Jesus se kruisiging; Luk 23:26 – 56

HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD

(Weer konsentreer ons op die gebeure soos weergegee in die Evangelie van Lukas maar werk ook hier en daar die ander Evangelies by.)

JESUS OP PAD NA GOLGOTA (Lees asb Luk 23:26-32; Matt 27:32).

Sy fisiese toestand.

‘n Persoon wat gekruisig sou word, moes sy eie kruis dra maar Jesus was baie swak as gevolg van Sy geestelike konflik in Getsémané, Sy drie opeenvolgende verhore en Sy geseling deur die Romeinse soldate. Hulle het gewoonlik ‘n sweep met drie toue waarin stukkies lood ingevleg was, gebruik. Die Joodse Wet het 40 houe toegelaat. So ‘n geseling het die vleis uit die slagoffer se rug geskeur en geweldige pyn en bloedverlies tot gevolg gehad. Sedert sy arrestasie, verhore en marteling het Hy waarskynlik ook geen kos of water gehad nie.

Te swak om Sy eie kruis te dra.

Toe Hy uiteindelik weggelei is na Gólgota, was Hy so swak dat Hy Sy eie kruis nie kon dra nie en geen vrywilliger het aangebied om dit vir Hom te doen nie. Gedurende Sy drie jaar van bediening, het Hy waarskynlik honderde mense genees. Waar was die lam man wat Hy by die bad van Betésda genees het nou, of die een wat deur die dak neergelaat was? Waar was Jaïrus wie se dogtertjie Hy uit die dood opgewek het? Waar was sy 11 dissipels? Waar was Johannes en Jakobus wat gevra het om in Sy Koninkryk aan Sy regter- en linkerhand te mag sit? Hulle almal het gedeel in Sy heerlike oorwinnende bediening, maar daar was geeneen wat in die vernedering en pyn van Sy kruisdood wou deel nie. Toe Sy krag Hom begewe het, was daar niemand wat uit die skare vorentoe getree en gesê het: “Meester, laat ek dit vir U dra” nie. Niemand. Die Romeise soldate kommandeer toe sommer ‘n toeskouer, Simon van Ciréne wat pas by die skare aangesluit het, op om dit te dra. God het hierdie daad van soveel belang geag dat Hy dit in drie Evangelies laat opteken het. Daarvoor sou Simon sy beloning ontvang.

Die prys om God te verheerlik.

Hier was ‘n wonderlike geleentheid om iets spesiaals vir Jesus te kon doen. Ons wil ook soms iets vir die Here doen maar mis die geleentheid omdat dit op ‘n ongeleë tydstip kom, of omdat ons te skaam is om iets vernederends te doen.

Jesus het tevore vir Sy dissipels gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red. Wat baat dit ‘n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen? Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.” (Luk 9 :23-26)

Om Jesus te volg beteken om uit te kom uit die skare en die vernedering en pyn wat die wêreld op toegeweide kinders van die Here lê, te dra. Jy moet gewillig wees om openlik vir Jesus kant te kies en die verwerping, beskuldiging, veragting en selfs fisiese pyniging om Sy ontwil te dra. Jy moet gewillig wees om ten aanskoue van die massas, jou kruis op te neem en Hom te volg. Is jy ‘n Simon van Ciréne of is jy deel van die Jerusalemse skare? Die kruis bring altyd skeiding tussen mens en mens.

SY URE AAN DIE KRUIS (Lees asb Luk 23:33-48).

Toe hulle die kruin van die heuwel, bekend as Hoofskedel, bereik, het hulle Hom daar gekruisig. Gewoonlik is ‘n houtkruis plat op die grond neergelê en die veroordeelde op sy rug daarop uitgestrek. Dik spykers, soos yster penne, is dan deur sy handpalms en voete in die hout ingedryf. Daarna is die kruis opgelig en die onderste deel daarvan in ‘n gat in die grond laat insak. Sodoende het die gekruisigde dan aan die spykers gehang wat in sy vleis en been ingesny het. Om in so ‘n posisie te hang, het dit ook baie moeilik gemaak om asem te haal. Jesus se rug was alreeds oopgeruk en gekloof deur die géseling, Sy hoof oortrek met steekwonde van die doringkroon en Sy gesig gekneus en stukkend van die vuishoue wat hulle Hom toegedien het. Die profeet Jesaja beskryf dit so: “Soos baie hulle oor U verstom het—so misvormd was sy voorkoms, geen mens meer nie, en sy gestalte was nie soos dié van ‘n mensekind nie— (Jes 52:14). Dit was die fisiese pyn wat Hy vir die volgende ure sou moes verduur.

Sy nalatenskap.

Hy het geen aardse besittings gehad om aan Sy familie na te laat nie. Gedurende Sy bediening het Hy Homself nooit bemoei met ‘n huis, klere en kos nie. Sy Vader het in Sy daaglikse behoeftes voorsien en dit was al wat Hy verlang het.

Wat Hy wel nagelaat het, was ‘n rykdom van geestelike skatte, voldoende vir die behoeftes van die ganse mensdom. Aan sy familie, nabye vriende en dissipels het Hy ook nagelaat die voorbeeld van ‘n lewe volkomelik aan God oorgegee.

As misdadiger is Hy gereken.

Die heiligste Man ooit, die volmaakte Seun van God, is tussen twee misdadigers gekruisig; Hy is as een van hulle gereken. Die ander twee was skuldig aan roof en moord: Jesus het gesterf vir al die sonde wat die mensdom ooit begaan het.

‘n Onberekenbare lading skuld was op Sy skouers.

Die skuld wat op Sy skouers gerus het was meer as die gesamentlike skuld van duisende van die grootste misdadigers wat ooit hierdie aarde bewandel het. Dit was asof sy Vader ‘n reuse onsigbare tregter op Hom laat rus en die sonde van die ganse mensdom wat ooit gedoen was en nog gedoen sou word, daarin gegiet het. So het die heiligste van alle mense die grootste sondaar ooit geword en het Hy die regverdige straf daarvoor gedra totdat die geregtigheid van God volkome bevredig is.

Dit beteken dat die Vader as onpartydige regter die straf wat al hierdie mense individueel sou moes dra, geneem, op Jesus uitgegiet en toegelaat het dat Hy daarvoor gestraf word totdat die Regter gesê het: “Genoeg, hierdie sondes is nou behoorlik, voldoende en volkomelik gestraf.”

Sy geestelike lyding kan ons nie begryp of in woorde beskryf nie.

Ons moet ook in gedagte hou dat die pyn wat Hy beleef het, nie net fisies was nie maar ook geestelik, deurdat Hy die vertroostende teenwoordigheid van Sy Vader ontsê was en omdat die toorn van God uitgegiet was op die sonde wat op Hom gerus het. In Matt 27:46 lees ons dat Sy lyding so intens was dat Hy uitgeroep het: “Eli, Eli, lama, sabagtáni,” wat beteken: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Dit het waarskynlik gebeur tydens die drie-uur lange periode van algehele duisternis wat vanaf 12 middag tot 3 nm oor die ganse aarde, asook oor die mense daar op Gólgota gekom het, soos wat ons lateraan sal sien.

“Vader vergeef hulle … “

Laat ons ook daarop let dat Jesus geen wrok teenoor Sy pynigers en moordenaars gekoester het nie maar uitgeroep het: “Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hy het nie net vir hulle ingetree nie maar ‘n rede verstrek om krag aan Sy gebed te verleen. Hoe anders was Sy gesindheid as dié van Jakobus en Johannes wat vuur van die hemel wou afbid op die Samaritane wat geweier het om aan hulle herberg vir die nag te verskaf het.

Hy, die Almagtige het swak geword terwille van ons.

Deurentyd was Hy bespot; eerstens deur die priesters. Toe Hy in krag opgetree het deur mense te genees, duiwels uit hulle uit te dryf, ja selfs sommige uit die dood uit op te wek, was hierdie priesters deur jaloesie verteer; nou het hulle hulself verlustig in hulle mag. Nou was hulle die sterkes en Hy die swakke. “U het ander verlos; verlos Uself nou deur van die kruis af, af te kom, dan sal ons glo dat U van God gekom het,” het hulle skreeuend gespot.

Verkleineer deur ruwe soldate.

Die soldate het ook met Hom die spot gedryf. Pilatus het beveel dat ‘n kennisgewingbord met die woorde: “DIT IS DIE KONING VAN DIE JODE,” in die drie bekendste tale geskryf en aan die kruis aangebring moes word. Dit het Hy waarskynlik gedoen uit wrewel teenoor die Jode wat Hom feitlik gedwing het om Jesus te laat kruisig. Die soldate het hierdie opskrif nou gebruik as basis om Hom te verkleineer. Wat hulle geskree het, was iets soos die volgende: “As jy die koning van die Jode is, verlos jouself. ‘n Koning hoort mos nie aan ‘n kruis nie, nee, hy moet op ‘n troon sit en regeer. Wys ons jou mag, o koning!”

Bespot deur ter dood verooldeelde misdadigers.

Selfs die twee gekruisigde misdadigers het die spot met Hom gedryf: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en sommer vir ons ook!”

Terwyl Hy ly steek Hy ‘n reddende hand uit na ‘n mede-lydende.

In die Evangelie van Matthéüs lees ons dat albei van hulle aanvanklik die spot met Hom gedryf het maar in Lukas word vermeld dat een van hulle mettertyd tot inkeer gekom het (23:39-43). Paulus skryf dat Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red (1Tim1:15) en hier sien ons die bewys daarvan. Terwyl Christus besig was om vir sondaars te sterf, het Hy die geleentheid aangegryp om een van hulle daar en dan van die rand van die afgrond van die verdoemenis weg te ruk. Hierdie boosdoener het in geloof uitgereik na die Man wat langs hom gehang het en gepleit: “Dink aan my wanneer U in U koninkryk kom,” en dadelik het hy hierdie wonderlike woorde van versekering gehoor: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” O, die wonderlike genade en diepe, diepe liefde van God.

Dit was nie vir die misdadiger nodig om ‘n lang gebed te bid en al sy rooftogte en moorde te bely nie, net maar: “Dink aan my. U is regverdig; ek is ‘n sondaar. U het geen skuld; ek word regverdiglik gestraf. U het ‘n Koninkryk aan die anderkant van die graf, maar ek, waarheen sal ek gaan? Dink tog aan my wanneer U in daardie heerlike plek kom,” en dadelik ontvang hy die belofte: “Jy sal saam met My daar wees, ons sal by mekaar wees, hierdie selfde dag nog.”

“Here, dink ook aan my!”

As Jesus selfs daar waar Hy aan die kruis gehang, ‘n sondaar se gebed verhoor het, hoeveel te meer joune en myne noudat Hy in heerlikheid aan die regterhand van die Vader sit?

Die gekruisigde Christus  noop elke mens om te kies.

Weer sien ons ook hoedat Christus die mensdom in twee groepe verdeel; dié aan Sy regterkant gaan saam met Hom na Sy Paradys en dié aan Sy linkerkant, gaan sonder Hom na ‘n ewige verdoemenis (Matt 25:34, 41). Elke persoon kies sy eie bestemming. Jesus het nie die misdadiger aan sy linker- óf aan Sy regterhand die een bo die ander uitverkies nie. Sy arms was na beide toe uitgestrek; die een misdadiger het gekies om die Hand van God in geloof te aanvaar en die ander het dit in ongeloof minagtend weggeklap.

Wie is jou kandidaat?

Dit is soos om ‘n stembriefie te ontvang met die name van twee kandidate daarop naamlik, “Die duiwel” en “Jesus”. Weens ons sondige natuur het ons almal kleintyd al, sodra ons tussen goed en kwaad kon onderskei, ‘n kruisie in “Die duiwel” blokkie getrek, maar omdat God genadig is, het Hy nie toegelaat dat ek dit dadelik in die “Vir ewig” stembus gegooi het nie, nee ek het dit in my hand behou en mag nog eenmaal in my lewe anders stem.

Om dit te doen moet ek my vorige kruisie in “Die duiwel” blokkie doodkrap en ‘n nuwe kruisie in die “Jesus” blokkie trek. Hierdie keuse kan nie weer verander word nie. Deur hierdie “Jesus kruisie” te trek, kies ek om my lewe vir ewig in Sy hande te gee, Hom gehoorsaam te wees en Hom te volg waar Hy ook sal lei.

Waar die twee rowers aan die kruis gehang het, het albei as’t ware nog hul stembriefies elk in sy hart bewaar. Die een rower het sy stembrief onveranderd “in die ewige stembus gegooi,” maar die ander een het tot berou gekom oor sy vroeëre dwase keuse, dit “uitgekrap” en ‘n nuwe keuse gemaak waarna hy ook sy “brief in die stembus gegooi” het. Wat sy nuwe keuse was, blyk duidelik uit sy kort gesprek met Jesus en die heerlike belofte wat hy van Hom ontvang het. Nie almal is bevoorreg om op so ‘n laat stadium in sy of haar lewe ‘n nuwe keuse te kan maak nie, daarom waarsku ons liefdevolle God vir ons, “ … Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie … . (Heb 3:15).

“Wat kan ek vir jóu doen?”

Jesus het nie Sy eie behoeftes bo dié van andere gestel het nie. Terwyl Hyself so geweldig gely het, het Hy nog opgelet wie naby Hom was, iemand vir wie Hy iets kon doen.  In sy swakste oomblikke het Hy ontferming gehad om ‘n stuk brandhout wat alreeds onder die toorn van God gesmeul het, uit die vuur te ruk. Ook het Hy aan Sy moeder gedink in haar nood en vertwyfeling en haar in die sorg van ‘n dissipel gegee (Joh 19:26,27).

Die opposisieleier.

Kom ons kyk vir ‘n oomblik weg van Jesus en vestig ons aandag op die duiwel wat hierdie hele skouspel bewerk het. Hy is en bly ‘n verloorder. Hier op Gólgota het hy drie manne in sy mag gehad; elk vasgepen aan ‘n kruis terwyl sy volgelinge daar staan en juig het in hul oorwinning, maar in ‘n oogwenk is die bordjies verhang en is een van die drie uit sy se strikke verlos, nie deur ‘n buitestaander nie maar deur Een van die drie, die Een wat aan die middelste kruis gehang het. Kan ons, onsself indink wat ‘n frustrasie dit vir die bose moes wees toe een van sy gevangenes, een wat hy ‘n leeftyd lank verlei en mislei het en nou tot op die rand van die verdoemenis gekom het, skielik ‘n deur sien oopgaan en daardeur ontsnap het, terwyl hy niks, absoluut niks kon doen om dit te verhoed nie. En wat meer is, twee dae later sou die Man wat daar aan die middelste kruis vasgespyker was, self uit die graf uit opstaan. Die duiwel het die stryd op Golgota verloor!

Duisternis (Lees asb Luk 23:44 tot 49).

Die donkerte het skielik, om 12 uur, toe die son op sy hoogste was, oor die aarde gekom. Dit moes skrikwekkend gewees het en almal het besef dat dit ‘n bonatuurlike gebeurtenis, ‘n teken vanuit die hemele, ‘n teken van God was.

Waarom duisternis? Toe God die Farao van Egipte gestraf het om Sy volk vry te laat, was duisternis een van die plae wat Hy oor die Egiptenare laat kom het, maar nie oor Sy eie mense nie. Lig is ‘n teken van God se teenwoordigheid, net soos wat duisternis gewoonlik dui op Sy afwesigheid. Toe Jesus vir ons sonde geword het, het God so ‘n afsku gehad in dit wat Hy aanskou het, dat Hy Hom totaal en al van Hom onttrek het. Die ewige duisternis wat ‘n verlore siel in die verdoemenis sal belewe, het nou oor Jesus gekom want Hy moes ook dit namens ons dra. Hy het gedurende daardie drie ure terwyl God Hom aan die aarde onttrek het, innerlike sowel as uiterlike duisternis belewe.‘n Mens kan jou skaars indink in Sy benouende posisie: die uitmergelende pyn in Sy liggaam, die skrikwekkende innerlike ervaring van deur Sy Vader verlate te wees en daarby nou, hierdie verstikkende duisternis terwyl Hy daar eensaam, opgehef aan die kruis, gehang het. Dit was moontlik dít wat Hom laat uitroep het: “My God, My God, waarom het u My verlaat?”

“Dit is volbring.”

Na drie ure het die duisternis opgeklaar. Kon dit wees dat die volle losprys vir die mensdom se sonde toe betaald was, want toe Jesus uitgeroep het: “Ek het dors,” en hulle ‘n spons, in asyn gedoop, vir Hom aangebied en Hy dit aanvaar het, het Hy uitgeroep: “Dit is volbring,” (Joh 19:30) waarna Hy uitgeroep het: “Vader in U hande gee ek My gees oor,” en gesterf het.

Begrip breek deur.

Toe die hoofman oor honderd wat Jesus gekruisig het, dit sien, het hy openlik erken dat Jesus ‘n regverdige man was en in Markus 15:39 staan dit bykomend opgeteken dat hy uitgeroep het: “Waarlik, Hy was die Seun van God.” Ook die ganse skare wat nog daar gestaan het, het met die vuiste op die bors geslaan, diep onder die indruk van die ontsagwekkende gebeure waarvan hulle getuies was. Moontlik het sommige van hulle, net soos die rower aan die kruis, ook tot geloof in Jesus gekom.

Die Vader spreek op ‘n skokkende wyse.

In die nabygeleë stad, Jerusalem, het die Vader terselfdertyd getuienis teenoor die mensdom gelewer van wat in die geestelike sfere gebeur het. In die tempel, naamlik, het die gordyn wat die heilige gedeelte van die tempel van die Allerheiligste gedeelte geskei het, van bo na onder deurgeskeur. Ineens was die plek waarin God gewoon het, oop sodat almal die Ark van die verbond, die versoendeksel en die gerubs met uitgespreide vlerke kon sien. Tot op daardie oomblik was net die Hoëpriester gemagtig om net eenmaal per jaar daar in te gaan om vir sy sondes en dié van die volk versoening te doen; nou was dit oop was vir almal.

Daar was waarskynlik ‘n aantal diensdoende priesters teenwoordig wat gesien het toe dit gebeur het. Sou die gordyn deur ‘n mens geskeur gewees het, sou dit van onder na bo geskeur het maar net God kon dit van bo na onder skeur. Die priesters moes verbysterd gewees en vir hul lewens gevrees het omdat hulle in die heiligdom ingekyk het; tog het niks met hulle gebeur nie.

‘n Weg gebaan na die Vader self.

Waarom het God dit gedoen? Dit was naamlik om aan die mensdom te demonstreer dat die muur van sonde wat God en mens geskei het, nou deur die afdoende offer wat die Seun aan Sy Vader gebring het, afgebreek, platgeslaan was. Loof die Here! Voortaan sou elke kind van God in die Troonkamer kon ingaan en by die voete van die Vader kon kniel en Hom aanbid, nie op grond van sy eie goedheid nie, maar op grond van die prys wat deur sy Verlosser, Jesus, betaal is. Dit is waarom die engel 33 jaar tevore vir Josef gesê het: “En jy moet hom Jesus noem want dit is Hy wat sy volk van hul sondes sal verlos.” (Matt 1:21)

JESUS SE BEGRAFNIS (Lees asb Luk 23:50-56 en sien ook Joh 19:38-42)

Die gelowiges skep moed.

Die prys was betaal, die oorwinning behaal en voortaan sou Jesus se dissipels uit hul dop kruip en wys waar hulle staan. Josef van Arimathéa en Nikodémus was albei prominente lede van die Sanhédrin maar in die geheim ook dissipels van Jesus. Tydens die verhoor en kruisiging was hulle op die agtergrond, maar nou wys hulle onbevrees waar hulle staan. Die getuienis dat Jesus inderdaad die Seun van God was, was oorweldigend: die drie ure duisternis, die aarbewing en die grafte wat oopgegaan het, die voorhangsel in die tempel wat van bo na onder middeldeur geskeur het, dit alles het tot hulle gespreek.

Jesus se liggaam in ‘n graf weggelê.

Josef moes ‘n baie invloedryke persoon gewees het want Pilatus staan hom te woord en voldoen aan sy versoek om Jesus se liggaam van die kruis te mag afhaal en verder daaroor te beskik. Saam gaan hy en Nikodémus dan na die kruis, neem die Liggaam in ontvangs, draai dit in linne toe en lê dit weg in Josef se persoonlike graf met die voorneme om dit na die sabbat verder volgens Joodse gebruik te versorg. Hulle rol die steen wat vir hierdie doel voorsien is, voor die opening om dit te beveilig. Van die vroue wat Jesus gevolg het, het dit aanskou.

Die graf word verseël (Lees asb Matt 27:62-66).

Die owerpriesters en Fariseërs wou absoluut seker maak dat die Jesus era nooit weer sou herleef nie en het toestemming gekry dat die graf verseël en wagte daar geplaas word. Ook hierin het die bose in God se hand gespeel want dieselfde wagte sou later getuies word van Jesus se opstanding.

AANVULLEND

Jesus se 7 “Kruis Woorde.”

  • En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. (Luk 23:34)
  • En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (Luk 23:43).
  • En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! (Joh 19:26,27).
  • Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Matt 27:46).
  • Ek het dors! (Joh 19:28).
  • Dit is volbring! (Joh 19:30).
  • Vader, in u hande gee Ek my gees oor! (Luk 23:46).

Wanneer ‘n mens aan die einde van die verhaal van die kruisiging kom, voel jy om sommer net ‘n tydlank in jou binnekamer op jou knieë voor God deur te bring, want voorwaar dit was heilige grond waaroor jy gestap het. Selfs om kommentaar daarop te gelewer het, was moeilik, want wanneer jy die heilige Seun van God so aan die kruis sien hang, droog jou woorde op en voel jy om eerder net as ‘n mensekind die ontsettende onreg wat ons Hom aangedoen het, in droefheid en skaamte te bely.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → JESUS KRUISIGING . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha