HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAA WORD.
Lees asb. Joh. 12: 1-8 (Sien ook Matt 26:6-13; Mark 14:3-9)
(Let daarop dat ‘n soorgelyke voorval ook verhaal word in Luk 7:36-40 maar dat dit waarskynlik op ‘n ander vrou betrekking het.)
‘n Keur verhaal.
Nog ‘n insident uit die lewens van dié twee vroue. Die Here ag hierdie voorval so belangrik dat Hy dit in al drie Evangelies laat aanteken het. In die Evangelie van Matthéüs sluit dié perikoop af deur aan te haal wat Jesus oor dié voorval gesê het, naamlik: “Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie verkondig sal word in die hele wêreld, sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot ‘n gedagtenis aan haar.” (Matt 26:13).
‘n Besondere maaltyd.
Weer vind ons die drie familielede Martha, Lasarus en Maria bymekaar. Weer is hulle by ʼn banket in Betanië wat ter ere van die Here Jesus gehou is, hierdie keer in die huis van Simon, die melaatse. Dit was ‘n baie betekenisvolle byeenkoms want net ses dae later sou Jesus aan ‘n kruis op Golgota vasgespyker word. Dit mag die allerlaaste geleentheid gewees het waarop hulle iets besonders, iets liefdevols vir Hom sou kon doen. Minder as ‘n week later sou Hy ʼn aller verskriklike dood sterf, ʼn skandelike dood.
Hemelse insig.
Op daardie oomblik weet die maaltydgangers dit egter nog nie, behalwe een, ‘n vrou wat tevore by Sy voete gesit en Sy woorde ingedrink het: Maria. Sy het nie net gehoor wat Hy van tyd tot tyd vir hulle gesê het nie maar sy het meer daarvan verstaan as sy dissipels wat dag vir dag saam met Hom was. Sy het diep in haar hart geweet dat haar geliefde Heer en Meester binnekort van haar af weggeneem sou word. In die gees het sy Hom gesien bloei en ly en sterf en daarom het sy dié dag iets saamgebring wat waarskynlik haar heel kosbaarste besitting was, naamlik ‘n albastefles bevattende ʼn pond nardussalf waarvan die waarde gelykstaande was aan ʼn arbeider se loon vir ʼn volle jaar.
Vir sommige was Lasarus die fokuspunt, maar Maria …
Die gaste het, soos wat in daardie tyd die gewoonte was, op hulle sye gelê langs die tafel waarop die kos in skottels uitgepak was. Lasarus, wie die Here Jesus kort tevore uit die dood opgewek het, was ook teenwoordig. Baie mense het spesiaal gekom om hom te sien, asof daar iets besonders aan sy uiterlike sigbaar sou wees. Hulle het moontlik ook probeer om ‘n geselsie met hom aan te knoop. Martha was soos gewoonlik hard besig om die gaste te bedien.
Maria bring haar unieke offer.
Maria was moontlik ook vir ʼn rukkie besig om haar suster daarmee te help, maar dan sit sy die skottels neer en gaan kniel by Jesus waar Hy op Sy sy lê, sy kop gestut op sy hand en elmboog. Uit die voue van haar mantel haal sy ‘n fles kosbare salf uit, breek dit oop en giet sommige daarvan op Sy hoof uit, dan op Sy hande en Sy kleed. Die heerlike geur versprei deur die vertrek en die gaste word stil. Sy beweeg op haar knieë, af na sy voete. Nou oorweldig die droefheid haar. Sy snik hartverskeurend terwyl die trane oor haar wange rol want in haar gees sien sy Sy liggaam oortrek van die hale van die Romeinse soldate se swepe, die kroon met die dorings wat in Sy kopvel indring, die bloed wat uit Sy wonde op die grond drup. Sy hoor hoe die spykers deur Sy hande gedryf, hoe die kruis regop gehef en ingeplant word. Sy hoor Hom uitroep: “Ek het dors.” En so, terwyl haar trane op Sy voete drup, deurleef sy Sy urelange lyding, wetende dat Sy op daardie dag nie in staat sou wees om Sy pyn te verlig nie. Sy moes dit nou doen. Dit is haar laaste geleentheid. Alle oë is op die snikkende vrou gerig. Sy buig vooroor sodat haar hare oor Sy voete hang en gebruik hulle om haar trane af te droog. Dan vryf sy die oorblywende salf in, in dié voete wat ook om haar ontwil deur die spykers deurboor sal word.
‘n Hartelose opmerking.
Uiteindelik staan sy op. Die nardus se soete geur vervul nou die vertrek terwyl die gebreekte fles eenkant bly lê. Skielik word die heilige oomblikke geskend deur Judas se uitroep van verontwaardiging: “Waarom was hierdie verkwisting? Die salf kon vir 300 pennings verkoop en die opbrengs aan die armes gegee gewees het!” ‘n Aantal dissipels brom halfhartig saam.
Jesus se waardering van haar liefdesdaad.
Maar toe, net soos toe sy deur haar suster aangevat was omdat sy haar nie in die kombuis gaan help het nie, tree Jesus self vir haar in en antwoord: “Laat staan haar. Waarom val julle haar lastig? Sy was besig met ‘n besondere taak. Sy was besig om My liggaam vooruit te salf vir my begrafnis want Ek sal nie, soos die armes, vir altyd by julle wees nie. Ek verseker julle dat oor die ganse wêreld waar die Goeie Tyding van verlossing verkondig sal word, sal ook vertel word van dié goeie daad wat Sy vir my gedoen het. So sal sy altyd in herinnering gehou word.”
Lering sonder woorde.
Wat ʼn pragtige verhaal, hierdie woordelose boodskap van onbaatsugtige liefde.
Wat kan ek gee?
Is ons ook gewillig om ons allerbeste vir Jesus te gee: ʼn jaar se salaris, ons reputasie? Is ons gewillig om dinge vir Hom te doen wat vir Hom vreugde sal bring, dinge wat moontlik nie deur al Sy dissipels waardeer sal word nie, dinge wat net Hy self sal verstaan? Die vraag is eintlik: het ek Hom innig lief?” Op daardie gedenkwaardige dag, was die tafelgeregte seker besonders en die gemeenskap met Sy ander dissipels ook kosbaar, maar vir Jesus was Maria se gawe die uitstaande gebeurtenis wat Hom altyd sou bybly. Sou daardie kosbare oomblik miskien ook deur Sy gedagte geflits het terwyl Hy besig was om die uiterste prys aan die kruis te betaal? Sou Hy miskien gedink het: “Maria, jy het jou kosbare fles met nardus gebreek om My vir ‘n paar minute te seën, nou gee Ek My liggaam om vir jou gebreek te word sodat jy vir ewig geseënd kan wees.”
Soos wat die geur van Maria se liefdesoffer almal in daardie kamer se aandag getrek het, mag ook die lieflike geur van Jesus se vredesoffer deur die ganse wêreld versprei word.”
……….