Namibië uitreik nuus; 2018-01-31

 

TERUGVOER OOR MY BESOEK AAN NAMIBIë

 

(SIEN VERAL PLAN VAN AKSIE HIERONDER ASB).

 

In my vorige nuusbrief het ek gemeld dat ek gelei gevoel het om Namibië te besoek om ondersoek in te stel na die geestelike welstand van die inwoners.

So gesê, so gedaan; ek het toe die suid-oostelike hoekie van die land besoek, te wete Ariamsvlei en Karasburg, en wat ek daar gesien het, was vireers genoeg. Dit wat die Here hier in Philippolis (waar ek woon) in my gees aan my openbaar het, het ek daar as werklikheid ervaar.

Daar is ‘n wesentlike geestelike behoefte by die inwoners van daardie streke as gevolg van ‘n gebrek aan geestelike leiers.  Dit het ontstaan deur die uitvloei van boere na die stede en selfs na Suid-Afrika, wat die reeds lae bevolkingsdigtheid net vererger het. Die gevolg was dat lidmaatgetalle sorgwekkend verminder het en daarmee saam, die finansiële vermoë van gemeentes om leraars te kan onderhou.  Leraars was genoodsaak om na die stede te verhuis waar hulle ‘n bestaan kon maak en hul kinders op skool kon plaas. Pragtige kerkgeboue, soos die NG Kerk op Karasburg, is grootliks onbenut.

Op Ariamsvlei word die reuse pastorie deur ‘n afgetrede leraar en sy vrou bewoon wat, as ek dit reg het, elke tweede Sondag daar preek.

Die VGK (Verenigde Gerevormeerde Kerk) vir Bruin lidmate wat heelwat finansiële ondersteuning van die NG kerk ontvang het, het natuurlik ook onder die uitvloei van boere gely en ook hulle leraars het na die stede verhuis waar daar meer lidmate is wat  ‘n inkomste verdien en die dienste van ‘n leraar kan bekostig.

Die derde groot denominasie in daardie streke is die Rooms Katolieke Kerk, waaraan meeste van die Bruinmense behoort. Ook vanuit hierdie kerk vloei daar, weens ’n personeel tekort, nie soveel  lewe na die landelike gebiede as wat nodig is nie.  Tot onlangs toe nog was daar ‘n ou Vader op Karasburg wat twee maal per maand ook op Ariamsvlei gaan preek het, maar omdat hy sy boodskap in Engels gebring het, kon sommige hoorders dit nie behoorlik verstaan nie. Drie weke terug is hy weg en het ‘n nuwe jonger Vader op Karasburg oorgeneem. Hy lyk baie op en wakker maar is ‘n Ovambo van geboorte en is nou eers besig om Afrikaans en Engels aan te leer, en om beide die Karasburg- en Ariamsvlei distrikte geestelik behoorlik te versorg, sal vir hom bykans onmoontlik wees.

Alles inaggenome ontvang die plattelandse gebiede nie die geestelike insette wat elke mens nodig het om  geestelik te kan ontwikkel nie. Moet ons nou maar skouers optrek of sal ons probeer om daar ‘n bietjie hulp te verleen—en is dit enigsinds moontlik om daar verligting te bring?

HOE VOEL GOD OOR SO ‘N SITUASIE ?

Elke iedere mens is vir Hom baie belangrik. Hoor wat sê Hy by monde van die profeet Esegiël: En julle is my skape, die skape van my weide; julle is mense, Ek is julle God, spreek die Here HERE.  (Esg 34:31) .

Dit gee ons ’n kykie in God se hart. As ek ‘n méns is, sien God my potensiëel as sy eiendom, Sý skaap  vir wie Sy Seun aan die kruis gesterf het en sal Hy êrens ‘n herder vind, al is dit ook aan die anderkant van die aarde,  wat Hy na my toe kan stuur om vir my te kom vertel hoe ek weer in Sy kraal kan inkom.

Selfs toe Hy in ontsaglike pyn aan die kruis gely het, het Hy sy eie ellende vir ’n paar oomblikke vergeet en uitgereik na ’n moordenaar wat langs hom besig was om te sterf en hom op die nippertjie voor die duiwel se neus weggeraap en in sy kudde in ingetrek!

Verder staan Sy laaste en Groot Opdrag nog vas: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. (Matt 28:19).

Die vraag is dus nie “óf” nie maar eerder “hóe”, hoe ons kan help.

Namibië is immers ons buurland met wie ons baie dekades lank hegte bande gehad en baie ondervindinge gedeel het.

GEESTELIKE BEARBEIDING GEBASEER OP DIE VROEGSTE CHRISTELIKE GEMEENTES

Die “hoe” antwoord is eintlik reeds in die Bybel self opgesluit; in die boek Handelinge. Daar sien ons hoe die Christendom op aarde gevestig is; hoe die eerste Christelike gemeentes as klein huisgemeentes tot stand gekom en gegroei het. Die “lidmate” van so ‘n gemeente was merendeels ongeletterd en die Nuwe-Testament was nog nie opgeteken nie. Die persone wat by so ‘n byeenkoms lering gegee het, kon nie ‘n mooi lang preek met Skrifverwysings opstel en voordra nie; nee hulle het maar die geestelike waarhede wat deur Jesus verkondig en later deur Paulus, Petrus en andere aangevul was, met mekaar gedeel. Lidmate het mekaar dus bedien. Die klem was nie op hoeveel jy geweet het nie, maar hoe diep gewortel jou geloof was en hoe jy dít wat jy geweet het, uitgeleef het. Jesus se beeld moes in die gemeentelede sigbaar word.

Maar hoe het hulle dit reggekry om so dinamies in getalle te groei sodat selfs die magtige Romeinse Ryk hul invloed gevrees het. Die antwoord is dat die Heilige Gees Wie hulle vervul het, hulle bekragtig het. Dit is immers wat Jesus hulle voor Sy hemelvaart beloof het: maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde. (Hand 1:8). Toe sulke Geesvervulde manne en vroue begin saamgroepeer, het God daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is. (Hand 2:47).

Hulle kon nie duur geboue oprig nie maar het in mekaar se huise bymekaargekom. Hulle kon nie bekostig om mense te betaal om hulle geestelik te bedien nie, maar so tussen hulle gewone dagtake deur, het hulle dit self vir mekaar gedoen.  Is so-iets vandag nog moontlik? Ja, beslis soos hieronder verduidelik sal word.

Maar voor ons daar kom, laat ons eers oor groot gemeentes praat. Groot gemeentes met deeglik opgeleide leraars het ‘n rol te speel in die bou van God se Koninkryk. Hulle moet rigting gee, ko-ordineer en projekte aanpak wat te groot is vir klein huisgemeentes, so dit is nie te sê dat hulle moet wegval nie, maar daar waar hulle deesdae nie meer kan bykom nie, moet huisgroepies opgerig word, sodat God’s Koninkryk nie skade sal ly nie. En selfs binne daardie groot gemeentes moet klein dinamiese huisgroepies gebou word sodat elke lidmaat ‘n funksie sal vervul.

Groot gemeentes kan alte maklik ‘n skuilplek word vir droë hout; geestelik lewelose lidmate wat nooit werklik met God ontmoet het nie en maar net onder die kerksambreel skuil en hulleself wysmaak dat hulle saak met God reg is. Hulle word ‘n kopseer vir ‘n Geesvervulde leraar.

Maar hoe kan sulke huisgroepies of huisgemeentes opgerig word?

IN MOSAMBIEK WERK DIE STRATEGIE VAN KLEIN GROEPIES

Sowat 12, 13 jaar gelede het die Here vir Martie en my na die afgeleë binnelandse gebiede van Mosambiek gestuur om dissipels te gaan maak van die Tsonga bevolking; mense wat nie die dienste van besoldigde leraars kon bekostig nie. Hy het ook vir ons Sy strategie gegee.

Ek moes naamlik dissipelskapklasse begin waardeur  ons alle belangstellendes, maar veral die leiers van die menigte klein kerkies, die inhoud van die Skrif leer, maar hulle ook lei om Christus te ontmoet en om op hul beurt weer andere na die Here te lei.

Om hulle die Skrif te leer, moes ek studiegidse skryf oor die ganse Ou-Testament, die Evangelies en ook oor die Sendbriewe.

Ons het met drie persone begin, maar die groep het gegroei en vermenigvuldig. Baie van die studente het hulle tot God bekeer en Sy kinders geword deur die Heilige Gees wat in hulle kom woon het en so het hulle in ‘n nuwe lewe ingegaan want die Skrif sê: Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan’ kyk dit het alles nuut geword. (2 Kor 5:17).

‘N KLEIN BEGIN MAAR  KRAGTIGE GROEI

Na 10 jaar het die dissipelskapklasse  in Mosambiek versprei oor ‘n afstand van 300km van noord na suid en 300km van oos na wes en kon ons die werk aan ‘n jonger man afgee. Vandag is daar 86 klasse wat dwarsdeur die jaar aan meer as 1000 studente aangebied word en dit deur oudstudente wat die krag van God belewe en die Woord met vertroue en gesag aan andere kan oordra—manne en vroue wat self ook moet stoei om in ‘n arm land ‘n bestaan te maak, maar tog tyd vind om die Koninkryk van God te bou. So het die eerste gemeentes in Bybelse tye ook gegroei.

Daar is vir my ‘n groot ooreenkoms tussen die situasie wat ons in Mosambiek aangetref en dit wat nou in Namibië ontwikkel het: mense op pad na die ewigheid maar wat nie die dienste van ‘n leraar kan bekostig nie en dus langs ‘n ander weg die Woord moet hoor, en gered en geestelik opgebou moet word. Na my mening is daar ‘n goeie kans dat daardie landelike bevolking ook kan baat by dissipelskapklasse gebaseer op weldeurdagte, Bybelgefundeerde studiegidse. Leraars kan hul lidmate dan nog, wanneer moontlik, besoek en insette lewer. In Mosambiek is daar 17 denominasies wat baat vind by die Rivoni dissipelskap bediening. Gemeentes word dus nie uitgeskakel nie maar word eerder onderskraag en gebou.

(Lees meer  omtrent die werk in Mosambiek by www.rivoni.org  en besigtig die Afrikaanse weergawe van die studiegidse wat ons gebruik, op hierdie webwerf waarop u nou is).

‘N EERSTE VRUG

Sal die mense op my boodskap ag gee? Met my besoek aan Karasburg  soek ek toe na ware kinders van God wat ek as ankers vir die uitreik kan gebruik; ‘n vastrapplek in dié vreemde dorpie.  Ek ry oor die werf van ‘n besigheidjie. Dit is so netjies gehark dat ek voel die kar se bande ontheilig dit. Ek praat met die vroutjie agter die toonbank. Nee sy ken nie sulke mense nie en kom vir ‘n paar jaar al nie meer in haar kerk nie, maar sy lees wel haar Bybel; sommer ‘n paar keer elke dag. Ek sien ‘n stapeltjie Nuwe Testamente links van haar op die toonbank lê.

Ek kyk haar lank stip aan en voel die Here sê in my hart ,”Gaan aan.” Ek sê-vra, “So jy ken nie die Here nie, maar wil jy Hom leer ken?” “Baie graag ja, meneer”, antwoord sy. “Dan moet jy in Hom glo,” sê ek, “maar nie sommer so bo-langs nie; jy moet, vas, vas, vas in Hom glo. Jy moet glo Hy is jou Skepper en het daarom die reg op elke flentertjie van jou liggaam en gedagtes en dat Sy  Seun Jesus vir jou sondes betaal het sodat jy vergewe kan word. Wil jy so glo?” “Ja meneer, ek wil.” “Nou bid dan agter my aan.” So bid ek toe en sy bid agterna.

Toe ons klaar is, vertel ek haar van Abraham wat God geglo het toe Hy hom belowe het dat sy nageslag so baie soos die sterre daar bokant hulle koppe in die hemelruim sou wees. Toe glo Abraham die Here en die Here sien hy glo en die Here reken hom die ewige lewe toe, net omdat hy geglo het, want God het gesien Abraham glo met ‘n geloof wat Hom nooit weer sou laat los nie.  “En wat nou van jou?” vra ek haar. Sy kyk my stil in die oë, sonder om weg te kyk en antwoord, “Ek glo nou ook so meneer.” So het die Heer sonder sukkel vir Hom ‘n skaaplam in Karasburg aangekeer.

‘N STEWIGE FONDAMENT

Die Boek Génesis wat ek ten aanvang met belangstellendes wil behandel, is vol van geestelike slote, riviere en berge wat oorgesteek moet word en elkeen verg ‘n besluit , geloof en aksie. Jakob het baie jare lank vasgekleef aan die oneerlike streep in sy lewe voor hy die nag by die Jabbok daarvan bevry is. Ek het lank op Rookspruit se walle, suigende aan my pyp oor die watertjie sit en staar, voor ek my afgod in ‘n bos gegooi, die spruit oorgesteek het anderkant toe en vir 47 jaar aanhou loop het, sonder om terug te draai.

Dit gaan nie net om Bybelstudie nie; ek moet mense deur die Rooi See lei en hulle leer om met God te wandel; so nie kan ek net sowel iemand huur om vir hulle aardrykskunde of koekversiering te gaan aanbied.

PLAN VAN AKSIE

Die eerste stap nou is om steun te werf vir hierdie onderneming want alleen kan ek dit beslis nie aandurf nie.

Om met die motor na ander dorpe te ry, het ‘n mens alreeds weer brandstof nodig. Toe ek dit voor die Here bring, voel ek Hy sê vir my: Moses was slegter af as jy, hy moes te voet na Egipte gaan met net ‘n staf in sy hand. Met daardie staf het hy al die plae oor Egipte gebring, die Rooi see gekloof en water uit ‘n rots laat vloei. Jy het mos nog ‘n ryding, ‘n fiets; gebruik dit!

So haal Hy my toe oor. Binne die volgende paar dae wil ek dan met my bergfiets en ‘n rugsak met net die allernodigste voorrade, vertrek en by Trompsburg, Jagersfontein, Fauresmith, Koffiefontein, Jacobsdal, Modderfontein (en dalk Ritchie) en laastens Kimberley aandoen. By elk van dié plekke wil ek kennisgewings oor my voorgenome werk in Namibië uitgee en probeer om elke aand met ‘n klein groepie mense te vergader en hul vrae te beantwoord.

(Ek sal belangstellendes wat op my Whatsapp groep M2819 Ben Lubbe Namibia, ingeteken is, of later inteken, daagliks op die hoogte hou van my vordering.)

Ek sal die Here ook vir verblyf moet vertrou want as ek in gastehuise moet oornag, sal dit oor ‘n periode van 7 tot 10 dae ‘n aardige bedraggie beloop. Soggens wil ek dan graag so teen 6vm weer na die volgende dorpie vertrek.

Nou ja, op 77jarige ouderdom kan dit makliker gesê as gedaan wees, maar miskien sal dit my leer om nie op myself nie, maar op God te vertrou. Jesus het ook maar so van dorp tot dorp deur die land gegaan om die Evangelie te verkondig en dit, nie met ‘n fiets of donkie nie, maar te voet. Soms kon Hy nie eers ‘n plat klip in die hande kry om Sy kop op neer te lê wanneer Hy genoodsaak was om in die veld te slaap nie. Ek meen ek sal myself en Hom so op ‘n nuwe manier leer ken.

Miskien sal die feit dat ek gewillig is om so ‘n bietjie gerief op te offer om my uiteindelike doelwit te kan bereik, andere ook motiveer om op te offer om my hierin te help. Hy het immers aan ‘n kruishout gesterf om aan ons die ewige lewe te kon gee; sal dit dan vir ons te veel wees om so ‘n bietjie in Sy lyding te deel om hierdie wonderlike verlossing weer met andere te kan deel. Daar is duisende in Namibië wat wag dat ons die Kruis Boodskap duidelik en kragtig aan hulle moet bring, sodat hulle ook kan hê wat ons reeds het.

 MY MODUS OPERANDI IN NAMIBIë

Wanneer ek hierdie fietstoer suksesvol voltooi het, vertel ek meer oor my beoogde volgende stappe en hoe ek die werk in Namibië wil benader.

GEBED

Bid asseblief vir my. Die gees is gewillig maar die vlees is swak. Ek sal u deur middel van WhatsApp boodskappe daagliks op die hoogte hou van my vertrek en my vordering van dorp tot dorp.

Bid asb ook vir my dierbare vrou, vir Martie; bid vir gemoedsrus en dat daar geen krisisse sal ontstaan terwyl ek weg is va die huis af nie.

OM MET MY KONTAK TE MAAK

As u vir my op die groep forum ‘n boodskap wil stuur, hou dit asb kort en bondig en beperk tot die onderwerp waarvoor die forum geskep is, sodat ons nie die ander lede van die groep met gedurige nuwe boodskappe belas nie.

Indien u my wil kontak in verband met akkommodasie of vir watter ander rede ookal, gebruik asb eerder my persoonlike selfoonnommer 083 276 1887. Onthou net dat ek meeste van die tyd nie dadelik u oproep sal kan beantwoord nie, omdat ek op die fiets of op ‘n ander wyse besig sal wees..

BYDRAES

Indien u gelei voel om tot my uitgawes by te dra, kan u, u bydrae in die volgende bankrekening inbetaal: ABSA, geen takkode (of 632005 indien ‘n kode vereis word), BJ Lubbe, tjekrek, 1460514009. Sodra ek terug is van my fiets ekskursie, sal ek DV reël vir ‘n afsonderlike bankrekening vir hierdie missie.

Groete,

 

Ben Lubbe

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Please enter the letters below: * Time limit is exhausted. Please reload CAPTCHA.