DOKUMENTE KAN GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD
A. GOD STEL JOSEF GERUS OOR MARIA SE SWANGERSKAP (Lees Matt. 1:18-21)
Wat Maria voorsien het, het nou gebeur. Haar verloofde, Josef, het haar nie geglo dat die baba wat sy verwag het, deur God, die Heilige Gees verwek was nie. Haar swangerskap was vir hom sekerlik ‘n groot teleurstelling, maar omdat hy haar liefgehad het en ook ‘n godvresende man was, het hy besluit om haar nie openbaar te maak nie omdat dit vir haar tot groot skande sou wees en sy dalk selfs gestenig sou kon word. Hy het maar besluit om eerder in die geheim van haar te skei.
Maria moes hieroor baie trane gestort het, want sy het vir Josef liefgehad en nou was hy teleurgesteld in haar. Hy het nie geglo dat die kind verwek was deur Saad wat die Heilige Gees in haar geplaas het nie. Wie sou die kind versorg en ondersteun? Al haar vriende sou haar vermy, want hulle sou haar sien as ‘n onsedelike vrou.
God se pad is nie altyd ‘n maklike weg nie. Wanneer ons die Here volg, mag dit wees dat mense ons misverstaan. Wanneer ons ‘n heilige lewe lei en nie aan die sondige genietinge van die wêreld deelneem nie, sal mense ons spot of ons beskuldig dat ons dink ons is beter as hulle. As ‘n jongman weier om te drink en te vloek, maak die “manne” hom af as ‘n swakkeling. Dikwels verloor ons, ons vriende wanneer ons, ons aan die Seun van God verbind. In gemeenskappe waar voorvaderaanbidding beoefen word, kan ouers woedend word as hulle kinders weier om deel te neem aan feeste waartydens diere ter ere van hulle voorvadergeeste geoffer word.
Maria moes tydens haar swangerskap waarskynlik baie beskuldigings verduur het, maar God het tot haar redding gekom. Hy het deur ‘n engel in ‘n droom aan Josef verskyn en vir hom gesê om met haar te trou, want die kind wat sy verwag het, was deur die Heilige Gees verwek. Wanneer ons die wil van God doen, kan ons die gevolge aan Hom oorlaat, want Hy sal self na ons omsien, ons regverdig verklaar en bewys. Hoe maklik is dit nie vir Hom om ons probleme vir ons op te los nie.
Die engel het ook vir Josef gesê om die kind Jesus te noem. Die naam Jesus, beteken Verlosser. Hy sou die mense van hulle sondes verlos.
Toe Josef uit die droom wakker word, het hy waarskynlik dadelik na Maria se huis toe afgesit en sy droom en God se opdrag aan hom met haar gedeel. Dit was natuurlik vir dié vreesbevange, huilende meisie ‘n reuse verligting! Eensklaps was hul pyn en vertwyfeling vergete. Harde woorde en trane het plek gemaak vir gelag en uitroepe van vreugde en daar en dan het hulle begin om reëlings te tref vir hul troue.
Wanneer dit lyk of alles besig is om skeef te loop, of ons hele lewe besig is om in duie te stort, moet ons net soveel vaster op God vertrou. Hy sal ons nooit in die steek laat nie. “…Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” (Heb 13:5).
B. JESUS SE GEBOORTE (Lees Luk 2:1-7)
Tot hier toe het ons na die verhaal van die geboorte van Jesus gekyk soos wat Josef en Maria dit belewe het, maar laat ons dit nou beskou vanuit die perspektief van die Kind self. Wie was hierdie Baba? Hy was die Seun van God. ‘n Mens sou dink dat God dit so sou beskik dat so ‘n belangrike baba die beste behandeling denkbaar sou ontvang. Wanneer ‘n vooraanstaande vrou geboorte moet skenk, word sy gewoonlik na ‘n puik hospitaal geneem waar net die beste dokters na haar tydens die bevalling sal omsien. Wanneer ‘n kind vir ‘n president of ‘n koning gebore word, is dit hoofnuus oor die media. Maande tevore al verskyn die artikels in al wat tydskrif is.
Dit was nie die geval met Jesus, die Seun van die Allerhoogste God nie. Sy verwagtende moeder moes ‘n lang rit op die rug van ‘n donkie aflê en nie in die spog koets van ‘n koning nie.
Toe hulle in Betlehem kom, was die dorp reeds oorvol van al die mense wat toegestroom het vir die sensusopname. Die egpaar kon nêrens verblyf kry nie. Later moes hulle maar tevrede wees om in ‘n stal vir beeste, skape en bokke oor te bly.
Toe die Baba gebore is, is Hy in ‘n krip neergelê; ‘n voerbak vir diere.
Waarom het God dit só toegelaat? Hy is tog almagtig en kon beskik het dat Sy Seun in ‘n paleis gebore sou word. Maar nee, Hy wou vir die mensdom wys dat Hy almal se God was. Hy wou die arm mense, die siekes, die verwerptes en die eensames verseker dat Hy ook hulle God was, en dat Sy Seun hulle so lief gehad het, dat Hy gewillig was om laer te buig as enigeen van hulle, om hulle Vriend en Verlosser te kan wees.
C. GOD OPENBAAR DIE GEBEURE AAN SKAAPHERDERS (Lees Luk 2:8-20)
Die Here het Sy eie “media” gebruik om die geboorte van Sy Seun aan te kondig; verslaggewers vanuit die buitenste ruimte; hemelse wesens.
Wat ook opmerklik is, is dat die engel, en dan ‘n leërskare van engele, nie aan die ryk en vooraanstaande mense van die dorp verskyn het nie, maar wel aan die skaapwagters; diegene wat nie in Betlehem geag was nie. Hulle was so arm dat hulle nie ‘n veilige plek gehad het waarin hul, hul skape kon laat oornag nie maar moes saam met die trop buite in die oop veld slaap.
Waarom was hulle so deur God bevoorreg? Het hierdie manne God geken, of was dit maar net so in Sy hart om Sy onverdiende genade, vryelik te betoon aan wie Hy ookal wou? Hulle was dan ook die eerstes om die goeie nuus te verneem dat die Seun van God gebore was. Hoe bevoorreg was hulle nie. Uit die ganse mensemassa was hulle die eerstes om die Evangelie Boodskap te hoor; die boodskap dat ‘n Verlosser gebore was wat die sonde van die wêreld sou wegneem.
Wat was hulle reaksie? Hulle het die engele geglo, dadelik hulle vee net daar laat staan en na Betlehem gehaas. By die stal aangekom, vind hulle toe die Kind, Jesus, in doeke toegedraai net soos die engele vir hulle gesê het.
Dink net hoe bly Maria was om hulle getuienis te hoor. Sy mag dalk gedink het dat God nie vir haar omgegee het nie omdat sy in ‘n stal aan haar kind geboorte moes skenk. Maar hier was Sy boodskappers om te vertel dat Hy sy engele na hulle toe gestuur het met dieselfde boodskap as wat Hy nege maande tevore deur ‘n engel vir haar gehad het.
Wanneer hulle self die Jesus Kind aanskou, is hulle harte so vol van vreugde dat hulle, hul skape daar teen die hang van die berg aan die Heer toevertrou en eers oral rondgaan om vir almal te vertel wat gebeur en dat hulle die Christus gevind het.
Wanneer ‘n mens waarlik vir Jesus gevind het, vertel jy dit aan almal. “Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.” So ‘n ontmoeting gryp jou so aan dat dit alles in jou lewe oorheers.
D. GOD OPENBAAR DIE GEBEURE AAN WYSE MANNE (Lees Matt 2:1-12)
Hier het ons heeltemal anders soortige besoekers. Hulle was nie ongeletterd nie, maar belese. Hulle was ryk manne want hulle het duur geskenke saamgebring. Hulle was ook manne wat met God kontak gehad het. Hy het met hulle op ‘n wyse gekommunikeer wat hulle, as sterrekundiges, verstaan het, naamlik deur die sterrehemel. Hy het ‘n besondere ster aan die frimament geplaas en omdat hulle die sterre bestudeer het, het hulle dadelik hierdie ongewone hemelliggaam opgemerk. Dit het sommer een nag uit die niet verskyn. Onmiddellik het hulle begryp dat dit ‘n teken van God was dat ‘n besondere kind êrens gebore was. Die ander sterre het in hul eie geykte bane deur die hemelruim gesnel, maar hierdie ster het stilgestaan en eers toe die wyse manne begin beweeg, het dit ook beweeg en hulle in ‘n bepaalde rigting gelei. Wanneer hulle gestop het om te rus, het die ster bewegingloos bly hang en op hulle gewag om hul reis te hervat.
Sodoende het hulle toe in die land van Israel aangekom en by die koning, koning Herodes, navraag gaan doen. Hulle het waarskynlik gedink dat hy, as staatshoof, sou weet waar die nuwe koning van die Jode gebore was. Koning Herodes het egter nie geweet nie, tewens, die nuus het hom geweldig ontstel, want hy was bang dat die nuwe koning hom sou onttroon.
Ongelukkig is die meeste van ons hedendaagse leiers maar in dieselfde posisie. Hulle mag ryk wees in kennis aangaande die verloop en bestuur van die wêreld om hulle, maar weet ook nie hoe om met God kontak te maak en vrede met Hom te vind nie. Hulle godsbegrip is gewoonlik in lyn met dié van die godsdienstige wêreld, naamlik dat die mens Sondae kerk toe moet gaan, sy bydraes daar moet gee, ‘n moreel goeie lewe moet lei en fondse aan liefdadigheidsorganisasies moet bewillig. Hulle hoop om langs hierdie weg guns by een of ander opperwese te vind, maar kan nie getuig dat hulle die Skepper van hemel en aarde wel self gevind het nie.
Koning Herodus het by die godsdienstige mense, die kerkmense van sy dag, navraag begin doen. Hulle het hul Bybelse geskrifte nageslaan en gesien dat Jesus in Betlehem gebore sou word en die koning so ingelig. Wat verstommend is, is dat alhoewel hulle geweet het waar om Jesus te vind, hulle nie moeite gedoen het om self te gegaan het om Hom te soek en te aanbid nie. Hulle was tewens baie tevrede en gelukkig met hulle eie vorm van godsdiens. Hulle wou eerder enige kennis aangaande Hom verberg want hulle was belangrike leiers van die Joodse godsdiens en was bang dat hulle lede hulle sou versaak en die nuwe Koning sou aanhang. Hulle was verwaand en selfsugtig. In plaas om mense na God te lei, het hulle mense in die weg gestaan om God te vind; disinformasie. So besluit hulle toe om liewer nie self te gaan om die Koning te aanskou nie maar om later meer besonderhede oor Hom van die Oosterse reisigers te bekom wanneer dié op pad huistoe deur Jerusalem sou reis.
Die wyse manne egter, het ‘n vêr pad gekom gehad en het ‘n brandende begeerte in die hart gevoel om dié belangrike Koning te ontmoet. Hulle moes teleurgesteld gewees het in koning Herodes en die godsdienstige leiers, maar nie in God nie. Hy het hulle gehelp. Toe hulle die paleis verlaat, het hulle weer na die hemelruim opgekyk en die ster gesien. Soos wat hulle in die rigting van die ster beweeg, het dit voor hulle uitbeweeg – in die rigting van Betlehem. So het hulle die ster dan gevolg en die Kind, Jesus, gevind. Ineens was hulle vol vreugde. Hulle het neergeval en Hom aanbid.
Hier is nou belangrike, geleerde, ryk manne van ‘n vreemde nasie en kultuur en hulle val neer om ‘n klein Kindjie te aanbid. Waarom? Is dit nie ‘n vreemde ding om te doen nie? Nie as jy weet dit is nie maar net ‘n doodgewone kind nie. Hy was die Seun van die almagtige God. Hulle was nie onderrig in die geloof van Israel nie, maar God het homself daar in die vêrre vreemde op Sy eie manier aan hulle openbaar en daarom het hulle sy eniggebore Seun hier as God kom aanbid.
Toe haal hulle, hul kosbare geskenke uit en bied dit vir Hom aan; goud, wierook en mirre, koningsgeskenke. Hierdie manne was gereed om alles wat hulle gehad het, vir die Seun van God te gee. Eerstens het hulle al die tyd (waarskynlik maande) wat dit hulle geneem het om na Betlehem en terug te reis, gegee. Hulle het ook hierdie kosbare geskenke, soveel as wat hulle op die kamele gelaai kon kry, saamgebring en dít aan Hom gegee. Hulle het selfs hulle lewens gewaag om te kom, want dit was ‘n gevaarlike pad waarlangs hulle gereis het. Rowers kon hulle aangeval en vermoor het.
Wanneer ‘n mens eenmaal besef dat Jesus die Seun van die allerhoogste God is wat gebore is om jou van sonde te verlos, gee jy met ‘n lekker hart aan Hom geskenke, ja self ook jou hele lewe.
Daarna het God in ‘n droom aan hulle verskyn om hulle te waarsku om langs ‘n ander roete terug te keer sodat koning Herodus se bose plan om die Christus Kind te vermoor, gefnuik kon word. So kon hulle behoue na hul land terugkeer na afloop van ‘n volkome suksesvolle reis.
Die voetstappe van ‘n regverdige man word deur die Here gerig (Ps 37:23).
……….