Josef, deel 1; Gen 37 – 41

A. JOSEF AS TIPE VAN CHRISTUS. (Lees asb. Gen 37 – 50).

Die bestudering van Josef  se lewe is tot besondere seën omdat dit die Here Jesus Christus se lewe en bediening so treffend tipeer.

‘n Onbesproke karakter.

Eerstens is Josef se karakter onbesproke, selfs die eerste 13 jaar daarvan waartydens hy deur groot toetse gegaan het. Dit is in teenstelling met ander gesalfdes van God wat in die een of ander opsig gestruikel het, bv Moses wat by geleentheid kwaad geword en, ongehoorsaam aan God, die rots met sy staf  geslaan het, in plaas daarvan om dit aan te gespreek het. Dawid, die koning na God se hart, pleeg owerspel met Batseba en vermoor haar man Uria. Jesus, natuurlik, het nooit gesondig nie. Hy was die vlekkelose Lam van God. Hierin is Josef se karakter ‘n heenwysing na Hom.

‘n Redder.

Ook in die aard van sy bediening tipeer Josef die Here Jesus deurdat hy deur sy eie mense verwerp is maar deur God gebruik word as redder, as “’n behouder van lewens,” nie net vir hulle nie, maar vir die ganse heidense wêreld.

Die Here beplan vooruit en werk Sy mense se lewens dan daarby in.

Die geskiedenis van God se handelinge met die mensdom is voorwaar ‘n kunstig ineengeweefde tapisserie waarvan die buitelyne reeds voor die grondlegging van die wêreld op doek vasgelê is en waarvan die stekies nou kunstig in allerhande kleurskakerings oor die loop van tyd uitgewerk word. Aan die einde van die eeue sal dit volmaak voltooid wees sonder dat ‘n enkele jota of titteltjie ontbreek. In hierdie kunswerk van God het jou en my lewe ook ‘n plek al is dit dan so klein soos ‘n enkel stekie in die wye raamwerk van die eeue.

B. JOSEF EN SY DROME. (Lees asb. Gen 37: 1-11)

‘n Lekker nou en ‘n blink toekoms.

Josef se verhaal begin pragtig. Hy is sy vader, Jakob, se eersgebore seun by sy geliefde vrou, Ragel. Op 17 jarige ouderdom is dit vir almal reeds duidelik dat hy ook sy vader se oogappel is en na alle waarskynlikheid sy aansienlike boedel sou be-erwe en nie Ruben, sy eersgeborene by Lea, of enige van die die ander ouer broers nie. Het Jakob dan nie reeds so iets laat deurskemer deur die vollengte langmou kleed, die drag van ‘n koning wat hy aan hom geskenk het nie? ‘n Blink toekoms het dus voor hom oopgelê terwyl hy homself dag vir dag in die liefdevolle gemeenskap met sy vader verlustig het.

Maar tussen die nou en die dan.

Sy lewe sou ook pragtig eindig — maar dit eers 93 jaar later waarvan die eerste 13 soos ‘n onverwagte storm oor hom sou losbars. Hy sou uiteindelik veel meer ontvang as wat hy verwag het, – maar nie op ‘n skinkbord nie.

Tussen die dorings.

Soos Christus Wie se lewe ook sy aardse kant gehad het waar Hy Sy pa in die skrynwerkers-werkswinkel moes help, moes Josef as deel van ‘n veeboer familie soms saam met sy broers die gesin se kleinvee oppas. Waar hy week-in en week-uit saam met sy halfbroers in die veld gelewe het, het hy algou besef dat daar ‘n lelike donkerkant aan hul lewens was wat hulle  vir hul pa weggesteek het, lelike dinge wat nie gepas het by ‘n familie wat deur God uitverkies was om vir die ganse wêreld tot seën te wees nie.

“Juffrou, Juffrou, Jannie het alweer … ”

Dit het hom gepla en sodra hy weer tuis was, het hy hierdie broerskring se geheime aan Jakob verklap wat natuurlik daartoe gelei het dat die broers ‘n skrobbering ontvang het. Dit kon selfs hul toekomstige erfporsies beïnvloed. Dat hy, ‘n blote snuiter, hulle lewens so kon vergal, het ‘n bitter smaak in die mond, nee die hart, gelaat.

Wat staan mý te doen?

Was dit reg van hom om so nuus aan te dra? Antwoorde op die volgende vrae sou ons kon help om hieroor te besluit:

  • Wou hy hierdeur wraak neem omdat hulle hom sleg behandel het?
  • Wou hy sy vader se guns nog verder wen?
  • Het hy darem eers, al was hy die jongste in die groep, met hulle oor die lelik in hul lewens gepraat? Dit sou maar naelby en bloos-bloos gaan want hulle was waarskynlik almal al getroude manne en hy ‘n jong seun van 17.
  • Het hy gevoel dat hy ‘n verantwoordelikheid teenoor sy pa het ?
  • Wou hy daardeur moontlike slegte gevolge vir sy broers en vir die familie verhoed? (Vroeër moes hulle juis uit die omstreke van Sigem padgee toe Simeon en Levi die manlike inwoners vermoor het.)

Baie broers maar geen vriende.

Dit is vrae wat ‘n mens jouself sou moes afvra as jy in dieselfde posisie sou beland, bv in jou werksituasie. Al wat die Skrif hieroor sê is dat die broers hom gehaat en geen vriendelike woord vir hom gehad het nie.

Jakob, jy speel met dinamiet.

Dat Jakob laat blyk het dat hy Josef liewer gehad het as sy ander seuns deur hom voor te trek, was verkeerd van hom. Hy het nie geleer uit die fout wat sy ouers, Isak en Rebekka gemaak het deur elk ‘n gunsteling seun te kies nie. Dit het nie net tot afguns en haat van die ouer broers gelei nie, maar was ook tot nadeel van Josef self, want daardeur was hy die voorwerp van die tien se gloeiende haat.

Hierdie wanver-houdinge in die gesin, het tot groot spanning aanleiding gegee. Jakob het onwetend ‘n uiters plofbare situasie geskep en dit te midde van hardebaard manne wat hoeka plofbare gemoedere in hul binnestes omgedra het.

Twee plofdoppie drome.

Te midde van hierdie smeulende onrus, droom Josef een nag ‘n besondere droom. Hy droom naamlik dat hy en sy broers gerwe op die land bymekaarmaak en dat sy gerf regop gaan staan en sy broers se gerwe hulle voor syne neerbuig.

Toe hy hierdie wonderlike openbaring wat hy seker was van God gekom het, opgewonde aan sy broers oorvertel, was daar by hulle, te verstane, ‘n hewige ontploffing van verontwaar-diging met armgeswaai, rooi gesigte en woedende uitroepe van: “Wil jy miskien oor ons regeer, oor ons heers?” Asof dit nie genoeg was nie, volg die Here dit op met nog ‘n soortgelyke droom waartydens Josef beleef hoe die son, maan en sterre voor hom neerbuig.

Nou het nie net die broers nie aanstoot geneem nie, maar ook sy vader se wenkbroue het gelig en dié het hom streng bestraf, alhoewel hy agterna die droom in sy hart oordink het.

Nog ‘n goeie vraag vir die jongman.

Was dit reg van Josef om sy drome (wat ons later sal sien duidelik van God was) aan sy broers oor te vertel? Gesien die gespanne verhouding wat reeds geheers het, was dit, menslikerwys gesproke, ‘n onwyse ding om te doen, vet in die smeulend vuur? Was dit sý skuld dat hierdie saad wat hy gesaai het, later bitter vrugte vir hom opgelewer het.

‘n Vraag wat elke Christen moet beantwoord.

Wanneer ‘n mens wil getuig oor seën wat jy van God ontvang het, is die volgende punte van belang:

  • In die algemeen gesproke is dit baie belangrik dat ‘n mens dinge wat die Here vir jou sê, met die regte persone deel, want daardeur word jou geloof versterk en werk jy met God saam om Sy planne ten uitvoer te bring. Wanneer jy later as gevolg van moeilike omstandighede wil twyfel of jy reg gehoor het, dink jy terug aan die geleenthede waarop jy jou visie oorvertel het, en onthou jy hoe seker jy toe van jou saak was.
  • Daar is egter kwalifikasies verbonde aan die uitdra van jou getuienis naamlik:
  • Is dit om uiting te gee aan jou vreugde, andere te seën en God te verheerlik, of wil jy spog oor die besondere guns wat jy by die Here geniet? M.a.w gaan dit om andere of om jouself? Wat is jou motief; wat wil jy daarmee bereik?
  • Vir wie het God hierdie openbarings bedoel: net vir jouself of ook vir andere? Was Josef se profetiese drome net vir homself of ook vir sy familie? Op die oog af was dit net vir homself en wel om hom te versterk vir wat vir hom voorgelê het.
  • Jesus het ook gewaarsku dat ‘n mens nie jou pêrels voor die varke moes werp nie; dws nie kosbare openbarings wat jy van Hom ontvang het, moes voorhou aan mense wat net in aardse dinge, en veral in vuil aardse dinge belangstel en wat vir jou daaroor kwaad sal word en dit teen jou sal gebruik nie (Matt 7:6). Jy moet dus wysheid aan die dag lê.

Die liefde … is nie jaloers nie (1Kor 13:4)

Die keersy van die munt is dat, indien die broers se verhouding met God en met Josef reg was, hulle, as ‘n gesin wat van Abraham se tyd af al gewoond was om openbarings van God te ontvang, hierdie drome van hul broer in gans ‘n ander lig sou gesien en, soos hul vader, dit in hul harte sou oordink het om meer lig te kry oor wat dit tog kon beteken.

(Hierdie onvermoë om daarmee vrede te maak dat die Here ‘n ander geestelik bo jou gebruik, kom ongelukkig ook voor in gemeentes waar verskeie leraars saamwerk om die koninkryk van God uit te bou; groter seën op ‘n sekere een se bood-skappe. As mens moet ons maar ligloop, want ons is baie kwesbaar en as ons skietgee aan hierdie donker emosie kan ‘n hele gemeente skade ly.)

Die Here bestuur Sy bus agter die skerms tot almal se voordeel.

Hoe ons dan nou ookal hieroor oordeel, het God toegelaat dat hierdie onaangename familietwis ‘n skakel sou vorm in die ketting van gebeure wat sou lei tot Josef se wegvoering na Egipte,  sy latere troonbestyging en die behoud van sy familie se lewens. Sy broers sou dan ook, sowat 20 jaar later, toe hulle voor hom in Egipte neerbuig, terugdink aan die profetiese drome wat hy met hulle gedeel en wat hulle so woedend gemaak het. Ja hulle sou besef dat hulle onwetend teen die wil van God gerebelleer het. (Soos Bíleam wat sy arme donkie geslaan het toe dié sy lewe wou red (Num 22:21-32))

Die Here werk graag met families.

Let ook daarop hoedat die Here nie net met oupa-grootjie, Abraham, gekommunikeer het nie, maar ook met oupa Isak, toe met pa Jakob en nou met kleinseun Josef uit die vierde generasie. Die Here werk graag in families, geslag na geslag, daarom, dank die Here in alle nederigheid as jy so bevoorreg is om deel te wees van ‘n gelowige linie en bid vir andere wat uit ‘n baie troebel agtergrond kom en nie van kleins af aan die lig van God se openbaring blootgestel is nie.

C. JOSEF WORD AS SLAAF VERKOOP (Lees asb. Gen 37:12-36).

Goeie bedoelinge.

In daardie dae was die land natuurlik nie opgesny in plase soos wat ons dit vandag ken nie en het veeboere met hul kuddes van plek tot plek versit om die beste weiding te verseker.

So het dit dan gebeur dat Jakob se seuns, uitgesonderd Josef en Benjamin (soos wat ons dit uit latere gebeure aflei), met die vee vanaf Hebron, waar Jakob se laer toe gestaan het, na Sigem versit het; waarskynlik ‘n goeie 80km verder noord.

Daar was seker ook nie eintlik geleentheid om gereeld vir Jakob te laat weet hoe dit met hulle gaan nie, met die gevolg dat hy oor hulle besorg geraak en vir Josef gestuur het om hulle te gaan opsoek en vir hom berig te bring.

Die Here rig sy voetstappe (Spr 16:9).

Josef, ‘n jongman van 17 op daardie stadium, was dadelik gewillig want die huis blyery het hom seker ook verveel en dit sou opwindend wees om so ‘n lang pad alleen aan te pak. Toe hy in Sigem, in welke omgewing hulle vroeër gewoon het, arriveer, kon hy sy broers egter na ‘n lang soekery nie opspoor nie, maar gelukkig ontmoet ‘n man hom waar hy in die veld ronddwaal. Dié vertel hom toe dat hy gehoor het hoe hulle met mekaar beraadslaag en besluit het om na Dotan te versit. Na nog sowat 40km se stap, spoor Josef hulle toe ook daar op.

As hy maar net geweet het!

Maar dit was geen gelukkige weersien van familielede nie want hulle het hom met sy pragtige kleed van veraf al sien aankom wat hul haat onmiddellik weer hemelhoog laat opvlam het. Voordat hy hulle nog kon bereik was sy lot reeds verseël. “Kyk net ‘n bietjie, daar kom die dromer!” het een seker uitgeroep. “Laat ons hom doodmaak,” het dit uit talle kele weerklink.

Net een broer gooi wal.

Ruben egter, die oudste broer en leier, het hom, en veral ook hulle vader, jammer gekry en vinnig ‘n plan bedink om sy lewe te red en hom veilig huistoe te stuur. “Nee wag, laat ons hom darem nie vermoor en sy bloed aan ons hande kry nie. Kom ons gooi hom in daardie put dat hy maar op sy tyd doodgaan,” het hy voorgestel.  “Ek sal later stilletjies terugkom en hom uithaal en terugstuur huistoe,” het hy by homself beplan.

In die leeukuil.

Toe Josef dus niksvermoedend en opgewonde vir hulle tegemoetloop om hulle te groet, pak hulle hom beet en stroop hom van sy pragtige, maar haatlike kleed. Aanvanklik het hy miskien gedink dat dit alles net ‘n grap was.

Toe besef hy dat sy lewe self op die spel was en slaan en skop seker verbete, maar teen so ‘n oormag het hy geen kans gehad nie. Hulle sleep-dra hom ‘n ent tot by ‘n put. Hy skree en pleit hartroerend (Gen 42:21) maar die volgende oomblik swaai hulle hom oor die rand en tuimel hy na benede.  Half bedwelmd lê hy op die klam sand. Dan sit hy regop en luister, maar alles is doodstil, net die kol blou lig onbereikbaar vêr daarbo, en besef hy dat hulle hom aan sy lot oorgelaat het om van honger en dors om te kom.

Hy ondersoek elke opsie om daaruit te kom maar die harde regaf wande bied geen hoop nie. Hier sal niemand hom kry nie want die veewagters van die omgewing weet dit is ‘n droeë put en sal nooit hierlangs kom nie.

Uitkoms?

Urelank sit hy so, verdwaasd. Dan hoor hy dofweg stemme en skielik sien hy die gesigte van sy broers bo oor die rand na hom staar. Hy lig sy hand op en wuif onseker vir hulle. “Wil jy uitkom? ” roep een van hulle. “Hier, ons gooi vir jou ‘n tou af. Maak hom styf om jou vas!” Sy hart juig, dan was dit tog maar net ‘n wrede grap. Haastig knoop hy die tou om sy middellyf vas en roep: “Trek maar!”  Hy voel die tou styf span en stadig word hy hoër en hoër gelig totdat hy op hande en knieë oor die klipperige rand kruip.

Die dag wanneer hoop beskaam word.

Hy huil van verligting maar deur sy trane gewaar hy nog mense, Ismaelitiese handelaars. Verward sien hy hoe die leier hom op en af bekyk en dan ‘n aantal muntstukke in een van sy broers se bak hande aftel met die woorde: “Net 20 silwerstukke, niks meer nie. Di’s wat die prys vir ‘n slaaf is en kyk hoe lyk hy. Dalk leef hy nie eers tot vanaand toe nie.” Die volgende oomblik gryp een van die ander hom, bind sy polse aanmekaar vas, span sy bene en maak hom met ‘n tou agter een van die kamele vas. Ineens tref dit hom: “‘n Slaaf, dis wat ek nou is, ‘n slaaf op pad na Egipte.
“Vaarwel dromer,” roep sommige van sy broers hom spottend toe. “Jy is mos jou pa se witbroodjie, sy erfgenaam. Nou sal ons sien wat van jou drome sal word.” En stadig verdwyn die karavaan in die verte.

Te laat.

Ruben, wat vir ‘n hele ruk weg was, moontlik om na van die ander vee te gaan omsien, kom uiteindelik weer daar aan en gaan dadelik suutjies na die put om te probeer om Josef uit te kry en terug te stuur huistoe, soos wat hy aanvanklik beplan het, maar … Josef was weg, waarheen, hoe, wat het van hom geword? Hy besef dat iets ernstigs gebeur het, skeur sy klere van ontsteltenis, storm na waar sy broers sit en eet en roep uit: “Die seun is nie daar nie! En ek, waar moet ek heen?”

Die moordenaars beplan hul alibi.

Nadat hulle hom vertel het wat hulle met Josef gedoen het, besef hulle dat daar aan gedane sake geen keer was nie. Van een ding was hulle oortuig, naamlik dat hulle vir ewig van hierdie doring in die vlees verlos was.

Maar een sonde lei tot ‘n volgende; nou moet hulle hul vader bedrieg om hul sonde te bedek. Hulle doop toe sy kleed in bloed, stuur dit terug na Jakob en vra of dit nie dalk Josef s’n was nie.

Die Jakob familie leef in pyn, vrees en selfverwyt: hoe kon dit tog in ons huis gebeur het?

Hul bose daad raak nie net vir Josef nie, maar ook hul vader. Hy was ontroosbaar. Jaar na jaar sou sy smarte hul herinnner aan wat hulle gedoen het en sou hulle, hulself sekerlik die vraag afgevra het of dit nou werklik die moeite werd was om toe te gelaat het dat hul jaloesie hul sovêr gedryf het.  Gedurigdeur sou hulle in vrees geleef het dat hul misdaad op die lappe sou kom. Oor en oor moes hulle dieselfde leun vertel aan elkeen wat oor Josef navraag gedoen het. ‘n Daad wat in ‘n oomblik van onbesonnenheid gepleeg is, se gevolge kan tot in ewigheid duur.

Móre?

Hoe vinnig en onvoorsiens kan ‘n mens se lewe nie ‘n totaal nuwe wending neem nie; die een oomblik was Josef die sorgelose uitverkore gunsteling seun van ‘n skatryk man en die volgende oomblik ‘n slaaf sonder enige regte.

Beroem jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie. (Spr 27:1).

Waak en bid (Matt 26:41).

Kyk net hoe het sonde hierdie gesin wat in God geglo en deur Hom uitverkies was, uitmekaar geskeur. Die duiwel is voor-waar ‘n mensehater en is in die besonder daarop uit om gesinne te vernietig.

Die Here het meer as genoeg vir ons álmal.

Afguns lei tot onmenslike wreedheid. Kinders van God het nooit nodig om afgunstig te wees nie want die Here het vir elkeen meer as genoeg in hierdie lewe, en hierna, die ewige lewe by Hom in die hemele.

 D. JUDA EN TAMAR (Lees asb Gen 38)

Die Here leer ons lesse uit die goeie sowel as uit die kwade.

Josef se verhaal word nou skielik onderbreek en die lens verskuif om ons ‘n kykie te gee in die lewe van een van sy ouer broers, naamlik dié van Juda.

God doen natuurlik alles met ‘n plan en met hierdie invoeging wil Hy waarskynlik die kontras uitbeeld tussen die twee broers se lewens sodat ons soveel te meer kan besef hoe vêr Josef geestelik bo sy broers uitgestaan het.

Die les wat ons daaruit moet leer is dat ons nooit ons agtergrond, of die familie waaruit ons kom die skuld kan gee vir ons sondige lewe nie; nee, elkeen is vry om te kies hoe hy sy lewe wil inrig en hoe naby hy aan God wil lewe. Ons het dus tegelykertyd geen verskoning nie, maar ook geen versperring of plafon nie; ons kan ploeter soos ‘n erdwurm, of opstyg met die vleuels van ‘n arend en geestelik vlieg so hoog ons ookal wil.

Die aartsvaders moes vlieg soos arende en almal moes dit sien.

Verder wil die Here ook vir ons wys hoe broodnodig dit vir hierdie uitverkore manne was om geestelik vernuwe te word sodat hulle, hul roeping as aartsvaders van die twaalf stamme van Israel kon uitleef. Hul was, op hierdie stadium, geroep maar nie geheilig nie.

Juda beweeg sywaarts; weg van die volk van God af.

Ons sien dit in Juda se lewe daarin dat hy homself van sy broers afskei en by ‘n vriend, ‘n Kanaäniet, sy intrek gaan neem. Nie lank nie of hy trou met ‘n Kanaänietiese vrou met die naam van Sua.

Sommige kommentators meen dat hy ook baie jonk was toe hy getroud is, waarskynlik  onder die twintig. Hierdie huwelik was nie, soos die gebruik was, deur sy pa vir hom met sy samewerking gereël nie, maar ‘n verbintenis van sy eie keuse.

Kinders van Juda, maar nie van God nie.

Hy het drie seuns by die vrou gehad, naamlik Er, Onan en Sela, in daardie volgorde, maar hy bou beslis nie ‘n godvresende huis nie, want sy eersgeborene is so goddeloos dat hy die argwaan van God opwek sodat Dié hom laat sterwe.

Selfsugtige wellus.

Ook sy tweede oudste seun wandel nie in die wil van God nie. Hy is selfsugtig en bewimpel sy geslagsomgang met sy broer se vrou deur sy saad op die grond te werp sodat sy nie ‘n nageslag vir haar oorlede man sou verwek nie en sy eie kinders dus ‘n groter erfporsie sou bekom.

Die “swaershuwelik” kom van vêr af.

Dit is interessant om daarop te let dat hierdie “swaershuwelik” wat later in die Torah opgeneem sou word (Deut 25:5) reeds op hierdie stadium ‘n verordening van God was vir die nageslag van Abraham. Dit was God se manier om vir Homself ‘n volk op te bou en elke persoon, naam en linie was vir Hom daarin belangrik.

Elke aar wat om die hart loop is daar met ‘n doel, en wanneer dit verstop raak,  sny dit ‘n hoeveelheid bloed af en word die hart sowel as die hele liggaam benadeel. Wanneer die hart nie genoeg suurstof kry nie, lei dit tot ‘n hartaanval wat verskriklik pynlik kan wees. Dan sit ons haastig “stents” in om die aar oop te maak, of knip die stukkie aar uit en las ‘n ander daarin om ‘n gesonde liggaam te verseker; so ook is elkeen van God’s kinders ‘n belangrike kanaaltjie waardeur Sy lewe en krag na Sy liggaam vloei. (Askies, nou dwaal ek af van die Onan se storie.)

Onan (vervolg)

Die Here beskou Onan se wandaad in so ‘n ernstige lig dat Hy ook vir hom laat sterwe.

In plaas dat Juda nou die fout by sy eie seuns soek, blameer hy in sy hart vir Tamar; sy sou dan ‘n soort van ongeluksvoël wees wat die dood veroorsaak van ‘n man wat met haar omgaan. Daarom stuur hy haar terug na haar vader se huis om dan kamtig daar te gaan wag dat die derde broer, Selah eers grootword. Maar die tyd gaan verby en gerieflikheidshalwe vergeet hy van Tamar.

Tamar maak ‘n plan.

(Hierdie “Jacobson” familie weet van planne te maak om mekaar uit te oorlê.) Tamar is natuurlik nie tevrede om kinderloos te bly nie en bedink ‘n slim plan om die wewenaar, Juda, te verlei om met haar omgang te hê. Haar plan werk en sy raak swanger.

Aangesien sy aan Selah belowe was, het sy, tegnies gesproke, owerspel gepleeg en is Juda as hoof van die huis geregtig om haar  die doodstraf op te lê wat hy dan sommer summier ook wou voltrek want dit sou ‘n gulde geleentheid wees om van die “Tamar tameletjie” onslae te raak.

Juda weet hoe om homself te verskoon.

Die vraag bly egter waarom Juda haar so maklik ter dood kon veroordeel vir ‘n tipe misdaad waaraan hy self ook skuldig was? Die antwoord lê gedeeltelik daarin dat hoerery in die omringende, heidense samelewing nie as ‘n misdaad gesien is nie en selfs as deel van hul godsdienstige rituële bedryf was. Omdat kinders wat deur so ‘n geslagsgemeenskap verwek is, in daardie kultuur nie die man se verantwoordelikheid was nie, het sommige getroude mans onbekommerd so ‘n buitehuwelikse uitstappie geniet. Juda, wat tussen die heidene gaan woon het, was natuurlik hierdeur beinvloed.

Met ‘n getroude vrou was dit egter heel anders (veral in Israel). ‘n Kind wat deur ‘n buitestaander by haar verwek is, het deel geword van die gesin waaraan sy behoort het, deel gekry aan die erfporsie en deel geword van die nageslag. Op dié wyse is vreemde bloed (genes) in die familie ingebring (en natuurlik ook in die volk van God). Dit was as ‘n baie ernstige sonde beskou; strafbaar met die dood.

Die regter kry die lus om die nek.

In hierdie geval is Juda egter in sy eie strik gevang en het beide die onreg wat hy teenoor Tamar gepleeg het en sy seksuele eskapades waarin hy by Enaim betrokke was, voor sy ganse familie wat byeen was om die teregstelling van Tamar te sien, aan die lig gekom. Wat ‘n rooi-gesig verleentheid! Hy was darem groot genoeg om te erken dat sy reg was en hy verkeerd.

Moet Tamar dan vrygespreek word?

Heilig die doel waarom sy dit gedoen het die middele wat sy gebruik het om haar doel te bereik? Was dit reg van haar om haar eie skoonpa bed toe te neem? Stellig nie. In die Wet wat die Here later deur Moses gegee het, word bloedskande (Lev 20:12) sowel as hoerery (Lev 19:29) verbied. (Sien ook Hos 4:11.)

‘n Goeie boom uit ‘n slegte saad; ‘n daad van God.

Tamar het nietemin, reg of verkeerd, toe twee seuns gehad. Een van hulle was Peres wat ‘n voorsaad was van koning Dawid wat op sy beurt weer ‘n voorsaad was van die Here Jesus Christus (Matt 1:3). Hierin betoon God Sy grootheid en genade om selfs uit die mens se ongeregtigheid die goeie te laat voortkom.

So het dit dan in die huis van Juda gegaan, die huis waaruit die stam van Juda sou ontwikkel wat mettertyd die leier van die 12 stamme van Israel sou word en waaruit die Messias van Israel en die Verlosser van die wêreld gebore sou word.

Maar laat ons nou kyk wat verder van Josef geword het.

E. JOSEF AAN HUIS VAN POTIFAR. HY BELAND IN DIE GEVANGENIS (Lees asb. Gen 39:1-20).

Weggevoer.

Na ‘n lang moeitevolle reis van ongeveer 30 dae wat hy waarskynlik te voet sou moes aflê, bereik Josef Egipte waar hy soos net nog ‘n stuk handelsware opgeveil word. Omdat hy jonk en aantreklik was, behaal hy waarskynlik ‘n goeie prys wanneer hy deur ‘n baie belangrike man, naamlik Potifar, die owerste van Farao se lyfwag,  gekoop word.

Noodlot of God?

Vir Josef was dit alles sekerlik ‘n onbeskryflik traumatiese ondervinding en moes hy homself op daardie lang stofpad na Egipte, dikwels die vraag afgevra het of die Here hom dan verlaat het en of sy drome sommer net maar sy eie fantasië was.

Met Christus in die huis van Potifar.

In Egipte het ‘n onverwagte kultuurskok op hom gewag waar hy, vanuit ‘n rustige nomadiese herderslewe skielik in ‘n krioelende stadslewe moes aanpas en dit boonop aan huis van ‘n ryk en belangrike man waar daar ‘n groot toestroming van mense was.

Ook moes hy dadelik begin om hierdie vreemde taal aan te leer sodat hy homself darem sou kon behelp en die opdragte van sy werkgewer se bestuurders sou kon uitvoer.

Die ergste van alles was seker die menigte vreemde afgode wat daar aanbid is en die druk wat hy beleef het om daaraan mee te doen.

Maar te midde van al hierdie versoekinge en beproewinge, het hy vas bly staan en volhard om die Here, en Hom alleen, te dien. Die Here en Sy koninkryk was vir hom so ‘n groot werklikheid, so gedurig voor sy geestelike oë, dat al die glorie van die Egiptiese koninkryk wat hy om hom kon sien, dof en minder begeerlik was.

‘n Top eerstejaar presteerder aan Jesus se universiteit.

Josef kon lui en opstandig gewees, en swak diens gelewer het omdat hy as slaaf geen salaris ontvang het nie, maar nee, hy het sy allerbeste gelewer.

Alhoewel hy geen Bybel of enige Skrifgedeelte by hom gehad het nie, het hy getoon dat die wil en weë van God op die tafels van sy hart geskryf was, soos wat dit eeue later vir ons in Efes 6:5-8 opgeteken sou word:

Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus; nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie, omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy ‘n slaaf is of ‘n vryman.

Van sekere dinge kan ‘n mens nie beroof word nie.

Geen wonder dan dat die Here se seën gerus het op alles wat hy gedoen het. Hy was geskei van sy familie maar nie van sy God nie. Hy was gestroop van sy koningskleed maar nie van sy beginsels, van eerlikheid, hardwerkendheid en betroubaarheid nie.

In die begin moes hy waarskynlik die vernederendste van al die werk doen, maar hy het dit met lus en oorgawe aangepak. Sy toesighouers het dit raakgesien en meer verantwoordelikhede aan hom toevertrou totdat sy heer (werkgewer/ eienaar) self gesien het dat die Here met hom was en hom oor sy ganse eiendom aangestel en hom oor niks meer bekommer het nie.

Maak, ter wille van jouself, die beste van slegte omstan-dighede

Die lewe is so dikwels wat jy self daarvan maak. Josef het waarskynlik hier in Egipteland, as slaaf, meer vrede en geluk ervaar as sy broers as vry manne in Kanaän.

Deur opreg met God te wandel, kan ‘n mens van jou Egipteland ‘n Kanaän maak en deur sleg te lewe maak jy van jou Kanaän ‘n Egipte.

Opregheid, ‘n skoon gewete en ‘n hart wat andere vergewe vir wat hulle aan jou gedoen het, is soos ‘n sagte salf wat jou innerlike wonde genees. Jaloesie, haatdraendheid en ‘n skuldige gewete daarenteen, is soos ‘n doringdraad sweep wat elke uur  nuwe wonde en nuwe pyn meebring; dit is soos om in ‘n tronk met wrede, wraaksugtige bewaarders opgesluit te wees. Josef het sy eerste toets geslaag deur sy lot as slaaf met blymoedigheid te aanvaar. Maar daar sou verdere toetse wees.

Sy tweedejaars kurrikulum: oorwinning oor vleeslike be-geertes.

Die volgende toets was gemik op sy seksuele lewe, ‘n area waarin jongmense juis besonder kwesbaar is. Hy was inderdaad ‘n baie aantreklike jongman en hierin het die duiwel ‘n geleentheid gesien om  hom verder te kasty.

Die vrou wat hy sou gebruik was nie sommer ‘n diensmeisie waarvan daar sekerlik baie was wat sy aandag wou trek; nee dit was Potifar se vrou wat hom uitgelok het om met haar gemeenskap te hê en God het dit so toegelaat want, sonder ‘n eksamen kan jy nie slaag nie.

Let op na die redes waarom hy haar versoek geweier het: a. Omdat hy die vertroue wat sy heer in hom gestel het, sou skend; b. Omdat hy teen God sou sondig.

Wie is ek?

Baie jongmense leef voorbeeldig terwyl hulle in hul ouerhuis is, maar sodra hulle daar uitgaan, verval hulle in losban-digheid. ‘n Mens is nie dit wat jy in die openbaar is nie, maar dit wat jy in die verborgene is, daar waar niemand jou kan sien nie. Dit wat jy bedink, is wie jy werklik is. Sou jy toegee aan gedagtes van omgang met die teenoorgestelde geslag, loop jy gevaar dat dit dade sal oorgaan; maar as jy sulke gedagtes vinnig afsny, sal jy ook wanneer die versoeking jou skielik in ‘n hoek vaskeer, regkry om te ontglip. Toe hulle alleen tuis was, het sy hom vasgegryp maar hy het losgeruk en uit die huis padgegee.

Nou sal ek jou wys!

Iemand het gesê dat daar geen woede so wreed is as dié van ‘n vrou wat deur ‘n man aan wie sy haarself aangebied het, afgewys is nie. (“There is no fury like that of a woman scorned.”) Potifar se vrou was in haar eer gekrenk en woe-dend, en het vir Josef valslik by haar man aangekla voordat hy die geleentheid sou vind om haar te beskuldig.

Potifar mag miskien sy bedenkinge gehad het oor wat werklik agter die skerms gebeur het, maar moes sy eer voor sy huis-houding handhaaf, en het Josef in die tronk gegooi. Miskien wou Josef homself ook nie verdedig en sy heer seermaak deur vir hom te vertel hoe sleg sy vrou werklik was nie.

Die lewe is nie regverdig nie.

Al dien ‘n mens die Here met jou hele hart, is dit nie te sê dat dit altyd met jou goed sal gaan of dat mense jou regverdig sal behandel nie. Die duiwel sal jou haat en jou voorlê, versoek en allerhande onverdiende teëspoede oor jou pad bring om jou geloof te probeer uitblus.

Hoe het Josef se geloof so sterk gebly.

Toe ons Abraham se lewe bestudeer het, het ons gevind dat die Here dikwels gedurende die 20 jaar wat hy moes wag dat die belofte van ‘n seun bewaarheid sou word, hom besoek en met hom gepraat het om sy geloof te versterk, veral wanneer hy begin het om te twyfel.

Ook in Jakob se lewe het dit meermale gebeur dat die Here hom op die pad ontmoet en bemoedig het, maar wat Josef betref, is so iets nêrens aangeteken nie. Was sy geloof werklik so kragtig dat hy nooit onseker geraak het of die Here nog met hom was en dat sy twee drome van heerskappy bewaarheid sou word nie?

F. JOSEF IN DIE GEVANGENIS. HY VERKLAAR DIE SKINKER EN DIE BAKKER SE DROME. (Lees asb. Gen 39:20-40:23).

Twee kursusse met lof geslaag: nog een/twee voor.

Op Facebook het Josef sy nuwe “status” aangeteken as “prisonier” (In die hedendaagse idioom.) Op 17 jarige ouderdom was sy status: “Geliefde seun van ‘n uitverkore miljoenêr”; kort daarna: “slaaf”; ‘n rukkie later: slaaf/be-stuurder; na nog ‘n tydjie: prisonier/sipier. Hoe sou dit op ‘n “CV” lyk op ouderdom 30? Ten minste nie ‘n vervelige lewe nie.

Een dag op ‘n slag en moenie opgee nie.

Maar, ook in die gevangenis het Josef nie moed verloor omdat hy weer onregverdig behandel was nie, maar homself as ‘n model gevangene onderskei sodat hy deur die sipier begunstig en in ‘n gesagsposisie geplaas is. Al het hy dag vir dag met die sleutels in sy hand geloop, het hy nie probeer ontvlug nie, want hy het gewag vir die dag wat die Here self vir hom die deur sou oopsluit. Hy was Jesus se gevangene, nie die Farao s’n nie.

Wag op God: di’s die vinnigste uitweg.

Ons moet van God hoor of ons ‘n moeilike situasie waarin ons beland het, moet aanvaar as God se wil en of ons daaruit moet probeer ontkom. Wanneer ‘n prisonier ontsnap en weer aangekeer word, is sy straf net soveel swaarder. So ook wanneer ons teen die wil van God ‘n uitweg soek. Hy sal toelaat dat ons in ‘n ander tronk beland, want Sy groter doel is om ons karakter te vorm; om ons verdraagsaamheid en geloof te ontwikkel en daarvoor is die “tronk” soms beter as ‘n sorgvrye vakansie by die see.

Blykbaar dieselfde Potifar.

(Vergelyk ons 39:1 met 40:3 wil dit voorkom asof Potifar, wat die hoof van die Farao se lyfwag was, ook sipier van die gevangenis was. Dit maak die prentjie soveel interessanter.

Potifar het sy vrou waarskynlik nie geglo toe sy Josef aangekla het nie en wou so ‘n puik en betroubare bestuurder nie verloor nie. Toe bedink hy ‘n slim plan: plaas hom oor na die tronk waarvan hy die hoof was, maar vertrou die sleutels aan hom toe. Josef, die slaaf en gevangene was dus die nie-amptelike sippier van die maksimum veligheid tronk van Egipte. Sy medegevangenes kon hul oë seker nie glo nie.)

In beheer van hooggeplaasdes.

Die tronk waarin Josef aangehou is, het ook soms hooggeplaasde amptenare gehuisves soos die Farao se bakker en skinker wat hom mishaag het. Die sipier het hulle in Josef se sorg geplaas – om hulle te bedien. Hy sou hulle met eerbied behandel maar kon ook vertrou word om hulle nie te laat ontsnap nie.

Empatie van ‘n medegevangene.

Een oggend het Josef opgemerk dat dié twee manne baie ontstig was. Hy verneem toe wat die rede was en hulle vertel hom dat hulle beide ‘n baie ontstellende droom gehad het. Hierin sien ons nog ‘n ooreenkoms met Jesus. Soos wat die Heer waar Hy in pyn aan die kruis gehang het nog ‘n verblydende woord vir een van sy medegekruisigdes gebring het, het Josef ook nie net aan sy eie droewige lot gedink nie maar andere se ongelukkigheid raakgesien en aangebied om hulle te help.

‘n Berader van gevangenes.

Hy het hulle bemoedig dat daar ‘n oplossing vir hul probleme was deurdat God, van wie die drome gekom het, ook die betekenis daarvan aan hulle kon verklaar.

Die skinker het sy droom aan Josef vertel en Josef het dit dadelik vir hom verklaar, naamlik dat hy binne drie dae in sy amp herstel sou word.

Aangemoedig deur die goeie uitlegging wat die skinker ontvang het, deel die bakker toe ook sy droom met Josef wat dit dadelik vir hom uitlê; maar dit was ongunstig naamlik dat hy opgehang sou word.

Om ‘n getroue boodskapper vir God te wees, is nie altyd aangenaam nie, want soms moet ons vir mense dinge sê wat hulle liewer nie sou wou weet nie.

Josef se “poging om te ontsnap”.

Hier kry ons ook ‘n kykie in Josef se eie hart wanneer hy vir die skinker vertel hoedat hyself uit sy vaderland gesteel en ook daar in Egipte onskuldig in die tronk gestop is, en by hom pleit om tog vir hom ‘n goeie woord by die Farao te doen. Hoe lank hy al in die tronk was, weet ons nie, maar dit was nou al elf jaar sedert hy as slaaf verkoop was.

‘n Ware profeet; betroubaar en geloofwaardig.

Josef se uitlegginge is tot die letter toe bewaarheid toe die skinker binne drie dae in sy amp herstel en die bakker opgehang is en het bewys dat Josef ‘n man van God was wat onskuldig in aanhouding was, soos wat hy gesê het.

(Hierdie vermoë om verborgenhede te openbaar, kan vergelyk word met die Nuwe Testamentiese Heilige Gees gawe van “’n Woord van Kennis,” – 1 Kor 12:8).

Uit die oog, uit die hart.

Die skinker het egter van Josef vergeet en nie sy saak by die Farao aanhangig gemaak nie.

Die Here het Josef se poging om uit die tronk verlos te word, nie geseën nie omdat Hy wat die diepte van elke mens se hart ken, hom nog verder wou vorm, voordat Hy hom op die wyse wat Hy vir hom vooruit bestem het, sou kon gebruik.

God se doel met die bakker en skinker gebeurtenis.

Waarom het die Here dan hierdie hele episode met die drome bewerk?

Wat die bakker en skinker betref, kan ‘n mens geen werklike rede sien waarom die Here hulle so wou begunstig deur drie dae voor die tyd aan hulle te openbaar wat met hulle sou gebeur nie.

Nee, dit het by God waarskynlik meer om Josef gegaan. Hy wou daarmee Josef se geloof versterk om nie te twyfel aan die belofte wat hyself van God deur sý twee drome ontvang het nie. Hy het hier weer belewe hoedat God deur drome tot die mens spreek en hoedat dit dan bewaarheid word.

Nog ‘n bietjie wag, Josef, nog ‘n rukkie talm.

Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie: (Hab 2:3).

Hy moes net aanhou om te glo dat die dag sou kom dat die Here hom ook sou verhoog, soos die skinker, en hom as ‘n heerser sou aanstel. Ook sou die Here die onreg wat hom aangedoen was, vergelde, soos wat die bakker vir sy kwaad moes boet.

Neem Josef se les ter harte.

Ons moet ons toekoms aan God alleen toevertrou. Solank ons gehoorsaam aan Hom bly, bly ons op koers al kan ons nie die einde van die tonnel sien nie.

(Die Here sou ook wel, heelwat later, tog die skinker gebruik om Josef se verlossing te bewerk.)

G. JOSEF VERKLAAR FARAO SE DROME. HY WORD AS HOOF OOR EGIPTE AANGESTEL (Lees asb. Gen 41).

‘n Bekommerde koning.

Twee jaar na die episode met skinker en bakker, het Farao ook twee drome gehad naamlik dié van die maer koeie en are wat die vet koeie en are verslind maar self nie daarby baat nie. Hieroor was hy erg ontstemd, te meer so omdat al sy towenaars en waarsêers wat uit die staat-skatkis besoldig is, sy droom nie vir hom kon uitlê nie. Dit is toe dat die skinker onthou van Josef wat sy drome verklaar het. Toe hy die koning daaroor inlig, laat hy Josef dringend haal.

‘n Prisonier in kontak met die hemele.

Josef se toetstydperk in God se universiteit was volbring en die Here het hom nou gereed bevind om as sy instrument in Egipte vir ‘n spesiale doel gebruik te word.

Na aanhoor van die besonderhede van die drome, vertel Josef toe vir Farao dat dit ‘n openbaring van God was oor wat Hy van plan was om te doen. Die Here sou naamlik sewe jare van oorvloedige oeste gee maar daarna sou sewe jare van geweldige droogte kom wat al die oorvloed sou verswelg. Die droom is herhaal omdat die Here vas van plan was om dit te doen.

Josef, bekleed met die wysheid van God, beveel toe sommer ook aan dat Farao opsigters aanstel om 1/5de van die goeie jare se opbrengs op te berg vir die droeë jare. Hierdie raad is deur Farao en al sy raadgewers aanvaar.

Die Farao besef ook dat iets bonatuurliks hier plaasgevind het en wie beter kon hy aanstel om hierdie godgegewe plan te bestuur, as Josef wat in direkte kontak was met die onsienlike, almagtige God? Hy stel hom toe summier  direk onder hom aan as hoogste bevelhebber in die land en dra aan hom op om sy eie godgegewe raad ten uitvoer te bring.

Alle mag.

Ons let ook daarop dat die Here bo-natuurlike middele (drome) gebruik om sy planne ten uitvoer te bring. Dit is vir Hom so maklik om selfs ‘n magtige koning te laat doen wat Hy gedoen wil hê. Hy kan enigeen, wie Hy ookal wil, aanstel in watter posisie Hy ookal wil. Hy beskik oor alle mag in die hemel en op aarde en kan enigiets en enigiemand binne Sy skepping gebruik om Sy soewereine wil ten uitvoer te bring.

Van tronk tot troon.

Na 13 jaar se eensame volharding in geloof en gehoor-saamheid, sien Josef hoedat sy eie twee drome in vervulling begin gaan. Dertien jaar was eintlik ‘n kort tydperk om van eenvoudige skaapwagter tot visie-president van so ‘n magtige  vreemde land te vorder. Hy was toe maar 30 jaar oud en was voorwaar ‘n waardige agter-kleinkind vir Abraham, die man van geloof.

En nou haal al die opgehoopte goedheid en guns hom in (Ps 23:6).

Die aanstelling het gepaard gegaan met groot eerbetoon aan Josef. Farao het ook vir hom ‘n vrou met die naam van Asenat gegee. Twee seuns, Manassa en Ephraim, is vir hom gebore. Hierdie name was veelseggend om Josef se hart, sy gedagtegang te openbaar(41:51,52):

En Josef het die eersgeborene Manasse genoem; want, het hy gesê, God het my al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my vader. En die tweede het hy Efraim genoem; want, het hy gesê, God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende.

Die soete oorwinning wis die bittere herinneringe uit.

So groot was die seën waarmee die Here vir Josef geseën het, dat hy al die moeite en ellende wat hy 13 jaar lank moes verduur, vergeet het; wat ‘n wonderlike getuienis.

So getuig die apostel Paulus ook die Christene:

Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; (2 Kor 4:17).

Die Here het Sy uitverkore kind, Josef, deur al daardie moeilike jare laat gaan, maar Sy doel daarmee was om vir hom net die beste by die wenpaal te kon gee:

Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. (Jer 29:11).

Dit was ter wille van die uiteindelike vreugde dat Jesus ook volhard het:

 Jesus, , wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. (Heb 12:2).

Ja, die wat deurdruk, se trane sal in ‘n jubellag verander word:

Toe die Here die lot van Sion verander het, was ons soos die wat droom. Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel; toe het hulle onder die heidene gesê: Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen. (Ps 126:1,2)

Wanneer ons deur die hemelpoort stap, sal die herinneringe aan ons swaarkry op aarde soos ‘n kleed van ons skouers afval en sal ons straal van vreugde.

Het Josef werklik sy ouerhuis vergeet?

As Josef sê dat hy ook die hele huis van sy vader vergeet het, beteken dit sekerlik nie dat hy sy geliefdes as persone vergeet het nie maar wel dat die seëninge wat hy in sy vaderhuis geniet het, nie naastenby kon opweeg teen dit wat hom nou te beurt geval het nie. Tot watter mate hy sy familie nog steeds op sy hart gedra het, sal ons later sien toe die Here hulle weer aan hom terugbesorg het.

Bevordering beteken meer verantwoordelikhede en harder werk.

Die pligsgetroue Josef het toe persoonlik dwarsoor die land getrek en toegesien dat die surplus graan in die stede weggebêre word vir die komende droogte.

Na afloop van die sewe jaar van oorvloed, het die sewe jaar van hongersnood oor Egipte en al die omliggende landstreke gekom, net soos hy voorspel het.

Van heinde en vêr het mense na Egipte gestroom om graan  te koop want, “die hongersnood was swaar op die ganse aarde”. (41:57).

Dink net wat ‘n ontsaglike inkomste dit vir die land ingebring het. Ook hierin was Josef die spilpunt waarom alles gedraai het.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → JOSEF, DEEL 1 . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha