HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.
JESUS EN DIE GODSDIENSTIGE LEIERS
Vanweë die baie wonderwerke wat Jesus gedoen het en as gevolg van sy kragtige, wyse en opheffende lering, het duisende mense hom gevolg waar Hy ookal gegaan het. Dit het die jaloesie van die godsdienstige leiers van die Jode uitgelok. Daar was verskillende groeperinge van hulle soos die Fariseërs, Saduseërs en Skrifgeleerdes. Hierdie geestelikes was hoogs geleerd en het die Wet van Moses in fyn besonderhede bestudeer. Hulle het ook hulle eie verduidelikings en vertolkings bygevoeg wat dit vir die man in die straat baie moeilik gemaak het om God te dien. Die omgang met God is buite die bereik van die gewone mens geplaas.
Nieteenstaande hierdie leiers se imponerende uiterlike vertoon, was hulle inderwaarheid skynheiliges wat hulle eie leringe nie uitgeleef het nie. Teen hulle en hul oneerlike lewenswyses waardeur hulle voorgegee het om manne van God te wees maar Hom gladnie geken of gedien het nie, het Jesus Hom sterk uitgespreek. In die Skrifgedeelte wat volg, word van die skermutselings wat Hy met hulle gehad het, verhaal.
Jesus het mag gehad oor bose geeste; die godsdienstge leiers daarenteen, was geestelik magteloos. Lees asb Luk. 11:14-20 (Sien ook Matt 12:22-32).
‘n Sekere man wat blind en stom was, is na Jesus gebring. Sy fisiese gebreke was nie van natuurlike aard nie maar was toe te skryf aan ‘n demoon wat van hom besit geneem en hom op so ‘n wyse gebonde gehou het dat hy die gebruik van sy sig en spraaksintuie verloor het.
Of sy familie en vriende hom eers na die godsdienstige leiers vir bevryding gebring het, word nie gemeld nie maar die feit dat laasgenoemde teenwoordig was toe Jesus hom bevry, en hulle so heftig daarop gereageer het, dui daarop dat dit wel so was. Nieteenstaande al hul godsgeleerdheid en strenge nakoming van die Wet, was hulle magteloos teen die magte van satan. Daarom het sy familielede hom toe na Jesus gebring.
Hy het die duiwel sonder inspanning uitgedryf en skielik kon die man praat (en seker sien ook). ‘n Luide uitroep van lof en vreugde het uit die skare opgegaan. ‘n Wonderwerk wat net God kon doen, het voor hulle oë plaasgevind.
Die geestelike leiers was natuurlik groen van jaloesie en rooi van woede want hulle het besef dat hul kwynende reputasie nog ‘n knou toegedien is. Hulle kon ook nie verklaar waarom Jesus meer mag as hulle gehad het nie. Nou moes hulle vinnig dink aan ‘n skadebeheerplan om hul aansien te probeer behou en skree toe: “Hy dryf duiwels uit deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels.” (Dit is natuurlik ‘n ou gevestigde strategie: praat kwaad van jou opponent, dan lyk jyself sommer dadelik beter.)
Maar kyk nou hoe slim het Jesus hulle geantwoord: “Die duiwel is die koning van die koninkryk van duisternis. Die demoon wat uitgedryf is, is een van sy getroue dienaars wat die geknelde persoon namens hom in besit geneem het. As die duiwel sy eie dienaars uit mense uitdryf, verloor hy sy eiendom en breek hy sy eie koninkryk af wat dan tot ‘n val sal kom. Dit sal mos dom wees van hom om so teen homself te werk. Dit is tog God wat teenoor die duiwel staan en as Ek die duiwels uitgewerp het, kan dit alleenlik deur God se krag wees wat Ek dit gedoen het.” Hulle kon hierdie argument nie weerlê nie en was nog meer verleë en in die gesig gevat.
Toe opper Jesus ‘n volgende argument en sê: “Maar sommige van julle eie seuns dryf tog ook bose geeste uit, beskuldig julle ook julle eie seuns dat hulle met die duiwel saamwerk?” Dit was ook ‘n goeie argument. Hulle was waarskynlik ingenome daaroor dat hul seuns duiwels kon uitdryf en het dit aan die krag van God toegeskryf maar omdat hulle Jesus gehaat het, het hulle geweier om te erken dat Hy van God gestuur was en deur die krag van God duiwels uitgewerp het.
Jesus het beskik oor goddellike lig (insig) wat Hy ook met die mens wou deel maar die godsdienstige leiers het nie ‘n vonkie van lig in hulle gehad nie. Lees asb Luk. 11:33-36 (Sien ook Luk 8:16 en Matt 5:15 en 6:22).
Hier het Jesus eintlik verduidelik waarom die godsdienstige leiers van Sy tyd nie die wil en weë van God verstaan het nie en waarom hulle hul volgelinge mislei het. Soos gewoonlik het hy voorbeelde uit die alledaagse lewe gebruik om geestelike waarhede toe te lig. Hier het Hy die beeld van ‘n lamp gebruik wat opgesteek word om ‘n vertrek te verlig sodat ‘n persoon wat binnekom kan sien wat daar binne is. In die lamplig sien hy ‘n tafel en sit die goed wat hy saamgebring het daarop neer; hy sien ‘n stoel en gaan sit daarop. So is die oë van ‘n mens; dit maak sy omgewing vir hom sigbaar en toeganklik sodat hy met gemak kan rondbeweeg en dit benut sonder om in voorwerpe vas te loop en homself te beseer. .
As ‘n persoon se oë egter verblind is, is hy magteloos asof hy in ‘n stikdonker kamer staan. Hy mag ‘n goeie sterk liggaam hê, maar daardie liggaam sal nutteloos wees want sy hand sal nie die kos op die tafel kan sien, daarna uitreik om dit te neem en na die mond te bring nie. Die voet sal nie weet waar die deur van die slaapkamer is nie en dus nie die liggaam by die bed kan uitbring nie. ‘n Blinde persoon kan maklik oor ‘n tas wat iemand in die middel van die vertrek gelaat het, struikel, val, en homself beseer.
Net so is die gees van die mens toegerus met geestelike oë om in die geesteswêreld te kan insien. Met sy geestelike oë kan hy dié dinge sien wat God sien en hulle sien soos wat God hulle sien. Wanneer jy geestelik verlig is, sal jy sien wat vir jou voordeel inhou en wat net tot skade, verlies, oneer en ondergang sal lei. Jy sal sien in watter rigting om te beweeg, dws watter besluite om te neem om ‘n vervulde en waardige lewe te lei. Jy sal jouself nie seermaak deur onverwags te struikel en in sonde te verval nie. Jy sal versoekinge op ‘n afstand al raaksien en ‘n wye draai daarom loop.
Die fisiese blinde is ten minste nog bewus van sy gestremdheid en beperkinge en kan andere vra om hom te help, maar die geestelike blinde is gewoonlik onbewus van sy gebrek aan insig. So was hierdie leiers onbewus van hul gebrek aan geestelike insig; hulle was verwaand en selfversekerd en het nie net self op ‘n dwaalweg na die afgrond voortgestrompel nie, maar hul niksvermoedende volgelinge ook daarop gelei.
Hulle volgelinge het hulle vertrou juis omdat hulle geestelike leierskapposisies beklee en hulleself uitgegee het vir geestelike deskundiges. Jesus daarenteen, was die ware en enigste Lig van die wêreld en wanneer ‘n persoon sy lewe oopgemaak en Hy binnegekom het, het ‘n lig in sy gees opgegaan en skielik was daardie persoon nie langer in ‘n nagdonker sel opgesluit nie.
Die ongeredde godsdienstige leiers se geestelike blindheid maak dat hulle seker maak dat hul lewens uiterlik mooi vertoon maar hul harte wat nie gesien kan word nie is vuil van onheilige gedagtes en planne. Lees asb Luk. 11:37-41 (Sien ook Matt 23:1 ev.).
Ook in hierdie perikoop sien ons dat die Fariseërs blind was vir die geestelike betekenis van die Woord van God. Die gelowiges van daardie tyd het gelewe volgens die Wette en instellings wat God vir Moses gegee het en die Wet en woorde van God is natuurlik volmaak. Dit was reg om daarvolgens te lewe.
Volgens daardie Wette moes die priesters hulself op ‘n sekere wyse was met die water wat in die waskom in die voorhof van die tabernakel voorsien is, voordat hulle in die tabernakel ingegaan het om dienswerk vir God te verrig. Hierdie was van hul liggame het ‘n simboliese betekenis gehad; dit het heengewys na die afwassing van die sonde deur die Bloed van Jesus waarsonder niemand in die teenwoordigheid van God mag kom of Sy dienswerk mag verrig nie.
Daardie Wette het ook bepaal dat sekere voorwerpe of persone simbolies onrein kon word. So was ‘n vrou vir ‘n aantal dae per maand geestelik simbolies onrein as gevolg van bloedvloeiing. ‘n Dooie liggaam was eweneens onrein. ‘n Persoon wat aan ‘n siekte soos melaatsheid gelei het, was ook geestelik simbolies onrein en voorwerpe was onrein wat deur ‘n geestelik simbolies onrein persoon aangeraak was en ‘n persoon wat dit of sulke persone aangeraak het, het dan ook simbolies onrein geword en moes sekere rituele deurgaan om geestelik simbolies gereinig te word.
Die Fariseërs het dit nie verstaan nie; hulle het nie verstaan dat die reiniging van hul hande nie hulle harte kon reinig nie. Die Fariseër by wie Jesus gaan eet het, het gevoel dat hyself nou honderd persent skoon voor God was omdat hy sy hande voor ete gewas het en het dit natuurlik boonop gedoen in die teenwoordigheid van al sy gaste sodat hy bewonder en geprys kon word as ‘n groot man van God. Hy het Jesus dan ook uit die hoogte aangespreek omdat Hy nie dieselfde gedoen het nie.
Die Here Jesus het dwarsdeur sy vroom uiterlike gekyk en sy verdorwe hart raakgesien en hom en die ander Fariseërs bestraf en hul lewens vergelyk met ‘n drinkbeker. ‘n Beker moet beide buite en binne gewas word; so nie gril ‘n mens om daaruit te drink. Hulle het net die buitekant van hul lewens gewas, soos byvoorbeeld om hul hande te was sodat die mense dit kon sien, maar die binnekant van die beker wat hul harte en lewens was, dit wat die mense nie kon sien nie, was verrot.
Omdat hulle geestelike leiers was en goed vertoon het, het mense na hulle toe gekom om hulle geestelike dors te les maar wat uit hul harte en monde gevloei het, was verrot deur sonde en sou die geestelike dood veroorsaak vir diegene wat dit gedrink het (hulle lering aanvaar het).
In vers 44 vergelyk Hy hulle selfs met grafte wat in die grond versteek is. Ellende, dws goddelike oordeel en straf, het op hulle gewag want julle was soos onherkenbare grafte waaroor die mense onwetend geloop het. Deur oor so ‘n graf te geloop het sou ‘n persoon baie naby aan die dood kom want ‘n graf bevat doodsbeendere en verrottende vleis.
So, Jesus het gesê dat hulle die verrotting wat in hulle was, bedek het met hulle uiterlike (skynbaar ordentlike) optrede en ‘n lewensgevaar was vir die wat met hulle voorbeeld en lering in aanraking sou kom omdat hulle die geestelike dood in hulle omgedra het.
Almal sal saamstem dat dit soveel makliker is om jou vuil hande met seep en water skoon te was, as om jou hart te reinig van sonde. Laasgenoemde verg nederige erkenning van daardie sonde, berou, afwassing deur geloof in die Bloed van Jesus en ‘n wandel met God deur Hom te vertrou om jou van verdere sonde te bewaar.
Nog twee verrotte kolle in hierdie leiers se lewens was dat hulle geen ware liefde vir andere gehad het nie maar net vir hulleself soos geopenbaar deur hul sug na eer. Lees asb Lukas 11:42.
Hulle was baie presies met die gee van hul tiendes. Elke oes wat hulle van hulle lande afgehaal het, het hulle in tien gelyke dele verdeel en dan een deel vir die “kerk” gegee soos wat dit deur God voorgeskryf was in die Wet van Moses. Dit was weereens ‘n uiterlike aksie wat duidelik gesien sou word deur die “kerk lidmate” maar wanneer dit daartoe sou kom om vir andere te gee wat regverdiglik aan hulle behoort het, het hulle dit nie gedoen nie.
Hulle het veral kortgeskiet in hulle liefde vir God. Dit was makliker om vir God een van hul tien mieliekoppe te gee as om Hom met hul hele hart lief te hê.
Verder het hulle groot genot daaruit geput om in die voorste ry stoele van die sinagoge te sit waar hulle deur almal gesien en geeer kon word. En wanneer hulle in die mark rondgestap het, was dit soos heuningstroop om deur die een na die ander gegroet te word met ‘n: “Goeie môre, rabbi (my pastoor). O, ek is so bly om u te sien, rabbi (my leermeester).”
Nou wel, Jesus het nie gesê dat dit verkeerd was om liefde en respek vir jou pastoor te betoon nie, maar dat christen leiers nie sulke eerbetoon moes soek of begeer nie, want lof en agting moet aan God gegee word en nie aan mense nie. Hierdie leiers het dit nie in hulle harte gehad om te gee nie, maar om te ontvang.
Hul grootste misdaad: die verberging (wegsteek) van die sleutels tot God se koninkryk. (Lees asb Lukas 11:52).
Sleutels verleen toegang en wanneer ‘n mens jou huis of kar se sleutels verloor, is dit ‘n groot konsternasie (vra maar vir die ouer garde). Jy staan tien uur die nag daar in die parkeerterrein of voor jou woonstel se toe deur en verwens jouself omdat jy so ingedagte en onversigtig met die sleutels was en besluit vas dat jy dit tog net hierdie keer kan opspoor, jy dit soos goud sal oppas.
Veel erger is dit wanneer iemand jou sleutels gaps. As hy jou sleutels steel, kan hy net sowel jou kar of huis steel want so beroof hy jou van die gebruik van die items en van alles wat daarin is.
DIE GOUE SLEUTEL TOT DIE HUIS VAN GOD.
Die Evangelie van ons Here Jesus Christus is die sleutel wat aan die mens toegang verleen tot God en tot al die rykdomme in die huis en die Koninkryk van God. Sodra ‘n persoon die Evangelie verstaan en Jesus as Verlosser aanneem, word al Jesus se rykdom ook syne. Hy sluit die deur oop en neem dit in besit. Jesus word dan die Middelpunt van daardie mens se godsdiens.
Die godsdienstige leiers het natuurlik niks van hierdie Evangelie sleutel gehou nie. Hulle wou self die deur wees waardeer mense by God moes uitkom. Hulle wou self mense kon inlaat of uitsluit. Dit sou maak dat hulle ‘n besondere ereplek in die Koninkryk van God sou hê waardeur hulle groot eer van die mens sou ontvang en geweldige mag sou kon uitoefen.
Plaas die sleutel in iemand se hand en staan uit die pad.
Deur die Evangelie aan ‘n persoon te verkondig, plaas jy die sleutel in sy hande en staan jy uit die pad dat hy kan ingaan as hy wil. Jy, as verkondiger van die Evangelie, verdwyn dus uit die prentjie en Jesus wat die Deur is, neem die sentrale plek in. Die Evangelie (die Goeie Boodskap van Verlossing deur die Bloed van Jesus) is dus baie belangriker as die persoon wat die Boodskap verkondig. Die nederige verkondiger steek die sleutel in die deur se slot, vertel vir die wat buite staan van die heerlikheid om God te ken en staan dan eenkant toe dat elkeen ongehinderd sy eie besluit kan maak om vorentoe te stap, die sleutel te draai, die deur oop te stoot en in te stap na God toe.
Wie het die sleutels gesteel?
Dit is waarom die godsdienstige leiers vir Jesus en Sy Evangelie so gehaat het. Self was hulle te hooghartig om hul behoefte aan die reiniging van hul harte deur die Bloed van Jesus te erken. Hulle wou dus nie vir Jesus as die deur na God erken nie en het nog die groter sonde begaan deur die Evangelie Sleutel weg te steek sodat andere ook nie kon ingaan nie. Hulle het allerhande valse leringe bo-oor die Evangelie sleutel opgehoop sodat die mense dit nie kon sien en vind nie. Dit het hul sonde soveel groter gemaak.
Ons kan natuurlik ook op ander maniere die Evangelie sleutel wegsteek; bv deur te bely dat ons kinders van God is, maar in sonde te lewe. Sodoende verblind ons die ongeredde mense se geestelike oë vir die heerlikheid van God sodat hulle nie deur die Deur kan ingaan en die Ewige lewe kan beërwe nie.
……….