Opwekking van Lasarus; Joh 11:1-44

Raising Lazarus

LASARUS UIT DIE DOOD OPGEWEK

DOKUMENTE KAN GRATIS VIR PERSOONLIK GEBRUIK AFGELAAI WORD

Lees asb. Joh 11:1-16: Lasarus sterf en Jesus word gehaal.

Hier word nog ‘n wonderwerk van Jesus beskryf.

Dood is die mens se grootste vrees, juis omdat dit so finaal is. Wanneer die gemiddelde mens siek word en die dood in die gesig staar, sal hy al sy besittings gee om sy lewe met ‘n dag of twee te kan verleng. Dood spreek altyd die laaste woord en op die ou end sterf almal en word hul stem nooit weer gehoor nie. Dit is die normale verloop van die lewe. Hierdie verhaal het egter ‘n ander einde gehad.

Die eerste ding wat ‘n mens beïndruk, is Jesus se reaksie toe Hy te hore gekom het van Lasarus se ernstige siekte. Die meeste mense, en selfs Christene, raak paniekbevange wanneer hulle hoor van ‘n geliefde wat sterwende is. Hulle los alles waarmee hulle besig is en haas hulle om by die persoon te kom, so asof hulle blote teenwoordigheid die sieke sal genees.

Baie van ons sou in so ‘n situasie nie eers daaraan gedink het om God te raadpleeg om te hoor wat ons te doen gestaan het nie. Jesus was egter altyd in kontak met sy Hemelse Vader en het niks gedoen as Hy nie eers in die Gees verneem het wat sy Vader wou hê dat Hy moes doen nie. Die Woord stel dit so dat dit wat Hy sy Vader in die hemel in die Gees sien doen het, Hy dan hier op aarde in die vlees Hom net so nagedoen het. Toe Hy die slegte nuus van Lasarus se ernstige siekte ontvang, het Hy dadelik geweet dit was vir ‘n goeie doel. Hy het verstaan dat sy Vader dit toegelaat het om ‘n geleentheid te skep waardeur die wêreld sou kon sien dat Hy Sy eniggebore Seun was, die enige Verlosser van die wêreld. Sy Vader het ook vir Hom meer inligting gegee as wat die boodskappers gebring het. Hy het hom naamlik ingelig dat Lasarus intussen reeds gesterf het. “Toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood. En Ek is bly om julle ontwil dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar laat ons na hom toe gaan.” (V14,15)

Die dissipels was bang om dit te doen en sê toe vir Jesus: “Rabbi, die Jode het onlangs probeer om U te stenig, en gaan U weer daarnatoe?” Jesus het so pas vir hulle gesê dat die Vader Hom daarheen stuur, maar hulle het nie gedink aan God se mag en die werk wat Hy wou hê dat hulle moes gaan doen nie. Hulle het net aan hulle eie veiligheid gedink.

Wat antwoord Hy hulle? Hy gee ‘n positiewe antwoord uit die Woord; ‘n sinvolle antwoord: “Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie.” Eintlik sê Jesus: “As jy die toekoms in voortstrompel deur jou eie kop te volg en volgens jou eie insig te handel, sal jy jou teen onvoorsiene hindernisse vasloop en jouself beseer (skade aandoen). Maar as jy op God se leiding wag en Sy lig volg, sal jy veilig wees, ongeag die hindernisse wat jy mag teëkom, want jy sal hulle betyds sien en vermy.”

Jesus het daarna nog twee dae vertoef. Toe eers sê Hy vir Sy dissipels dat die tyd ryp was dat hulle na Lasarus se woning moes opgaan. Een van hulle, ‘n man met die naam Thomas, was van nature besonder negatief ingesteld. Uit dit wat ook elders in die Skrif oor hom opgeteken is, kry ons die indruk dat hy die toonbeeld van kleingelowigheid was. Hy het altyd verwag dat die ergste sou gebeur. Ook hier sien ons dit in sy swartgallige opmerking teenoor die ander dissipels: “Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe.” Hy het al klaar weer vergeet dat Jesus net twee dae tevore gesê het dat hulle nie vir mense bang moes wees nie, want hulle Hemelse Vader was besig om hulle te lei en sou hulle bewaar, maar kleingelowige Thomas steur hom nie aan hierdie woorde van bemoediging nie maar openbaar sy innerlike twyfel deur te sê: “Wel laat ons dan nou maar een groot begrafnis hê: Lasarus se begrafnis en ons eie. Een dood is ons skuldig; laat ons dit agter die rug kry.”

Lees asb Joh 11:17-27: Martha se eerste gesprek met Jesus.

Kom ons kyk nou na die mense wat by Lasarus se begrafnis teenwoordig was. Toe Jesus daar aankom, was die oorledene reeds vier dae in die graf. Van sy familie en vriende was nog daar en andere uit Jerusalem het intussen oorgekom om met die familie te simpatiseer en hulle te bemoedig. Almal het vir Jesus gewag om te arriveer.

Martha was die eerste persoon om op te staan en Hom tegemoet te gaan. Haar woorde toon dat haar geloof op ‘n veel hoër vlak as Thomas s’n was. Sy glo dat Jesus, Lasarus se dood kon voorkom het as Hy maar net betyds daar was, maar sy glo ook dat Jesus steeds sy Vader vir ‘n wonderwerk kan vra want Sy Vader gee vir Hom wat Hy ookal vra. Sy glo ook dat haar broer in die laaste dae saam met die ander gelowiges opgewek sal word en dat Jesus die Christus (Gesalfde) van God is – die Seun van God. Wat ‘n wonderlike kind van God is hierdie vrou nie. Sy is gevul met insig en geloof.

Lees asb. Joh 11:28-37: Jesus praat met Maria en Sy empatie met die bedroefdes

Hier het ons eerstens Maria se woorde en sy sê basies presies dieselfde as haar suster Martha: “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.” Hulle twee het dit waarskynlik oor en oor vir mekaar gesê voordat Jesus gearriveer het.

Die reaksie van die ander familie en vriende is meer verwytend: “Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie?” Hulle kritiseer die Here blindelings. Hulle dink nie daaraan dat daar moontlik ‘n dieper rede vir Jesus se optrede kon wees nie.

Wanneer ons van God hoor en doen wat Hy sê, sal ons ook dikwels deur mense gekritiseer word. Hierdie persone oordeel volgens hulle menslike begrip en wandel nie in die lig van God nie.

Let ook op Jesus se empatie met die droefheid van die mens. Hy het reeds geweet dat Hy vir Lasarus binne die volgende paar minute sou opwek en was dus nie bedroef oor sy afsterwe nie, maar het ten diepste geassosieer met die pyn van die begrafnisgangers en in besonder met die trane van Maria wat so lief was vir haar broer maar vier dae tevore “vir ewig” (soos sy gedink het), van hom afskeid moes neem.

Hoeveel ween God nie soms oor die verskriklike ellende wat die mens weens die sondeval oor homself gebring het nie.

Lees asb. Joh 11:38-44: By die graf van Lasarus.

Toe kom hulle by die graf. Dit was ‘n grot wat in die berg uitgekap was. ‘n Groot klip was voor die ingang gerol. Binne het die liggaam waarskynlik op ‘n rak wat uit die rots gekap was, gelê.

Laat ons weer op Martha fokus. Op die laaste oomblik het haar geloof geknak; net voordat die groot wonderwerk sou gebeur. As Jesus vir haar dieselfde gesê het as vir die hoofman wie se dienskneg Hy genees het, naamlik, “Laat dit wees volgens jou geloof”, sou Lasarus nie uit die dood opgestaan het nie, want dit blyk dat sy op die laaste moment begin twyfel het.

Moontlik kon die groepie waar hulle buite die graf gestaan het, die slegte reuk van die ontbindende liggaam gewaarword. Was dit moontlik dat daardie liggaam wat besig was om te vergaan en reeds so sleg geruik het, kon herstel en weer hulle geliefde broer kon word? Toe Martha vêr van die graf af was, kon sy dalk nog gedink het dat dit moontlik was, maar nou dat sy hier digby die liggaam staan, is die omstandighede, die feite, die werklikheid, te oorweldigend en begin twyfel haar gedagtes oorneem.

Die duiwel het moontlik in haar oor gefluister, “Kan jy dit nie ruik nie? Moenie ‘n gek wees nie. Dood is finaal. Ek hou die sleutels van die doderyk. Jy hoop verniet op ‘n wonderwerk. Niks sal gebeur nie. Jy het nou al genoeg gely. Moenie jouself en ander verdere lyding besorg deur die graf oop te maak nie. Eerbiedig die waardigheid van die dode.”

Hoe reageer Jesus op die reuk van die dood en op Martha se vertwyfeling? Hy spreek eerstens woorde van bemoediging om haar geloof te versterk sodat sy haar geloof by syne kon voeg en hulle saam ‘n wonderwerk kon laat gebeur. Daarom sê Hy: “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?”(V40)

Lees asb. Joh 11:41-43: Lasrus uit die dood opgewek.

Daarop spreek Jesus net drie woorde met goddelike outoriteit, “Lasarus, kom uit” en onmiddellik stap die dooie uit die graf uit – blakend gesond. Wat ‘n wonderwerk! Wat ‘n kragtige God. Wat ‘n glorieryke Seun van God. Hoe bevoorreg is ons om Hom te ken!

Slotopmerkings.

God laat dikwels seer dinge in ons lewens toe. Ons verloor wat vir ons kosbaar is – dalk ons dierbares self. Laat ons uit hierdie verhaal leer om nie verbitterd te word nie, maar om met ons hartseer na Jesus te gaan.

Daar is moeilikhede en probleme in ons lewens wat net God kan oplos. Die afsterwe van Lasarus het bonatuurlike ingrype geverg. ‘n Wonderwerk van God was nodig. Soms tree Hy in en bewerk bonatuurlike uitkoms uit die situasie; andersinds skenk Hy berusting om die gebeure te aanvaar en in Sy krag voort te gaan met die lewe.

Een van die grootste uitdagings vir ‘n kind van God is om op God te wag. Soms gaan baie tyd verby voordat Hy “opdaag,” (ingryp). Wagtyd is groeityd – groeityd vir ons geloof.


SÊ JOU SÊ:

Iets op jou hart oor hierdie studiegids ?
Ons lees dit graag.

(Die naam/titel van die studiegids verskyn bo-aan hierdie blad.)

.

Naam van hierdie studiegids wat jy bestudeer het

Jou naam en van

Jou e-posadres

Sê jou sê:

DEEL MET ANDERE: As jy die studiegids geniet het, deel dit asb. met jou vriende en kennisse deur middel van die sosiale media soos Facebook, ens. So vat ons hande om die Goeie Nuus uit te dra.

KOPIEËRING: Hierdie studiegids mag gratis vir persoonlike gebruik afge-laai en gedruk word.

R196G105B55