- Die Nuwe Aarde En Sterrehemel
Kom ons kyk na die volgende Skrifverse:
Open 21:1 En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. 2 En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.
- Die eerste Hemel en Aarde sal Verbygaan
Hoe sal dit gebeur? Die Apostel Petrus verduidelik:
2Pe 3:10 Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.
Sodra alle menselewe van die aarde verwyder is soos ons vroeër gesien het, sal dit heeltemal deur vuur verteer word en daarmee saam elke hemelse liggaam in die sterrehemel. Die konstellasies van sterre en planete sal vernietig word. Selfs die atome, die boublokke waarmee hulle tydens die skepping gebou is, sal verteer word en tot energie terugkeer. Dan sal die energie na God terugkeer en geen materiaal sal in die ganse heelal oorbly nie. Die heelal sal ophou om te bestaan. Net dit wat in die hemel en die hel sal wees, sal nog daar wees. Wanneer ‘n ster inplof, kan die oorblyfsel nog as ‘n swart gat met onbeskryflike massa in die ruimte waargeneem word, maar nie eers soveel sal van die heelal oorbly nie.
- ‘n Nuwe Hemel en ‘n Nuwe Aarde
Die eerste hemel en aarde was goed toe dit geskape is; dit het net as gevolg van die mens se sonde verdorwe geraak wat daartoe gelei het dat dit vervloek is.
Die nuwe sterrehemel en die nuwe aarde sal selfs beter wees.
Die nuwe hemele waarvan hier gepraat word, is natuurlik die sterrehemel en nie die hemel waar God woon nie, want daardie hemel was nooit deur sonde bederf nie en hoef dus nie vervang of hernu te word nie.
- Die Nuwe Jerusalem daal neer
Van waar af daal dit neer? Uit die hemel, want elke goeie gif en elke volmaakte gawe word deur die Vader gegee en daal van Bo af neer (Jak 1:17). Waarop daal dit neer? Op die nuwe aarde want daar is geen ander verduideliking as dit in konteks gelees word nie.
Ons het tevore reeds gesien dat hierdie Nuwe Jerusalem nie soseer gesien moet word as ‘n stad nie, maar eerder as ‘n konsentrasie van mense, van God se mense. Hulle kom nou besit neem van die herehuis en landgoed wat God vir hulle voorberei het.
- Die Bruidegom en Bruid in hul Nuwe Huis
Die Bruid het intussen met die Hemelse Bruidegom getrou want in die volgende vers word die Bruid, vir die eerste keer, die Vrou van die Lam genoem.
Open 21:9 En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam.
Die Bruilofsfees van die Lam het reeds plaasgevind (Openb 19:7) en nou gaan Hulle vir ewig saam lewe. Beide die Bruid en Bruidegom het deur baie verdrukkinge gegaan, maar nou geniet Hulle die vrug van hulle lyding en opofferings.
Die mens sal nie meer ‘n seksuele wese wees nie en daar sal ook geen huwelike meer plaasvind nie, aangesien beide mans en vroue vanuit die vorige bedeling, as lede van die Bruid, met Christus getroud sal wees.
- Liggame en Beweging
Na Sy opstanding kon Jesus na willekeur aan mense verskyn maar ook weer verdwyn. Hy kon ook blykbaar moeiteloos van een plek na ‘n ander beweeg asof Hy in heel ‘n ander dimensie geleef het. Sodoende het Hy aan talle mense op verskillende plekke verskyn. By een geleentheid het Hy selfs terselfdertyd aan meer as 500 broers gelyktydig verskyn.
1Kor 15:6 Daarna het Hy verskyn aan oor die vyf honderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het.
Hy kon mense kos eet – kon hy daar sonder klaarkom? Hy kon ook opvaar na die hemel.
Dit laat die vraag ontstaan wat ons vermoëns op die nuwe aarde sal wees.
1Joh 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.
Sal ons ook in staat wees om te verskyn en skielik weer te verdwyn? Sal ons in staat wees om reg deur materiële voorwerpe te beweeg? Sal ons in staat wees om die hemel te besoek? Sal ons in staat wees om in ‘n breukdeel van ‘n sekonde na die vêrste ster in die heelal verplaas te word? Hoe sal die nuwe hemele en die aarde lyk? En wat van plante en diere?
Wel, ons het nie die antwoorde op al hierdie vrae nie, maar hulle open beslis opwindende moontlikhede. Ons sal beslis nie verveeld wees nie!
Die nuwe Paradys sal geen grense hê nie. Die sterrehemel sal oop wees om te verken. Reise dwarsoor die heelal sal iets gewoons wees, selfs verkenning van die kookpotte van gesmelte lawa kerns van die sterre.
Ja, ons raai maar, gebaseer op wat aan ons geopenbaar is, maar ons verwagtings sal algeheel oortref word.
//////////
……….