Josef, deel 2; Gen 42 – 50

A. JOSEF SE BROERS REIS NA EGIPTE OM GRAAN TE GAAN KOOP (Lees asb Gen 42:1-36).

Waarom die verskriklike droogte?

Voordat ons verder op Josef se spoor stap, laat ons net eers vra waarom so ‘n geweldige droogte oor die ganse wêreld, insluitende die land Kanaän gekom het.

Dat die Hére dit so bestel of toegelaat het, is gewis (41:25, 28,32) maar waarom het Hy dit gedoen?

Weer was God besig met ‘n langtermyn beplanning.

Die rede lê daarin dat Hy langs hierdie weg vir die volk van Israel ‘n veilige tuiste in Egipteland wou skep waar hulle tot ‘n groot en sterk volk kon aanwas, voordat Hy hulle na die Beloofde land, na Kanaän, terug sou bring, om dit deur wapengeweld in besit te neem.

Het hy dan nie aan Abram belowe nie: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank. (Gen 15:13)

Dat hierdie land Egipte sou wees, sou later duidelik word en die tyd het nou aangebreek dat daardie voorspelling in vervulling sou gaan.

Struikelblokke moes oorkom word.

Maar daar was twee struikelblokke in die weg van God se plan. Eerstens sou die trotse Farao verseker nie die beste gedeelte van Sy land goedsmoeds vir ‘n handjievol veragtelike, nomadiese herders oopgestel het nie. Omstandighede moes hom daartoe dwing om hulle die landstreek Gosen met vreugde te skenk.

Tweedens sou dit vir Jakob ‘n moeilike besluit gewees het om die land Kanaän wat God aan Abraham en sy nageslag beloof het, te verlaat en sy hele familie in die heidense Egipte te gaan vestig. Ook hy moes deur omstandighede oortuig word.

Deur die sewe jare van oorvloed en die sewe jare van droogte, oorkom die Here albei hierdie struikelblokke op meesterlike wyse soos wat ons in hierdie hoofstuk sal sien. Sy wysheid is hoër as die wolke, dieper as die kolke.

Was dit so lekker in Egipte dat hy sy familie vergeet het?

Nog ‘n vraag wat so in die agtergrond bly hang, is waarom Josef nie met sy koets en perde en vergesel van ‘n afdeling soldate ‘n besoek by sy ouerhuis gaan aflê het nie; hy sou mos geweet het dat sy pa al die jare nog gedurig oor hom sou treur en met so ‘n rytuig was hy maar net ‘n paar dagreise vêr.

Soos vroeër vermeld, kon dit nie toegeskryf word aan ‘n gebrek aan liefde nie. Dit was beslis nie ‘n geval van “Uit die oog, uit die hart,” nie al het meer as 22 jaar (45:11) dan nou ook al verstryk. Nee daar moes ‘n veel dieper rede voor gewees het.

Wagtende op die Here.

Josef, wat in murg en bloed, in gees en waarheid, ‘n kleinkind van Abraham was, sou die beloftes wat God aan sy oupa gemaak het, stellig dikwels in sy hart oordink en gewonder het hoe, en wanneer dit sou plaasvind.

Dan was daar natuurlik die twee drome wat daarop gedui het dat sy hele familie eendag voor hom sou buig. Nou was hy tweede in bevel in Egipte. Kon dit wees dat hulle na hom sou kom?

Boonop was hy ‘n man wat oop was om van God te hoor, soos verder blyk uit die uitlegging wat hy van andere se drome kon gee.

Die Here het groot planne met sy broers gehad.

Teen hierdie agtergrond sou dit vir die Here maklik wees om hom te lei om te wag tot Hy sy familie op Sy eie manier na hom sou bring maar op ‘n wyse wat hulle ‘n geestelike vernuwing sou ondergaan.

Josef het dus ook in hierdie opsig met God saamgewerk om Sy planne ten uitvoer te bring. Sou hy sy eie kop en emosies gevolg het, kon dit so anders uitgedraai het.

Hoe meesterlik laat die Heer Sy planne in vervulling gaan.

Maar laat ons nagaan hoe dit alles uitgespeel het. Die reisigers na, en van Egipte, het die goeie nuus gebring dat daar volop koring te koop was en na baie wik en weeg het tien van Jakob se seuns gehoor gegee aan sy opdrag om in Egipte vir hulle graan te gaan koop. Jakob het egter vir Benjamin (die jongste) teruggehou want hy was bang dat hy iets sou oorkom.

‘n “Spook” uit die verlede en drome wat waar word.

Toe hulle voor Josef verskyn, het hy hulle dadelik herken. Hulle het hom egter nie geein nie en met die aangesig na die aarde voor hom neergebuig. Ineens het hy sy drome oor hoe sy familie voor hom sou buig, in herinnering geroep (37:5-11). God se woorde staan vir ewig vas!

‘n Vraag wat wag op ‘n antwoord: as hulle getoets word, sal hulle as goud geopenbaar word?

Maar was hierdie tien broers nog die gewetenlose, gevoellose manne van ouds wat hul jonger broer, ‘n seun van 17, as slaaf verkoop het?

Nee, ‘n verandering was besig om in te tree. Hullewas nog nie geestelik waar God hulle wou hê nie, maar hulle was ook nie meer waar hulle tevore was nie.

Die 24 jaar wat verstryk het, het hulle harte voorberei vir ‘n diepgaande verandering want hulle was immers stamhoofde van Israel, die uitverkore volk van God en moes in hul wandel voor die heidene Sy beeld weerspieël.

In hierdie proses van hartsvernuwing het Josef verder met God saamgewerk deur nie sy identiteit aan hulle te openbaar nie, maar eerder druk op hulle uit te oefen wat daartoe sou lei dat hulle mettertyd hul skuld sou erken.

Die vuur van hul smeulende rokende gewetes word aangeblaas om weer helder op te vlam.

Hy beskuldig hulle naamlik van spioenasie. Hulle ontken dit heftig en vertel hom van hul vader en jonger broer en meld ook van die broer wat nie meer leef nie – ‘n leuen alhoewel hulle plegtig verklaar dat hulle eerlike mense is (42:11).

Maar Josef draai die skroef aan deur vol te hou dat hulle spioene was en sluit hulle drie dae lank in die gevangenis op.

Onder hierdie druk raak hulle al benouder. Hul gewetens kla hulle ook al hoe heftiger aan sodat hulle onder mekaar begin praat en sê dat hulle nou gestraf word omdat hulle, hul broer as slaaf verkoop het en nie na sy smekinge wou luister nie.

Twee-en-twintig  jaar het al verloop sedert hulle Josef in die hand van die Midianietiese koopmans oorgegee het, maar die prentjie is vir hulle nog helder voor oë, en wanneer dinge nou vir hulle skeef loop, sien hulle dit dadelik as God se straf vir hulle wandade.

Die mens kan so maklik moor of steel, maar dink nie aan die ewigheid wat hy met die gewetenswroeging sal moet saam lewe nie.

Salf in ou-ou wonde.

Hulle het gedink Josef verstaan nie wat hulle vir mekaar sê nie want hulle het deur ‘n tolk met hom gepraat, maar hy het van elke woord kennis geneem. Dit was soos musiek in sy ore want dit het bewys dat daar by hulle ‘n mate van berou was en dit raak hom so dat hy eenkant gaan om te  huil.

Hy hou egter vol om hulle van spioenasie te beskuldig, sluit hulle drie dae lank op en hou dan vir Simeon as gevangene agter.

God ken elkeen terdeë.

Waarom juis vir hom? Dit was nou reeds uit die broers se onderlinge gesprek duidelik dat Ruben wat as eersgeborene die besluite moes neem, vir Josef wou vrylaat, maar dat hy te laat daar opgedaag het. In sy afwesigheid sou Simeon as tweede oudste die verantwoordelikheid dra om die finale besluit te neem. Hy was ook ‘n besondere wrede man wat, tesame met sy broer Levi, die inwoners van Sigem met die swaard vermoor het (34:25). Moontlik was hierdie die redes waarom Josef op hom besluit het.

‘n Slim plan.

Die ander nege broers word deur Josef vrygelaat en met hul vol sakke koring teruggestuur huistoe, maar met die opdrag om hul jongste broer na hom te bring as bewys dat hulle die waarheid praat.

Uit die een dilemma in ‘n ander een in.

Hy beveel ook dat hul geld bo in hul sakke teruggeplaas word. Langs pad, by die herberg, ontdek hulle die geld, is verkrik en sien dit as nog ‘n bewys dat die hand van God wat teen hulle was. ‘n Skuldige gewete skrik vir alles: Die goddelose vlug sonder dat daar ‘n vervolger is, maar die regverdiges voel hulle veilig soos ‘n jong leeu. (Spr 28:1).

Hoe nader aan die wenpaal, hoe steiler die opdraende.

Toe Jakob dit alles aanhoor, roep hy uit “Julle beroof my van kinders. … Alles is teen my.” As hy maar net geweet het dat die Here agter die skerms besig was om alles vir hom volmaak te bestuur.

B. JOSEF SE BROERS REIS WEER NA EGIPTE OM GRAAN TE KOOP. HY OPENBAAR SY IDENTITEIT AAN HULLE EN LAAT JAKOB EN SY GESIN HAAL (Lees asb Gen 42:37-45:24).

Soos wat die koring in die sakke al laer gesak het, het die benoudheid in die harte van die tien broers al hoër opgelaai, want Jakob was onversetlik. Hy het volstrek geweier dat Benjamin saamgaan na Egipte.

Te lig bevind om borg te staan.

Eers het Ruben aangebied om vir hom borg te staan maar Jakob het hom nie vertrou nie want hy was ‘n wispelturige man wat by geleentheid met Jakob se byvrou Bilha gemeenskap gehad het (35:22).

Boonop, as hy so min vir sy eie seuns omgegee het dat hy aangebied het dat Jakob hulle kon doodmaak as hy nie vir Benjamin veilig terugbring nie, hoe kon hy met Benjamin se lewe vertrou word?

Sonde vergaan nie; dit wag om afgehandel te word.

Twintig  jaar het verbygegaan en nog het die tien broers se aaklige daad geheim gebly, maar soos wat beeste van vêr af aangekeer en uiteindelik deur ‘n dipbak forseer word om hulle van parasiete te reinig, was die doopbad wat die Here in die geheim vir dié manne gebou het, nou ook gereed.

Die dag van openbaarmaking en afrekening, maar ook van verlossing, was voor die deur. Die Here laat die strop van die droogte al nouer om hul kele trek en hulle besef daar is net een uitweg en dit is om maar weer graan te gaan koop by die vors van Egipte waar Simeon ook nog steeds as gyselaar aan-gehou word.

 Kyk net hoe pleit hulle nou.

Dit gaan nie net oor hulleself nie maar as volwasse manne het elk ‘n eie gesin gehad waarvoor gesorg moes word. Voor hul vader Jakob wat hul so harteloos behandel het, moet hul nou as’t ware op hul knieë gaan om hom te oorreed om Benjamin met hul te laat saamgaan.

Vier-en-twintig jaar gelede was dit so maklik om geweld te gebruik om hul probleem hul Josef op te los (vermoor hom; verkoop hom as slaaf), maar nou kos dit verootmoediging, smeking, geloof.

God is besig om van hulle waardige voorvaders vir Sy volk Israel te maak. Hierin gebruik Hy sy kneg Josef wat met goddellike wysheid te werk gaan om hul treetjie vir treetjie na die doopbad van geestelike reiniging te bring.

Honger het ‘n harde stem.

Die droogte het die laaste sê gehad. As hulle nie spoedig kos in die hande sou kry nie, sou Jakob en sy hele gesin se lewens in gevaar wees.  Daarom, toe Juda aanbied om vir Benjamin borg te staan, stem Jakob maar in dat hy kan saamgaan.

Hulle neem toe ‘n dubbele porsie geld, asook geskenke en vertrek na Egipte.

‘n Naelbyt reis.

Die manne is egter maar stil op die pad want hulle is bevrees oor die feit dat hul vorige betalings nie, soos hulle gedink het, by Josef uitgekom het nie. Sou hulle as skelms in die gevangenis beland?

Nie net gevangenisstraf nie maar dalk die galg?

Daar aangekom, volg ‘n verdere skok toe hulle in Josef se huis gebring word en daar moet vertoef tot die middag toe. Het hy dit gedoen om hulle te oorrompel en die doodstraf vir spioenasie op te lê?

Met sorg verduidelik hulle aan die opsigter van hulle geld wat hulle in hul sakke teruggekry het en dat hulle dit nou weer saamgebring het sowel as die volle koopsom vir die huidige aankope. Maar wat ‘n storie tog! Hoe kon hulle verwag dat die man hulle sou glo?

Die opsigter maak dit egter lighartig af met die verduideliking dat dit hulle God was wat die geskenk vir hulle gegee het. Hulle is uit die veld geslaan. Hoe sou hierdie heiden weet van hulle God en die God van hulle vaders?

Om hulle gerus te stel bring hy  vir Simeon ongedeerd uit die gevangenis. Wat ‘n verligting! Hulle skep moed en berei hulle geskenk voor vir wanneer Josef sou opdaag.

Tussen hoop en wanhoop.

Eers verneem hy na die welstand van hulle ou vader maar toe hy voor Benjamin te staan kom, is hy so ontroerd dat hy haastig eenkant moet gaan om te huil.

Toe hulle aan tafel gaan skep hulle weer moed want hulle word behoorlik deur hierdie heerser as eregas behandel. As hy kwaad bedoel het, sou hy tog nie so ‘n koninklike tafel vir hulle laat dek het nie, maar net toe hulle gerus wil raak, gebeur nog ‘n ontstellende ding: die Heerser wys self vir elkeen sy sitplek aan en dít van oudste na jongste. Die ontsteltenis laat hulle kele toetrek. Hulle loer onderlangs na mekaar. Iets bona-tuurliks is besig om hier te gebeur. Wie is hierdie man tog. As hy hulle ouderdomme ken, wat weet hy nie alles nóg omtrent hulle nie?

Maar dan word die kos en wyn bedien en na gelang die ete vorder, word hy saam met hulle vrolik – maar, … nóg ‘n eien-aardige voorval: Benjamin kry ‘n vyf maal groter porsie as die andere!

Nog ‘n strik word gespan.

Na die feesmaal groet Josef hulle hartlik en vergesel hulle die opsigter na woonkwartiere wat vir die nag vir hulle aangewys word.

Terwyl hulle ontspan en slaap, voer hy sy heer se instruksies stiptelik uit. Hy maak hul sakke vol met soveel lewensmiddele as wat hulle kan vervoer, plaas hul geld daarin terug maar boonop ook Josef se persoonlike drinkbeker in Benjamin se sak.

Waaroor tog het ons, ons so bekommer?

Wanneer hulle die stad vroeg die volgende oggend verlaat met hul esels swaar gelaai met sakke vol graan, slaak hulle ‘n sug van verligting. Waaroor het hulle hul tog so bekommer? Kyk nou net hoe goed het alles verloop en boonop is hulle nou weer voltallig, want Simeon is ook weer by.

Nóu is julle in die moeilikheid.

Hulle was egter nie hoe vêr weg nie, toe Josef se opsigter hulle inhaal. Hy is sommer baie kwaad. Het hulle dan geen ordent-likheid of gewetes nie om die goedheid wat sy heer aan hulle betoon het, te vertrap deur sy beker te steel!

Nou is die manne op hulle beurt ook verontwaardig. So iets sal hulle nooit nie doen nie. Laat die sakke deursoek word en die een in wie se sak die beker gevind word, moet sterf en hulle ander sal hulself as slawe oorgee.

Maar hul selfversekerdheid is van korte duur want sommer in Ruben se sak al word die geld wat hy moes betaal het, teruggevind en net so in Simeon s’n en ook in die ander sewe s’n van die oudste tot die jongste, tot net Benjamin s’n nog oorbly.

Wel, ten minste was die vermiste beker in niemand se sak weggesteek gewees nie. Hulle staan ‘n kring om Benjamin se sak terwyl die opsigter dit oopryg. Hy steek sy hand in, vroetel rond en haal die sakkie met geld te voorskyn, hou dit op sodat almal dit kan sien en laat dit op die grond neerplof. Weer steek hy sy hand in die koring in; die keer delf hy dieper, soek heen en weer, dan voor, dan agter, dan links dan regs. Skielik stop hy, kyk op in die fronsende, swetende gesigte wat almal saamgedrom in die sak in staar en dan, stadig, trek hy iets uit, skud die koring daaruit en hou die glansende beker waaruit hulle Josef sien drink het, omhoog.

Uitroepe van misnoë weerklink van alle kante, klere word geskeur. Benjamin word geboei en moet saam terug want dit is in sy sak wat die beker gevind is.

Die goud kom na vore.

Toe gebeur daar ‘n wonderwerk: die koue, harde harte van die tien broers versmelt. Die manne wat ‘n jonger broertjie sommer so sonder om ‘n oog te knip in slawerny verkoop het, is nou bereid om liewer self slawe te word as om nóg ‘n jonger boetie in slawerny te laat gaan. Hulle sal liewer hul lewens in sy plek gee, as om hul ou vader weer so ‘n groot droefheid aan te doen.

Die engele juig in die hemel.

Hoe pragtig is dit nie; die God van liefde het begin om sy liefde in hulle harte uit te stort en hulle openbaar die gesindheid van Christus. God se plan om van hierdie harde manne nuwe wesens te maak, is besig om te slaag.

Die sakke met koring word toegebind en gelaai. Soos een man draai hulle om en string met hul esels in die stofpad agter die opsigter aan, terug na Josef se huis waar hy hulle inwag.

Josef vrees vir die antwoord op sy vraag.

Daar is ‘n groot vraag in sy hart waar hy die pad deur die venster dophou: sou die tien broers vir Benjamin as slaaf aan die opsigter oorgegee het soos wat hulle destyds met hom gedoen het? Is hulle skouerophalend op pad huistoe? Hy sien net twee manne deur die poort inkom: sy opsigter met Benjamin, in boeie. Sy hart krimp ineen, maar, … dan volg Juda, dan Simeon, dan al die ander, elkeen met sy esel.

Hulle volg die opsigter in sy huis in, val vooroor voor hom op die grond neer en luister verslae terwyl hy hulle oor die kole haal oor hierdie ernstige vergryp. Wat kan hulle tog sê? Hulle het algeheel geen verweer nie.

‘n Nuwe leier wys sy staal.

Dan tree Juda na vore en doen sy belofte aan sy vader gestand. Opmerklik is dit dat hy nou baie duidelik besef dat dit wat hulle te beurt geval het, ‘n daad van God was. God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind, bely hy hulle skuld aan Josef (44:16). Hy bied hulle almal aan as slawe.

Daarvan wil Josef ook nie hoor nie, nee net Benjamin moet agterbly. Nou is Juda desperaat, tree nader aan Josef en lewer ‘n hartroerende pleidooi waarin hy die droewige verhaal vertel van hoe Jakob twee seuns by ‘n sekere vrou gehad het waarvan die oudste hom op gewelddadige wyse ontval het en hoe geweldig verknog hy nou aan die oorblywende jongste seun is. Dat so ‘n ramp sy vader vir ‘n tweede maal sou tref, is vir Juda so ‘n verskriklike gedagte dat hy eerder self lewenslank as slaaf sou wou dien om sy ou vader daardie droefheid te spaar.

Wat ‘n totale omwenteling het daar nie in Juda se lewe ingetree nie; was dit dan nie juis hy, ja hý wat voorgestel het dat sy jonger broertjie as slaaf verkoop word nie? Hoe geweldig moes sy vader se verdiet hom nie gedurende die afgelope 22 jaar gepynig het nie. Hoeveel nagte het hy nie wakker gelê en gewens dat hy dit ongedaan kon maak nie. Josef kon hy egter nie aan sy vader teruggee nie. Die beste wat hy nou kon doen was om hom verdere droefheid te spaar en daarvoor was hy gewillig om sy eie lewe op te offer. Net een ding verswyg hy nog, naamlik dat húlle tien eintlik die oorsaak van al die ellende was!

Josef se tweede dag van glorie.

Josef besef nou dat sy broers intussen ‘n totale hartsver-andering ondergaan het. Dit ontroer hom so geweldig, dat hy die Egiptenaars beveel om die vertrek te verlaat. Dan bars hy in trane uit teenoor hulle: “Ek is julle broer vir wie julle na Egipte verkoop het.” Bleek van skok en stom van verbasing staar hulle hom aan.

Die kwaadaardige gewas word tot in sy wortels uitgesny.

Voordat versoening kan intree moet die volle skuld onthul word en dit is wat Josef onder die Here se leiding doen wanneer hy die ontbrekende deel, dié deel van die verhaal wat hulle sorgvuldig teenoor hom verswyg het, aanvul. Deur vir hulle sê: “Ek is Josef, julle broer wat julle as slaaf verkoop het,” sê hy eintlik ook: “Julle is die manne wat my as slaaf verkoop het!” Wat ‘n verskriklike oomblik toe hul aaklige sonde voor die hoogste troon in die land oopgesper word om bereg te word deur ‘n regter wat reeds elke detail daarvan tot in die fynste besonderhede ken.

So sal dit ook gaan met elkeen wat sy oortredinge hier op aarde sorgvuldig bedek maar dan, na die  dood, voor die alwetende God, en Regter van die heelal, verskyn.

Ek vergewe julle; kyk nou na die groter prentjie,

Vir die tien broers was die tydperk van skok en angs oor watter straf hulle toegemeet sou word, genadiglik van korte duur, want Josef het hulle onmiddellik gerusgestel met die woorde dat hulle nie langer deur spyt verteer moes word nie, maar dieper moes kyk en God se hand hierin sien wat hom vooruit gestuur het om hulle hele geslag ten tyde van die knellende doogte in die lewe te hou.

Nuwe verhoudinge op ‘n vaste fondament.

Hierna volg emosionele oomblikke wanneer Josef nie net vir Benjamin nie, maar elkeen van sy broers omhels. Die sweer van hul bose daad was nou tot die wortels toe onbloot en vergewe, en die trane van verligting, blydskap en liefde vloei ongehinderd oor die wange. Nou kon nuwe verhoudinge op ‘n vaste fondament van waarheid en vertroue gebou word. Nou glimlag die hemele ook oor die Jakob gesin want die Here het Sy doel in hul lewens bereik.

Wat ‘n pragtige voorbeeld stel Josef ook hier om vryelik te vergewe sonder dat hulle hom eers daarom gevra het. Dit kan ‘n mens net doen wanneer jy glo dat die Heer in beheer is van alles wat met jou gebeur.

‘n Goeie boodskap van groot blydskap: Josef/Jesus het uit die dood opgetstaan en sit op die troon en ons is sy/Sy begun-stigde familie.

Daarop stuur Farao en Josef  die elf  terug met ‘n oorvloed van geskenke asook waens om Jakob se hele trek na Egipte te vervoer. Vir die eerste keer in 22 jaar kan hierdie manne hul pad met blymoedigheid gaan omdat hul skuldlas verwyder is.

Ook Jakob hoor die goeie tyding uit die vêr land.

Toe Israel alles sien en hoor, was hy oortuig dat Josef nog lewe en het hy ingestem om na hom toe te trek. Nie lank tevore nie, het hy uitgeroep: “Alles is teen my,” maar skielik swaai alles in sy guns en kan hy saam met die NT skrywer, Paulus, uitroep: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” (Rom 8:31).

So tussen hakies: het Josef weggeloop Egipte toe of wat?

Maar daar was nog ‘n ontbeantwoorde vraag: Jakob sou mos wou weet hoe Josef dan in Egipte beland het. Het die tien manne toe maar hul ondraaglike skuld aan hul vader beken in die hoop dat hy hulle sou vergewe; ook die pyn wat hyself vir 22 jaar lank moes dra? Miskien het Josef aan die hand gedoen dat hulle maar net vir Jakob moes sê dat hy, Josef, alles aan hom sou verduidelik wanneer hulle mekaar later sou sien. Dit sou vir hulle baie verleentheid gespaar het.

C. JAKOB EN SY MENSE TREK NA EGIPTE (Lees asb Gen 46:1– 47:27).

Na al die wonderlike seëninge wat Jakob van die Here ontvang het, is sy hart vol van dankbaarheid en bring hy offerandes aan God.

Om die beloofde land, Kanaän, te verlaat en sak en pak Egipte toe te verhuis, is egter vir Jakob ‘n baie groot stap; is dit die regte ding om te doen? Miskien dink hy aan wat met Abraham gebeur het toe hy gedurende ‘n droogte na Egipte getrek het (12:10-20).

(Ons moet andere se voorstelle oorweeg, maar, hoe aanloklik dit ookal lyk, nie sommer daarop handel sonder om die Here eers te raadpleeg nie.)

God praat met Sy kind soos ‘n pa met sy seun.

Die Here lees Jakob se gedagtes en gee vir hom baie duidelike antwoorde in ‘n naggesig:

  • Eerstens roep hy hom op sy naam en verseker hom dat Hy wat met hom praat, God self is, die God van sy vader (Isak) – dws dié God wat sy vader ook sy hele lewe lank gelei en onderhou het.
  • Dat Hy saam met hom na Egipte sou aftrek.
  • Dat Hy verseker sou toesien dat sy nageslag weer uit Egipte sou optrek (terug na die land Kanaän).
  • Dat Josef op sy sterfdag by hom sou wees.

Met die Bloutrein na die land van oorvloed.

Nadat Jakob self van God gehoor het, trek hy met ‘n blymoedige hart af na Josef in Egipte.

Abraham se nageslag het nou al aangegroei tot ongeveer 70 siele. Josef het na Egipte gegaan as ‘n slaaf; sy broers feitlik as bedelaars om kos vir hul gesinne te kry maar nou word die hele geselskap met koninklike waens vervoer en word die beste deel van die land aan hulle toegeken; en dit alles omdat Josef gewillig was om vir 13 jaar lank die prys wat God van hom gevra het, te betaal.

Die wat met trane saai, sal met gejubel maai; vader en seun is weer verenig.

Uiteindelik, na 22 jaar van droefheid, omhels Jakob en Josef mekaar weer en vloei die trane van vreugde. Jakob se beker is vol en hy voel vervuld; dat die doel waarvoor God hom op aarde geplaas en geroep het volbring was.

Die koning van Egipte ontmoet God se prins.

Dan word Jakob ingebring om die Farao te ontmoet. Twee gebeure is betekenisvol:

  • Die Farao het vir Josef geseën deur hom uit die tronk te haal en hom oor die ganse Egipte aan te stel en God het Farao en sy land daarop uitermate geseën en hulle ook tot seën vir die ganse wêreld gemaak.

Nou spreek God se kneg Jakob ook ‘n seëngroet oor die Farao uit, beide wanneer hulle mekaar ontmoet en wanneer hulle afskeid neem.

Dit roep die Here se belofte aan Abraham in herinnering: En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. (Gen 12:3).

  • In die loop van die gesprek sê dat Jakob vir Farao dat hy jonk was in vergelyking met sy voorouers en dat sy jare vol van teëspoed was.

Dat hy moeilke tye deurgemaak het, is gewis, maar baie daarvan het hy oor homself gebring. Nou egter, vee die Here ‘n groot deel van die pyn van die verlede uit en bied aan hom ‘n asemromende “aftrede pakket!”

Dit laat ‘n mens dink aan die alombekende lied: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een, en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk.”

Van Jakob se nageslag het net twee kleinkinders gesterf, naamlik Er en Onan omdat hulle die Here mishaag het, teenoor die 70 wat behoue gebly het en dan het sy een seun, Josef, nog die tweede belang-rikste pos in die wêreld van daardie tyd beklee.

In ‘n tyd wanneer duisende mense in die omliggende gebiede waarskynlik van honger omkom, eet hulle die room van Egipte se opbrengs en dit sonder om ‘n sent daarvoor te betaal.

Dit lyk mos al vir my of die somtotaal van dié aartsvader se seëninge heelwat meer was as sy teëspoede. (Of hoe Jakob?)

God se planne is nog op koers.

Jakob en sy gesin se verblyf in Egipte is baie baie geseënd: en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder. (47:27). Alhoewel hulle dit waarskynlik nie besef het nie, was die Here besig om ‘n groot volk van hulle te maak, ‘n volk wat Kanaän sou kon verower.

 D. JAKOB SEËN SY SEUNS EN STERF (Lees asb GEN 47:28– 49:33).

Op die ouderdom van 147, na 17 jaar van rus en vrede, besef Jakob dat sy tydglas uitgeloop het.

Jakob se roeping en visie vir sy nageslag staan vas; dit kan nie verswelg word deur sy genieting van sy seëninge in Egipte nie.

Hy laat Josef haal en laat hom sweer dat hy hom nie in Egipte sou begrawe nie.  Egipte met sy standhoudende Nyl waters en groen landerye was wonderlik, maar in die geloof sien hy reeds hoedat sy nageslag  deur God uitgelei word om die land Kanaän, die beloofde land, hul eie land in besit te neem en smag sy hart om deel daarvan te wees.

Dit kon natuurlik nie, want nog 417 jaar moes nog op die Heer se kalender, jaar vir jaar afgemerk word. Die Kanaäniete se oordeelsbeker moes nog vol word en vir Israel moes tien duisende jong krygsmanne nog gebore word.

Maar Jakob se geloof oorbrug hierdie tydperk in een groot sprong. Hyself sal daardie heugelike dag nooit kon beleef nie  maar as sy beendere intussen in daardie land kon rus, sou dit al ‘n troos wees.

Jakob seën sy seuns; wat het ék weggelê vir die finale dag van afrekening.

Efraim en Manasse.

Jakob verhef nou Josef se twee seuns, Efraim en Manasse tot gelyke status met sy eie seuns, gee aan hulle in geloof vooruit reeds ‘n stuk land wat hy van die Amoriete verower het en verklaar ook profeties dat Manasse, die eersgeborene ondergeskik sal wees aan Efraim die jongere van die twee.

God verhoog wie Hy goeddink. Daarin moet ons berus in die wete dat hy elkeen van ons oneindig liefhet, so lief dat Hy sy Seun gegee het om sy lewe vir ons aan die kruis af te lê.

Ruben.

Daarna seën Jakob ook sy ander seuns en profeteer oor hul toekoms. Ruben word sy eersgeboorteplek ontneem omdat hy ‘n man was wat aan sy liggaamlike begeertes toegegee en onder andere met sy pa se byvrou, Bilha, omgang gehad het. Oor Simeon en Levi word ‘n oordeel van God uitgespreek omdat hulle dade van geweld gepleeg het.

Juda.

Juda word bo sy broers verhef: “Die septer sal van Juda nie wyk nie nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan hom sal die volke gehoorsaam wees.” Hierdie profesie verwys na die Messias, Jesus Christus, die Seun van God, wat uit Juda se nageslag gebore sou word. (49:8-12)

Josef.

Josef en sy nageslag ontvang ook besondere seëninge van vrugbaarheid. Miskien kan ons dit koppel aan sy opofferende lewe wat gelei het tot behoud van honderde-duisende mense. Wat ‘n mens saai, dit sal jy ook maai.

Jakob se godgegewe rol is uitgespeel.

En dan, terwyl Josef by hom is, verhuis Jakob se gees na daar waar dié van sy voorvaders, Abraham en Isak reeds voor die aangesig van God versamel is.

E. JAKOB SE BEGRAFNIS EN JOSEF SE DOOD (GEN 50)

Die man van God word vereer.

Josef reël dat Jakob se liggaam gebalsem word sodat hulle hom kan vervoer. Dan reis hy, vergesel van sy broers en baie Egiptiese hooggeplaastes na die spelonk van Magpéla waar hulle Jakob se liggaam volgens sy versoek, ter ruste lê. Dit is aangrypend om te sien hoeveel eer hierdie man van God selfs na sy dood te beurt val.

Die verskrikking van skuldbesef.

Daarna pleit Josef se broers van voor af by hom om vergifnis vir wat hulle aan hom gedoen het, want hulle gewetes kan maar net nie tot ruste kom nie en hulle vrees vir hul lewens noudat hul vader, vir wie Josef soveel ontsag gehad het, nie meer daar is nie.

Hul onvermoë om sy vergifnis van harte aan te neem, ontroer hom en laat sy trane vloei en weereens verseker hy hulle van sy volkome vergifnis en goedgesindheid.

Hoe moet dit onse Here Jesus nie ook bedroef wanneer ons oor en oor by Hom om vergifnis pleit en maar net nie kan aanvaar dat Hy ons vryelik vergewe het op grond van die vergifnis wat Hy deur sy kruisdood vir ons bewerk het nie. (Ps 103:12)

Huistoe maar met ‘n toekomsverwagting.

Op die ouderdom van 110 jaar is Josef se rol ook uitgespeel en is dit tyd vir hom om Huis toe te gaan. So seker is hy dat hul nageslag uit Egipte na Kanaän sou optrek, dat hy sy broers laat sweer dat hulle sy liggaam met hulle sal saamneem.

Dan sterf hy en balsem hulle hom met die oog daarop om sy liggaam mettertyd, by hul uittog na Kanaän, saam te neem  wat dan ook honderde jare later, werklik net so gebeur het. (Ex 13:19).

‘n Vader het sy seun gevolg na ‘n land van oorvloed; nou volg die seun sy vader na die land van ewige heerlikheid.

Kom ons volg in hulle voetspore.

Wat ‘n geseënde einde ook vir hierdie man van God van wie ons so baie kon leer en wat ‘n pragtige slot ook vir die Boek Génesis, ‘n unieke deel van die Skrif wat God gegee het om ons te onderrig en te lei op pad na die Vaderhuis, die huis van Adam, Noag, Abraham, Isak, Jakob en Josef en die duisende ander mans, vroue en kinders wat hier op aarde voor die aangesig van God gewandel en die wedloop enduit voltooi het.


VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → JOSEF, DEEL 2 . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha