‘n Christus gemoed

fokus 1

HIERDIE DOKUMENT KAN GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD

Twee van ons vorige artikels het oor die mens se gemoed (“mind”) gehandel: die eertse oor ‘n verwarde- en die tweede oor ‘n passiewe gemoed of denke. God het ons natuurlik nie met hierdie gebreke geskape nie. Hy het ons na Sy beeld geformeer en aanvanklik was ons gedagtewêreld helder, geordend, positief, rein en baie skerp. Ons denke moes waarskynlik gewees het soos dié van die latere mensgeworde Seun van God. Daarom het ons oerouers hul Skepper behaag en hulself en hul wêreld elke dag geniet. Met die sondeval egter, het die mens iets soos ‘n geestelike breinskade opgedoen wat hy nie deur sy eie pogings kon herstel nie.

Ons innerlike mens is baie soos ‘n hoogsontwikkelde elektroniese stelsel wat nie deur die gebruiker en selfs ook nie deur ‘n tegnikus op grondvlak herstel kan word nie, maar na die vervaardiger verwys moet word. Om die beskadigde komponent te vervang kan baie duur wees. Ons Vervaardiger, Jesus Christus, moes ‘n geweldige prys aan die kruis betaal om die skuld wat ons voor God opgeloop het, te betaal en daardeur die reg te verkry om weer in ons lewens betrokke te raak. Sondevergifnis kan ons in geloof absoluut gratis ontvang maar die innerlike vervanging van die beskadigde komponente van ons gemoed wil Hy een vir een met ons samewerking doen. Dit sal nog steeds Hy wees wat dit deur die werking van Sy Gees doen, maar ons moet dit begeer en Hom daarvoor vertrou. Geleidelik sal ons dan na die beeld van God herstel word soos wat ons aanvanklik was en sal ons die genot van menswees weer beleef.

In hierdie skrywe gaan ons probeer om ‘n antwoord te gee oor wat om te doen sodat dit vir ons ‘n werklikheid kan word.

Die heel, heel eertse stap, die eertste klein treetjie, is om ons lewensfokus te verskuif.

Laat my illustreer.Toe ek nog so ‘n jong kannetjie was, het ek eendag saam met my pa in ‘n onbekende omgewing vir urelank in die veld gaan stap en later per abuis op privaat grond beland. Ons kon toe nie anders as om oor ‘n plaaswerf te stap om weer onder by die grootpad uit te kon uitkom nie. Die eienaar en sy werkers was nie tuis nie maar sy waghonde wel, en die volgende oomblik het vyf boerboele, blaffend en tjankend van ontsteltenis op ons afgestorm. Ek was verwese van skrik en oortuig dat ons binne sekondes uitmekaar geskeur sou wees, maar my pa het net my hand stywer in syne vasgevat en sonder wyfeling aanhou stap. “Moenie vir hulle kyk nie; kyk bo-oor hulle. Moenie bang wees of skree nie. En moet nie my hand laat los nie,” het hy bondig beveel. Bewend het ek gehoorsaam en het ons aanhou stap, stap, stap sonder om ons pas vir ‘n oomblik te verslap, terwyl die vyf dierasies om ons bondel, na mekaar hap, op die agterpote steier en blaf dat hoor en sien vergaan. Al hoop wat aanhoudend deur my gedagte geflits het was: “Pa sal maak dat hulle ons nie byt nie; pa is baie groot en sterk; pa weet altyd wat om te doen; pa sal ons hier uit kry. Pa, pa, pa!” En so het ons oor die werf gestap, anderkant die plaaspaadjie gevind wat na die grootpad lei en net aanhou stap. Een-een het die honde belangstelling in ons verloor en teruggedraai, sodat ons na net ‘n paar minute die gevaar agtergelaat het en rustig op pad was huistoe.

Die les wat nou baie jare later uit daardie dag se onvergeetlike episode vir my uitstaan, is dat ons fokuspunt bepaal wat in ons gemoed gebeur en hoe ons optree. My fokuspunt was net my pa, my pa, my pa. Al my hoop op oorlewing, was op hom gevestig. Ek het nie eers gedink aan ‘n eie plan om uit die penarie te kom nie. Daarom kon ek uit die bedreiging uit uitstap.

Ons geestelike probleem is dat ons die grootste gedeelte van ons wakker ure, op die wêreld hier om ons fokus; hoe ons moet maak om die beste vir onsself daaruit te haal. Die wêreld (of die duiwel wat in die wêreld werksaam is), gryp en behou dan ons aandag en wanneer hy dit eers het, doen hy een van twee dinge daarmee: óf hy verlei ons om sonde te doen, óf hy maak ons bang vir wat met ons kan gebeur. Op dié manier hou hy ons voltyds besig om naarstiglik óf die lekker, blink dinge van die lewe na te jaag óf om voorbrande te maak en mure om ons te bou om vyande soos geldnood, siektes en geweld van ons lyf af weg te hou. Maar, dit was beslis nie hoe Jesus die lewe benader het nie. Die voorbeeld wat Hy gestel het, lyk gans anders; lees gerus maar weer ‘n slag deur die Evangelies.

Vir ons kan alles ook ongelooflik verander as ons bloot net ons fokuspunt van die wêreld na God sou verskuif. Maar hoe doen ons dit en waar begin ons? Eerstens moet ons vir onsself die saak uitmaak of dit voordelig en veilig is om, soos die Here Jesus, ons hemelse Vader werklik met ons lewens, ons dierbares se lewens, ons eiendom ons gesondheid en ons toekoms te vertrou. Hierop kan ons met die verstand summier antwoord: “Maar natuurlik kan ons, ek meen …, “ maar stem jou hart saam? Die beste manier om jou hart te oortuig, is om die beloftes van God in die Woord na te slaan en ernstig daaroor te peins, diep daaroor nadink. Beloftes soos die volgende:
“ … want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” (Heb 13:5)
“ … roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Ps 50:15)
“En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.” (Fil 4:19).
Hierby kan ons na hartelus byvoeg die beloftes wat ons in ons Bybels onderstreep of dalk deur die internet bekom het. Daar is ten minste 3000 beloftes wat ons so kan versamel. Daarby kan ons voeg die verhale van God se handelinge met Sy uitverkorenes soos Noag, Abraham, Moses en Dawid en sien hoedat Hy hulle nooit, maar nooit gefaal het nie. Dit alles moet ons oordink totdat ons oortuig is dat ons in goeie hande is wanneer ons in Sy hande is. So sal ons besef dat net ons hemelse Vader vir ons die vreugde en veiligheid kan gee wat ons so graag wil hê.

Dan moet ons ‘n radikale besluit neem om 24 uur per dag en 365 dae per jaar vanuit ons gees op Hom te fokus – let wel, nie allerhande dinge vir Hom te doen of nie te doen nie (dit sal later vanself volg) maar vireers moet ons net leer om op Hom te fokus. Soos wat die rugby liefhebber se oë vasgenael is op die TV skerm wanneer die wêreldbeker eindstryd aan die gang is en niks en niemand sy aandag kan wegtrek nie, so moet ons op God fokus. Dit waarop ‘n mens intens fokus, neem jou later gevange. Fokus jy op geldmaak en sluit jy jou oë, sien jy net geleenthede om meer rykdom te versamel; fokus jy op die Rooi, Geel, Swart of Wit gevaar sien jy ‘n dreigende vyand om elke hoek en draai. Net so, as ons deur God in beslag geneem, gevange geneem wil word en Sy heerlikheid wil indrink, moet ons aanhoudend op Hom fokus; ook wanneer ons met andere in gesprek is, ook die advokaat wat besig is met kruisondervraging van ‘n getuie, of die landdros wat op die bank sit om ‘n ingewikkelde saak te bereg en sy brein inspan, is om die ware feite te wete te kom; ook hulle moet terselfdertyd met hul gees op God fokus. Ongewoon vir die sondige vlees; maar daar is geen ander uitweg nie. Dit is ‘n brug wat ons moet oorsteek, ‘n geestelike geloofsbrug, ‘n nuwe geestelike lewensbenadering. Duskant die brug tree ons meestens in die vlees op en net so nou en dan, wanneer ons in ‘n penarie beland, fokus ons in geloof op God; anderkant die brug fokus ons normaalweg op die Here maar in swakheid val ons soms weer terug op ons eie vermoëns.

Eendag, net na sononder sit ek met twee van my kleinkinders op die voorstoep en kyk hoe die vlermuise deur die lug swenk, swaai en duik om insekte te vang. Ek sê toe vir hulle dat vlermuise nie oë het nie en vra of hulle my kon sê hoe hulle dan so heerlik kon baljaar sonder om met mekaar of met die huis of wat ookal te bots. Na baie kopkrap sê die dogtertjie sy dink hulle het wel oë, maar loer net deur sulke fyn skrefies. Haar jonger boetie se oplossing vir die raaisel was: “Oupa, hulle konsentreer!”

Miskien was hy reg dat vlermuise pal op hul “radarskerms” konsentreer soos wat ander diere hul gehoor of reuksintuie gebruik. Hierin is ook vir ons ‘n les. Soos wat die Here die vlermuis met ‘n besondere klanksintuig toegerus het om sy weg mee te baan, het Hy ons gees met ‘n baie effektiewe geestelike sintuig toegerus waardeur ons met hom kontak kan maak en kontak kan behou. Soos wat die vlermuis moet leer om sy sintuig te gebruik, moet ons ook leer om op die Heer moet konsentreer. Dit is nie so maklik nie, veral as ons ons lewe lank ons eie denke gebruik het om vir ons ‘n weg te baan, maar dit is absoluut moontlik, so nie sou die Here dit mos nie so bepaal het nie. Kom ons kyk na ‘n paar Skrifgedeeltes:

“Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” (Deut 6:5) Hierdie lering is niks nuuts nie; dit was reeds God se opdrag aan Sy mense in Moses se tyd. Die volgorde is ook betekenisvol: hart (gees), siel (verstand, wil en emosies) en krag (liggaam). Soos ‘n weermag se soeklig wat ‘n wit ligkolom deur die duisternis stuur om ‘n teiken doer vêr te verlig, moet ons geloofsvisie op die Here gerig wees – alles wat buite daardie ligkolom is, is duisternis en van minder belang. Dit is die geheim en dit is wat die Heer wil hê.

“Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!” (Ps 43:2) Hier word dieselfde waarheid weer van die mens se kant af beskryf. Korag die aanbiddingsleier is aan die woord en vertel van sy verskriklike dors na God en hoe hy fokus om by Hom uit te kom om sy dors te kan les. Hy sê hy is behoorlik soos ‘n wildsbok wat die wind snuif om uit te vind waar hy water kan kry om homself mee te verkwik. Ons moet daar kom dat ons smagting na God so erg is dat niks anders meer tel nie: ons fokus so intens op Hom is dat ons bo-oor enigiets klouter wat in ons pad staan. Ons verkyker is op Hom ingestel, ons volle aandag is op Hom gekonsentreer; alle ander dinge is bysaak.

“… en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.”) (Ps 37:4) “Verlustig” kan ook beskryf word as “om ‘n intense genot (in God) te vind.”

Ons aardsvyand, die duiwel, sal natuurlik alles in sy vermoë doen om ons aandag van die Here af weg te trek. Hy sal nie net versoekinge by ons voordeur aflewer nie maar ons onverwags attent maak op die lelike dinge wat nog in ons lewens oorgebly het. Sodra ons daarop begin fokus, verloor ons ons fokus op Jesus en verval ons juis in dié dinge waarvan hy ons aankla en wat ons lankal aan die Here bely het.

Ons moet selfs ook nie op die begeerlike vrug van die Heilige Gees fokus nie; liefde, blydskap, vrede ens. , nee, ons moet op Jesus fokus, dan sal die lelike vanself uit ons lewens verdwyn en die mooie daarin floreer. “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (2 Kor 3:18)

Fokus bring verandering. Kyk maar na die gesigte van mense wat na een of ander aangrypende toneel staan en kyk en let op hoe dit in hul gesigsuitdrukkings weerspieël word: afsku, woede, teerheid, blydskap en droefheid wat die trane laat vloei, ens. So ook sal die heerlikheid van Jesus wat ons aanskou deur die werking van die Gees op ons oorgedra en in ons ingeplant word. Ja, ons kan onsself nie verander nie, maar deur in geloof so intens na Hom te kyk, word ons verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid. Óns deel is om te glo, te fokus; Sý deel is om ons na die beeld van die Seun te verander. “Van heerlikheid tot heerlikheid,” mensig, is dit nie heerlik nie: dat die heerlikheid van die Seun in en om my sal wees!

In ‘n volgende artikel kyk ons na hulpmiddele wat God ons gegee het waardeur ons met Hom kan saamwerk sodat Hy die vernuwingswerk in ons kan doen.

……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → CHRISTUS GEMOED . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha

    ……….