A. DIE TWEE INSIDENTE
In al vier Evangelies word vertel van ‘n vrou wat vir Jesus tydens ‘n maaltyd gesalf het en hoe Hy haar optrede verdedig en geprys het. Dit is naamlik in Matt 26:6-13, Mark 14:3-9, Luk 7:36-50 en Joh 12:1-7 vir ons opgeteken. Die feit dat soveel plek in die Skrif aan hierdie twee gebeure afgestaan word, sê alreeds vir ons dat ‘n baie belangrike geestelike les daarin opgesluit is, ‘n les waarvan Jesus wil hê dat ons terdeë kennis moet neem, moet oordink en moet uitleef.
Die eerste drie evangelies verhaal die storie van die onbekende sondares en in die Lukas evangelie word dit in die meeste detail beskryf. Daarom gaan ons daardie vertelling eerste bestudeer. Daarna sal ons die Johannes evangelie se verhaal van Maria se salwing van Jesus van naderby bekyk en ook ‘n bietjie spekuleer of hierdie twee vroue dalk een en dieselfde persoon kon gewees het.
B. DIE ONBEKENDE SONDARES UIT BETÁNIË
Luk 7:36: En een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die huis van die Fariseër gekom en aan tafel gegaan. (37) En toe ‘n vrou in die stad, wat ‘n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy ‘n albaste fles met salf gebring (38) en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf. (39) Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy ‘n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ‘n sondares.
Ons lees van Jesus, Simon, en ‘n sondige vrou.
Die agtergrond tot die verhaal
Van Jesus hoof ons nie veel te sê nie want ons weet reeds baie omtrent Hom; naamlik dat Hy die Seun van God was wat mens geword het om vir ons sondes deur Sy kruisdood te kon betaal sodat ons weer met God versoen kon word. Sy bediening daar in Palestina was uiters kragtig. Hy het allerhande siektes genees, duiwels uit besetenes uitgedryf, dooies opgewek en veel meer. Hierdeur het Hy God se krag oor die duiwel, die natuur en siekte openbaar, maar ook Sy tere liefde aan die mens bewys.
Vir baie was dit ‘n heerlike, verblydende openbaring want die geestelike leraars van daardie tyd, veral die Fariseërs orde, het die Here aan die mens voorgehou as ‘n onverbiddelike regter wat onredelike eise aan die gevalle mens gestel en hom dan genadeloos gestraf het as hy dit nie kon nakom nie. Jesus het sonde nie goedgepraat nie, want sonde verniel ‘n mens en sal die Koninkryk van God ruïneer, maar Hy het ‘n uitweg daaruit gebied. En baie mense het dit verstaan en sommige het deur geloof reeds vir Jesus op hierdie nuwe weg begin volg en hoop en verwagting het in hulle harte opgevlam. Dit het die Fariseërs woedend gemaak want hulle moes toekyk hoedat menigtes van hulle dissipels afvallig geword, wegdraai en Jesus begin volg. Dit is die agtergrond tot hierdie verhaal.
Simon trakteer vir Jesus met ‘n eetmaal
Nou lees ons dat Jesus in die huis van ‘n Fariseër wat bekend gestaan het as “Simon die melaatse,” aan tafel was. Om ‘n ete vir Jesus te berei en voor te gesit het, was prysenswaardig. Dit is iets wat Simon se Fariseër vriende nooit sou gedoen het nie. Dit lyk verder asof dit ‘n ete was waarby die meeste van die inwoners van Betanië ook welkom was, want hy het hierdie vrou, wat hy goed geweet het ‘n sondares was, ook toegelaat om in te kom, alhoewel hy haar sekerlik nie sou genooi het om om saam aan tafel te gaan nie.
Hy was moontlik deur Jesus genees
Wat ons nog van hom kan sê is dat sy naam aandui dat hy tevore melaats was. Nou was hy egter van daardie aaklige siekte genees, anders sou hy nooit toegelaat gewees het om met ander mense in Betanië te meng nie want melaatsheid was, in daardie tyd, ‘n haas ongeneeslike siekte. Aangesien ons weet dat Jesus onder andere tien melaatses gereinig het, is dit baie waarskynlik dat Hy ook vir Simon gereinig het. Dalk was dít die rede waarom Simon die ete vir Hom berei het.
Hy was op pad in die regte rigting
Simon het dus al ‘n hele ent gevorder gehad op sy pad van wegdraai van die harde, koue, lewelose pad van die Fariseër na die pad van geloof in Jesus Christus as Seun van God, maar Jesus het geweet dat hy nog nie die finale stap van geloof geneem het nie. In sy hart het hy nog gewonder of Jesus nie maar net ‘n gewone mens was wat deur God met genesende mag beklee was soos Elia wat die melaatse Naáman genees het nie. Verder het hy gedink dat Jesus nie eers ‘n profeet was wat soos God, geweet het wat andere nie weet nie. As Hy ‘n profeet was, sou Hy mos geweet het dat hierdie vrou ‘n sondares (moontlik ‘n prostituut) was en sou Hy nie toegelaat het dat sy Hom aanraak nie. Deur haar aanraking het Hy ingevolge die Wet van Moses onrein geword. So het Simon in sy gemoed vir Jesus sit en opsom. Maar Hy het misgetas, want voor hom aan tafel was nie net ‘n profeet nie, maar veel meer: die eniggebore Seun van God wat mens geword en ‘n hart vir verlorenes gehad het.
Simon word tereggewys
Jesus kon sy gedagtes soos ‘n boek lees en het hom geantwoord asof hy dit mondeliks uitgespreek het. Hy het dit nie uit woede of vergelding of selfverdediging gedoen soos wat ons sou gedoen het nie, want Hy het Simon ook liefgehad en wou hom help in sy soeke na waarheid en na God:
Luk7:40 … Simon, Ek het iets om aan jou te sê. En hy antwoord: Meester, spreek. (41) Hy sê toe: ‘n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyf honderd pennings geskuld en die ander een vyftig; (42) en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê? (43) En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel.
(44) Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom—water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog. (45) ‘n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. (46) Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf. (47) Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.
Jesus se woorde was reguit en dit was sekerlik vir Simon ‘n groot verleentheid om so voor sy gaste tereggewys te word, maar dit was nodig want hy moes homself ontdek en, meer nog, hy moes Jesus sien vir Wie Hy werklik was. Sy optrede was ‘n growwe skending van die reëls van etiket wat vir gaste van aansien gegeld het. Hulle moes deur die gasheer met weldeurdagte eerbied behandel word, maar hy het drie van hierdie reëls verontagsaam deurdat hy Hom by sy aankoms nie ‘n soen van verwelkoming op die wang gegee het nie, nie ‘n kneg met ‘n skottel water en handdoek voorsien het om die die stof van Sy voete af te was nie en nie sy hoof met welriekende olie gesalf het nie.
Die grondliggende rede daarvoor was dat hy Jesus nie hoog geag en en ook nie juis lief gehad het nie. Hy het min respek of passie vir Hom gehad en nie gedronge gevoel om homself te verontrief of sy eie beeld in die gemeenskap te skaad deur Jesus besonders te eer nie. Die kos wat hy voorgesit het, was eweveel vir almal, niks spesiaals vir Jesus soos wat Josef vir sy broer Benjamin gedoen het nie (Gen 43:34). Jesus was vir hom weinig meer werd as net maar nog ‘n mens van wie hy ‘n weldaad ontvang het en aan wie hy ook weer ‘n weldaad moes bewys en dan van vergeet – verpligting nagekom. ‘n Ete soos vir ‘n besigheidsvennoot.
Simon besef nie dat hy ook geestelik melaats was nie
Die rede hiervoor blyk uit die gelykenis wat Jesus vertel het. In Simon se eie oë was hy nogal ‘n regverdige man wat op grond van sy onderhouding van die Wet met ‘n breë glimlag sonder selfverootmoediging voor God se troon kon staan. Toegegee, volmaak was hy nie, maar as die Here hom maar net enkele ou kleinigheidjies sou kwytskeld, (soos wat Hy seker gedoen het toe Hy hom van sy melaatsheid gereinig het) sou hy breëbors in die hemel kon instap. Ja, die Here kon bly wees dat Hy so ‘n regverdige man as burger van Sy Koninkryk kon hê. Vir die kleinigheid wat Jesus vir hom gedoen het, was hy dankbaar. En daarvoor vergoed hy sommer nou met die ete en dan is hy niks verder aan God verskuldig nie. Afgehandel.
Die sondares van Betánië ontvang genade
Maar, die sondares! Êrens moes Jesus en sy ook paaie gekruis het en wat ‘n verskriklike dag was dit nie vir haar nie! In Sy heilige teenwoordigheid het sy haarself geestelike in vuil, onwelriekende, vodde bevind; verskeurd, besmeerd, ‘n verworpene voor God en mens; die uitskot van die samelewing; op die punt om deur hemel en aarde gestenig te word. ‘n Mens wonder wat sy alles aangevang het? Was sy jarelank dié prostituut van Betanië; of dalk ‘n waarsegster wat so diep met die duiwel geheul het dat sy deur hom in besit geneem en hulpeloos in sy mag beland het?
Maar in daardie oomblikke, toe sy bewend verwag het dat die oordeel van God oor haar sou losbaars, het sy moontlik woorde gehoor soos die volgende: “Ek veroordeel jou nie. Ek het geen behae in die dood van ‘n sondaar nie maar daarin dat hy hom bekeer en lewe. Dit is juis die dodelike siekes wat die geneesheer se hulp die meeste nodig het.” Dan was daar dalk tog hoop en miskien het sy ook soos ‘n ander sondaar uitgeroep: “O God, wees my, ‘n sondaar, genadig.” Dit was toe dat die hemel in haar hart gekom het. Daardie verskriklike skuldbesef het eensklaps verdwyn en ‘n sagte vrede het haar gemoed deurspoel. In daardie oomblik het Sy haar hart verloor vir Jesus, die Seun van God, die Verlosser van die mensdom. Sy wou Hom vashou, vir ewig, maar Hy was reeds verswelg deur die skare en sy moes huiswaarts keer. Maar geestelik was sy vir ewig aan Hom verbind en het dorstig geluister na alles wat die reisende mense van Betánië oor Hom te vertel het. So kon drink sy uit Sy fontein van lewende water.
Die gereinigde sondares kry ‘n geleentheid om Jesus se hart bly te maak
Intussen het die Fariseërs en ander geestelike leiers se jaloesie breekpunt bereik. Oral is dit gefluister dat hulle op die komende pasga Hom om die lewe sou bring; Hom by Pilatus sou aankla en laat kruisig. Dit het geklop met wat Hy herhaaldelik oor homself geprofeteer het, maar wat Petrus en die ander elf nie wou glo nie. Maar sy het verseker geweet dat dit eersdaags sou gebeur. Daarom, toe sy hoor dat Hy in Betanië aangekom het en in Simon se huis sou eet, het sy haastig die pot kosbare nardussalf wat haar ‘n volle jaar se loon gekos het, opgeraap en na die banket gehaas om daar, voor Sy dood vir Hom dankie te gaan sê en Hom te aanbid vir wat Hy vir haar gedoen het, dit wat God alleen kon doen: om haar sonde te vergewe het . Het Hy dan nie haar ontsaglike skuld met enkele woorde afgeskryf nie? Nou sou sy sonder woorde haar allerbeste aan Hom kom gee; haar snikke, haar trane, haar hare, haar salf, haar hele wese. En dit het sy op daardie dag gedoen.
Simon, daarenteen, het uit sy oorvloed eintlik niks gegee wat hom iets gekos het nie, niks wat ‘n duikie in sy beurs gemaak het nie. Dít was die verskil tussen hulle twee se gawes wat Jesus so treffend aan hom uitgewys het. Sy het liefde gegee; hy net kos.
Die ander liefdelose gelowiges
Maar Simon was nie alleen in sy miskenning van Jesus nie. ‘n Koor van verontwaardigde stemme, (onder andere die stemme van Sy dissipels (sien Matt 26: 8) het opgegaan oor die verkwisting van dié kosbare salf. Kwaai woorde, ‘n stortvloed daarvan, het op hierdie knielende, snikkende vrou en op Jesus neer gereën. Ons lees ook uit Markus:
Mar 14:4 En daar was sommige wat by hulleself verontwaardig was en gesê het: Waarvoor het hierdie verkwisting van die salf plaasgevind? (5) Want dit kon vir meer as drie honderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee geword het. En hulle het teen haar uitgevaar.
Die tragedie van liefdelose gelowiges
‘n Mens kan jarelank ‘n dissipel, ‘n volgeling van Jesus wees, in Hom glo, Sy wonderwerke aanskou, dalk ook getuig van die genesing van jou liggaam en voorsiening in jou lewensbehoeftes, sonder om Hom waarlik lief te hê of as Koning van jou hart te salf. Waarom is dit so? Jesus gee self in hierdie verhaaltjie die antwoord: jy was nog nooit ten diepste oortuig van jou verlorenheid en jou sondige toestand nie, nie soos die sondares nie. Jy was ‘n Simon, ‘n Petrus, ‘n Jakobus of ‘n Johannes, maar nie die sondares van Betanië nie. Jy het nog nooit verstaan dat jy in die oë van God presies net soos sy lyk nie.
Hoe kan ek deel in die sondares se liefde vir Jesus?
Moet ons dan nou eers soos hierdie vrou onsself in vuil sonde dompel en daaruit verlos word? Ag nee, tog nie dit nie. Daar is ‘n mooi pad om daar te kom. Ons moet net maar onsself sien soos wat God ons sien. Dan sal ons verskrik uitroep soos Jesaja:
Jes 6:5 … Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien! (6) Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool in sy hand, wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het, (7) en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen.
Die oplossing is in ons hande, op ons lippe; ons moet net maar uitroep: “Here, laat ek myself sien, soos U my sien, soos ek gelyk het voordat U bloed my gereinig het.” Dit is nie ‘n selfopgelegte veroordeling nie want dít lei tot die dood, selfs tot selfmoord. Nee, ons praat van ‘n Heilige Gees openbaring waardeur jy jouself in die teenwoordigheid van ‘n heilige God sien. Die Here leen jou as’t ware ‘n hemelse bril om daardeur na Hom en ook na jouself te kyk.
Die weerstand daarteen om God te verheerlik
En nou, net eers ‘n paar woorde oor die dissipels en ander tafelgenote se verbale aanval op hierdie arme vrou. Wanneer jy as ‘n kind van God goed doen aan andere soos byvoorbeeld liefdadigheidswerk, omsien na hawelose kinders en ander behoeftiges, sal jou mede-gelowiges en die wêreld daar buite jou loof en kroon as ‘n goeie mens, iemand met ‘n hart van goud, ‘n heilige, maar sodra jy iets buitegewoons doen om DIE HERE AS PERSOON TE VERHEERLIK, gaan daar ‘n heftige murmurering op. Die Heer moet nie deur jou woorde en dade en lofprysing te sterk in die kalklig geplaas word nie. Dan maak jy die duiwel wakker asook die eie ek in die harte van jou meer vleeslike boeties en sussies. Jy laat hulle ongemaklik voel, skuldig voel, al is dit wat jy doen en sê nie teen hulle gemik nie. Aan tafel moet jy jou woorde tel en afweeg en sekermaak dat jy tog nie te veel oor die wondere uit die Skrif of in die natuur praat nie of daar gaan ‘n harde stem op: “Hou jou preek vir Sondag in die kerk; ons wil nou ons kos eet!”
Die mens wil homself altyd handhaaf; homself nie verloor nie. Hy wil altyd goed lyk in die oë van andere. Wie van Simon of Jacobus of Filllipus of Andréas sou kans gesien het om die fles uit die vrou se hand te neem, by Jesus se voete te kniel, hulle met sy trane af te was, met sy hare af te droog en te salf? Die ander elf sou hom van daardie oomblik af soos ‘n melaatse vermy het. Maar genoeg hieroor.
Jesus se reaksie op die die vrou se stenigers
Ons lees verder, maar nou die ooreenstemmende gedeelte uit Markus, wat ‘n bietjie meer sê:
Mark 14:6 Maar Jesus sê: Laat haar staan; waarom val julle haar lastig? Sy het ‘n goeie werk aan My gedoen. (7) Want die armes het julle altyd by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen; maar My het julle nie altyd nie. (8) Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam vir die begrafnis gesalf.
Wie verstaan die Skrif die beste?
Hier is ‘n baie interessante brokkie teologie: Kinders van God wat deur hul liefde vir Jesus so na aan Hom lewe dat hul sy hart kan hoor klop, verstaan sy gedagtes baie beter as al die slim teoloë wat dag en nag die Skrif ondersoek. Die apostels wat direk uit Jesus se mond gehoor het dat Hy gekruisig sou word, het nie verstaan wat Hy bedoel het of enige ag daarop geslaan nie; so staan dit opgeteken in Lukas 18:
Luk 18:31 En Hy het die twaalf by Hom geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en alles wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die mens vervul word. (32) Want Hy sal oorgelewer word aan die heidene en bespot en mishandel word, en op Hom sal gespuug word; (33) en nadat hulle Hom gegésel het, sal hulle Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan. (34) Maar hulle het niks hiervan begryp nie, en hierdie woord was vir hulle bedek, en hulle het nie verstaan wat gesê is nie.
Wanneer die Heilige Gees iets uit die Skrif aan jou hart wil oordra sodat jy dit kan verstaan, glo en uitlewe, bewerk Hy gewoonlik eers ‘n gewilligheid in jou gemoed om dit so te wil hê. Die twaalf apostels wou hê dat Jesus deur Sy onbeperkte mag die Romeinse oorheersing sou verbreek en die aardse Koninkryk van Israel weer in al sy glorie sou oprig (Hand 1:8). Van ‘n Jes 53 Messias wat aan ‘n kruis sou sterwe om die nuwe Koninkryk wêreldwyd op te rig, wou hulle niks weet nie. Petrus het vir Jesus selfs bestraf toe Hy met daardie gedagte gekom het (Matt 16:22). Daarom dan het die wenende sondares, en nie die dissipels nie, geweet wat op die drumpel was om met Jesus te gebeur en het sy gekom om Hom vooruit vir Sy begrafnis te salf want na Sy kruisiging sou daar geen geleentheid voor wees nie.
Die ontvangers en die geeërs
Ons ondersoek nog ‘n brokkie inligting uit hierdie perikoop.
Mark 14:9 Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie oor die hele wêreld verkondig word, daar sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot ‘n gedagtenis aan haar.
Duisende mense het gedurig na Jesus gestroom om allerhande seëninge van Hom te ontvang, maar min het gekom om iets aan Hom te gee. So kosbaar was haar gawe dat Hy haar belowe het dat hierdie verhaal van haar liefde oor en oor, wêreldwyd vertel sou word. Hoe dit sou gebeur, sou sy haarself sekerlik nie kon indink nie, maar Hy het toegesien dat dit in drie van die vier Evangelies opgeteken, en deur die eeue heen deur miljoene gelees sou word.
Sekerheid oor die vergifnes van sonde
En nou die laaste brokkie uit Lukas:
Luk 7:48 En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe. (49) Toe begin die wat aan tafel was, by hulleself te sê: Wie is hierdie man wat selfs die sondes vergewe? (50) En Hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.
Net een of twee kort opmerkings:
- Hoe intiemer jy met die Here verkeer, hoe meer kritiek sal jy ontvang, maar hoe sterker ook sal die Heilige Gees teenoor jou gees getuig dat jou sondes vergewe is en hoe breër sal die stroom van God se vrede deur jou hart vloei.
- Tot vandag toe nog is daar baie lidmate van bekende kerke wat nie kan glo dat ‘n mens hier op aarde reeds kan weet dat jou saak met God reg is nie. Maar hierdie sondaar vrou het reg gehoor: “Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.”
C. MARIA?
Wie was hierdie sondares wat Jesus gesalf het?
Ons lees ‘n gedeelte uit die Evangelie van Johannes:
Joh 12:1 En Jesus het ses dae voor die pasga na Betánië gekom waar Lasarus was, wat dood gewees het en wat Hy uit die dode opgewek het. (2) Hulle het toe vir Hom daar ‘n maaltyd berei, en Martha het bedien; en Lasarus was een van die wat saam met Hom aan tafel was. (3) En Maria het ‘n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf. (4) Toe sê een van sy dissipels, Judas Iskáriot, die seun van Simon, wat Hom sou verraai: (5) Waarom is hierdie salf nie vir drie honderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee nie? (6) En dit het hy gesê, nie omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy ‘n dief was en die beurs gehad het en die bydraes geneem het. (7) Toe sê Jesus: Laat haar staan; sy het dit bewaar vir die dag van my begrafnis. (8) Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie.
Ons het vroeër reeds uitgewys dat die Mátthéus, Markus en Lukas vertellinge oor die vrou wat Jesus gesalf het, ongetwyfeld al drie verwys na die gebeurtenis aan huis van die Fariseër bekend as Simon die Melaatse.
Maar wat van die soortgelyke insident wat in Johannes hoofstuk 12 beskryf word; het dit op dieselfde insident betrekking?
Ons gebruik ‘n tabel om die ooreenstemmings beter kan uitwys:
Besonderhede | Joh
12 |
Mat
26 |
Mark 14 | Luk 7 | |
1 | Die gebeurtenis het in Betánië plaasgevind | 1 | 6 | 3 | 36,39 |
2 | Die voorval was ten tyde van ‘n ete wat vir Jesus gegee is | 2 | 7 | 3 | 36,37 |
3 | ‘n Vrou het baie kosbare salf op Jesus uitgegiet | 3 | 7 | 3 | 38 |
4 | Sommige gaste was onthuts; d geld moes vir armes gegaan het | 4,5 | 8 | 4 | |
5 | Jesus verdedig haar as volg:
· Laat haar staan · Die armes het julle altyd by julle · My het julle nie altyd nie · Sy het dit gedoen met die oog op my begrafnis · Oral waar die evangelie verkondig word, sal gespreek word van wat sy gedoen het as ‘n gedagtenis aan haar. |
12:7 | 10-13 | 6-9 | |
6 | Jesus verdedig haar teenoor haar teenoor Simon d melaatse | 40-50 |
Daar is beslis ‘n aansienlik ooreenstemming tussen die vertellings in die vier evangelies. Kon ons dalk bespiegel dat al vier evangelies dieselfde gebeurtenis beskrywe en dat die Johannes evangelie net meer direk op die Martha/Lasarus/ Maria familie se betrokkenheid by die banket fokus? As dit wel só sou wees beteken dit dat dit María se besonderse liefde vir Jesus is wat in al vier Evangelies beskryf word. Kyk ons dan verder ook na wat in die ander evangelies van haar gesê word, sien ons dat sy ‘n alombekende sondaar in Betanië was, die swartskaap van die familie, maar nadat sy met Jesus ontmoet het, getransformeer is in een van die mooiste geestelike karakters van die Nuwe Testament.
Die les wat Jesus ons wil leer
Hoe dit ookal sy, wat ons uit hierdie insident of insidente leer, is dat liefde die kosbaarste van alle vrugte van die Gees is, asook die grondwet van die hemel en van die nuwe aarde:
Luk 10:27 En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.
1Kor 13:13 En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.
……….