A. JESUS SE DOOP
Mat 3:13 Toe het Jesus van Galiléa na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom gedoop te word. 14 Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe?
15 Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat.
16 En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. 17 En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.
Jesus het net soos enige ander kind grootgeword. Toe hy ongeveer 33 jaar oud was, moes Hy begin om dié dinge te doen waarvoor Hy aarde toe gekom het.
Eers moes Hy gedoop word om vir almal te wys dat Hy aan God die Vader gehoorsaam was. Hy het gegaan na Johannes die Doper. Johannes was besig om te preek dat almal hulle van hul sondes moes bekeer. Jesus het aangedring dat Johannes Hom ook moes doop al het Hy nooit sonde gedoen nie. Johannes het Hom toe gedoop.
God die Vader het toe twee dinge gedoen sodat almal wat daar teenwoordig was, verseker kon weet dat hierdie Jesus Sy Seun was wat Hy uit die hemel na die mens toe gestuur het.
Die eerste ding was dat Hy God die Heilige Gees gestuur het om vir Jesus krag en wysheid te gee vir die groot werk wat Hy moes kom doen. Die Heilige Gees het in die gestalte (die vorm) van ‘n duif op Hom neergedaal sodat almal dit kon sien.
Die tweede ding was dat die Vader uit die hemel hard en duidelik gepraat het sodat almal dit kon hoor en gesê het dat Jesus Sy geliefde Seun was en dat Hy heeltemal tevrede en gelukkig was met Hom.
B. JESUS SE OORWINNING OOR DIE DUIWEL
Mat 4:1 Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.
2 En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword. 3 En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word. 4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
5 Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan 6 en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie. 7 Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.
8 Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, 9 en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid. 10 Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. 11 Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.
Nadat Jesus gedoop was met die Heilige Gees, was Hy gereed vir sy geveg, sy stryd, teen die duiwel. Die Heilige Gees het Hom na ‘n plek in ‘n woestyn geneem waar daar niemand anders naby was nie, net hulle twee. Daar het die duiwel na Hom toe gekom om te probeer om Hom te verlei om aan Sy Vader ongehoorsaam te wees, net soos wat hy met Eva gedoen het.
As die duiwel dit sou regkry, sou al die mense op die aarde vir altyd satan s’n wees. Maar as Jesus sou wen, sou Hy die eerste persoon wees wat dit kon regkry om vir die duiwel se versoekings nee te sê. Hy sou ook vir die res van sy lewe kon aanhou om elke dag nee te sê. Daarom sou Hy geen sonde hê om voor gestraf te word nie en sou Hy die ander mense op aarde se sonde op Hom kon neem en daarvoor gestraf word sodat hulle vry kon wees. So sou Hy hulle VERLOSSER word en hulle uit die mag van satan verlos.
Jesus het vanaf die eerste dag in die woestyn gladnie geëet nie. Hy wou al sy tyd en aandag net aan sy Vader gee. Na 40 dae was Hy baie honger. Die duiwel sê toe vir Hom om Sy krag as Seun van God te gebruik om van die klippe brode te maak. Maar Jesus het geweet dat dit teen Sy Vader se wil was en het dit nie gedoen nie. Sy antwoord was dat ‘n mens nie net van brood lewe nie, maar dat jy eers werklik lewe wanneer jy elke Woord wat uit God se mond uitgaan, glo en doen. So het Jesus die duiwel vir die eerste keer oorwin. Die krag van God het toe nog sterker deur Hom begin vloei.
Nog twee keer het satan probeer om Jesus sovêr te kry om vir hom ja te sê, om Hom tot ‘n val te bring, maar hy kon dit nie regkry nie. Hy het die stryd, die geveg verloor en het vereers van Jesus af weggevlug.
Nou dat Jesus die duiwel in sy eie lewe oorwin het, was Hy gereed om uit te gaan tussen ander mense en die werke van die duiwel ook in hulle lewens te verbreek. So het Hy begin om die slang se kop stukkend te trap soos wat God in die Paradys aan Adam en Eva belowe het dat Hy sou doen.
//////////
VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → 5 Jesus se doop en versoeking . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.
Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.