HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.
Lees asb. Joh 3:1-21
Elke mens het God nodig.
Sedert sy sondeval in die tuin van Eden, was die mens nog altyd bewus van ‘n leemte, van ‘n gemis in sy lewe. Hy wou sy eie god gewees het, maar nou het hy ontdek hoe klein hy was, hoe beperk sy vermoë en hoe desperaat hy sy Skepper nodig het. Hy het Hom nodig in fisiese dinge soos om hom te beskerm teen gevare en om vir hom te voorsien in sy behoeftes aan kos en gesondheid. Maar hy het Hom ook nodig in sy stryd teen die magtige bose begeertes wat binne-in hom skuil, begeertes wat hyself nie kan beheer nie, kragtige innerlike magte wat veroorsaak dat hy homself benadeel, asook andere rondom hom, selfs diegene wat hy liefhet.
Die mens se ewige vrugtelose soeke na God.
Geen wonder dan dat deur al die eeue heen en in elke nasie, mense probeer het om met God kontak te maak. Die Here is egter heilig, rein, vlekkeloos en lewe in lig wat so helder is dat dit nie deur sonde binnegedring kan word nie. Daarom het die mens wat so algeheel deur sonde deurdring is en beheer word, geen hoop gehad om God deur sy eie pogings te bereik nie want sonde het ook meegebring dat die mens nie helder kon dink nie, nie dink soos wat God dink nie.
Die mens skep vir homself mensagtige gode.
Om dié rede het die mens sy eie gode uitgedink en menslike eienskappe op hierdie gode geprojekteer, aan hulle toegeskryf. Die gode wat die mens vir homself uitgedink het, was dan kragtiger of sterker as hyself, maar hulle het ook dieselfde, ja, selfs leliker bose begeertes gehad: begeertes van seksuele wellus, woede, haat, jaloesie, ens. Hulle was niks anders gewees nie as super mense. Die mens sou dan gewoonlik beelde maak van hout, klip, metaal, of wat ook al, om hierdie gode fisies uit te beeld. Die beelde sou hy dan in ‘n tempel plaas in die geloof dat die gees-god wat deur hierdie beeld verteenwoordig is, daarvan besit sou neem en daarin sou gaan woon.
Om hierdie rede het selfs konings van nasies voor sulke afgode neergebuig en offerandes aan hulle gebring; ja, aan ál hierdie menigte van afgode. Hulle sou byvoorbeeld ‘n god van oorlog hê om hulle teen hul vyande te help, ‘n god van reën tot wie hulle kon bid vir hul gesaaides, ‘n god wat hul vrouens vrugbaar kon maak om baie kinders voort te bring, en vele ander. In die Bybel word die name verstrek van sommige van hierdie afgode wat die heidense nasies wat Israel omring, gehad het, bv. Baál, Astarte en Dagon.
Aanbidders van die lewelose hemelliggame of van diere.
Ander nasies weer, het geglo dat die son, die maan en sekere sterre, gode was wat die lewens van die mens op aarde beheer het, of dat die geeste van hulle afgode gewoon het in sekere diere, soos in slange, verkleurmannetjies, skilpaaie, hottentotsgode, asook in sekere vee soos die Brahmaan bees.
Aanbidders van die geeste van hul afgestorwe voorvaders.
Dan was daar ook weer nasies wat nie afgode gehad het nie, maar die geeste van hulle afgestorwe voorvaders aanbid het, menende dat hierdie persone wat hulle op aarde tevore geken het, gewillig en ook in die posisie sou wees om hulle op die een of ander wyse te help, of by te staan. Hulle het ook vaagweg geglo dat hierdie afgestorwe geeste, omdat hulle net soos God in die geesteswêreld verkeer, ‘n mate van toegang tot God gehad het en dat Hy ag sou gee op hulle versoeke.
Aanbidding gebaseer op valse lering.
Laastens is daar ook hulle wat gedeeltes uit die Bybel bestudeer en glo maar hulle eie gedagtes daarby byvoeg soos wat dit hulle pas. Dit ontaard dan in ‘n stel reëls wat nie in lyn is met God se openbaring nie en gevolglik nie ‘n versoening tussen God en mens kan bring nie.
Valse aanbidding lei tot duiwelaanbidding.
Die tragedie hiervan is dat hierdie heidense aanbidders nie geweet het dat in hulle soeke na kontak met die geesteswêreld, en dit om selfsugtige redes, hulle inderwaarheid kontak gemaak het met die duiwel self, en die demone wat hom dien. Op dié wyse het hierdie bose geeste toegang tot hulle lewens gekry en hulle beheer. Kyk net wat sê God hieromtrent in 1 Kor. 10:20: “Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie.” Die duiwel is die vader van die leuen en hy bedrieg hierdie mense sodat hulle oortuig is dat hulle die regte ding doen om hulle afgode te dien volgens hulle eie kultuur. Hulle is geestelik te blind om die bose wesens te sien aan wie hulle offer.
Afgodsaanbidding lei nie tot ‘n heilige lewe nie.
Die aanbidder van afgodsbeelde of sogenaamde gode wat die produk is van valse lering, het nie die verwagting of die begeerte dat sy god hom kan verander in ‘n heilige wese wat weet wat reg is en wat in staat is om dit wat reg is te kan doen nie.
Hierdie punt is van groot belang vir ons huidige studie. Laat my dit dus herhaal: Die heidene het geen verwagting of enige begeerte dat hulle gode hulle sal verander in heilige wesens nie. Hulle mag ‘n stel reëls of riglyne hê wat veronderstel is om van hulle gode te kom en as riglyne dien in wat om te doen en wat nie, maar die Bybel is die enigste boek wat aan die mens belowe dat Hy, die Skepper, op die mens se versoek, persoonlik binne-in hom sal kom lewe en sy karakter, sy diepste wese sal verander sodat hy soos God kan wees; wat hom sal verander in ‘n heilige, liefdevolle wese wat weet wat reg en wat verkeerd is. Is dit nie wonderlik nie!
Die wedergeboorte kom alleenlik deur die inwoning van Christus.
Hierdie werk wat God binne-in die hart van Sy dissipel doen, noem ons die wederboorte, omdat die persoon so radikaal verander word, dat dit wil voorkom asof hy totaal ‘n ander mens is wat hy dan inderdaad geestelik ook is, want die Bybel sê in 2 Kor. 5:17: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verby gegaan, kyk, dit het alles nuut geword!”. Daar is geen heidense god wat hierdie wonder kan verrig nie; die wonder wat meebring dat die geestelike kind wat gebore word, soos God sy geestelike Vader lyk, dink en doen nie.
Is dit moontlik om van skreeu-lelik na beeldskoon verander te word?
Het jy al ooit in die spieël gekyk en gesê: “Ai, ek is nie regtig ‘n mooi persoon nie. Hoe wens ek tog nie dat ek my gesig en liggaam kon verander om soos hierdie of daardie TV persoonlikheid te lyk nie.” Ons weet almal dat dit nie moontlik is nie. Die goeie nuus is egter dat so ‘n algehele transformasie van jou gées wel moontlik is en dit sommer hier en nou. Wanneer jy in God se spieël kyk, naamlik Sy Woord, en sien hoedat jou lewe deur allerhande sondes geskend is, kan jy tot Hom uitroep en sê: “O Here, ek haat myself vir hierdie sonde wat my so skend. Ek wil soos U lyk: rein en heilig”. En God sal jou gebed beantwoord en die Heilige Gees sal in jou lewe inkom en meebring dat ‘n nuwe geestelike kind vir God gebore word.
Eers die nuwe geboorte en dan die groeiproses.
Dit is natuurlik ook waar dat jy nie onmiddellik die volle prag van Jesus in jou lewe sal sien nie, want jou ou natuur, wat jy tydens jou natuurlike geboorte in die vlees ontvang het, is nog steeds binne-in jou. En deur al hierdie jare heen het jy toegelaat dat dit kragtig geword het, en nou is dit aanvanklik nog steeds dominant in jou lewe. In baie situasies sal dit nog sterk na vore tree en sal jy beskaamd en omgekrap wees daaroor.
Die nuwe jy sal meer en meer domineer (heers).
Maar hier is die goeie nuus: hierdie nuwe geestelike persoon wat binne-in jou gebore is deur die werking van die Heilige Gees, is baie, baie sterker as die ou natuur wat uit die vlees gebore was en soos wat jy God vertrou, sal die nuwe natuur die oorhand kry oor die ou natuur en baie mense sal vir jou vra: “My wêreld, wat het met jou gebeur? Jy praat so anders; jou optrede is so anders; jy dink so anders oor dinge. Jy sien alles so anders in as in die verlede?” Ja, ek het verander omdat Jesus Sy natuur in my hart ingeplant het.”
Nikodémus se positiewe eienskappe.
Kom ons kyk nou na Nikodémus van wie ons in hierdie Skrifgedeelte gelees het. Wat was die positiewe dinge in sy lewe?
Hy was ‘n Fariseër. In Jesus se tyd was daar blykbaar omtrent sesduidend van hulle. Hulle het in die Tora geglo, die vyf boeke van Moses, sowel as in die skrywes van die profete. Hulle het ook geglo in engele, lewe na die dood en in die wederopstanding van die regverdiges. Hulle het baie streng gehou by die wette en voorskrifte van Moses, maar het ook baie, baie reëls daarby bygevoeg wat dit vir ‘n Jood baie moeilik gemaak het om God te dien.
Hy was ook ‘n lid van die Sanhederin wat die hoogste raad was wat die Joodse godsdiens beheer het en veral beheer uitgeoefen het oor die tempel in Jerusalem.
Derdens het hy nie die Here Jesus weerstaan of geopponeer nie, maar Hom gesien as iemand wat van God gestuur was om die mens in Sy weë te onderrig. Gevolglik was hy nie jaloers op die Here Jesus nie. Ook het hy nie bedreig gevoel oor die wonderwerke wat Jesus verrig het nie.
Hy was ‘n nederige man en alhoewel hy bang was om gespot of uitgewerp te word deur sy kollegas, het hy nogtans vir Jesus persoonlik kom opsoek om deur Hom onderrig te word want hy het besef dat die Here Jesus ‘n baie dieper begrip van die weë en gedagtes van God gehad het as hyself. (Hieruit kan ons ‘n les van hom leer. Wanneer ons ‘n sekere gedeelte van die Skrif nie verstaan nie of onseker is hoe om in ‘n sekere situasie as Christen op te tree, of watter besluit om te neem, moet ons die saak in nederige en ernstige gebed na Jesus toe neem. Hy is die Man vanuit die hemel, ja, die Seun van God. Hy kan elke vraag beantwoord.)
Nikodémus is eerlik met homself: hy het geen vrede met God nie.
Toe Jesus die mate van geloof wat Nikodémus in Hom gehad het, sien, asook die moeite wat hy gedoen het en die risiko’s wat hy geloop het om Hom te kom sien, het Jesus sommer direk tot die punt gekom. Nikodémus het ‘n vraag gehad wat hy nie geweet het hoe om te vra nie. Sy vraag was: “Jesus, ek was nog altyd ‘n baie godsdienstige man, my hele lewe lank, wat geleef het volgens die wette van God, wat Hy deur Sy dienskneg Moses aan ons gegee het, nogtans kan ek baie duidelik sien dat U baie, baie meer van God ontvang het as wat ek het. Wat het ek nodig om soos U te kan wees?”
Jesus is eerlik met Nikodémus.
Op hierdie onuitgesproke vraag het Jesus reguit geantwoord: “Deur weer gebore te word, sal jy ingaan in God se Koninkryk en deel van my wêreld word”. Nikodémus het dit gladnie verstaan nie en het ook so gesê .Hieroor het Jesus hom aangespreek. Alhoewel hy so ‘n prominente leraar in Israel was, het hy nogtans nie hierdie basiese waarheid verstaan nie.
Hy is geleer dat hy met God versoen kon raak deur sy bes te probeer om Sy wette te onderhou.
Laat ons probeer om ‘n antwoord te vind waarom Nikodémus in hierdie ongelukkige posisie was waarin ook baie lidmate van kerke, ja selfs ook leraars hulleself bevind vandag nog bevind. ‘n Gedeelte van die probleem mag gewees het, of kon toegeskryf word aan die wyse waarop hy opgevoed was. Hy was geleer dat deur die wette van God te bestudeer en te onderhou so goed as wat hy kon, hy God tot so ‘n mate sou kon behaag, dat God hom in Sy ewige Koninkryk sou aanvaar.
Niemand kon ‘n vinger na hom wys nie; tog was hy onseker of God hom aanvaar het.
Dit was dan ook wat hy gedoen het. Hy sou drie maal per week gevas het, op gegewe tye gebid het, selfs die kleinste oes wat hy ingebring het, in tien dele verdeel en die eerste aan God gegee het. Nie een van sy kollegas kon ‘n vinger wys na enige area van sy lewe waar hy nie volgens die Wet van God gewandel het nie. Dit mag hom tot die gevolgtrekking gebring het dat God tevrede en gelukkig was met hom, maar diep in sy hart was hy nie oortuig van hierdie feit nie. Jesus het nou sy twyfel omtrent sy eie regverdigheid bevestig, sy twyfel of sy saak met God reg was. Net soos die ander Fariseërs het Nikodémus ook ‘n wanbegrip gehad van die Woord van God.
Wat hy eintlik moes doen, was om soos Abraham te glo.
Nou wat hét die Woord dan geleer? Ons vind dit reeds vroeg al in die Bybel, in die boek Genesis, hoofstuk 15:6 waar dit opgeteken staan dat Abraham in God geglo het en dat hierdie geloof vir hom toegereken is as geregtigheid, wat net eenvoudig beteken dat God vir hom gesê het: “Jy is nou in ‘n regte verhouding tot My; jou saak is nou reg met My. Jy glo dat Ek die een en enige God is, jy vertrou jouself nou aan My toe as jou God, daarom aanvaar Ek jou nou as Myne. Die ooreenkoms tussen jou en My is nou vir ewig verseël – Ek is joune en jy is Myne. Ek sal jou God wees en oor jou waak, Ek sal jou vergewe wanneer jy onopsetlik sondig. Ek sal jou versterk om My wil te doen. Jy het nou deel geword van My en van My Koninkryk tot in ewigheid.”
So was Abraham se geloof.
Abraham het nie na God toe gekom met ‘n lys van al die goeie dinge wat hy gedoen het nie. Hy het baie goed geweet dat sy lewe vêr van volmaak was. Wat het God dan in Abraham se hart gesien? Eerstens die geloof dat God die enige God was, ‘n genadige God wat onvolmaakte mense aanvaar en tweedens ‘n opregte begeerte om met hierde God te wandel. Op hierdie eenvoudige kinderlike wyse het hy ‘n kind van God geword. Abraham het natuurlik op daardie stadium niks verstaan omtrent die wedergeboorte wat Jesus nou aan Nikodémus verduidelik het nie, nogtans het hy presies dieselfde ondervinding gehad van God wat deur Sy Gees in sy lewe ingekom het en hom ‘n geestelike kind van God gemaak het. Daar was geen ander weg vir Abraham om in die Koninkryk van God in te kom nie, ook nie vir Nikodemus nie.
Nikodemus volg in Abraham se spore.
Ek glo dat Nikodémus daardie nag op ‘n punt gekom het waar hy begryp het wat Jesus aan hom verduidelik het en dat hy ook in die Koninkryk van God ingegaan het deur die wedergeboorte. Want later van tyd toe die leiers van die priesters en Fariseërs vir Jesus wou arresteer, het Nikodemus Hom verdedig en hulle teëgegaan. En na Jesus se kruisiging was dit ook Nikodémus wat, tesame met Josef van Arimathea, die persone was wat Jesus se liggaam van die kruis af weggeneem en in ‘n graf weggelê het. Nikodémus, daardie groot geestelike leier, het homself verootmoedig, erken dat hy weergebore moes word en sodoende het hy genade ontvang en het daardie wonderwerk ook in sy lewe plaasgevind.
Alle mense moet weergebore word.
Hierdie lering wat deur die Seun van God persoonlik gegee is, is ook vir jou en my van lewensbelang. Let op Jesus se woorde: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die Koninkryk van God nie sien nie.” Alle mense in hierdie wêreld is gebore as natuurlike mense, deur die besluit van mense; deur die besluit van ‘n man en ‘n vrou, naamlik hul ouers. En daarom moet alle mense weer gebore word uit die Gees van God om aanvaar te word deur God, en om in Sy Koninkryk in te gaan.
Wat van my?
Nou is dit jou beurt om hierdie allerbelangrike vraag in jou lewe te beantwoord: “Is ek weer gebore?” Indien nie, hier is die weg om dit te verkry. Bid soos volg:
“Ek erken dat ek nodig het om weergebore te word om aan God te kan behoort en in Sy Koninkryk te kan ingaan.
Ek wil graag so ‘n nuwe karakter hê; ‘n rein en heilige lewe soos dié van Jesus. Dit is my begeerte om so deur God verander te word. Ek wil nie langer aangaan om in sonde te leef nie.
Ek wil hê dat die Here die volle sê oor my lewe moet hê en vir my moet lei wat om te doen en wat nie.
Ek glo dat Jesus die Seun van God is wat mens geword en vir my sondes aan die kruis betaal het, sodat ek gereinig en sonder skuld voor die Troon van God kan staan.
Ek glo van harte dat God genadig is en dat Hy my nou aanneem net soos ek is, sonder dat ek probeer om eers self beter te word.
Dankie Here dat U my sondes nou vergewe het en dat u die wedergeboorte in my hart bewerk het.
Amen.”
Abraham, Nikodémus en nou ek; ons aldrie word kinders van God deur die wonder van die wedergeboorte!
As jy hierdie gebed in vaste vertroue op God gebid het, mag jy jouself nou ‘n kind van God noem omdat dit in Joh 1:12 opgeteken staan dat Hy aan elkeen wat Hom aangeneem het, die mag gegee het om ‘n kind van God te word.
……….