Nederigheid en hoogmoed

Hoogmoed

Van al die negatiewe dinge wat die lewe vir ‘n mens moeilik maak, staan hoogmoed hoog bo-aan die punteleer. ‘n Hoogmoedige mens het ‘n obsessie om altyd bo andere uit te troon. Hy moet altyd die meeste gerespekteer en die hoogste aangeprys word. In watter geselskap hy hom ookal bevind, moet hy net eenvoudig die middelpunt van belangstelling wees. As iemand vertel van ‘n wonderlike winskopie wat hom te beurt geval het, sal hy hom dadelik troef met die groter winskoop wat hy self behaal het, al moet hy sy storie dan nou maar so ‘n bietjie aandik. As hy dít nie kan regkry nie, gaan hy dikmond huistoe en sal hy nie maklik weer met daardie mense assosieer nie. Hy maak eintlik net die lewe vir homself ondraaglik moeilik. Hy kan nooit ontspan en net homself wees nie, nee hy moet 24/7 in die voorsitterstoel sit waar almal hom kan sien. Selfs in gebed probeer hy hard om mooi gedagtes bymekaar te bring en dit vloeiend voor te dra sodat mense hom agterna stilletjies aan die elmboog kan vat en in sy oor kan fluister “Ai, ek wens tog so ek kon ook so mooi soos jy bid”.

Maar behalwe dat hy vir homself ‘n sware juk op die skouers tel, haal hy hom boonop nog die Here se toorn ook op die hals, want die Heer het meer ontferming vir ‘n ontugtige vrou gehad as vir ‘n hoogmoedige leier en verklaar uitdruklik dat so iemand verseker nie Sy straf sal vryspring nie: “Elke hoogmoedige van hart is vir die Here ‘n gruwel; sekerlik, hy sal nie ongestraf bly nie”. (Spr 16:5).

Selfs nog in hierdie lewe loop die hoogmoedige gedurig die risiko om pynlik verneder te word:
“Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.” (Spr 16:18). Die Here self bewerk die hoogmoedige se val soos in die geval van die trotse Haman wat deur die koning aangesê was om sy aardsvyand, Mórdegai, ‘n koninklike kleed om te hang en hom op een van sy perde deur die strate van die stad Susan te lei terwyl hy uitroep: “So word gedoen met elkeen aan wie die koning eer wil bewys”. (Ester 6:6-14). Eina tog! Hoe pynlik moes dit nie vir Haman se koorsige ego gewees het nie.

Daarenteen beskryf die Woord die Here Jesus wat, as Seun van God, alle rede gehad het om hoogmoedig te wees, as die toonbeeld van nederigheid: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel—op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin”. (Sag 9:9)

Ag nee wat, ons haal ons net pyn en straf op die hals deur iets te probeer wees wat God nooit bedoel het dat ons moes wees nie. En in elkeen van ons is daar mos tog maar ‘n stukkie Haman. Maar met daardie vyand wat binne in ons skuil, kan afgereken word want Jesus nooi ons daartoe: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Matt 11:28-30).

Hoogmoed waaraan jare lank toegegee is, het ‘n geweldige houvas maar wanneer ons dit selfs net begín bely, kom die Here Jesus ons deur Sy Gees te hulp en begin daar sommer een, twee, drie ‘n bonatuurlike verandering in ons plaasvind. Die selfgeldingsdrang se mag word verbreek en stilweg kom daar ‘n rustige vrede in my gemoed; ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan. Omdat die Heilige Gees in my hart getuig dat ek God behaag, gee ek al minder om wat andere van my dink of van my sê; dit word sommer net onbelangrik en wat ‘n heerlike vryheid is dit nie!

Dan werk ek ook nie meer om deur andere geprys of bewonder te word nie, maar om die Here te vereer en omdat ek dan meer ontspanne en blymoedig is, kan ek meer innoverend dink en “slimmer” werk, en presteer ek gevolglik ook baie beter.

So kom, neem hierdie klein treetjie van oorgawe en geniet jou lewe in Christus soos nooit tevore nie. “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees.” (Joh 8:36)


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → NEDERIGHEID EN HOOGMOED . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha

    ……….