Jesus se kruisiging tot hemelvaart

JESUS SE KRUISIGING

.

A. JESUS WORD AAN ‘N HOUT KRUIS VASGESPYKER

Luk 23:33  En toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter— en een aan die linkerkant. 

Jesus is op ‘n hoogte bekend as Golgota (dit beteken “Kopbeen”) gekruisig. Die hout waarop Hy vasgespyker was, was in die vorm van ‘n kruis. Sy arms was weerskante van sy liggaam uitgestrek en dik spykers deur sy handpalms gedryf. Sy voete is onder op die regaf balk vasgespyker. Hy het verskriklike pyn en ook dors verduur.

Weerskante van Hom is twee misdadigers gekruisig. Die kerkleiers en wêreldse mense het Jesus as ‘n misdadiger gesien, maar God die Vader het geweet dat Hy Sy heilige Seun was wat besig was om vir die mensdom se sondes te betaal.

Mar 15:29  En die verbygangers het Hom gesmaad, terwyl hulle hul hoof skud en sê: Ha, U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou. 31  En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes gespot en vir mekaar gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. 

Baie mense het die spot met Hom gedryf omdat Hy so magteloos daar gehang het. Hy was so eensaam. Al sy dissipels, behalwe Johannes, was baie, baie bang dat hulle ook gevang en doodgemaak sou word en het van Hom af weggevlug.

Mar 15:33  En toe dit die sesde uur was, kom daar duisternis oor die hele aarde tot die negende uur toe. 34  En die negende uur het Jesus met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?

Die ergste van alles was dat Hy nie meer gevoel het dat Sy Hemelse Vader met Hom was nie. Dit het Hom laat uitroep “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Sy Vader het die verskriklike menigte van sondes van die mensdom gesien wat op Sy Seun gerus het. Dit was vir Hom so aaklig dat Hy weggekyk het, maar Hy het Sy krag nie van Sy Seun af weggeneem nie.

.

B. JESUS RED ‘N VERLORE MENS TERWYL HY DAAR HANG

Luk 23:39 En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons. 40  Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? — 41  ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie. 42  En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. 43  En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. 

Selfs terwyl Jesus self soveel pyn gely het, het Sy hart uitgegaan na die twee rowers wat weerskante van Hom aan hul kruise gehang het. Aan die begin het albei Hom gespot, maar later het die een berou gekry en vir Jesus gevra om hom tog ook in die hemel (Jesus se hemelse Koninkryk) te laat ingaan. Jesus het hom dadelik al sy sondes vergewe en belowe dat hy daardie selfde dag nog saam met Hom in die hemelse Paradys sou wees.

 

C. DAARDIE MIDDAG HET JESUS GESTERF

Joh 19:30  En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee. 

Nadat Hy in drie howe voorgekom het, deur Pilatus se soldate stukkend geslaan is en hulle ‘n doringkroon op sy kop gedruk en Hy ses ure lank aan die kruis gehang het, was Sy aardse werk afgehandel.

Net voor Hy gesterf het, het Hy uitgeroep “Dit is volbring.” Dit beteken dat Hy alles wat Sy Vader Hom gestuur het om te kom doen, klaar gemaak het. Die grootste van alles was dat Hy die volle skuld vir die mens se sondes betaal het. Dit sou nooit weer vir enigeen nodig wees om ‘n skaap, of bees, of watter dier ookal aan God te offer nie.

39  En toe die hoofman oor honderd wat daar reg voor Hom staan, sien dat Hy so uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas het, sê hy: Waarlik, Hy was die Seun van God. 

Hierdie harde Romeinse soldaat, ‘n kaptein wat ‘n honderd manskappe onder hom gehad het, was die tweede mens wat reeds daar by die kruis al gesien het dat hierdie Man, deur Wie se hande en voete hy die spykers geslaan het, regtigwaar die Seun van God was. Hy het groot geskrik toe hy dit besef, so groot, dat hy dit sommer daar voor almal uitgeroep het.

15:38 En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder. 

Maar ook God die Vader het op daardie oomblik vir Sy Seun, Jesus getuig. Hy het die tempel se agterste gordyn wat voor die allerheiligste kamer gehang het, van bo tot onder toe deur geskeur. Tot op daardie dag toe kon net die Hoëpriester eenmaal per jaar daar ingaan om voor God te pleit dat die mense se sondes vergewe moet word. Maar nou, omdat sy Seun die straf vir die sondes aan die kruis betaal het, en die Vader sy offer aangeneem het, kon enigeen in gebed reguit na God gaan en was dit nie meer nodig om deur ‘n priester met Hom te praat nie.

 

D. JESUS SE BEGRAFNIS

Mar 15:42  En toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat, 43  kom daar ‘n vername raadslid, Josef van Arimathéa, wat self ook die koninkryk van God verwag het; en hy waag dit om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra. 46  En hy het linne gekoop, en Hom afgehaal en in die linne toegedraai, en Hom neergelê in ‘n graf wat in ‘n rots uitgekap was. En hy het ‘n steen teen die opening van die graf gerol. 

‘n Belangrike kerkraadslid, Josef, het ook in Jesus geglo. Hy het vir Pilatus toestemming gevra om Jesus se liggaam van die kruis af te mag haal en te begrawe. Hy het toe die Liggaam in linne toegedraai en in die graf wat hy vir homself in die berg uitgekap gehad het om later in begrawe te word, neergelê en ‘n groot ronde klip daarvoor gerol. Daar was ook van Jesus se ander vriende (volgelinge) by toe Hy dit gedoen het.

 

E. JESUS STAAN OP UIT DIE DOOD

Mar 16:1  En toe die sabbat verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme speserye gekoop om Hom te gaan salf. 2  En baie vroeg op die eerste dag van die week, net ná sonop, kom hulle by die graf. 3  En hulle sê vir mekaar: Wie sal vir ons die steen voor die opening van die graf wegrol? 

16:4  En toe hulle opkyk, sien hulle dat die steen weggerol was, want dit was baie groot. 5  En toe hulle in die graf ingegaan het, sien hulle ‘n jongman, met ‘n lang wit kleed om, aan die regterkant sit, en hulle het baie geskrik. 6  En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasaréner wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het. 7  Maar gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galiléa. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het. 

16:8  Toe gaan hulle haastig uit en vlug van die graf af weg. En bewing en ontsetting het hulle aangegryp. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle het gevrees. 

Van die vroue wat by was toe Jesus begrawe is, het gewag tot op die eerste dag van die week en daardie oggend vroeg na die graf gegaan. Hulle kry toe dat die grafsteen weggerol was. Toe hulle ingaan, sien hulle daar ‘n engel wat soos ‘n jongman lyk en hy sê vir hulle Jesus het opgestaan uit die dood – hulle moes dit vir sy dissipels gaan sê.

Die eerste persoon aan wie Jesus na Sy opstanding verskyn het, was ‘n vrou met die naam van Maria Magdalena. Jesus het ook aan andere op verskeie plekke verskyn. Later het Hy ook aan Sy elf dissipels verskyn en hard met hulle gepraat omdat hulle so bang was om te glo dat Hy opgestaan het.

Voor Hy terug is hemel toe, het Hy hulle opdrag gegee om die hele wêreld in te gaan en die Evangelie aan alle mense te verkondig. (Die Evangelie is die verhaal van Jesus wat as mens gebore is, vir die mens se sondes gekruisig is en op die derde dag uit die graf uit opgestaan en opgevaar het na die hemel.) Dié mense wat hul boodskap sou glo en hulle laat doop, sou gered word, maar dié wat nie sou glo nie, sou veroordeel word.

.

F. JESUS SE HEMELVAART

Luk 24:50  En Hy het hulle uitgelei tot by Betánië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51  En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem. 

 

Act 1:9  En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. 10  En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, 

11  wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het. 

 

Jesus het ongeveer 33 ½ jaar op aarde tussen ons as mense gewoon. Die eerste 30 jaar het Hy houtwerk gedoen om vir die gesin te sorg. Die laaste 3 ½ jaar het Hy deur daardie hele Joodse land rondgegaan en gepreek en siekes gesond gemaak soos wat ons vroeër vertel het.  

Na Sy opstanding uit die dood, het Hy vir nog veertig dae aan Sy twaalf apostels asook aan baie van sy ander dissipels verskyn sodat hulle in Hom kon glo. Toe was Sy aardse werk wat Hy na sy opstanding moes doen, ook klaar en het Hy na die hemel opgevaar waar Hy aan die regterhand van Sy Vader gaan sit het. Van toe af aan bid Hy vir elkeen wat in Hom glo.

Elke keer wanneer ons nagmaal gebruik, wys ons daarmee dat ons in Hom glo en daarna uitsien dat Hy op die wolke moet terugkom om dié van ons wat aan Hom behoort, te kom haal.

//////////

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → 8 Jesus se kruisiging tot hemelvaart . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha