HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.
Lees asb. Luk 8:40 – 56 (Sien ook Matt 9:18 – 26 en Mark 5:21 – 43)
Jesus se bediening.
Voordat ons op Jaïrus se verhaal ingaan, laat ons net eers op Jesus ag gee. Sy bediening was besonder veeleisend, meer as wat die gemiddelde geestelike werker om nie eers te praat van die gewone Christen, sal kan hanteer nie. Hy was gedurende die vorige nag in ‘n geweldige storm vasgevang waarin Hy en sy dissipels amper verdrink het. Toe Hy die volgende oggend oorkant die meer aan wal stap, het ‘n boosaardige man (eintlik twee) Hom ingewag en op Hom geskree om weg te gaan. Nadat Hy die besetene van die demone wat hom geteister, bevry het, het die hele gemeenskap teen hom gedraai omdat Hy die oorsaak was dat hulle varke verdrink het en by Hom gepleit om hul gebied te verlaat. So is Hy toe weer terug in die skuit, terug na die Kapernaum kant van die meer en toe Hy daar voet aan wal sit, het ‘n menigte mense so dig om Hom saamgedrom, dat Hy skaars kon beweeg. Wanneer het Hy geëet, gebad, gerus? Sy tyd het nie aan Homself behoort nie. Geleentheid om te ontspan was min. By geleentheid het Hy hieroor gesê: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie.” (Joh 9:4).
Jou en my balansstaat.
God het die dag gemaak en met lig beklee sodat ons uit ons nagrus kan opstaan om die take wat Hy vir ons vir daardie dag beplan het, te volbring. As ‘n mens jou porsie vir die dag behoorlik kon afhandel, slaap jy daardie nag soveel lekkerder. Wat Jesus dus sê, is dat daar in die geestelike sfeer ook dae en nagte is; periodes en geleenthede om Koninkrykswerk te doen en dat ons dit ten beste moet benut, want daar mag dae kom wanneer geestelike dagtyd verby is en daar geen verdere geleentheid sal wees om die werk van God te doen nie. Jesus het geweet dat ook Sý tyd om op aarde te bedien, maar kort sou wees, slegs 3 ½ jaar.
Hoeveel tyd het ék oor? Ek mag dalk skrik indien die Here dit aan my sou openbaar. Daarom moet ons nie op die balkon sit en kyk hoe die lewe by ons verby vloei nie; en dit geld ook vir die 70 plussers. (Miskien moes jy net vir ‘n paar oomblikke stil wees en reflekteer oor hoeveel van jouself jy tot dusvêr afgestaan het om positief met God mee te werk om Sy nuwe Koninkryk in die harte van mense te vestig. Watter persentasie van my inkomste het ek daarvoor gegee; watter persentasie van my 24 uur dae het ek daaraan bestee; watter persentasie van my gebede het ek vir myself gebid en hoeveel vir andere?)
Jaïrus, ‘n leier in sy gemeenskap.
Genoeg daaroor; Jaïrus staan en wag dat ons oor hom en sy dogtertjie moet skryf. Hy was die hoof van die sinagoge en het voor Jesus se voete kom neerval en gepleit dat Hy na sy huis moes kom omdat sy enigste dogtertjie, ‘n meisie van omtrent 12 jaar, sterwende was. In die landelike gebiede, wat vêr van Jerusalem af was, het die Jode “kerkgeboue”, genaamd sinagoges, opgerig waar hulle bymekaar kon kom om na die Woord van God te luister en te aanbid. Een van die plaaslike geestelike leiers was dan aangestel as hoof van die sinagoge.
Jaïrus was so ‘n hoof van ‘n sinagoge en dus ‘n baie belangrike leier in die gemeenskap. Hy het natuurlik streng by die Joodse geloof gehou en die Wet van Moses noukeurig nagekom. Meeste van hierdie geestelike leiers was afgunstig op Jesus want hulle “lidmate” het Jesus as ‘n besondere Man van God gesien, ‘n sterk leier, ‘n wyse leraar, ‘n verstommende wonderbewerker en sodoende hul eie kragtelose leiers verlaat en Jesus aangehang, selfs saam met Hom rondbeweeg.
Jaïrus soek goddelike hulp.
Jaïrus was egter anders. Hy was ‘n nederige man . Hy was eerlik met homself en het erken dat Jesus baie groter as hy was. Ons kan sê dat hy ook ‘n volgeling van Jesus was deurdat hy werklik in Hom geglo het.
Jesus se volgelinge is nie sonder aanslae nie maar hulle het ‘n verbintenis met Iemand oneindig groter as hulself na wie hulle vir hulp kan gaan. Dit is wat Jaïrus gedoen het toe sy dogter so siek geword het. Hy het besef dat die dokters niks vir haar kon doen nie. Sy was reeds sterwende. In plaas daarvan om langer by haar bed te bly en haar te bemoedig, het hy opgespring en na Jesus toe gehardloop. Miskien het iemand vir hom kom sê dat Jesus weer aan wal gestap het. Hy moes hom haas want die rouklaers was reeds besig om in die straat te versamel.
Daar aangekom moes hy met alle mag deur die skare beur om ‘n persoonlike woord met Jesus in te kry. Uiteindelik val hy uitasem en nat gesweet voor Sy voete neer; hy die vername geestelike leier gee nie om wat sy “lidmate” van hom dink nie, hy verneder homself en erken dat sy gebede nie verhoor is nie en dat hy dringend goddelike hulp nodig het.
Jesus gee onmiddellik ag op sy noodkreet en begin om na sy huis toe te stap. Hoop vlam in sy hart op. “Nou gaan my dogter genees word,” juig sy gees.
Uitgestelde hoop.
Skielik, egter, kom daar ‘n oponthoud. Iets moes gebeur het want Jesus het gaan staan en gevra wie Hom aangeraak het. Hierna verstryk baie kosbare minute terwyl Jesus die vrou oorreed om uit te kom en daarna handel Hy eers rustig met haar en haar probleem. Jaïrus trap rond van ongeduld. Di’s vir sy dogtertjie ‘n saak van lewe en dood. Kon Jesus tog nie maar eers aan hóm aandag gee nie? Almal ken dié vrou; sy is al 12 jaar lank siek; kon sy nie maar net nog ‘n uur of twee gewag het nie?
Verydelde hoop.
En dan gebeur presies waarvoor hy gevrees het; daar kom ‘n boodskapper van sy huis en roep oor die skouers van die omstanders , “U dogter is dood, moenie die Meester lastig val nie.” Jaïrus verbleek, sy hande val slap langs sy sye.
Jaïrus het so pas hierdie vrou se getuienis gehoor, hoe sy genees is bloot deur Jesus se kleed in geloof aan te geraak het, en die volgende oomblik ontvang hy die verpletterende nuus dat sy dogtertjie gesterf het. Die bode het hom ook aangeraai dat hy die Meester nie verder moes lastig val nie; dit was alles verby, finaal, vir ewig. Nooit sou hy haar dierbare gesiggie weer sien of haar op sy skoot kon tel nie. Die dood het altyd die laaste sê.
Die vyand van hoop.
Ons het ‘n verskriklike vyand, die duiwel, en hy sluip rond met ‘n emmer vol sand. Waar hy ookal ‘n hart vind waarin God olie gegiet het en waar geloof nou hoog opvlam, soek hy naarstiglik vir ‘n opening waardeur hy sy sand van ontmoediging en twyfel kan gooi om die vuur te blus. O, hy is baie bevrees vir die vuur van geloof want hy weet dit kan so maklik oorvlam na ‘n ander een se hart en nog een en nog een en netnou is ‘n hele dorpie brandende van geloof in God. So wat hy in Jaïrus se hart gestrooi het, was: “Dit is verby. Alles is verby. Jy was te laat. Jy moes vroeër al gekom het. Moenie vir Jesus verder pla nie. Hy sal vir jou kwaadword. Los Hom uit dat Hy die ander siekes gesond kan maak. Jou dogter is nie siek nie, sy is dood, man, dood. Hy kan nou niks meer vir haar doen nie.”
Hernude hoop.
As Jaïrus hierdie demoniese advies gevolg het, sou hy huistoe gegaan, sy vrou vertroos en vir die begrafnis gereël het maar wat doen hy? “Here,” roep uit, “my dogter het nou net gesterwe, maar kom en lê U hand op haar, en sy sal lewe!” Dadelik kom die versekering uit die mond van die Seun van God, “Moenie vrees nie. Glo net en sy sal gered word.”
Die Here hoor ook elke woord wat die duiwel in ons oor fluister en is gereed om self met ons te praat sodat die duiwelsraad van ons swartbord afgevee kan word. Daarom moet ons die ore van ons hart gedurig op Hom gerig hou en wanneer ons ontmoedigende berigte ontvang, moet dit sommer tweede natuur wees om eers te vra, “Jesus, wat sê U hieroor? Wat is U advies?” Ons sal dan die identiese woorde hoor, “Moenie vrees nie, glo net.” Hierdie woorde het Jaïrus in staat gestel om nie in paniek huis toe te hardloop nie, maar om kalm te bly en Jesus na sy huis toe te lei.
Hoop jy of hardloop jy rond?
So dikwels, wanneer vrees ons beetpak, hardloop ons holderstebolder weg van Jesus af om self iets aan die saak te probeer doen. Miskien wil ons ‘n situasie verander waaraan ons niks self kan doen nie, wat net Jesus kan oplos. Al wat ons in werklikheid moet doen, is om kalm te bly, op die almagtige Seun van God te vertrou en netnou maar sal ons ‘n wonderwerk belewe.
Jesus neem oor.
So het Jesus, Jaïrus en die dissipels dan na sy huis toe gestap. Daar aangekom, vind hulle ‘n skare mense saamgedrom wat met luide klaagbetoon oor die afsterwe van die kind, die inwoners van die dorp na die huis laat toestroom. Jesus het dadelik probeer om hulle te kalmeer, om hul droefheid en vrees weg te neem en hul vreugde te herstel met die woorde: “Moenie huil nie, sy is nie dood nie maar slaap.” Hulle het Hom egter net uitgelag en daarmee eintlik gesê: “Moenie Jouself om die bos lei nie. Ons is nie so dom nie; ons weet wanneer ‘n persoon slaap en wanneer hy dood is. Daardie meisie wat in daardie kamer lê, is dood. Daar is geen lewe in haar nie. Sy kan nie wakkergemaak word nie. Sy is vir ewig weg.”
Slaap of dood?
Waarom het Jesus gesê dat die dogtertjie net slaap as Hy geweet het sy is dood? Hy het presies dieselfde oor Lasarus gesê; dat hy net geslaap het, terwyl hy inderdaad dood was. Miskien wou Hy hê dat die mense moes verstaan dat dit vir Hom net so maklik was om ‘n dooie persoon uit die dood op te wek, as om ‘n slapende persoon wakker te maak. Hy, as God, het toegang tot die plek waarheen die gees van die mens na die dood heengaan. Sy stem kan ook daar gehoor word en Hy het die outoriteit om die gees van die mens wat reeds uit hierdie wêreld vertrek het, terug te roep na sy lewelose liggaam en daardie liggaam weer te laat opstaan tot sy aardse lewe, net soos wat ons die mag het om ‘n slapende persoon op sy naam te roep en hom uit sy slaap uit wakker te maak om verder deel te hê aan die doenigheid van hierdie lewe.
Die “hopers” is ingesluit maar die klaers uitgesluit.
Nog ‘n vraag: waarom het Hy almal uit die kamer uitgewys voordat hy hierdie groot wonderwerk verrig het? Dit is moeilik om te sê. In die geval van Lasarus se opwekking, het Hy die wonder tog ten aanskoue van al die begrafnisgangers gedoen. Miskien het Hy hier gevoel dat almal nie opreg was in hul roubetoning nie. Die een oomblik het hulle gehuil en die volgende oomblik gelag toe Hy sê dat die dogtertjie net slaap. Tweedens is dit ‘n ontsagwekkende belewenis om te sien en ervaar hoedat God ‘n dooie opwek. Die ontsaglike krag van die Almagtige word openbaar en die teenwoordiges moet groot respek betoon want hulle bevind hulleself inderdaad op heilige grond.
Dit kan vergelyk word met die insident toe Moses die brandende braambos genader het of toe hy teen die hang van die berg Sinai op is om God in die wolk en weerlig te ontmoet. Alhoewel God Homself nie hier in donder, rook en weerlig openbaar het nie, was Hy teenwoordig deur Sy Seun en deur sy Gees. Dit was nie ‘n plek vir sensasiesoekers nie, maar vir hulle wat die grootheid van die oomblik begryp het en agterna eerbiedige getuienis sou lewer van die magtige werke van die Here. Soms is dit goed dat ons in herinnering roep hoedat Hy vyftigduisend manne van Bet-Semes gedood het omdat hulle die Ark van die Verbond bekyk het, nadat dit deur die Filistyne teruggestuur was (1 Sam 6:19).
In hierdie geval het die Here Jesus slegs die dogtertjie se vader en moeder en sy drie mees vertroude dissipels te wete, Petrus, Jacobus en Johannes met Hom saam ingeneem. Hulle het ten volle besef dat dit geen geringe saak was vir die mens om die ewige God te versoek dat ‘n persoon wat die grenslyn na die ewigheid oorgesteek het, sal terugtree en weer deel word van die hier en die nou nie.
Die hoop (in Christus) beskaam nie.
Let ook op met watter geringe inspanning Jesus die kindjie na die huidige lewe teruggebring het. Hy het net maar daardie lewelose handjie in sy eie vasgegryp en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op.” Ineens het haar gees na haar liggaam teruggekeer en het sy opgestaan. Toe gee Jesus aan haar oorstelpte ouers opdrag om vir haar iets te ete te gee.
Blaas tog nie jou eie beuel nie.
Hy het ook bevel gegee dat hulle nie moes rondgaan en wat daar gebeur het, rugbaar maak nie. Die lewende kind sou self voldoende getuienis daarvan wees. Jesus, alhoewel Hy baie wonderwerke gedoen het om mense te help om tot geloof in Hom te kom, naamlik dat Hy die Seun van God en die Verlosser van die wêreld was, het nooit daarna gestreef om roem vir Homself te verwerf en Homself te verheerlik nie.
Ons moet insgelyks, hoe meer God ons gebruik, wegskram van persoonlike publisiteit. Die mense om ons begin tog so maklik na ons opsien asof ons oor bonatuurlike krag van ons eie beskik en versuim dan om eer en heerlikheid te bring aan die Enige God wat deur ons werk.
Ook hierdie wonderwerk bewys dat Jesus waarlik die Seun van God was en is.
……….