Israel; uittog uit Egipte, Exs

AGTERGROND (Lees asb Ex 1:1-6).

Om die boeke Exodus tot Deteronómium te begryp, moet ons net kortliks die hoof momente van die boek Génesis nagaan om ons geheue te verfris oor wat vooraf gebeur het.

God, wat van ewigheid af bestaan, het hemel en aarde uit niks geskape en daarna ook twee menslike wesens aan wie  Hy alles toevertou het en met wie Hy ‘n hegte verhouding wou hê, gebaseer op onderlinge liefde en vertroue. Dié twee mense het  egter verkies om selfstandig te lewe en die Here as God verwerp.

Gedurende die volgende ongeveer 2000 jaar, het die mensdom in getalle toegeneem, maar ook al verder van God afgedwaal. Toe het die Here ingegryp om die mens van algehele ondergang te red en ‘n godvresende man, Abraham, geroep om uit sy nageslag ‘n volk van godvresendes te bou en hom na die land Kanaan laat trek waarin Hy mettertyd sy nuwe volk sou vestig. Hierdie volk was bestem om ‘n lig vir al die nasies te wees. Deur Israel se voorbeeld moes hulle ook na God getrek word.

Abraham se nageslag het tot 70 siele aangegroei. Een van sy agter-kleinkinders, Josef, is deur sy broers as slaaf verkoop en na Egipte weggevoer. God het daar aan hom guns verleen sodat hy as tweede in bevel oor Egipte aangestel is. Toe daar ‘n vernietigende droogte oor Kanaän kom, was Josef in die gunstige posisie om sy ganse familie in Egipte, in die Goosen landstreek te kon vestig en te onderhou.

Vir die volgende 430 jaar (Ex 12:4) het hulle daar geweldig vermenigvuldig tot ‘n volk in eie reg, by name, Israel. Nou was hulle gereed om die land Kanaan wat aan Abraham beloof was, met wapengeweld in besit te gaan neem. Dit is waar die boek Exodus begin.

ISRAEL WORD VERDRUK EN UITGEMOOR (Lees asb Ex 1:7-22).

Vir die Egiptenare het Israel nou ‘n bedreiging geword, ‘n volk in hulle midde wat enige oomblik teen hulle kon draai. Die koning se oplossing vir hierdie probleem, was om hulle status na dié van slawe te verlaag en hulle aan te wend om harde dwangarbeid te verrig, onder andere om twee voorraadstede te bou. Op die manier sou die Egiptenare voordeel uit hulle trek, hulle so besig hou dat hulle nie aan hul eie sake aandag kon gee nie en veral hulle moraal geleidelik afbreek. Dit het nie gewerk nie en die verdrukte volk het al vinniger vermeerder.

Hieraan moes ‘n einde gemaak word en planne is beraam om al die seuntjies wat gebore word, dood te maak, maar ook hierdie offensief was nie suksesvol nie, alhoewel dit vir die ouers al moeiliker geword het om die seuntjies, namate hulle groter geword het, te versteek.

MOSES SE GEBOORTE EN LEWE IN EGIPTE (Lees asb Ex 2:1-15).

Agter die skerms was die Here aan die werk om Sy planne met Israel verder te voer en het Hy aan ‘n sekere egpaar ‘n seuntjie geskenk wat Hy later sou gebruik om Israel uit Egipte uit te lei. Om hom te bewaar, het sy moeder hom in ‘n mandjie tussen die riete aan die kant van die Nyl geplaas waar hy deur ‘n Egiptiese prinses gevind is. Sy het hom as pleegkind aangeneem en in die paleis grootgemaak totdat hy ongeveer 40 jaar oud was.

Hoe maklik tog keer die Here ‘n onmoontlike situasie om deur ‘n eenvoudige plan, en gebruik dit om Sy uitverkore “seun” te laat grootmaak deur juis dié koning wat sy lewe gesoek het. Daar, in die paleis, het hy leer lees en skryf en gesien hoe om ‘n groot volk te regeer, vaardighede wat hy in sy latere lewe nodig sou hê (Hand 7:22).

‘n Moeilike besluit.

Moses moes egter eers ‘n baie belangrike besluit neem: of hy ‘n Egiptiese prins wou wees, of deel van God se verdrukte volk; en hy het reg gekies:

Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. (Heb 11:24-26).

Meer nog; hy het begeer om iets vir sy verdrukte broers te kon doen, maar het verkeerdelik, buite die wil van God beweeg deur ‘n Egiptenaar dood te slaan, sodat hy moes vlug en het hy hom in die land Midian, baie vêr van Egipte af, gaan vestig. Hy was toe ongeveer 40 jaar oud (Hand 7:23) Daar het hy ‘n bywoner van die priester Jetro geword, met sy dogter getrou en twee seuns verwek.

Hier, terwyl hy met die veekuddes rondgetrek het op soek na water en weiveld, vêr weg van die gewoel van die mensemassas van Egipte, het ‘n tweede en baie belangrike fase van sy voorbereiding vir sy roeping aangebreek; hier, gedurende die eindelose eensame dae en nagte, het hy tyd gehad om oor God en Sy weë te peins. Hier kon die Here vir hom ‘n immerteenwoordige Persoon word. Hier kon hy nadink en bid oor God se beloftes aan sy voorvaders; dat Hy hulle nageslag uit Egipte na hul eie land sou laat optrek. Maar wanneer tog en hoe, sou dit gebeur?

MOSES SE ROEPING (Lees asb Ex 3:1-4:18).

So het nog 40 jaar verbygegaan. Moses was nou 80 jaar oud, rustig, veilig en goed versorg en het hom seker maar versoen met die feit dat hy nie in staat was om enigiets vir sy verdrukte volk te kon doen nie; immers, wie kon sy hand lig teen die magtige Farao van Egipte? “Dit alles was seker maar net ‘n mooi jongmansdroom gewees”, moes hy later moontlik besluit het.

‘n Hemelse Besoeker.

Maar God het nie vergeet of Sy planne vir Sy volk laat vaar nie. En toe, eendag, terwyl Moses sy skoonvader se vee teen die hang van die berg Horeb oppas, verskyn die Engel van die Here (Jesus Christus) aan hom in die gedaante van vuur wat in ‘n doringbos woed, maar die bos nie verteer nie.

Dit was simbolies van wat God in en deur hom sou doen: Hy sou hom, die veragte doringbos wat slegs as vuurmaakhout gebruik kon word, vervul met Sy Gees en sy heerlikheid deur hom op ‘n aangrypende wyse aan die mensdom vertoon, maar self sou hy nie deur die vuur van God se teenwoordigheid beskadig of verteer word nie.

(Eeue later sou die Here Sy Gees in die gedaante van vuur en wind uitgiet op “alle vlees” sodat elkeen wat dit begeer, so vervul kan word en Sy grootheid aan die mensdom kan vertoon.)

‘n Ingrypende roeping.

Toe praat die Here in ‘n hoorbare stem en gee hom opdrag om Sy verdrukte volk uit Egipte te gaan uitlei na die land wat Hy vir hulle voorberei het. Moses was geskok en bevrees en het vier besware geopper maar die Here het vir elkeen ‘n oplossing gehad. Op Israel se vraag wie die God was wat hom gestuur het, moes hy antwoord dat dit die God van hul voorvaders Abraham, Isak en Jakob (Elohim) was wat hul verdrukking gesien en hulpgeroep gehoor het. Aan die Farao wat allerhande gode aanbid het, moes hy sê dat dit die God van die Hebreërs (Israel) was, dit wil sê die God wat Farao nie geken het nie.

Bonatuurlike hulpmiddels.

As verdere hulpmiddele het die Here vir hom drie wonderwerke gegee wat hy sou kon uitvoer om sy hoorders te oortuig dat God hom gestuur het. Toe hy nog steeds teëgestribbel het omdat hy blykbaar ‘n spraakgebrek gehad het, het die Here se toorn teen hom ontvlam maar nietemin sy ouer broer Aäron gegee om hom as segsman by te staan om sy spraakgebrek te oorbrug.

Die Here se Gedenknaam.

Maar dan het Hy ook vir die eerste keer Sy ewige gedenknaam deur Moses aan die mens bekendgemaak. Omdat die Hebreeuse alfabet net uit medeklinkers bestaan is dit opgeteken as “YHWH” wat ons met onsekerheid laat oor hoe die woord presies uitgespreek moet word. Uit vrees dat  hulle die Naam van God oneerbiediglik sou gebruik, het die Jode mettertyd die woord “YHWH” met die woord “Adonai” vervang wat met “Heer” (Eng “Lord”) vertaal en hedendaags algemeen so in Bybelmanuskripte weergegee word.

Kenners meen dat “YHWH”  ten beste vertaal kan word met “EK IS”. In latere Griekse manuskripte is dit vertaal as “Yahweh” wat vandag algemeen aanvaar word maar die woord, “Jehovah” was ook al in gebruik.

Die naam, “EK IS”, laat ons steeds met vrae. EK IS … wie? Of EK IS … wat? In Bybelse tye het ‘n persoon se naam iets belangriks omtrent die persoon gesê. “Jakob” het byvoorbeeld, “Bedrieër” beteken. Miskien wou die Here met hierdie oënskynlike onvolledige naam sê dat daar geen menslike woord is wat Hom behoorlik kan uitbeeld nie en dat ons die “EK IS,” self verder moes aanvul soos wat ons met Hom wandel en Hy Homself aan ons openbaar.

Bestudeer ons die Skrif, kan ons daardie Naam soos volg uitbou: EK IS jou bewaarder (Ps 121:5). EK IS jou geneser (Ex 15:26). EK IS jou geregtigheid (Jer 23:6). EK IS die goeie herder (Joh 10:11). EK IS die weg, die waarheid en die lewe (Joh 14:6). EK IS die waaragtige lig (Joh 1:9). EK IS die brood van die lewe (Joh 6:35). Kortweg: “EK IS ALLES WAT JY NODIG HET.” Met die “EK IS”, wil die Here ook sê: “Ek is onveranderlik, van ewigheid tot ewigheid.”

‘n Ongehoorsame dienskneg.

Nou was Moses se verwere uitgeput en het hy, staf in die hand en vergesel van sy vrou en twee seuns, pad gevat na Egipte maar dié aand, by ‘n herberg, wou die Here hom doodmaak omdat hy een van sy seuns nie besny het nie. Hy het die verbond wat God met sy voorvader Abraham gemaak het dat al die seuns aan die voorhuid besny moes word, nie nagekom nie (Gen 17:9-14). So kon hy nie ‘n instrument in die Here se hand wees om strafgerig oor Egipte uit te oefen, terwyl hyself in sonde volhard het nie (2 Tim 2:19). Die besnydenis was ‘n beeld van die geestelike besnydenis van die hart by wedergeboorte, waardeur ‘n mens ‘n kind van God word ( Rom 2:28,29).

Sippora het toe, met ‘n bitter gemoed, die seun besny, want Moses was waarskynlik te siek. Die besnydenis sou hul reis vertraag het, want die seun sou eers moes genees. Waarskynlik het sy en die seuns toe teruggedraai en na die uittog eers weer by haar man aangesluit.

Moses en Aäron neem die eerste stap.

Aäron het ‘n ent verder, by die berg Horeb, vir Moses tegemoetgekom omdat die Here hom gestuur het. So het God alles fyn beplan en ook hulle geloof versterk. Hulle twee is toe saam na Egipte waar hulle die woorde van God aan die oudstes van Israel oorgedra en die tekens aan hulle vertoon het. Dié het hulle geglo en voor God in aanbidding neergeval.

GOD VERBREEK FARAO SE HOUVAS OOR ISRAEL EN VERLOS SY VOLK (Lees asb Ex 5:1 – 15:21).

So is hulle toe na Farao om God se opdrag, dat hy die Here se eersgebore seun, Israel, moes laat trek, aan hom oor te dra.

Hierna volg tien aanslae wat die Here op Farao en sy land loods. As ‘n méns Israel se verlossing moes bewerk, sou hy waarskynlik ‘n ontsaglike weermag teen enorme koste op die been moes bring om dit te bewerk. Die weermag en wapens wat die Here vir dié doel gekies het, is egter sommer uit die natuur geneem: drinkwater wat in bloed verander, paddas, muskiete, steekvlieë, pes, swere, hael, sprinkane, duisternis en ten laaste die dood van die eersgeborenes van mens en dier. Hoe verweer ‘n mens hom tog daarteen – ‘n padda wat met sy kouebloedige liggaam teen jou bene opspring of binne-in jou bord pap spring terwyl jy eet?

Elke plaag was nie net ‘n beproewing nie, maar was baie duidelik bonatuurlik sodat almal kon sien dat dit van God gekom het en dat Hy toornig was omdat hulle Sy volk gevange gehou het; almal het dit erken, behalwe die Farao. Sy eer en sy mag was op die spel. Hy was die menslike hoof van die magte van die duisternis wat oorlog gevoer het teen die God van die Koninkryk van die Lig.

Die oorlog wat in die Paradys ontvlam het, kom hier oor Egipte tot ‘n tussentydse klimaks. Die duisternis wil die volk van God vir ewig verswelg. Die Ewige Lig wil hulle egter bevry en die weg baan vir die verlossing van die ganse mensdom wat eeue later op Gólgota bewerk sou word. Soms was die Farao op sy knieë en roep hy uit, “Ek het gesondig, bid vir my en verlos my van hierdie plaag,” maar sodra God Sy hand van kastyding lig, dwing sy onberoulike, verharde hart hom weer orent en verset hy hom nog ‘n keer.

Die Here toon dat Hy die enigste ware God is.

Dit alles speel in God se hand, want dit open vir Hom die weg om Sy mag en heerlikheid deur nog plae te openbaar sodat die ganse wêreld daarvan te hore sou kom en hul harte geopen kon word om in Hom te glo (Jos 2:9,24). Die volke van weleer het geglo dat dit hul gode was wat hul vyande in hul hand gegee het en deur hierdie magtige dade het hulle gesien dat die God van die Hebreërs oneindig magtiger was as al die gode van die Egiptenare.

Dit het ook Sy gevange volk oortuig dat Hy alleen God was en dat hulle Hom gelowig kon volg na die land wat Hy vir hulle beloof het.

Die Paaslam.

Dan breek die dag van keuse aan wanneer elkeen in Egipte moes besluit of hy of sy in die God van die Hebreërs, die ewige “EK IS” glo of nie. Die wat glo, verf die bloed van ‘n paaslam aan die drumpel en kosyne van hul huise se deure en skuil daardie nag daarbinne terwyl die doodsengel deur die land beweeg en die eersgeborenes van mens en dier tref.

Hierdie handeling, tesame met die wyse waarop die lam voorberei en saam met die ongesuurde brode geëet moes word, was baie belangrik omdat dit ‘n beeld was van die verlossing wat Jesus vir die mensdom sou bewerk toe Hy as God se vlekkelose Lam op Gólgota vir die mensdom “geslag” is.

Die uittog uit Egipte.

Nou was Farao se mag gebreek en laat hy, nie net die volk van Israel nie, maar elkeen wat wil, uit sy land uittrek; 600,000 mans, ‘n totaal van ongeveer twee-miljoen mense, tesame met hul besittings en vee en al die geskenke wat die Egiptenare vir hulle gegee het.

Die Here se teenwoordigheid word nou vir die verlostes sigbaar deur ‘n wolk wat bedags voor hulle uittrek en snags as ‘n vuurkolom agter hulle waghou.

Die Farao verhard verlaas sy hart en sit hulle agterna, maar die Heer kloof die Rooi See sodat hulle droogvoets deurgaan en die Egiptiese leërmag agter hulle omkom in die watervloed wat oor hulle toevou.

‘n Groot lofprysing gaan op uit die laer; hulle sing ‘n lied van verlossing wat deur Moses gekomponeer is, terwyl Miriam die vroue met ‘n simbaal in koordanse lei.

Ja, wie kan teen die Here standhou? En net so verlos Hy vandag nog elkeen wat sy skuld bely, wat bely dat hy ‘n slaaf van sonde is en sy vertroue plaas in God se Seun Jesus, die Christus wat sy skuld op Gólgota vereffen het.

Die begin van ‘n nuwe lewe.

Hierdie verlossing uit Egipte was so ‘n gewigte oomblik in Israel se bestaan, dat die Here bepaal het dat hul kalender van daardie dag af opnuut sou begin loop (Ex 12:2).

(Die dag van ons wedergeboorte is net so ‘n belangrike dag en ons kan gerus oorweeg om dit, naas ons geboortedag in die vlees, as ons geboortedag in die Gees te vier.)


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → ISRAEL, UITTOG UIT EGIPTE, EXS . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha