DOKUMENTE MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD
EK IS EINTLIK NET DIE SOUT DRAER, DIE SOUTPOT
Julle is die sout van die aarde, … (Matt. 5:13)
Wanneer die Here sê Sy volgelinge is die sout van die aarde, moet ons in gedagte hou dat ons eintlik maar net die draer van die sout is, die soutpot, en dat Hy wat binne-in ons woon, eintlik die Hemelse Sout is, net soos wat Hy sê dat ons maar net erdekruike is waarin die Evangelie rondgedra en waaruit dit geskink word.
ELKEEN KAN ‘N SOUTPOT WEES
In 2 Kon 5:3 lees ons van Naäman, die leërowerste van die koning van Aram wat ‘n klein dogtertjie in sy huis as diens-meisietjie gehad het wat gedurende een van die oorloë teen Israel, uit haar ouerhuis as krygsgevangene weggevoer was. Sy was nie daaroor vol bitterheid of selfbejammering nie. Sy het die hemelse sout wat sy in haar ouerhuis ontvang het, in haar hart na die vreemde land toe saamgedra.
Eendag merk sy toe dat haar meesteres bedroef en besorg was omdat haar man, ‘n vooraanstaande burger en ‘n dapper held, melaats was en niemand hom kon genees nie. Dadelik was sy beskibaar sodat die Here Sy sout oor die heidense vrou se lewe kon uitstrooi en het sy vir haar meesteres gesê: “Ag, was my heer maar net by die profeet wat in Samaría is, dan sou hy sy melaatsheid wegneem”. (Sy het natuurlik verwys na die profeet Elisa wat in Israel gewoon het). Net hierdie paar woorde uit ‘n klein kindjie se mond, het Naáman toe na Elisa toe laat reis waar hy jou werklikwaar van hierdie verskriklike siekte genees is. Hy het boonop sy saak met God reggemaak en ‘n vrag sand saamgebring huistoe om vir die ware God ‘n altaar te bou. Nooit sou hy weer sy knieë voor ‘n afgod buig nie. O, die krag van ‘n paar korrels sout uit ‘n kindjie se mond. Moontlik het God haar hierdeur ook gebruik om die oorloë tussen Israel en die Arameërs te beëindig.
In Joh 6:9 lees ons weer van ‘n seuntjie wat sy paar korreltjies sout van 5 brode en 2 vissies wat sy ma vir hom as padkos ingesit het, in Jesus se hande geplaas het waarmee Hy toe 5000 manne se honger mae gevul het. Dit gaan nie altyd oor hoeveel ons het om te gee nie maar eerder of ons gewillig is om dit met andere te deel – of is ons te bang dat onsself gebrek sal ly. Die knapie is waarskynlik met meer brood en vis terug huistoe as waarmee hy daar aangekom het.
Dan was daar Maria wat kort voor Jesus se kruisiging, Sy voete met haar kosbare nardussalf gesalf het. Hieroor het Hy gesê: Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam vir die begrafnis gesalf. (Mark 14:8) As sy haar salf vir Sy begrafnis bewaar het, sou sy dit nie kon gebruik het nie want toe die vroue op die derde dag by die graf kom om Sy liggaam met kruie te behandel, het Hy reeds al opgestaan. Die oomblik wanneer God vir jou sê om jou sout uit te strooi, moet jy dit haastig doen want later kan dit te laat wees.
Die soutpot kan oud word maar nie die sout nie. Met wat die jare aanstap is die soutpot later oortrek met rimpels, die oë glaserig, die vingers krom, maar die Christus wat in die hart woon, bly dieselfde: gister, vandag en tot in ewigheid. Selfs in die hoësorgeenheid waar die Heer se dissipel teen die opgestapelde kussings lê, is die gebroke woorde wat oor haar lippe kom steeds vars en kragtig en tot seën vir andere.
Die kruks van die saak is dus: Elkeen kan ‘n soutpot vir Christus wees.
‘N SOUTPOT MOET GEREELD VOLGEMAAK WORD
Wanneer ek ‘n soutpot koop, kry ek nie ‘n waarborg daarmee saam dat dit lewenslank sal vol bly nie. Hoe meer sout ek uitstrooi, hoe meer dikwels moet ek dit volmaak. Selfs Jesus het agtergekom dat daar krag van Hom af uitgegaan het toe die vrou met die bloedvloeiing Hom aangeraak en genees is (Mar 5:30).
Om ‘n soutpot vol te maak, moet dit eers oopgemaak word; as dit ‘n opskroef deksel het, moet dit afgeskroef word. Baie kinders van die Here hou wel êrens gedurende die dag ‘n rukkie stiltetyd maar kom onvervuld, leeg, daaruit omdat hulle nie vir die Gees van God oopgemaak het om in te vloei nie. Eintlik is dit net Jesus se hand wat my geslote hart kan oopskroef maar ek moet my oë in geloof op Hom hou en nie opgee voordat ek van Hom ontvang het en vol en verkwik die lewe weer kan aandurf nie.
Toe Jakob deur die nag tot dagbreek toe met God geworstel het, het hy tot op die laaste aan Hom vasgehou en gesê: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën (Gen 32:26).
DIE SOUTPOT MOET IN GOD SE HAND GEGEE WORD
Alhoewel bykans elke kosgereg ‘n bietjie sout benodig, moet dit baie oordeelkundig aangewend word en verskil dit ook van persoon tot persoon. ‘n Mens gooi nie sout in die koffie nie!
Ons moet weet wanneer om Skrif met mense te praat en wanneer nie; ook met wie om te praat en met wie nie en hoe om te praat en hoe nie. Die sout is wel goed maar die verkeerde aanwending daarvan kan meer kwaad as goed doen.
Jesus was ‘n perfekte voorbeeld hierin. Hy was taktvol en het nie onnodiglik aanstoot gegee nie.
Toe die Fariseërs Hom in ‘n argument wou betrek oor die kwessie of dit reg was om aan die keiser belasting te betaal, het Hy ‘n onaangename woordewisselig vermy deur te vra wie se afbeelding op die muntstuk was wat Hy in Sy hand gehou het. Toe hulle sê dat dit die keiser s’n was, het hy geantwoord dat die keiser dan op sy belasting geregtig was, maar net so is God ook geregtig op Sy regmatige deel van hul lewens. Daar was dus oor hierdie saak geen konflik tussen God en die keiser soos wat hulle wou voorgee nie. Aan hierdie antwoord kon hulle nie aanstoot neem nie en was verslae oor Sy wysheid (Matt 22:21).
Toe hulle die ‘n vrou wat in owerspel betrap is na Hom toe bring het Hy voorgestel dat die een wat geen sonde gehad het nie die eerste klip na haar gooi. Daarna het Hy gehurk en in die grond geskrywe om hulle die geleentheid te bied om sonder verleentheid van hom en haar af weg te gaan (Joh 8:4-9).
Daar was egter ook geleenthede waarop Hy die sout behoorlik in hulle wonde ingevryf en hulle uitgekryt het as ‘n addergeslag en as gewitte grafte wat van buite vroom vertoon het, maar van binne vol doodsbeendere was (Matt 23:33)
Die soutpot van my lewe moet dus in God se hand wees sodat Hy die sout kan aanwend soos wat Hy weet dat dit tot grootste voordeel van sy Naam sal wees!
LEES OOK: “DIE KWALITEIT VAN DIE SOUT” .
……….