‘n Passiewe gemoed

Lui 5

HIERDIE DOKUMENT KAN GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD

In ‘n vorige artikel het ons gepraat oor ‘n oor-aktiewe gemoed waarin gedagtes so vinnig en onordelik op mekaar volg dat die een die ander verdring of uit die pad stamp sodat nie een van hulle tot ‘n logiese vrugbare resultaat lei wat waarde tot die denker se lewe toevoeg nie. Hulle is behoorlik soos ‘n wriemelende klomp kuikens in ‘n oorvol hok wat piep en skree en bo-oor mekaar klouter om by die kosbak uit te kom.

‘n Persoon wat ‘n baie sterk verantwoordelikheidsin het en sy hele wêreld presies en akkuraat wil bestuur, kan baie maklik in hierdie strik trap. Hy is dag en nag aan die dink aan oplossings vir sy talle probleme. Ons almal kan egter maar net soveel spanning hanteer en nie meer nie.

Laat ek illustreer: My pa het ‘n Oldsmobile motor gehad. Sy verkoeler was te klein vir die masjien en wanneer ons van Natal, Transvaal toe moes reis, moes die Olds die Drakenberge behoorlik uitstorm. Bo aangekom het my pa die masjienkap oopgemaak en met ‘n lang stok wat hy oral saamgery het, die verkoeler se prop so gestamp, stamp, tot dit afgevlieg en ‘n bruin stroom kookwater en stoom die lug ingeblaas het. My ma het dan die kosmandjie uitgepak en ons het maar gesmul tot die oorverhitte masjien afgekoel en die verkoeler met kouwater volgemaak was.

So stoom sommige van ons ook teen die lewe se opdraendes uit en wanneer ons tonge later die drukking nie meer kan weerstaan nie, moet almal padgee of hulle loop deur onder die kokende stortvloed van woorde uit ons oorstelpte gemoed.

Breinstorms ontstaan egter nie net deur druk van buite nie maar kan ook opgewek word deur heftige innerlike emosies waaraan toegegee of wat selfs vertroetel word, bv wrewel oor ‘n onreg wat jou aangedoen was, woede omdat jy magteloos staan teenoor andere wat jou finansies bedreig, ontrou van jou huweliksmaat, vernedering of watter dwarsklap die duiwel jou ookal gegee het. Wanneer sulke breinstorms herhaaldelik voorkom, verloor jy geleidelik beheer oor jou denke en kan andere jou dalk sien as ‘n persoon met “’n bitter gemoed.”(Rigt 18:25) Dan geniet jy in die periodes tussen die storms ook nie meer die vrede waarna jy smag nie.

Maar … soos in die vorige artikel aangetoon, het die Here egter ook daarvoor ‘n oplossing soos wat Hy bv vir Israel beloof het: “Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere; en jou borswerings maak Ek van robyne en jou poorte van karbonkels en jou hele ringmuur van edelgesteentes. En al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.” (Jes 54:11-14) Ja, die Here staan altyd gereed met ‘n groot kan koel water om ons te laaf, maar Hy wil veel meer doen as dit; Hy wil ons leer om ons gemoed altyd normaal te hou.

Die antipool, die teenoorgestelde van ‘n oor-aktiewe gemoed, is natuurlik ‘n passiewe gemoed, maar voordat ons so ‘n persoon se denke van naderby beskou, laat ons eers kyk hoe sy denke sigbaar uitspeel in sy dade, in sy optrede. Selde of ooit sal hy aanstoot neem aan dit wat hy moet verduur. Hy laat alles maar begaan en berus daarin asof alles en nog wat maar die Heer se wil is wat hy gelate moet aanvaar. Hy “laat God’s water oor God’s akker loop.” Self doen of sê hy selde iets wat aanstoot gee – ‘n ware sagmoedige Neelsie. Uiterlik lyk hy dus eintlik baie vroom.

Daar is egter ‘n ander kant van sy lewe wat nie so mooi is nie. Hy sal bv ewe rustig sit en TV kyk of koerant lees, terwyl sy vrou haar kantoorwerk moet doen, daarna kos voorberei, die kinders met hul skoolwerk help, die rekenings betaal, die kar laat diens of herstel, die tuin in orde hou en Sondag ook nog probeer om almal in die kerk te kry.

Loer ons deur die venster van sy gemoed, van sy denke, sien ons ‘n skilpad wat kop ingetrek het vir die lewe en nou in ‘n donker hoekie rustig hiberneer. Hy ly dus aan ‘n tipe van gemoeds luiheid om betrokke te raak en sy deel te doen. Die lewensdruk is vir hom eens te veel. Hy skuil diep in sy gemoed vir enige gedagtes of insette wat hom kan ontstel. Hy skep vir homself ‘n kunsmatige paradys. Eintlik is hy baie selfsugtig. Hy het geleer dat as hy nie sy verantwoordelikhede nakom nie, iemand anders dit wel namens hom sal doen. Praat jy hieroor met hom, antwoord hy ewe onskuldig: “Waaroor die bohaai; ek het tog niks gedoen nie?” Maar dit is juis die probleem: hy het niks gedoen nie, terwyl hy iets moes gedoen het!

Alhoewel sy optrede die wêreld vir sy gesin moeilik maak, hou dit nog ernstiger gevolge vir homself in, soos blyk uit die volgende Skrifgedeelte: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.” (Efes 6:12,13).

Lewensbelangrike waarhede word hier openbaar en lees ons dit saam met wat elders in die Skrif vermeld word, kom ons tot die verontrustende besef dat ons onsself midde in ‘n hewige oorlog bevind, ‘n oorlog waarin dit nie oor grondgebied of ander rykdomme gaan nie maar om die siele van die mensdom. Ek en jy is dus die prooi of buit waarom die sataniese magte veg. Dit is ons wat as buit weggevoer sal word. Die Here sal ook nie Sy engele stuur om ons te verlos nie maar het dit so beskik dat ons kragtige geestelike wapens het om onsself mee te verdedig.

Maar dit moet ons besef: ‘n soldaat wat passief op ‘n miershoop gaan sit en ‘n appel eet en maak of die vyand nie bestaan nie, sal verseker sneuwel. As ons ophou om ons wil uit te oefen en om geloof te beoefen, kan ons nie verwag dat God ons sal beskerm nie. ‘n Passiewe soldaat, is ‘n dooie soldaat. Aan die anderkant, solank as wat ons met alle mag met die skild van geloof en die swaard van die Woord veg, kan ons op God vertrou om ons te sterk om die oorwinning te behaal.

Hoe ontstaan ‘n passiewe gemoed? Dit kan oorerflik wees. Die een broer is van nature werkend en die ander een rustend. ‘n Passiewe gemoed kan ook die gevolg wees van ‘n jarelange stryd wat net te veel vir die stryder geword het. Dit is soos met ‘n bokser wat vuisvoos geslaan is; sy gesig is bebloed, sy arms hang slap langs sy sye en hy steier heen en weer in die kryt in afwagting van die uitklophou. Dan hoor hy sy afrigter skree: “Veg, Johannes, veg, nog net twee minute!” Die woorde dring tot hom deur, hy lig sy hande weer op en storm vorentoe en wonder bo wonder plant hy die uitklophou op sy opponent.

Elia het op ‘n stadium ook vuisvoos onder ‘n besembos gesit en wens om dood te gaan maar die Here het ‘n engel gestuur om hom te versterk. Oral in die Skrif vind ons herhaaldelik hoedat ons Hemelse Afrigter ons oproep en aanmoedig tot die stryd soos bv in Hebreërs 12:12,13: “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Die Here is enduit aan ons kant, totdat die laaste klok lui.”

Wat van dagdromery? Dit lyk miskien onskuldig want “Dit doen mos niemand kwaad nie?” Miskien nie vir andere nie maar wel vir jouself. Daardeur skep ‘n mens vir jouself ‘n wêreld wat inderdaad gladnie bestaan nie. Dit laat ‘n ruimte, ‘n leë plek, ‘n onverdedigde plek in jou lewe en die duiwel sal dit vinnig vir homself en sy trawante in besit neem. Hierteen waarsku God ons: “… en gee aan die duiwel geen plek nie.” (Efes 4:27) Dagdromery is in sy wese selfsugtig en gierig: dit wil iets buite die wil van God geniet.

Moontlik droom jy oor hoe wonderlik dit sal wees as jy die Lotto wen of ‘n onbekende, skatryk familielid ‘n fortuin aan jou nalaat … hoe jy jou skriftelike bedanking smalend oor jou moeilike baas se lessenaar sal stoot en met jou baadjie oor jou skouer by die deur sal uitstap. Ai, daardie splinternuwe blink Merc, of maak dit ‘n Jaguar, ‘n skeepsrit na Europa en vandaar vlugte na elke begeerlike stad, … skaats in die Alpe, … die Olimpiese Spele, … en so hou dit aan. Elke aand voor jy in die bed klim, mompel jy nog “ … 200 miljoen, 200 miljoen! In hierdie wêreld wat jy vir jouself skep en waarin jy op ‘n wolk rondsweef, is die Here nie teenwoordig nie en skep jy ruimte vir die bose om jou lewe binne te dring en jou gedagtewêreld geleidelik lam te lê.

Dit kan selfs mettertyd praktiese gevolge meebring. Jou ywer en toewyding by jou werk kwyn, dit word elke dag ‘n groter inspanning om by jou lessenaar te gaan sit en te konsentreer en een oggend kom jou baas se sekretaresse met ‘n dokument in haar hand ingestap en stoot jou ontslagkennisgewing oor jou lessenaar. Jy sluip by die agterdeur uit … met jou baadjie oor jou skouer. En dit alles het begin met ‘n “onskuldige” verbeeldingsvlug. In plaas van om jou oë op God te vestig het jy dinge wat nie bestaan nie, bedink.

Ek veroordeel nie maar het eintlik groot empatie met mense wat in die stoel van passiwiteit beland het. Dit is ‘n diep strandstoel en laag op die grond en as ‘n mens jare lank aldag daarin gesit het, is dit ‘n groot gestoei en gespartel om jouself uit te lig en weer op die been te kom. Vir die vlytiges wat daardie stoel nie ken nie, is dit onbegryplik dat jy so “lekker” kan sit. “Doen tog net iets,” snou hulle jou toe, maar wat hulle nie besef nie is dat die “iets” eers in jou gemoed, in jou denke moet plaasvind en daarvandaan na jou hande en voete sal deurwerk. Maar ook vir die geestelike gemakstoelverslaafde het die Here by monde van sy kneg Paulus ‘n wonderlike belofte: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Filip 4:13)

Wat sien jy in die spieël van jou lewe? ‘n Mens se gesindheid en gedrag teenoor sy gesin, vriende, kennisse en die mensdom in die algemeen, is baie na aan ‘n spieëlbeeld van wat besig is om in sy gedagtewêreld af te speel. Die goeie nuus is egter dat dit totaal en al omgekeer kan word. Jesus wat die lammes laat opspring en loop het, strek Sy hand ook na jou toe uit waar jy kragteloos in die strandstoel sit en wag dat die lewe moet verbygaan. Gryp nou die geleentheid aan.

In die volgende artikel praat ons oor die sin of gemoed van Christus.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → PASSIEWE GEMOED . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha

    ……….