Kain, Abel en Eerste Stamboom; Gen 4

Cain and Abel

A. KAIN EN ABEL (Lees asb Gen 4:1-24).

4:1,2

Die eerste mens word verwek en gebore.

Adam het geslagsomgang met Eva gehad en sy het swanger geword en ‘n seun gebaar wat hulle Kain genoem het. Sy het die Here se hand hierin gesien en erken dat sy deur God se hulp ‘n man verkry het. Daarna het sy ‘n broer vir hom, by name Abel, gebaar.

Adam en Eva was gehoorsaam aan God se opdrag om te vermeerder sodat die aarde mettertyd met mense gevul kon word. God het Sy belofte nagekom deur hul handeling te seën en aan hulle twee seuns te skenk.

Eva se swangerskappe, sowel as die geboortes van haar twee kinders, het sekerlik met moeite gepaard gegaan soos wat God gesê het dat dit sou wees, sodat sy op Sy hulp moes staatmaak. Kain se geboorte was ook die eerste menslike geboorte, dus was daar niemand om te raadpleeg nie; gevolglik het sy nie geweet wat om te wagte te wees nie. Daar was natuurlik ook geen mediese dienste of selfs ‘n vroedvrou beskikbaar om haar te help nie.

Die Here benut die sondeval.

Die vrou wat in die Paradys haar eie toekoms wou uitwerk, het nou haar afhanklikheid van God besef. Hy het haar nie gefaal nie, maar haar persoonlik bygestaan. Sy het agterna daarvan getuig. Die moeilike bestaan wat die Here vir Adam en Eva bestem het, was ‘n wyse besluit want dit het tot gevolg gehad dat hulle voortaan in ‘n hegter verhouding met Hom sou lewe. God kan die lewe vir ‘n mens makliker of moeliker maak, om Sy hoër doel in die persoon se lewe te bereik.

 4:3-8

Kain en Abel kies en beoefen hul beroepe.

Kain het ‘n landbouer geword en Abel ‘n skaapboer. Hierin het hulle uitvoering gegee aan God se opdrag om te heers oor dié deel van Sy skepping waaroor Hy hulle aangestel en opdrag gegee het om te bewerk (waarde daaraan toe te voeg.) Hierin het die Here hulle albei geseën.

 Die twee seuns offer aan God.

Albei het besluit om offers aan God te bring. Dit was ‘n bevestiging dat hulle Sy voorsiening in hul behoeftes waardeer het en dus ‘n goeie gebaar.

Kain het van die vrugte van die land aan die Here geoffer en Abel die vet van die eersgeborenes van sy vee. Hulle het albei op die Here gewag om te sien of Hy die offers sou aanneem. Hy het Sy besluit baie duidelik te kenne gegee: Hy het Abel se offer in genade aanvaar, maar Kain s’n verwerp.

 Waarom so?

Gesindheid van die hart.

Eerstens het die Here gekyk na die “status” van die gewers. Wanneer ‘n mens ‘n offerande aan God bring, kyk Hy heel eerste na die gesindheid van die gewer se hart teenoor Hom soos vermeld in Ps 51:7. Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! In Heb 11:4 lees ons dat Abel, deur die geloof, ‘n beter offer as Kain gebring het, en in Matt 23:35 dat hy regverdig was, met ander woorde dat sy saak met God reg was. Hy was nie volmaak nie, maar het vergifnis vir sy sonde ontvang. Sy geloof was eg.

Niks hiervan was waar wat Kain betref nie; hy was ‘n man wat homself as regverdig gesien en hom bo God verhef het. Hy was ‘n god vir homself en het nie die Here as God aanvaar en geeer nie. Hy was dus eintlik ‘n goddelose. Spr 21:27 verklaar dat die offer van die goddelose vir die Here ‘n gruwel is. God, vir wie die mens se hart ‘n ope boek is, het geweet wat elkeen van die twee manne se stand in Hom was – die stand van hul harte. Die een se hart was reg met hom en het ware geloof in Hom gehad en die ander nie.

Aard van die offerande.

Tweedens gaan dit oor die aard van die offers. As jy regtig iemand se hart wil blymaak deur ‘n geskenk aan hom te gee, maak jy seker dat dit iets is waarvan hy sal hou. Jy sal byvoorbeeld een van sy vriende of familielede skakel en hoor wat hy sal waardeer en nie reeds het nie. Sou die persoon wat jy graag wil behaag ‘n gerespekteerde persoon is wat ook baie vir jou gedoen het, sal jy baie tyd en aandag gee om hierdie inligting te bekom sodat die geskenk nie vir hom ‘n verleentheid sal wees nie. Wat dan van God? Wat sal vir Hom vreugde gee; vir Hom tot seën wees?

Toe Adam en Eva gesondig het, moes God die bloed van onskuldige diere vergiet om van die velle skorte te kon maak om hul naaktheid (hul sonde) te bedek sodat hulle weer met vrymoedigheid voor Hom kon verskyn en met Hom gemeenskap kon hê. Hierdie beginsel word in Heb 9:22 bevestig: “… sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.”  Kain en Abel het daardie verhaal seker meermale uit die mond van hul ouers gehoor.

Abel het dit ter harte geneem en in gehoorsaamheid en eerbied die bloed van sy eersgebore vee vergiet om ‘n bloedoffer (die vet) aan God te kon offer om sy skuld te bedek. Daar waar hy voor God gestaan het, was sy hart reg en sy offerande was reg en daarom het die Here duidelik te kenne gegee dat Hy sy offerande aanneem.

Kain, daarenteen, het voor God gestaan met ‘n hart wat  nie reg was voor Hom nie en ‘n offer van vrugte wat nie sy skuld bedek het nie en daarom het God openlik te kenne gegee dat Hy dit verwerp.

“Daar is geloof en geloof.”

Albei het in God geglo (moontlik het die Here in liggaamlike gedaante aan hulle verskyn) maar Abel se geloof het hom daartoe gelei om sy hart in nederigheid aan God oor te gee en Hom in diepe afhanklikheid te vertrou om sy sonde uit genade te vergewe en hom as Sy eiendom aan te neem. Kain se gesindheid, soos ook weerspieël in sy offer, was die teenoorgestelde; eiesinnig, sefversekerd, so al asof hy die Heer se gelyke was wat vir Hom uit gulhartigheid ‘n geskenk gebring het.

(Belangrikheid van ‘n bloedoffer.

Die rede waarom die storting van bloed vir die Here so belangrik was, was dat dit heengewys het na Sy Seun se offerhande van Sy eie bloed om die sonde van die mens te bedek alhoewel hierdie dieper betekenis nog nie deur die mense van daardie tyd begryp was nie. Die beginsel van die storting van bloed vir die vergifnis van sonde, word bevestig in Heb 9:22 waar daar geskryf staan dat sonder die storting van bloed, daar geen vergifnis vir sonde is nie.)

 Kain se reaksie.

Instede daarvan om homself te verootmoedig en die Here te vra waarom Hy sy offer verwerp het, het sy trotse hart hom nog verder laat sondig deur kwaad te word en toe te laat dat die Here dit sien. Hy het sy kop laat hang.

God se reaksie op Kain se woede.

Die Here het dit raakgesien en hom die geleentheid gebied om sy saak te stel; hom gevra waaroor hy kwaad was en sy kop laat hang het. Of hy enigsins hierop geantwoord het weet ons nie maar die Here het hom op ‘n mooi manier beraad en gemaan teen die gevaar van sonde, naamlik dat die sonde begeer het om hom te besit, en as hy daaraan sou toegee, dit hom sou oorweldig. Die Heer het die sonde voorgestel as ‘n roofdier wat sy prooi vanuit ‘n skuiling lê en beloer en wag op ‘n onwaaksame oomblik om hom te bespring, te oorweldig en sy lewe te neem.

 Dit geld ook vir ons.

Dit geld natuurlik ook vir elk van ons as nageslag van Adam, en daarom waarsku God ons om te waak en bid sodat ons nie in versoeking kom nie.

 Sondebelydenis.

Nog ‘n wapen wat ons teen die mag van sonde het, is sonde belydenis. Sodra die Heilige Gees ons waarsku dat ons gesondig het, moet ons dit onmiddellik aan die Here bely. Dit is soos ‘n brandende stomp vuur wat ons na ‘n ondier gooi om hom, wanneer hy nog op ‘n afstand van ons af is, op die vlug te laat slaan.

Sondebelydenis gaan nie net oor vergifnis nie, maar daarmee bevestig ek dat die betrokke daad, woord of gedagte, vir my onaanvaarbaar en afstootlik is en dat ek niks daarmee te doen wil hê nie. Dit is ook ‘n bede tot God om verlossing, waarop Hy onmiddellik reageer deur my by wyse van Sy Heilige Gees te bemagtig om daaroor oorwinning te verkry.

Die Here belowe oorwinnig aan Kain.

God het belowe om hom op te hef as hy goed sou doen en hom aangemoedig om oor die sonde te heers.

Net soos wat die mens outoriteit van God ontvang het om oor die skepping te heers, het hy ook in Christus outoriteit om oor die sonde te heers. As Christen beskik ek oor die mag om oor wellus, rook, drank, verdowingsmiddels, humeurigheid, woede, jaloesie of wat ookal, te heers. Ek kan dit met my voet op die grond vaspen en dit daar hou, maar as ek dit nie doen nie en daarmee speel soos met ‘n troeteldier of daarmee hand om die lyf loop soos met ‘n vriend of vriendin, moet ek weet dat ek spoedig die een sal wees wat met my gesig in die stof lê, terwyl daardie sonde met sý voet op mý nek staan. Die duiwel en sonde is kop in een mus.

Kain vermoor sy jonger broer.

Kain wou nie sy fout erken nie. Sy woede teenoor God het soos ‘n heksebrousel in hom bly kook, maar aan God self, kon hy niks doen nie, daarom het hy die onskuldige Abel geteiken. Hy het net sy kans afgewag en toe hulle twee alleen in die veld was, het hy die saak weer opgehaal. Gedurende hierdie gesprek het Abel dalk getuig van sy liefde vir die Here en hom aangemoedig om sy lewe ook aan Hom oor te gee. Maar Kain het vooraf reeds sy besluit geneem en net daar het hy sy enigste broer doodgeslaan. Hierin het jaloesie ‘n groot rol gespeel.

 ‘n Katastrofe, beide vir die familie en vir die mensdom.

Die wrange vrugte van Adam en Eva se vroeëre sonde in die Paradys eis sy tol. Sonde het binne-in hulle kom woon en outomaties voortgeplant in hul kinders en die gevolg was: ‘n moordenaar en ‘n vermoorde. Die eerste mens wat gebore is, het ontaard in ‘n moordenaar en die tweede een is vermoor – ‘n gesinstragedie.

Die voortplanting van sonde.

Ook is dit ‘n donker prentjie van wat deur die eeue sou gebeur. Van vroeg af al sien ons die vyandskap tussen lig en duisternis, tussen die kinders van God en dié wat die duiwel as vader het. Hierdie oorlog sal voortduur en al feller word namate die voleinding van die wêreld nader.

 Meer omtrent Abel.

So het Abel die eerste martelaar geword; die eerste persoon om te sterf vir sy geloof (Matt 23:35). Dit kan ook met ons gebeur want die Woord sê duidelik dat almal wat godvrugtig wil lewe, vervolg sal word (2 Tim 3:12). Maar hier is nou die sonskyn kant: Abel was ook die heel eerste mens om hemel toe te gaan! Prys die Here, Hy en hulle wat aan Hom behoort, bly aan die wenkant. Wat ons op aarde verloor, wen ons ‘n duisend maal terug in die hiernamaals.

 4:9-16

Meer omtrent Kain.

Abel in die hemel maar Kain voor die hof – op aanklag van moord. Die Here, wat alles sien gebeur het, vra toe vir Kain waar sy broer Abel was. Weer was dit God wat die sondaar opsoek; nie andersom nie. Kain se antwoord was dat hy nie geweet het nie en of hy dan sy broer se oppasser was. Wat ‘n arrogante antwoord en dit aan God self.

(Ons mag dalk dink dat as God persoonlik aan ons sou verskyn en met ons praat, Sy woorde ons harte sal vermurwe, maar as ons nie ag gee op Sy geskrewe Woord of die influistering van die Heilige Gees nie, sal ons ook nie ag gee selfs wanneer iemand uit die dode opstaan of ‘n engel aan ons verskyn of God self met ‘n hoorbare stem met ons praat nie. As ‘n mens eenmaal sy hart verhard, word dit later so hard soos klip.)

Die Here het sy vraag geignoreer en hom gevra wat hy nou aangevang het, want die bloed van sy broer het van die aarde af tot Hom in die hemel geroep.

 Kain geoordeel en gevonnis.

Toe spreek die Here Sy oordeel oor hom uit. Hy sou naamlik vervloek wees en vêr weg swerf vanaf die grond waarin sy broer se bloed verspil is. Hy het die voorreg van ‘n familielewe verag en nou sou hy dit verbeur. Meer nog; ook sou hy uit sy familie verwyder word, sodat hy hulle nie met sy bose gesindheid sou besoedel nie. Hy sou ‘n swerwer en vlugteling op aarde wees. Wanneer hy die grond bewerk, sou dit nie sy opbrengs lewer nie.

Kain het hierop geantwoord dat sy skuld te groot was om te dra. Dat hy hom sou moes verberg vir die aangesig van God. Dat hy as swerwer en vlugteling, sonder ‘n land, in lewensgevaar sou wees en dat elkeen wat hom sou teëkom, hom sou doodslaan.

Hierdie was nie berou nie maar eerder die omvang van die gevolge van sy gruwelike daad wat tot hom deurgedring het. Soms huil ‘n persoon gedurende sy verhoor in ‘n hof, maar is dit nie omdat hy jammer is oor wat hy gedoen het nie, maar omdat hy homself bejammer oor die straf wat hy te wagte is.

 ‘n Genadige Regter.

Weer was die Here hom genadig deur te belowe dat sy onregmatige dood sewevoudig gewreek sou word. Dit beteken “volkomelik.” So ‘n persoon se straf sou veel erger wees as die straf wat Kain ontvang het. Ook sou die Here ‘n teken op hom aanbring sodat persone wat hom sou teëkom, hom nie sou doodmaak nie.

Hoe genadig is die Here nie. Kain word nie onmiddellik ter dood veroordeel nie, maar selfs beskerm om nog baie jare te kan lewe waartydens hy hom dalk nog tot die Here kon bekeer. God het geen behae in die dood van ‘n sondaar nie maar daarin dat hy hom bekeer en lewe (Eseg 18:23).

 ‘n Banneling.

Kain het toe weggegaan van die aangesig van die Here af en Oos van Eden in die land Nod gaan woon. Hy sou voortaan ook die gemeenskap met God verbeur. Die mens wat versuim om sy gemeenskap met God vas te maak deur bekering, wedergeboorte en volharding, sal dit tot in alle ewigheid verbeur.

 4:17-24

‘n Moordenaar; tog kry hy ‘n vrou.

Die volgende wat ons van hom hoor, is dat hy getrou het. Waar het hy ‘n vrou gekry? Wel, die aardbewoners van daardie tyd het baie oud geword; dikwels tot oor die 900 jaar. Adam het gedurende sy leeftyd van 930 jaar, nog baie ander kinders ook verwek.  Van hulle was sekerlik dogters waarvan die eerste kort na Abel gebore kon gewees het. Uit hierdie dogters sou Kain ‘n vrou kon neem al moes hy dalk ‘n rukkie wag. Dit sou vir hom nie vreemd gewees het om byvoorbeeld op 100 jarige ouderdom eers te getrou het nie, want Adam se derde seun, Set, het op 105 jarige ouderdom eers sy eerste seun verwek.

Die goddelose is dikwels geseënd met baie talente.

Kain het ‘n seun met die naam van Henog verwek (en waarskynlik ook nog ander kinders). Hy het ook ‘n stad gebou.

Sekere manne uit sy nageslag was veeboere en andere het hulle onderskei as koper- en ystersmede en ook as musikante en ontwerpers van musiekinstrumente soos siters en fluite. Kain se nageslag was ongetwyfeld mense met baie natuurlike talente en inisiatief en het ‘n groot bydrae gelewer tot die ontwikkeling van die mensdom (boerdery, industrieë, kultuur).

“Die appeltjie val nie vêr van die boom nie.”

Sy linie van afstammelinge was egter ook mense wat meer geneig was tot die kwaad, soos Lameg, wat ‘n geweldenaar was en gewaarsku het dat hy sewe-en-sewentig maal gewreek sou word en selfs ‘n seun wat hom kwes, sou doodslaan. Dit is opvallend dat, anders as in die geval van die meer godvresende linie, die Set linie, baie min besonderhede aangaande hierdie stamboom verstrek word en hul geboorte en sterfdatums glad nie aangeteken is nie.

B. DIE STAMBOOM VAN ADAM DEUR SET (Lees asb Gen 4:25- 5:32).

4:25,5:3

Set, Adam se derde seun.

Toe Adam 130 jaar oud was, het hy ‘n seun verwek en hom Set genoem.

 Aanbidding.

Toe het die mense begin om die “Naam van God aan te roep” wat moontlik beteken dat hulle Hom by Naam begin aanbid het. Dit kan die verdere betekenis hê dat hulle Hom kollektief, gesamentlik, in goepe begin aanbid het.

Wat was hierdie Naam waarby hulle Hom aangeroep het? Was dit ‘n naam wat Hy self gekies het  of een wat hulle aan Hom toegedig het? Indien laasgenoemde; welke van Sy menige wesensvoortreflikhede het hulle so beindruk dat hulle dít uitgekies om Hom so te noem; Almagtige, Skepper, Vader, Ewige God? Eeue later, toe iemand gevra het hoe hy Hom moes noem wanneer Hy van Hom sou praat, het Hy geantwoord dat hy moes sê dat “EK IS” hom na hulle gestuur het (Ex 3:14). Dit impliseer dat geen menslike woord Hom volkomelik kon beskryf nie. Om te verstaan wie Hy is, moet ons die ganse Bybel bestudeer.

Die Set linie van geslagte.

Die stamboom deur Set, is die linie van meer godvresende persone. Dit moes so belangrik vir God gewees het, dat Hy die name van al die opvolgende eersgebore mans, sowel as hul geboorte en sterfdatums in Sy Woord laat opteken het.

 ‘n Gevorderde samelewing.

Die mense moes reeds vêr ontwikkeld gewees het dat hulle die wisseling van jare noukeurig kon waarneem en kon boekhou van al die afstammelinge. Hierdie geslagsregister bevat ‘n fassinerende hoeveelhed inligting en word, tesame met ander soorgelyke registers, gretig en noukeurig deur Bybelstudente bestudeer.

Sommige interessante feite uit die geslagsregister.

Daar was tien geslagte vanaf Adam tot by Noag. Die mense het oorwegend baie oud geword, gemiddeld 858 jaar. Metúsalag, Noag se oupa het die langste geleef naamlik 969 jaar. Sy naam beteken: “Na hom die vloed.”

Enkele moontlike redes vir hul hoë ouderdomme is, eerstens, dat hul liggame nog nie so aangetas was deur siektes nie, sodat hul relatief gesonde genes aan elke volgende geslag oorgedra het. Tweedens was die klimaat baie matiger en derdens het Gód dit so beskik sodat die mensdom vinniger kon vermeerder en Sy doelwit kon bereik om die aarde te vul.

Nege geslagte by die familiereunie.

‘n Grafiek van die name in die gegewe geslagsregister, gekoppel aan hul geboorte- en sterftedatums, toon dat die familiehoofde wat op Adam gevolg het naamlik Set, Enos, Kenan, Mahalael, Jered, Henog, Metúsalag en Noag se vader, Lameg, almal gebore was voordat Adam gesterf het en dus die verhaal van sy en Eva se sorgvrye bestaan in Eden en hul rampspoedige sondeval, uit sy eie mond sou kon verneem het. Die skeppingsverhaal en daaropvolgende gebeure sou dus “in die mond van baie getuies” vasstaan en suiwer oorgelewer word.

Henog, ‘n besondere man van God.

Henog, die sewende in die linie van meer godvresendes, het ‘n uitsonderlike hegte verhouding met God gehad wat beskryf word as dat hy “met God gewandel het.” In menslike woorde kan ons sê dat waar God ookal gewandel het, was Henog aan Sy sy en het hy Sy gedagtes gedeel.

Hy was ook ‘n profeet wat die wederkoms van die Here Jesus geprofeteer het. Na hierdie profesie word in Judas 1:14,15 verwys en dus as gesaghebbend erken. Dit, en sy ander woorde, is in een van die Apokriewe boeke opgeteken.

Op 365 jarige ouderdom het God hom lewend uit hierdie wêreld weggeneem om vir ewig met Hom te wees. In hom het God te midde van al die geestelike verval, ‘n man gevind met wie Hy Sy hart en lewe kon deel. Wat ‘n geweldige uitdaging is hy nie vir ons nie.

Metúsalag.

“Metúsalag” beteken: “Na hom die vloed.” Sy vader, Henog, moes dus ‘n Goddelike openbaring van die komende vloed ontvang en sy seun so benoem het as ‘n waarskuwing aan die vervallende mensdom. Die Here se genade is oneindig groot en het die mens nog Metúsalag se 969 lewensjare sowel as sy seun Lameg se 777 gegee om hul te bekeer voordat die sondvloed gekom het. Hierdie man se naam verskyn seker nie in die Guinness Book of rekords nie, maar hy het beslis die oudste van alle aardbewoners geword: 969 lange jare.

Noag.

Noag se naam beteken: “Rus.” Sy vader, Lameg, was al 180 jaar oud voordat Noag vir hom gebore is. Het Lameg tevore al sy huishouding se werk self verrig dat hy die lewe so ondraaglik gevind het? Het hy die verwagting gekoester dat Noag hom darem in sy dagtaak sou kon bystaan? (Gen 5:28,29) Let ook op dat Lameg goed op hoogte was van die sondeval en God se vervloeking van die aarde.

Ons bloedverwante.

Laat ons ook daarop ag gee dat ons almal van Adam en Eva afstam. Nêrens in die Bybel word daar van ander mense gepraat wat God geskape het nie. Hierdie feit word in die boek Handelinge bevestig. Hand 17:26 lui: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het.” Omdat ons almal aan Adam en Eva verwant is, het ons almal dieselfde bloedlyn; is ons almal bloedverwante. Die sondige karakter van Adam is aan elkeen in sy bloedlyn oorgedra: Rom 5:12: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het … ”

C. AANVULLEND.

‘n Skaakspel wat eeuelank sal duur; maar God sal wen.

Toe die Here die mens na Sy beeld geskape het, was sy bedoeling dat Hy met hom en sy nageslag in hegte gemeenskap sou leef. Hierdie verwagting het deur Eva se drang tot onafhanklikheid en die egpaar se ongehoorsaamheid, skipbreuk gelei. God se planne en voornemens is egter weldeurdag en wat Hy begin het, voer Hy suksesvol deur, al beleef Hy ook die een terugslag na die ander. Hy het geloof in Sy eie vermoë om Sy doelwitte te bereik.

Die duiwel loods allerhande korttermyn aanslae op God se handewerk en behaal dikwels oorwinnings, maar om ‘n veldslag te wen, beteken lank nog nie dat die oorlog beklink is nie. Soos ‘n meester skaakspeler beplan die Here Sy langtermyn strategie met groter wysheid as dié waaroor sy opponent beskik en uitoorlê Hy hom keer op keer.

Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het die duiwel gedink die oorlog is verby, maar op die derde dag het Hy uit die graf verrys en ‘n oorwinning behaal wat die finale uitslag sou verseker.

Kom, laat ons ook vasbyt.

Ons moet dit raaksien sodat ons geloof in die Here stukrag kan kry en ons Hom voluit kan vertrou wanneer dit op die oog af wil voorkom of ons op die punt staan om alles te verloor. Soos ‘n handomkeer verander die Here ons verliese in winste want Hy is ‘n wonderwerkende God. Ons moet dus die Here se voorbeeld volg om nie ‘n projek of taak waarmee ons in Sy opdrag begin het, prys te gee wanneer dit skeefloop nie; nee ons moet betrokke bly soos wat God betrokke gebly het.

Die Here se volharding.

Let byvoorbeeld op die volgende:

  • Hy het Eva bygestaan met die geboorte van haar drie seuns (en sekerlik ook met die geboortes van al haar ander kinders).
  • Hy was intens betrokke by die Abel en Kain trauma.
  • Hy het Kain se grootliks goddelose nageslag met talente toegerus wat hul in staat gestel het om vooruitstrewende boere te word, industrieë te vestig en kultuurskatte daar te stel omdat dit tot die mensdom se algemene vooruitgang sou bydra en dus Sy doelwit van hul beheersing van die aarde sou bevorder.
  • Alhoewel die duiwel sekerlik elke mens onmiddellik sou wou uitwis, het God die mens se lewensduur gerek sodat hul gouer die aarde sou kon vul.
  • Hy het met Henog gewandel al was sy lewe as gevalle mens sekerlik ook nie volmaak nie en hom lewend in die hemel opgeneem om Sy liefde aan die mensdom te betuig en elkeen aan te spoor om Hom van harte te vertrou en te dien.

 Sien jou by die wenpaal.

Laat ons, as Sy beelddraers en kinders, hierdeur moed skep, en ook ons kort wedlopie met volharding hardloop in die sekere wete dat ons die oorwinning sal behaal.

Want julle moet ag gee op Hom wat so n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.

Heb 12:3,4

———-

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → KAIN, ABEL EN EERTSTE STAMBOOM . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die venster onderaan hierdie bladsy daarvoor.

———-

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Please enter the letters below: * Time limit is exhausted. Please reload CAPTCHA.