Lyding SSG


SKRYF U EIE AANTEKENINGE OOR “LYDING”.

GEBRUIK DIE ONDERSTAANDE SKRIFGEDEELTES EN GEDAGTES EN VOEG U EIE BY.

BIED DIT DAN AAN ANDERE AAN AS ‘N BYBELSTUDIE

.

A. ALLE LEWENDE WESENS GAAN GEBUK ONDER LYDING.

Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. 23  En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. (Rom 8:22,23)

Beide mens en dier weet wat dit is om te ly; daarmee stem ons seker almal saam? … .

Is dit die Heer se wil dat die wesens wat hy geskape het moet ly? (Gen 1). … .

Watter wese is die grondoorsaak van alle lyding? (Gen 3). … .

Watter rol het die mens gespeel in sy eie lyding? (Gen 3). … .

Waarom word ‘n mens se lyding dan nie beeindig wanneer hy tot bekering kom, sy lewe aan God oorgee en sy sonde vergewe is nie? (Ps 119:67; Heb 12:6,7; Open 3:19). … .

Kan alle lyding tot ‘n persoon se sonde teruggevoer word? (Joh 9:2) … .

In watter opsigte ly jy? … .

B. DIE RES VAN HIERDIE STUDIEGIDS GAAN OOR LYDING TER WILLE VAN GOD.

1. ABEL IS DEUR SY BROER VERMOOR.

En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan. (Gen 4:8: Lees vanaf v1).

Waarom, sou jy sê, het Kain vir Abel doodgeslaan? Daar is tog geen aanduiding dat Abel met hom skoorgesoek het nie. … .

2. LYDING VIR JESUS IS ‘N GENADEGAWE, NET SOOS GELOOF. … .

… en dat julle jul in geen opsig laat afskrik deur die teëstanders nie. Dit is vir hulle wel ‘n bewys van verderf, maar vir julle van redding, en dit van God; omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly, (Fil 1:28,29)

Hoe kan lyding ‘n voorreg of genade gawe wees soos wat dit ook in verskeie ander vertalings weergegee word? … .

Lyding ter wille van Christus is vir die kind van God ook ‘n bewys van ……. .

3. DIT IS ‘N EER OM VIR CHRISTUS TE LY.

Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly. (Hand 5:41)

Ek, as samesteller van hierdie studiegids, herinner my van drie gevalle in drie verskillende lande, dat ek ook as gevolg van die verkondiging van die Evangelie gearresteer en aangehou was en moet erken dat ek nie so ‘n edele beskouïng as die apostels daaroor gehad het nie. Ek was net baie dankbaar om weer vry te wees.

Was jy al in aanhouding ter wille van Jesus. Beskryf dit kortliks. … .

4. SKAAM JOU NIE VIR LYDING VIR JESUS NIE.

Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God. (2 Tim 1:8)

Een van die mens se behoeftes is om deur andere aanvaar te word. Sal jy nog gewild wees onder jou vriende as jy meer radikaal vir Jesus uitstaan? … .

Soms kan ‘n mens onnodig aanstoot gee deur ‘n harde, kritiese woord te bring terwyl jy jou doel beter sou kon bereik het deur diplomaties op te getree het. Jou motief is dus baie belangrik: bly jy stil omdat jy jouself teen vervolging of verstoting wil beskerm, of omdat dit die saak van God beter sal dien? … .

5. ‘N SOLDAAT LY TERWILLE VAN SY LAND.

Ly dan verdrukking soos ‘n goeie krygsman van Jesus Christus. (2Tim 2:3)

 Dink bv aan die volkslied: “Ons sal lewe, ons sal sterwe; ons vir jou Suid-Afrika.” Moes ons nie dalk die volgende woorde by die “Sondaarsgebed” insluit nie: “Ek sal lewe, ek sal sterwe, ek vir U, my Here God”? Stel ons die vereniging met Christus nie te rooskleurig voor en skep so ‘n valse verwagting by bekeerlinge nie? … .

6. HYS JOU VLAG VIR JOU KONING.

Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.  (Mat 10:32,33)

Wat sal jy ‘n soldaat van ‘n eerbiedwaardige land noem wat opgeroep word om sy land te verdedig  maar sy uniform, pet en ander kentekens in sy rugsak wegsteek uit vrees dat hy raakgesien en geskiet kan word? … .

En ‘n Christen wat in hierdie Christus vyandige wêreld nooit wys waar hy staan nie en wie se houding is, “My geloof is my eie saak; ek praat nie daaroor nie?” … .

Hoe reageer jy wanneer iemand die Naam van die Heer in jou teenwoordigheid oneerbiediglik gebruik of ‘n growwe grap vertel? … .

7. DIE PRYS VAN DISSIPELSKAP.

Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors— (Jes 9:5) 

En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: 14  Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae! (Luk 2:13) 

Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder. En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees. Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.  (Mat 10:34-39)

Hoe versoen ‘n mens hierdie verse met mekaar; die eerste twee praat van vrede en die derde sê nee, die swaard? … .

Hoe beleef ons samelewing die swaard (verwonding en die dood) binne die gesin?

Kom dit werklik ook agter die deure van Christen gesinne voor? … .

Hoe kan Christene dit prakties teëwerk? … .

8. ‘N SKOON GEWETE KOS IETS

Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. (1Pet 2:19)

In die werkplek is daar deesdae groot druk om oneerlik te wees en “fluitjieblasers,” oftewel werkers wat oneerlikheid of ander kwaad aan die lig bring, betaal dikwels ‘n groot prys en boet selfs met hul lewens. Ken jy Josef se verhaal? Hy was ‘n “fluitjieblaser”. Vir 13 jaar het hy die prys daarvoor betaal maar toe het God hom beloon. (Die toepaslike gedeeltes strek oor baie hoofstukke, Gen 37:2 – Gen 41:44). Wat sê dit vir ons? … .

Weet jy van soortgelyke gevalle of was jy self ‘n slagoffer? Kan jy miskien hier iets daaromtrent deel, of is dit onwenslik? (Om sulke getuienisse te hoor mag andere aanspoor om ook standpunt vir geregtigheid in te neem). … .

9 “NOOD LEER BID”

Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing. (Jak 5:13)

Watse medikasie skryf Jacobus voor vir lyding? … .

Kan die Here ‘n mens ook verlos van vrees, ‘n swak selfbeeld en skaamte om voor andere tot God te bid? En depressie? … .

10. RUS IN DIE HEER WANNEER JY MOET LY

Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie. Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees; (1Pet 3:14,15).

Die voorafgaande teksvers word hieronder herhaal maar sekere woorde is weggelaat. Plaas sinonieme vir die weggelate woorde in die spasies. (Die aantal spasies en die lengte daarvan, is geen aanduiding van die verlangde woorde nie. Ter wille van die van ons wat dalk al ‘n bietjie vergeet het, “sinonieme” is woorde met dieselfde betekenis).

Maar as julle ook moet ly ter wille van die ……… , ………… is julle. En ………. hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie. Maar ………….. …………… …………….. …………… …………. en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent ……… ……… ……… ………. …………., met sagmoedigheid en ………….. ; (1Pet 3:14,15).

11. VOLHARDING TOT DIE EINDE.

En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.  (Mat 10:22)

Kan ‘n persoon wat eenmaal gered is, dan tog later verlore gaan? Nee behalwe as hy willens en wetens, met opset en finaal die Here Jesus later verwerp. Teken kortliks hier aan wat met Petrus gebeur het. (Matt 26:69-75; Joh 21;15-19). … .

Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; 13  en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. (Heb 12:12,13).

Hoe sou jy “slap hande” en “verlamde knieë” in geestelike konteks beskryf? … .

12. DRA JOU LYDING MET GEDULD.

Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het. 8  Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. 9  Moenie teen mekaar sug nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur. 10  Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het. 11  Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is. (Jak 5:7-11).

Watter heilsame uitwerking het jou gebede om verlossing van jou lyding op jou geestelike lewe? (Sien Job 42:1-6). … .

‘n Mens mag darem seker soms jou lyding met ‘n broer of suster in Christus deel, maar jy moet nie die Regter …              deur wat jy sê of die wyse waarop jy praat nie want Hy staan voor die deur van die hofsaal, hoor alles wat jy van Hom sê en is op die punt om in te stap en jou te verhoor. (Vul die ontbrekende woord of woorde in.)

13. MOENIE BANG WEES VIR LYDING NIE.

En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.  (Mat 10:30,31)

Wanneer jy teregstaan omdat jy vir Jesus opgestaan het, wees braaf omdat jy weet dat jy die eiendom van die Almagtige God is en dat elke spikkeltjie van jou liggaam, siel en gees vir hom so waardevol is dat Hy selfs die moeite doen om op hoogte te bly van elke …  .                                   !

14. DISSIPELMAKERS LY DIKWELS.

Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe. (Mat 10:16 Lees verder tot v 42)

Wolwe byt en verskeur. ‘n Slang kan wel terugbyt maar beskerm homself eerder deur …                     . Hoe kan ‘n evangelis homself beskerm? … .

Hoe kan ons opreg wees; selfs teenoor ons vyande? … .

Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening. (2Tim 4:5) 

Wat beteken die woord “nugter” in hierdie konteks? … .

Wat beteken die woord “vervul” in hierdie konteks? … .

15. ONS LYDING VIR JESUS SAL RYKLIK BELOON WORD.

… as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. (Rom 8:17,18)

Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.  (Mat 5:11,12)

Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee. (Openb 2:10)

Al drie tekse spreek van ‘n beloning wat hulle wat terwille van die Here ly, in die hiernamaals sal ontvang. Skryf ‘n kort paragraaf oor daardie beloning soos geskets in hierde Skrif en besin dan of jy nou meer bereid is om vir Sy Naam te ly. …

16. PAULUS SE LYDING TER WILLE VAN SY BEDIENING VAN DIE EVANGELIE.

Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond, en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit; word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe. (Paulus, 1 Kor 4:11-13)

Uit Paulus se lyding is daar verskeie lesse te leer; ons noem ‘n paar wat blyk uit die volgende twee tekse:

Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly. (Hand 9:16)

Die Here Jesus het geen doekies omgedraai oor hoe intens Paulus as dissipel en evangelis sou moes ly nie. Waarom het hy nie hiervan weggeskram nie? Gee twee of meer redes. … .

En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk. (Sien 2 Kor 12:1-10)

        • Wat die openbarige is waarvan Paulus praat, weet ons nie verseker nie, maar meld enige twee fundamentele leerstellige openbaringe wat hy wel in sy briewe met ons deel. … .
        • Wat, sou jy sê, is die aard van hierdie lyding wat Paulus opgelê was? … .
        • Waarom was die Heer se genade dan nie vir hom genoeg om die versoeking tot hoogmoed te weerstaan nie, sodat Hy ‘n geweldige lyding oor hom moes toelaat om hom nederig te hou – Sy genade was tog genoeg om dié pynlike lyding te kon verdra? … .
        • Wat sou jy sê: is rykdom, eer en fisiese genot ‘n ernstiger bedreiging vir ‘n mens se geloof as armoede, vernedering en fisiese pyn? Regtig? … .
        • Wat bedoel Paulus daarmee as hy sê: “ … my krag word in swakheid volbring” en “… as ek swak is, dan is ek sterk”? … .

Lees asb ook 2 Kor 11:23-33 om meer omtrent Paulus se lyding te wete te kom.

17. VERDURING VAN SIEKTE LYDING TER WILLE VAN GOD.

Wanneer die Heer baie pynlike of vernederende siekte oor ‘n kind van God toelaat en hy dit sovêr moontlik met blydskap verduur, kan dit ook as lyding vir sy Naam gesien word.

Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval 21  en gesê: Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd! Job 1:22  By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie, (Job 1:20-22).

En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE, en hy het Job met bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel. 8  En hy het vir hom ‘n potskerf geneem om hom daarmee te krap, terwyl hy in die as sit. 9  Toe sê sy vrou vir hom: Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God, en sterf! 10  Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie. (Job 2:7-10).

En die HERE het die einde van Job meer geseën as sy begin; en hy het veertien duisend stuks kleinvee en ses duisend kamele en duisend paar beeste en duisend eselinne gehad. 13  Daarby het hy sewe seuns en drie dogters gehad. (Job 42:12,13)

 Daarom, hou moed my geteisterde broer en suster in die Here, die Here stap met ons tot aan die einde van die tonnel en dit kan veel nader wees as wat ons dink.

//////////

KLIK HIER OP LYDING SSG OM HIERDIE STUDIEGIDS IN PDF FORMAAT AF TE LAAI OF DIT UIT TE DRUK.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.




    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend