HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.
Lees asb. Luk. 10:38-42
‘n Ietwat ongewone huis.
‘n Klein perikoop met ‘n groot boodskap. Die hoofkarakters in die verhaal is Martha en Maria (uitgesonderd natuurlik Jesus self). Hulle het ook nog ʼn broer gehad met die naam van Lasarus. Hy was die een wat gesterf het en weer deur die Here Jesus uit die dode opgewek is. Ons lees nie veel meer in die Woord van Lasarus nie, behalwe in Joh. 12:2, waar vermeld word dat hy aan tafel was met ʼn aantal persone wat saam met Jesus geëet het. Daar is ook nêrens in die Woord enige aanduiding dat enige van hierdie drie persone getroud was nie. Moontlik was hulle alleenlopers. Hulle was egter geheg aan mekaar, lief vir mekaar en het dit dienstig gevind om tot aldrie se voordeel, as ʼn groep saam onder een dak te leef. Soos wat maar dikwels in alle families gebeur, het hulle somtys geïrreteerd met mekaar geraak soos wat ons ook sien in hierdie insident. Hulle het in ʼn klein dorpie met die naam van Betanië , naby Jerusalem gewoon.
‘n Huis waar Jesus besonder welkom was.
Wat besonders is omtrent hierdie familie, is dat die Here Jesus ʼn baie hegte verhouding met hulle gehad het, hegter as met enige ander familie waarvan ons in die Evangelies lees, hegter selfs as met sy eie familie. Daar word vertel van twee geleenthede wat Hy met hulle saam geëet het en ook hoe Hy hulle noodroep beantwoord het toe Lasarus gesterf en Hy ʼn lang, lang afstand moes reis om hom uit die dode op te wek.
Hierdie familie en Martha in besonder van naderby bekyk.
Laat ons die Skrifgegeeltes nagaan waarin hierdie familie vermeld word:
Luk. 10:38-42 beskryf die huidige voorval waar Jesus vir Martha tereggewys het. Ons meld hierdie insident voor die opwekking van Lasarus want dit is duidelik dat hulle ten tyde daarvan reeds ʼn hegte verhouding met die Here Jesus gehad het (Sien Joh. 11:1-3).
Joh. 11:1-44 handel oor die dood en opwekking van Lasarus.
Matt. 26: 6-13, Mark. 14:3-9 en Joh. 12:1-11: In hierdie Skrifgedeeltes is die insident waar Maria die Here Jesus met olie gesalf het, opgeteken. Hierdie voorval het plaasgevind na die opweking van Lasarus.
Voordat ons hierdie insident van naderby beskou, moet ons miskien eers twee ander uittreksels uit die Skrif waarin Martha ook vermeld word, nagaan, naamlik Joh. 11:18-42 en Joh. 12:1-2.
Martha as persoon.
Uit hierdie Skrifgedeeltes wil dit voorkom of Martha die leier van hierdie groep van drie was:
‘n Leiersfiguur.
Sy was die eienaar van die huis en nie Lasarus, die man in die huis nie. Dit was ʼn ongewone opset gedurende die tye waartydens hulle geleef het toe ʼn vrou normaalweg ondergeskik was aan die manspersone om haar.
Selfstandig en verantwoordelik.
Die feit dat sy haar eie huis gehad het, is ook lofwaardig en dui op ‘n selfstandige, verantwoordelike tipe persoon want daar is so vele wat verwag dat alles vir hulle gedoen moet word. Hulle glo dat die wêreld hulle iets skuld en sit agteroor in die verwagting om gawes te ontvang eerder as om op te staan en gawes uit te deel. Sy het nie van andere verwag om na haar om te sien nie, maar vir haarself gesorg en boonop huisvesting aan twee van haar familielede verskaf. Wel gedaan!
Identifiseer behoeftes en vind oplossings.
Wanneer daar binne ‘n groep waarvan sy deel was, ‘n behoefte ontstaan het dat iemand iets moes doen, het sy spontaan na vore getree, moue opgerol en aan die werk gespring. Sy was ‘n besige tipe persoon, kon raakvat en sou toesien dat dinge betyds en behoorlik afgehandel word. Op hierdie betrokke dag toe die Here Jesus in haar huis ingekom het, was Hy waarskynlik vergesel van ʼn hele aantal van sy dissipels, sowel as van lede van die publiek wat nuuskierig was om vir Jesus te sien of te hoor wat Hy sou sê. Martha het die situasie vinnig opgesom, onmiddellik verantwoordelikheid aanvaar vir haar gaste en aan die werk gespring om kos vir hulle te voorsien.
‘n Talentvolle, bekwane persoon.
Sy moes ʼn baie bekwame kok gewees het, want in Joh. 12 lees ons van ʼn spesiale maaltyd wat vir Jesus en ‘n aantal gaste in ‘n ander huis voorberei was, en waar sy blykbaar verantwoordelik was vir die spyseniering. Sy het geweet hoe om te organiseer en ʼn mens kon so ‘n groot byeenkoms aan haar toevertrou. Sy sou jou nie in die steek gelaat het nie. Elke pastoor sou van geluk kon spreek om so ʼn lidmaat in sy kerk te hê.
Sterk van gees.
Boonop was sy sterk van gees en sou nie maklik onder teëspoede en rampe geknak het nie. Wanneer andere in sak en as sit, sou sy die een gewees het wat hul trane sou afdroog, en ʼn manier sou vind om iets aan die omstandighede te doen. Toe Lasarus gesterf en Jesus vier dae laat daar opgedaag het, was sy die eerste een wat gehoor het dat Jesus op pad en al naby die huis was. Sy het waarskynlik iemand buite aangestel gehad om vir Hom op die uitkyk te wees en vir haar te kom sê sodat sy Hom tegemoet kon gaan en die situasie met Hom kon bespreek voordat al die roubeklaers op Hom sou toesak.
Sy het dus ‘n besondere teenwoordigheid van gees getoon. Maria was so oorstelp deur droefheid dat sy magteloos in die huis in trane gesit en dit aan Martha oorgelaat het om beheer oor die situasie te neem. Sy was ‘n sterk en praktiese vrou en baie mense het op haar vertrou.
Martha se swakpunt.
Maar Martha se sterkpunte was ook haar swakheid. Haar besondere vermoë om beheer oor die alledaagse dinge van die lewe te neem, het meegebring dat sy meer op die materiële sy van die lewe gefokus het, as op die dinge van die gees. Sy was geneig om haar hande bo haar hart te plaas; die vlees bo die gees. Met haar geloof het daar niks geskort nie. Sy was rotsvas gegrond en het tewens duidelik bely: “Ja Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.”
Meegevoer deur haar passie vir werk en organisasie.
Waar het die fout dan gelê waaroor Jesus haar tereg moes wys? Sy het haar talent om te organiseer en dinge gedoen te kry, bo haar omgang met Jesus geplaas en sodoende het dit ‘n afgod in haar lewe geword. Daarom dan kon sy ook baie ontsteld raak wanneer hierdie afgod in haar lewe bedreig was, soos wat in die huidige situasie gebeur het. Miskien moes sy mielies stamp vir 10 tot 20 mense, rys kook, 2 of 3 hoenders slag en gaarmaak want gewoonlik was hulle net drie mense aan tafel en nou was haar huis propvol gaste. Sy het paniekerig geraak. Sy het gedink: “Hulle het vêr gestap. Hulle is honger. Ek gaan nie betyds vir hulle iets gereed hê nie. Almal se oë gaan op my wees. Ek sal moet gou maak. Waarom kan ander mense tog nie hulle verantwoordelikheid besef nie? Waarom is hier niemand om my te help nie? Waar is daardie nuttelose suster van my tog?”
‘n Rooigesig blaps!
Met die bloed en vere van die hoenders aan haar hande storm sy die eetkamer in waar Jesus en die andere bymekaar is en wat wil jy nou meer, daar sit haar sus Maria reg by die voete van die Here Jesus, so koel soos ʼn komkommer en drink elke woord van haar Onderwyser in. Skielik vlam Martha se humeur op, nie net teenoor Maria nie maar sommer teen Jesus ook. “Hoekom is mense so onsensitief; hulle dink net aan hulle self. Hulle dink nooit aan my nie. Ek is altyd die een wat myself moet afsloof en hulle gaan sit net aan om te eet. En dit sluit Jesus ook in. Hy sit rustig daar en praat oor alles en nog wat, maar waarom…” Die volgende oomblik is sy by die Here en stort die kwaai gedagtes uit haar kokende hart oor haar stywe lippe en hoor sy haarself ontplof: “Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help!” Die woorde was uit en ek dink daar was ‘n geskokte stilte terwyl Maria haastig op die been kom.
Die wat Hy liefhet, snoei Hy sodat hulle meer vrug kan dra.
En Jesus, wat het Hy gedoen? Verskoning aangeteken? Nee, Hy het hierdie dierbare vriendin en dissipelin te lief gehad om haar in haar ontsteltenis te laat voort ploeter. Moontlik het Hy haar gemis in daardie klein kringetjie wat om Hom vergader het. Wat sy nou nodig gehad het, was om tereggewys te word sodat sy sou weet om nie weer in die toekoms oor hierdie swak punt in haar lewe te struikel nie, dus het Hy geantwoord: “Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.”
Eina hoe seer tog. Sy was tog so seker gewees dat sy reg was en hulle verkeerd. Nou moes sy hoor dat sy verkeerd was en hulle reg! Sy is deur die Here Jesus tereggewys en haar lui suster is aan geprys; hoe verskriklik! Almal was salig gelukkig terwyl hulle houtgerus na Jesus sit en luister het en dit terwyl sy besig was om te werk en te sweet en nou moes sy nog aangetree word ook! Hoe onregverdig tog.
Here, ons verstaan nie so mooi nie.
‘n Mens wil-wil so half-en-half jou arm om Martha se skouers sit en so effe beskuldigend in Jesus en Maria se rigting loer, maar voor ons dit doen, kom ons kyk net ‘n bietjie dieper na hierdie saak. Beteken dit dat ʼn mens nou maar al jou werk net so moet los en die hele dag deur met die dinge van die Here besig wees? Wie sal die treine loods, die winkels oopsluit en die kasregisters beman, die lande bewerk, die kroos was, aantrek, kosgee en skooltoe neem?
Benut jou geleenthede.
Reggenoeg, maar net so was daar ook ‘n baie praktiese rede waarom dit belangrik was om aan Jesus se voete te sit. Vandag het ons die woorde van die Here Jesus in die Bybel opgeteken en kan ons te enige tyd gaan sit en alles lees wat Hy twee-duisend-jaar gelede gesê het. In daardie tyd egter, het Hy die land van noord tot suid en van oos tot wes deurkruis om goddelike lering te gee, en moes ʼn mens elke geleentheid aangryp om Sy woorde te hoor wanneer Hy by jou dorp verbygegaan het en soveel te meer nog wanneer Hy by jou aan huis gekom het. Elke ding wat Hy gesê het, was direk van die Vader uit die hemel en jy kon nie bekostig om dit te mis nie, want jy sou waarskynlik nooit weer die voorreg hê om dit te hoor nie.
Vra God vir ‘n hemelse perspektief.
Tweedens het Martha vertrou op haar eie diskresie om te doen wat sy gesien het as nodig op daardie stadium, naamlik om voedsel voor te berei. Sy moes meer sensitief gewees het vir Jesus se perspektief, oor wat Hy beskou het as die meer vrugbare benutting van daardie tydjie wat hulle bymekaar gehad het. Die Here weet van al die praktiese dinge wat ons aandag verg, maar Sy weë is hoër as ons weë en Sy gedagtes as ons gedagtes. Ons perspektief op ons omstandighede is aards, Syne hemels. Ons fokus op die tydelike dinge, om dit tot ons beste voordeel te bestuur, maar Hy wil ons optredes so bestuur dat dit vir ons die grootste ewige voordeel sal inhou. Sy perspektief verskil van ons s’n. Ons s’n is horisontaal, Syne vertikaal. Gedagtig hieraan, kom ons kyk weer na die gebeurtenis.
‘n Verspeelde kans – onnodiglik.
Martha se ywer om in die mense se fisiese behoeftes te voorsien, het haar beroof van die geleentheid om in diepe gemeenskap met die Here te tree. As sy by die groep aangesluit en met Jesus gemeenskap gehad het, sou Hy waarskynlik, nadat Hy aan hulle oorgedra het wat Hy van die Vader ontvang, gesê het: “Wel mense, dit is al vir eers. Wat daarvan as julle dames nou vir ons iets voorberei om te eet. Sommige van die manne se mae gor al van die honger.” Martha sou dan baie hande gehad het om haar te help, en hulle sou in gesellige samesyn die kos kon voorberei terwyl hulle praat oor dit wat Jesus hulle so pas geleer het.
Geestelike sensitiwiteit.
Dit leer ons om ons lewens te lewe in afhanklikheid van, en onder die leiding van die Heilige Gees. Hy mag soms wanneer ons dit nodig ag om een of ander praktiese ding doen, ons lei om eerder ʼn paar minute lank ons harte op te hef tot Hom sodat Hy sy gedagtes daarin kan lê. Ons sal nie hierdeur tyd verloor nie, nee ons sal vind dat ons in staat sal wees om ons take vinniger en voorspoediger afgehandel te kry.
Geheiligde Martha’s.
Hy wil nie die vlytige Martha’s in Maria’s verander nie maar wil die Martha’s leer dien onder die leiding van die Heilige Gees. Wanneer ons gelei word deur die Gees, sal ons nooit so hemels gesind wees dat ons van geen aardse waarde sal wees nie en ook sal ons nie so aards gesind wees dat ons nie van hemelse waarde sal wees nie.
Om die beste te kies, is mos die beste.
Wat Maria betref: die Here sê dat sy die beste deel uitgekies het, beter as dié van Martha want terwyl Martha gekies het om baie dinge te doen, het Maria gekies om die éen ding te doen wat nodig was en wat nie weer van haar weggeneem sou kon word nie. Aardse dinge gaan verby maar die dinge van God bly by ons verewig en ewig. Dinge soos reinheid, geloof, liefde, vergifnis, vrede, wysheid, die ewige lewe; hierdie dinge word deel van ons wese, en bly deel van ons gees wanneer ons lewe voortgaan anderkant die graf, maar hierdie liggaam, sowel as dit wat my hande kan doen, sal agterbly. Laat ons daarom vir Maria navolg in haar keuse om aan die voete van die Here Jesus te sit.
……….