Keuses SSG

SKRYF U EIE AANTEKENINGE OOR “KEUSES”.

GEBRUIK DIE ONDERSTAANDE SKRIFGEDEELTES EN GEDAGTES EN VOEG U EIE BY.

BIED DIT DAN AAN ANDERE AAN AS ‘N BYBELSTUDIE

.

A. DIE VOOR- EN NADELE VAN KEUSES

Van alles wat God geskape het, geniet die mens die grootste vryheid van keuse. Die lewelose berge en dale is pragtig net soos hulle is en het geen keuse om hulself te verander nie – Tafelberg kan homself nie hoër maak nie en Kilimanjaro kan homself nie afplat nie.

Die lug om ons heen en die waters van die see is gedurig in beweging maar dit deur magte en ordening buite hul beheer.

Die plant moet groei daar waar die saadjie val, al is dit nou ook in die krakie in die teerpad of, as hy meer bevoorreg is, langs ‘n waterstroom waar sy fyn haarwortels gretig wegsink in die klam aarde en die vog en voedsel opstoot na die takke en blare vêr daarbo. Maar in sy struktuur van stam en takke en die vorm en kleur van sy blare en die vrug wat hy dra, het hy geen sê nie. Dit laat hy oor aan die ingeboude lewenskodes wat sy gang bepaal en hom ‘n unieke plantjie op aarde maak: deel van ‘n omskrewe groep, kom ons sê maar astertjies, maar tog ‘n klein bietjie anders as elke ander astertjie op aarde.

Dan is daar die diereryk wat wemel van insekte, vier-voetige diere, visse en voëls wat, in verglyking met die plantelewe, ryk bedeeld is aan keuses. Hulle kan oral rond swem, kruip, seil, loop, hardloop of vlieg en selfs besluite neem, maar in hul bekleding is hulle ook onderworpe aan hul Godgegewe kodes. Die dofgrys wyfie kalkoen kan haarself nie beklee met die kleurryke veredos van die poumannetjie nie, hoe sy dit ookal begeer. Meneer en mevrou ystervark kan ook maar net kwylmond staar na die Merino se sagte wit wol, hul penne skud tot dit ratel en afsit na die boer met die roer se pampoenland. Net so kan die skilpad nie arendsvlerke uit sy dop laat uitspruit en daarmee, al roeiende met sy vier pote, in die blou lug opstyg nie.

Maar dan kom ons by die mens: geskape na die asemrowende Beeld van sy Skepper. Hy kan dieper as die mol inboor in die aarde in om die water, gas, olie, yster, goud, silwer, diamante en ander skatte vir homself te ontgin; hy kan met reuse vaartuie op die oppervlak van die oseane met met sy ruim vol waardevolle vrag na vêrre kontinente reis of met anderssoortige watertuie afdaal na die donkerste dieptes van die see. Op land snel hy op ronde wiele na sy menigte bestemmings of vlieg daarheen, vinniger as wat die vinnigste windswawel kan dink om te doen. Vanoggend nog slurp hy Boeretroos op Jan Smuts en vanaand eet hy Poffertjes in Rotterdam. Binnekort sal hy ‘n vakansiehuisie op die maan of ‘n wooneenheid in ‘n kaboets op Mars kan aanskaf.

Sy hare kan hy glad afskeer en sy kopvel salf met uitsoek olie sodat dit blink in die maanskyn of die uitspruitsels uit die kopvel net 1 cm hoog soos laat uitspruit. Andere weer laat dit tot ‘n halwe meter of meer lank uitgroei en sag-blink neergolf oor rug en skouers. En moenie praat van die kleure nie; dit kan enige kleur van die rëenboog of sommer in verskeie strepe tegelyk getint word, die een week rooi en swart en die volgende week groen en goud.

Nou het ek nog nie eers gepraat oor die mens se keuses van klere, of geen klere, motors, wonings van plakkershuis tot paleis, habitat van plaas tot stad, dimensie, van plat op die aarde tot 50 verdiepings daarbo, van lande en kontinente nie.

Kom dit by die keuse van ‘n huweliksmaat, is daar ook ‘n asemrowende ruimte van keuse: van klein en fyn tot reusagtig groot, bleekwit tot gietswart. Seksueel: tradisioneel manlik of vroulik of modern wat meer en meer intermidiêre skakerings insluit sodat, as jy nie meer op jou eie visuele beoordeling van ‘n ander persoon se seksualiteit kan staatmaak nie, maar eerder die persoon self daaroor moet raadpleeg. Daardie antwoord moet jy dan by die huweliksvoorwaardekontrak insluit en laat onderteken. Verander jou gekose huweliksmaat dalk mettertyd oordag uit eie keuse in iemand van ‘n ander seksuele skakering wat jy nie voorsien het nie, het jy darem die kontrak om op terug te val.

Ek meen jy kom tuis en daar sit sy, pardon, hý, met snor en bokbaard voor die TV na ‘n boksgeveg en kyk en beduie met die duim oor die skouer vir jou na die kombuis en waskamer waar gisteraand se skottelgoed en die week se vuil wasgoed op aandag wag. Op pad soontoe kom hang al drie kinders huilend om kos aan jou broekspype en beduie dat hul ook dringende hulp met hul huiswerk nodig het. 

U sal met my saamstem dat hierdie ontsaglike vryheid van keuse (en ek het maar net ‘n vingerhoed vol van alle menslike keuses aan u voorgehou) ‘n verskriklike las en verantwoordelikheid op die mens plaas. Ons word van oggend tot aand met keuses gekonfronteer. Die Here het self hierdie spektrum van keuses voorsien en dit reeds in die skepping uitgebeeld deur die aarde in die son se lig te laat roteer sodat die mate van lig wat dit sal ontvang, sal wissel van helder sonskyn tot skemervaal tot piknagdonker. Die lig sou die mens die geleentheid bied tot beweeglikheid en produktiwiteit, terwyl die duister hom van sy sig sou beroof en onproduktief in diepe slaap op sy bed sou vaspen. Dit moes vir hom dien as ‘n beeld van die geestelike wêreld waarin hy homself bevind en dat hy daaruit moes leer dat hy eintlik net in die lig homself ten volle sou kon uitlewe.

Sommige keuses, weet ons, is altyd verkeerd en bring onheil oor my en my huis. Maar selfs in ons keuses binne die oneindig wye spektrum van die goeie, skuil daar gevare. Om ‘n opbouende program op die TV te kyk, kan in die weg staan van die beter keuse, te wete om die gras te gaan sny of die bondel wasgoed te gaan stryk. Kies ek verkeerd, kan dit my tot nadeel strek deurdat my tuin in ‘n wildernis verander of dat ek en my gesin soos boemelaars vuil, verkreukeld en verslons rondslenter en selfs deur ons vriende en familie vermy word. Om sommige van die heilsame middele oormatig te gebruik, lei weer daartoe dat ek my bultende spiere of fietse middeltjie verberg onder lae van onaanskoulike, ondienlike weefsel.

Die allergrootste keuse wat aan die mens oorgelaat is, is natuurlik sy keuse om sy eie geestelike koninkryk en koning te kan kies; ‘n keuse wat dan vir ewig vir hom sal geld. Genadiglik het ons Skepper op hierdie kardinale gebied dit vir ons maklik gemaak deur net een keuse aan ons voor te hou naamlik die keuse tussen die Koning en sy koninkryk van Lig aan die een kant en die heerser en sy ryk van duisternis aan die ander kant.

Kies ek die Koning van Lig, kies ek ook om sy wil te doen soos geopenbaar in sy Handleiding. Versuim ek om Hom uitdruklik te kies, bly ek soos ons in rekenaar taal sê, “by default,” (by verstek) in die ryk van duisternis en onder die gesag van sy bose heerser wat reeds sy dwase beginsels in ons harte kom plant het.

So word ons keuses dus baie eenvoudiger, elkeen bevestig gedurig deur sy gedagtes, woorde en dade, sy keuse vir die Goeie of die kwade. Die dood is die afsnypunt vir alle keuses. Daarna verhuis ons elk na die ryk van ons gekose Koning of heerser, aanskou hom van aangesig tot aangesig en ontvang vir ewig òf ons verdiende straf te midde van die kinders van die duister òf ons genadeloon saam met die kinders van die lig.

Maar ek het nou baie gesê en hierdie is veronderstel om ‘n SELF-studiegids te wees, dus gaan ek u aan die woord stel deur u die geleentheid te bied om antwoorde te verskaf op vrae oor Skrifgedeeltes wat lig werp op hoe om keuses volgens die wil van die Koning van die Lig te maak. So sal ons dan saam hopelik meer duidelikheid oor hierdie komplekse maar interessante onderwerp bekom.

 

B. GESONDE KEUSES IS GESKOEI OP ‘N VASTE FONDAMENT

Elke ontwikkelde land het gewoonlik ‘n grondwet waarin sy heel belangrikste beginsels vervat is. Dit beliggaam die fundamentele oortuigings van die ryk waarop alle ander wetgewing gebou word. ‘n Goeie, nuttige burger moet dus eerstens weet en verstaan wat die grondwet van sy land sê.

So ook met burgers van die Koninkryk van die Lig. Ons het vroeër verwys na die Handleiding, die manifes, van die Ryk. Soos u weet, staan dit bekend as die Bybel. Dit is opgedeel in 66 Boeke en in die 22ste hoofstuk van die 40ste Boek (genaamd Matthéüs), verse 35-40 vind ons die Grondwet direk uit die mond van die Koning se Seun, net soos Hy dit van sy Vader ontvang het; ons haal aan:

En een van hulle, ‘n wetgeleerde, het ‘n vraag gestel om Hom te versoek en gesê: 36  Meester, wat is die groot gebod in die wet? 37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. 38  Dit is die eerste en groot gebod. 39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete. 

Kom ons begin dan nou, as burgers van die Koninkryk om ons kennis en insig aangaande die Grondwet te verdiep deur ‘n aantal vrae te beantwoord.

Hoe sou jy hierdie grondwet in een woord saamvat? …

Hoe kan ek daardie woord ten beste uitleef met betrekking tot my Koning? (1 Sam 15:22,23; Joh 15:10)

Hoe kan ek die grondwet ten beste uitleef met betrekking tot my mede-burgers? Gee asb 3 voorbeelde uit 1Kor 13:1-7).

Hierdie sleutelwoord in die eerste vraag vermeld, is uiters moeilik om te omskryf: wil jy probeer?

.

C. ANDERE SE KEUSES WAARUIT ONS KAN LEER

Die Bybel bevat ‘n menigte bepalings, voorskrifte en verduidelikings oor hoe om die Grondwet in die praktyk uit te lewe; maar ook voorbeelde van keuses wat mense gemaak het en die gevolge daarvan. Ons kyk net na ‘n paar daarvan.

  1. Kain se twee keuses

Lees asseblief Gen 4:1-16.

Kain het twee verkeerde keuses gemaak, naamlik:

Eerstens in die tipe offer wat hy gebring het: verduidelik (Sien bv Heb 9:22): …

Tweedens deur te kies om nie ag te gee op … maar eerder toe te gee aan …

Wat, sou u sê was die grondoorsaak van sy verkeerde keuses? …

  1. Abraham se drie keuses

Abraham het drie besondere keuses gemaak. Twee daarvan was om God te gehoorsaam of nie.

Die eerste daarvan word in Gen 12:1-9 verhaal. Wat sou hy alles prys moes gee en wat was sy korttermyn vooruitsigte? Dink jouself diep in, in sy situasie en beskryf dit dan. …

Die tweede keuse was om weiveld vir sy vee te kies. Hy laat toe vir Lot toe om eerste te kies wat die groen, vrugbare Jordaanstreek opgeraap het terwyl Abraham met die oorblywende meer dorre binnelandse streke tevrede moes wees. Was dit nou nie ‘n baie dom keuse om sy mededinger eerste te laat kies nie? … (Beantwoord die vraag in die lig van Spr 3:5, Gen 13:5-18 en Gen 19:23-28).

Die derde was weer ‘n ja of ‘n nee keuse toe God hom beveel het om sy seun aan Hom te gaan offer; seker die grootste keuse wat die Heer van ‘n mens kan vra. Abraham het gekies om gehoorsaam te wees en het, onder andere, verwag dat Hy hom uit die dood sou opwek (Heb 11:17-19). Maar wat was ‘n diepere rede waarom hy in hierdie, en albei die ander gevalle, gekies het om die Here te gehoorsaam? (Heb 11:13-16). …

  1. Josef se drie keuses

In sy ouerhuis het Josef as jongman al gekies om nie deel te word van sy ouer broers se goddelose kring nie maar eerder die Here en sy vader lief te hê en te gehoorsaam. Waaruit kan ons dit aflei? (Lees asb Gen 37:1-11. Sien ook Ps 1:1; Spr1:8-10 en 20:11). … .

Watter voordele en gevolge het hierdie keuse alles vir hom ingehou (Gen 37:12-36)? …

In die huis van Potifar het hy gekies om nie toe te gee aan die versoeking om … (Gen 39:1-20).

Wat het hierdie keuse hom in die sak gebring? …

In die gevangenis het hy gekies om die posisie waarin hy homself bevind het, te aanvaar en die sipier van harte te dien. Wat was die sipier se reaksie? … (Gen 39:21-23).

Hy het ‘n man voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop. 18  Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom, 19  tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het. 20  Die koning het gestuur en hom losgemaak, die heerser van die volke, en hom losgelaat. 21  Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed; 22  om sy vorste te bind na sy begeerte, en aan sy oudstes moes hy wysheid leer. (Ps 105:17-22)

Oor ‘n periode van 13 jaar (ongeveer 4745 dae) moes hy as slaaf en prisonier elke dag, oor en oor en oor, kies om die situasie waarin God hom geplaas het te aanvaar en die gesag wat oor hom aangestel was van harte en met vreugde te dien. Watter beloftes wat die Here hom gegee het, sou ‘n groot rol gespeel het om hom te help om gedurende hierdie moeilike periode nie moed te verloor nie? … .

Watter twee beloftes in God’s Woord versterk jou wanneer jy moeilike keuses moet maak? … .

Toe het God, wat besig was om die dae en insidente te tel, hom beproef verklaar en hom as heerser aangestel oor almal wat hy tevore moes dien. Wat sê dit vir ons? Dat die eerste keuse wat ons maak om onsself aan God oor te gee, net … … … … … … … … is  wat volgehou moet word totdat ons oor die drumpel van die ewigheid sal tree. (Die getal spasies is nie verteenwoordigend van die aantal woorde wat ingevul moet word nie.)

Die mate waarin ons in die heirnamaals verhoog sal word, sal omgekeerd eweredig wees aan die mate waarin ons gewillig was om in hierdie lewe, …. en … te aanvaar.

Die keuse berus by elkeen van ons.

  1. Salomo se keuse

Wat sou jy kies as die Heer een nag in ‘n droom aan jou verkyn en vir jou sê: “My kind, kies (begeer) net wat jy ookal wil hê en ek sal dit vir jou gee.” (1 Kon 3:4-15). Wel ek dink dit is baie van ons se droom om so ‘n droom te kan hê!

Wat het Salomo gekies? …

Wat het die Here toe vir hom gegee: presies dit of minder of meer? …

.

D. HOE OM DIE BESTE KEUSES TE MAAK EN DEUR TE VOER

  1. Bestudeer die Handboek

 U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad. (Psa 119:105)

Om in ‘n donker wêreld vol onbekendes reg te kan kies het ek lig brood nodig. Hierdie vers sê dat die Woord my weg op twee wyses belig naamlik … .

 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. (Jes 55:8,9)

Watter redes gee hierdie vers waarom ons juis die Bybel moet bestudeer om reg te kan kies? …

Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel. (Jos 1:8)

Josua moes drie dinge ten opsigte van die Woord doen, naamlik … .

Die gevolg daarvan sou wees … .

Wat is dus die hoofvereistes vir ‘n volks- of militêre leier? …

Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. (2Tim 3:16,17).

Hoeveel van die Skrif moet ‘n man of vrou van God ken en verstaan? … .

Bedink nou hoeveel van die Skrif u al bestudeer het. … .

Die skrywer van Ps 119 moes besondere baat gevind het by sy bestudering van die Handboek soos blyk uit die onderstaande verse. Lees asseblief almal en gee u kommentaar op die drie wat u hart die meeste raak.

V9: … ; V14: … ; V18: … ;V23: … ;V24: … ;V51: … ;V62: … ;V72: … ;V’e97-100: … ;V130: … .

  1. Raadpleeg en vertrou die Skrywer

Die Skrif is plek-plek moeilik om te verstaan; ook bevat dit net die breë beginsels waarvolgens ek moet leef, maar spel nie die detail van die keuses wat ek sal moet maak vir my uit nie. Dit sê bv nie vir my of ek vir Sarie, Sannie, Soekie of Somien as vrou moet neem, of dalk ongetroud moet bly nie. Ek het dus iemand nodig om in hierdie twee areas vir my te adviseer. My pastoor? Ja maar as ongetroude jongman is hy dalk ook verlief op een van die vier dames; dus sal hy nie onpartydig wees nie. My eie hart kan ek ook nie altyd vertrou nie, so, waarheen sal ek my wend?

 Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak. (Spr 3:5,6)

Terwyl ons ‘n saak waaroor ons moet besluit bedink en alle moontlike bronne raadpleeg, moet ons eerstens … .

Terwyl Jesus ons planeet vir ‘n aantal jare besoek het, het Hy almal wat wou luister se vrae beantwoord maar kort voor lank keer Hy toe weer terug na sy hemelse woning. En toe? Wel Hy neem niks goeds weg sonder om iets beters in die plek te gee nie. Met sy hemelvaart het Hy dan ook vir elke leser van die Boek die dienste van die Skrywer daarmee saam gegee om elke woord uit te lê; ook voorligting en krag om dit reg te kan toepas. (Die Bybel is tewens die enigste boek waarvan die Skrywer te alle tye by die leser is).

maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. (Joh 14:26)

Waaroor troos Hy ons? … . (Verklaar die woord in konteks).

Waarom is die woord, “Heilige” in sy Naam geïnkorporeer? … .

Sy vakgebied is dus … .

Vervul Hy jou gees en denke (Efes 5:18)? … .

Reeds in die Ou Testament het Hy die gelowiges in hul keuses bedien:

en jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan. (Jes 30:21).

Hoe hoor ons sy stem? … .

.

E. SLOT

Jy, as mens, is ‘n geregistreerde kieser.

Wat ‘n voorreg.

Op die stembriefie is die name van net twee kandidate. 

Kies reg!

Kies die WEG.

Jesus het gesê:

EK IS DIE WEG EN DIE WAARHEID EN DIE LEWE; NIEMAND KOM NA DIE VADER BEHALWE DEUR MY NIE.

Joh 14:6

Bly dan vir ewig in die WEG deur in elke keuse, klein of groot, Sy wil te kies.

////////////

KLIK HIER OP KEUSES SSG OM DIE STUDIEGIDS IN PDF FORMAAT AF TE LAAI OF OM DIT UIT TE DRUK.

KLIK NOU HIER OP LYDING VIR NOG ‘N SELFSTUDIEGIDS

OF

SIEN DIE LYS VAN ANDER ONDERWERPE BO-AAN, REGS VAN, OF ONDER-AAN HIERDIE BLAD

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.




    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend