Jesus se verhoor; Luk 22:54-23:25

HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.

(Die vier Evangelies bevat gesamentlik ‘n rykdom van inligting oor Jesus se verhoor en kruisiging. Ons sal egter, soos in die vorige studiegidse, konsentreer op Lukas se weergawe en sal net hier en daar na die andere se verhalings verwys.)

WAT HET DAARTOE AANLEIDING GEGEE DAT JESUS GEKRUISIG IS?

Die Vader se rede vir die toelating van Sy Seun se kruisiging.

Om Jesus se verhoor en kruisiging te verstaan, moet ons begryp wat daartoe aanleiding gegee het. Van God se kant af gesien, was dit noodsaaklik dat Sy Seun vir die sondes van die mensdom kom sterf sodat God en mens weer op ‘n regverdige basis versoen kon word. Self sou die Vader nie Sy hand uitsteek om Sy Seun leed aan te doen nie, maar daar was die duiwel en die mens wat dit met graagte sou doen; so het Hy dit aan hulle oorgelaat; hulle hul gang laat gaan om Sy wil te bewerk.

Die duiwel se rede vir Jesus se kruisiging.

Sedert hy in die paradys daarin geslaag het om Adam en Eva in sonde te laat val, het hy die ganse mensdom in sy mag gehou want sonde bring vir die mens ellende hier op aarde en ‘n ewige oordeel hierna. Deur oorerwing was elke mens ‘n slaaf van sonde wat homself nie in eie krag daaruit kon loswikkel nie en was dit die duiwel se genot om die mens deur verleiding al dieper in die maalkolk van sonde in te dompel.

Die menswording van Jesus was dus ‘n geweldige slag vir die duiwel en sy bewind op aarde want Hy het die Vader se liefde, heiligheid en almag aan die mens kom openbaar en vir hulle hoop gegee dat ‘n lewe van oorwinning en oorvloed binne elkeen se bereik was en baie van hulle het dit aangegryp en dissipels van Jesus geword. Dit was ‘n geweldige bedreiging vir sy heerskappy wat hy nie sou duld nie. Daar was vir hom net een oplossing uit hierdie dilemma, naamlik om die Seun van God om die lewe te bring.

Die mensdom se rede vir Jesus se kruisiging.

Elke mens het ook vir homself ‘n eie klein koninkryk gestig, ‘n selfstandige, selfsugtige bestaan waarbinne hy self besluit het wat reg of verkeerd was. Die sterkste en slimste was die magtigste. Elkeen, van die koning op sy troon tot die diensmaagd wat gerwe opgetel het op die land, was sy of haar eie klein koninkie in sy of haar eie klein wêreldjie, al was sommige as slawe so deur andere oorheers dat hulle slegs in hul gedagtewêreld hul eie koning of koningin kon wees. Oor hierdie klein wêreld het die mens sorgvuldig gewaak. As Jesus hom wou genees of van kos voorsien of die Romeinse juk van sy skouer afhaal, was dit goed, maar om homself te verloën en in nederige oorgawe dié Jesus te volg, nee, so nooit as te nimmer en daarom het die mensdom uitgeroep, “Kruisig Hom, kruisig Hom en gee vir ons Barábbas.”

Die Joodse leiers se rede vir Jesus se kruisiging.

Uit die mens se geledere het die Jode se godsdienstige leiers die inisiatief geneem. Vir dekades lank was die Owerpriesters, Wetgeleerdes en Fariseërs die onbetwisde leiers van die volk. Hulle het die Wet en verordeninge wat die Here deur Moses gegee het om Sy volk in die vryheid van ‘n heilige lewe in te lei, misbruik vir eie gewin. Hulle het baie interpretasies en ordonnansies bygevoeg soos wat dit hulle gepas het en deur die volk te gebied om dit alles tot die letter toe na te kom, iets wat menslik onmoontlik was, het hulle die volk van God in ‘n staat van gedurige skuldigheid gevange gehou en hulle daardeur soos slawe geregeer. Self het hulle hierdie massa reëls egter net uiterlik, vir die skyn, onderhou.

Geen geestelike krag om die mens te seën.

Die sogename onderhouding van hierdie wette het niks bygedra om hulle verhouding met God te bevorder nie. Hulle het geen verhouding met God gehad nie en daarom ook geen geestelike krag tot genesing van die mens se liggaam of gees nie. Dit het by hulle om die Wet van God gegaan en nie om die God van die Wet nie.  Meer reëls as liefde. Hulle het tússen God en die mens kom staan en van godsdiens ‘n pynlike las gemaak in plaas van ‘n verlustiging soos wat dit vir Henog, Abraham, Dawid en Moses was.

Geen goddelike liefde.

Toe Jesus met sy aardse bediening begin, en Hy onmiddellik begin het om Sy Vader se ewige liefde aan die mense om Hom te openbaar, het die man op straat dit ingedrink soos die dorre aarde die vroeë reëns. Hy het hulle siekes genees, hul melaatses gereinig, duiwels uit hul kinders uitgedryf en hul dooies opgewek. Ook het Hy woorde van troos, hoop en bemoediging gespreek. Hy het geleer dat die Wet en die profete se lering saamgevat kon word in een, Groot gebod, naamlik om God met jou hele hart lief te hê en jou medemens soos jouself. Hy het die liefde teruggeplaas in die vertolking van die Wet. Geen wonder dan dat groot skares Hom gedurig gevolg het nie (alhoewel die meeste, soos vroeër aangetoon, dit om selfsugtige redes gedoen het). Sy bediening was in skrille kontras met dié van die Joodse leiers.

Valse ikone.

Boonop het Hy hulle skeinheiligheid ontmasker en hulle ten aanhore van die skares uitgekryt as blinde leiers en gewitte grafte wat van buite mooi vertoon het, maar van binne vol doodsbeendere was.

Venynige vyande.

Dit alles het hul aansien tot in die stof laat tuimel en hulle tandeknersend van woede gelaat. Terseldertyd was hulle groen van jaloesie oor die mag waaroor Jesus beskik het om wondere te kon doen en oor die aanhang wat Hy geniet het.

‘n Bose oplossing.

Hulle het geen eerbare antwoord op hierdie dilemma gehad nie en toe in desperaatheid tot die gevolgtrekking gekom dat daar slegs een uitweg was, naamlik om Hom dood te maak. Nog ‘n rede om hulself te regverdig om dit te doen, was dat die Hoëpriester gevrees het dat Jesus ‘n opstand teen die Romeinse regering sou lei en dat dié hulle dan as volk sou uitwis.

Blinde leiers lei hul blinde volgelinge oor ‘n ewige afgrond.

Die gekombineerde effek van hul eiewaan, jaloesie en haat, het hulle blind gelaat vir al die bewyse dat Jesus die Seun van God, hul beloofde Messias was. (So seker was hulle van hulle saak dat hulle gewillig was om die onreg wat Pilatus in Jesus se kruisiging gesien het, op hulle en hul kinders te neem. Kan dit dalk deels die rede wees waarom hul nageslag soms so ontsaglik gely het en vandag nog dag vir dag moet veg vir hul voortbestaan?)

Dit dan, was die oorsake van Jesus se arrestasie, verhoor en kruisiging.

JESUS WORD DEUR PETRUS VERLOëN (Lees asb Luk 22:54-62)

Petrus, baie seker van homself, het Jesus kort tevore in die bokamer belowe dat hy selfs gewillig was om vir Hom te sterf. Die Heer het hom egter gewaarsku dat hy Hom binnekort sou verloën. Hier sien ons hoe dié profesie bewaarheid is.

Petrus volg Jesus.

Tydens Jesus se arrestasie het Sy disspels almal weggevlug, maar Petrus het die gevangenemers later op ‘n afstand gevolg. Jesus is eers na Annas en daarna na die paleis van Kajafas, die hoëpriester, geneem waar hulle Hom in die binneplaas onder arres gehou het. Petrus is op versoek van iemand (waarskynlik Johannes) wat met die hoëprieter bevriend was, tot die perseel toegelaat waar hy by andere om die vuur wat weens die koue aangesteek was, aangesluit het om homself te verwarm. Hy was natuurlik daar omdat hy die Here Jesus werklik liefgehad het en besorg was oor wat van Hom sou word en ‘n mens moet hom krediet gee vir die moed wat hy aan die dag gelê het.

Hy verstaan nie die raadsplan van God nie en koester sy eie verwagtings.

Alhoewel Jesus Sy dissipels ingelig het oor Sy komende lyding en sterwe, het hulle  nooit werklik die doel daarvan verstaan of dit ter harte geneem nie. Hulle het steeds gehoop dat Hy Sy mag sou gebruik om die Romeinse regering omvêr te werp en die Koninkryk van Israel weer op te rig. Petrus het moontlik stilweg gehoop dat Jesus selfs nou nog skielik tot aksie sou oorgaan, Sy opponente sou vernietig en as vry Man sou uitstap. Petrus sou dan natuurlik triomfantelik by Hom aangesluit het.

Eenmaal, tweemaal 

Maar dit sou nie wees nie. Net die teenoorgestelde het gebeur. Skielik het ‘n diensmeisie nadergekom, hom aandagtig beskou en toe ewe snipperig uitgeroep: “Hierdie man was ook saam met Hom!” Petrus het onmiddellik gereageer met ‘n heftige: “Vrou, ek ken Hom nie!” Met bonsende hart het hy seker asem opgehou dat die soldate nie op hom sou toeslaan nie, maar genadiglik het niks verder gebeur nie. Hy het waarskynlik net begin ontspan toe nog een van die omstanders hom raaksien en beskuldigend opmerk: “Jy is ook een van hulle!” Weer ontken Petrus dit met ‘n luide: “Man, ek is nie!” Weer kom hy vry. Die flikkerende lig van die vuur was natuurlik maar flou en toe hy so woedend reageer, het die twee aanklaers aanvaar dat hulle hul misgis het.

Driemaal … .

Hy kon weer asemhaal en na ‘n uur begin hy ontspan; maar toe gebeur dit ‘n derde keer: ‘n persoon wat by was toe Petrus die Hoëpriester se dienskneg se oor afgekap het, staan dreigend nader en met meer oortuging as die vorige twee wys hy die vinger: “Sowaar hierdie man was ook saam met Hom, want hy is ook ‘n Galiléër!” Nou was die vet in die vuur en desperaat roep Petrus uit: “Man, ek weet nie wat jy sê nie!” Matthéüs sê selfs dat Petrus homself vervloek het in sy ywer om homself te verontskuldig.

Die kraai van ‘n haan dra ‘n pynlike boodskap.

Net toe, terwyl hy nog praat, gebeur daar ‘n verskriklike ding: die dag was besig om te breek en skielik begroet ‘n haan dit met ‘n luide gekraai. Dit skok deur Petrus se gemoed. Hy vergeet die mense om hom en kyk vervaard na Jesus, net betyds om te sien hoe Dié omdraai en hom reguit aankyk. Ineens onthou hy Sy woorde: “Voordat die haan kraai, sal jy My driemaal verloën.”

Platgeslaan.

Wat het hy op daardie oomblik in Jesus se oë gesien: verwyt, veroordeling? Nee waarskynlik net hartseer, miskien simpatie. Oorweldig deur emosie strompel hy na buite en die ou groot, brawe visserman bars uit in ‘n onkeerbare vloed van  trane.

Hy het homself nog altyd as ‘n sterk man beskou, ‘n leier, maar nou moes hy uitvind hoe swak hy werklik was. Terwyl hy die Here triomfantelik gevolg het terwyl Hy siekes gesond gemaak het, melaatses gereinig, dooies opgewek en die woorde van Sy aanklaers met wysheid weerlê het, was sy geloof soos ‘n vlag wat hoog gewapper het maar nou, te midde van vervolging het hy geval soos ‘n groot boom wat net bo die grond afgekap is.

Ons verleentheid is God se geleentheid

God ken ons harte en daarom laat Hy toe dat ons in pynlike situasies beland sodat ons, onsself kan leer ken; kan weet wie ons werklik is. Dit is dán wanneer ons, ons swakhede leer ken, dat ons leer om te waak en te bid, en God te vertrou om Sy krag in ons te werk, want ons harte is gewillig, maar ons menslike natuur is o, so swak.

JESUS VOOR DIE SáNHEDRIN (Lees asb Luk 22:63-71).

Het enige volk ooit so met sy god gehandel?

Vroeër, in Getsémané, het Jesus verklaar dat die magte van die duisternis se uur aangebreek het, die oomblik wat die Lig van die Wêreld Homself vrywilliglik aan die magte van die duisternis sou oorgee om mee gedoen te word wat hulle ookal wou. Die duiwel het dan ook elke vuil en gemene daad gebruik om Jesus te verneder en te ontmoedig, sodat Hy Sy sending om die mensdom te kom red, sou prysgee. Selfs die diensknegte het Hom bespot en in die gesig geslaan. Het enige volk op aarde ooit hul afgod so verneder as wat die volk Israel hul Messias afgetakel het, vir Hom, die enige Seun van die enige God wat hulle as slawe uit Egipte uitgelei en ‘n pragtige land van hul eie gegee het?

‘n Klug.

Wanneer ons hierdie verhoor bestudeer, is dit belangrik om op te let dat die Joodse leiers geen bedoeling gehad het om te bepaal of Jesus volgens hulle wette skuldig was of nie. Daaroor het hulle reeds vooraf besluit al kon hulle Sy misdaad nie juis omskryf of definieer nie.  Daar, in die huis van Kájafas waar Hy in aanhouding was, het die owerpriesters, ouderlinge en die hele Raad strydig met die bepalings van hul eie wette in die nagtelike ure bymekaargekom om aanklagte teen Hom te vind, sodat hulle Hom kon laat kruisig. Later was hulle desperaat want na drie jaar se bediening in die land, kon niemand iets konkreets teen Hom inbring nie.

Die regter lok die beskuldigde uit om ‘n halsmisdaad te pleeg.

Wat Kájafas probeer bewerkstellig het, was om Hom sovêr te kry dat hy Homself aan godslastering skuldig sou maak. Hy besweer Hom toe by God om te sê of Hy die Seun van God was. Jesus het natuurlik nie gehuiwer om dit te doen nie, want dit was Wie Hy werklik was, maar die oomblik toe  Hy dit doen, skeur Kájafas sy klere, wend hom tot die Sánhedrin en roep uit: “Watter verdere getuienis het ons nog nodig?” Die Raad het natuurlik saamgestem en Jesus skuldig bevind. Die eerste slag was geslaan; die eerste oorwinning behaal.

Maar nou moes hulle die Goewerneur, Pontius Pilatus, gaan oorreed om hul bevinding te bekragtig en Jesus ter dood te veroordeel want hulle was nie deur die Romeinse regering gemagtig om die doodstraf op te lê nie.

JESUS VOOR PILATUS (Lees asb Luk 23:1-25)

‘n Haastige hof.

Dit is ‘n beginsel van elke gesonde regstelsel dat ‘n beskuldigde vooraf ingelig word oor die aanklagte wat teen hom ingebring sal word sodat hy daaroor kan nadink en sy verdediging kan voorberei, maar hiervoor was daar geen tyd nie; die Joodse leiers wou Hom daardie selfde dag nog aan die kruis sien hang.

Jurisdiksie?

Hulle het egter voor ‘n ander probleem te staan gekom want Pilatus se hof  was gemoeid met misdade soos roof, moord en die omvêrwerping van die Romeinse regering. Vir ‘n persoon om daarop aanspraak te maak dat hy die Seun van God was, was iets wat daardie hof nie aangegaan het nie en daarom was sy regbank nie gewillig om iemand wat hiervan aangekla was, te veroordeel nie; dit was tewens buite sy jurisdiksie.

‘n Verhoor sonder klagstaat.

Die Jode moes dus met ‘n ander klag en stawende getuienis na vore kom. Eers het hulle Hom daarvan beskuldig dat Hy die bevolking aangehits het om nie belasting aan die Romeinse keiser te betaal nie; toe weer dat Hy daarop aanspraak gemaak het dat Hy die koning van die Jode was en dus die gesag van Rome ondermyn het. Hulle wou voorgee dat hulle die Keiser, die Staat se belange op die hart gedra het. Wat ‘n klug! Dit was boonop ‘n leuen want Jesus het per geleentheid ‘n muntstuk geneem, die Keiser se afbeelding daarop aan die aanwesiges vertoon en hulle gemaan om aan die Keiser te betaal wat hom toekom. Hy het nooit te kenne gegee dat Hy van plan was om ‘n aardse koninkryk te vestig en as koning daaroor te heers nie.

“Ek vind die beskuldigde onskuldig.

Pilatus wat baie ondervinding gehad het in die beregting van hofgedinge, het sommer vroeg in die verhoor besluit dat daar geen stawende getuienis voor die hof gelê is om die  beskuldigde skuldig te vind aan ‘n misdaad wat  die doodstraf regverdig het nie. Sy uitspraak was dus kort en bondig: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.”

‘n Nuwe aanklag, ‘n nuwe hof en ‘n nuwe regter.

Toe kom die Jode met ‘n nuwe aanklag na vore naamlik dat Jesus ‘n opstoker was wat onrus veroorsaak het. In die proses is ook gemeld dat Hy van Galiléa was. Hierin sien Pilatus toe ‘n ‘n uitweg om van die Jode ontslae te raak deur Jesus se saak na Herodus, die heerser oor Galiléa wat op besoek aan Jerusalem was, te verwys.

JESUS VOOR HERODUS (Lees asb Luk 23: 8 – 12).

Die beskuldigde ignoreer die regter en word weer nie skuldig bevind nie.

Herodus was baie in sy skik om Jesus voor hom te hê en het gehoop om deur Hom vermaak te word soos wat ‘n towenaar met sy goëlkunste sou doen. Om Hom hiertoe uit te lok, het hy Hom met vraag op vraag toegetakel.  Jesus het egter uit die staanspoor deur Herodus se motiewe gesien en nie na sy vlak afgedaal deur op sy vrae te antwoord nie. Nou was Herodus verleë en verneder voor sy hofdienaars omdat die prisonier sy majesteit geïgnoreer het. Daarom het hy Jesus met minagting behandel, spottenderwys ‘n blink kleed omgehang en na Pilatus toe teruggestuur.

Hierdie samespanning van Pilatus en Herodus het hulle nader aan mekaar gebring en gemaak dat hulle, hul ou vyandskap vergeet het. Daar is ‘n broederskap tussen boosdoeners veral waar dit gaan om opstand teen God.

Wat belangrik is om op te let, is dat Jesus ook in hierdie tweede onafhanklike geregshof, nie skuldig bevind is nie.

JUDAS PLEEG SELFMOORD (Lees asb Matt 27:3-10; Hand 1:16-19)

Te laat vir trane.

Die spreekwoord lui: “Spyt kom altyd te laat.” Judas het 3 jaar lank geleentheid gehad om sy lewe in orde te kry maar hy het die tyd verkwis. Die duiwel het sy kans waargeneem en hom oorgehaal om Jesus te verraai. Nou dat Jesus reeds deur die Sanhédrin veroordeel was, besef Judas dat hy onskuldige bloed verraai het en wil dit met ‘n “goeie daad” probeer regmaak deur die geld wat hy ontvang het terug te gee. Dit sou nie werk nie. Van hom het Jesus gesê: “Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.  (Matt 26:24).

Sif die muggie uit maar sluk die kameel in.

Die owerpriesters het nie geskroom om “onskuldige bloed” ter dood te veroordeel nie maar het ‘n gewetensbeswaar gehad om die geld wat hulle betaal het om Jesus in hul mag te kry, in die tempel se skatkis te stort. Waarom noem hulle dit “bloedgeld”? Moontlik omdat dit tot  die vergieting van Jesus se bloed gelei het.

Nog ‘n profesie is hierdeur vervul: Sag 11:13.

JESUS WORD DEUR PILATUS TER DOOD VEROORDEEL (Lees asb Luk 23:13 – 24)

Die regter bekragtig eers sy vroeëre uitspraak.

Toe Pilatus sien dat sy plan om Herodus met die tameletjie op te saal misluk het, het hy besef dat hy self die knoop sou moes deurhaak. Hy roep toe al die aanklaers byeen en deel hulle mee dat nóg hy, nóg Herodus enige skuld wat die doodstraf regverdig, by Jesus gevind het. Hy sou Hom, as troosprys, ‘n behoorlike drag slae gee en dan vrylaat want hy was verplig om vir hulle ‘n Joodse misdadiger tydens hul Pasga los te laat.

‘n Wankelende regter.

Toe hulle dit egter hoor, skree die hele massa onder aanhitsing van die priesters so hard hulle kon: “Weg met Hom en laat vir ons Barábbas los!” Pilatus het bekommerd begin raak want die priesters was ‘n baie invloedryke groep en was by magte om al wat Jood is in Jerusalem aan te hits om teen Rome in opstand te kom en dit sou hom diep in die verknorsing by die Keiser laat beland want hy was verantwoordelik om vrede en kalmte in sy regsgebied te handhaaf.

‘n Regter word deur God gewaarsku.

Toe gebeur nog ‘n belangrike ding wat verdere druk op hom geplaas het. Terwyl hy op die regbank sit en in dispuut met die Jode betrokke was, bring ‘n dienskneg vir hom ‘n nota van sy vrou dat hy tog “niks te doen moes hê” met hierdie regverdige Man nie want sy het in ‘n droom baie gely om Sy ontwil (Matt. 27:19). Sou dit God self gewees het wat tussenbeide getree het om hom te weerhou van ‘n groot onreg?

Pilatus het vroeg in die verhoor al besef dat die eintlike rede vir die aanklagte teen Jesus was dat die Joodse leiers intens jaloers, ja nydig was op Hom weens die wondere wat Hy gedoen en die ontsag wat die ganse bevolking vir Hom gehad het. Dít was die werklike rede  waarom hulle Hom uit die weg geruim wou hê. Deur hul oppermag oor Hom op hierdie wyse te bewys, sou hul eer as godsdienstige leiers weer herstel kon word. Dan sou die volk sien dat húlle, die Joodse volk se priesters, die Fariseërs en Skrifgeleerdes, magtiger was as hul timmerman Held uit Galiléa.

‘n Regter “pleit” by die aanklaers.

Vir ‘n derde keer het Pilatus ‘n desperate poging aangewend om hulle oor te haal om hul aandrang op die doodstraf te laat vaar (Matt. 27:20-26). Hy het naamlik ‘n oproep op hul sin vir geregtigheid gedoen deur weer daarop te wys dat hy geen skuld in Hom kon vind nie en hulle ook uitgedaag om te sê watter skuld húlle dan in Hom gevind het.

Weer het hy aangebied om Hom nietemin te gésel maar dan te laat gaan, maar hulle het hom doodgeskreeu met hul bloeddorsige kreet van: “Kruisig Hom, kruisig Hom.”

‘n Beskuldigde wat nie deelneem aan sy verhoor nie.

Reg deur hierdie ganse tweestryd tussen Pilatus en die massas, het Jesus nie ‘n enkele woord geuiter nie. Dit het die Goewerneur nog meer met verbasing vervul en waarskynlik ook ontsenu.

‘n Regter bevlek sy hande vir ewig met onskuldige bloed.

Toe hy egter sien dat daar geen ander uitweg was om homself van ondergang te red nie, het hy aan die druk toegegee, water geneem, sy hande daarin gewas en verklaar: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige Man; julle kan toesien.” Deur geen besluit te neem nie, het Pilatus die Jode se besluit dat Jesus gekruisig moes word, bekragtig. Sy politieke loopbaan was vir hom belangriker as sy regterlike plig om geregtigheid te laat geskied. Hy het toe probeer om innerlike vrede te vind en homself voor die skare te verontskuldig deur die gebaar om Jesus se bloed van sy hande af te was, maar dit het geen gewig gedra of hom van blaam onthef nie. Hy was aangestel om reg te laat geskied en het versuim om dit te doen. Elke mens het sekere dinge waarvoor God hom verantwoordelik hou en daarvoor moet hy verantwoordelikheid aanvaar en die Here bid om hom in staat te stel om dit na te kom.

‘n Volk bevlek homself met die bloed van sy Messias.

“Laat Sy bloed op ons en ons kinders kom!” het hulle teruggeskreeu. Daarop het Pilatus vir Barábbas vrygelaat, Jesus laat gésel en opdrag gegee dat Hy daarna gekruisig word.

JESUS SE MARTELING EN BESPOTTING (Matt 27:27-31; Mark 15:16-20)

Vroeër in die verhoor het Pilatus al vir Jesus laat gésel. Die soldate het ook ‘n doringkroon gevleg en dit op Sy hoof gesit en Hom ‘n purperkleed omgehang (Joh 19:1-5).

Nou, na afloop van die verhoor het hy Hom aan ‘n leërafdeling van ongeveer 200 soldate oorgegee om gekruisig te word. Voordat hulle Hom na Gólgota geneem het, het hulle Hom nog eers verder gekasty.  Hierdie ruwe krygsmanne wat min respek vir lewe gehad het, het almal saamgespan om Jesus te bespot, verkleineer en beseer. Hieroor skryf Hy in Ps 22: ”Baie stiere het My omsingel, sterkes van Basan het My omring. Dit was die uur van die magte van die bose.

SLOTOPMERKINGS

“Hy het na Sy eie gekom, maar Sy eie het Hom nie aangeneem nie …

Jesus is nie deur die heidene gekruisig nie maar deur die Jode, Sy eie mense, Sy uitverkorenes, hulle wat in die loop van honderde jare miljoene seëninge uit Sy hand ontvang het, die enigste volk op aarde wat Sy geskrewe Woord in hul hand gehou het en in wie se hoofstad Sy tempel gestaan het. Honderde jare tevore al, het God dit betreur dat Sy volk tot Hom nader met hulle lippe, maar dat hul harte vêr van Hom af was en dat hul aanbidding bestaan het in die nakoming van mensgemaakte reëls en regulasies (Jesaja 29:13). Let ook daarop dat die Here se “Kerk” ‘n misdadiger, Barábbas, bo Hom, ‘n volkome regverdige man, gekies het.

“Barabbas,” word elke dag nog bo Jesus gekies.

Wat waar was van die toentertydse gelowiges, is ongelukkig ook waar van sovele hedendaagse sogenaamde Christene wat hul kerk dien, maar nie hulle God nie. Hulle woon die eredienste by, ja selfs ook nou en dan die bidure en Bybelstudies, maar hulle het geen kontak met hul Skepper nie. Hulle is in die kerk, maar nie van die “Kerk” nie. Hulle is deel van die Barábbas groep en nie van die Jesus groep nie. Hulle skree vir Barábbas, nie vir Jesus nie. Vir wie skree jy wanneer jy buite die kerkmure is?

Hoekom het niemand by Sy verhoor vir Hom getuig nie?

Nog ‘n vraag wat by ‘n mens opkom is: waar was die menigte mense wat Jesus gesondgemaak, bevry, genees en gevoed het? Het selfs nie een van hulle kans gesien om by Sy verhoor na vore te tree en te getuig van die goed wat Hy vir hom of haar gedoen het nie: Lasarus wat hy uit die dood opgewek het, Bartiméūs wie se blinde oë Hy geopen het, die vrou wat van haar bloedvloeiïng genees is en soveel andere?

‘n Tragiese keuse.

Wat Goewerneur Pontius Pilatus betref: hy was die man wat die Seun van God laat kruisig het.  Hy het geweet dat hy verkeerd doen maar sou eerder sy God en Skepper kruisig, ja, vermoor, as om te ly terwille van wat reg en eerbaar was. Het hy later vrede gevind deur die Bloed van die Man wat hy laat vermoor het of probeer hy tot vandag toe nog om Sy bloed van sy hande afgewas te kry?

‘n Besluit wat dag vir dag nog geneem moet word.

Hoe dikwels tree regeringsamptenare van ons tyd nie ook so op nie en beskerm hul eie belange eerder as om te doen wat reg is voor God? Laat ons egter ook bid vir amptenare wat dag vir dag nougeset die smal paadjie bewandel en om daardie rede bevorderings verbeur of uit hul poste geskors word.

Maar wat van jou en my: is ons bereid om die regte ding te doen en die gevolge te dra? Dit is ‘n realiteit waaroor ons elke dag van ons lewens moet besluit. Onthou, die kinders van God is die sout van die aarde en die lig van die wêreld!


SÊ JOU SÊ:

Iets op jou hart oor hierdie studiegids ?
Ons lees dit graag.

(Die naam/titel van die studiegids verskyn bo-aan hierdie blad.)

.

Naam van hierdie studiegids wat jy bestudeer het

Jou naam en van

Jou e-posadres

Sê jou sê:

DEEL MET ANDERE: As jy die studiegids geniet het, deel dit asb. met jou vriende en kennisse deur middel van die sosiale media soos Facebook, ens. So vat ons hande om die Goeie Nuus uit te dra.

KOPIEËRING: Hierdie studiegids mag gratis vir persoonlike gebruik afge-laai en gedruk word.

R196G105B55