Jesus se hofsaak

JESUS SE VERHOOR VOOR PILATUS

.

A. DIE JOODSE LEIERS PRAAT SAAM OM JESUS DOOD TE MAAK

Mar 14:1  En die pasga en die fees van die ongesuurde brode sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak. 2  Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien ‘n oproer onder die volk kom nie. 

Die Hoëpriester was die hoof van die tempel (die kerk) in die hoofstad, Jerusalem, en ook van al die sinagoges (gemeentes) in die land. Die owerpriesters was sy helpers. Die Skrifgeleerdes was ‘n groot klomp slim manne wat die Bybel dag vir dag gelees en gelees het om alles wat daarin geskryf is, te kan weet. Die een het altyd probeer om meer as die ander te weet.

Maar nie die priesters of die skrifgeleerdes, het verstaan wat hulle in die Bybel gelees het nie.  Die Bybel is God se woorde en gedagtes en ons as mense kan nie altyd so maklik uitmaak wat dit sê nie. Die Here self moet ‘n mens help om die Bybel te verstaan en hulle het nie van Hom gehou nie. Hulle het nie hulle harte aan Hom oorgegee sodat Hy deur sy Gees daarin kon woon nie. Hulle het hulleself meer liefgehad as vir God. Daarom het Hy hulle nie gehelp nie.

Daarom het hulle ook nie verstaan dat Jesus God se Seun was van wie in die Bybel lank tevore al geskryf is dat Hy sou kom om die Joodse volk en die heidene van hul sondes los te maak nie. Hulle het Jesus gesien as ‘n valse leraar (pastoor of predikant) wat die mense mislei het en wat hulle uit hulle werk (poste) wou uitstoot. Daarom het hulle besluit om Hom dood te maak.

B. JESUS WORD GEVANG

Terwyl Jesus een nag in ‘n tuin met die naam Getsémané besig was om te bid, kom daar ‘n groot bende manne met swaarde en stokke aan. Hulle was deur die Hoëpriester gestuur om Jesus te vang. Jesus se dissipel met die Naam van Judas, was een van hulle. Hy het vorentoe gestap en Jesus gesoen om vir hulle te wys wie hulle moes vang. ‘n Ander een van Jesus se dissipels het probeer om Hom te verdedig. Jesus het dit nie toegelaat nie want Hy het juis gekom om vir ons sondes met Sy lewe, Sy bloed te betaal. Hulle het Hom toe gevang. Al Sy dissipels het weggevlug.

C. JESUS IS EERS DEUR DIE KERKRAAD VERHOOR

Mar 14:53  En hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester. En al die owerpriesters en die ouderlinge en die skrifgeleerdes het by hom vergader. 54  En Petrus het Hom van ver af gevolg tot binne-in die paleis van die hoëpriester, en het saam met die dienaars gesit en hom by die vuur warm gemaak. 

55  En die owerpriesters en die hele Raad het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en hulle het niks gevind nie; 56  want baie het vals teen Hom getuig en die getuienisse was nie eenders nie. 57  En sommige het opgestaan en vals teen Hom getuig en gesê: 58  Ons het Hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae ‘n ander een opbou wat nie met hande gemaak is nie. 59  En selfs so was hulle getuienis nie eenders nie. 

60  Toe staan die hoëpriester in hul midde op en vra Jesus en sê: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U? 61  Maar Hy het stilgebly en geen antwoord gegee nie. Weer stel die hoëpriester Hom die vraag en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die geseënde God? 62  En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel. 

63  Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Wat het ons nog getuies nodig! 64  Julle het die godslastering gehoor; wat dink julle? En hulle het almal Hom veroordeel dat Hy die dood skuldig was. 

Ons lees hier dat dit alles diep in die nag gebeur het. Jesus was in ‘n tuin met die naam Getsemane saam met Sy dissipels. Hy was baie benoud want Hy het geweet dat Hy gemartel en gekruisig sou word. Daarom het Hy tot sy Vader gebid om Hom krag te gee.

Nadat hulle Hom gevang het, het hulle Hom na die kerkgebou, die tempel, in Jerusalem geneem. Daar is Hy verhoor deur die Sanhedrin, wat bestaan het uit die Hoëpriester, owerpriesters, ouderlinge en Skrifgeleerdes. Die mense wat teen Jesus getuig het, was gehuur en het onbeskaamd gejok. Hulle het niks gesê waarvan Hy skuldig bevind kon word aan ‘n misdaad wat die dood verdien het nie.

Toe Hy gevra is, het Jesus erken dat Hy die Seun van God is. Die Hoëpriester het dit nie as die waarheid aanvaar nie maar Hom daaraan skuldig bevind dat Hy voorgee het dat Hy God was. Die kerkraad kon ‘n mens egter nie ter dood veroordeel nie en het Jesus na die land se regering se hof toe geneem om daar verder verhoor te word en die doodstraf oor Hom uit te spreek.

D. JESUS WORD DEUR DIE LAND SE HOF VERHOOR

Mar 15:1  En dadelik, vroeg in die môre, het die owerpriesters saam met die ouderlinge en skrifgeleerdes en die hele Raad ‘n besluit geneem; en nadat hulle Jesus geboei het, het hulle Hom weggelei en aan Pilatus oorgelewer.  2  En Pilatus het Hom gevra: Is U die Koning van die Jode? En Hy het geantwoord en vir hom gesê: U sê dit. 3  En die owerpriesters het baie beskuldiginge teen Hom ingebring. 4  En Pilatus het Hom weer gevra en gesê: Antwoord U niks nie? Kyk hoe baie getuienisse hulle teen U inbring. 5  Maar Jesus het niks meer geantwoord nie, sodat Pilatus hom verwonder het. 

6  En op die fees was hy gewoond om een gevangene, die een wat hulle gevra het, vir hulle los te laat. 

12  Toe antwoord Pilatus weer en sê vir hulle: Wat wil julle dan hê moet ek doen met Hom wat julle Koning van die Jode noem? 13  En hulle skreeu weer: Kruisig Hom! 14  Maar Pilatus sê vir hulle: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Hulle skreeu toe nog harder: Kruisig Hom! En omdat Pilatus aan die skare hulle sin wou gee, het hy Barábbas vir hulle losgelaat; en nadat hy Jesus laat gésel het, het hy Hom oorgelewer om gekruisig te word. 

Die regter se naam was Pilatus. Hy het gou-gou gesien dat Jesus onskuldig was. Hy het agtergekom dat die Joodse leiers Hom wou doodmaak omdat hulle op Hom jaloers was en Hom gehaat het. Hy het toe allerhande planne gemaak om Hom los te laat.

Een van die dinge wat hy gedoen het, was om aan te bied om ‘n man wat aan moord skuldig bevind was, vir hulle los te laat. Hulle kon kies tussen Jesus en die moordenaar met die naam van Barábbas. Pilatus het gehoop dat hulle Jesus sou kies, maar hulle het Barábbas gekies.

Toe Pilatus sien daardie plan het nie gewerk nie, laat hy sy soldate vir Jesus met ‘n soort van sweep stukkend slaan (gesel) en bring Hom toe weer voor die Jode. Hy het gehoop dat dit hulle tevrede sou stel as hulle Hom so bebloed sou sien, maar dit het nie. Hulle het bly skreeu, “Kruisig Hom”. Pilatus was toe sy hande in ‘n skottel water om homself as’tware daarvan te verontskuldig dat hy ‘n onskuldige Man skuldig bevind. Daarna gee hy vir Jesus aan die soldate oor om gekruisig te word.

Jesus is dus onskuldig gemartel en ter dood veroordeel.

//////////

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → 7 Jesus se hofsaak . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha