Josef, deel 3; Gen 37 – 50

joseph cloak

JOSEF AS TIPE VAN CHRISTUS

  1. GELIEFDES VAN HUL VADERS.

 JOSEF het ‘n besondere verhouding met sy vader, Jakob, gehad en dit was duidelik uit lg. se optrede dat hy van plan was om hom tot die status van eersgeborene en erfgenaam te verhef al was hy die tweede jongste seun (Gen 37:3).

 JESUS, as eniggebore Seun van God, was ook Sy geliefde Seun in Wie Hy ‘n welbehae gehad het en die enigste erfgenaam van Sy ganse koninkryk (Matt 3:17).

  1. GESKEI VAN HUL VADERS.

 JOSEF was vir 23 jaar lank van sy vader geskei terwyl hy in Egipte was: eers as slaaf en toe as heerser.

 JESUS was vir 33 jaar weg uit hemel terwyl Hy as mens op aarde was en waar Hy aan die kruis gehang het, was Hy ook geestelik van Sy Vader geskei sodat Hy uitgeroep het “My God, my God, waarom het U my verlaat!” (Matt 27:46)

  1. PROFESIË OOR HUL LEWENS.

Josef en Jesus het beide vroeg in hul lewens profetiese boodskappe oor hul toekomstige bedieninge ontvang.

JOSEF: Die kleed wat Josef se  pa vir hom gegee het, was meer as net ‘n pragtige kledingstuk, dit het ‘n profetiese boodskap ingehou want dit was ‘n vollengte kleed met lang moue en van duur materiaal geweef, soos die kleed van ‘n koning, terwyl die gewone mense en skaapwagters ‘n knie-lengte jurk van goedkoop materiaal met kort moue gedra het. Dan het hy ook die twee drome gehad dat Sy ouers en broers voor Hom sou buig, soos voor ‘n koning.

 JESUS het ook profetiese boodskappe oor Sy rol en status ontvang deur o.a. die engele wat aan die skaapwagters verskyn het, sowel as van die wyse manne wat sy ster gesien en afgelei het dat ‘n besondere koning vir die Jode gebore was, geskenke vir Hom gebring en Hom aanbid het.

  1. ONBESPROKE KARAKTERS.

 JOSEF se onbesproke lewenswyse is tiperend, alhoewel natuurlik nie gelykstaande nie, aan dié van Christus. Nêrens in Sy ganse biografie word enige sonde wat hy begaan het vermeld nie, selfs te midde van hewige beproewings en versoekings (Gen 39:7,8). Dit het sy broers se agressie opgewek.

 JESUS is veertig dae lank in die woestyn deur die duiwel versoek maar het nooit daarvoor geswig nie (Matt 4:1). Later in Sy lewe het Hy uitgeroep: “Wie van julle oortuig My van sonde?” (Joh 8:46). Selfs by Sy vehoor kon Pilatus geen skuld in Hom vind nie (Joh 18:38). Hy was die vlekkelose Lam van God. As Hy selfs net eenmaal ‘n verkeerde woord gesê het, sou Hy nie ons sonde kon wegneem nie.

  1. GEHAAT DEUR HUL BROERS.

 JOSEF: Nie die heidene nie, maar Josef se eie broers het beplan om hom dood te maak (Gen 37:4).

JESUS se eie mense, die Jode en nie die heidene nie, het Hom laat kruisig (Luk 23:10,21). Hy het na Sy eiendom gekom en Sy eie mense het Hom nie aangeneem nie (Joh 1:11).

  1. VERKOOP VIR DIE PRYS VAN ‘N SLAAF.

 JOSEF was aan die Ismaelitiese handelaars  verkoop vir 20 silwerstukke (Gen 37:28).

 JESUS is deur Judas verraai en aan die Joodse owerstes oorgelewer vir 30 silwerstukke (Matt 26:15).

  1. GROOT ANGS BELEEF.

 JOSEF se broers het die vrees in sy oë gesien en die benoudheid in sy stem gehoor toe hulle hom in die put gegooi en later aan die Ismaeliete verkoop het (Gen 42:21). Nog later, in die gevangenis, was sy liggaam in ysters geknel en sy voete in boeie geslaan (Ps 105:17,18).

 JESUS, toe Hy in Getsémané in gebed by sy Vader  gepleit het dat die beker van sy kruisiging by Hom verby moes gaan, het Sy sweet soos bloeddruppels geword (Luk 22:44 en Hebr 5:7).  

  1. ONSKULDIG VEROORDEEL EN GESTRAF.

 JOSEF is onskuldig, skuldig bevind deur Potifar en saam met misdadigers opgesluit (39:12-20). In die tronk het hy ‘n besondere ondervinding met twee veroordeeldes gehad en vir een ‘n gunstige woord gebring dat hy met die Koning versoen en in sy posisie herstel sou word (40:6-13).

 JESUS is onskuldig ter dood veroordeel en saam met twee misdadigers gekruisig. Vir een van hulle het Hy die goeie woord gebring dat hy dieselfde dag nog weer in die Paradys toegelaat sou word (Luk 23:32). 

  1. HUL VERWERPING DEUR HUL BROERS LEI TOT BEHOUD VAN DIE HEIDENE.

 JOSEF se broers se haat vir hom het tot gevolg gehad dat hy deur die Vader vir die heidendom tot groot seën en inderdaad tot behoud van hul lewens gebruik is (47:25).

JESUS se verwerping deur sy volksgenote het daartoe gelei dat Hy ‘n Verlosser, ook vir die ganse heidense wêreld geword het (Matt 28:19). 

  1. HUL GEREGTIGHEID LEI TOT HUL VERHOGING.

 JOSEF se geregtigheid, sy onbesproke lewe, lei tot sy verhoging. Van jongs af het hy met God gewandel en selfs te midde van hewige versoekings, was hy deurentyd ‘n waardige ambassadeur vir die Here, daarom kon Hy hom as tweede in bevel van Egipte aanstel, wetende dat hy Hom nie sou faal nie.

 JESUS: Meer nog was Jesus se geregtigheid volmaak: “U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle;” (Heb 1;9). Sy Vader het Hom bo elke ander wese in Sy koninkryk verhoog: “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,…” (Fil 2;9; Efes 1:20-22.). 

  1. OP DIE OUDERDOM VAN 30 BETREE HULLE, HUL OPENBARE BEDIENINGE.

 JOSEF was 17 jaar oud toe hy as slaaf verkoop was en het 13 jaar as slaaf gedien, dus was hy 30 jaar oud toe hy oor Egipte aangestel was (Gen 41:46).

 JESUS het op die ouderdom van 30 begin om lering te gee (Luk 3:23). 

  1. HUL BEDIENINGE HET GELYK OF DIT OP NIKS SOU UITLOOP NIE.

 JOSEF se drome wat vir hom ‘n blink toekoms voorspel het, naamlik dat hy ‘n heerser sou word, het aanvanklik gelyk of daar niks van sou kom nie. Sy lewe het tewens vir 13 jaar lank al afdraend geloop, eers as slaaf en daarna as gevangene. Vir die buitewêreld was hy so goed as dood. Dan word hy eensklaps tot die hoogste sport verhoog. Hy is uit die gevangenis gehaal en oor die ganse Egipteland aangestel, het die Farao se seëlring aan sy vinger gedra, is met fyn linne beklee, het met die Farao se tweede rytuig deur die land gereis en elkeen moes voor hom padgee. Sy woord was wet (Gen 41:38-46).

 JESUS se bediening het met groot fanfare begin as gevolg van die wondere wat Hy gedoen het. Duisendes het Hom gevolg en wou Hom met geweld koning maak, maar toe Hy hul sondes begin aanspreek, draai hulle teen Hom en eindig Sy bediening waar hy dood aan ‘n kruis hang. Ook Jesus se verhoging was skielik en volkome. Sy verheerliking begin by Sy begrafnis waar Hy, alhoewel Hy soos ‘n krimineel gekruisig is, in ‘n rykman se graf weggelê is, toe deur God uit die dood opgewek is, in verheerlikte gedaante aan Sy volgelinge verskyn en daarna aan die regterhand van die Vader gaan sit het. Die tyd sal ook kom dat elke knie voor Hom sal buig en elke tong sal bely dat Hy die Christus is; die Gesalfde van die Vader (Fil 2:9-11). 

  1. NA HUL VERHEERLIKING WAS HULLE IN DIE GUNSTIGE POSISIE OM GAWES AAN DIE MENSDOM TE KON GEE.

 JOSEF kon vir sy familie gee: kos, klere, waens om hulle te vervoer en ‘n vrugbare land om in te woon. Ook aan die ganse bekende wêreld kon hy kos voorsien (Gen 41:55 e.v.).

 JESUS: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee (Efes 4:8).

  1. HUL BROERS HET DIE WRANGE VRUGTE VAN HUL VERRAAD GEPLUK.

 JOSEF se broers se dag van afrekening het gekom toe hulle verraad aan die lig gekom en hul in skande en vrees voor hom moes kniel (42:21; 45:3).

 JESUS se “broers,” die Joodse volk,  het Hom as hul Messias verwerp omdat Hy nie aan hul verwagtinge voldoen het deur hul van die Romeinse juk te bevry nie. In plaas daarvan om die nuwe Koninkryk van die hemele aan te gryp toe dit aan hulle aangebied is, het hulle eerder volhard in hul verset teen die Romeine wat gelei het tot die vernietiging van Jerusalem wat vir hulle groot leiding meegebring het. Hulle het ook deur die daaropvolgende eeue geweldig gely. Hoe anders kon dit gewees het as hulle in Jesus, met God versoen geraak het. 

  1. BY HUL EERSTE VERSKYNING WAS HULLE MISKEN, MAAR BY HUL TWEEDE VERSKYNING, ERKEN.

 JOSEF: By sy eerste “verskyning” aan sy broers, was hy vir hulle net maar nog ‘n seun van Jakob, ‘n broer in die gesin, en het hulle nie ag geslaan op die profetiese woord wat God deur sy twee drome oor hom uitgespreek het nie (37). Dit was eers by sy tweede “verskyning” aan hulle in Egipte dat hulle hom as koning en verlosser gesien en aanvaar het (45:3).

 JESUS: Die Jode het Hom by Sy eerste verskyning, Sy vleeswording, gesien as bloot die seun van Josef die timmerman, maar by Sy wederkoms sal hulle Hom sien en aanvaar as hul Messias en Koning. En hulle sê: Is Hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe sê Hy dan: Ek het uit die hemel neergedaal? (Joh 6:42). Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. (Sag 12:10). 

  1. OPGESTAAN UIT DIE DOOD.

 JOSEF: Na sy verkoping as slaaf en sy ontvoering na Egipte was hy vir sy familie so goed as dood. Sy vader was oortuig dat hy werklik dood was met die gevolg dat toe hulle hom in Egipte lewend voor hulle sien staan, was dit vir hulle so goed of hy uit die dood opgestaan het (Gen 45:3 e.v.).

 JESUS het na Sy kruisiging inderdaad uit die dood opgestaan en aan talle van Sy dissipels verskyn (Matt 28:1-10). 

  1. ALBEI NEEM HEIDENSE VROUE.

 JOSEF is getroud met ‘n Egiptiese vrou, Asenat, die dogter van Potiféra, die priester van On (46:20).

 JESUS neem vir Hom ‘n bruid uit die heidene wanneer Hy, as Hemelse Bruidegom, nie-Jode soos Saggéüs, en miljoene na hom, as Sy geestelike bruid aanvaar (Luk 19:9). 

  1. VERGEWE DIÉ WAT HULLE KWAAD AANGEDOEN HET.

 JOSEF sê vir sy broers: “Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur (Gen 45:5).

 JESUS, terwyl Hy aan die kruis hang, bid vir Sy vervolgers: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”.(Luk 23:34).

  1. DIESELFDE BESTUURSTYL GEHAD NA HUL VERHOGING.

JOSEF bekom eers die Egiptenare se geld, vee en ander besittings, daarna hul grond en uiteindelik ook hulself vir die Farao. Hulle gee alles dankbaar prys omdat hy hulle lewens gered het (47:23,25).

JESUS: Wanneer Jesus iemand se siel red van die ewige dood, behoort daardie persoon, met alles wat hy het, ook aan Hom en is dit deel van Sy Koninkryk (Gal 2:20). Dit oorhandig Hy uiteindelik aan Sy Vader.

……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → JOSEF, DEEL 3 . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha