Op Woensdag 8 Augustus het ons weer die lang pad na Karasburg aangedurf. Die keer het Mart saamgegaan “om na my om te sien” soos sy dit meewarig gestel het. Blykbaar is daar êrens op die ouer word pad ‘n hek waardeur ‘n mens onwetend gaan, waarna andere dit nodig ag om soms na jou om te sien, soos bv as jy uit die dorp uit wil ry.
Maar was dit vir jou koud; in die Karoo vlaktes tussen Hanover en de Aar lees die meter -11 maar genadiglik werk die Merc se verwarmer oortyd en hou ons snoesig warm in die kajuit. “Here dit moet darem onplesierig wees om dié tyd van die jaar in ‘n sinkkaia met louwarm water in ‘n “plastic” skottel te moet bad,” dink ek so in die verbygaan.
Maar dan duik die T-aansluiting net noord van Britstown voor ons op en trek ek af vir oggendete – toebroodjies, frikkadelle en koffie – my mond water al vir die afgelope halfuur. Die houers met eetgoed is op die agterste sitplek maar die toebroodjies? Seker in die kattebak. Sluit oop; niks. “Mart hoe lyk die houer; is dit nie so ‘n mooi bont blik met ‘n toeknipdeksel nie? Ek het gesien jy was met so ‘n blik en nog ander goed in jou arms op pad na ons “kluis” toe!” Totsiens toebroodjies; ten minste is julle veilig weggebêre.” Ek bly maar stil want ek het die eerste fout van die dag gemaak deur duskant Hanover weg te draai in plaas van die de Aar pad aan die anderkant te vat; so het ons toe ‘n draai van sowat 60 km oor Philipstown gery. Ai die ouderdom tog. Geen probleem; ons draai links na Britstown wat binne sig is en daar koop ons die heerlikste vetkoek met ‘n maalvleis vulsel en eet tot versadigings toe.
Op Burgershoop maak ons die tenk vol duur petrol waarna ek nog ‘n slag verkeerd ry en moet terugdraai na Upington, maar daar aangekom luister ons fyn na die Here se leiding sodat ons sonder moeite ‘n bekende koerierdiens in ‘n nywerheidsgebied vind en ‘n skootrekenaar wat vir ons span in Mosambiek bestem is, na Pretoria kan versend.
Dan sing die bande oor die teer en ‘n 150km verder, glip ons soos ‘n koekie nat seep deur die twee grensposte. Die Merc ruik al vir Karasburg en ek moet elke nou en dan die leisels intrek of die spoedwyster tik-tik so aan die 150/160. Daar aangekom kry ons dadelik plek by die gastehuis waar ek laas tuis was en dit weer teen ‘n afslagprys want ek het ook al slim geword; ‘n mens betaal nie sommer summier die standaard tarief nie; veral nie as jy die Heer aan jou kant het nie.
Terwyl Mart aandete maak, bel ek rond om die volgende dag se vergaderings te reël en weer is die Heer my genadig want die een na die ander stem in om my om 10 vm in Pastoor Tony se kerk te ontmoet. Ek slaak ‘n sug van verligting en sit saam met Mart aan vir die oorblywende vetkoek en nog goetertjies wat sy bymekaar kon skraap.
Maar ons is moeg, behoorlik moeg want ons het 4vm opgestaan en saam met al die verkeerd ryery en plekke waar ons moes aangaan, het ons 1003 km afgelê. Die Merc blink veilig in die halfdonker onder die afdak en soos twee geboue wat inplof, syg ons in die dubbelbed neer. En dit was nag en dit was môre; die eerste dag.
So kom ons toe nou die volgende oggend bymekaar. Ons is dié keer net ‘n klein klompie, naamlik die pastore van die onderskeie Pinkstergemeentetjies. Ek verduidelik dat dit nou die vierde keer is dat ek Karasburg besoek en dat ek die werk nou aan hulle wil oordra. Hulle het die nege klasse wat ek aangebied het, bygewoon en as leiers van gemeentes behoort hulle geen probleem te hê om dit net so te kan aanbied nie.
Ek het ook al 11 lesings in klank opgeneem en dit op geheuestafies geplaas wat ek aan hulle skenk tesame met ‘n stel kriptiese notas en elk ook ‘n handboek met die volledige lesings. Vir drie van hulle het ek ook nog “boom boxes” gekoop om die klankopnames te kan speel. As hulle wil, kan hulle dus ‘n kort gedeelte van ‘n lesing speel en dan eers die “pause” knoppie druk om aan almal die geleentheid te gee om dit te bespreek en vrae te vra.
Verder stel ek voor dat almal vir ‘n begin onder leiding van pastoor Jooste se vrou, Sandra, bymekaarkom en elkeen ‘n gedeelte van die dag se lesing aanbied. Sodoende kan almal ondervinding opdoen en dan later elkeen ‘n klas in sy eie gemeente begin. Almal stem in om dit so te doen. Dit op sigself is ‘n groot wonder want toe ek daar gekom het, was daar tussen sommige van hulle heelwat wrywing. So neem Mart en ek toe hartseer van hierdie groepie afskeid.
Daardie middag vergader ons met die Roomse Kerk se Priester en ‘n aantal van sy lidmate wat ons dissipelskapklasse bygewoon het. Die byeenkoms begin ‘n uur laat maar ek hou my oë op die Here en ons sing al die tyd lofliedere dat die dak lig. Uiteindelik kan ons begin en met die intrapslag getuig ek hoe ek tot redding gekom het en wat ons met die dissipelskapklasse beoog en hoe die gemeente daarby kan baat.
Summier wil ‘n man wat ek nooit vantevore gesien het nie, van my weet wie die oorspronklike inwoners van Kanaan was en hoe kon die Here hulle land dan afgevat en vir Israel gegee het en so volg sy soortgelyke vrae die een op die ander en ek moet net bontstaan om te antwoord. Mettertyd vertrek die Priester vir ‘n ander afspraak en moet Mart en ek haastig Spar toe jaag om ‘n stukkie kos vir aandete te koop – twee “Russians” en al die oorblywende aartappelskyfies.
Terug by die vergadering begin die oorblywende groepie oopmaak en vertel wat die dissipelskapklasse vir hulle beteken het. Een moeder bring haar seun wat in Windhoek in die hospitaal was en vir wie daar min hoop op herstel was na my en sê “Dit is nou … vir wie pastoor gebid het en die Here het hom aangeraak en hy is nou feitlik heeltemal gesond. Bid asb verder vir hom.” En toe kom die andere ook een vir een en herinner my aan hulle behoeftes waarvoor ek tevore gebid het en vra vir verdere gebed.
Daardie aand gaan ons daar weg met ‘n groot danklied in ons harte en op ons lippe. Ek het reg gehoor gehad toe ek gehoor het dat die Here my roep om in Karasburg met dissipelskapklasse te gaan begin en ek het reg gedoen om te gegaan het, al was dit dan ook al twyfelende, en die Here wat my geroep het om die saad van Sy Woord daar te gaan saai het, Hy sal dit laat groei en laat vrugdra al kan ek weens die afstand nie weer gaan nie.
Soms kan ons net ‘n ou klein stukkie doen van ‘n werk wat God gedoen wil hê en moet ons dit aan ‘n ander oorlaat om die saad water te gee en aan God oorlaat om dit te laat groei en vrug te laat dra. Daardie aand terwyl ek eers vir Mart dankie sê vir haar bydrae en daarna vir die Here dankie sê vir wat Hy gedoen het, hoor ek Sy stem so duidelik vir my ook sê “Dankie Ben.” Ja my broer en suster, die almagtige God het klein mensies soos ek en jy ook nodig om Sy magtige werk gedoen te kry.
Liefde in Christus Jesus,
Ben (en Mart) Lubbe
(Ps. Mag ek net byvoeg dat ek in Priester Karwapa ‘n opregte vriend gevind het, wat my agterna skriftelik bedank en verseker het dat hy heelhartig met my verstaan en uitleg van die Woord akkoord gaan.)
Comments are disabled.