A. DIAMANTE UIT DIE OU TESTAMENT
Die Ou Testament bly altyd nuut omdat dit oor mense gaan en mense het deur die eeue ook nie verander nie. Hulle kleredrag en lewensomstandighede is nuut maar hulle dink en doen nog maar soos destydse mense gedink en gedoen het. Hul lewensverhale is in die Bybel opgeteken as voorbeelde van wat die mens reg, en wat hy verkeerd gedoen het; hoe die Heer daarop gereageer het, en die gevolge wat dit vir hulle gehad het. Daaruit kan ons baie leer. Skep ons moed deur hul goeie voorbeelde en volg ons dit na, word ons wenners; skrik ons vir die aaklige gevolge van hul verkeerde dade en bekeer ons, ons tot die regte weg, wen ons ook. Die bestudering van hul verhale bied dus aan ons ‘n kortpad tot sukses omdat dit die Here se wenpad aan ons openbaar.
Die langer verhale gaan oor figure soos Noag, Abraham, Dawid en so meer, maar daar is ook kortverhale oor die kleinere godsmanne en vroue. Een van hulle wat ‘n besondere navolgenswaardige voorbeeld gestel het, was Kaleb die seun van Jefúnne, ‘n leier van die stam van Juda.
B. KALEB SE VERHAAL
Hy verskyn skielik op die toneel in Num 13:6 waar hy en elf ander volksleiers deur Moses gekies en uitgestuur was om die land Kanaän te bespied. Húl verslag sou hom in staat stel om die inval en in besit neming van dié vrugbare gebied wat die Here lank tevore aan Abraham en sy nageslag beloof het, te beplan. Nie net die inligting oor die vrugbaarheid van die land nie, maar ook die verspieders se indrukke oor die moontlikheid van ‘n suksesvolle militêre inval, was dus van kardinale belang.
Na 40 dae se verkenning, het hulle veilig teruggekeer met ‘n reuse tros druiwe, ook granate en vye, en as volg gerapporteer:
Tien van die verspieders se verslag:
Num 13:27 …. Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte. 28 Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien. 29 Die Amalekiete woon in die Suidland, maar die Hetiete en Jebusiete en Amoriete woon in die gebergte, en die Kanaäniete woon by die see en aan die kant van die Jordaan.
13:31 Maar … Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons. 33 … ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle oë.
13:32 So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van Israel versprei oor die land wat hulle verken het.
Kaleb se verslag
13:30 Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig.
Die volk van Israel se reaksie
Num 14:1 Toe het die hele vergadering uitgeroep—hulle het hul stem verhef, en die volk het dié nag geween. 2 En al die kinders van Israel het gemurmureer teen Moses en teen Aäron, en die hele vergadering het aan hulle gesê: Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het! Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het! 3 En waarom bring die HERE ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal ‘n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie? 4 En hulle sê vir mekaar: Laat ons ‘n hoof aanstel en na Egipte teruggaan.
Kaleb en Joshua se repliek
Num 14:6 En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n buitengewoon goeie land. 8 As die HERE ‘n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. 9 Wees net nie teen die HERE opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!
Die volk se besluit
Num 14:10 Toe sê die hele vergadering dat hulle gestenig moet word. …
Die Here se reaksie
Num 14:10 … Maar die heerlikheid van die HERE het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel. 11 Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? 12 Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; …
Om die êrns van die volk se negatiewe reaksie te begryp, moet ons kennis neem van die pad wat die Here toe al met hulle geloop het. Hulle was ‘n uitverkore groep mense. Toe die ganse mensdom aanhoudend in sonde verval het, het die Heer besluit om ‘n volk vir homself op te bou en eenkant te hou in ‘n grondgebied wat Hy vooraf besluit het hulle s’n sou wees. So het Hy toe vir Abraham geroep en sy nageslag tot meer as drie miljoen siele vermeerer en hulle tot op die grens van hul beloofde land gebring.
Dit is van hulle wat ons so pas gelees het dat hulle hierdie getroue God nie vertrou het om aan hulle die oorwinning te gee nie maar eerder wou terugdraai na Egipte waar hulle vroeër as slawe van die Farao’s geswoeg het. Wat ‘n terleurstelling vir die almagtige God van liefde wat oor die loop van honderde jare soveel in hierdie volk belê het.
Kaleb en Joshua was die enigste twee weerbare manne wat die Here enduit vertrou het; tot so ‘n mate dat hulle die reuse leër van Israel se manskappe openlik teëgestaan en die risiko geloop het om ook gestenig te geword het. Wat ‘n vreugde moes hulle twee nie vir die Heer gewees het nie, soos blyk uit sy woorde aan Kaleb:
Num 14:24 Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg—hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem.
Maar om die land aan ongelowiges te gee, al het hulle die naam van Israel gedra, dit sou die Here nie doen nie. Daarom het Hy dan toe ook al die ander manne van 20 jaar oud en daarbo, binne 40 jaar laat uitsterf en daarna die jonger opkomende geslag van krygers, triomferend die land ingelei. Maar genoeg van die ongelowige verloorders; laat ons kyk na die man wat op daardie droewige dag, saam met sy vriend Joshua, bo die huilende, verwytende, menigtes soos ‘n helder skynende lamp uitgestaan het; Kaleb, die man van God.
C. KALEB SE GEHEIM
Hoe het Kaleb dit reggekry om so ‘n besondere man van God te word terwyl die menigte ander sterk, dapper krygers daarin gefaal het? Om op hierdie vraag ‘n antwoord te kry, is vir ons baie belangrik want daardeur kan ons sy wenresep bekom.
Die Skrif self gee ‘n sleutel tot ontsluiting van hierdie raaisel en wel in die volgende twee verse:
Num 14:11 Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? en
Num 14:24 … omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg.
In vers 11 vind ons die geldige rede waarom die die Heer sy volk hul ongeloof verwyt. Hy sê: “Julle was tog getuies van wat ek teen die Egiptenare vir julle gedoen het; julle het al die wondertekens wat ek voor jul oë verrig het, gesien en ontsaglike voordeel daaruit getrek. Ek het dit nie net gedoen om julle te bevry nie, maar ook om julle geloof in My te bou sodat julle My sou kon vertrou vir die oorloë wat vir julle voorgelê het om Kanaän in te neem.
Die gerug van daardie magtige dade wat Ek verrig het, het ook soos ‘n skokgolf voor julle uitgegaan sodat jul vyande reeds vir julle gebewe het soos wat Kaleb getuig het. Maar júlle geloof het nie daardeur gegroei nie; waarom nie? Waarom vertrou julle My dan nie nou om jul vyande in jul hand te gee nie? Julle bewe en wil eerder teruggaan Egipte toe om deur Farao versorg te word. Julle het meer vertroue in hom as in My; julle verag My!”
Maar genoeg daarvan; kom ons kyk na Kaleb. Van Hom sê die Here eerstens dat daar in hom ‘n ander gees was. ‘n Ander gees? Het hy dan by geboorte reeds ‘n anderssoortige gees as ander mense van God ontvang? Stellig nie; hy was ook maar soos sy volksgenote in sonde ontvang en gebore. Boonop het hy as kind grootgeword as slaaf van ‘n magtige volk wat allerhande afgode gedien het, maar êrens het sy oë oopgegaan; het hy begin besef dat daar ‘n Hemelkoning was wat oor die Farao’s regeer het. Vir Hom het hy sy lewe oopgemaak sodat Hy deur sy Gees in hom kom woon en sy gees lewend en nuut gemaak is, so nuut dat God van hom kon sê dat hy ‘n ander gees gehad het; ‘n anderse gees. Want in 2 Kor 5:17 sê die Skrif dat wanneer Hy in jou kom woon, jy ‘n nuwe skepsel is – ‘n anderse skepsel, ‘n skepsel wat opnuut, weer ‘n keer, gebore is (Joh 3:3).
Toe die Here vir Adam geskape het, was hy ‘n dooie stuk klei; toe blaas die Here sy asem in hom in en skielik verander die klei in ‘n lewende mens van vlees en bloed. So ook blaas die Heilige Gees lewe in, in die mens se gees wat geestelik dood is deur die sonde (Efes 2:5,6) en skielik word hy lewendig en word ‘n kind vir God gebore; ‘n geestelike kind wat geestelik bewus is van God, wat geestelik kan hoor en kan sien en kan spreek en kan doen.
Presies wanneer hierdie wonderwerk in Kaleb se lewe gebeur het, weet ons nie, maar dat dit wel gebeur het, is verseker hy het ‘n geestelike uitkyk op die lewe gehad. Die grootheid van die werke van God was in sy hart in, ingeskrywe en het sy denke gerig en sy optrede bepaal. Hy het dag vir dag op God ag gegee. Sy gees was ingestel, gefokus, op wat die Here voortdurend besig was om te doen en nie op die doen en lates van die mensdom om hom heen nie. Soos die Skrif dit stel: “hy het volhard om die Here te volg”. Daarom het sy agting vir God gedurig toegeneem totdat hy kans gesien het vir die reuse Enakiete en Refaïte en die ontsaglik hoë mure waarmee hul stede beveilig was. God het in sy estimasie, in sy oë, al groter en groter en groter geword.
Kom ons kyk net na sommige van die dinge waardeur die Here sy grootheid aan sy volk openbaar het.
- Moses se verhaal en bewyse:
Toe hy uit die bloute uit teruggekeer het uit Midian waarheen hy vir die Farao weggevlug het, het hy vir die slawe die aangrypende verhaal vertel van hoe die Here aan hom as vuur in ‘n doringbos verskyn het; die bos het aanhou bly brand maar is nie verteer nie. Toe roep God met ‘n mense stem na hom vanuit die vuur en gee aan hom opdrag om sy volk te gaan verlos en gee ook aan hom twee wondertekens.
Om die mense te laat glo dat God met hom gepraat en hom gestuur het, het hy sy skaapwagterstaf op die grond gegooi. Onmiddelik het dit voor hulle oë in ‘n slang verander. Toe grýp hy die sissende dier aan die stert, en siedaar, skielik word dit weer ‘n staf; ‘n dooie ding is verander in ‘n lewendige dier en andersom. Boonop het hy sy gesonde hand in sy mantel ingesteek; toe hy dit uittrek was dit spierwit met melaatsheid besmet. Weer het hy dit in sy boesem ingesteek en toe hy dit uithaal, … was dit weer honderd persent gesond. Die mense was verstom en het geglo en in aanbidding voor die Here neergebuig.
- God se bevryding van Israel uit die mag van Egiptiese volk.
So het Moses in geloof en gehoorsaamheid aan God na die Farao gegaan en geeis, “Laat God se volk gaan!”, maar hy was hardkoppig en het geweier. Hy het Moses en God geminag – tien maal! Elke keer het die Here dan ‘n plaag gestuur om die Egiptenare te teister, om hul trots te breek en hulle op hul knieë te bring.
Sy eertse plaag was om al die waters van Egipte in bloed te verander sodat mens en dier tien dae lank geen drinkwater gehad het nie. Tot die visse het in menigtes gesterf. Daarna het Hy miljoene paddas uit die waters laat opkom sodat hulle tot in die paleis opgeklim en in die koning se slaapkamer op sy bed rondgespring het; ook in sy volk se bakoonde en bakskottels het dit van paddas gewemel. Toe weer het die Here die stof van die aarde in muskiete verander; soos stofstorms het hulle op die mense toegesak en onbeskryflike irritasie veroorsaak. Skaars was die muskiete weg of digte swerms steekvlieë het oor die Egiptenare gekom sodat selfs die grond waarop hulle geloop, daarvan krioel het – maar God het nie toegelaat dat sy volk daardeur geteister is nie.
Nogtans het die Farao sy hart verhard en geweier om Sy volk te laat gaan. Die gevolg was dat die Here verdere plae moes stuur om hul tot oorgawe te dwing: eers pes wat die beeste, skape en bokke in menigtes laat sterf het, toe skrikwekkende, swaar, landswye haelbuie. Die plante en oeste wat na die hael nog oorgebly het, is deur springkane verteer. ‘n Oostewind het hulle uit die woestyn in digte swart swerms soos reuse wolke oor die land versprei. So-iets het nooit, ooit tevore gebeur gehad nie. Wat nie deur die hael platgeslaan was nie, het hulle kaal afgevreet. Sodra die Here hulle egter weggeneem het, het die Farao sy hart weer verhard en Israel in gevangenskap bly hou.
Toe laat die Here onverklaarbare, ongeneeslike bose swere op die mense sowel as op hul diere uitbreek. Dit is gevolg deur drie dae van stikke duisternis, slegs oor die Egiptenare. Dit wil voorkom of selfs hul lampe en kerse nie wou brand nie want, “Die een het die ander nie gesien nie, en niemand het van sy plek opgestaan nie”. Dit moes ‘n skrikwekkend belewenis gewees het toe elkeen kontak met sy omgewing verloor, nie by water, kos of ablusiegeriewe kon uitkom nie en selfs nie hul kinders kos kon gee nie. Maar ook dit was nie genoeg nie. Einde ten laaste het die Here al die eersgeborenes van mense en diere laat sterf.
Nou was Egipte verpletter en het die Farao die ongeveer drie-en-‘n-halfmiljoen mense met hul vee en al toegelaat om uit Egipte weg te trek. Hulle was egter nog nie eers deur die Rooi See nie, of hy het hulle met sy oorblywende strydwaens agternagesit en ingehaal. Weer het God ingetree, die waters gekloof sodat sy volk droogvoet kon deurgaan en die Egiptenare deur dieselfde waters verdrink, toe hulle Israel agternagesit het.
NOU, WAT KALEB BETREF:
Wat baie belangrik is om op te let is dat die Here se mense nie nodig gehad het om ‘n boog te span of ‘n swaard te trek om hulleself uit die hand van Farao te verlos nie; die Here het alles self gedoen en natuurwonders as wapens gebruik om dit te bewerkstellig. Dít is wat tot Kaleb sou gespreek het. Die volk moes net maar die Here vertrou (hulle oë op Hom hou) en volg waar Hy hulle gelei het.
Veilig oorkant die Rooi See, het die volk uitbundig feesgevier en gedans omdat hulle nou vir ewig buite bereik van die gevreesde Egiptenare was. Kaleb het seker hieraan meegedoen maar, omdat hy anders ingesteld was, anders van gees was, sou hy ook in aanbidding neergeval het voor God. Hy sou meer beïndruk en in vervoering gewees het oor die God van die wonders as oor die wonders van God. Vir die volk sou die verstommend gebeure gaandeweg vervaag – hulle sou dit onthou maar, – dit sou hulle nie meer aangegryp en hulle nie meer in hul daaglikse lewe inspireer nie.
Wat Kaleb betref was die wonderwerke een met God; dit was die werke van sy hande, die bewyse van sy bestaan, van sy grootheid van sy getrouheid, van sy liefde vir sy kinders. Wanneer die volk later daaroor sou praat, sou hulle dit as losstaande gebeure bespreek, maar Kaleb sou die verhale vertel om God groot te maak. In die dae en maande daarna sou hy waarskynlik dikwels stilgesit en die gebeure van die begin af in diepte oordink en die Here daarvoor geloof en geprys. Daarom was die gebeure in sy hart ingegraveer en het die herinneringe vars gebly.
Dit is wat die verskil gemaak het toe hulle later deur God opdrag ontvang het om Kanaän binne te val. Soos wat die volk se herinneringe aan die wonders in Egipte vervaag het, het die God wat hulle gedoen het, vir hulle al kleiner geword en het hul geloof opgedroog. Daarom het hulle aan God getwyfel.
Vir Kaleb egter, toe hy voor die magtige Kanaäniete te staan kom, sou hy geargumenteer het: “As die Here ons deur paddas, muskiete en springkane uit die hand van die Egiptenare kon verlos sonder dat een van ons gesterf het, hoeveel te meer kan Hy nie vir ons die land Kanaän gee deur ons tien-duisende gewapende manne, sonder dat ons sterf of selfs gewond word nie – DIT IS GELOOF! Dit is hoe ‘n man van God sou praat en dit is hoe hy gepraat het. Ons haal weer sy woorde en wat hy en Joshua saam geseê het, aan:
Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig.
… wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!
Dit dan was Kaleb se geheim, sy wenresep en dit het God ter wille van ons opgeteken. Ons kom gereeld voor nuwe geestelike uitdagings te staan; ernstige siekte, dood van ‘n geliefde, aflegging by die werk, die openbaarmaking van korrupsie, huwelikspanning, ‘n kind wat wegdwaal.
Maar ons uitdagings hoof nie net vyande te wees nie, dit kan ook heerlike geleenthede wees wat die Here ons bied, ‘n nuwe stuk Kanaän: ‘n beter betrekking, die vestiging van ‘n nuwe besigheid, bedanking uit ‘n loopbaan van voorspoed om voltyds in diens van die Here uit te gaan (soos wat ek op 32 jarige leeftyd gedoen het.)
Of ons die geloof sal hê om so ‘n uitdaging te aanvaar en die oorwinning te behaal, sal grootliks afhang van hoe ons deur die jare met God saamgewerk het om ons geloof te bou. Ja, ons het waarskynlik nie sulke wonders soos Kaleb beleef nie, maar in ‘n weergebore kind van God se lewe is daar gedurig klein en groot wonders waarin ons sy hand kan sien, wat ons kan oordink en oor kan getuig sodat dit vir ons vars kan bly en ons geloof vir groter uitdagings kan opbou.
Hierdie was dan ook nie die laaste uitdaging vir Kaleb nie, maar eers moes hy saam met sy volksgenote vir veertig jaar lank in die woestyn rondswerf; wat ‘n anderssoortige uitdaging. Daarna kon hy, onder Joshua se aanvoering, die land Kanaän inval en groot dele daarvan verower. Maar toe die volk na ‘n vyf jaar lange oorlog elk hul aandeel ontvang en die swaard vir die rustige plaaslewe verruil, het hy gevra dat nog ‘n deel aan hom toegewys word, naamlik die bergstreke, die vesting van die reuse Enakiete. Toe was hy ongeveer 85 jaar oud. DIT IS WAT GELOOF VIR “N MENS KAN DOEN.
Jos 14:13 Toe het Josua hom geseën en aan Kaleb, die seun van Jefúnne, Hebron as erfdeel gegee. 14 Daarom het Hebron die erfdeel geword van Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, tot vandag toe, omdat hy volgehou het om die HERE, die God van Israel, te volg. 15 En die naam van Hebron was tevore stad van Arba; hy was die grootste man onder die Enakiete. En die land het gerus van oorlog.
D. MY GEBED
“Here, gee aan my genade om in Kaleb se voetspore te kan volg sodat ek, net soos hy, eer aan U kan toebring”.
AMEN.
……….