Namibië uitreik nuus; 2018-02-23

TERUGVOER OOR MY FIETSTOER OM ONDERSTEUNING TE WERF VIR ‘N UITREIK NA NAMIBIË

In ‘n vorige skrywe het ek vermeld dat ek ‘n fietstoer wou onderneem om ondersteuning te werf vir dissipelskapklasse wat ek later in Namibië wil aanbied. Hiermee wil ek nou terugvoer gee oor die toer maar ek sal net hier en daar iets kan aanraak, anders sal dit boekdele beslaan.

Die aanloop tot die rit was alreeds ‘n toets, want ek het op vier agtereenvolgende dae lang afstande met of die berg-, of die padfiets met verskillende rugsakke en ladings onderneem om te bepaal wat die beste sou werk en of ek enigsinds dag na dag sulke afstande sou kon handhaaf. Uiteindelik het ek op die bergfiets en ‘n rugsak met baie kompartementjies besluit.

Liggaamlik het ek les opgesê deurdat ek soveel rugpyn gehad het dat ek soms vir tye op die bed moes gaan lê.

Geestelike was dit ook vir my ‘n moeilike tyd want die vrees om te misluk, het gedurig by my gespook; sou ek op ouderdom 77 sulke afstande en besige dae kon baasraak en dit na laasjaar se haartaanval; sou mense enigsinds na my luister en ‘n strooibiljet uit my hand aanvaar; sou mense my slaaplek aanbied of sou ek nagte op die sypaadjie moes deurbring want ek wou God vertrou vir kos, verblyf en gesondheid; net soos wat Sy dissipels gedoen het toe Jesus hulle twee-twee uitgestuur het? Ons leef tog in moderne tye en in ‘n ander kultuur; kon God nog op toentertyd se wyse voorsien, of moes ons nou alles vooruit weet en bespreek voor ons vertrek.

Kortom, is Hy nog so betroubaar as destyds? Kan ‘n mens jouself op Hom werp soos ‘n kindjie wat van die kraalmuur af in sy pa se arms spring? Ja dit is maklik om dit by wyse van ‘n loflied in die kerk te bely, maar kan jy uitstap op jou belydenis soos Petrus op die water? Tot op die laaste het ek nog getwyfel of ek sou gaan maar toe, soos ‘n “bungee” springer besluit om te spring en op Dinsdag, 6 Feb om 6 vm het dierbare Mart my by die hek afgesien.

Die eerste dag was merendeel teëspoedig. Die pad Trompsburg toe, was hoofsaaklik opdraend en dit, tesame met ‘n sterk wind van voor, het my stokflou daar laat aankom en toe ek koeldrank by die Waterwiel wou koop, was my beursie skoonveld en moes ek met ‘n bottel warm kraanwater tevrede wees. Tweedens moes ‘n vriend wat aangebied het om my te huisves, later verneem dat hy nie gemagtig was om dit te doen nie en daarna moes ek, na ‘n uur se wag hoor dat ‘n dame wat ek daar sou ontmoet, vir die dag uit was. Die vierde voorval was die ergste toe ‘n man op wie ek twee ure sit en wag het, my haastig ‘n paar note in die hand wou stop om van my ontslae te raak. Ek het dit geweier.

Teen dié tyd het die duiwel my uitgekoggel met ‘n “Het ek jou nie gesê dat dit so met jou sal gaan nie, maar jy dink mos jy hoor van God en dat jy Hom kan vertrou.” Maar God … Toe die son reeds oorkantel na die weste het ‘n man met wie ek gepraat het, vir my slaapplek aangebied sonder dat ek hom daarom gevra het. In daardie huis is ek behoorlik op die hande gedra. Ons kon selfs saam uit die Woord lees en bid en my fiets het hy in my kamer staangemaak.

Ses-uur die volgende oggend het ek na Jagersfontein vertrek. Dit was basies afdraende en ek het heerlik gery. Van toe af het ek begin om by elke plaasingang ‘n biljet in die hek te laat; sodoende kon ek nie net die dorpenaars nie, maar ook die boere bereik. Een van hulle het, nadat ek vir hom gebid het vir ‘n boedelprobleem wat hy op pad was om te gaan oplos, R200 in my hand gestop. Op die dorp aangekom het ek reeds ‘n groot hoeveelheid werk gedoen gehad en kon ek behaaglik op die droë visdammetjie se muurtjie gaan sit, die toebroodjies met stroop en grondboontjiebotter wat Mart vir my ingesit het, uit die rugsak uithaal en saam met my oorblywende Energade behaaglik afsluk.

Kort na twaalf is ek verder na Fauresmith, ongeveer 11 km daarvandaan, waar ek weer op straat en in geboue die biljette aan talle mense afgegee het.

Toe die winkels al wil toemaak, wink ‘n man my van ‘n winkelstoep af nader en vra “Het jy slaaplek – nee? Ek het ‘n gastehuis en sal jou afslag gee; R200 vir die nag”. So het God voorsien en kon ek hom met die R200 wat die boer geskenk het, betaal. Op al die ander plekke verderaan het die Here keer op keer gegee dat mense vir my oornagverblyf aangebied het sodat ek nooit nodig gehad het om daarvoor te vra nie.

Ek het wel ander uitgawes gehad soos middagete, Energade, selfoontyd, ens en een oggend vra ek die Here om kontant vir my te voorsien want ek wou nie met minder geld by die huis aankom as waarmee ek daar weg was nie. Daardie dag, in een van die dorpe, kom ‘n motor skuins oor die strraat reg op my af gery. Ek was so verbaas om te sien dit is ‘n egpaar uit my tuisdorp, en na ons gesels en ek vir hulle gebid het, gee die man vir my R500 in die hand. God hoor gebed.

Een nag het ek regtig sleg gevoel oor my bors, min of meer soos kort nadat ek die hartaanval gehad het en het ek nie geweet hoe ek die volgende dag verder sou kon ry nie, maar toe ek dou voor dag wakkerword en die Here begin loof en prys, begin ek beter voel en kom die teks in my gedagte waar van die manne van geloof gepraat word (Heb 11:34) en gesê dat hulle “krag uit swakheid ontvang het” en sê ek vir my liggaam “Word versterk uit die krag wat God vir jou gee”, en voel ek ‘n gloed oor my skouer en bors sprei en staan ek op en ry daardie en al die volgende dae sonder enige probleme.

Met hoeveel mense ek gepraat en vir wie ek gebid het, het ek nie ‘n benul nie. In sommige gevalle het ek met iemand begin praat oor my visie vir Namibië maar het dan gelei gevoel om te praat oor sy persoonlike verhouding met God  en vir hom of haar te bid. Een so ‘n persoon was ‘n jong vrou wat so aangegryp was dat sy my om die skouers gegryp en met haar kop op my skouer gesnik het dat die trane loop.

Dan weer was daar ‘n boer met wie ek by sy plaashek gesels het. Hy het bely dat hy nou betrokke was in sy gemeente en selfs die EE3 evangelisasiekursus geloop het maar nie meer seker was of hy die Bybel kon glo nie en dat almal vir hom daaroor kwaad was. Ek kon teenoor hom vars getuienisse gee oor hoe die Here my gebede net op daardie toer een na die ander beantwoord het en ek is oortuig dat God daardie ontmoeting gereël het en hom verder sou help om sy vertroue in die Almagtige te herwin; selfs die manne agter op sy bakkie was geraak.

Saans, in die huise waar ek tuis was, het ons knypstukke gepraat oor die Here en wat Hy vir ons beteken het en kon ek sovele se vrae beantwoord en vir hulle bid en het van hulle ook vir my gebid.

Na Fauresmith is ek na Koffiefontein, Jacobsdal, Modderrivier, Ritchie, Kimberley en toe, op pad na Bloemfontein het ‘n dame aan wie ek ‘n strooibiljet op Jacobsdal gegee het, my herken en aangedring om my op te laai. Aangesien my taak toe afgehandel was, het ek ingestem en het sy my na Petrusburg geneem om teenoor haar pastoor te getuig van my wedervaringe. Daar het Martie en een van ons vriende my met ons motor kom oplaai en huistoe geneem. Daardie dag het ek 83km met die fiets afgelê.

Om meer te vertel van my rit, kan ek nie want hierdie nuusbrief is alreeds so lank, maar een ding kan ek getuig en dit is dat die Here leef en dat Hy werksaam is vir die wat op Hom wag (Jes 64:4). Soms, wanneer ek Hom ‘n vraag wou vra oor wat ek moes doen, het ek nog net begin om my oë te sluit of het ek reeds sy duidelike antwoord gehad. In al my behoeftes het hy voorsien, my veilig bewaar van die verkeer, reënbuie, verkoues en wat ookal, vir Mart by die huis bewaar en ons weer bymekaar gebring. Dit was ‘n onvergeetlike belewenis en ek is die Here so dankbaar dat Hy, toe ek koue voete wou kry, my knakkende geloof versterk, sodat ek die toer gewaag het. Ek het ons Heiland op ‘n nuwe manier leer ken – iets wat geld nie kan koop nie.

Of ek my doel bereik het deur ondersteuning te werf vir my beplande uitreik na Namibië? Tot nou toe lyk dit nog nie so nie maar wanneer die tyd aanbreek, sal die Here voorsien. Sommige van die honderde biljette wat ek uitgegee het, lê soos suurdeeg in huise en Bybels en rys en op die regte oomblik sal die Here met Sy gehoorsame diensknegte praat om Sy werk te ondersteun. Intussen sal Martie en ek daarvoor bid.

Miskien meen sommige dat ek te oud is vir so ‘n onderneming en dat hulle nie hul geld op so ‘n ou perd wil waag nie; maar as ek nie gaan nie, wie sal dan in my plek gaan? En lees ‘n bietjie in Jes 40:29-31 wie is dit wat opvaar met arendsvlerke.

Ek het nou aansoek gedoen om SAP klaring wat ek nodig het om aansoek te kan doen om in Namibië te mag werk maar, so hoor ek, mag dit tot ‘n maand duur om dit te kry. Intussen is ek hard besig om die studiegidse wat ek daar wil gebruik, in ‘n ander formaat op te stel. Met die klaring in my hand,  wil ek Karasburg toe gaan om studente vir die klasse te werf (en dalk sommer so in die stilligheid ‘n paar klasse aan te bied ook.) Miskien gebruik die Here dit om ‘n paar visse vir Homself te vang; dan tel my rit dubbel soveel.

Baie dankie vir jul gebede en volhard asb om te bid dat die Here my lamp elke dag met vars olie sal vul; en bid vir Mart wat ook wat nie meer jonk is nie en alleen die mas moet opkom wanneer ek weg is. Bid dat sy sal voortgaan om rustig die Here te vertrou en nie bekommerd sal wees nie, soos wat sy nog deur al die jare gedoen het wat ons saam in die Here se werk staan.

Vrede vir julle,

Ben en Martie Lubbe.

Comments are disabled.