Jeremia, profeet in pantser

 

A. OORSIG OOR SY LEWE EN BEDIENING

Toe ek onlangs weer die verhaal van die profeet Jeremia gelees het, kon ek nie anders nie as om diep in
die hart geraak te word deur die voorbeeld van hierdie vreeslose dienskneg van God. Ook moes ek myself
die vraag afvra tot watter mate ek gewillig sou wees om in sy voetspore te volg.

Watter onverskrokke mondstuk van God was hierdie man nie. Vir meer as 40 jaar het die Here deur hom
gespreek en was hy dag vir dag gewillig om bespotting en vervolging te dra, terwyl die trane so dikwels oor sy wange gerol het wanneer hy die ondergang van sy volk en hul wegvoering in ballingskap aan hulle
moes verkondig.

Was daar ooit ‘n man van God wat soveel ingesit en so min sigbare resultate behaal het, wat soveel
onbaatsugtige diens verrig het? Hoe onwaardig voel ek nie om oor so ‘n groot man te skryf en te probeer
om reg aan hom te laat geskied nie. Maar ek doen dit omdat ek vermoed dat baie van u my gevoelens oor die uitlewing van die opdrag om mondstuk vir God te wees, deel, en dat die Here ons deur die betragting van hierdie man se lewe tot ‘n dapperder bediening sal aanspoor.

Dit sê ek van meet af aan met groot verwagting omdat dit vir my reeds vanuit die eerste hoofstuk van die
boek Jeremia duidelik is dat God wat ‘n persoon vir ‘n bepaalde bediening roep, hom ook daarvoor
toerus.

B. JEREMIA SE ROEPING AS PROFEET

Wie was Jeremia en waarvandaan het hy gekom? Uit die priesterordes van Anatot in die landstreek van
Benjamin (Jer 1). Dit was daar waar hy die stem van God gehoor het wat hom tot hierdie unieke bediening geroep het. Dit was in die dertiende jaar van koning Josia se regering oor Juda en Jeremia was toe maar nog baie jonk.

Maar eintlik dateer God se planne vir hom terug na die oneindig vêrre verlede toe die Here die hemel en
aarde en almal wat dit sou bewoon, beplan het. Want toe die Here met hom praat (Jer 1:4-10) sê Hy vir
hom:

“Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak.”

Sy verbouereerde antwoord hierop was: “Ag, Here, Here, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk.”
Maar God antwoord hom: “Moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek. Wees vir hulle nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te
red, spreek die Here.”

Toe strek die Here sy hand uit en raak sy lippe aan en sê vir hom: “Hiermee lê Ek my woorde in jou mond.
Kyk, Ek stel jou vandag aan oor die nasies en oor die koninkryke om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant.”

Maar God sou nog veel meer doen om hom vir sy bomenslike taak toe te rus en sê vir hom:

“Jy dan, omgord jou heupe en maak jou klaar en sê aan hulle alles wat Ek jou sal beveel; wees nie vir hulle verskrik nie, dat Ek jou nie vir hulle laat skrik nie. Want kyk, Ek maak jou vandag ‘n versterkte stad en ‘n
ysterpilaar en kopermure teen die hele land: teen die konings van Juda, teen sy vorste, teen sy priesters en teen die volk van die land. En hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou,
spreek die Here, om jou uit te red.” (Jer 1:9-10; die beklemtoning is my eie).

Gehul in hierdie harnas van God, het hy uitgegaan en vir meer as veertig jaar, tot in die elfde jaar van koning Sedekia, die swaard van God se woord geswaai teen die volk van Israel, hul politieke en geestelike leiers en teen verskeie ander volke soos die Here hom beveel het om te doen. Dit was hierdie harnas wat
hom fisies, emosioneel en geestelik so beskerm het dat hy deur al daardie jare man alleen die stryd kon
voer sonder om in die proses te sneuwel of moed op te gee.

Kom ons stap so ‘n bietjie saam met hom deur sy bediening, kyk wat hy gedoen het en luister na sy
onbevreesde woorde.

C. SY WOORDE TEEN SY VOLK, ISRAEL, EN HULLE POLITIEKE LEIERS

H2
1 En die woord van die Here het tot my gekom en gesê:

2 Gaan en roep uit voor die ore van Jerusalem en sê: So spreek die Here: Ek onthou die geneentheid van jou jeug, die liefde van jou bruidstyd, toe jy agter My aan geloop het in die woestyn, in ‘n onbesaaide land. 7 En Ek het julle gebring in ‘n land van tuine, om die vrugte en die goeie daarvan te eet; maar toe julle inkom, het julle my land verontreinig en my erfenis ‘n gruwel gemaak. 12 Verbaas julle hieroor, o hemele, en huiwer, verstyf heeltemal van skrik, spreek die Here.

13 Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.

22 Want al sou jy jou was met loog en baie seep vir jou neem, tog bly jou ongeregtigheid ‘n vlek voor my aangesig, spreek die Here Here. 23 Hoe kan jy sê: Ek is nie verontreinig nie; ek het nie agter die Baäls aan geloop nie? Kyk jou weg in die dal; weet wat jy gedoen het, jou vinnige jong kameelkoei wat rond hardloop! 24 n Wilde-eselin, gewend aan die woestyn, wat in haar heftige begeerte die wind opsnuiwe – haar hittigheid, wie sal dit keer? Almal wat haar soek, hoef hulle nie te vermoei nie; in haar maand sal hulle haar kry.

H3
2 Slaan jou oë op na die kaal heuwels en kyk! Waar is jy nie onteer nie? Aan die paaie het jy vir hulle klaar gesit soos ‘n Arabier in die woestyn, en jy het die land ontheilig deur jou hoererye en deur jou boosheid. 3 En die reënbuie is ingehou, en daar was geen laat reëns nie. Maar jy het ‘n hoerevoorhoof gehad, jy het geweier om jou te skaam.

H5
8 Soos vet gevoerde hingste swerf hulle rond; hulle runnik elkeen na die vrou van sy naaste.

H6
16 So spreek die Here: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie wandel nie.

D. SY WOORDE TEEN DIE GEESTELIKE LEIERS

H5
30 ‘n Ontsettende en afskuwelike ding het in die land gebeur: 31 die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal julle doen aan die einde daarvan?

H6
14 Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. 15 En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie.

H14
14 En die Here het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ‘n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart. 15 Daarom, so spreek die Here: Aangaande die profete wat profeteer in my Naam sonder dat Ek hulle gestuur het, en wat sê: Daar sal geen swaard of hongersnood in hierdie land wees nie – dié profete sal deur die swaard en die hongersnood omkom.

H23
30 Daarom, kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die Here, wat my woorde steel, die een van die ander. Kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die Here, wat hulle eie tong gebruik en sê: Die Here spreek! 32 As hierdie volk of profeet of priester jou dan vra en sê: Wat het die Here gelas? – dan moet jy vir hulle sê: Júlle is die las. En Ek sal julle afwerp, spreek die Here.

H28
33 En die profeet Jeremia het aan die profeet Hanánja gesê: Luister tog, Hanánja! Die Here het jou nie gestuur nie, maar jy het hierdie volk op leuens laat vertrou. 34 Daarom, so sê die Here: Kyk, Ek werp jou van die aarde af weg; hierdie jaar sal jy sterwe, omdat jy afval van die Here verkondig het. 35 En die profeet Hanánja het in dié jaar, in die sewende maand, gesterwe.

E. VERVOLGING WAT HY ONDERGAAN HET EN GOD SE VERLOSSING UIT DIE NOOD

H11
19 Maar ek was soos ‘n mak lam wat hulle lei om te slag; en ek het nie geweet dat hulle planne teen my beraam het nie: Laat ons die boom met sy vrugte verwoes, en laat ons hom uitroei uit die land van die lewendes, sodat aan sy naam nie meer gedink word nie!

H12
3 Want ook jou broers en die huis van jou vader, ook hulle het troueloos teen jou gehandel; ook hulle roep jou hardop agterna. Glo hulle nie as hulle vriendelik met jou spreek nie.

H20
1 En Pashur, die seun van Immer, die priester – wat hoofopsigter was in die huis van die Here – het Jeremia hierdie woorde hoor profeteer. 2 Toe het Pashur die profeet Jeremia geslaan en hom in die blok gesit wat in die Boonste Poort van Benjamin was, by die huis van die Here.

3 Here, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin; ek was ‘n belagging die hele dag, almal saam spot met my. 4 Want elke keer as ek spreek, moet ek dit uitskreeu, moet ek roep: Geweld en verdrukking! – omdat die woord van die Here vir my ‘n smaad en spot geword het die hele dag. 5 En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos ‘n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie.
6 Want ek het die skindertaal van baie gehoor – skrik rondom! – Klaag aan, en ons sal hom aanklaag! Al die mense wat met my in vrede lewe, loer op my val; hulle sê: Miskien laat hy hom verlei, dan kan ons hom oorweldig en ons wraak op hom neem.
7 Maar die Here is met my soos ‘n geweldige held; daarom sal my vervolgers struikel en nie oorwin nie; hulle staan diep beskaamd, omdat hulle nie geslaag het nie, ‘n ewige smaad wat nie vergeet sal word nie.

H26
8 En die priesters en die profete en die hele volk het Jeremia hierdie woorde hoor spreek in die huis van die Here. 9 En toe Jeremia klaar gespreek het alles wat die Here beveel het om aan die hele volk te sê, het die priesters en die profete en die hele volk hom gegryp en gesê: Jy moet sekerlik sterwe! 10 Waarom het jy in die Naam van die Here geprofeteer en gesê: Hierdie huis sal soos Silo word, en hierdie stad sal verwoes word, sonder inwoner? En die hele volk het bymekaargekom teen Jeremia in die huis van die Here.

11 Toe die vorste van Juda hierdie woorde hoor, het hulle uit die huis van die koning opgegaan na die huis van die Here; en hulle het gaan sit by die ingang van die Nuwe Poort van die huis van die Here. 12 En die priesters en die profete het met die vorste en met die hele volk gespreek en gesê: Hierdie man verdien die dood, want hy het geprofeteer teen hierdie stad, soos julle met jul ore gehoor het.

13 Maar Jeremia het al die vorste en die hele volk toegespreek en gesê: Die Here het my gestuur om teen hierdie huis en teen hierdie stad te profeteer al die woorde wat julle gehoor het. 14 Maak dan nou julle weë en julle handelinge goed, en luister na die stem van die Here julle God; dan sal dit die Here berou oor die onheil wat Hy teen julle gespreek het. 15 Maar ek, kyk, ek is in julle hand; maak met my soos dit goed en reg is in julle oë. 16 Maar weet verseker as julle my doodmaak dat julle onskuldige bloed bring op julleself en op
hierdie stad en op sy inwoners; want die Here het my waarlik na julle gestuur om al hierdie woorde voor julle ore te spreek.

17 Toe sê die vorste en die hele volk aan die priesters en die profete: Hierdie man verdien nie die dood nie, want hy het met ons gespreek in die Naam van die Here onse God.

H36
In die vierde jaar van koning Jojakim het Jeremia in opdrag van God alles wat Hy vir hom gesê het, in
‘n boekrol geskryf. Dit is in die hande van die vorste van die volk gegee en hulle was so aangegryp deur die ernstige implikasies daarvan dat hulle dit dadelik aan die koning laat voorlees het: 19 ……. En Jehúdi het dit gelees voor die ore van die koning en van al die vorste wat by die koning staan, 20 terwyl die koning gesit het in die winterpaleis, in die negende maand, met die brandende vuurpan voor hom. 21 En elke keer het hy, as Jehúdi drie of vier kolomme gelees het, dit met die mes van ‘n skrywer stukkend gesny en in die vuur gegooi wat op die vuurpan was, totdat die hele rol in die vuur op die vuurpan verteer was.

22 En hulle was nie verskrik nie en het hulle klere nie geskeur nie – die koning en al sy dienaars wat al hierdie woorde gehoor het; 23 alhoewel selfs Élnatan en Delája en Gemárja by die koning daarop aangedring het om die rol nie te verbrand nie; maar hy het na hulle nie geluister nie.

24 Toe gee die koning bevel aan Jerágmeël, die seun van die koning, en Serája, die seun van Asriël, en Selémja, die seun van Abdeël, om die skrywer Barug en die profeet Jeremia te vang. Maar die Here het hulle verberg.

H37
15 En die vorste het vir Jeremia baie kwaad geword en hom geslaan en hom in die gevangenis gesit in die huis van die skrywer Jónatan; want hulle het daar ‘n gevangenis van gemaak. 16 Toe Jeremia in die kerker en in die gewelwe kom en Jeremia daar baie dae gebly het, 17 het koning Sedekía gestuur en hom laat haal; en die koning het hom in sy huis in die geheim gevra en gesê: Is daar ‘n woord van die Here? Toe antwoord Jeremia: Ja. Ook sê hy: U sal in die hand van die koning van Babel oorgelewer word.

21 Toe gee koning Sedekía bevel dat hulle Jeremia onder toesig moet hou in die voorhof van bewaking en aan hom daagliks ‘n skyf brood uit die Bakkerstraat moet gee, totdat al die brood van die stad op was. So het Jeremia dan in die voorhof van bewaking gebly.

H38
1 Toe het die vorste aan die koning gesê: Laat hierdie man tog gedood word, want so maak hy die hande van die krygsmanne slap wat in hierdie stad nog oor is en die hande van die hele volk deur sulke woorde tot hulle te spreek; want dié man soek nie die vrede van hierdie volk nie, maar die onheil.
2 En koning Sedekía het gesê: Kyk, hy is in julle mag, want die koning kan niks teen julle doen nie. 3 Toe neem hulle Jeremia en gooi hom in die put van Malkía, die seun van die koning, wat in die voorhof van bewaking was; en hulle het Jeremia met toue laat afsak. En in die put was geen water nie, maar modder; en Jeremia het in die modder gesak. 
4 En toe Ebed-Meleg, die Kusiet, ‘n hofdienaar wat in die paleis van die koning was, hoor dat hulle Jeremia in die put gegooi het – die koning het toe in die Benjaminspoort gesit – 5 het Ebed-Meleg uit die paleis van die koning gegaan en met die koning gespreek en gesê: 6 My heer die koning, hierdie manne het verkeerd gehandel in alles wat hulle die profeet Jeremia aangedoen het, wat hulle in die put gegooi het; hy sal tog sterwe van honger op die plek waar hy is; want daar is geen brood meer in die stad nie. 7 Toe gee die koning aan Ebed-Meleg, die Kusiet, bevel en sê: Neem hiervandaan dertig manne met jou saam en trek die profeet Jeremia uit die put op voordat hy sterwe.
8 Daarop het Ebed-Meleg die manne met hom saamgeneem en ingegaan in die paleis van die koning onder die voorraadkamer en daarvandaan verslyte en geskeurde lappe geneem wat hy na Jeremia in die put met toue laat afsak het. 9 En Ebed-Meleg, die Kusiet, het vir Jeremia gesê: Sit tog die verslyte en geskeurde lappe onder jou armholtes onder die toue; en Jeremia het so gedoen. 10 En hulle het Jeremia aan die toue opgetrek en hom uit die put uitgehaal. En Jeremia het in die voorhof van bewaking gebly. 28 En Jeremia het in die voorhof van bewaking gebly tot op die dag dat Jerusalem ingeneem is. ….

F. JEREMIA SE OPSTAND EN KLAGTES TEEN GOD

Wanneer ‘n mens soveel moet ly ter wille van die Here en van die verkondiging van sy Woord, kan dit nie
anders nie as dat vlees en bloed in opstand sal kom en dat die dienaar van die Here sy pyn voor die Here
sal uitstort. Dit vind ons ook dikwels in Dawid se Psalms. Selfs Job, in sy tyd die vroomste man op aarde,
het herhaaldelik bly vra “Here, maar waarom, waarom tog het u my uitgesonder dat ek so moet ly?”
Hier volg iets van wat soms gedurende daardie veertig jaar in Jeremia se hart omgegaan het wanneer die
die vyand ‘n opening in sy goddelike pantser ontdek en sy vurige pyle in sy siel ingedring het. Maar let
ook op hoedat die Here hom te hulp gesnel en sy weeklag in ‘n loflied verander het.

KLAAGL. H3
1 Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid.
2 My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig.
3 Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my.
4 Hy het my vlees en my vel laat wegteer, my gebeente verbreek.
5 Hy het my met ‘n bouwerk omsingel van gif en moeite.
6 Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is.
7 Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak.
8 Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord.
9 Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak.
10 Hy is ‘n beer wat my voorlê, ‘n leeu in skuilplekke.
11 Hy het my weë laat wegdraai en my verskeur, my tot ‘n woesteny gemaak.
12 Hy het sy boog gespan en my as ‘n teiken vir die pyl opgestel.
13 Hy het die pyle uit sy pylkoker in my niere laat ingaan.
14 Ek het ‘n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag.
15 Hy het my met bitter kruie versadig, my genoeg wilde-als laat drink.
16 En Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt, my in die as neergedruk.
17 En U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet.
18 Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die Here.
19 Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wilde-als en die gif.
20 As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my.
21 Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop:
22 dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie omgekom het nie, want sybarmhartighede het
geen einde nie;
23 hulle is elke môre nuut; u trou is groot.
24 Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.
25 Goed is die Here vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.
26 Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die Here.

G. SY DROEFHEID OOR DIE TOESTAND VAN DIE VOLK

Wanneer ons luister na sommige van die woorde wat hy teenoor sy volk uitgespreek het, klink dit baie
kras en byna harteloos, maar lig ons daardie staal helm wat God aan die begin van sy bediening aan hom
uitgereik het, op, sien ons hoedat die trane oor sy wange rol en hoor ons hom prewel:

H9
1 Ag, was my hoof maar water en my oog ‘n fontein van trane! Dan sou ek dag en nag beween die wat verslaan is van die dogter van my volk.

H. SY HOOPVOLLE WOORDE AAN ISRAEL VIR DIE TOEKOMS

Al was dit miskien maar ‘n skrale troos, het die Here tog ook aan hom die voorreg geskenk om hoopvolle,
troosvolle woorde aan sy volk te verkondig, al het dit dan ook op die verre toekoms op die terugkeer uit
die ballingskap gesien. Watter heerlike ligstrale moes dit nie in sy wolkbedekte bedieningshemel gewees
het nie.

H51
4 Babel was in die hand van die Here ‘n goue beker wat die hele aarde dronk gemaak het; die nasies het van sy wyn gedrink; daarom het die nasies rasend geword. 5 Skielik het Babel geval en is verbreek. Huil oor hom; gaan haal balsem vir sy pyn! Miskien sal hy gesond word. 6 Ons het aan Babel medisyne gegee, maar hy het nie gesond geword nie; verlaat hom en laat ons trek, elkeen na sy land; want sy strafgerig raak tot aan die hemel en verhef hom tot by die wolke.
7 Die Here het ons geregtighede te voorskyn gebring; kom en laat ons in Sion vertel die werk van die Here onse God!
H51
60 En Jeremia het in ‘n boek geskrywe al die onheil wat oor Babel sou kom, al hierdie woorde wat oor Babel geskrywe is. 61 En Jeremia het vir Serája gesê: As jy in Babel kom, dink daaraan en lees al hierdie woorde; 62 en sê: o Here, U het oor hierdie plek gespreek om dit uit te roei, sodat daar geen inwoner, mens sowel as dier, sal wees nie, maar dat dit ewige wildernisse sal wees.
63 En as jy hierdie boek klaar gelees het, moet jy ‘n klip daaraan vasmaak en dit binne-in die Eufraat gooi
64 en sê: So sal Babel sink en nie weer opkom nie weens die onheil wat Ek oor hom bring; ……………
H23
2 En Ek self sal die oorblyfsel van my skape versamel uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het; en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld, en hulle sal vrugbaar wees en vermenigvuldig. 3 En Ek sal herders oor hulle verwek wat hulle sal oppas; en hulle sal nie meer bevrees of verskrik wees of vermis word nie, spreek die Here.
4 Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. 5 In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.

I. GOD SE BOODSKAP TOT ONS UIT JEREMIA SE LEWE EN UIT SY BOODSKAP

Dit is nie my doel om die hooftema van die boek hier in historiese konteks te bespreek nie, maar eerder
om ‘n belangrike praktiese les vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges uit die lewe van die profeet te
haal want daar staan geskrywe in Jak 5:10:

“Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here
gespreek het.”

Genadiglik is ons nie geroep om ‘n bediening soortgelyk aan dié van Jeremia te beoefen nie. Syne was
uniek: hy het opgetree op ‘n tydstip toe Israel se lot reeds verseël was, toe die Here klaar besluit het dat
daar geen ander uitweg sou wees as om hulle in ballingskap te laat gaan om hulle van hul sondes en
afgodediens te genees nie.
Ons boodskap is goddank anders: dit is ‘n blye boodskap van genade en verlossing en hoop en oorvloed.
Ons boodskap is Jesus se boodskap soos wat Jesaja dit gestel het:

“Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; … ”. (Jes 61:1).

Ons boodskap is ‘n engele boodskap:

“En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.” (Luk 2:10,11).

Ons sê nie “Bekeer julle of julle sal in ballingskap gaan” nie, nee ons sê “Julle is reeds in ballingskap weens
julle sonde maar Jesus het gekom, gesterf en opgestaan en nou is dit die tyd van verlossing, tyd dat jou
verbanning vanuit die teenwoordigheid van God beeindig word. Staan op uit die stof want Babel is
geoordeel en sy juk is verbreek. Daarom kom nou en laat julle red al die eindes van die aarde.”

(Hoe sou Jeremia nie gestraal het as hy in ons dag geleef en hierdie vreugdevolle boodskap kon verkondig nie want die “Regverdige Spruit van Dawid” van wie hy geprofeteer het dat Hy nog sou kom (Jer 33:15), het in ons dag reeds gekom, ja tot binne-in ons harte gekom en sy koninkryk van vrede daar kom vestig.)

Tog moet ons weet dat ook hierdie blye boodskap nie deur almal met blydskap ontvang sal word nie want ons leef in ‘n God-vyandige wêreld. Wat Jeremia destyds van die mens se hart gesê het, is steeds van toepassing:

“Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jer 17:9).

Nee, die meeste mense buig nie meer voor sigbare afgode nie maar die tegnologiese ontwikkeling het dit
vir die media moontlik gemaak om die afgode van wellus, pornografie, haat, wreedheid, hebsug en so
meer, binne-in ons huise te kom neersit sodat dit nie meer nodig is om ‘n esel op te saal en ‘n lang
afstand te ry om ‘n heilige boomstam te gaan aanbid of ‘n kalf êrens op ‘n hoë heuwel aan ‘n grynsende
beeld te offer nie, nee die mens kan dit nou sommer daagliks doen vanuit die gerief van sy eie
gemakstoel.

En wanneer ons soos ‘n Jeremia hierteen profeteer en sê “So spreek die Here, Here,” word ons bespot,
uitgelag of hardhandig met woorde gearresteer en aan die kruis van liefdeloosheid of onsensitiwiteit
vasgespyker.

Humanisme het aan die mens al hoe meer regte toegeken, hom al hoe belangriker gemaak sodat hy voor
niks en niemand meer die knie wil buig nie; waarom sal hy dan ook, as hy self op die troon kan sit, sy eie
god kan wees, sy eie koninkryk kan skep en sy eie universele reëls vir daardie koninkryk kan formuleer?
Daarom, net soos in die dae van Jeremia, ontbreek dit nie aan valse profete wat stryd voer teen die
verkondiging van die ware Woord van God nie. In ons dag gaan dit net ‘n stap verder, want nou is God
die Seun geopenbaar in die vlees en is die aggressie van hierdie magte op Hom gekonsentreer om sy
godheid te probeer aftakel tot die status van ‘n gewone mens, want dan hoof ons mos nie meer sy Woord
as absoluut te eerbiedig nie, kan ons met Hom in gesprek tree, debatteer oor die wenslikheid aldan nie
van die reëls wat Hy neergelê het. Dan praat ons met Hom soos een god teenoor ‘n ander.

Daarom moet ons weet dat die Jeremia stryd nog lank nie op aarde volstry is nie en as ek die Skrif reg
verstaan, sal dit net al heftiger word namate die “Dag van die Here” naderkom. Daarom moet ons weet
dat ons ook in mindere of meerdere mate sal deel in Jesus, Petrus, Jakobus, Paulus en al die menigte
ander verkondigers van die Evangelie, se stryd teen die magte van die bose wat gewoonlik deur ons
medemense ‘n aanslag op ons sal maak om te probeer om ons die mond te snoer en uit te skakel uit die
oorlog wat tussen die magte van die Lig en die magte van duisternis woed.

Om vir hierdie stryd paraat te wees, is dit belangrik dat ons, ons opdrag duidelik verstaan en deeglik
verskans is in ons goddelike pantser. Kom ons kyk so ‘n bietjie daarna.

J. ONS ROEPING EN OPDRAG

Mt 28:19 “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en
die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Was Jeremia deur God geroep en het hy sy opdragte vir sy bediening uit die Here se mond ontvang; so is
ons ook geroep en gesê wat ons moet doen. Ons taak is om dissipels te maak en dit behels, in ‘n
neutedop, om andere te help om na die beeld van Jesus verander te word.

Om dit te kan doen, hoof ek ook nie “’n Groot Christen” te wees nie; nee al wat ek moet doen is om elke
stappie wat ek op die weg van heiligmaking vorder, elke nuwe takkie en blaartjie wat die Here uit my laat
uitspruit, met andere te deel en vir hulle te bid sodat dit ook vir hulle ‘n werklikheid sal word. Eerstens
natuurlik met my huisgesin, maar dan kring dit wyer uit na elkeen wat die Here vir dié doel oor my pad
bring.

K. ONS TOERUSTING EN PANTSER

Hand 1:8 “ .. maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies
wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.”

Net twee gedagtes hieroor:

1. Het God aan Jeremia ‘n pantser uitgereik? Aan ons Gee Hy oneindig meer want ons boodskap
is groter as dié van Jeremia. Die Heilige Gees is ons Nuwe Testamentiese Pantser en
Wapenrusting. Soos wat Hy die vreesbevange Petrus toegerus het om op Pinksterdag vreesloos
die Blye Boodskap uit te basuin, so doen Hy ook vir elkeen wat aanmeld vir diens. Ons is ook
“Profete in Pantser.”
2. Om getuie te wees is die intreevlak van die verkondiging van die Boodskap van Verlossing. Dit
is die mins-konfronterende manier om Jesus se Naam te bely. Dit behels bloot net dat ek vir
ander sal vertel wat Hy vir my beteken, hoe dit gekom dat Hy my gered het, wat Hy daagliks vir
my beteken en hoedat Hy my gebede beantwoord. Getuie wees, beteken dus slegs dat ek vir
andere van my verhouding met Jesus vertel, nie dat ek met hulle oor hulle verhouding met Hom
praat nie. Dit is die intreevlak, dit is so maklik; probeer dit gerus!

L. ONS STRYD EN OORWINNING

Mat 5:10 –16 “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die
koninkryk van die hemele. Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande
kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele;
want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.

Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug
nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. Julle is die lig van die wêreld.
‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit
onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só
skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”

Die mondstuk van God, sal altyd ‘n teiken van die Satan wees, dit moet ons weet. Miskien sal dit nie met
u en my so rof gaan soos met Jeremia nie. Mag ons nooit geslaan word of in ‘n modderput of kerker
beland nie, maar dat ons pyn en stryd sal ervaar, dit is gewis.

Ek herinner my nog goed hoedat ‘n familielid van ‘n baie siek vrou my eendag in die hospitaal langs haar
bed heftig teegestaan en van harteloosheid beskuldig het, toe ek die sieke na die Here wou lei. Ek moes
maar sluk en sluk en wag totdat die onstuimige, onbegrypende dame koers gekry het. Maar toe was die
besoektyd verby en moes ek baie mooi by die personeel pleit om nog ‘n rukkie met die ernstige sieke wat
die volgende dag geopereer sou word, te kon deurbring omdat ek aanhoudend bewus was dat God vir my sê om nie die stryd gewonne te gee nie.

Groot was my beloning toe die pasiënt kort daarna die Here Jesus as Verlosser aangeneem en uit haar
geestelike ballingskap uitgekom het. Groter nog was my vreugde toe ek jare later van haar dogter
verneem het dat sy voor haar dood met sekerheid getuig het dat sy die Here gevind het.

Daardie dag se stryd was die moeite werd.  Dit is altyd die moeite werd.  Dit is “die regte ding om te doen.”  Kom ons dink aan die voorbeeld van Jeremia, en kom ons wees op ons beurt, vir ons geslag, ‘n profeet, ‘n spreekbuis, vir Christus.  

……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → Jeremia, profeet in pantser . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha