HIERDIE STUDIEGIDS MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.
‘N UITDAGENDE LEWENSSTYL.
Israel se lewensstyl in Egipte, uitgesonderd die slawediens wat hulle moes verrig en die vermoording van hul kinders wat hulle moes aanskou, was waarskynlik baie aangenamer as wat hul verblyf in die woestyn was. In Egipte kon elkeen vir homself en sy gesin ‘n modderhut oprig om hulle teen die hitte en koue te beskerm maar nou was hulle op tente aangewese en dit in die skroeiende woestynson en snerpende koue nagte.
Dan was hul daaglikse spyskaart van kossoorte nou ook maar skraal, wat hulle dikwels laat vergeet het van die swaarkry en laat terugverlang het na die bitter-soet lewe. Die tog na die beloofde land Kanaän, was dus ‘n voortdurende toets vir hul geloof: hulle moes aanhou om te glo dat God goed was en net die beste vir hulle in die vooruitsig gehad het. Alhoewel die Here Homself deur die plae wat Hy oor Egipte gebring het en deur die kloof van die Rooi See aan hulle op ‘n asemrowende wyse bewys het, was dit maar moeilik om aan te hou om Hom te vertrou wanneer die beproewinge swaar op hulle gedruk het. Baie van hulle se geloof was dan ook meer in Moses gevestig as in God. Daarom het hulle hom verantwoordelik gehou vir hul swaarkry en geteiken met hul klagtes.
Maar die beproewinge was tot hul beswil, want deur die beoefening van geloof, te midde van beproewinge, sou hul geloof groei en sou hul paraat wees om die vyandige volke later in Kanaän te oorweldig en die land te verower. Jak 1:3,4 het net soveel vir hulle gegeld as vir ons vandag: “ … omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.” (Óns stryd is natuurlik teen die geestelike vyand, die duiwel en gevestigde sondes wat in ons Kanaän heers.) Ons kyk vervolgens na ‘n aantal van Israel se beproewings en hoe die Here dit hanteer het.
MURMURERING
Dors: Mara en Elim (Ex 15:22-27).
Na drie dae se trek deur die woestyn van Sur, het hulle water begin opraak want hulle kon natuurlik maar ‘n beperkte hoeveelheid met hulle saamneem (om nie eers te praat van drinkwater vir hul vee nie), maar daar was darem die vooruitsig van die fontein by Mara.
Al swetende, met tonge wat aan die verhemeltes gekleef het en dorre lippe het hulle die laaste entjie na die fontein gestrompel maar, wat ‘n teleurstelling; die water was ondrinkbaar bitter. Vergete was die wondere wat God in Egipte voor hulle oë gedoen het. In die felle woestynson het die klein plantjie van hul geloof verwelk en verskroei, totdat net ‘n stukkie van die groen stammetjie nog bo die barre aarde sigbaar was. Self kon hulle die Here nie vir nog ‘n wonder vertrou nie. Eensklaps het hul oorwinningslied (Ex 15:1) in ‘n murmurerende klaagsang verander; “Wat moet ons drink?” het dit uit duisende kele weerklink.
Vir die Here was dit geensins ‘n probleem wat Hom onvoorsiens betrap het nie. Hy het dit lank tevore reeds sien kom en ook geweet hoe Hy dit sou oplos. Op Sy bevel het Moses ‘n stuk hout wat daar gelê het, in die water gegooi en skielik was dit soet en verkwikkend.
Het hulle weer ‘n loflied aan God opgedra? Tog het die Here hul struikelende geloof verdra en hulle vervolgens na Elim met sy twaalf waterfonteine en 70 palmbome gelei – ‘n ware oase.
(Die stuk hout word ook gesien as simbolies van die kruis van Christus, in die sin dat Hy deur Sy kruisdood in die mens se behoeftes voorsien het. Wanneer ons, ons oë op die kruis rig, werp ons Jesus se voorsiening op ons bitter waters van beproewing en vind daar ‘n wonder van goddelike voorsiening plaas.)
Dors: Water uit die rots (Ex 17:1-7).
Veel later, by ‘n plek met die naam van Ráfidim, was hulle weer sonder water en wou hulle vir Moses stenig omdat, soos hulle dit gesien het, hy hulle uit Egipte laat optrek het om hulle van dors te laat omkom. Hulle het, nieteenstaande al die bewyse, getwyfel of God hulle uit Egipte laat optrek het, aldan nie. In hierdie geval het die Here Moses beveel om ‘n rots waarby Hy gaan staan het, met sy staf te slaan en het daar voldoende water uitgevloei vir almal om te drink. So maklik as dít. Hulle het nie besef dat hulle bo-oor ‘n onderaardse meer of ‘n reuse rivier van koel vars water loop nie. Die Here se oorvloed is soms nader aan ons as wat ons besef!
Ongeloof lei tot onvergenoegdheid en ongelukkigheid, maar die kinderlik gelowige hart vier gedurigdeur fees, ook in die woestyn waardeur hy trek. So ‘n hart kom egter nie vanself nie; dit kom deur geestelike oefening, deur jou doelbewus in die Here te verbly al gaan dit behoorlik broekskeur. In Heb 5:14 praat die skrywer juis hiervan waar hy vertel van geestelik volwassenes wat, “geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen … . In Heb 12:11 weer, lees ons van mense wat deur tugtiging geoefen is en beloon is met die vredevolle vrug van oorwinning oor sondes wat hulle miskien jare lank geteister het.
Sommige vrugte eet ‘n mens nie, net nie maar geniet jy terdeë; dink maar aan ‘n groot, soet, sagte, sappige peer! So is daar ook geestelike vrugte; wat ‘n heerlike peer is die oorwinning oor ‘n vinnige humeur tog nie. Die oefening om te sluk en te sluk wanneer jy sleg gesê word, is pynlik, maar dit is gesonde oefening om dit te verdra totdat dit jou nie meer kwets nie. Aan die einde van die oefening wag daar vir jou ‘n mandjie vol sappige pere; ‘n kinderlik, gelowige hart.
Nog ‘n heerlike geestelike vrug, is om vergenoeg te wees met wat die Here vir joú beskik het en nie te smag na wat Hy aan andere laat toeval het nie. In Heb 13:5 belowe Hy: “Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”
Terug by Israel se waternood; in Num 20:8 word nog ‘n insident beskryf waar God drinkwater uit ‘n rots laat vloei het. Weer het die volk gemurmureer en Moses het so ongeduldig met hulle geword, dat hy weer ‘n rots met sy staf geslaan het, in plaas om dit slegs aan te gespreek het soos wat God beveel het. Omdat hy in die vlees opgetree en God nie geeer het nie, het dit hom die land Kanaän gekos; terwyl die res van die volk sou ingaan, sou hy dit net uit die verte aanskou, maar duskant die Jordaan sterf en daar begrawe word.
(Die slaan van die rots het ook simboliese betekenis in die sin dat Jesus die Rots is wat deur God geslaan is waardeur lewende water vir die mens gevloei het. Jesus het egter net eenmaal vir ons sondes gesterwe en daarom was dit verkeerd van Moses om die rots vir ‘n tweede keer te geslaan het. Ons besef nie hoe belangrik dit is om die Here se wil tot in die vynste detail uit te voer nie)
Kosvoorrade; kwartels en manna (Ex 16:1-36).
Kort na die verposing by Elim, en net omtrent ses weke nadat hulle Egipte verlaat het, het hul kosvoorrade uitgeput geraak en nogeens moes Moses en Aäron dit ontgeld en hul verwyte dat hy hulle uit die oorvloed van Egipte weggeneem het, verduur. Hierdie keer het hulle gesmag na vars vleis en brood.
Hoe sou die Here in hierdie behoeftes voorsien – en dit in die barre woestyn, waar daar geen slaghuise of bakkerye was nie? Hy het weereens sy almag bewys. Deurdat Hy volle beheer het oor die natuur kon Hy hulle verras deur vars vleis in die vorm van kwartels, en vars brood by wyse van manna wat snags uit die hemel neergedaal het, te voorsien.
Hy wat hulle uitgelei het, was in staat om in al hul behoeftes te voorsien. Hulle moes maar net glo en aanhou glo, en aanhou glo en nie swartgallig raak nie. Fil 4:6,7: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”
In Num 11 lees ons van nog ‘n insident waartydens die Here kwartels voorsien het, maar by daardie geleentheid het die Here hulle swaar gestraf oor hul murmerering deur ‘n menigte van hulle met die dood te tref.
Die koperslang (Num 21:5-10; Ps 78).
Num 21:4: … maar die siel van die volk het op die pad ongeduldig geword. Num 21:5c … ons siel walg van die ellendige kos. Hierdie twee Skrifgedeeltes skets die situasie vir ons kort en bondig.
Die Here antwoord ons gebede maar nie ons verwyte nie; daaroor tugtig Hy ons sodat ons gereinig kan word van die kwaad wat in ons woon. Daarom het Hy slange, waarvan daar ‘n menigte van verskeie soorte in die woestyn was, gestuur om hulle te pynig en baie het selfs ‘n pynlike dood gesterwe.
Die plaag het al erger geword totdat hulle hul sonde besef en bely het. God laat Moses ‘n koperslang maak en aan ‘n paal ophang en elkeen wat gebyt is en na die koperslang kyk, word genees. Die genesing was so eenvoudig en binne elkeen se bereik – selfs ‘n kindjie kon kyk, … en gesond word. Die kwaksalwers se duur remedies was kragteloos, maar God se eenvoudige antiserum was onfeilbaar. Kyk, … en leef.
Hierdie insident is ook deur die Here Jesus aangehaal om die wedergeboorte aan ‘n skrifgeleerde, Nikodémus te verduidelik (Joh 3:14,15) en kan soos volg gesien word: die slange was die regverdige straf wat tot die skuldige se dood gelei het. Die koperslang was God se oplossing vir hul dilemma. Soos wat die koperslang aan ‘n paal gehang is, het Jesus die straf van die mensdom op Homself geneem en aan die kruishout is Hy daarvoor gestraf en het Hy gesterf sodat die skuldige sy regverdige straf kan vryspring.
Om daardie vergifnis, genesing en lewe te ontvang, moet die mens glo dat die kruisdood van Jesus, God se antwoord is op sy sondige sterwe. Hy moet dit egter nie net in sy hart aanvaar nie, maar moet in geloof “opsien” na Jesus; daar moet ‘n oomblik van daadwerklike geloofsvasgrype aan Christus kom, ‘n vasgrype wat vir ewig sal voortduur en sal lei tot die onmiddellike wedergeboorte van die skuldige sondaar.
Net soos wat die skuldige Israeliet aan sy liggaam gewaar sou word dat ‘n wonderwerk in sy liggaam plaasgevind het, sal die sondaar deur die eeue in sy gees gewaar word dat ‘n wonder daar plaasgevind het en dat hy die ewige lewe innerlik ontvang het. Prys die Here!
KLERE EN SKOENE
Ook in die behoefte aan klere en skoene het God op ‘n unieke wyse voorsien, Deut 29:5: “En Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn laat trek; julle klere het aan julle nie verslyt nie, ewemin jou skoen aan jou voet.” (Vir die dames was dit seker ‘n groot uitdaging om vir 40 jaar lank met dieselde klere en skoene gesien te word – miskien het hulle oor en weer geleen.)
AFGODSAANBIDDING (Ex 32).
By die berg Sinaí, het ‘n ander vorm van versoeking die volk ingewag. Tot daar toe, was Moses dag en nag by hulle in die laer gewees en solank hy daar was, was hulle redelik gerus dat hulle nog op pad was na Kanaän, maar toe roep die Here hom weg na die top van die berg, aan die voet waarvan hulle kamp gestaan het, om Sy wette en verordeninge aan hom oor te dra. Hulle het nie vooraf geweet dat dit so lank soos 40 dae kon duur nie en toe hy ál langer wegbly, het hulle geloof in God weereens versmelt, en het hulle besluit om vir hulle ‘n afgodsbeeld van goud te maak om Moses se plek in te neem en hulle verder te lei. Hierin het hulle selfs vir Aäron betrek.
So geweldig was God se toorn hieroor dat Hy die ganse volk wou verdelg; dié volk wat Hy self uit Egipte verlos het. Moses het egter vir hulle ingetree en was selfs gewillig dat God sy naam uit Sy hemelse rekordboek uitdelg, as Hy maar net vir hulle sou spaar. Ook het hy die Here daarop gewys dat die Egiptenare munt uit so ‘n handeling sou slaan, deur te sê dat Hy kwade bedoelings met Israel gehad het deur hulle uit Egipte uit te gelei het. ‘n Derde argument wat hy aangevoer het, was dat die Here Sy verbond wat Hy met Abraham gesluit het, sou verbreek as Hy nie sy nageslag na Kanaän sou neem nie.
Die Here het aan Moses se pleidooie gehoor gegee, maar Israel getugtig deurdat Hy deur die hand van die Leviete ongeveer 3000 man omgebring het, waarskynlik díé wat primêr skuld gehad het aan die afgodediens.
Die aanbidding van afgode was die primêre sonde wat honderde jare later daartoe gelei het dat die Here sy volk in ballingskap moes laat gaan om hulle van daardie diepgewortelde kanker te genees.
Vir baie van ons hou die aanbidding van beelde, diere of hemelliggame geen versoeking in nie, maar afgodery is ook in ons geslag ‘n enstige faktor om te oorwin, want enigiets wat ons bo God stel, word ‘n afgod; ‘n ongeoorloofde vrienskap, geld wat ek najaag en wat ek terughou van God se werk; my beroep; my gesin, ens.
MINAGTING VAN WAT HEILIG WAS.
Nadab en Abihu (Lev 10:1-7).
Hierdie twee manne was besonder begenadig deurdat hulle deel van die priesterorde was wat deur God aangestel was om die offerandes van die volk voor die Here te bring, maar in die uitvoering van hul pligte, moes hul nougeset volgens die Here se voorskrifte handel. Een daarvan was dat die vuur op die altaar altyd lewend gehou en slegs daardie vuur vir offerandes gebruik moes word (Lev 6:12,13).
Op ‘n dag het Nadab en Abihu hierdie opdrag verontagsaam en kole vanuit hul eie vuur in hulle panne gekrap en daarmee ‘n reukoffer aan die Here gebring. God het dit gesien en hulle onmiddelik met vuur verdelg – moontlik iets soos weerlig. Dit was natuurlik ‘n geweldige skok vir hul vader Aäron, maar Moses het nie met hom gesimpatiseer of toegelaat dat hy oor hulle rou bedryf nie, want, het hy God se standpunt verduidelik, “In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik.” (Lev10:3).
OPSTAND TEEN GESAG.
Aäron en Mirjam (Num 12).
Familie aanvaar nie maklik dat een uit eie geledere oor hulle aangestel word nie, veral nie as dit die jongste broertjie is na wie se pype hulle moet dans nie. So was dit veral ook met Moses se ouer suster Mirjam gesteld wat hom as baba opgepas en instrumenteel was dat sy lewe behoue gebly het.
Toe hy dan totaal buite volksverband ‘n Kusitiese vrou neem, kon sy en Aäron hul ontevredenheid nie langer beteuel nie en het opstandig gevra: “Het die HERE dan maar alleen met Moses gespreek? Het Hy nie ook met ons gespreek nie?” (Num 12:2). Met ander woorde, “Het ons dan nie ook ‘n sê in sake nie?” Hierop het Moses nie geantwoord nie want soos God self van hom getuig het, was hy die sagmoedigste van alle mense op aarde (Num 12:3).
Maar die HERE het gehoor wat hulle gesê het en het hulle twee en Moses na die Tent van Samekoms ontbied. Daar het Hy die twee oortreders voor stok gekry omdat hulle nie gevrees het om Sy kneg, met wie Hy van aangesig tot aangesig in hoorbare stem gespreek het, te veroordeel vir sy optrede nie. Hulle moes eerbied vir hom gehad het (Num 12:5-10).
Dit is een ding om in sagmoedigheid met ‘n man van God te gaan praat oor wat, volgens jou mening, verkeerd mag wees in sy lewe, maar gans iets anders om hom openlik aan te vat en dit omdat jy meen dat jy persoonlik te na gekom is.
Hierdie drie was die top leiers waarna die hele volk opgesien het, en so ‘n lelike voorbeeld kon die Here nie ongestraf laat bly nie, daarom het Hy Mirjam, wat waarskynlik die dryfkrag agter die hele aksie was, met melaatsheid getref. Die geestelike lelikheid van haar gees, is aan die lig gebring. Hoe aaklig moes sy tog nie gelyk het nie. Almal het van haar weggevlug, maar haar broer Moses, wie sy beswadder het, het haar dit nie toegereken nie en vir haar gebid, sodat die Here haar genees en toegelaat het om na 7 dae se verbanning uit die laer, weer daarin opgeneem te word.
Korag, Datan en Abiram (Num 16:1-50).
Hierdie is die verhaal van ‘n Leviet wat aangestel was om dienswerk by die tabernakel te verrig, maar begerig geraak het om ‘n hoër posisie te beklee en meer gesag uit te oefen. Hy en sy twee trawante het 250 hooggeplaastes uit die volk opgesweep, in ‘n bende georganiseer en teen Moses in opstand gekom. Sou hulle geslaag het, kon die Here se plan met Sy volk skipbreuk gely het; die hele volk kon in twee faksies verdeeld geraak en elkeen sy eie koers ingeslaan het. Dit was dus ‘n baie ernstige vergryp.
Moses het baie duidelik geweet dat God hom geroep en aangestel het om Sy volk uit Egipte na Kanaän te lei. Hy sou sekerlik nog onthou hoe hy wal gegooi en allerhande besware geopper het waarom hy nie die regte man vir die taak was nie totdat die Here later vir hom kwaad geword het en hy net eenvoudig verplig was om te gehoorsaam. Hoe ongegrond was Korag se beskuldiging tog nie. Nogtans het Moses dit nie wenslik geag om homself te verdedig nie.
Maar, God het dit alles aanskou en toe die bende hul saak al meer op die spits dryf, het Hy ingegryp, hulle almal bymekaar laat kom, die top leiers geïsoleer en toe die aarde onder hul voete laat oopskeur en die drie boosdoeners tesame met hul gesinne en eiendom lewend in die doderyk gestort.
Daarmee was dit egter nie die einde van die opstand nie, want ‘n deel van die volk was so verbitterd dat hulle nie die Here se hand in hierdie oordeelsdaad wou erken nie, maar verder saamgestaan het om Moses en Aäron wat hulle hiervoor verantwoordelik gehou het, om die lewe te bring. Hierin sien ons hoe ernstig hierdie opstand inderdaad was. Nogeens het God met mag opgetree en ‘n plaag onder hulle gestuur waardeur 14,700 gesterf het. Daar was vir die Here geen ander uitweg as om Sy volk op so ‘n pynlike wyse te suiwer nie, anders sou die bose gesindheid net verder aangroei totdat al die goeie wat Hy bereik het, tot niet was.
Was dit dan nie onregverdig van die Here (en ons vra dit met eerbied) om ook die boosdoeners se gesinne met die dood te straf nie? Wel, die Skrif meld nie uitdruklik dat hulle kleiner kinders gehad het en of al hul kinders dalk al volwassenes was wat ‘n aandeel in die opstand gehad het nie. Die mens is mos maar geneig om sy gesin oor te haal om hulle by hom te skaar. Dit is maar een moontlikheid.
Dit moes ‘n aangrypende, skokkende, teregstelling gewees het. Ook in ons eie regstelsel vind ons die volgende interessante bepaling: “Justice must not only be done, but must be seen to be done,” (“Geregtigheid moet nie net geskied nie maar moet sigbaar geskied.”)
Dit is baie belangrik om daarop te let dat die Here se oordeel elke keer gestuit is deur ‘n offerhande wat aan Hom gebring is en daadie offerandes was natuurlik simbolies van die offer wat Sy Seun Jesus sou bring. So, elke keer wanneer die regverdige oordeel van God die uitdelging van die sondaars bewerk het, het Hy deur die offerandes wat aan Hom gebring is, vooruitgekyk, Sy Seun aan die kruis sien hang, gesien hoedat die mens se skuld vereffen sou word, en op grond daarvan genade betoon.
Moses (Num 20:1-13).
Weer het die volk gemurmureer. Moses het so ongeduldig met hulle geword dat hy die rots wat God aangewys het, met sy staf geslaan het om water daaruit te laat vloei, in plaas van om dit slegs aan te gespreek het, soos wat God beveel het. Omdat hy in die vlees opgetree en God nie geeer het nie, het dit hom die land Kanaän gekos; terwyl die res van die volk sou ingaan, sou hy dit net uit die verte aanskou, maar duskant die Jordaan sterf en daar begrawe word.
(Die slaan van die rots het ook simboliese betekenis in die sin dat Jesus die Rots is wat deur God geslaan is en waardeur lewende water vir die mens gevloei het. Jesus het egter net eenmaal vir ons sondes gesterwe en daarom was dit verkeerd van Moses om die rots vir ‘n tweede keer te geslaan het.)
ONGELOOF
Seker die mees tragiese insident sedert die volk uit Egipte verlos is, was hul gebrek aan geloof om hul beloofde land in besit te neem. Dit het so gebeur.
Die volk het aan die voet van die berg Sinaí gekampeer tot in die tweede jaar na hul uittog uit Egipte. Die tabernakel was toe reeds voltooid. Op die twintigste dag van die tweede maand van daardie jaar, het die wolkkolom opgetrek van die tabernakel af en het die kamp opgebreek en God van plek tot plek gevolg totdat hulle by Kades-Barnéa gekom het (Num 32:8). In Deut 1:2 word vermeld dat ‘n tog vanaf die berg Horeb (Sinaí), na Kades-Barnéa, 11 dae geduur het. Al sou hulle talle male onderweg gekampeer het, kan ons redelikerwys die afleiding maak dat hulle hierdie punt bereik het, binne twee jaar nadat hulle Egipte verlaat het.
Wat ‘n groot werk het die Here nie gedurende hierdie kort periode verrig deur meer as twee miljoen ongeordende slawe tot een volk saam te snoer, en aan hulle te gee, ‘n unieke regstelsel met sy gedetailleerde wetgewing, ‘n aanbiddingstelsel kompleet met tabernakel en priesters en duisende Leviete om dit te bedien, ‘n laerorde waarvolgens die twaalf stamme kamp moes opslaan, opbreek en wegtrek, en veel meer nie. Daar was selfs al sensus opgeneem om die getal weerbare manne van elke stam te bepaal. So-iets kan slegs bereik word waar God in beheer is en almal doen soos Hy sê.
Nou was die Here gereed om die land Kanaän aan Sy volk te gee soos wat Hy aan Abraham beloof het en het Moses opdrag gegee om verspieders uit te stuur om die land te verken (Num 13). Na veertig dae het hulle teruggekeer om berig te bring.
Almal was dit eens dat dit ‘n vrugbare, begeerlike land was wat aan hulle ‘n wonderlike tuiste sou bied, maar … , maar het tien van hulle gesê, die stede is verskans agter hoë klipmure en sommige van die inwoners so groot dat hulle vir hulself soos sprinkane in vergelyking met die magtige krygers gelyk het.
Joshua en Kaleb het probeer walgooi deur daarop te wys dat God met Israel was en dat hulle daardie volke soos kos sou verteer (Num 14:9) maar die ganse volk het eerder die tien doemprofete geglo en wou weereens vir Moses en Aäron stenig omdat hulle, hul uit Egipte laat optrek het en wou summier ‘n ander leier aanstel om hulle daarheen terug te neem.
Wat ‘n antiklimaks! Nou dat hulle op die drumpel gestaan het om hul erfporsie in besit te neem, om die vrug te pluk op hul moeitevolle tog deur die woestyn, het hul moed hul begewe. Het hulle dan reeds vergeet hoedat die Here die ganse Egiptiese mag verslaan het deur natuurrampe, sonder dat hulle self ‘n swaard hoof te gelig het? Kon en sou Hy dit dan nie weer vir hulle doen nie?
Die uiteinde van hierdie tragiese ineenstorting van hul geloof, was dat God bepaal het dat hulle nog 38 jaar in die woestyn moes rondswerwe totdat daardie ongelowige geslag eers uitgesterf het – honderdduisende van hulle sou nooit ‘n voet in die beloofde land sit nie. Uitgetrek uit Egipte maar nie ingetrek in Kanaän nie. Prysgegee met die een hand, maar nie in besit geneem met die ander hand nie. So tragies.
Hoeveel van die goeie wat die Here deur Sy kruisdood vir ons verwerf het, mis ons nie, omdat ons nie kans sien om dit deur geloof in besit te neem nie. So vele van die Here se kinders het Sy verlossing belewe, maar beleef nie Sy oorvloed nie en swerf hul ganse lewe, murmurerend en mismoedig, in ‘n geestelike woestyn rond.
……….