HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.
A. JESUS SE OPDRAGTE AAN PETRUS (Joh 21:1-25).
Jesus het tevore aan sy dissipels opdrag gegee om af te reis na Kápernaüm waar Hy hulle sou ontmoet. Waarom juis daar, is nie duidelik nie. Miskien wou Hy hulle uit Jerusalem weg hê sodat hulle nie langer agter geslote deure sou moes skuil om aan die Joodse leiers se vervolging te ontkom nie. Daar vêr, langs die blou waters van die see van Galiléa, sou hulle kon ontspan en vryelik buite rondbeweeg.
‘n Lang reis van gehoorsaamheid.
Afhangende van die roete wat gevolg sou word, kon dit tussen 150 en 200km na Kápernaúm gewees het – ‘n lang afstand en baie dae op die pad. Gehoorsaam aan Sy opdrag, het hulle daarheen gereis en na baie dae daar aangekom.
“Ek gaan visvang.”
Na al die spanning van die afgelope weke, het Petrus, toe hy so oor die vonkelende water uitkyk, teruggedink aan sy onbesorgde vissermandae en lus gekry om weer ‘n slag ‘n net in die water te gooi want hulle het immers ook niks anders gehad om te doen terwyl hulle vir Jesus gewag het nie. Toe Hy dus opstaan en sê: “Ek gaan visvang,” antwoord die ander manne gretiglik: “Ons gaan saam!”
Moeë manne in ‘n leë skuit na ‘n lang nag.
Daardie nag bring hulle in die skuit op die oop water deur maar vang behoorlik niks. Die water is dood. Teen dagbreek lê hulle so ‘n honderd meter van die strand af, sien ‘n rokie daar trek en ‘n man skree vir hulle of hulle dan nie vir hom iets te ete gehad het nie. “Nee!” skree hulle terug. Die klank trek klokhelder oor die water in die stilte van die oggend. “Gooi die net aan die regterkant van die skuit en julle sal kry,” kom die antwoord weer oor die water gesweef. Hulle kyk vir mekaar, frons. “Wie’s hy? Wat maak hy so vroeg hier by die viswaters? Dalk weet hy wat hy praat. Dis nou ook al drie jaar dat hulle vir Jesus volg; dat hulle nie meer visvang nie. Hulle haal die skouers op. Hulle het tog niks om te verloor nie. Dan kom hulle orent, trek die net met lang hale in en gooi hom behendig oor die regterkantste boeg. Die bek van die net maak wyd oop en wanneer dit op die water neerplons word dit deur die gewigte afgetrek, onder na die bodem toe.
Visse en … Jesus self.
Ineens is dit chaos in die skuit wanneer ‘n groot skool visse deur die net ingesluit word en wriemelend spook om uit te kom. Onmiddellik besef Johannes dat iets bonatuurliks gebeur het, net soos by ‘n vorige geleentheid, lank gelede (Luk 5:4-11). “Dit is die Here,” roep hy opgewonde teenoor Petrus uit wat toe sommer uit vreugde sy bokleed omsit en afsit strand toe. Aan land aangekom, word hul vermoede dat dit Jesus was wat hulle daar ingewag het, bevestig.
“ Brekfis” met Jesus – ‘n vroegoggend visbraai op die strand.
Eers moet die visse aan wal gebring, getel en ‘n paar gaargemaak word. Dit lyk amper asof Jesus gasheer gespeel en die vis vir hulle gebraai het soos wanneer ons ‘n vleisbraai hou – ‘n bring en braai. Dit is interessant dat Thomas nou ook by is.
Deur hierdie gebeurtenis bewys Jesus ook dat Hy altyd met hulle was, ook wanneer hulle Hom nie kon sien nie, en gedurigdeur iets goeds, ja ‘n verrassing vir hulle beplan het.
“Petrus, dis jou dag.”
Maar dan het hulle klaar geëet en het Petrus se groot oomblik , onwetend vir hom, aangebreek. ‘n Mens kan jou net voorstel hoe Petrus se verloëning van Jesus daardie nag van die verhoor in die voorhof van Kájafas se paleis onophoudelik soos ons sê, by hom “gespook” het. Hy het geweet dié ding sou nie sommer vanself regkom nie; dit sou op een of ander wyse uitgepraat moes word, maar hóe wis hy nie.
‘n Identiteitskrisis.
Wat was sy rol nou? Moes hy nog die leiding in die groepie van 11 neem of sou Jesus iemand anders aanwys? Miskien was hy nie eers meer deel van Jesus se leierskorps nie; miskien het Jesus reeds iemand anders, ‘n man na Sy hart gevind en sou Petrus maar weer visserman word soos wat hy vroeër was toe die Meester hom daar by die skuite gevind en geroep het. Aan die anderkant: Jesus het tog aan hom verskyn voordat Hy aan die ander tien verskyn het. Die inisiatief om hierdie onsekerheid op te klaar, sou van Jesus af moes kom en so het dit dan toe ook gebeur.
Toe hulle klaar was met die oggendete en almal behaaglik om die vuurtjie by mekaar was, word dit skielik stil, wend Jesus Hom tot Petrus en klink Sy stem helder en duidelik, amptelik op: “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier?” Om voor ‘n groep van Jesus se getrouste volgelinge te sê jy het Hom liewer as hulle, is al klaar ‘n groot verleentheid, maar om dit boonop te doen terwyl húlle weet, en jý weet, dat jy Hom kort tevore drie maal verloën het, is ‘n verskriklike verleentheid. “Ja Here, U weet dat ek U liefhet,” antwoord hy bedeesd en wag op Jesus se vraag waarom Hy dan nie vir Hom tydens Sy verhoor opgekom het nie. “Laat My lammers wei,” kom die Heer se onverwagse sagte opdrag. Petrus se kop ruk op en Sy oë word wasig van die trane. Dit beteken dan dat hy nog ‘n kans gegun word. Hy sluk aan ‘n knop in sy keel en kyk af.
Weer kom dieselfde woorde, meedoënloos; “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief.” Weer moet hy die pynlike woorde oor sy lippe forseer: “Ja Here, U weet dat ek U liefhet,” en weer antwoord Jesus hom byna net soos tevore: “Pas my skape op.” Soos kole vuur skroei dit in sy siel in, maar nog is Jesus nie klaar met hom nie en vra hom vir die derde keer dieselfde vraag, net hierdie keer vra Hy of hy Hom liefhet met ‘n goddellike liefde.
Die spanning word vir Petrus eens te veel. Jesus weet mos hoe hy Hom verloën het. “Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet”, prewel hy hees vir die derde keer, terwyl hy in die veraste kole staar, en weereens gee die Meester vir hom dieselfde opdrag: “Laat My skape wei.”
Sy pad vorentoe.
Dan gaan die Heer verder om vir hom te profeteer wat ook nog in die toekoms op hom wag; dat Hy ‘n tweede kans gegun sou word om sy liefde aan sy Heer te bewys deurdat hy sy hande vrywillig sou uitstrek om geboei, weggely en tereggestel te word ter wille van Sy Naam.
(Die aangetekende geskiedenis verhaal dan ook vir ons hoedat Petrus later in sy lewe, toe hy ter dood veroordeel was, gevra het om onderstebo gekruisig te word omdat hy homself onwaardig geag het op dieselfde wyse as sy Heiland gekruisig te word.)
Die CV’s van Jesus se skaapwagters.
Vra ons dan wat die kwalifikasies is om ‘n leier van Jesus se skape, en veral om ‘n leier van Sy leiers te wees, is die antwoord dat jy Jesus meer as hulle moet liefhê; dat jy hulle moet liefhê met ‘n liefde wat nie uit die hart van die mens nie, maar uit God gebore is. Dit laat ‘n mens se hart bewe want net God weet of ons daardie toets sal slaag.
B. DIE GROOT OPDRAG (Lees asb Mat 28:16-20).
Die berg waar Jesus Sy dissipels sou ontmoet, kon dieselde gewees het as dié waarop Hy vroeër verheerlik was (Mark 9:3); weg van die skares, ‘n bergtop waar daar ruimte was en waar Hy rustig kon verkeer met dié wat aan Hom behoort het en die sake van Sy Koninkryk met hulle kon bespreek.
Alhoewel Hy spesifiek aan Die Elf opdrag gegee het om Hom daar te ontmoet, kon baie meer van Sy volgelinge daarheen gestroom het om Hom te sien; ook ‘n menigte wat in Hom geglo maar Hom nog nie na Sy opstanding ontmoet het nie. (1 Kor 15:6.)
Aanbidding.
Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid. Nou was Hy nie meer bloot die vleesgeworde Seun van die mens wat daagliks met hulle rondgewandel het nie, maar die opgestane Seun van God, Heerser oor die heelal. Terwyl Hy naderkom, het dié wat Hom nog nie na Sy opstanding gesien het nie, net soos Thomas en die andere tevore, nog getwyfel of dit waarlik Hy kon wees maar daardie twyfel, is waarskynlik oomblikke later verswelg in ‘n vloed van geloof.
Jesus die Generaal van Sy weermag.
Wat belangrik is om op te let, is dat daar ‘n groot verskil was tussen die doel van sy huidige verskyning op die berg en dié van Sy vroeëre aangetekende verskynings. Tevore het Hy aan Maria en die ander vroue, die Ėmmaüsgangers en Sy dissipels verskyn om hulle persoonlik te bedien, hul geloof in Hom op te bou, hul pyn en onsekerheid uit die weg te ruim. Dít was nou grootliks iets van die verlede. Hierdie verskyning was waarskynlik kort voor Sy hemelvaart. Nou het Hy verskyn in die gedaante van ‘n veggeneraal wat Sy gesonde, fikse, opgeleide troepe opkommandeer vir die groot stryd wat gevoer moes word om volkere, ja die ganse wêreld te verower. Nou was Hy nie meer soos die liedjie lui: “Little Jesus, meek and mild,” nie, maar die Ruiter op die wit perd wat met ontblote vlammende swaard deur hemelse sfere jaag om Sy weermag van oorwinning tot oorwinning te lei.
Jesus, die bekroonde oorwinnaar oor die sonde, die dood en die duiwel.
Nou word Hy nie net vir ‘n uur of wat verheerlik nie, maar verskyn Hy in Sy ewige glorie. Nou weerklink Sy stem oor die vlaktes en tot aan die eindes van die verste horisonne: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde; …” In die Paradys het sy vyand, die duiwel, Hom van die gesag oor ‘n segment van Sy Koninkryk beroof toe hy Sy onderdane tot ‘n val gebring en hul lojaliteit deur bedrog bekom het, maar in die 40 dae lange tweegeveg in die woestyn het Hy sy aanvalle in drie rondtes suksesvol afgeweer; aan die kruis het Hy sy kop vermorsel en toe Hy uit die dood en die graf verrys het, het Hy bo-oor die slang se wriemelende gekneusde liggaam getree. Hy het die mag oor hierdie heelal nie self toege-eien nie, maar Sy Vader, die Regverdige Regter het dit as trofee aan Hom gegee omdat Hy dit op ‘n regverdige wyse verwerf het. Ook het Hy vir Hom gesê: “Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot.” (Ps 2:8,9)
Hy maak dissipels en bou Sy koninkryk.
Dit is hierdie opgestane Here van die Lëerskare wat Sy weermag inspekteer en uitstuur oor die ganse aarde om van elkeen wat hulle sou teëkom ‘n dissipel te maak: ‘n dissipel wat in Sy voetspore sou volg en Sy opdragte sou uitvoer; ‘n dissipel wat Hom nie in die geheim, skelm sou dien nie maar wat Hom in die openbaar sou laat doop om daardeur aan die wêreld te verklaar: “Ek het gesterf vir hierdie wêreld; ek leef nou vir God!” Aan hulle wat op dié wyse Sy dissipels geword het, moet Sy lering sorgvuldig oorgedra word.
Die God bekleed met alle mag woon in Sy krygers.
En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. Wat ‘n heerlike belofte. Hedendaags kan ‘n generaal deur allerhande slim toestelle vanaf sy beheersentrum met sy troepe kontak behou, maar Jesus alleen kan binne-in elkeen van Sy manne en vroue woon om hulle te bemoedig, te beraad en te bekragtig in hul daaglikse opmars na die eindoorwinning.
Halleluja, ons is aan die wenkant!
C. JESUS SE HEMELVAART (Luk 24:50-53; Hand 1:1-14)
Die tussen periode.
Dit is belangrik om kennis te neem dat ongeveer 39 dae verloop het tussen Jesus se eerste verskyning aan Sy dissipels wat in Luk 24:36-49 verhaal word en die beskrywing van Sy hemelvaart wat in verse 50-53 en in Hand 1:9-11 opgeteken is.
Gedurende hierdie periode het Hy nog by verskillende geleenthede aan Sy apostels sowel as aan Sy ander dissipels verskyn en met hulle oor die dinge van Sy Koninkryk gepraat. (Sien 1Kor 15:3-8 wat hierbo aangehaal is en waarin gemeld word dat Hy by een geleentheid aan oor die 500 broeders tegelyk verskyn het.)
‘n Nederige neerdaal na ‘n krip in ‘n stal; ‘n glorieryke opvaart na die Troon in die hemele.
Nou egter was sy taak op aarde afgehandel, het die tyd vir Sy hemelvaart aangebreek en het Hy Sy dissipels uitgelei na die Olyfberg, net buite Jerusalem. Hulle laaste vraag aan Hom was of Hy gedurende daardie dae die Koninkryk van Israel weer sou oprig. Hierop het Hy geantwoord dat dit nie vir hulle was om te weet wat die tye en geleenthede was wat die Vader deur Sy eie mag bepaal het nie maar dat hulle krag van die Heilige Gees sou ontvang om wêreldwyd Sy getuies te wees.
Daarna is Hy in die hemel opgeneem. Hy het in die wêreld ingekom as dienskneg van die mensdom, gebore in ‘n stal, maar het dit verlaat in ‘n hemelkoets, ‘n wolk, as Koning van die heelal.
Glansende boodskappers met ‘n blye boodskap.
Twee engele is agtergelaat om die dissipels te troos met die hoopvolle boodskap dat hulle Hom nie verlangend en bedroef agterna moes staar nie maar in die gees verby hierdie wolk moes kyk na ‘n ander een, verder in die toekoms, waarop Hy op die vasgestelde tyd, weer na die aarde sou terugkeer.
‘n Heerlike belofte en ‘n geweldige opdrag.
Intussen moes hulle nie ledig op Hom sit en wag nie maar Sy opdragte uitvoer. Eerstens moes hulle in Jerusalem gaan wag op “Die Belofte van die Vader,” dws die uitstorting van die Heilige Gees en daarna, beklee met die krag van God, heengaan om dissipels te maak van al die nasies, beginnende by Jerusalem, daarna, Judea, Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.
In afwagting.
Getroos en bemoedig deur hierdie woorde, het hulle omgedraai na Jerusalem en teruggekeer na die bovertrek waar hulle eendragtig vir die volgende tien dae in gebed volhard het, totdat Jesus se belofte vir hulle bewaarheid is en hulle in dieselfde krag en outoriteit as hul Meester die wêreld kon ingaan om Sy opdrag uit te voer.
Eers die kruis, dan die kroon.
Nadat Jesus die volle prys betaal het, het Hy die kroon ontvang. Nou is dit my en jou beurt om in Sy voetspore te volg sodat ook ons, op ons beurt, ons krone kan ontvang.
……….