Israel; Leviete en priesters, Ex-Deu

HIERDIE STUDIEGIDS MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.

DIE PRIESTERS

Die doel van die priesters.

Adam en Eva, die eerste twee mense wat deur God geskape was, het vrye toegang tot Hom gehad. Hy het hulle soms besoek en met hulle verkeer. Die sondeval het egter ‘n muur geplaas tussen die heilige Skepper en die sondige skepsel. Van toe af, was die omgang tussen God en mens beperk. Ook moes die mens bloedoffers bring om sy sonde voor God te bedek. So lees ons van Abel, Abraham, Isak en Jakob wat sulke offers gebring en gemeenskap met God geniet het. ‘n Onskuldige dier se lewe moes geoffer word om die skuld van ‘n sondige mens te versoen, te bedek. Sonder bloedvergieting was daar geen vergifnis nie.

En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie. (Heb 9:22).

Wanneer die Here nou uit die nageslag van Abraham vir Hom ‘n volk tot stand bring met wie Hy weer in hegte gemeenskap kon wandel en deur wie Hy hom aan die res van die mensdom kon openbaar, skep Hy ook ‘n priesterorde wat as tussenganger tussen Hom en Sy volk kon dien om hul sondes te versoen en lof aan Hom te bring deur middel van offerandes. Dit was natuurlik ook net ‘n tydelike maatreël totdat Jesus sou kom en die mens se priesterskap sou herstel. Kom ons kyk nou ‘n bietjie na die priesters van daardie era en sien wat ons daaruit vir ons self kan leer

‘n Priester was deur God geroep en aangestel.

Dan moet jy jou broer Aäron, en sy seuns saam met hom, uit die kinders van Israel, laat nader kom na jou toe, dat hy vir My die priesteramp kan bedien: Aäron, Nadab en Abíhu, Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron. (Eks 28:1).

Tydens die bevryding van Israel uit Egipte, en vir ‘n tyd daarna, was Aäron, Moses se helper, maar met die instelling van die tabernakel en priesterorde, het die Here Aäron en sy seuns onttrek aan die bestuur van die volk en aan hulle die priesteramp gegee. Hulle was natuurlik besonder bevoorreg om so deur God uitgesonder, uitverkies te word. Eerstens het hulle daardeur in ‘n besondere verhouding tot God gestaan en tweedens was hulle uitgesonder om werktuie te wees deur wie God Sy volk sou bedien. Dit was egter nie net ‘n voorreg nie, maar ook ‘n opdrag, ‘n groot verantwoordelikheid wat nagekom moes word.

As NT-se volk van God, is ons elkeen nog meer begunstig as kanale van seën; tegelykertyd is dit ons opdrag en verantwoordelikheid om die vloed van God se seëninge ongehinderd na die mensdom te laat vloei (Matt 28:19,20).

en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers. (Open 5:10).

‘n Priester moes rein en gesalf wees, en homself beklee soos deur God voorgeskryf (Eks 28:1-29:37; Lev 8:1-36; Lev 21, 22:16; Num 8:5-25).

Alle priesters moes geklee wees in “heilige klere,” eerstens was daar die rokke, omgord om die middellyf. Verder moes hulle linnebroeke aanhê wat van die middel tot by die dye reik om die vlees van die skaamte te bedek en  moes musse op die kop hê. Dit alles moes baie kunstig vervaardig word; tot eer en sieraad van God. Die koninklike kleure, goud, pers, purperrooi en bloedrooi moes ook in die klere weerspieël word.

Die hoëpriester moes ‘n hele aantal bykomende items dra. Eerstens was daar die skouerkleed wat, soos die naam aandui, bo-oor die skouers gehang en met ‘n gordel om die middellyf vasgehou is. Op elke  skouer was ‘n goue houer (kassie) waarop ‘n onikssteen (genoem ‘n gedagtenissteen) gemonteer was waarop die name van die twaalf stamme uitgegraveer was, ses name op elke steen.

Dan was daar die vierkantige borstas van beslissing (grootte een span, dws ‘n handbreedte van duim tot pinkie), wat aan sy bokant met goue kettinkies aan die goue kassies geheg was. Op die borstas is twaalf verskillende edelstene in vier rye gemonteer, met die naam van ‘n stam op elke steen gegraveer. In die borstas is twee edelstene gehou, die Urim en Tummim waarmee die Hoëpriester die Here oor verskillende sake kon raadpleeg.

Behalwe die mus, moes Aäron ‘n plaat van suiwer goud met die inskripsie, “HEILIG AAN DIE HERE” op sy voorhoof dra. Onder om die soom van die mantel van die skouerkleed, was goue klokkies en granaatjies om die beurt vasgeheg.

Die priesters, maar in besonder die Hoëpriester, getooi in goud en koninklike kleure, moes ‘n indrukwekkende gesig gewees het en uitgestaan het onder die gewone mense. Die ganse volk sou kon sien dat hy, sowel as sy vier seuns, priesters van God was na wie hulle met hul behoeftes kon gaan.

Voordat die priesters dienswerk kon verrig, moes hulle eers aan die Here gewy word. Aäron en sy seuns moes by die ingang van die Tent van samekoms (die tabernakel) deur Moses met water gewas word, waarna hulle, hul heilige klere aangetrek het.  Ook moes Aäron deur Moses met heilige salfolie gesalf word. Daarna is ‘n bul en twee ramme asook drie soorte koeke as brandoffers geoffer. Van die bloed is teen die altaar uitgegiet en salfolie en bloed is op hulle klere gesprinkel en bloed is aan hul oorbelle, regterduime en regtertone gestryk. Sommige van die brood en vleis kon hulle eet maar die res is met vuur verbrand.

Wanneer hul met hul dienswerk besig was en in die tabernakel self moes ingaan, moes hulle elke keer eers hulle hande en voete was met die water wat in die koperwaskom gehou was.

Dit is maar ‘n baie kort opsomming maar voldoende vir ons doel. So wat kan ons daaruit leer? Die belangrikste les is sekerlik dat God heilig is en as ons met Hom wil saamwoon in een huis (tabernakel) moet ons onsself reinig op die presiese manier wat Hy voorgeskryf het. As NT-se gelowiges is ons tempels (tabernakels) van die Heilige Gees wat in ons kom woon wanneer ons weergebore word en ons kan nie minder erns maak met ons geestelike reiniging as wat die priesters van die ou bedeling met hul fisiese reiniging gemaak het nie. Al het hulle die oggend van hul wyding tuis gebad, moes hulle by die ingang van die tabernakel weer gewas word. Al was hulle uitverkore diensknegte van God wat sekerlik voorbeeldige lewens gelei het, moes hulle eers vir hul eie sondes offer, voordat hulle vir die volk se sondes kon offer (Heb 5:3). Hulle sou daardie dag van hul wyding aan God nooit vergeet nie.

Al hierdie bloedvergieting (dink maar aan die bloed wat op hul klere geprinkel is) het heengewys na die Bloed van Jesus wat vir ons sondes vergiet sou word. Dit wys vir ons hoe geweldig belangrik Jesus se versoeningsoffer is. Daarom moet ons elkeen onsself die vraag afvra, “Het ek myself al uitdruklik aan die Here toegewei en vertrou ek Jesus alleen vir die vergifnis van my sonde?”

Die heilige klere dra ook ‘n geweldige boodskap. Kom ons kyk byvoorbeeld na Aäron s’n. Die goue voorhoofsband met die inskripsie, “Heilig aan die Here,” sê miskien alles oor sy verhouding met God. Heilig beteken dat hy afgesonderd is van die wêreld en toegewyd aan God. As ‘n mens met so ‘n band tussen mense beweeg, sou jy nie maklik in sonde kon leef nie.

Daarmee saam sou die kleure van sy gewaad verkondig dat hy ‘n seun was van die Koning van konings. Die goue klokkies wat geklingel het wanneer hy beweeg, was die vrolike geluid van blydskap. Hiertoe wek Paulus ons ook op in Fil 4:4: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal, “Verbly julle!”

Die granaatjies wat tussen elke klokkie gehang het, was die simbool van geestelike sowel as liggaamlike gesondheid omdat die granaat ‘n vrug is wat genesing of verligting kan bring vir verskeie siektes soos hoë bloeddruk, kanker, die geheue kan bevorder, ens. en dus in daardie tye toe die mediese wetenskap nog nie veel verligting kon bring nie, ‘n gesogte vrug was.

Dan was daar die geur van die reuksalf wat hom omgewe het en simbolies was van die salwing van die Heilige Gees (1Joh 2:20; 2Kor 2:15).

So ook moet elke Christen uitstaan in sy gemeenskap, maar nie as gevolg van die duur klere en goue juwele wat hy dra nie, maar omdat hy met Jesus self bekleed is (Rom 13:14). Die geestelike versiering van ‘n vrou behels byvoorbeeld behoorlike kleding, ingetoënheid en beskeidenheid (1 Tim 2:9). Alle gelowiges moet gekenmerk word deur die vrug van die Heilige Gees, naamlik liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing (Gal 5:22).

Dan was daar die oniks gedenkstene op sy skouers waarop die name van die 12 stamme gegraveer is en waarmee hy aan die volk oorgedra het dat hy hulle deur sy gebede en offerhandes gedurigdeur dra. Die borstas het weer gesimboliseer hoe na hulle aan sy hart was en wanneer hy in die Allerheiligste ingegaan het, het hy hulle aan God voorgehou.

Dan was daar die Urim en Tummim waardeur hy God geraadpleeg het. Sommige beweer dat wanneer Aäron sy hand in die borstas gesteek en die Urim uitgehaal het, was God se antwoord, “Nee,” maar was dit die Tummim, was die antwoord, “Ja” (1Sam 23:9-12). Ander is van mening dat die steen waardeur die Here gespreek, gegloei, terwyl die ander een dof gebly het en wanneer die Here hom nie geantwoord het nie, was albei stene dof (1Sam28:6). Ons is vandag soveel beter af omdat die Here vir ons nege bonatuurlike geestelike gawes gegee het, waardeer ons deur die werking van die Heilige Gees, die liggaam van Christus, dws die gelowiges bonatuurlik kan bedien.

So was die Evangelie van Jesus wat ons vandag so geniet, reeds opgesluit in die uitleg en funksionering van die tabernakel en wat daarmee saamgaan. Israel het dit ontvang as fotos van die dinge wat nog sou kom.

Die pligte van die priesters (Exo 28,29; Lev 8-10; 16:21,22; Num 4:1-49; Num 18).

Die priesters het ‘n drievoudige funksie vervul. Eerstens was hulle verantwoordelik om, wanneer daar van een plek na ‘n ander getrek moes word, die hoogheilige toebehore van die tabernakel sorgsaam te verpak sodat hulle selfs nie eers gesien kon word nie.

(Christen leiers moet waak oor die heilige dinge van God: dat Sy Naam eerbiedig word;  dat Sy Woord nie verdraai of afgewater word nie, maar suiwer verkondig word; dat in teologiese seminariums of Bybelskole, hulle wat onderrig gee, weet om die Woord reg te sny. [As ‘n geweer ‘n haarbreedte afwyk, mis die koeël die teiken wat 500 meter verder opgestel is, met ‘n halwe meter.] Verder moet toegesien word dat die sakramente soos die nagmaal nie op oneerbiedige wyse gebruik word nie en dat byeenkomste op ‘n ontspanne maar ook op eerbiedige wyse plaasvind.)

Tweedens was hulle verantwoordelik vir al die offergawes wat gebring moes word, binne en buite die tent self, die toevoeging van olie in die lampe, vervanging van die toonbrode, instandhouding van die heilige vuur op die altaar, ens.. Een klein afwyking het ernstige gevolge gehad. Toe Aäron se twee seuns, Nadab en Abihu, “vreemde vuur” op die reukofferaltaar gebruik het, het vuur van God uitgegaan en hulle verteer en hul vader was nie eers toegelaat om openlik oor hulle te rou nie (Lev !0:1-7). Hulle het blykbaar sommer kole vanaf die vure by hul tente vir hierdie doel gebruik. Die heilige vuur wat deur God gegee was, was simbolies van Christus se lewe wat “verbrand” was om ons te red. Ons mag Jesus nie vervang met enigiets of enigiemand anders nie.

Later, toe die tempel in plek van die tabernakel opgerig is, het die Leviete kore gevorm wat  lofliere tot eer van God gesing het.

(Een van die heel belangrikste dinge binne en buite die mure van die kerk, is dat God geloof, geprys en aanbid moet word. Binne die kerk deur lofsange en gesamentlike en individuele gebed en daar buite, deurdat kinders/priesters van God in hul harte sing tot Sy eer, en teenoor andere getuig van wat Hy vir hulle beteken [Efes 5:19; Ps 57:8].)

Laastens moes hulle die volk onderrig in die Wet van God (Deut 33:10).

(Binne ons huise moet die pa die gesin byeenbring om die Woord van God. As die Pa nie daar is nie, dan die ma of wie ookal die hoof is.)

Die Hoëpriester het toesig gehad oor alles wat die tabernakel betref. Hy was ook begunstig om eenmaal per jaar te kon ingaan in die Allerheiligste waar God sigbaar in die vorm van ‘n wolk bokant die versoendeksel teenwoordig was om versoening te doen vir die volk se sondes. Hierin was hy ‘n simbool van Jesus wat met Sy eie bloed in die hemele by Sy Vader ingegaan het om eens en vir altyd versoening te doen vir die mensdom (Heb 9:12).

Laastens was dit ook hy wat die opdrag gehad het om God se seën oor Sy volg uit te spreek (Num 6:23-27): Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.

‘n Priester moes kon saamvoel met die mense wie hy bedien het.

Want elke hoëpriester wat uit die mense geneem word, tree ten behoewe van mense op in die dinge wat in betrekking tot God staan, om gawes en offers vir die sondes te bring as een wat kan saamvoel met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self ook met swakheid bevange is. (Heb 5:1,2).

Elke priester moes empatie hê met die persoon wie se offerande hy op die altaar aan God moes offer, of dit nou vir sonde was of ‘n dankoffer vir seëninge wat hy beleef het. Dit was nie goed genoeg om maar net die offerdier te neem, sy keel af te sny, hom in stukke op te sny en op die altaar te verbrand nie; nee hy moes dit uit die diepte van sy hart doen onder die salwing van die Heilige Gees. Hy moes gedurig bewus wees van sy eie swakheid sodat hy nie op die persone  sou neersien nie, ongeag hoe onwaardig hulle ookal voorgekom het.

So moet elke NT-se priester, en in besonder die wat In een of ander bediening staan, nie hul bediening op ‘n koue, motoriese wyse beoefen nie, maar met die hart van Christus. Dit geld in besonder ook vir ouers wat hul kinders met Jesus wil beklee.

wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween; (Rom 12:15).

Dienswerk van ‘n priester by die brandofferaltaar.

Dink net wat ‘n vreugde dit was om vir iemand te kon sê dat sy sonde nou vergewe was, op grond van die offerdier wat hy gebring en jy as priester namens hom geoffer het.

As Christen-priesters is ons nog meer begunstig deurdat ons ‘n groter en volmaakte Offer aan die berouvolle sondaar kan aanbied vir die vergewing van sy sondes, hoe groot dit ookal mag wees.

1Pe 2:5:  en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.

As ons wat in Christus nuut gebore is, dan priesters van God is, laat ons uit ons voorgangers leer hoe ons moet leef en wat ons funksies is.

DIE LEVIETE (Ex 32:25-29; Num 3:12,13; 18:21-24; 35:2-8)

Jakob se een seun, Levi, het ‘n baie lelike sonde begaan deurdat hy en sy broer al die mans in die stad Sigem bedrieg en uitgemoor het (Gen 34). Sy nasate egter, het die Here behaag deurdat hulle vir God kant gekies het teen hulle broers toe dié ‘n goue kalf gemaak en aanbid het (Ex 32:25-29). Daarom het die Here hulle begunstig en uitgesonder vir sy dienswerk (Num 4:1-49; 18:7,23). Al die mans tussen die ouderdomme 30 tot 50 jaar was hiervoor afgesonder. Hulle moes hul beste jare aan God wy en nie wag totdat hul “afgetree” het uit ‘n ambag of boerdery en dan in die tempel gaan diens doen om ‘n paar punte vir die ewigheid te versamel nie.

Die Leviete was nie toegelaat om die offerandes by die tabernakel te offer en om in die tabernakel self in te gaan nie, maar moes met al die ander take behulpsaam wees. Wanneer die kamp opgebreek en die volk na ‘n ander omgewing verskuif het, het hulle die komponente van die tabernakel vervoer. Drie van die seuns, Kehat, Gerson en Merari en hul nageslagte is aangewys watter voorwerpe hulle moes dra. Die allerheilige voorwerpe soos die ark van die verbond, ens moes eers deur die priesters verpak word, voordat die Leviete dit kon dra en verskeie items is met draagstokke op die skouers gedra want hulle was nie toegelaat om dit aan te raak nie.

Niemand, buiten ‘n Leviet, was toegelaat om sy hand aan hierdie werk te slaan nie. Toe Korag, Datan en Abiram hulle hierteen verset het, het God die aarde laat oopskeur en hulle en hul gesinne verslind (Num 16:1-40).

(Iemand wat nie weergebore is nie, mag nie die Woord van God bedien of op watter wyse ookal by die werk van die Here betrokke wees nie, ongeag hoe hoog geag hy in die samelewing is of hoe ryk hy ookal is nie.)

Net soos die priesters, het hulle geen ander werk gedoen nie, maar gelewe van die tiendes wat die volk aan God se dienswerk gegee het (Num 18:24).

Ook hulle moes gereinig word voordat hulle kon dien.

Later, toe Israel in Kanaän gevestig is, is spesiale stede aan hulle toegewys en het hulle beurte gemaak om by die tempel diens te gaan doen.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → ISRAEL, LEVIETE EN PRIESTERS, EX-DEU . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha