Israel; voorskrifte en vermaninge, Ex-Deu

HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD

DIE HERE VEROWER ‘N VOLK VIR HOMSELF; DIE VOLK ISRAEL.

In die vorige studiegids het ons gesien hoedat die Here deur rampe wat Hy oor Egipte gebring het, die nageslag van Sy dienskneg, Abraham, uit die mag van die Farao verlos het. Elkeen van hulle moes kies of hulle die Here se geroepe dienskneg, Moses, deur die Rooi see sou volg. Daar was meer as 3 miljoen wat opgepak en Egipte verlaat het. Hulle het hul lewens aan God toevertrou en geglo dat Hy vir hulle ‘n beter toekoms in die land Kanaän in vooruitsig gehad het. Nou was hulle nie meer slawe wat die Farao moes dien nie, maar vry om God te gehoorsaam en te volg.

HIERDIE VOLK MOES GELEER WORD HOE OM HUL HEILIGE GOD TE DIEN.

Maar, hulle was soos aangenome kinders wat in ‘n baie slegte omgewing grootgeword en van kindsbeen af aan al die sondes, al die lelike dinge van daardie woonbuurt meegedoen het. Almal het gedink dat dit maar reg was, want in die slawehuis het die Egiptenare wat oor hulle geheers het, ook so gelewe. Hulle nuwe Vader, was egter volmaak heilig, dit beteken dat Hy skitterend rein was, helder soos lig en hulle sou gaandeweg moes verander om soos Hy te wees, anders sou Hy en hulle nie saam “onder een dak” kon saamlewe nie.

Hy voed hulle op deur aan hulle voorskrifte te gee wat elke fasset van hul lewens dek.

Om Sy doelwit van ‘n heilige volk te bereik, gee Hy vir hulle breedvoerige wette, insettinge en verordeninge oor hoe om te glo en te lewe. Vir doeleindes van ons studie sal ons dit sommer voorskrifte noem. Sommige Skrifverklaarders bereken dat daar 613 sulke voorskrifte was.

Israel word die eerste en enigste volk met volmaakte wette, reëls en regulasies.

Elke volk moet ‘n grondwet hê en wette wat sy funksionering reël – so ook God se nuwe volk. Beginnende by die berg Sinai, het Hy deur Sy gebooie aan Sy volk geopenbaar hoe Hy wou hê dat ‘n volk van God moes lewe.

Kom ons let daarop dat hierdie voorskrifte nie deur ‘n verkose party se parlement opgestel is nie, maar deur God self en dat Moses dit net neergeskryf het, presies soos wat Hy dit uit die hemele ontvang het. Hierdie volk was voorwaar begunstig bo al die ander volke van die wêreld om so ‘n stel wette uit die hand van God te kon ontvang het.

Israel was dan ook nie ‘n monargie wat deur ‘n aardse koning regeer is nie; of ‘n demokrasie wat deur mens verkose leiers bestuur is nie, maar ‘n teokrasie wat deur die Skepper self beheer is.

Hierdie wette handel oor die verhouding tot (God) en die verhouding tot die medemens.

Jesus, Wie baie eeue later eers gekom het, het verklaar dat al 613 voorskrifte opgesom kan word in twee gebooie, naamlik, dat ‘n mens die Here God moet liefhê uit jou hele hart, siel, krag en verstand en jou naaste soos jouself (Luk 10:27). Wanneer ons hierdie baie voorskrifte wat in die Boeke Exodus tot Deuternomium nagaan, vind ons dat hulle inderdaad in twee groepe verdeel kan word: dié wat betrekking het op die mens se verhouding tot God en dié wat die mens se verhouding met sy medemens reël.

God se wette is boustene van liefde.

Die Here kan, in Sy diepste wese, die beste beskryf word deur die woord, “Liefde”. “ … God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom. (1 Joh 4:16).

(Ook die heiligheid van God is nou verbonde aan Sy liefde; Hy is heilig omdat Hy liefde is en liefde is wat reg is en wat reg is, is wat heilig is.)

Daarom is dit dan te wagte dat elke, iedere voorskrif wat Hy gee, die liefde as basis het. Elke voorskrif is die antwoord op die vraag: wat sou volmaakte liefde in hierdie situasie gedoen het? Laat ons ‘n paar voorbeelde noem:

Liefde tot God: Die eerste gebod lui: Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie  (Ex 20:3). As ons God met ons hele hart liefhet, sal ons geen ruimte vir enige afgod in ons harte hê nie, soos wat ‘n vrou wat haar man opreg liefhet, geen tyd of gedagtes vir enige ander man in haar lewe het nie. Sy sal ook nie toelaat dat iemand hom in haar teenwoordigheid aftakel nie. So leer die tweede gebod ons:  Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie,Wie ek liefhet, respekteer het. Net so met God. Sy Naam sal ek nie onnadenkend of selfs as ‘n krag- of vloekwoord gebruik nie.

Liefde tot die medemens: Eer jou vader en jou moeder,. Jy mag nie doodslaan nie. Jy mag nie egbreek nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie. Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; … .  (Ex 20:12-17). Hierdie voorskrifte spreek so duidelik van liefde vir my naaste dat ons  nie daarop hoof uit te brei nie.

Is dit nie wonderlik om te weet dat die Koninkryk van God se grondwet, kort en kragtig sê: “Jy moet liefhê”, en dat al die ander wette soos stene daarop gebou is en elkeen dieselfde tema het: “Jy moet liefhê.” As elke volk dit maar net wou, en kon uitlewe, sou vrede die aardbol soos ‘n atmosfeer omhul het.

God se voorskrifte is onveranderlik.

Die mens, maak en wysig sy wette van dag tot dag na behoefte. So word Goewerneur Ryk Tulbagh onthou vir sy “Prag en Praal” wette (1755) wat daarop gemik was om oordadigheid onder die amptenary te beperk. Dit het o.a. bepaal dat vrouens van ‘n laer stand, nie toegelaat was om sambrele te dra nie. Vandag sal so ‘n wet onvanpas wees. Regerings se wetboeke is dus gelydelik opgebou, omdat niemand die wysheid gehad het om te kon voorsien wat die beste wetgewing vir die volgende honderd of 500 jaar sou wees nie.

As die Here dit aan Israel oorgelaat het om hul eie wetgewing op te stel, sou dit net so wispelturig soos die mens self gewees het. Dit sou die mens se veranderlike karakter weerspieël het;  wat “vir hom werk” en wat nie. En wat vir een generasie werk, werk nie vir ‘n volgende nie, daarom verander hulle dit.

Nie so met God se voorskrifte nie.  Die rede hiervoor, is dat Sy reëls die uitvloeisel is van Sy onveranderlike karakter (Heb 13:8). Omdat Sy wese (karakter, wesensvoortreflikhede, “attributes”) nooit verander nie, sal Sy wil nooit verander nie, en daarom ook nie Sy lewensreëls wat Sy wil weerspieël nie. Sy wet is volmaak (Ps 19:8). Hulle is vir ewig onveranderlik en absoluut. Elke wet geld vir elke mens en vir alle tye. Vanaf Genesis een het Sy wil vir die mens nog nie verander nie en sal dit nie verander nie tot aan die einde van Openbaring. Sy wette, soos vervat in die eerste vyf boeke, is nooit weer gewysig nie.

“Maar”, sou jy argumenteer, “dit het tog verander. Israel was nie toegelaat om varkvleis en die vleis van volstruise te eet nie, maar daardie beperkings geld tog nie vandag meer vir ons as Christene nie.”

Gedeeltelik waar, ja, maar daarom moet ons dieper delf en kyk waarom die Here dit beskik het dat Sy wil gedurende daardie periode op daardie wyse uitgelewe moes word. Die uitlewing van God se wil deur die eeue, het veranderings ondergaan om aan te pas by die mens se geestelike vlak van insig; daarom het Israel sommige van God se voorskrifte in die vorm van ‘n prenteboek of videoprente ontvang maar die grondliggende beginsel, naamlik om onderskeid te tref tussen wat rein en onrein in die lewe is, het nie verander nie. Wanneer ons dit begryp, word  daardie ou-ou reëls, skielik ‘n bron waaruit ons kosbare lesse vir vandag kan put. (Sien later in hierdie studiegids).

DIE EERSTE BYBEL.

Die eerste wette wat God op skrif aan die mens gegee het, het Hy met Sy vinger op kliptafels gegrafeer en staan bekend as die “Tien Gebooie” ook genoem die “Tien Woorde van God” (Ex 20:1-17; Ex 31:18). Waarom twee kliptafels: vyf gebooie op elke klip? Sommige beweer dat dit twee kopieë was wat albei al tien gebooie bevat het; een vir die volk en een vir God en dat die Here se kopie dié een is wat later in die verbondsark bygehou is.

Reeds bestaande “wette” wat mondelings oorgedra was, is nou op skrif gestel.

Alles wat na die Tien Gebooie gekom het, het Hy deur bemiddeling van Moses op papirus of soorgelyke materiaal laat opteken in die skrif en taal van sy tyd.

Dit was nie algeheel nuut nie. Sommige van hierdie wette was toe reeds lankal deur individue wat ‘n verhouding met God gehad het, geken, en uitgeleef. Hy het dit gaandeweg op verskillende wyses aan hulle geopenbaar gehad en nou, eeue later in Sy “Wetboek” gepubliseer.

So byvoorbeeld, is daar die vereiste dat ‘n onskuldige dier se bloed vergiet moes word as offerhande om die mens se skuld te bedek en God en mens te versoen. Dit het die Here visueel reeds aan Adam en Eva gedemonstreer toe Hy ‘n dier doodgemaak en die vel geneem het om vir hulle skorte te maak om hul liggaamlike naaktheid voor mekaar te bedek, terwyl die bloed hul sonde voor God bedek het (Gen 3:21; vgl bv Lev hfe 1-6 ).

Noag weer, was vertroud met die onderskeid wat God gemaak het tussen rein en onrein diere; daarom kon hy die Here se opdrag uitvoer om van die rein diere sewe pare elk in die ark op te neem en van die onreines, net twee pare elk (Gen 7:2; vgl Lev 11).

Abraham was vertroud met God se instelling dat ‘n tiende van ‘n persoon se inkomste aan die Here en sy saak afgestaan moes word en het ‘n tiende van wat hy in die oorlog buitgemaak het, aan Melgisedek gegee (Gen 14:20; vgl Lev 27:32).

Die besnydenis, as ‘n teken van die verbond met God, is ‘n insetting wat die Here reeds aan  Abraham gegee het (Gen 17:10; vgl Lev 12:3).

Daar was ook ‘n erfreg reël dat die eersgebore seun bo die res van die kinders bevoorreg sou word en dit is deur die aartsvader Isak toegepas (Gen 27) en word in die Wet erken (Deut 21:16,17).

Ook die “swaershuwelik” wat Juda met betrekking tot Tamar moes toegepas, maar nie gedoen het nie (Gen 38:8), word in Deut 25:6 bevestig.

GOD SE VERBOND MET ISRAEL.

Die somtotaal van al die voorskrifte was kortweg in die volksmond bekend as “Die Wet van Moses”, omdat Hy dit opgeteken het. Dit was God se aanbod se voorwaardes waarop Hy bereid sou wees om vir Israel ‘n God te wees. Dit was soos ‘n skriftelike kontrak tussen twee partye en Israel het dit aanvaar (Ex 19:5; Ex 24:7) en later meermale bevestig.

EERS VERLOSSING, DAN DIE GEBOOIE.

Wat uiters belangrik is om op te let, is dat die Here nie vooraf Sy gebooie op skrif deur die bemiddeling van Moses aan Sy volk Israel in Egipte gestuur het nie met die opdrag: “Hier is My gebooie vir julle. Ek sal julle dophou en as julle daarin slaag om  hulle tot My bevrediging te onderhou, sal Ek julle as My volk aanneem, julle verlos uit Egipte en ‘n eie grondgebied aan julle gee.” Geensins; God het hul noodroep gehoor, gedink aan Sy beloftes aan Abraham dat Hy sy nageslag na 430 jaar uit Egipte sou verlos, en het daarrooreenkomstig gehandel.

Net so kan geen mens ‘n kind van God word deur sy bes te probeer om Sy gebooie te onderhou nie; nee net soos Israel in Egipte, moet die mens erken dat hy vasgevang is in die mag van sonde en van die duiwel en alleenlik deur God bevry kan word. Hy moet dus tot God uitroep, “Weë my want ek is verlore,” en dan daar, waar hy in die put is, die hand van redding wat God na hom uitsteek, vasgryp sodat die Here hom kan uittrek en hom as kind kan aanneem. En dit doen die mens deur te glo dat Jesus die Verlosser is wat aan die kruis kom sterf het om sy sondeskuld te betaal.  nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees.  Sien ook Rom 3:20: aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. En Rom 3:28:

Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet. Die Wet van God mag dus nooit gebruik word as ‘n middel om, deur die onderhouding daarvan, te probeer om deur God aanvaar te word nie.

WAT DAN IS DIE DOEL VAN DIE WET: N VOOGD EN TUGMEESTER

Die Wet is soos ‘n voogd wat ‘n minderjarige bewaar van onbesonnendhede tot tyd en wyl hy volwasse is en sy eie besluite kan neem. Soos ‘n kind se ouers wat dag vir dag vir hom vermaan,”Moenie dit doen nie,” en “Maak nou so,” spel die Wet vir die mens uit wat reg en verkeerd is, sodat hy ten minste, deur God se genade weerhou word daarvan om boedel oor te gee aan die boosheid totdat hy met Christus ontmoet en daarna deur die Heilige Gees gelei en bemagtig word om die wil van God te ken en te doen.

Tweedens is die Wet ‘n tugmeester wat ons na Christus toe stuur. (Gal 3:24, 25). Wanneer die mens probeer om die Wet van God volmaak na te kom, vind hy gou-gou uit dat dit algeheel onmoontlik is (soos vir ‘n hoogspring atleet wat die taak gestel word om oor ‘n 20 meter hoë dwarslat te seil.) Dan eers verstaan hy waarom Christus vir hom moes sterf om vir hom te doen wat hy self nie kon doen nie. Dan laat vaar hy sy trots, kniel by die kruis en aanvaar god se aanbod in geloof – so maklik.

Vir die meerderheid van die volk van Israel wat nooit oorgegaan het tot die stap van die aanvaarding van hul geestelike verlossing op grond van God se genade nie, het die Wet lewenslank ‘n voogd en tugmeester gebly.

DIE TIEN GEBOOIE TIEN WOORDE VAN GOD

Laat ons nou die gebooie van God, beginnende by die Tien Gebooie (Ex 20:1-17; Deut 5:6-21), van naderby bekyk. Hier het ons tien verhoudinge wat gehandhaaf moes word. Die eerste twee gaan uitsluitlik om die verering van God.

Die derde gebod, heiliging van die Sabbat, gaan deels om God, naamlik dat die mens op daardie dag in besonder oor God en Sy weë moes besin, maar dit gaan ook om die mens, deurdat dit ‘n dag was waarop die mens van sy gewone arbeid moes rus en sy innerlike mens moes voed, sodat sy arbeid op die ander ses dae vir hom ‘n vreugde kon wees.

Die volgende ses gebooie handel oor onderlinge menseverhoudings, respek en verantwoordelikhede (om die naaste lief te hê soos jouself).

Nege van die gebooie handel oor uiterlike dinge wat gebied of verbied word, maar die tiende gebod het betrekking op die koestering van ‘n verborge sonde, naamlik die begering van dinge wat God nie vir jou bestem het nie.

Hierdie tien fondamentstene is nie soos sommige van die voorskrifte wat daarop gevolg het in beeldvorm gegee nie. Spesifieke handelinge word onomwonde by name genoem.

Hoe die tien gebooie gekommunikeer is.

Die wyse waarop die Here Sy eerste tien Wette aan Sy volk gekommunikeer het, is ook betekenisvol; dit was nie soos ‘n dokument wat Hy per pos laat aflewer het nie, nee, Hy het dit persoonlik uitbasuin. Die proklamering van Sy Wet het gepaardgegaan met die betoning van Sy mag en heiligheid. Sy mag het Hy vertoon deur donderslae, weerlig, rook en die geskal van ‘n basuin soos wanneer ‘n magtige koning sy onderdane oproep na ‘n byeenkoms  om hulle toe te spreek.

Sy heiligheid het Hy hulle ingeprent deur die verbod om met die berg kontak te hê. By die Egiptiese gode het heiligheid niks getel nie, gevolglik  moes Israel van voor af leer wat heiligheid werklik behels het.

OORSIG OOR DIE “WET VAN MOSES”.

Aangesien die 613 verordeninge van die Wet, nie meer letterlik deur ons nagekom moet word nie, sal ons hulle nie een vir een nagaan nie, maar net sommige daarvan kortliks vermeld en dit aan die leser oorlaat om dit verder te bestudeer soos hy gelei voel.

(Verordeninge wat betrekking het op sake soos die tabernakel, priesters, offerandes, tiendes, sabbatte en feeste, die laerorde, ens, word in afsonderlike studiegidse behandel.)

Godgerigte voorskrifte:

Heiligheid (Ex 19:1-25).
Rein en onrein diere (Lev 11, Deut 14:1-21).
Onreinheid van mense (Lev 12, 15).
Reinheid van die laer (Deut 23:9-14).
Bloed en vet: verbod om dit te eet (Ex 23:18; Lev 7:22-38, Lev 17:10-16).
Eerstelinge van die vee (Deut 15:19-23).
Tiendes (Lev 27:32).
Geloftes (Num 6; 30).
Uitgeslotenes; wie nie in die vergadering van die Here toegelaat was nie (Deut 23:1-8).
Waarsêery en goëlery (Deut 18:9-14, 31).
Valse profete (Deut 30).

Mensgerigte voorskrifte:

Armes en slawe (Lev 19:9; Deut 15:7-18).
Erfreg (Num 27).
Grondroof (Deut 19:14).
Huweliksake en kuisheid (Lev 18; Num 5:11-31; 36; Deut 24:1-5; 25:5-10).
Lossingsreg (Lev 27; Deut 14:22-29) en kwytskelding (Deut 15:1-6).
Mate en gewigte (Lev 19:35-36; Deut 25:13-16).
Melaatsheid (Lev 13,14; Num 5:1-4).
Naaste, eiendom, vryheid en lewe (Ex 21,22; 23:4,5; Num 5:5-10).
Vreemdelinge (Ex 23:9; Lev 19:33,34).
Regters en opsigters (Deut 16:18-20).
Verskeie wette (Lev 19).

Beregting:

Strawwe vir misdade en restitusie (Lev 20; 24:10-23; Ex 21:19, 36; Ex 22:1).
Valsheid in die reg, getuies, omkoopgeskenke (Ex 23:1-3, 6-8; Deut 19:15-21).
Vrystede (Num 35).

Al hierdie reëls is grotendeels ‘n uitbouing van die gebod, “Wees heilig want Ek is heilig.” (Lev 11:44) en heiligheid is in lyn met die liefde.

Genade vir wetsoortreders.

Soos vroeër vermeld, was daar ongeveer 613 wette (insettinge, verordeninge, gebooie) wat deur Israel onderhou moes word, wat natuurlik onmoontlik was en daarom het die Here die stelsel van offerhandes voorsien om vergifnis vir oortreding van die Wet te verkry (sien studiegids oor die Tabernakel en offerandes.)

BEREGTING VAN SAKE

Verhoring van oortreders en beregting van geskille, was eerstens die taak van die priesters (Deut 19:17), maar uitgesoekte manne van integriteit is ook deur Moses vir elke stam aangestel om minder enstige sake te bereg (Ex 18:24-27), terwyl hy self die ernstiger gevalle hanteer het; dié het hy op sy beurt weer aan God voorgelê om ‘n onbetwisbare uitspraak te verkry (Num 15;32).

Die regsproses was ook onderworpe aan sekere bewysregreëls, byvoorbeeld dat ‘n persoon nie ter dood veroordeel kon word, tensy die getuienis van twee of drie getuies deur die hof aangehoor is nie (Deut 19:15; 17:6).

REGSTOEPASSING  (Ex 20; 21:24; )  

Oortreding van die reg is in ‘n baie ernstige lig beskou, veral as die oortreding teen God gemik was of Sy eer aangetas het. Dit is te begrype, want as die mens toegelaat sou word om sy Skepper te oorheers, sou die ganse Koninkryk met rampspoedige gevolge in duie stort.

Strawwe het behels: eerstens die doodstraf, wat vir ‘n groot verskeidenheid oortredings opgelê is, bv lastering van die Naam van God (Lev 24:16), opsetlike doodslaan van ‘n mens (Lev 24;17), ‘n onbevoegde wat die tabernakel betree het (Num 3:10), ‘n valse profeet (Deut 13:5), Hy wat sy vader of moeder slaan of vloek (Ex 21:15, 17), menseroof (Ex 21:16), ens. Die frase, “uitgeroei word onder sy volksgenote uit,” kom meermale voor (Ex 31:14).

Wanneer die misdaad teen die naaste gepleeg is, was vergelding  toelaatbaar op die basis van ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand (Ex 21:24; Lev 24:20; Deut 19:21) en restitusie waarvolgens die oortreder die een wat skade gely het, op ‘n gegewe basis of na die skatting van die priester vir sy skade moes vergoed (Ex 21:19, 36; 22:1,13).

Aanhouding in ‘n gevangenisstraf was nie voorgeskryf nie, moontlik ook omdat Israel, terwyl hulle in die woestyn rondgetrek en in tente gewoon het, nie oor die nodige fasiliteite beskik het nie.

Lyfstraf kon ook opgelê word, maar daar was ‘n beperking van 40 houe gestel op die aantal slae wat toegedien kon word (Deut 25::1-4).

Dit sou goed wees as wetgewers oor hierdie voorskrifte besin; of moet ons argumenteer dat die Wet nie meer in die Christendom na die letter toegepas word nie en dat lyfstraf en die doodstraf nie meer ‘n opsie is nie? Maar wat dan van Ananías en Saffíra wat deur God, met die tussenkoms van Petrus, met die dood gestraf is omdat hulle ‘n leuen vertel het oor die verkoopprys vir hul eiendom (Han 5:1-11)? Wel hieroor kan baie gedebatteer word.

SIMBOLIESE VOORSKRIFTE.

Israel het sommige van God se voorskrifte in die vorm van ‘n prenteboek of videoprente ontvang,

Wanneer ons kyk na die voorskrifte wat Israel ontvang het en moes uitlewe, lyk dit totaal anders as wat vandag van ‘n Christen verwag word. Dit lyk dus asof die Here se wil en planne vir die mens verander het, maar dit is geensinds die geval nie.

Wat wel verskil, is die uitlewing van die onveranderlike beginsels van Sy wil gedurende die twee bedelings of tydperke. Israel, en die ganse mensdom, was geestelik nog in hul kinderskoene en moes soos kindertjies deur middel van “prenteboeke” opgevoed word.

Hulle het natuurlik ook nie elkeen ‘n Bybel in hul tente gehad wat hulle kon bestudeer nie. Daar was nog geen drukperse waarmee groot getalle Bybels gedruk kon word nie en die groot meerderheid mense kon nie eers lees nie. Verder was die Heilige Gees, Wie die mens moet leer om die Bybel te verstaan, ook nog nie op God’s kinders uitgestort nie.

Deur praktiese handelinge, dws dinge wat hulle moes doen of wat hulle nie toegelaat was om te doen nie, moes die mens die dieperliggende beginsels van Sy wil leer ken en uitleef, selfs al het hy dit nie altyd verstaan nie.

Dit is natuurlik ‘n baie effektiewe manier om inligting oor te dra; die hoorder se aandag word geprikkel deur die prentjie van iets wat hy verstaan, dit laat hom daaroor nadink en so ontdek hy self die dieperliggende waarheid en vergeet dit nie weer nie. (Eeue later sou die Here Jesus hierdie metode meesterlik gebruik deur geestelike waarhede in die vorm van gelykenisse (storie vorm) aan Sy hoorders oor te dra.) Maar kom ons kyk nou eers na ‘n aantal voorbeelde van hoe God dit aan israel gegee het.

Geestelike lesse uit die wette oor watter diere die mens kon eet; rein en onrein diere.

Een van hierdie “prent lesse” wat die Here gebruik het was om sekere diere onrein te verklaar en andere rein. Onrein diere kon nie geeët word nie. Hulle moes dus dag vir dag noulettend wees op wat hulle eet. Dit was ook ‘n manier waarop God hule geloof en gehoorsaamheid aan Hom kon toets. Deur ‘n onrein dier te eet, sou ‘n persoon geestelik onrein word en skuldig staan voor God. Alle diere op aarde word natuurlik nie gelys nie maar net die waarmee die volk die meeste in aanraking sou kom. Hulle moes dan, aan die hand van hierdie voorbeelde, besluit oor die reinheid aldan nie, van die nie-gelysde diere.

Op watter gronde het God besluit dat ‘n bepaalde dier rein of onrein sou wees? Sy redes is In sommige gevalle logies, maar in andere moeilik om te verstaan. ‘n Mens kan mos verstaan waarom ‘n vark wat van nature ‘n vuil dier is, deur God onrein verklaar is, so ook die vleis van aas-eters. Daarom is sommige van mening dat dit by God om die mense se gesondheid gegaan het, naamlik dat hulle, hulself aan siektes bloot sou stel deur onrein diere te eet. Hierdie argument hou egter nie altyd water nie.

Die rede waarom die Here veral die vleiseters so geklassifiseer het, kan ook wees omdat hulle afgewyk het van Sy skeppingspatroon. Hy het nooit die bedoeling gehad dat een dier van die liggaam van ‘n ander moes lewe nie. Dit was dus in ‘n afwyking van God se wil en daarom was hulle onrein. Daar was dus ‘n geestelike rede vir God se besluit. Deur hulle vleis te eet, sou die mens deel hê aan hulle onreinheid.

In ander gevalle was Sy redes vir die onrein verklaring van ‘n bepaalde dier nie so duidelik nie, soos in die geval van ‘n bees en ‘n perd; ‘n perd is deur God onrein verklaar op grond daarvan dat hy nie ‘n gesplete hoef het en ook nie herkou nie, terwyl sy lewenswyse tog nie minder “rein” is as die van ‘n bees of skaap nie.

Verder moet ons let op Petrus se visie van die laken met onrein diere waarin die Here vir hom gesê het dat al daardie onrein diere nou deur die Hom, die Here, rein gemaak was (Hand 10:11). Dit het immers nie die vark se gewoontes verander, sodat die eet van varkvleis geen gevaar meer ingehou het nie; die voorskrif het verander, nie die diere nie. Die logiese gevolgtrekking is dus dat die onrein verklaring van sekere diere, ‘n simboliese geestelike doel gehad het wat net vir ‘n tydlank sou geld.

Hierdeur wou die Here dit boonop ook by die mens tuisbring dat Hyself die Een was wat oor rein en onrein besluit en dat ons na Hom moet opsien in die beoordeling van reg en verkeerd. Die mens wil maar alte graag self besluit oor wat hy as rein en onrein sal beskou. Sodoende skeur hy talle bladsye uit sy Bybel uit en behou net dit wat hom pas.

Sommige van God se voorskrifte oor verbode samevoegings maak ook nie altyd sin vir ons logika nie (Lev 19:19). God se gedagtes is hoër as ons s’n (Jes 55:9) en ons sal dikwels in ons lewens te staan kom voor situasies waar ons Sy wil sal moet aanvaar sonder dat ons dit kan verstaan. Ons aanvaar God se voorskrifte omdat Hy God en ons mens is.

Onreinheid van mense as gevolg van ‘n liggaamlike toestand.

Nog ‘n manier waarop die Here Sy volk geleer het om onderskeid te tref tussen rein en onrein, was deur mense wat aan sekere siektes gely het, onrein te verklaar. ‘n Peroon met melaatsheid, bv., was as onrein gesien, moes sy hare laat loshang, sy baard bedek, sy klere skeur, was nie binne die laer toegelaat nie en wanneer hy iemand na hom sien naderkom, moes hy betyds uitroep, “Onrein, onrein!” (Lev 13:45). (Die sieke moes in liefde optree en die inisiatief neem om homself vrywillig af te sonder sodat hy nie sy familie en vriende aansteek nie). Vanuit ‘n gesondheidsoogpunt kan die sin daarvan ingesien word, want dit was ‘n baie aansteeklike siekte waarvoor daar destyds geen behandeling was nie en dit kon die voortbestaan van die ganse laer bedreig.

Daar was egter ook ‘n geestelike rede vir hierdie voorskrif, naamlik dat melaatsheid ‘n sinnebeeld van sonde was. Daar is tot vandag toe geen menslike behandeling om sonde te genees nie – dink maar net aan dwelmverslawing (of jou humeur). Net soos wat die Here bepaal het dat daar fisiese skeiding tussen die gesondes en melaatses moes wees, wou die Here ook dat Sy volk hulle nie met mense wat in lelike sonde volhard, moes vermeng nie en veral nie met die heiden nasies wat hulle later in Kanaän sou omring nie (Deut 7:1-6). Omdat hulle mettertyd versuim het om hierdie voorskrif na te kom en met die heidene ondertrou het, is hulle verlei om afgode te dien en moes God hulle straf deur hulle in ballingskap te laat wegvoer.

Ook vir die Christen geld ‘n soortgelyke reël:

En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige. (2 Kor 6:15-18).

Die voorskrif oor onrein mense het selfs so vêr gereik dat ‘n vrou gedurende haar maandelikse bloedvloeiïng onrein was en selfs nie met haar huismense kontak kon hê nie (Lev 15:19) en so ook ‘n man wat aan een of ander vloeiïng gelei (Lev 15:2) het. Iemand wat ‘n liggaamsgebrek gehad het was ook nie toegelaat om te offer nie (Lev 21:18). Al hierdie liggaamlike afwykings was simbolies van die afwyking van ‘n heilige lewe.

Onreinheid van mense deur kontak met ‘n dooie.

Ook was ‘n persoon wat aan ‘n dooie mens of dier geraak het, onrein beskou en moes hy sekere reinigingsprosedures deurgaan voordat hy weer sy plek in die samelewing kon inneem (Num 17:11). Die Here het  vir Adam en Eva gewaarsku dat hulle sou sterf indien hulle van die verbode boom se vrug eet en sedertdien sterf alle mense omdat ons almal sondig. Die dood is dus nou verbonde aan sonde en die dood is die teenoorgestelde van lewe, daarom mag God se volk geen kontak met die dood gehad het nie, en as dit wel gebeur het, moes daar reiniging plaasvind. Die geestelike betekenis hiervan is dat die mens se blootstelling van homself aan sonde tot sy geestelike dood kan lei.

Oor Israelite se voorskrifte oor onreinheid kan eindelose Skrifgedeeltes aangehaal word maar ons volstaan met hierdie paar voorbeelde omdat dit nie meer vir ons noidig is om dit na te kom nie. Ons moet net maar die onderliggende geestelike lesse daaruit leer.

Maar, leer ons dit? Hoeveel Christene is nie met lyke getroud nie; met iemand wat nog nooit nuwe lewe in Christus ontvang het nie. Is jy dalk nou besig om jou só te verbind? Die persoon mag hom of haar baie vroom voordoen, maar die Heilige Gees woon nie in hom of haar nie. Neem daardie persoon saam met jou na geestelike byeenkomste, praat met hom of haar oor geestelike onderwerpe en bid elke dag saam en toets so of hy of sy dit geniet en of hy of sy soos ‘n lyk daarop reageer. Beeindig tog daardie verhouding voordat dit te laat is.

Simboliek vervat in die voorskrifte in verband met die tabernakel, priesters en offerandes.

Die tabernakel, en wat daarmee saamgaan, was soos ‘n videoprent wat dag vir dag voor die volk afgespeel het en waarin ‘n menigte lesse vervat was. Daardie lesse se doel was in besonder om vir die volk te leer wat hulle moes doen sodat hulle as sondaars met hulle heilige God kon saamleef. Dit word in ‘n afsonderlike studiegids behandel.

BEKLEMTONING VAN GOD SE WETTE
(Waarskuwings en Beloftes, Vervloekinge En Seëninge).

Klossies aan klere (Num 15:37-40).
Voorhoofsband (Ex 13:16; Deut 6:8; 11:18).
Kinders inskerp (Deut 6:7; 11:19).
Beloftes, vermanings, seëninge en vervloekinge (Ex 23:20-33, Lev 26, Deut 4, 6, 8, 9, 10, 72, 28).
Berou; beloftes (Deut 30).
Lees van die Wet elke 7 jaar (Deut 31:9-13).
Tien Gebooie, herhaling (Deut 4:44-5:33).
Vernuwing van die verbond (Deut 29).

DIE VOORREG VAN ISRAEL OM SULKE VOLMAAKTE WETGEWING VAN HOM TE KON ONTVANG HET.

In Deut 4:5-8 wys Moses die volk daarop dat dit ‘n groot voorreg was om as volk uitgesonder te word om alleen ‘n volledige stel volmaakte wette  van God te kon ontvang:

Kyk, ek het julle insettinge en verordeninge geleer soos die HERE my God my beveel het, om so te handel in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem. Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk. Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?

Watter enorme les is nie hierin vir elke Christen opgesluit nie? Wat ‘n guns het die Here nie aan jou bewys dat jy’n volledige Bybel in jou hand kan hou en dít vir die prys van drie of vier brode nie. Dink daaraan! En hoeveel van die Woord het jy al persoonlik bestudeer of gaan sit jy agteroor in ‘n stoel en verwag dat andere dit mooi in blokkies opsny en stukkie vir stukkie in jou mond sit? Eet jy net dit wat aan albei kante gebotter en met twee of drie soorte konfyt smaaklik gemaak is en die res, tesame met die korsies spoeg jy soos ‘n stout kleuter weer uit?

DIE TOEPASSING VAN GOD SE BEGINSELS IN DIE NUWE TESTAMENTIESE BEDELING.

Jesus, die Seun van God en volmaakte mens, het gedurende Sy menswording, elke jota en tittel van die Wet van Moses vervul, eerstens deurdat Hy dit namens die mens volmaak nagekom het (Matt 5:17). Tweedens het Hy dit vervul deur vir al die sondes wat teen die Wet gepleeg is, deur Sy kruisdood te betaal het. Derdens het Hy dit vervul deurdat Hy ‘n einde gebring het aan die armoedige bedeling van “raak nie, smaak nie, roer nie aan nie,” dws die bedeling waartydens die mens deur simboliek die wil van God moes leer.

Hy het in die volheid van die tyd gekom, dws op die regte tyd dat die Vader gereed was om die ou bedeling te beeindig omdat dit uitgedien was, en so het Hy die weg geopen dat die Heilige Gees uitgestort kon word op alle vlees en in die mens kon kom woon. Hy, die Gees van God sou die Wet van God (die wil en gedagtes van God) op die tafels van die mens se hart kom skryf (2 Kor 3:3) sodat hy ‘n baie dieper insig sou hê as wat die Israeliet deur al die simboliek van die ou bedeling kon verkry en deur die kliptafels waarop die Wet deur die vinger van God geskryf was.

In hierdie bedeling van die Heilige Gees word die mens gelei deur die Gees van God om te weet wat die Here se wil is en wat nie. Die nakoming van al die reëls en regulasies is nie meer nodig nie maar hul geestelike betekenis leef voort, en dit moet ons uitleef want dit weerspieël die wil en karakter van God.

Waarom dan al die voorskrifte en waarskuwings in die NT?  Omdat die Christen, ongeag hoe lank hy al met God wandel en tot watter mate hy deur die Heilige Gees vervul is, nog nie altyd geestelik duidelik hoor en sien nie.

Die oorgang van die ou na die nuwe bedeling was vir Israel ‘n groot sprong.

Hierdie oorgang na ‘n nuwe bedeling was vir die Jode moeilik om te aanvaar, selfs vir ‘n man soos Petrus aan wie die Here dit op ‘n dramatiese wyse openbaar het (Hand 10:9-16).

Met ons praat die Here prontuit.

In die daaropvolgende sendbriewe word rein en onrein dinge by die naam genoem (bv  Gal 5:19-22): En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie. Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

God se nuwe verbond is makliker maar ook moeiliker om uit te leef.

Die NT-se bedeling waarin ons nou leef, maak dit in ‘n sin baie makliker om die Here te dien omdat ons nie meer nodig het om al daardie reels en rituele na te kom nie; maar dit is andersyds veel moeiliker, omdat God nie net op jou woorde en dade ag gee nie, maar jou sondige gedagtes as sondige dade sien en toereken. Bv., hy wat selfs net in sy gedagtes met ‘n vrou owerspel pleeg, word geag dit fisies reeds te gedoen het (Matt 5:28).

Die somtotaal wat ons uit Ex tot Deut leer, is dat God heilig is, dat Hy noulettend is en wil hê dat ons ook so op ons lewens moet ag gee, maar ook dat Hy deur Sy Seun vir ons die weg gebaan het om volkome vergifnis vir ons oortredinge te ontvang en deur Sy Gees bekragtig te word om Sy wil in vreugde uit te leef.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → ISRAEL, VOORSKRIFTE EN VERMANINGE, EX-DEU. Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha