Daar is ‘n groot opgewondenheid in my hart omdat my volgende besoek aan Karasburg, Namibië, nou net om die draai lê. Ek het met die pastoor van die Volle Evangelie Kerk gerëel om Donderdag 14 Junie daarheen af te reis en die volgende oggend met hom te ontmoet.
Wanneer ek dan daar is, beoog ek om met ‘n aantal ander gemeentes oorleg te pleeg oor hul inskakeling by ons eerste dissipelskap byeenkomste. Die gedagte is om beide die pastore en hul gemeentelede te betrek sodat elke gemeente dan, wanneer ek terug is in SA, weer onder leiding van hul pastoor na die gemeenskap om hulle kan uitreik. Sodoende kan ‘n dubbele slag geslaan word.
Gedurende hierdie komende sessie wil ek die eerste vier hoofstukke van die handboek behandel. Dit dek die ses skeppingsdae, God se rusdag en die sondeval van die mens.
Die doel van die lering is allereers om die grootheid, wysheid en liefde van God soos in Sy skeppingswerke gesien kan word, by die student tuis te bring, asook die feit dat Hy die alleeneienaar van die ganse heelal is en dat die mens wat logies hieroor besin, nie anders kan as om homself onvoorwaardelik aan sy Skepper oor te gee nie.
Hierdie eerste hoofstukke van Génesis bevat ‘n rykdom van geestelike lering, veral vir diegene wat nog nie die Here ken nie en bied aan hulle ‘n gulde geleentheid om hul lewens aan Hom te gee en versoening te vind deur die bloed van die Lam. Hierdie Ou-Testamentiese lering word deurentyd vanuit die Nuwe-Testamentiese gebeure, naamlik die kruisiging, opstanding en hemelvaart van Christus belig – dit is dus nie net ‘n stuk geskiedenis van lank, lank gelede wat aan die luisteraar voorgehou word nie.
Bid asseblief dat die Here Sy magtige Boodskap uit die mond van Sy baie klein boodskappertjie buite mate sal salf en dat hy sal terugkeer met ‘n loflied op sy lippe oor wat God gedoen het.
Bid asb ook vir ‘n veilige heen en weer rit – dit is ongeveer 881km daarheen. Bid ook vir gepaste huisvesting. Die gastehuise is peperduur en ek moet my eie kos kan voorberei en ‘n bietjie ekstra ruimte hê om ‘n beknopte kantoortjie te kan inrig, want die werk aan die webwerwe moet deurentyd op datum gehou word. Bid asb ook vir materiële voorsiening waarsonder selfs die vurigste prediker ingeperk bly soos ‘n leeu in ‘n hok.
Vir hoe lank ek gaan? Tien tot veertien dae, maar dit kan langer duur.
Dit wil voorkom asof ek nie formele toestemming nodig het om in Namibië die Evangelie te bedien nie, solank ek dit nie vir langer as 3 maande per jaar doen nie – maar bid maar asb hiervoor ook – ‘n mens weet nooit.
En nee, Mart gaan hierdie keer nie saam nie, maar ons sal gedurig met mekaar in kontak bly en van haar gebede is ek verseker.
Ben Lubbe
Comments are disabled.