Onbeskaamde gebed; Luk 11:5 – 13

HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD.

Lees asb Luk 11:5-13.

Gebedskoling.

Die vorige perikoop (verse 1-4) handel oor die model gebed wat die Here Jesus vir Sy dissipels leer bid het en verskaf riglyne oor wat en hoe ons moet bid. Hierdie Skrifgedeelte handel oor die vertroue wat ons in ons harte moet hê sodat God ons gebede kan beantwoord.

Dink logies hieroor na.

In Sy lering gebruik Jesus illustrasies uit die alledaagse  lewe waarop Hy dan ‘n argument bou om ons van ‘n belangrike geestelike waarheid te oortuig. In die illustrasie wat Hy gebruik, sien ons hoedat ons as mense mekaar om verskillende redes help en na aanleiding daarvan, argumenteer Jesus dat God ons om verskeie redes soveel te meer sal help as ons Hom daarom vra.

Jesus se eerste argument is: “Vriende help mekaar mos, al moet hulle hul eie gerief opoffer om dit te kan doen.”

Jesus sê min of meer die volgende: “Dink ‘n bietjie hoe jy sal reageer as iemand na jou toe kom en vra, ’Gee vir my dit of dat.’ Normaalweg sal jy mos vir hom gee wat hy vra, nie waar nie? As dit is wat jý sal doen, dink jy nie dat God dieselfde sal doen nie; of dink jy, jy is vrygewiger as Hy?  Het dit al by jou opgekom dat Hy miskien geniet om vir mense te gee wat hulle vra?

Stel jou voor dat jy in 30 NC in ‘n huis in Nasaret woon. Jou deur is gesluit en jou kers doodgeblaas. Dit is omstreeks middernag en heerlik stil. Die hele dorpie se mense slaap lankal; so ook jy en jou familie.  Skielik skrik jy wakker; was daar ‘n klop aan die deur? Ja daar is dit weer; twee, drie keer. Jy sit skuins regop  en roep versigtig: “Ja, wie’s dit?” 

“Jan, Jan jou buurman, ek moet dringend met jou praat,” kom die benoude antwoord.

“Genugtig, Johannes, wat is dit; siekte?” roep jy terug.

“Nee, nee” antwoord hy “tog nie dit nie, maar ek is verseker in ‘n groot penarie.”

Jy swaai jou voete van die bed af, kom orent en skuifel behoedsaam deur toe en maak dit op ‘n skrefie oop.

“Nou praat laat ek hoor,” nooi jy versigtig.

‘n Oomblik se huiwering, dan begin Jan stotterend vertel: “Sien, ‘n ou vriend van my het nou-nou net van ‘n lang reis daar by my aangekom; al die pad van Kapernaum af, vaal van die honger en die dors en weet jy wat, ons het net vanaand al die brood in die huis opgeëet. Nou het ons net mooi niks om aan hom voor te sit nie. Kan jy tog nie asseblief vir my met drie brode help nie? Net drie. Die vrou bak môre, dan gee ek dit vir jou t’rug; sowaar as ek leef!’

Hoe sal jy hierop reageer? Sal jy hom verjaag, toesnou: ‘Ag nee man, tog nie dié tyd van die nag nie! Ons is almal uitgetrek en in die bed en my kinders slaap nou net mooi rustig. Loop lê jy nou ook en kom môre, dan help ek jou.’ Is dit hoe hy sal optree? Ek dink nie so nie. Ek dink jy sal jou eie gerief en die gerief van jou familie opoffer,  opstaan, jou klere aantrek, die kers aansteek, die brood gaan haal, dit in ‘n skottel of sak sit en  vir hom gee.

Hoekom sal jy hom help? Wel, die eerste rede mag wees omdat hy jou vriend is. Die twee van julle ken mekaar baie goed. Julle eet dikwels saam en gesels met mekaar. Daar is ‘n sterk band tussen julle. Jy is nader aan hom as aan die ander mense in die dorp. Wanneer hy verleë voel, voel jy ook verleë.  Jy wil hê dat hy gelukkig moet wees.  Jy voel op ‘n manier dat sý vriend, ook jóu vriend is. Daar is ‘n begeerte in jou hart om hom uit sy moeilikheid uit te help.

Nou, weet jy wat: die oomblik toe jy gered is, het Ek en jy vriende geword (Sê Jesus).  Jy is my ware vriend. Ons is aangrensende bure en ek hou baie van jou en jou familie. Indien jy een of ander probleem ondervind, ontstel dit My ook. Ons is bure. Jy kan niks vir My wegsteek nie. Ek kan sien as jy probleme ondervind en ongelukkig is. Jy hinder My nie as jy in die middel van die nag na My huis toe kom om vir My iets te vra nie. Asseblief, bid en as jy bid, doen dit met die oortuiging dat Ek met graagte jou gebed sal beantwoord.”

Jesus se tweede argument: ‘n mens sal ‘n ander een help as daardie ander een skaamteloos op hom vertrou om hom te help.

Dan gaan Jesus voort om ‘n tweede rede te gee waarom Hy meen dat jy die deur sal oopmaak en die brood sal gee. Kom ons laat ons verbeelding toe om die storie so effe uit te bou:

“Jy mag miskien in jou hart dink: ‘Hierdie man misbruik nou ons vriendskap om my in die middel van die nag so te verontrief. Nee, nee, hy tree nie soos ‘n vriend nie op nie; hy is nie langer my vriend nie; ek sal hom niks gee nie.’  Maar terwyl jy weer gaan lê en die kombers oor jou toetrek, hoor jy die man al harder en harder klop terwyl hy luidkeels pleit: “Asseblief my vriend, asseblief, ek moet drie brode hê, ek kan nie daarsonder huistoe gaan nie. Asseblief, asseblief maak tog oop die deur en help my asseblief, asseblief!” Dan sal jy dalk vir jou vrou sê: ‘Ai, hierdie man het geen skaamte nie, hy neem net eenvoudig vanselfsprekend aan ek sal hom help en dwing homself op my af. Die hele buurt is seker al wakker. Hy gee nie om wat die mense van hom sal sê nie.’ En jou vrou sal antwoord: ‘Ek stem saam ou man, ek stem saam. As ons hom nie help nie, sal al die vrouens  vingers na my wys en my van selfsugtigheid beskinner. Gee hom tog die brood om ons verdere verleentheid te spaar.’ Sugtend staan jy op, steek die kers op, gaan haal die drie brode, sit dit in ‘n sak en geen dit deur die deur opening vir hom. En so gaan hierdie onbeskaamde buurman huistoe met die brood  onder sy arm en ‘n breë glimlag om die mond want hy kan nou aan sy besoeker kos voorsit.

‘Wel,’ sê Jesus: ‘As dit is wat jy sal doen vir ‘n man wat homself onbeskaamd op jou verlaat, hoeveel te meer sal Ek vir diegene gee wat hulle vertroue in My stel – wat nie skaam is om te wys dat hulle My vertrou nie.”

Jesus se derde argument: as ‘n seun sy pa middernag opklop, sal sy pa hom help omdat hy sy pa is.

Dan kom Jesus met ‘n derde praktiese argument na vore waarom ons met verwagting vir ons behoeftes moet bid:

En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ‘n klip gee; of ook ‘n vis, en hy sal hom in plaas van ‘n vis ‘n slang gee; of ook as hy ‘n eier vra, hom ‘n skerpioen gee? As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?

Weereens gebruik die Here drie baie sterk argumente en sê dat ons op die vaders van hierdie wêreld moet let.  Hulle doen dikwels slegte dinge soos om te drink en te roof, maar waar dit hulle kinders aangaan, probeer hulle om net die beste vir hulle te doen. Vir hulle sal hulle met graagte die goeie dinge gee waarvoor hulle vra.  Soveel meer sal ons hemelse Vader wat so wonderlik goed en liefdevol teenoor ons as sy kinders is, vir ons die Heilige Gees gee as ons Hom maar net vra.

Nou waarom sal Hy die Heilige Gees vir ons gee? Die Heilige Gees is die derde Persoon van die drie-enige God en as Hy vir ons gegee word, gee God Homself vir ons en as ons Hom ontvang, ontvang ons die somtotaal  van alle goeie dinge. (In Matt 7:11 staan dit dan ook geskrywe dat Hy aan Sy kinders goeie gawes sal gee.)

Besluit nou vir jouself.

Nadat Jesus hierdie drie sterk argumente gegee het waarom God die Vader ons gebede sal verhoor, nooi Hy ons uit om nie langer te staan en naels kou nie maar om Hom met vrymoedigheid te vra vir dit wat ons nodig het: “Bid en vir julle sal gegee word, soek, en julle sal vind,  klop en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” Wat ‘n asemrowende blanko tjek. Jammer tog dat hoogmoed en kleingeloof so dikwels hierdie tjek uit ons hand steel en opskeur.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → ONBESKAAMDE GEBED . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha