Israel; offerandes en tiendes, Ex-Deu

Bring die volle tiende na My skathuis

HIERDIE STUDIEGIDS MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.

OFFERANDES DEUR DIE EEUE

Dit was nie deel van God se skeppingsplan dat enige van sy skeppings, mens of dier, hul lewens sou moes aflê, hul bloed vergiet, om hul Skepper se guns te wen nie. Hy het plant, mens en dier geskape om sorgeloos te lewe, en dit was vir Hom ‘n vreugde om in al hul behoeftes te voorsien.

Die sondeval bring skeiding en noodsaak ‘n bloedoffer as versoening.

Toe kom die sondeval van Adam en Eva, en skielik het alles op aarde verander. Die Here kon Sy oë nie sommer net  sluit vir die sonde wat begaan is nie; dit moes eers gestraf word, voordat die twee skuldige mense vergewe, en hul gemeenskap met God herstel kon word. Die straf vir sonde, hoe klein ookal, is die dood (Gen 2:17; Rom 6:23) en om hulle die dood te spaar, moes die Here ‘n onskuldige dier straf deur hom in hul plek dood te maak.  Die dier se lewensbloed het versoening tussen God en mens gebring. Ook het God sy vel gebruik om vir hulle rokke te maak om hul naaktheid voor mekaar en voor Hom te bedek en sodat hulle weer sonder skaamte in Sy teenwoordigheid kon kom.

Diere offers is skadubeelde van die offer van Jesus, die Lam van God.

Die Here se bedoeling was egter nooit dat die dier se lewe in die plek van die mens s’n gestel kon word nie. Heb 10:4: want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. Selfs ons eie logika en sin vir regverdigheid laat ons nie toe om te glo dat, bv ‘n tortelduif aanvaarbaar is om vir die skuld van ‘n reeksmoordenaar te betaal nie. Die diere offers was slegs skadubeelde of fotos van  die werklike offer naamlik Jesus se kruisdood om die mens se skuld te versoen.

(Dit beteken dan natuurlik ook dat al die offers wat die heidene bring, waardeloos is, want dit gaan nie gepaard met geloof in Christus nie.)

Godvresendes deur die eeue het bloedoffers gebring.

Hierdie beginsel van ‘n bloedoffer wat deur God ingestel is, is deur deur die godvresende mense uit die opvolgende geslagte nagevolg, en wanneer dit op die regte manier, en met die regte gesindheid van hart gebring is, het God dit aanvaar en dikwels op ‘n sigbare wyse sy goedkeuring te kenne gegee (Gen 4:4).

Mense soos Kain, wie se hart nie reg was met God nie, het hul offers gebring soos wat dit hulle plesier het; sulke offers het God afgewys (Gen 4:5).

Die mens se offerandes ontaard in ‘n klug.

Deur die volgende eeue het die mensdom al verder van God en die waarheid afgedwaal. Dit is ook in hul offers weerspieël wat nie meer gepaardgegaan het met berou, danksegging vir seëninge of aanbidding nie. Dit het ontaard in omkoopgeskenke om hul afgode se toorn af te weer of voordele soos goeie oeste of beskerming teen hul vyande te verkry. Liefde en heiligmaking het geen rol meer gespeel nie. Dit was niks anders as die mens se poging om God te gebruik.

ISRAEL SE  OFFERANDES

Offers volgens God se voorskrif.

Ook Israel se offers aan God is, gedurende die 400 jaar wat hulle in Egipte gewoon het, beïnvloed deur die heidense Egiptiese godsdienste. Dit moes nou reggestel word. Hul offers is gevolglik deur die Here in groot detail voorgeskryf. Solank hulle dit op die voorgeskrewe wyse berdryf het, kon hulle verseker wees dat Hy dit sou aanvaar.  Dit was dus Sy planne , nie hulle eie nie. Hy het selfs gesê dat dit vir Hom ‘n lieflike geur was (Gen 8:21; Ex 29:18 )omdat dit simbolies was van die uitdelging van sonde of ‘n bewys van dankbaarheid vir Sy seëninge en ‘n heenwysing na Sy Seun se kruisdood. (Die term “lieflike geur” word 42 maal in die Pentateug gebruik.)

Israel se offers was ‘n fisiese uitdrukking van hul geloof.

Al het die Israeliet nie op daardie stadium ‘n duidelike begrip gehad van wat hul verwagte Messias, Jesus, vir hulle sou kom doen nie, was hul offerandes, uit God se oogpunt beskou, ‘n uitdrukking van hul geloof in die versoeningswerk van Christus.

Al die offers moes by die tabernakel gebring word.

Aangesien die Here nou in die tabernakel kom woon het, is dit net logies dat die offerande daar na Hom gebring en geoffer moes word, soos wat ‘n mens ‘n koning se geskenk na hom in sy paleis neem. Al die aktiwiteit wat daar plaasgevind het en die mense wat van oral oor deur die laer met hul offerdiere daarheen beweeg het, was ‘n kragtige getuienis van die volk se toeweiding aan hul God.

Die offeraars sou gewoonlik in ‘n geestelike stemming wees wat ‘n gesalfde atmosfeer tot gevolg sou hê. Die rook wat van die altaar af opgetrek het, sou daarbo ontmoet met die wolk van God se teenwoordigheid en dit was vir die Here ‘n lieflike geur.

As die volk toegelaat was om elkeen by sy eie tent of êrens in die veld ‘n altaar te bou en daarop te offer, kon hulle so maklik van die Here se voorskrifte afgewyk het, ja, selfs aan afgode geoffer het wat nie by die tabernakel onder die wakende oë van ‘n opgeleide priester sou gebeur het nie.

Christene vergader om offerandes aan God te bring.

As NT-se volk van God wil die Here ook hê dat ons dikwels in groepe bymekaar moet kom om Hom te verheerlik deur middel van lofprysing, aanbidding, Woordverkondiging, getuienisse, voorbidding, nagmaalviering, doop van gelowiges, beoefening van die geestelike gawes, ens. (Hand 2:46; Heb 10:25). In so ‘n groep neem dié wat dieper ingelyf is in die weë van God, die leiding, maar elkeen kry ‘n geleentheid om sy offer, sy deel te bring. Ook waak die groep saam dat alles volgens die Skrif en onder leiding van die Gees plaasvind. Daar is dan ‘n heerlike bewussyn van die Here se teenwoordigheid en van die opstyging van die lofprysing, ens na die Troon van die Vader.

Nie alle sondes kon deur offerandes versoen word nie.

Alleenlik sondes wat uit swakheid of onkunde begaan is, word vermeld as dié waarvoor vergifnis deur middel van ‘n offerande verkry kon word (Lev 4:2,3; Eseg 45:20; en 10 ander Skrifgedeeltes). Die Here weet hoe swak ons is ; dat ons die goeie wat ons wil doen, nie doen nie en die kwade wat ons nie wil doen nie, wel doen (Rom 7:19). God se genade is oneindig groot en sal selfs ‘n alkoholis wat tot bekering kom en daarna in swakheid terugval, herhaaldelik vergewe wanneer hy ware berou het.

Daar was egter geen offer deur God gegee vir sonde wat opsetlik gepleeg is nie.  Dit klop met die NT-se bepaling dat daar geen vergifnis is vir die mens wat, nadat hy Jesus eenmaal as Verlosser aanvaar het, Hom dan weer uitdruklik verwerp nie. Hy het die hemelse Gawe van die werking van die Heilige Gees gesmaak en verwerp. Hy het die Bloed van God se Seun vertrap en die Heilige Gees gesmaad (Heb 10:26-31). So, vir die bekeerling wat sy rug opsetlik op Jesus draai, is daar geen verdere hoop nie, maar slegs ‘n verwagting van oordeel.

Soorte offerandes

Daar was basies vyf soorte offers naamlik, die Brandoffer, Spysoffer, Dankoffer, Sondoffer en Skuldoffer waarvan die laaste drie verpligtend was maar nie die eerste twee vrywillig.

Omdat Jesus deur Sy volmaakte offer ‘n einde gebring het aan alle vorme van fisiese offerrandes, sal ons nie in besonderhede ingaan op die voorskrifte vir elke offer nie, maar eerder konsentreer op die simboliek wat in die offerandes opgesluit is, en daaruit leer hoe ons, ons geestelike lewens kan verryk en groter eer aan God kan bring.

Oorwegend bloedoffers.

Alle offers was bloedoffers behalwe die spysoffer en soms moes selfs die spysoffer vergesel gaan van ‘n bloedoffer waarvan dele op die brandofferaltaar verbrand moes word.  Dit onderstreep oor en oor die sentrale waarheid dat die mens se enigste manier om deur God aanvaar te word, is deur die Bloed van Jesus wat vir hom vergiet is (Rom 3:25).

Hoe tragies dan dat massas mense verlore gaan omdat hulle vertrou op hul eie pogings om hul skuld deur goeie dade voor God te probeer bedek.

Net die beste vir die Here.

Die offerdier moes sonder gebrek wees soos wat Christus se lewe volmaak sou wees; geroofde-, lam-, blinde- en siek diere was vir God tot aanstoot (Mal 1:8,13,14).

Die offerdier se vet mag ook  nie deur die  persoon wat die offer gebring het, of selfs deur ‘n priester geëet word nie (Ex 29:22; Lev 7:23).  Dit was geag as die heel beste deel van die dier te gewees het, en net God was daarop geregtig, net soos wat Hy geregtig is op die heel beste van ons lewens; liefde, besittings, tyd.

Ook was dit verbode om die bloed te eet (Lev 3:17) want die bloed word geag  die draer van die dier se lewe te wees (die siel is in die bloed, Lev 17:11) en omdat God alleen die Gewer van alle lewe is, mag lewe net aan Hom teruggegee word.

Die Christen se offerandes.

In hierdie voorskrifte sien ons hoe belangrik dit is dat ons lewens aanvaarbare offers vir God sal wees. My geestelike toestand mag nie lam wees nie, dws ‘n lamsakkige, lustelose toeweiding aan Hom nie, soos ‘n lam dier wat maar saam met die trop slinger maar elke nou en dan eers weer ‘n slag gedra moet word nie. Ek mag nie geestelik blind wees nie, dws dat ek die Woord lees maar nie verstaan en inneem nie sodat ek my in ooglopende dorinbosse vasloop of in slote val; skuld aangaan sonder dat ek ‘n inkomste het waaruit ek dit kan betaal. Ek moet waak om nie geestelik siek te word sodat ek vol sere of parasiete is nie; ek moet waak oor my geestelike gesondheid deur nie te gesels met mense wat besmet is met vuil gedagtes nie, of boeke te lees of programme te kyk wat wêreldse begeertes in my opwek nie.

Verder moet ek die vet van my lewe aan die Here wy; my beste tyd, fondse en arbeid. Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. (Rom 12:1).

Die gesindheid van die persoon wat die offer bring, moes reg wees.

Sout mag nooit by enige offerande van watter aard ookal ontbreek het nie (Lev 2:13). Sout se belangrikste eienskap is dat dit smaak gee aan ons voedsel en daarom is daar sout in elke huis te vinde; suiker mag soms ontbreek, maar nie sout nie. Dink maar hoe sou ‘n skaapboud sonder sout proe. ‘n Mens sal baie honger moet wees om dit so te eet.

Sout spreek van die gesindheid van die hart van die persoon wat die offer bring. Wat ervaar God uit die gees van die persoon wat daar langs die altaar staan waarop hy sy duur bul verbrand; berou, dankbaarheid, aanbidding of haatdraendheid teenoor iemand anders, koudheid teenoor God of dwaal sy gedagtes na sy menigte beeste; is hy ongeduldig dat die dier klaar moet uitbrand sodat hy uit die warm son en die hittegloed van die vuur kan wegkom en tuis onder die koelteboom met sy drankie kan gaan ontspan. God lees die hart van die gewer.

Die offeraar moes homself vereenselwig met die offerdier.

Soms moes die offeraar sy hande op die kop van die offerdier lê voordat dit keelaf gesny is (Ex 29:10; Lev 1:4). Daardeur het hy homself met die dier vereenselwig, as’tware deel van die dier geword net soos wat ons in Christus saam met Hom gesterf het.

Met ander offers het die offeraar sy hande op die offerbok gelê waarna dit in die woestyn weggelei is om daar te sterf (Lev 16:21). Dit is ‘n simbool van Christus op wie die mens sy skuld gelê het en wat dit dan vir ewig weggevoer het toe hy “buitekant die laer” op Gólgota gaan sterf het.

Die Spysoffer.

Hierdie was nie ‘n offer vir sonde nie, maar om vir die Here dankie te sê vir Sy voorsiening in hul voedselbehoeftes. Dit het bestaan uit fynmeel, olie en wierook, of ongesuurde koeke met olie gemeng of platkoeke met olie bestryk en is ook gedeeltelik op die altaar verbrand (Lev 2:1-11). Wanneer die eerste gerwe van die oes ingesamel is, het die boer gebreekte korrels van die vars graan wat oor die vuur gebraai is, vir die Here as ‘n offer gebring (Lev 2:12-16).

Die Here Jesus het Sy dissipels ook geleer om dankbaar te wees vir die brood en vissies wat die Vader sou vermeerder om duisende mense mee te voed en het Sy oë opgehef na die hemel en Hom in die openbaar daarvoor gedank (Matt 14:19).

(Wanneer ek en my gesin, of kollegas of vriende saam in ‘n restourant aan tafel is, neem ons hande terwyl een hardop die Here dank vir Sy gawes?)

Die reukoffer (Ex 30:1-10).

Hierdie offer word nie saam met die ander vyf vermeld nie, moontlik omdat dit nie deur die volk nie, maar net deur Aäron gebring kon word. Dit is twee maal per dag op spesifieke tye gebring (Ex 30:7,8; Luk 1:10) en was reukwerk bestaande uit speserye: storaksgom, naeltjies, gálbanum en ook suiwer wierook; alles in gelyke hoeveelhede gemeng (Exo 30:34). Niemand anders was toegelaat om reukwerk volgens dieselfde resep te berei nie.

Van die kole van die brandofferaltaar is in ‘n pan gehaal waarop die reukwerk dan aan die brand gesteek is. Die brandofferaltaar was, soos vroeër gemeld, reg teenoor die ark van die Getuienis geplaas, met net die voorhangsel as skeiding. Van al die items in die heiligdom, was die reukofferaltaar dus die naaste aan God waar Hy in die Allerheiligste gewoon het.

Die reukoffer was baie belangrik want dit het nie om sondevergifnis of lofprysing vir goddelike voorsiening gegaan nie, maar om aanbidding van God self vir wie Hy is, vir Sy wesensvoortreflikhede (“attributes”). Die reukwerk het ‘n heerlike geur versprei wat nie net deur God waargeneem is nie maar ook deur Aäron en waarskynlik oral in die omgewing van die tabernakel.

n Christen se geestelike gewaarwording wanneer hy lofoffers aan God bring.

Die belewenis wat ons nou gedurende tye van aanbidding onder die salwing van die Heilige Gees ervaar, is waarskynlik die naaste wat ons op aarde aan ‘n belewenis van die hemelse heerlikheid kan kom. Aanbidding van God is wat ‘n groot deel van die hemelse wesens se tyd in beslag neem. En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom! En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, val die vier en twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape. (Open 4:8-11).

Die simboliek in die uitleg van die tabernakel met betrekking tot die offerandes.

Kom ons let daarop dat die brandofferaltaar en die reukofferaltaar op die twee verste punte uitmekaar was. Interpreteer ons dit in NT-se terme, beteken dit dat ‘n persoon wat na God wil kom, heel eerste in die voorhof by die brandofferaltaar moet stilstaan om vergifnis van sonde op grond van die Bloed van Jesus te ontvang.

Daarna, as hy wil vorder op die weg om ‘n intiemer omgang met die Here te belewe, moet hy, sodra hy bewus raak van sonde, by die koperwaskom aandoen om sy hande en voete deur sondebelydenis te was van die besoedeling wat deur kontak met die wêreld plaasvind (Joh 14:10), daarna kan hy ingaan in die heiligdom van God waar hy goddelike lig van die kandelaar ontvang, dws lig uit die Skrif en dan ook geestelike opbouing deur die toonbrode, dit is deur die Brood van die Lewe, Jesus Christus.

Dan eers, wanneer na sy eie behoeftes omgesien is, is hy gereed om reukwerk aan God te bring, dws aanbidding onder die salwing van die Gees.

Kom ons druk daagliks deur tot by die reukofferaltaar.

Hoe jammer tog dat so ‘n groot deel van God se volk in die voorhoof vashaak; hulle is tevrede om gered te word deur die Bloed van die Lam en om min of meer op datum te bly deur skuldbelydenis, maar het min die begeerte om ure, dae en jare by die kandelaar deur te bring deur ‘n diepgaande studie van en meditering oor God’s Woord. Ons is soms so versadig met dit wat die wêreld bied, dat ons nie ‘n honger het na die geestelike spyse wat net Jesus kan gee nie en min gelowiges en gemeentes het die ervaring om daagliks tyd af te sonder om in aanbidding voor die Troon te verkeer.

Maar laat ons nie moedeloos word nie want Hy wat die besige staatsman, Daniël, bekragtig het om driemaal per dag voor ‘n oop venster wat uitgekyk het in die rigting van Jerusalem te aanbid (Dan 6:11) woon binne in ons gees en sal ons help om net so te doen.

TIENDES.

Abraham en Jakob het tiendes aan God gegee.

En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles. (Gen 14:20).

En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan. (Gen 28:22).

Die voorskrif om tiendes aan God af te staan, dateer dus baie verder terug in die geskiedenis van die volk van God en is deur die Here in die Wet van Moses geïnkorporeer.

In die Wet van Moses het die Here Sy volk beveel om tiendes van hul opbrengste te gee.

Wat betref al die tiendes van beeste en kleinvee alles wat onder die herderstaf deurgaan die tiende moet aan die HERE heilig wees. (Lev 27:32).

Ook al die tiendes van die land, van die graan van die land, van die vrugte van die bome, behoort aan die HERE; dit is heilig aan die HERE. (Lev 27:30).

Aan die einde van drie jaar moet jy uitbring al die tiendes van jou opbrings in dié jaar en dit in jou poorte wegsit;  (Deu 14:28). Dit was klaarblyklik aanvullend tot die jaarlikse tiendes.

Die tiendes was vir die Leviet, vreemdeling, wees en weduwee.

As jy al die tiendes van jou opbrings klaar afgesonder het in die derde jaar, die jaar van die tiendes, dan moet jy aan die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee gee, dat hulle in jou poorte kan eet en versadig word. (Deu 26:12) .

Want die tiendes van die kinders van Israel wat hulle aan die HERE as offergawe afgee, gee Ek aan die Leviete as erfdeel. Daarom het Ek aangaande hulle gesê: Hulle moet onder die kinders van Israel geen erfdeel kry nie. (Num 18:24).

Die Leviete moes tiendes gee.

Jy moet ook met die Leviete spreek en aan hulle sê: As julle van die kinders van Israel die tiendes neem wat Ek aan julle van hulle as jul erfdeel gegee het, moet julle daarvan ‘n offergawe aan die HERE afgee, ‘n tiende van die tiende. (Num 18:26).

En die priester, die seun van Aäron, moet by die Leviete wees as die Leviete die tiendes invorder, en die Leviete moet ‘n tiende van die tiendes na die huis van onse God bring, in die kamers van die skathuis. (Neh 10:38).

Hierdie tiendes het dan waarskynlik aan die priesters toegeval.

Die tiendes het aan God behoort; die volk het geen reg daarop gehad nie.

Jy mag in jou poorte nie eet die tiendes van jou koring en jou mos en jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en jou kleinvee en al jou gelofte-offers wat jy sal belowe, en jou vrywillige offers en die offergawe van jou hand nie. (Deu 12:17).

Tiendes moes by die woonplek van God ingehandig word.

Tydens inhandiging van die tiendes kon die gewers daarvan eet.

En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat jy kan leer om die HERE jou God altyd te vrees. (Deu 14:23).

En daarheen moet julle jul brandoffers bring en julle slagoffers en julle tiendes en die offergawe van julle hand en julle gelofte— en julle vrywillige offers en die eersgeborenes van julle beeste en van julle kleinvee.(Deu 12:6).

Berisping en beloftes aangaande tiendes.

Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. (Mal 3:8).

Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie. (Mal 3:10).

Wat het ‘n persoon se tiendes in totaal jaarliks beloop?

Daar word bereken dat  die Israeliet nie net 10% nie, maar 20% of meer jaarliks aan die Here afgestaan het; dit is dan behalwe die vrywillige offers wat hulle gebring het.

Gee van tiendes in die Nuwe Testament.

Nêrens in die Nuwe testament word die gee van tiendes beveel nie.

‘n Christen moet nie vir die Here gee omdat die Wet so sê nie maar omdat sy eie hart so sê: Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het n blymoedige gewer lief. (2 Kor 6:7).

Nt-se gee word vergelyk met die beginsel van saai en oes; wanneer jy saai, is dit reg dat jy ‘n oes verwag, maar, die groote van jou oes hang af van hoe mildelik jy saai: “Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.  (2Kor 9:6).

Waarom het die Here nou juis ‘n tiende vir Israel vasgestel?

Was dit nie dalk maar ‘n sommetjie wat die Here gemaak het om te bepaal hoeveel Sy dienswerk van tabernakel, offerandes, leviete en priesters nodig sou hê om op ‘n waardige wyse te funksioneer nie? Dit lyk tog logies.

Dit maak dit vir ons ook baie makliker om elkeen sy eie sommetjie te maak. Vandag is die Heer se werk nie net by een tabernakel of tempel gesentreer nie, maar vind dit wêreldwyd op ‘n ontsaglike skaal plaas, nie net deur plaaslike gemeentes wat elk hul eie omgewings bedien nie, maar deur groepe gelowiges wat saamsnoer om gespesialiseerde werk “tot by die uiteindes van die aarde” te doen.

Vir elke kind van God, geld die Groot Opdrag: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. (Mat 28:19).

Om hierdie opdrag uit te voer, moet elke gelowige vir die Here vra, “Here, wat van my, wat wil U hê moet ek doen?” Sommige sal die opdrag kry om ‘n bepaalde funksie binne ‘n gemeente te vervul, andere sal êrens heen gestuur word; almal moet doen so al wat hy kan.

Die wat nie self gaan nie, moet andere stuur. Om dit te kan doen, sal hy deeglike ondersoek moet doen na wat orals gedoen word en die Heer vra waar om sy bydraes te gee.

Sommige sal baie meer as ‘n tiende gee omdat hul inkomste so groot is, andere weer sal moeilik daarby bykom. Die liefde van en vir Christus sal ons dring om meer en meer te wil gee.

(Persoonlike getuienis: My gevoel is dat die gee van ‘n tiende dalk ‘n goeie wegspringplek is vir ‘n pasgebore kind van God. So het my vrou en ek begin kort nadat ons die Here gevind het en ononderbroke volgehou tot vandag toe. Daar was enkele maande wat ons nie kon bykom nie; dan het ons boek gehou van die tekort en later wanneer ons inkomste weer groter was, die tekort uitgewis. Dit is nogal heerlik om, wanneer ‘n mens dit so ‘n geloofsaak maak, te sien hoe die Here jou in staat stel om jou voorneme te vervul. Dan was daar ook tye waartydens ons die hand sommer baie, baie dieper in die spaargeld sak moes steek om broodnodige dienswerk vir die Heer te kon verrig. Loof die Here vir Sy troue voorsiening deur al die jare.)


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → ISRAEL, OFFERANDES EN TIENDES, EX-DEU. Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha