Namibië uitreik nuus; 2018-04-02

Hierdie man deurkruis Namibië met ‘n kruis van 30kg en klere en tent wat ook nog 30kg weeg en preek die Evangelie sovêr hy gaan. Hy het die afgelope vyf-en-‘n-half jaar (?) al 23000km te voet en 74000 met sy trapfiets afgelê. Uit die donasies wat hy langs pad ontvang, onderhou hy homself sowel as sy vrou by die huis. Ja, die Here het allerhande soorte boodskappers; as die hart reg is, sal die voete padvat.

‘N SUKSESVOLLE SENDINGREIS

Laat ek nou sommer met die intrapslag baie dankie sê vir elkeen wat gebid en/of finansiëel bygedra het tot ons onlangse besoek aan Karasburg, Namibië. Gemeet aan die doel waarvoor ons gegaan het, naamlik om steun te werf vir ons voorgenome dissipelskapklasse, was dit ‘n groot sukses. Ons het teruggekom, nie net met sewe lyste vol name nie, maar ook met die sekere wete dat daar baie mense is wat uitsien na ‘n geestelike tafel wat ons hoop om vir hulle te kan dek.

U bydraes en gebede en ons lang reis was beslis nie ‘n verkwisting van tyd en geld nie; nee die Here het dit gebruik om die grondslag te lê vir dit wat Hy van voorneme is om later daar te doen.

DIE MATERIëLE KANT

REIS EN VERBLYF

Karasburg is nie hier nie; 1850 km heen en weer. Lekker langs die pad stilgehou, die ˝cool box˝ op die ˝bonnet˝ geplaas en Mart se padkos verorber en koffie uit ons nuwe ˝plastic˝ warmfles gedrink; so op die ou Boere manier; nie ˝bacon, eggs en cuppacino˝ in die restaurant nie.

Die Roomse Kerk het ons een van hul gastekamers met volle ablusiegeriewe en ‘n aangrensende deelkombuis aangebied teen R1200 vir die  agt aande; andersinds sou dit ons R3600 gekos het. Veilig soos ‘n tronk. Bietjie beknop want ek moes my papierwerk op ons eie opslaantafeltjie tussen die twee enkelbeddens doen. Warmwater. Stort het nog net drie straaltjies gespuit, elk in sy eie rigting. Nadat ek die kop drie maal in ‘n koppie asyn gedoop het, was die kalk en daarmee die probleem opgelos, en kon ons stilstaan en stort.
LINKS: Mart doenig om ete voor te berei in ons deelkombuis.

FONDSE:

‘n Paar dae voor ons vertrek vanaf Philippolis, het ek vir die selgroep waarvan ons deel is, gesê ˝Ons beurs is nog boomskraap maar ek waarborg julle: voor ons vertrek sal die fondse inkom. ˝ Ek het so ’n sekerheid in my hart daaroor gehad. Daardie aand kom die eerste R1000 in en daarna R3500 elektronies en terwyl ons daar onder was, nog ‘n elektroniese inbetaling. Ons sendingrekening wat in diep skarlakenrooi gedompel was, het verbleek na pienk; en dit ná die uitreik. Ons het selfs nog die Roomse kombuis geseën met ’n nuwe elektriese ketel in die plek van die oue wat met ’n woeste blou flits heengegaan en sommer die krag daarmee saam ook nog uitgeskop het.

DIE KERKE VAN KARASBURG

Wat ons probeer doen het, was om die pastore, leraars,  of welke leiers ookal, van al die gemeentes op te soek en ons missie aan hulle te verduidelik, naamlik om Bybel gefundeerde dissipelskapklasse gratis aan te bied, op ‘n boek vir boek basis, beginnende by Génesis. Sodoende het ons toe met bykans al die gemeentes kontak bewerk. Die resultaat was as volg:

GEREFORMEERDE KERKE

Aan die drie Blanke gemeentes, dws die NG-, Geref–Kerk en AGS. het ons nie veel tyd spandeer nie omdat hul top leiers nie beskikbaar was nie en omdat ons meer na die Bruin gemeenskap geroepe voel. Die NG Kerk hoop om binnekort weer ‘n voltydse leraar te hê — wonderlik! Ons sal nietemin probeer om nouer bande met hierdie gemeentes te smee tydens ons volgende besoek. Die Bruin VGK (NG) se raad is gunstig teenoor ons aanbod maar hul leraar te Keetmanshoop moet nog goedkeuring verleen. Die Evangelies Lutherse Kerk se leraar was uitstedig.

DIE ROOMSE KERK:

Hier het ons, behalwe met die priester, ook met die leiers van verskillende groepe persoonlike onderhoude gehad en met een groep bymekaargekom. Hulle staan bekend as die ˝Charismate˝. Dit was nou sommer ‘n baie aangename ontmoeting en hulle het dit terdeë geniet en die nuwe koortjies wat ons hul geleer het, vinnig opgetel en hartlik saam gesing.

Sondag het ons hul “Heilige Mis” bygewoon. Dit staan bekend as  “Palm Sondag,” en het begin met ‘n saamtrek op ‘n perseel oorkant die straat, waartydens groot dele uit die Skrif deur verskillende lidmate en die Gemeente gesamentlik voorgelees is, waarna almal in prosessie na die kerkgebou gestap het. Ongeveer 500 persone, waaronder ‘n goeie komponent jongmense, het die diens bygewoon en die Mis (nagmaal) is bedien. Ons het die diens meer as waarnemers bygewoon en nie so veel as deelnemers nie.

Die priester, vader Karwapa, ’n Ovambo (?) is ‘n baie skerp persoon en het vir drie jaar lank opleiding in Rome ontvang waar hy binne drie maande homself in Italiaans kon behelp. Hy kan ook Engels praat en is besig om Afrikaans aan te leer. Hy is my baie goedgesind en het met nadruk verklaar dat sy verwagting is dat sy leiers, deur hierdie dissipelskapbediening in ‘n dieper verhouding met God sal kom.

Presies hoeveel lidmate die Kerk het, weet ek nie, maar dit is ongetwyfeld, verreweg die grootste denominasie op Karasburg en het ook wyke op die naburige nedersettings, insluitende Ariamsvlei.

DIE PINKSTERKERKE

Daar is ses van hulle, waarvan die meeste êrens elders aan ‘n moedergemeente gekoppel is: Gospel Mission, Volle Evangelie Kerk, Potter’s House, Acts Mission, Moria Gemeentes (Qorban) en Smirna Pinkster Kerk.  Drie van die vyf pastore met wie ons kontak kon maak, was baie gretig dat ons hulle gemeentes kom bedien, terwyl die ander twee eers daaroor wou besin.  Met die “Vollies” (Volle Evangelie) gemeente het ons ‘n baie wonderlike byeenkoms gehad en het ek die landsreëls oortree deur sonder magtiging so ‘n bietjie te bedien, maar met soveel afwagtende gesigte voor jou, kan geen evangelis die versoeking weerstaan om die teuels te laat skiet en die Heilige Gees toe te laat om die dorstiges om hom met woorde te verkwik nie.

GEVOLGTREKKING

Nou dat ek self die geleentheid gehad het om die dorp te fynkam, het ek bevind dat daar baie meer arbeiders is om die oes in te samel as wat my  te kenne gegee was, maar by almal was daar een gemeenskaplike versugting: geestelike diepte. Die Roomse Kerk het dit presies so verwoord: “Ons soek verdieping”.

Die Pinkster kerke het gekla: “Ons weet nie wat aangaan nie. Vroeër was daar so ‘n salwing op ons bediening; ons het wondere beleef; kanker en ander siektes is genees, maar nou verdwyn die lidmate een vir een uit ons gemeente. Sommige sluit by ander Pinkster gemeentes aan en andere weer, vorm hulle eie klein gemeentes van net ‘n paar lede. Hulle verlaat ‘n gemeente oor onbenullighede. Sommige gemeentes het groot geboue opgerig en bly nou agter met die skuld. Pastore moet sekulêre werk gaan soek om aan die lewe te bly. Dit lei tot verwaarlosing van hul gemeentes. Ons weet nie waar die probleem lê en hoe om dit op te los nie.”

DIE “OPLOSSING”

Ja, ek plaas die “oplossing” in aanhalingstekens want dit sou verwaand van my wees om te dink dat ek met ‘n kits oplossing op ‘n skinkbord daar kon aankom. Sommige van daardie pastore en hul vrouens is geestelik diep mense en, hoor my, hulle ken die Woord so goed of beter as ek. Daar is werklik niks, maar niks nuuts wat ek hulle kan leer  wat hulle nie reeds weet nie. Nou wat dan?

My antwoord is GELOOF.  Dit is wat die Here die afgelope tyd besig was om vir my in te prent; veral ook gedurende my fietstoer waartydens ek Hom uur na uur moes vertrou; ook vir slaapplek vir die nagte en gesien het dat Hy dié wat op Hom vertrou nooit, nooit, nooit in die steek laat nie.  In hierdie laaste dae het gemeentes bowe alles, leiers nodig wat so intens op God fokus dat hulle bo die alledaagse lewe met sy versoekinge en beroewinge uitstyg en sigbaar met Jesus op die golwe wandel. Geloof inspireer geloof in andere waardeur hul die berge in hul lewens uit die pad kan skuif.

Heb 11:6: En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.

 Heb 11:8; Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom

Dink daraan:  Hy het sy kamele gepak, sy vee bymekaar gemaak en begin trek, “sonder om te weet waar hy sou kom.” Hy het God met sy ganse toekoms en die van sy vrou en van sy kind wat baie later eers gebore sou word, vertrou. Hy het vas op God gefokus en agter Hom aan beweeg en geglo dat  dit die heel beste was wat hy in hierdie lewe kon doen. En dan sit jy en ek op en af, op en af in ons rystoel en wieg en wieg en sê ons glo in die Here en neem ons nie eers die kleinste geloof stappie wat duidelik aan ons as God se wil geopenbaar is nie.

Ek voel so verskriklik klein om te dink dat ek soos Nehemia na Jerusalem moet gaan en die mense moet oorreed om saam met my die rommel op te ruim, die omgestote mure te herbou en nuwe poorte in te sit. Tog weet ek verseker dat ek ten minste ‘n mostersaad grootte geloof vir daardie taak ontvang het en saam met hom kan sê, Die God van die hemel, Hy sal ons dit laat geluk, en ons, sy knegte, sal ons klaarmaak en bou;

Die plaaslike pastore, hul eggenotes en ekself sal, voor enigiets anders, die Here moet vertrou om ons geloofs-vlakke te lig, vêr bo wat dit tot hiertoe was; dan sal ons die gemeentelede en die ongereddes daarbuite kan inspireer om opnuut hul vertroue in God te plaas.

 DIE EERSTE STAP

Wat ek nou moet doen, is om ‘n werkspermit van die Namibiese Regering te verkry en daarvoor wil ek môre aansoek doen. Kom ons vertrou saam die Here dat dit nie sal sloer nie.

BID ASSEBLIEF VIR

Moet asseblief nie ophou om te bid en te gee nie; hierdie is nie ‘n “job”‘ vir een ou nie, dit is ‘n spanpoging. As ‘n haker sien hy sak alleen in die skrum, hardloop hy daar en dan van die veld af; nee hy het twee fris voorrymanne weerskante van hom nodig, twee slotte agter hom, twee flanke langsaan hulle en ‘n agsteman om af te rond. So kan hulle saam die bal en die wedstryd wen. So bid asseblief vir:

  • Voorbereiding van ons harte terwyl ons wag vir die werkpermit: toenemende geloof, beide vir myself en vir die leiers en hul vrouens en ‘n dors na God by die gemeenskap.
  • Wysheid: my gedagte, op hierdie stadium is om eers die klasse vir die leiers aan te bied en dat hulle dit dan aan groepe bestaande uit hul lidmate en belangstellendes aanbied terwyl ek sovêr moontlik van groep tot groep beweeg en ondersteuning gee.
  • Middele vir die taak.
  • Genade en geloof vir Mart hier aan die tuisfront; oumense is ‘n teiken vir boosdoeners.

Hartlike dank vir jul ondersteuning en geniet jul reis hemeltoe.

Ben Lubbe

Comments are disabled.