Jesus se opstanding en verskynings; Luk 24

HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD,

A. DIE BELANGRIKHEID VAN JESUS SE OPSTANDING

Christus se opstanding is van kardinale belang. Hierdie gebeurtenis bevestig waarskynlik, meer as enige ander, dat Hy die Seun van God was wat vanuit die hemel deur die Vader gestuur was. Dit bevestig ook  dat alles wat Hy gedoen en verkondig het, Hom deur die Vader gegee was en, die belangrikste van alles, dat Sy offer van Homself vir ons sondes, deur Sy Vader aanvaar was. Hierdie waarhede het God die Vader bevestig deur Jesus uit die dood op te wek.

Die apostel Paulus onderstreep die belangrikheid van Sy opstanding soos volg in 1 Kor 15:17: “en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes;”

Christus se opstanding demonstreer dan ook die ontsagwekkende krag van God en is ons waarborg dat Hy ook:

Ons gees kan laat herleef uit die sonde-dood en aan ons ‘n nuwe heilige lewe kan skenk.

Op die laaste dag, wanneer Jesus na die aarde sal terugkeer, ons sterflike liggame sal kan opwek om soortgelyk te wees aan Sy eie nadat Hy uit die dood opgestaan het.

B. GETUIES VAN JESUS SE OPSTANDING EN VERSKYNINGS

(Ruim gerus ‘n bietjie bykomende tyd in en lees ook die volgende Skrifgedeeltes rustig deur om ‘n ryker prentjie te kry van wat tydens en na Jesus se opstanding gebeur het: Matt 28:1-10; Markus 16:1-20; Joh 20 en 21).

Weergawe van getuienis oor die opstanding.

Vroeër in die studiegids is daarop gewys dat die vier Evangelies elk vir ‘n bepaalde groep lesers geskryf is en dat dit onmoontlik is om al vier in een omvattende Evangelie te inkorporeer waarin  alles wat Jesus en ander rolspelers gedoen en gesê het, mooi chronologies aangeteken is. Elke skrywer het, onder leiding van die Heilige Gees, dié insidente en woorde wat hy vir sy lesers belangrik geag het, aangeteken in die volgorde wat hy gedink het die sterkste tot hulle sou spreek.

Dit geld dan natuurlik ook vir die slothoofstukke van dié Boeke waarin die opstanding, verskynings en hemelvaart van Jesus beskryf word. Al bestudeer ons al vier Evangelies sorgvuldig, besef ons dat alles nie gesê is nie en dat dit onmoontlik is om die insidente een vir een soos hulle gebeur het, agtermekaar in te span.

Ons gaan weereens op Lukas se verhaal konsentreer maar ook na insidente uit die ander Evangelies kyk om ‘n voller beeld van al die wonderlike gebeure te verkry.

Die VEILIGHEIDSWAGTE word die eerste getuies (Lees asb Matt 28:1-4, 11-15).

In die vorige studiegids het ons kennis geneem van die feit dat die Joodse leiers op die dag na die kruisiging Jesus se graf gaan verseël het. Hulle het ook wagte, wat op hul versoek deur Pilatus beskikbaar gestel is, opdrag gegee het om die graf te bewaak, sodat, soos hulle gevrees het, Jesus se dissipels nie miskien Sy liggaam sou steel en wegneem en verkondig dat Hy opgestaan het soos wat Hy gesê het Hy sou doen nie. Nou is dit ironies dat hierdie einste wagte die eerste getuies sou wees van Jesus se opstanding. Toe hulle later tot verhaal kom, het hulle van die graf af weggevlug en vir die owerpriesters gaan vertel wat gebeur het.

God se werkswyse is om verborgenhede aan die lig te bring; om die waarheid te openbaar. Die duiwel se strategie is om die waarheid te verberg onder ‘n mengelmoes van leuens. So doen hy ook hier. Hy kon Jesus nie verhoed om op te staan uit die graf nie; daarom het hy probeer om hierdie feit deur middel van omkopery en leuens te verdoesel. Hierin sou hy egter nie slaag nie want die wagte self was so aangegryp deur wat hulle daar by die graf beleef het, dat hulle dit sekerlik ten minste met hul families en nabye vriende vertroulik sou gedeel het en soos dit met sulke “vertroulike” mededelings gaan, sou dit van oor tot oor gefluister word totdat selfs die dowes dit sou gehoor het.

MARIA MAGDALENA (Lees asb Joh 20:11-18).

Maria Magdalena was uit die omstreke van Galiléa, tussen 175 en 200 km ten noorde van Jerusalem. Gedurende ‘n periode van haar lewe moes sy ‘n bose lewe geleef het sodat sy van die duiwel besete geraak en soos die besetene van Gádara baie daardeur gely het. In hierdie toestand het Jesus met haar paaie gekruis en sewe duiwels uit haar uitgedryf (Mark 16:9).

Deur liefde gemotifeer.

Die Here het by geleentheid gesê dat hoe groter ‘n mens se sonde was waarvoor die Here jou vergewe het, hoe meer jy Hom lief het (Luk 7:47). Maria was maar al te bewus daarvan dat sy ten hemele gesondig het deur haarself so aan die duiwel oor te gegee het en dat die genade wat die Here aan haar betoon het deur haar dit alles in een oomblik kwyt te skeld, onbeskryflik groot was. Hierdie weldaad wat Sy van Jesus ervaar het, tesame met die heerlikheid om van die sataniese marteling bevry te wees, het in haar hart ‘n vurige liefde vir haar Verlosser bewerk sodat sy ‘n passievolle dissipellin van Jesus geword het wat Hom en Sy mans dissipels, tesame met ‘n aantal ander vroue, oral deur die land rond gevolg en Hom met haar materiële middele gedien het. Sy was dus moontlik ook ‘n welgestelde vrou. Sy was ook een van dié wat reg voor die kruis gestaan en nie omgegee het wat mense van haar sou dink of wat hulle aan haar sou doen nie. Toe Hy in die graf weggelê was, was sy ook by.

Sy was eerste daar en dít om te gee.

Die graf het haar soos ‘n magneet getrek. Sy het geen verwagting gekoester dat Hy uit die dood sou opstaan nie maar dit was vir haar genoeg om maar net weer by Sy gebroke liggaam te kon wees en vir laas eer en liefde aan Hom te kon betoon deur dit met salf en speserye, volgens die gebruik van die dag, te versorg. Die dag het nog nie eers behoorlik gebreek nie, toe was sy al daar maar met skok het sy besef dat dit leeg was, behalwe vir die grafdoeke wat daar gelê het. Sy het dadelik teruggehardloop om vir Petrus te gaan sê in die hoop dat hy iets daaromtrent sou kon doen en hom en Johannes toe weer terug gevolg graf toe.

“Ek soek my Here …”.

Petrus het in die graf ingegaan, die grafdoeke gesien en die twee mans het teruggegaan, maar sy het bedroef bly staan en instaar in die leë graf in met net een brandende begeerte: om Hom, ja al was dit sy dooie liggaam, net weer te kon aanraak. Deur haar trane sien sy dofweg twee engele met wit klere daarbinne sit waar Jesus gelê het, een waar Sy hoof en een waar Sy voete was. So oorweldig is sy van droefheid dat sy hulle nie eers as engele herken nie of dat die feit dat engele aan haar verskyn en met haar praat, vir haar geen troos inhou nie: al wat haar sou troos was dat Jesus se liggaam teruggebring sou word. “Ek soek my Here wat hulle weggeneem het en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie” snik sy dit uit.

Toe draai sy om en sien ‘n man agter haar staan. Ook hy wil weet: “Vrou waarom ween jy? Wie soek jy?” Sy dink dit is die tuinier en antwoord eerbiedig, huilend: “Meneer, as u hom weggedra het, sê vir my waar U Hom neergelê het en ek sal Hom wegneem.”

Haar trane is vir Hom ‘n ruiker van reine liefde.

Kyk ‘n mens objektief hierna, wil jy met trane in jou oë glimlag: “’n Brose huilende vroutjie wil die liggaam van die almagtige Skepper van die heelal in haar arms opneem en dit na ‘n veilige plek wegdra waar sy dit kan versorg.” Maar dit is nie hoedat Jesus na haar kyk nie. Hy kyk subjektief na haar, Hy kyk diep binne-in haar hart en wat Hy daar sien, is ‘n vuur van brandende liefde wat Hom en Hom alleen wil hê en met niks en niemand anders getroos sou wees nie. Hy verwyt haar nie haar gebrek aan geloof en aan geestelike insig nie, maar sien haar liefde en dit is vir Hom uiters kosbaar; sekerlik die grootste geskenk, die grootste ruiker wat enige mens aan Hom kon gee. “Dié vir wie baie vergewe is, het baie lief!”

Sy soek ‘n lewelose liggaam maar vind ‘n lewende Messias.

Dan breek Jesus se genade na haar toe deur in een enkele woord: “Maria!” Sy herken daardie stem en haar hart spring op van vreugde. Sy swaai om en daar staan Hy lewend, reg voor haar. “Rabboeni, (Meester) roep sy uit!” Haar smarte is verby, haar Here is aan haar teruggegee, haar lewe en lewensvreugde is herstel. Hy verwyt haar nie haar ongeloof in Sy beloftes dat Hy sou opstaan, soos wat Hy sommige van Sy ander dissipels verwyt het nie. Haar liefde is vir Hom so ‘n kosbare juweel dat Hy dit beloon deur heel eerste aan haar te verskyn; nog selfs voordat Hy Hom aan Sy elf dissipels vertoon het.

Dan wil sy Hom vasgryp maar dit mag nie gebeur nie want van nou af aan sal Hy maar selde sigbaar by haar teenwoordig wees en sy moes daaraan gewoond raak, want ‘n wonderlike nuwe bedeling het aangebreek waarin ook sý ‘n groot rol sou kon speel om andere te leer om Hom ook so lief te hê.

Mag ons geloof en liefde hand aan hand gaan.

O, mag die Heilige Gees tog vir jou en my in staat stel om nie net in Hom te glo nie, maar Hom ook so vuriglik lief te hê en nie ‘n duit om te gee wat andere van ons dink nie.

‘n Leë graf is nie die tragiese einde van alles nie, maar die deur na ‘n heerliker toekoms.

‘n Laaste gedagte: Almal van ons kom een of ander tyd in ‘n  doodloopstraat waar ons verdwaasd voor ‘n leë graf te staan kom, waar alles in ons lewens inmekaar tuimel. Luister dan maar net so deur jou trane om Sy stem te hoor. Hy staan daar reg by jou. Hy het vir jou ook ‘n nuwe openbaring, ‘n nuwe bedeling, nuwe horisonne.

Die VROUE wat Jesus tevore orals gevolg het (Lees asb Lukas 24:1-9)

Ook hierdie vroue, wat nabye volgelinge van die Here Jesus was, het nie geglo het dat Hy uit die dood sou opstaan nie. Hulle het verwag om ‘n  lyk in die graf te vind. Dit is waarom hulle speserye saamgeneem het om Sy liggaam mee te behandel. Hieroor het die engele hulle aangespreek, naamlik oor hulle ongeloof, met die woorde: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie maar Hy het opgestaan soos Hy mos vir julle beloof het dat Hy sou doen toe Hy nog in Galiléa by julle was.”

Die voorspelling waarna die engele verwys het vind ons naamlik in Matt 17:22,23: “En terwyl hulle in Galiléa rondgaan, het Jesus vir hulle gesê: Die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van die mense; en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy opstaan. En hulle het baie bedroef geword.”

Grafgangers in plaas van feesgangers.

As hulle maar net Jesus se belofte geglo het, sou hulle hul met blye harte na die graf gehaas het met die verwagting dat dit leeg sou wees, maar weens hul gebrek aan geloof was hulle neergeboë van depressie. In plaas daarvan om hul geld uit te gegee het op speserye om ‘n dooie liggaam te behandel en die reuk van die dood te verdryf, sou hulle dit bestee het aan bestanddele om ‘n heerlike maaltyd voor te berei om Jesus se opstanding te vier.

PETRUS, die leier,  sien nie verder as die res nie.

Maar wat van Petrus, die leier van die apostels? Ook hy was een van die ongelowige gelowiges; ook hy het nie die belofte van die Here Jesus geglo nie, ook nie die getuienisse van die vroue wat hy so goed geken het nie, maar het darem op ‘n drafstap afgesit graf toe net om dubbeld seker te maak.

Wat is die kleur van jou mantel: grys en swart of rooi, geel, blou en groen?

Hoe lyk ons vir die mense wat ons op straat teëkom: soos grafgangers of feesgangers? Ons dien vandag ‘n lewende Christus wat aan die regterhand van die Vader sit, nie ‘n mummie wat in een of ander grafkelder bewaar word nie. Wat is ons verwagting van Hom? Hoe ernstig neem ons Sy beloftes op? Miskien moet ons sommige daarvan ‘n slag neerskryf en van harte glo sodat daar weer ‘n huppel in ons stap kan kom.

Die twee Ėmmaüs gangers (Lees asb Lukas 24:13-35).

Om oor hierdie insident volledig kommentaar te lewer, sal net nog bydra tot die lengte van hierdie lang studiegids,  maar ‘n mens kan nie die opstanding van Jesus bestudeer sonder om hierdie kosbare verhaal te lees en ‘n bietjie te bedink nie: twee persone wat saam in Jerusalem kom soek het om hul geestelike dors te les, maar nie ‘n druppel water by die Joodse leiers se droë dogma krane kon kry nie.

Hulle was egter goed vertroud met Jesus se bediening en kruisiging en het hulself as een van Sy breër groep van dissipels beskou. Hulle het ook tydens hul pasafgelope besoek met Jesus se binnekring van dissipels kontak gehad en gerugte oor Sy opstanding verneem. Nou was hulle op pad huistoe met meer vrae as waarmee hulle daar weg is.

Die Vreemdeling.

Skielik sluit ‘n derde Persoon by hulle aan. Ook Hy het vrae, maar Sy vrae gaan nie oor wat in Jerusalem gebeur het nie, nee, dit gaan oor hulle twee; oor húlle vrae en waarom hulle so bedroef was. So half sarkasties, uit die hoogte, merk die een op dat hierdie Vreemdeling oënskynlik die enigste slaapwandelaar in Jerusalem was wat nie geweet het wat die naweek daar gebeur het nie. Hy hou Hom dom en vra: “Watter dinge?” Seker met ‘n sug van radeloosheid, begin die een by name Kléopas vir Hom te vertel van die profeet Jesus wat kragtige dade gedoen en heerlike woorde gespreek en hul verwagting opgewek het dat Hy Israel sou verlos, maar deur die Joodse leiers gekruisig is en van Wie die gerug nou, uit redelik betroubare bronne, rondgaan dat Hy uit die graf uit opgestaan het. Hoe ontstellend is dit tog nie en wat moet ‘n mens nou glo?

Die Ewige Woord lê die Woord vir hulle uit – die Skrif lei na die Woord.

Dan begin die Man praat en stroom lewende woorde oor Sy lippe. Hy is nie haastig of ongeduldig met hulle nie, maar begin om van die geskrifte van Moses af en deur al die profete, stap vir stap vir hulle uit te lê hoedat die ganse Woord op hierdie Jesus betrekking het, en hoe verder Hy praat, hoe meer brandende word hul harte.

Blinde oë geopen.

Toe hulle by die afdraaipad na hul huis kom, weier hulle volstrek dat Hy verder gaan; nee, Hy moet saam kom eet dat hulle Hom kan seën vir die seën wat hulle van Hom ontvang het. En toe, net toe Hy brood breek, open die Heilige Gees hul oë en ineens sien hulle dat Hy die Een is van Wie Hy die hele tyd op pad gepraat het, die Een wat gekruisig is, maar waarlik opgestaan het en … die volgende oomblik verdwyn Hy uit hul sig!

Brandende harte.

O die heerlikheid van ‘n brandende hart wanneer die opgestane Jesus met ons praat! Hierdie twee persone se harte was nou so vurig dat hulle, al was dit al nag, weer die lang pad terug na Jerusalem toe aanpak om vir Jesus se ander dissipels te gaan vertel dat Hy waarlik opgestaan en aan hulle verskyn en al hul vrae beantwoord het.

Vra vir Jesus.

Is jy op pad met baie vrae in jou hart? Hy is dieselfde, gister en vandag en tot in ewigheid en wil op die regte tyd by jou aansluit en dit alles vir jou beantwoord en jou terugstuur om een te word met die ander kinders van die Here en om die lig wat jy ontvang het, met hulle te deel.

Jesus se eerste verskyning aan sy vergaderde GROEP VAN DISSIPELS (Lees asb. Lukas 24:36-49)

Hierdie insident het na donker op die eerste dag van die week (die Sondag) plaasgevind. (Hou in gedagte dat die Joodse dag van ongeveer 6vm (ons tyd) tot 6vm geduur het.) Die apostels was moontlik in die bokamer bymekaar waar hulle die laaste maaltyd saam met Jesus geniet gehad het en die vroue dissipels was saam met hulle. Uit vrees vir die Jode was die deure gesluit (Joh 20:19). Hulle was óf nou besig om te eet, óf het reeds klaar geëet gehad.

Verwarrende getuienis.

Maar hulle was verward. Maria Magdalena het in ekstase kom vertel dat die opgestane Jesus aan haar verskyn en met haar gepraat het. Van die ander vroue wat Jesus ook voor Sy kruisiging orals rond gevolg het, het kom vertel van die engel wat hulle gesien en hoedat Jesus op hul terugpad na die bokamer aan hulle verskyn en met hulle gepraat het en hulle beveel het om dit vir Sy ander dissipels te gaan vertel en dat hulle vooruit moes gaan na Galiléa waar Hy hulle sou ontmoet.

Petrus en Johannes het weer getuig dat alhoewel hulle nie vir Jesus self by die graf gesien het nie, hulle wel gesien het dat die graf leeg was en die doek wat om Jesus se hoof gedraai was, opgerol eenkant gelê het.

Verder wil dit voorkom asof Jesus, nadat Petrus by die graf was, ook aan hom afsonderlik verskyn het want Paulus sê dat Jesus aan hom verskyn het voordat Hy aan die “Twaalf” verskyn het (1 Cor 15:5). Petrus het dan seker ook daarvan aan die ander dissipels gaan getuig (Luk 24:34).

Om dit alles te kroon kom twee persone wat vroeër die gerugte van Jesus se opstanding gehoor, maar nie geweet het wat om daarvan te maak nie en toe maar huistoe, Ėmmaüs toe is, weer uitasem daar aan en vertel van húl ondervinding hoe Jesus op die pad aan húlle verskyn en Sy verhaal vir hulle uit die Skrifte uitgelê het.

“Ja, maar … “

Nieteenstaande ál hierdie getuienis was dié wat Hom toe nog nie gesien het nie, huiwerig om te glo dat dit alles waar was. Miskien het veral Sy dissipels  gevoel dat hulle tog voor Sy kruisiging deur Hom uitverkies was om saam met Hom rond te reis en te bedien; waarom sou Hy nou net aan die vroue, Petrus en aan andere soos die persone van Ėmmaüs verskyn, en nie ook aan hulle nie?

En toe is Hy daar.

En toe, skielik, staan Jesus daar in hulle midde. Hulle het Hom nie hoor of sien kom nie; Hy was net skielik daar en groet hulle met die woorde: “Vrede vir julle”. Sy woorde het die impak van Sy  veskyning geensinds versag nie. Hulle onmiddellike reaksie was dié van skok en vrees, onder die indruk dat hulle ‘n gees (‘n “spook”) gesien het. Al die getuienisse wat hulle uit die mond van betroubare getuies gehoor het, het niks vermag om ‘n verwagting te skep dat Hy ook aan hulle sou verskyn nie.

Nie ‘n gees nie, maar Hy!

Jesus het dit besef en onmiddellik daartoe oorgegaan om hul vrese te besweer. Dit het Hy gedoen deur vir hulle te vra waarom hulle dan so verskrik was. Hy wys toe vir hulle Sy hande en voete met die spykermerke daarin en nooi hulle om aan Hom te kom vat en te voel dat Hy werklik vlees en bloed was, net soos hulle. Die lig was nou besig om deur te breek; dit kon Hy sien aan die blykskap op hul gesigte. Om hul geloof verder aan te help, vra Hy vir iets om te eet en toe hulle dit vir Hom gee, kom daar ‘n doodse stilte oor almal. Al die oë was op Hom vasgenael. Terwyl hulle Hom so aanskou, neem Hy die stuk gebraaide vis en heuningkoek en geniet dit ewe rustig net soos toe Hy tevore saam met hulle verkeer het. Dit was die deurslag: almal praat toe seker gelyktydig en vertel hoe bly hulle was om Hom weer te sien.

Hulle verstand geopen.

Nou eers was hul oop vir Sy lering oor Sy opstanding en herinner Hy hulle aan hoe Hy, toe Hy nog met hulle was, vir hulle uit die Wet van Moses, die Profete en die Psalms gewys het op al die profesië wat daar oor Sy kruisiging en opstanding was wat mettertyd vervul sou moes word en nou vervul is, en dat vergifnis van sonde voortaan aan al die nasies verkondig sou word. Toe open Hy hulle verstand om dit te verstaan want sonder die beligting van die Heilige Gees, is die mens se begripsvermoë, wanneer dit om geestelike dinge gaan, so donker soos die nag self.

Baie meer nog in die vooruitsig.

Hierna belowe Hy weer om die “Belofte van die Vader” vir hulle te stuur en dat hulle in Jerusalem moes wag totdat daardie belofte vir hulle vervul is en hulle met goddelike krag toegerus sou wees om getuies te wees van alles wat hulle beleef het.

Jesus veskyn weer aan Sy DISSIPELS EN AAN THOMAS (Lees asb. Joh20:24-29)

By die eerste verskyning van Jesus aan “Die Twaalf/Elf,” was Thomas nie teenwoordig nie. Die ander dissipels het toe vir hom die goeie tyding gebring dat Jesus opgestaan en aan hulle verskyn het, maar sy reaksie was tipies Thomas. Wat hy hulle geantwoord het, was iets soos: “Vergeet dit: julle kan nou maar sê net wat julle wil maar ek sal dit nie glo nie; nie voordat ek met my eie oë die spykermerke in Sy hande gesien en my hand in die wond in Sy sy gedruk het nie. Sien is glo.” Die Here het natuurlik sy woorde gehoor en sy gedagtes gelees.

Jesus het ruimte vir pessimiste.

Thomas was nie van nature ‘n optimistiese persoon nie. Toe Jesus vir Sy dissipels gesê het dat hulle na Jerusalem moes opgaan omdat Lasarus gesterf het, het die ander dissipels dit nog op ‘n mooi manier probeer verhoed omdat die Jode Hom kort tevore daar om die lewe wou bring, maar Thomas het sommer uitgebars: “Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe,” (Joh 11:16) en toe Jesus op die vooraand van Sy lyding vir Sy dissipels verduidelik het dat Hy weggaan om vir hulle plek te berei en dat hulle geweet het waarheen Hy gaan en die weg geken het, het hy sommer kortaf geantwoord: “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?” Ook nou, toe al die ander in die bokamer saamgekom het, is dit vreemd dat juis hý nie by was nie. Hy was ‘n bietjie anders as die ander tien; ‘n man wat hom nie sommer laat ompraat of in ‘n ding laat inpraat het nie maar, wanneer hy eers eenmaal oortuig was, was hy gewillig om die prys te betaal. Jesus is gewillig om ons elkeen te kom haal op die plek waar ons vasgesteek het en ons oor die struikelblok te help. Hy het eindelose geduld met elkeen van ons.

“Ongelowige Thomas” vind ook vrede.

Thomas het ten minste sovêr gekom om weer op ‘n permanente basis by die groep aan te sluit en net sowel, want agt dae later verskyn Jesus weer skielik in hulle midde waar hy toe by was en groet hulle weer met die woorde: “Vrede vir julle.” Dan draai Hy na Thomas en roep hom nader: “Kom nou, bring jou vinger en kom kyk na die spykermerke in My hande en steek jou vinger daarin as jy wil, en steek jou hand in My Sy soos wat jy het gesê het jy wou en … moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.” Thomas was verslae. Daar was geen verdere gedagte by hom om te doen wat hy vooraf gesê het nie en hy kon maar net uitroep: “My Here en my God.” ‘n Bondige maar hartgrondige belydenis van geloof. Jesus het hom daar en dan gerusgestel en salig (gelukkig /gesëend) verklaar omdat sy geloofsposisie weer herstel was alhoewel dit ‘n besondere openbaring geverg het om hom daartoe te bring.

Jy en ek glo met die hart sonder dat die oë gesien het.

Toe voeg Jesus by dat andere tot geloof sou kom bloot by die aanhoor van die boodskap en sonder om Hom in Sy opgestane gedaante te gesien het.

God openbaar die waarhede aangaande Homself en Sy Koninkryk aan die mens deur Sy Woord en Sy Gees en ons moet leer om meer na hierdie twee Getuies te luister en op Hulle te vertrou as op die beredeneringe van ons verstand.


……….

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → JESUS OPSTANDING . Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

Ons verwelkom ook u KOMMENTAAR EN VRAE. Gebruik asseblief die kontakvorm hieronder daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha