die ark van Getuienis neergesit is en wat ook op die reukofferaltaar aan God geoffer is, moes ook volgens voorskrif voorberei word en het bestaan uit storaksgom, naeltjies, gálbanum, wierook en sout en mag ook nie nagemaak word nie.
Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; (2Co 2:15).
Die aangename geur wat van beide die salfolie en reukwerk uitgegaan het, getuig van die Heilige Gees se teenwoordigheid. Sy werking is uniek en kan nie nagemaak word nie. ’n Verkondiger van die Evangelie kan goed onderleg wees in die Skrif, ‘n wye algemene kennis hê, spitsvondig wees, ‘n uitstaande spreker, maar as hy en sy boodskap nie gedoop is in die Heilige Gees nie, sal dit nie omgewe wees van die geur van die Heilige Gees nie en sal dit nie tot die mens se gees spreek nie. Ons sê dit met respek, maar die Heilige Gees kan nie nageboots word nie.
Die Tabernakel as simbool van die wedergebore mens
Die kind van God bestaan uit drie komponente: liggaam, siel en gees (1 Thes 5:23) wat op sy beurt korrespondeer met die tabernakel se voorhof (liggaam), die Heiligdom (siel: emosies, wil en denke) en Allerheiligste (gees: die woonplek van God).
……….