HIERDIE DOKUMENT KAN GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WOORD
In ‘n vorige artikel het ons gewys op die noodsaaklikheid om op God ingestel of gefokus te wees sodat Hy ons gemoed of denke kan omvorm tot dié van Jesus Christus. Hierdie vernuwingswerk het natuurlik by ons wedergeboorte reeds begin toe die “sin van Christus” in ons ingeplant is: “Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.” (1 Cor 2:16)
Reeds vir die Ou Testamentiese gelowiges het die Here ‘n nuwe hart belowe: “En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” (Eseg 36:26,27) “Soos met vet en vettigheid sal my siel versadig word, en my mond sal roem met jubelende lippe as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins. (Ps 63:5,6)
Glo jy dat dit moontlik is dat jy so van binne na buite ‘n totale metamorfose kan ondergaan? Moeilik om te aanvaar? Maar wat dan van soorgelyke wondere wat gedurig deur God se beskikking in die natuur plaasvind sonder dat die mens enige deel daarin het?
Dink maar aan die skoenlapper wat ‘n piepklein eiertjie op ‘n blaar lê waaraan dit dan vaskleef. Binne-in die eier ontwikkel die embrio in ‘n totaal anderssoortige wese naamlik ‘n larwe of ruspe met ‘n kop, ‘n lyf wat lyk of dit uit ringe of segmente bestaan en ‘n aantal baie kort pote. Hierdie wonderwese is verskriklik gulsig en vreet summier die blaar op waarop hy uitgebroei het en baie ander blare om hom ook, en vervel keer op keer tot hy uitgegroei is. Daarmee is sy buitelug lewe verby en spin hy homself onderaan ‘n tak in ‘n koekon toe met sy of iets soortgelyks wat hy sommer self vervaardig. Binne-in daardie kokon, weereens verborge vir alle oë, vind ‘n verdere wonder plaas. Wanneer die ruspe vir die laaste keer vervel, kom ‘n papie te voorskyn wat binne ‘n uur of twee ‘n harde dop om homself ontwikkel. In dié vorm kan hy vir die res van die winter bly voortbestaan maar wanneer die lente kom, vind ’n volgende wonder plaas. Sy spysverteringsappe verteer dele van sy liggaam en hy ontwikkel voelers, lang bene met pote en vlerke met die pragtigste kleure in unieke ontwerpe. Dan breek hierdie nuwe skepping van God uit die droë dop van sy kleedkamer. Sy vlerke kleef nog aan sy lyf vas maar sy liggaam begin bloed daarin pomp en binne ‘n paar uur ontvou hulle in kleureprag en vlieg hy of sy op in die bloue lug en vladder van blom tot blom om te eet, te groei en op haar beurt ‘n nuwe geslag voort te bring – ons noem dit natuurlik metamorfose of gedaanteverwisseling.
Nou, as God dan sonder ons hulp so ‘n asemrowende wonder vir die kortstondige skoenlapper bewerk, hoeveel te meer sal Hy nie met graagte ‘n soorgelyke geestelike wonder wou doen vir Sy kinders wat na Sy beeld geskape is en vir ewig met Hom saam sal woon nie? Hierop sou ons geredelik “Ja” wou antwoord. Maar waarom geskied dit dan oënskynlik so gemaklik en foutloos vir die skoenlapper en so moeitevol vir ons as mense? Die antwoord is voor die hand liggend: omdat die skoenlapper sonder om eers te dink en te besluit, toe gee aan die instink wat God in hom ingeskape het. Hy doen die dinge wat hy moet doen sonder om vrae te stel, en dit wat hy nie vir homself kan doen nie, laat hy aan God oor om te doen en wag geduldig daarop. Die mens is egter met ‘n eie wil geskape en gedurigdeur bevraagteken ons Hom en dwarsboom ons Hom in die werk wat Hy in ons wil doen. Soms is ons ongeduldig omdat ons nie ons jaloesie of humeur of wat ookal kan oorkom nie. Dan, natuurlik het ons boonop die duiwel as teenstander terwyl die vlinder waarskynlik nooit enige las van hom het nie!
Maar kom ons sit nou ons verskonings opsy en kyk na ‘n paar praktiese dinge wat die Heer binne ons bereik geplaas het om te doen, waardeur ons met Hom kan saamwerk om hierdie pragtige geestelike metamorfose ook in ons lewens te bewerk. Hiervoor het Hy mos Sy Heilige Gees gegee om binne-in ons te woon en ons gedurigdeur by te staan.
Die eerste kragtige hulpmiddel is Sy Woord. Die Bybel is geen gewone boek nie maar is lewend soos saad wat binne-in jou ontkiem, groei, en geestelike vrug soos liefde, blydskap, vrede, ens., voortbring. Daarom moet ons dit met aandag bestudeer en dit wat ons geleer het, dadelik toepas sodat ons dit nie weer verloor nie. Toe Joshua deur God aangestel is as die generaal van Israel se weermag, het Hy hom nie beveel om al die jongste oorlogstegnieke en wapens te bestudeer nie, maar om sy Woord dag en nag te bepeins: “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.” (Jos 1:8) Het jý die Here se Handleiding al ‘n slag deeglik deurgewerk? Doen dit gerus. Belê jou tyd daarin; dit is ‘n puik belegging vir nou en vir die ewigheid. Vir elke minuut wat jy hier insit, kry jy miljoene minute krediete in die hiernamaals!
Waarom het die Woord so ‘n kragtige impak op die mens? Omdat daar ‘n baie noue band tussen Jesus en die Woord is. Dit is asof die Woord en die Seun een is. In Joh 1:1 word Jesus genoem die Woord wat van ewigheid af bestaan het: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” En in Joh 1:14 word Hy beskryf as die Woord wat vlees geword en op aarde tussen ons kom woon het: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon … .“ Wanneer ons die Woord lees hoor ons die Seun met ons praat en sien ons Hom optree in mense se lewens. Maar meer nog: Hy het Homself ook die brood van die lewe genoem. Brood moet geëet word om krag en energie te kan bekom. Wanneer ons die Bybel gelowig bestudeer en absorbeer, is dit om Jesus in die gees in ons innerlike wese in te neem. Tot die mate wat ons die Woord bedink, sal wêreldse gedagtes uit ons denke verdring word en sal ons gemoed gevul word met wat vir God belangrik is. Om die woord te bedink is om gehoorsaam te wees aan die Here se opdrag soos vervat in Kol 3:2: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.”
Verder: oor ons denke moet ons waghou soos ‘n skaaphond oor ‘n trop skape. Sodra ‘n gedagte wil wegbreek en iets wil bedink wat nie is wat Jesus sou bedink het nie, moet ons dit haastig terugkeer na die trop toe want as dit eers koers gekry en op spoed gekom het, is dit baie moeilik om weer aan te keer en string ‘n hele klomp ander gedagtes agterna. Dit mag dan ure duur voordat ek hulle almal weer bymekaar het, die stof gaan lê het en my gedagtes weer rustig kan wei en kan herkou aan dit wat edel is: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit … en die God van vrede sal met julle wees.” (Fil 4:8,9). Wat ‘n heerlike belofte! ‘n Stukkie Paradys deurspoel met die aangename geure van geestelike blomme en vrugte sal in my gemoed gevestig en in my optrede deur andere waargeneem word: “Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God … “ (2 Kor 2:15).
Verder moet ons as hemelwesens in wording, soos die engele, soveel van ons tyd as moontlik wy aan aanbidding en lofprysing van ons Skepper, Vader en Verlosser. Dit doen ons eerstens in ons gebede soos Moses, Hanna, Dawid, Maria, Sagaria en al die andere wat Hom van harte liefgehad het. “Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.” Ons gebede tydens ons stiltetyd moet soos die “Onse Vader,” begin met lofprysing en ons moet nie haastig raak om ons petisies aan Hom voor te lê nie, nee, nee, verheerlik Hom eers totdat die Heilige Gees vir jou vrede gee om jou, en andere se behoeftes te vermeld.
Dan kan ons ook dwarsdeur die dag, waar ons ookal rondbeweeg, in ons harte lofliedere, soos die wierook in die tempel, na Hom laat opgaan: “ … en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here,… “ (Efe 5:19) As ons begeer om die Heer se teenwoordigheid te belewe moet ons, onsself vul en omring met lofsange want Hy woon in die lofsange van Sy mense: “Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel!” (Ps 22:4)
Terwyl ek hierdie kragtige hulpmiddele aanwend om met God saam te werk aan dit wat Hy besig is om in my te doen, moet ek onthou dat ek net soos die skoenlapper wat homself nie van ‘n wurm in ‘n skoenlapper kan verander nie, myself ook nie van ‘n vleeslike – in ‘n geestelike wese kan omvorm nie. Metamorfose is ‘n wonderdaad van God. Daarom moet ek sommer elke nou en dan my magteloosheid aan Hom bely, maar ook my vertroue dat Hy daardie wonder in my wil en sal doen. Soos wat ek as klein seuntjie gedoen en my pa se hand net vaster gevat het toe die honde ons wou verskeur, plaas ek my vertroue kinderlik in my hemelse Vader en beleef ek dan hoe die Heilige Gees my vervul en omring sodat ek saam met Paulus kan uitroep: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Fii 4:13).
Geniet jou metamorfose terwyl jy hemeltoe reis!
……….