DOKUMENTE KAN GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD
A. VERSOEKING OM FISIESE BEHOEFTES TE BEVREDIG (Lees Matt 4:1-4)
In die tuin van Eden was dit die duiwel wat Adam en Eva tot ‘n sondeval gebring het. Sedertdien het hy die mensdom in sy mag. Hulle is sy geestelike slawe en hulle gehoorsaam hom dag vir dag deur oor en oor aan sy versoekings toe te gee. Een van die gevolge daarvan is dat die mens baie deur sy eie sonde ly.
Jesus het gekom om ons vry te maak, maar voordat Hy ons kon help, moes Hy die duiwel eers self oorwin deur al sy versoekings suksesvol te weerstaan. As Hy daaraan sou toegee, sou Hy ook voor God skuldig gestaan het en nie in staat gewees het om ons sonde op Hom te neem en daarvoor aan die kruis te betaal nie. Dit is die rede waarom Hy deur die Heilige Gees na ‘n eensame plek in die woestyn gelei is, waar die satan Hom kon versoek.
Hy het sy aanslag op Jesus gefokus op drie areas wat van kardinale belang is: a. Fisiese behoeftes en begeertes; b. Besittings en mag en c. Hoogmoed. (Lees 1Joh 2:15).
Die plek waar die groot veldslag plaasgevind het, was in ‘n woestyn. Dit was warm en droog. Jesus was moeg, honger en eensaam. Daar was ook niemand wat vir Hom kon bid of Hom kon bemoedig nie. Al wat Hy gehad het om te voorkom dat Hy aan satan se versoekings sou toegee, was die kennis van God’s Woord en die wysheid en krag van die Heilige Gees.
Hy het 40 dae lank gevas. Dit is ‘n ontsaglike periode om sonder kos te bly. Waarom het Hy gevas? God se mense vas om hulle af te sonder van die daaglikse gang van sake sodat hulle, hulself volkomelik aan Hom kan toewy. Dit is dus ‘n besondere wyse van selfopoffering aan God.
Die duiwel hou ons dop en kies ‘n tydstip wanneer ons swak is of swaarkry om ons in versoeking te lei. Hy het 40 dae lank ongeduldig gewag totdat Jesus behoorlik honger was, toe loods hy sy eerste aanval deur te sê: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klippe om brood te word.” Hierdie versoeking was tweeledig. Eerstens het hy Jesus se fisiese nood gebruik om Hom te probeer oorreed om Sy mag te gebruik om Sy behoefte aan kos strydig met die wil van Sy Vader te bevredig.
Die Here het aan die mens ‘n verstommende vryheid van keuse gegee. Dit is binne ons mag om dood te maak, te steel, egbreuk te pleeg, andere in ons gedagtes te verwens of wat ookal. Hoe gebruik ons hierdie mag? Toets ons, ons keuses aan die Skrif en laat ons dit monitor deur die influisteringe van die Heilige Gees? Kinders van God kan hul mag om te kies misbruik, daarom maan Paulus ons: “Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, … (Gal 5:13)
Tweedens het die duiwel probeer om Jesus, wat ook volkome mens was, te laat twyfel aan die feit dat Hy die Eniggebore Seun van God was. Hy wou Hom oorreed om Sy godheid vir Homself te bevestig deur ‘n wonderwerk te doen. Hierop het die Vader Hom voorberei (soos hiebo gemeld) deur vanuit die hemel te spreek en te sê: “Dit is My geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” Dit was nie vir Hom nodig om aan die duiwel of Homself te bewys dat Hy die Seun van God was nie.
Insgelyks is dit nie vir ons nodig om aan enigeen te bewys dat ons kinders van God is nie. Die Here het ook vir ons ‘n Woord gegee naamlik Joh 1:12 waarin Hy verklaar: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.” Verder, nadat ons Jesus as Verlosser aangeneem het, getuig die Heilige Gees ook saam met ons gees dat ons kinders van God is (Rom 8:16).
Christus het nooit ‘n wonderwerk gedoen om in sy eie behoeftes te voorsien nie, maar alleen om andere te seën. Hy het ook nooit ‘n wonderwerk gedoen sonder dat Hy van die Heilige Gees ‘n openbaring ontvang het dat sy Vader besig is om dit in die hemele te doen nie. So, die duiwel het probeer om Jesus so vêr te kry om iets te doen wat teen die wil van Sy Vader sou wees. As Hy dit gedoen het, sou Hy gesondig het. Dit sou die einde van sy bediening wees en ons sou vir ewig verlore gewees het.
Hoe het Jesus die versoekings hanteer? Hy het nie op sy eie wysheid staatgemaak nie, maar net geantwoord wat in die Bybel opgeteken staan, naamlik: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat van die mond van God uitgaan.'” Die duiwel het geweet dat dit die waarheid was en het nie probeer om Hom verder op hierdie punt te versoek nie.
Die eerste oorwinning was behaal maar die stryd was lank nie verby nie. Satan het net sy strategie verander en Jesus uit ‘n ander hoek aangeval.
B. VERSOEKING OM BEGEERTE NA BESITTINGS EN MAG TE BEVREDIG (Lees Matt. 4:5-7)
‘n Mens sou dink dat die duiwel sou vrees om Jerusalem binne te gaan, want dit was die Heilge stad van God, of dat hy bang sou wees vir die tempel aangesien God in die allerheiligste deel daarvan teenwoordig was. Satan is egter nie bang vir plekke wat ons met ontsag bejeën nie. Hy stap in, in kerke waar die Evangelie gepreek word en trek die hoorders se aandag so af dat hulle maar net in liggaam teenwoordig is en nie werklik in hul gees meeleef nie. Ook bring hy gedagtes van twyfel sodat die luisteraars begin wonder of hulle moet glo wat hulle hoor. So word God se Woord as’t ware op hulle verkwis. Een van sy gunsteling versoekings is om lidmate so vêr te kry dat hulle begin om mekaar te kritiseer en selfs te haat. Daardeur kry hy dit reg om die eenheid tussen hulle te verbreek sodat elkeen sy eie koers inslaan.
Hier sien ons hoe hy Jesus tot op die hoogste punt van die tempel neem en Hom uitdaag om af te spring. Hy gebruik selfs ‘n Skrifgedeelte as argument om Hom te oorreed om dit te doen (Ps 91:11,12). Jesus het die Skrifgedeelte geken en ook geweet dat sy Vader Hom teen alle soorte van gevare sou beskerm, maar dat ‘n mens homself nie opsetlik in gevaar moes stel en dan verwag dat God hom beskerm nie. Weer beantwoord hy die duiwel se versoeking deur die Woord van Sy Vader aan te haal uit Deut 6:16.
Waarom daag die duiwel die Here weer uit om te bewys dat Hy die Seun van God is? Hy het geweet dat dit vir Jesus baie belangrik was dat die mense sou glo dat Hy die Seun van God was wat deur die Vader gestuur was om die mensdom van hulle sonde te verlos. As die mense in Hom sou glo, sou hulle gered word, maar as hulle nie in Hom sou glo nie, sou hulle verlore gaan en sou Jesus se koms na die wêreld tevergeefs wees. So, die duiwel het aangehou om Hom uit te tart: “Gaan voort en bewys jouself, bewys jouself. As jy hiervandaan afspring, sal die engele hulle haas om jou te red en veilig op die aarde te laat land. Al die mense wat dit sien gebeur, sal dan in jou glo”.
Die duiwel is ‘n geoefende redenaar en kan met baie goeie argumente kom. Hierdie wás ‘n goeie argument, maar Jesus het Hom nie in menslike wysheid probeer antwoord nie. Hy het hom weer in die woorde van sy Vader geantwoord. Hy het vrede in sy hart gehad dat sy Vader, gedurende sy bedieningsperiode, genoeg geleenthede sou vind om te bewys dat Hy die Seun van God was – die Verlosser van die wêreld; dit was nie vir Hom nodig om dit self te doen nie.
Die duiwel probeer gewoonlik om ons te forseer om iets haastig te doen. Hy probeer ons altyd oortuig dat dit die enigste geleentheid is om so ‘n winskopie te bekom of so ‘n gulde geleentheid te benut en as ons dit nie gebruik nie, sal ons nooit weer so ‘n kans kry nie. Laat ons altyd versigtig wees en seker maak ons het mooi gehoor wat God van ons verlang, want baie besluite kan nie omgekeer word nie. As jy van die dak van die tempel afgespring het, kon jy nie halfpad af grond toe weer omdraai nie. Daar is so baie mense wat ‘n haastige sprong buite die wil van God gewaag het. Hulle lewens is vir ewig verwoes. Hulle lê in die stof, totaal gebroke. Andere kyk na hulle en sê: “Siestog, kyk wat het met hom gebeur.” Jesus het egter ook hierdie tweede toets geslaag en so moes die duiwel toe ‘n derde een uitdink.
C. VERSOEKING OM BEGEERTES NA ROEM EN EER TE BEVREDIG (Lees Matt 4:8-11)
Satan is ‘n baas-redenaar en sy argumente is gewoonlik gebaseer op leuens of halwe waarhede. Hy wys vir Jesus al die koninkryke van die wêreld en probeer Hom oortuig dat hy die mag het om dit aan Hom te gee. Alle sienlike en onsienlike dinge behoort egter aan God en Hy kan dit gee vir wie Hy wil.
Ag, en hoe begeer Satan net nie om aanbid te word nie want dit verhef hom tot op die troon van God. Hy sal enigiets aan die mens beloof om die genot van aanbid te word te kan smaak. Sy hoogmoed dors daarna. Maar kyk hoe antwoord Jesus hom: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien”.
Die waarheid van God se Woord was ‘n stewiger fondament as Satan se leuens. Die stryd was volstry en die oorwinning drievoudig behaal. Die eerste Adam is deur die duiwel oorwin; die Tweede Adam was die eerste mens ooit vir wie die duiwel nie kon oorwin nie. Die duiwel het uitgeput, terneergedruk en verslae van Jesus af weggevlug.
Dan sien ons dat engele kom en Hom dien. Hoe het hulle Hom gedien? Moontlik het hulle Hom versterk deur Hom met kos te bedien net soos hulle met Elia gedoen het toe hy deur Isébel vervolg was.
God se oog is op sy kinders wanneer hulle versoek word en sal op die regte oomblik die uitkoms stuur. Let op die belofte wat in 1Kor 10:13 opgeteken staan: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” As kinders van God, kan ons hieruit moed skep en weet dat die Here weet wat ons swakhede en sterktes is en sal nooit toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. Jesus het die versoekinge glorieryk oorwin en so kan ek en jy dit ook doen as ons, ons vertroue met volle oorgawe in die Here stel.
Jesus kon nou Sy openbare bediening met vrymoedigheid en sekerheid betree. Hy kon nou vir almal wat versoek word sê: “Oorwin die duiwel soos wat Ek hom oorwin het.”
Elke geestelike oorwinning wat ons behaal is ook ‘n trap tot groter vrugbaarheid in diens van die Meester.
……….