Op Donderdag 14 Junie het die lankbeplande dissipelskap-uitreik na Karasburg, Namibië ‘n werklikheid geword. Om 5 vm het Mart en ek vir laas met ‘n innige drukkie en vogtige oë in die donker by die motorhek afskeid geneem met die vertroue dat ons ouerige 97 Merc die bykans 900 km met gemak sou kon aflê. Dié keer het ek die suidelike roete gevolg; oor Colesberg, Hanover, De Aar, Britstown, Prieska, Groblershoop, Upington; daarna deur die grenspos by Ariamsvlei en uiteindelik Karasburg.
Laat namiddag het ek daar aangekom en haastig blyplek gesoek. Die Heer se hand was op my en by die Zebra gastehuis kon ek inboek vir R250 per nag in plaas van die gewone R350. Die kamer was ruim en het oor al die fasiliteite beskik, want ek sou vir myself moes kosmaak. Dit was net ‘n bietjie koud met klein hoë venstertjies; boonop het ‘n koue front vanaf die Kaap saam met my daar aangekom.
Voordat ek nog my bagasie kon aflaai, moes ek eers by ‘n selfoon cum-naelboetiek ‘n uur spandeer om my selfoon op die lug te kry sodat ek ten minste vir Mart kon laat weet dat ek veilig daar was.
Ja, dié keer was Mart om verskeie redes nie saam nie; enersyds sou dit ons verblyfkoste halveer. Tweedens sou sy meer effektief vir my kon bid. Terwyl Josua en sy weermag met die swaard in ‘n stofwolk en sweet met die Amalekiete slaags was, het Moses op die berg stelling ingeneem en gebid (Ex 17:10-12). Josua se oë was op die vyand gerig en Moses s’n op God. Dit was die regte strategie en so is ‘n groot oorwinning behaal.
Die volgende oggend het ek vroeg-vroeg vir Pastoor Tony Jooste opgespoor en die reëlings dat die byeenkomste in sy kerkgebou gehou kon word, gefinaliseer. Daarna het ek die pastore met wie ek tydens my vorige besoek kontak gemaak het, besoek om hul in te lig sodat hulle hul lidmate kon betrek. Die Rooms Katolieke Priester was ongelukkig nie beskikbaar nie omdat hulle besig was om ‘n nuwe biskop in te huldig. Sommige van hul lidmate het wel ‘n paar dae later by ons begin aansluit.
Ons het by die begin, begin, by Genesis 1:1. “Genesis” beteken mos juis “begin” of “oorsprong”. Stappie vir stappie het ons nagespeur hoedat die Here wat van ewigheid af bestaan, begin het om ons wêreld en alles wat daarop is, te skape om vir mens en dier ‘n asemrowende wêreld daar te stel waarin ons saam met Hom sou kon woon. In Sy wysheid het Hy elke dingetjie só geskape dat dit iets van Sy eie karakter (Sy wesensvoortreflikhede) sou uitbeeld. In die verskeidenheid van plante en diere sien ons Sy onbegrense verbeelding en wysheid; ook in die wyse waarop Hy die kanteling en draai van die aarde en sy omwenteling om die son gebruik om vaste tye te skep. In die reuse son waarin 1,3 miljoen aardes kan inpas en wat na meer as 6000 jaar nog net so lustig brand met die “hout en kole” waarmee die Here dit destyds aangepak het, asook in die grenslose sterrestelsel, die haas onmeetbare see waters en reuse berge, sien ons Sy almag en in die gedetailleerde voorsiening in die behoeftes van die plante, diere en mense sien ons Sy eindelose liefde en sorg vir Sy skepping.
Daarna het ons gekom by die toets wat God vir die mens gestel het om seker te maak dat hulle Hom as hul God gekies het; die Boom van Kennis van Goed en Kwaad. Dan volg die tragiese sondeval van die mens, maar ook God se bemiddeling in die diere wat Hy geslag het om vir hulle skorte te maak om hul naaktheid te bedek en hoe dit heenwys na die kruiswerk van Jesus. (Ag, my hart loop opnuut oor van lekkerte as ek so aan alles terugdink.)
Die eerste byeenkoms is Sondagaand al gehou en daarna elke aand vir die volgende 9 aande. My vurige hoop was dat ons darem so ‘n 15 volwassenes per aand sou hê, want ‘n groot prediker uit Amerika wat kort tevore daar dienste gehou het, het maar ‘n karige opkoms gehad. Boonop is die gemeentes se erediens opkomste oorwegend minder as 10 persone per gemeente en dan moes die mense ook nog in die koue wintersnagte vêr ente stap (sommige ‘n kilometer en meer) om ons klasse te kon bywoon. Maar die Here wat my daarheen geroep het, was groter as dit alles. Die eerste aand was daar reeds 21 en elke aand het die getalle aangegroei sodat ons met ‘n bywoning van 49 persone geëindig het. ‘n Totaal van 71 verskillende mense het die kursus bygewoon. Halleluja, hoe groot is ons God om klein mensies vir Sy groot werk te gebruik.
En, ja, dit was nie Evangelisasie dienste nie; tewens die oorgrote meerderheid wat bygewoon het, was geredde lidmate. Dit was juis wat ek graag wou hê, want my doel was om gemeentes toe te rus om self die ongereddenes in hul omgewings vir die Here te wen.
So het ons, ons aand vir aand in Hom verlustig en het een na die ander van die mense vir my kom sê hoe heerlik hierdie woorde vir hulle was en hoe dit hulle versterk en hul insig verbreed het. Die een pastoor se vrou het die laaste aand getuig en gesê dat die Here sommer haar hele huis nuut gemaak het.
Vanaf die derde aand het twee van die pastore se vrouens ingespring en uit hul eie sakke begin om aan een en almal na die diens verversings te verskaf; eers koffie en koekies, toe reuse potte kragtige, warm sop en een aand selfs ook heerlike bakkies nagereg. So het ons saamgewerk om die Heer groot te maak en Sy Koninkryk te bou.
Die kersie op die koek was dat drie jongmense hul harte aan die Here gegee het. Ook het die Here op ‘n onverwagte wyse die vroutjie wat by my vorige besoek haar lewe aan die Here gegee het, na my toe gebring sodat ek verder in haar lewe kon inbou; sy lees nog elke aand haar Bybel en bid daarna, maar het hulp nodig om te kan groei.
Die laaste aande het ek na elke diens vir individue gebid sodat ek na drie tot vier ure se ononderbroke werk, stokflou huistoe is. Maar die versoeke om vir mense tuis te gaan bid, het so toegeneem dat hulle selfs na my woonplek gekom het om my te haal. Soms het my hart gebreek om die tragiese verhale van hul lewensomstandighede te hoor.
Die heel laaste aand, die tiende aand, het ek net met die pastore vergader om die pad vorentoe te bespreek en het hul ‘n ernstige begeerte uitgespreek dat ek weer kom om hul verder by te staan. In die tussentyd sal sommige self met dissipelskapklasse begin en die boek wat ek oor Génesis geskryf het, asook die kriptiese notas en die aantekeninge wat hulle self gemaak het, daarvoor gebruik.
Net soos die fietstoer wat ek van dorp na dorp in Februarie vanjaar onderneem het, was hierdie vir my ‘n unieke ondervinding. Nog nooit in my lewe het ek myself so ontledig in gebed en smeking voor God om die werk waartoe Hy my geroep het, suksesvol te kon uitvoer nie. Sommige dae het ek letterlik twee tot drie ure ononderbroke voor Hom gepleit om my van myself te bevry en my met Sy Gees te vul. As die “magtige” Paulus skryf “Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing;” (1 Kor 2:3) hoeveel te meer nie ek nie. My afskeidsteks aan die pastore was dan ook Joh 12:24 “ Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.” Ons is nooit te klein om deur God gebruik te word nie maar dikwels te groot. Dit is nie ons briljante uitleg van die Skrif wat mense se harte sal raak nie, maar die sagte werking van die Heilige Gees wanneer Hy ongehinderd deur ons kan vloei. Dikwels gebruik Hy dan ons persoonlike getuienis van oorwinning deur Sy krag. Dit laat die hoop weer opvlam en die oë weer blink.
Deur hierdie suksesvolle uitreik, het my vertroue om reg van God te hoor en daarop te reageer, ook ‘n hupstoot gekry. Soveel van hulle wat na aan my is, het gevra “Hoor jy reg van God; jy is so oud; dit is so vêr; waar gaan jy die fondse kry?” Soms wou my eie geloof ook knak maar dan het die Heer my elke keer weer teruggebring na Matt 28: Gaan dan heen; maak dissipels van al die nasies. Wanneer die Here met ‘n mens praat, gloei jou hart weer en vlam jou geloof weer op!
Aan die praktiese kant het ek geleer om vir myself te sorg; eers was dit sommer net blikkieskos oopmaak, maar later wortels geskraap, aartappels geskil, beet gaargemaak en tot slaai verwerk; kortom om ‘n gekookte maaltyd vir myself op die tafel te sit. Tweemaal het iemand ‘n bord kookkos by my deur afgelewer.
Verder het Hy vir my, soos vir Elia, bonatuurlike krag gegee. Op die laaste dag, nadat ek vir verskeie mense by hul huise en werkplekke gaan bid het, gepak het, die aandbyeenkoms en opvolgende gesprekke gehad het, het ek direk in die Merc geklim en die 881 km huistoe aangepak; in die nag en deur die grensposte. Drie maal moes ek aftrek en in die kar sit en slaap wanneer die moegheid my oorrompel en die pad voor my geswem het, maar die volgende oggend 11 uur was ek tuis want die verlange na Mart was net te sterk om die volgende dag eers te ry.
Die pad vorentoe? Die logiese ding om te doen is om so gou moontlik weer te gaan (sé binne 4-6 weke van nou af) om die Boek Génesis verder met hulle te behandel, maar veral ook om met individuele gemeentes (10 van hulle) bymekaar te kom om hul geloof te bou en praktiese weë te baan om die massa ongereddenes in te bring. Bid dan asb dat die Here my hiertoe in staat sal stel en dit ook finansiëel vir my moontlik sal maak.
Baie, baie dankie ook vir u voorbidding. U is my Moses wat op die berg sit met arms opgehef na die hemel. Ek kan nog eerder sonder blyplek en kos klaarkom, maar u kragtige oorwinnende gebede is vir my ‘n kosbare bydrae in hierdie stryd teen die duiwel en sy magte. Daarsonder sal ek bedroë huistoe kom of selfs daar in die tronk beland, want of ek vryelik daar mag bedien, bly ‘n ope vraag en ek is nie sonder vyande nie. So bid asseblief.
Ek maak ook verskoning; ek het vanaf Karasburg Whatsapp boodskappe aan elke ondersteuner gestuur, maar blykbaar het dit baie van u nie bereik nie. Die internetdiens is daar maar bewerig. Sal volgende keer probeer om e-posse te stuur.
Aangesien die sosiale media deesdae baie onder skoot kom, stuur ek hierdie nuusbrief eerder per e-pos en sal miskien net ‘n geredigeerde weergawe daarvan op ons webwerf plaas.
In Jesus se liefde,
Ben (en Mart) Lubbe.
Comments are disabled.