HIERDIE DOKUMENT MAG GRATIS VIR PERSOONLIKE GEBRUIK AFGELAAI WORD
Hierdie studiegids handel oor die laaste pasga wat Jesus met Sy dissipels gehad het, Sy pynlike sielestryd in Getsémané, Sy verraad deur Judas en, ten slotte, Sy arrestasie.
Maar voordat ons daarby kom, is dit belangrik dat ons let op hoe Hy hierdie traumatiese gebeure tegemoetgegaan het; Sy geestesingesteldheid ten opsigte van hierdie allerbelangrikste deel van Sy bediening.
Jesus het Sy kruisiging doelgerig en vasbeslote tegemoetgegaan.
Luk 9:51: En toe die dae van sy opneming nader kom, het Hy sy aangesig gerig om na Jerusalem te reis,…
Jes 50:7: Maar die Here HERE help My; daarom kom Ek nie in die skande nie; daarom het Ek my aangesig gemaak soos ‘n keisteen, en Ek weet dat Ek nie beskaamd sal staan nie.
In beide tekse sien ons Jesus se gedetermineerdheid om die wil van Sy Vader te volbring, naamlik om Homself oor te gee om vir die mensdom se sondes gekruisig te word. Die Ou Afrikaanse Vertaling is veral treffend: “…daarom het Ek my aangesig gemaak soos ‘n keisteen, …” ‘n Keisteen is ‘n baie harde steen; wanneer jy twee van hulle teen mekaar slaan, spat daar vonke waarmee jy ‘n vuur kan aansteek. Voeg ons hierdie twee tekse bymekaar, kry ons min of meer die volgende resultaat: “Jesus het Sy aangesig so hard soos ‘n keisteen gemaak en doelgerig na Jerusalem begin stap om gekruisig te word.”
Let daarop hoedat dieselde Jesus wie se aangesig soveel liefde uitgestraal het terwyl Hy verworpe melaatses met die hand aangeraak en gereinig het, en ‘n kindjie uit die dood opgewek en aan sy huilende moeder teruggegee het, nou Sy aangesig soos ‘n keisteen gemaak het om Homself voor te berei vir die vuurproef wat vir Hom voorgelê het.
En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie (Matt 10:38).
Hierin stel Hy vir ons die volmaakte voorbeeld om na te volg, want ook ons sal voor pynlike uitdagings te staan kom ter wille van Sy Naam, situasies waarin ons alleen sal staan voor die beskuldigings en vervolgings van goddelose mense, selfs persone wat voorgee dat hulle Christene is, maar ‘n wêreldse lewe leef.
Die lewe van ‘n Christen bestaan nie net uit “maanskyn en rose” nie, nie net uit liefdevolle glimlagte nie, maar dit verg ook ‘n rotsvaste vasberadenheid om die wil van God te doen, kom wat wil. Die rede hiervoor is dat die duiwel soms voluit aanvalle op ons loods om ons verhouding met God te vernietig. Dit mag selfs kom deur iemand wat jy baie liefhet, maar wat jou van Hom af wil wegtrek. So ‘n persoon sal jy miskien heftig moet afwys omdat jy die Here Jesus nog soveel meer liefhet.
Wanneer jy vir Jesus in die bresse tree, sal daar baie wees wat sal probeer om jou met hul harde woorde te kruisig. Hul kwetsende aanmerkings sal deur jou gaan soos die spykers waarmee Jesus se hande en voete aan die kruis vasgespyker was, maar jy sal nie huiwer om te doen wat die Here in jou hart gelê het nie, omdat jy sal weet dat daar geen ander uitweg is nie.
Die Hemelkoning wat in ‘n krip gebore is. (Lees asb Luk 21:37 tot Luk 22:6)
Die eenvoud van Jesus se leefstyl, bring ‘n mens af aarde toe. Die Prins van die hemele het snags buite, aan die hang van die Olyfberg geslaap. Bedags het hy die volk in die tempel geleer maar wanneer die son gesak en almal teruggekeer het huistoe waar hulle die dag se sweet en stof kon afwas, ‘n lekker bord kos kon geniet en daarna in ‘n sagte warm bed kon inkruip en beskut teen die koue en reën rustig kon slaap, het die Lam van God Homself tussen die rotse en bome in sy mantel toegerol en uitgeput in die slaap weggedompel – en die volgende oggend vroeg, was Hy reeds weer terug op Sy pos in die tempel. Hy het nie aan Sy eie gerief gedink nie.
Is ons ook gewillig om na afgeleë plekke gestuur te word en ontberinge te trotseer sodat andere gered kan word?
In die peilvlak na die wenpaal; die kruis.
Die tyd vir Jesus se bediening aan die mens by wyse van lering en genesing van siekes, het nou ten einde geloop en die tyd het vir Hom aangebreek om te doen wat net Hy kon doen, naamlik om die grootste offer ooit te bring, waardeur die mens met God versoen sou kon word.
Die magte van die duisternis vorm ‘n bondgenoodskap.
Die duiwel weer, het gereedgestaan om die Seun van God te dood, want hy het gedink dat deur Hom te vernietig, hy die Koninkryk van God omvêr sou kon werp. Met dit in gedagte, het hy sy eie dissipels voorberei om sy gemene werk vir hom te doen; naamlik die leier priesters, die Skrifgeleerdes en een van Jesus se eie dissipels, Judas Iskariot. Hulle het almal saamgewerk. Die priesters het die leiding geneem en gesoek na ‘n geleentheid om Jesus in die geheim in hegtenis te neem sodat die publiek nie sou kon inmeng nie.
Verraad, en dit uit die dissipelkring.
Judas wat geweet het waar Jesus Sy nagte deurgebring het, het sy geleentheid gesien en ooreengekom om hulle daar na Hom toe te lei, op voorwaarde dat hulle hom ‘n sekere som geld vir sy dienste sou betaal.
Watter verskriklike sonde het hierdie man nie begaan nie. Drie jaar lank het hy oral saam met Jesus rondgeloop, geluister na Sy kosbare Woorde van lering, vertroosting en vermaning; ‘n getuie gewees van al Sy wonderwerke, Sy liefde en versorging persoonlik beleef, en nou het hy sonder meer omgedraai en Hom verraai, soos ‘n hond wat die hand wat hom aldag voed, verskeur. Die Here het hom die “seun van die verderf” genoem (Joh 17:12) en bygevoeg dat dit vir hom beter sou gewees het om nooit gebore te gewees het nie.
Waarom het Judas dit gedoen? Dit wil voorkom of hy nooit werklik in sy hart ‘n dissipel van Jesus was nie. Ons lees byvoorbeeld dat hy die tesourier van Jesus se groepie dissipels was en toesig gehad het oor hul beurs met geld. Van hierdie geld wat mense aan Jesus geskenk het vir kos en klere, het hy soms gesteel. Hy was ook die eerste een wat beswaar gemaak het toe ‘n sekere vrou, by name Maria, haar baie kosbare salf gebruik het om Jesus mee te salf. Hy het Jesus nie liefgehad nie.
Versmaaide genade.
Ons moet daarteen waak om nie die genade wat God aan ons betoon, gering te skat nie. Telkens, wanneer ons Sy genade verwerp deur hardkoppig te kies om eerder ons eie wil te doen, laat ons toe dat ‘n stukkie van Judas se hart in ons lewe inkom, totdat die duiwel self in ons invaar en ál die goed wat God met verloop van tyd in ons gedoen het, vernietig. Vandaar af is daar vir ons geen hoop meer om met die Here versoen te raak nie, want dan het ons die Bloed van Jesus onder ons voete vertrap.
‘n Lokaal vir die pasga (Lees asb. Luk 22:7-13. Sien ook Matt 26:17-19 en Mark 14:12-16).
Kyk hoe wonderlik het die Vader voorsien in die behoeftes van Sy Seun en hoedat die Seun die gedagtes van Sy Vader geken het en presies vir Sy dissipels kon sê waarheen om te gaan om ‘n geskikte lokaal te vind waar hulle die pasga saam kon geniet. Wanneer ons in alles wat ons doen, in alle erns probeer om die Here se wil te doen, sal ons sonder moeite die Here se stem hoor wat vir ons sê wat om te doen. Wanneer Hy dit goedvind, sal Hy gee dat berge van probleme versmelt tot gladde teerpaaie waarop ons vinnig en sonder inspanning Sy bestemming of doel kan bereik.
Die pasga se betekenis vir die Jood.
Die Pasga fees is gehou om die Israeliete se verlossing en uittog uit Egipte te herdenk. Hulle moes in gedagte roep hoedat hulle in daardie land van slawerny die nag van hul verlossing ongesuurde brood moes eet en die bloed van ‘n lam aan hul deurkosyn en drumpel moes smeer sodat die engel van die dood nie hul eersgeborenes om die lewe sou bring nie. Moses het destyds voorgeskryf dat hierdie fees deur al die nageslagte gehou moes word en dit is wat die groep nou gedoen het.
Die laaste pasga; die eerste nagmaal.
Jesus het dié geleentheid benut om aan hulle te openbaar wat die fees gesimboliseer het, naamlik dat Hy in die wêreld sou kom as die Vader se lam om Homself as die hoogste en finale offer te gee om die sonde van die mens te versoen. Al die vorige diere offers het heengewys na die offer wat Hy binne die volgende aantal ure sou bring deur aan ‘n kruis te sterf, want die bloed van ‘n dier kon immers nie versoening doen vir die sonde van ‘n mens nie (Heb 10:4).
Om hierdie offer aan Sy dissipels te verduidelik, het Hy brood geneem, dit in stukkies opgebreek en aan hulle uitgedeel om te eet terwyl Hy vir hulle sê: “Dit is My liggaam wat vir julle gegee is, doen dit tot My gedagtenis.” Hy het ook ‘n beker met wyn geneem, dit omgestuur om daaruit te drink en gesê: “Hierdie beker is die Nuwe Testament in My bloed, wat vir julle uitgestort word.”
Hierdeur is die Ou Testamentiese pasga beëindig en is die nagmaal ingestel wat deur Christene gevier word ter gedagtenis aan Jesus se offer en opstanding. So moet dit gedoen word totdat Hy weer op die wolke na ons terugkom.
Judas word deur die duiwel in besit geneem.
Daarna het Jesus vir hulle gesê dat een van hulle wat saam met hom daar aan tafel was, Hom sou verraai. In die Evangelie van Johannes (13:27) lees ons dat nadat Jesus dit gesê het, die duiwel finale beheer oor Judas se lewe geem het deur in hom in te vaar sodat hy die bokamer verlaat en na die leier priesters gegaan het om hulle na Jesus toe te lei.
Nog vier belangrike bokamer gebeure.
Daar is nog drie gebeure wat in die bokamer afgespeel het wat ons net kortliks wil vermeld, voordat ons Jesus na Getsémané volg.
“Ek is die grootste,” “Nee ek is.” (Lees asb Luk 22:24-30).
Genadiglik is hierdie byeenkoms agter ‘n geslote deur gehou waartoe lede van die publiek nie toegang gehad het nie. Hoe teleurstellend vir Jesus dat Sy top leiers in ‘n woordestryd met mekaar betrokke geraak het oor wie van hulle gekwalifiseer het om oor die ander, en dan sommer ook oor Sy ganse Koninkryk, gesag te voer. Eersug. Het hulle dan enigsins verskil van die Farisieërs wat op die straathoeke hardop staan en bid het om deur die mense gesien te word?
Kort tevore, terwyl hulle op pad was na Jerusalem, het Jakobus en Johannes se moeder met ‘n soortgelyke versoek na Jesus gekom; sy het Hom naamlik gevra dat Hy haar twee seuns die ereplekke in Sy Koninkryk aan Sy regter- en linkerhand sou toesê. Hieroor was die ander dissipels hewig ontsteld wat wys dat hulle heimlik self daardie plekke begeer het.
Toe het Hy verduidelik dat grootheid in God se Koninkryk gemeet word aan die mate waartoe jy gewillig is om jouself te verneder en om soos ‘n kneg sonder enige aansien te dien; tewens om jou lewe vir andere af te lê soos wat Hy dit aanstonds aan die kruis sou doen. Eienskappe soos nederigheid, diensbaarheid en opoffering was dit wat getel het en waaraan ‘n persoon se aansien en bekwaamheid gemeet is. Mense wat hierin die beste gevaar het, word deur die Vader self in die hoogste leiersposisies aangestel.
Daardie lering het duidelik nie by hulle ingang of aanklank gevind nie, want nou, kort daarna, was hulle alweer aan die stoei vir ereplekke om Sy tafel en troon, en weer moes Jesus verduidelik dat dit ‘n Koninkryksbeginsel was dat die oudste soos die jongste moes word en ‘n leier soos ‘n dienskneg.
Jesus was voete (Lees asb Joh 13:2-17).
Moontlik was dit juis hierdie twis wat daartoe aanleiding gegee het dat Jesus van die tafel af opgestaan en ten aanskoue van die twaalf, Sy bokleed uitgetrek, ‘n doek omgebind, water in ‘n skottel gegooi en begin het om hul voete te was (insluitende dié van Judas). Dit was ‘n taak wat eintlik voor die maaltyd deur ‘n dienskneg verrig moes gewees het, maar omdat daar nie een teenwoordig was nie en omdat nie een van hulle die geleentheid benut het om daardie nederige taak op homself te neem nie, moes Jesus dit nou self doen. Hulle het dus die geleentheid om hulself as potensiële leier te onderskei, deur die vingers laat glip.
Jesus het hulle nie daardeur afgeskryf nie maar gevra of hulle verstaan het wat Hy vir hulle wou sê en dat hulle in die toekoms Sy voorbeeld moes navolg.
Leersaam ook, is die interaksie tussen Hom en Petrus wat nie wou toelaat dat Hy sy voete was nie. Jesus se verduideliking kom daarop neer dat die mens, wanneer hy weergebore word, algeheel rein gewas word deur die Bloed van die Lam, Christus, maar omdat hy gedurig kontak het met die sondige wêreld, soos wat sy liggaamlike voete kontak het met die stof van die aarde, moet sy “geestelike voete” vir die res van sy lewe voordurend gewas word; en dit is Jesus se taak en sal Sy taak wees vir solank die ou wêreld nog voortbestaan. In ‘n geestelike sin sal Jesus dus selfs na Sy hemelvaart, nog ‘n dienskneg se werk doen om Sy dissipels se voete te was.
Hierdie lering, tesame met die simboliek van die nagmaal, dat ons Sy bloed moet drink en Sy liggaam eet, dui ook op ons totale afhanklikheid van Hom.
Petrus praat onwetend groot (Lees asb Luk 22:31-34. Sien ook Matt 26:31-35, Mark 14:27-31).
Toe Petrus verstaan dat daar ‘n aanslag op Jesus se lewe gemaak sou word, het Hy selfversekerd gereageer: En hy het vir Hom gesê: Here, ek is gereed om saam met U selfs in die gevangenis en in die dood te gaan. Maar Hy antwoord: Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vannag nie kraai voordat jy drie maal geloën het dat jy My ken nie.
Petrus se bedoeling was goed, eerlik en opreg, maar hy het homself nog nie geken nie. Jesus het profetiese insig in die toekoms gehad en het hom gewaarsku, alhoewel Hy geweet het dat dit nogtans sou gebeur. Hierdie waarskuwing sou ‘n goeie doel dien deurdat die dissipels mettertyd sou besef dat alles wat gebeur het, vooruit deur God in Sy raadsplan ingesluit was en dat Jesus nie deur die bose oorrompel is nie. Die feit dat Jesus vooruit geweet het dat Petrus Hom sou verraai en hom nie toe al verwerp het nie, so ook na die tragiese gebeurtenis, vir Petrus help om te aanvaar dat Jesus hom vergewe het.
Jesus onderrig Sy dissipels en bid vir hulle (Lees asb Joh 13:31- 17:26).
Hierdie laaste hoofstukke is uiters kosbaar. Dit is soos ‘n vader se sterfbedgesprek met sy geliefdes; met sy vrou en kinders. Hy weet dat sy tyd kort is en wil vir laas nog sekere belangrike gedagtes aan hulle oordra en dan, ten slotte, vir hulle bid.
Hy praat met hulle oor die huis wat Hy vir hulle gaan voorberei, die pad daarheen, die Trooster wat Hy vir hulle sal stuur en wat Hy alles vir hulle sal doen, dat Hy en die Vader ook na hulle sal kom en by hulle sal kom woon, dat Hy hulle mettertyd sal kom haal, dat Hy Sy vrede aan hulle nalaat, dat alles wat hulle die Vader in Sy Naam vra Hy vir hulle sal gee, dat Hy hulle ‘n nuwe gebod gee, naamlik om mekaar lief te hê, en veel meer.
Sy daaropvolgende gebed spreek van ‘n intieme, kinderlike omgang met Sy Vader en is ook ‘n terugblik op Sy bediening; alles wat die Vader Hom gestuur het om te doen het hy getrou uitgevoer en ook die kruisdood wat nog voorgelê het, sal hy volbring en die beker wat Sy Vader in Sy hand gegee het, sal Hy tot die laaste druppel toe ledig.
Jesus se stryd in Getsémané (Lees asb Luk 22:39-46. Sien ook Matt 26:36-46 en Mark 14:32-42).
Ons mag dink dat die Here Jesus as Seun van God, innerlik altyd net vrede en kalmte belewe het, ongeag die situasie waarin Hy Homself bevind het en daar is dan ook so vele voorvalle aangeteken waarin dit inderdaad die geval was.
Jesus was die toonbeeld van krag in elke situasie.
Toe Hy saam met sy dissipels in ‘n bootjie oor die See van Galliléa gevaar en ‘n storm hulle getref het sodat hulle gevaar geloop het om te sink en te verdrink, het Hy rustig lê en slaap terwyl die dissipels koorsagtig geroei en probeer het om die boot vlot te hou. Desperaat van vrees het hulle Hom wakkergemaak en beskuldig: “Meester, Meester, ons vergaan!” Terwyl hulle paniekbevange skarrel, het Hy koel en kalm die wind bestraf en dadelik het die storm bedaar. Toe het hy hulle selfs berispe en gesê: “Waar is julle geloof?”
Toe die mense van Nasaret hom beetgepak het en oor die afgrond wou gooi, het Hy kalm tussen hulle deur weggestap. Hy het die duiwelbestene van Gadára van wie almal weggevlug het, gaan opsoek en die demone uit hom uitgedryf. Hy het oor die golwe van die meer gestap asof op droë grond en toe Petrus op die punt was om onder die waters te verdwyn het Hy sy hand uitgestrek en hom gered.
Waarom was Hy so benoud oor Sy komende lyding?
Waarom dan, sou ‘n Man met soveel sterkte van gees, se sweet soos bloed geword het terwyl Hy voor Sy kruisiging in gebed verkeer het? Selfs die twee rowers wat saam met Hom gekruisig is, het nog gespot terwyl hulle aan hul kruise gehang het (Matt 27:44). Kon Hy nie op God vertrou en ook in hierdie toets volkome kalmte ervaar het nie? Maar luister na sy woorde soos opgeteken in Matt 26:38: “Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My.” ‘n Ander vertaling lui: “My siel is baie bedruk en seergemaak sodat ek bykans sterf van droefheid.”
Daar is ‘n sekere boek getiteld “Foxes Book of Martyrs” waarin die verhale van talle Christene wat deur die eeue ‘n marteldood vir Christus gesterf het, opgeteken is. Baie van hulle het op die brandstapel gesterf ten aanskoue van massas wat toegekyk en spottende aanmerkings gemaak het. Nogtans het bykans almal van hulle gesterf terwyl hulle God geprys en lofliedere gesing het.
Stéphanus, die eerste martelaar byvoorbeeld, is, terwyl die verwoede skares besig was om hom te stenig, versterk deurdat God die hemele geopen het sodat hy die Here Jesus aan die regterhand van die Vader in die hemele kon sien staan. Ook is hy innerlik bemoedig deur die Heilige Gees. Dit het hom bemagtig om in oorwinning te kon sterf. Waarom dan het Jesus, die Leidsman en Voleinder van ons geloof deur sulke skrikwekkende, ondraaglike innerlike konflik gegaan?
‘n Moontlike antwoord op die vraag.
Waarskynlik is daar niemand wat die volle antwoord hierop het nie; tog kan ons die volgende oplossing aan die hand doen: Jesus het nie soos ‘n gewone Christen gely nie maar soos ‘n verlore sondaar wat in die verdoemenis verkeer. Hy het alle sonde wat ooit deur die mens gedoen was en nog gedoen sou word, op Sy skouers geneem en toe het die oordeel van God Hom getref. Die toorn van God was op Hom gefokus. Omdat Hy die straf van ‘n veroordeelde mens, van ‘n veroordeelde mensdom moes beleef, is Hy geskei van die Vader en van die Heilige Gees. Dít was die oorsaak van Sy ondraaglike angs en verdriet. Hy was geestelike in absolute nagtelike donkerheid gedompel. Dit het Hy nooit, ooit tevore ervaar nie en hierdie skeiding van Sy Vader het Sy siel ineen laat krimp van pyn. Dit is waarom Hy uitgeroep het: “Vader, as U tog maar hierdie beker van my wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie maar U wil geskied!”
Al die magte van die duisternis het gekombineer in ‘n verwoede aanval om Sy innerlike konflik tot die uiterste te voer (lees asb Ps 22 en veral verse 13-22). Die pyn van die hart, van die mens se gees, is moontlik erger as enige pyn wat die liggaam kan beleef. Die duiwelbesetene van Gadára het so intens onder die aanslag van ‘n legioen bose geeste gely, dat hy sy liggaam met klippe stukkend gekap het in ‘n poging om sy innerlike pyn te verlig. Hoeveel heftiger sou die satan en sy magte nie vir Jesus, hul grootste Vyand, aangeval het nie.
Hy was betrokke in ‘n oorlog met die satan en sy menigte van demone.
In die wildernis het hy Jesus probeer uitlok om te sondig, maar hier in Getsémané het hy probeer om Sy wil te knak, om Hom innerlik te breek sodat Hy nie meer gewillig sou wees om aan die kruis vir die mensdom te gaan sterf nie.
Hoe het Jesus die oorwinning behaal?
Na Sy mensheid was Hy met swakheid bevange, maar na Sy Godheid het Hy in hierdie stryd nogtans Sy oë deurentyd op sy Vader gehou soos geskryf staan in Ps 16:8: “Ek stel die Here altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.” Sy Vader het Hom dan ook nie aan Sy lot oorgelaat nie, maar ‘n engel gestuur om Hom te versterk sodat Hy die oorwinning op Sy knieë kon behaal en die kruisiging wat sou volg, moedig tegemoet kon gaan.
Deur Sy oë in geloof op die Vader te hou en deur vurige gebed het Hy die oorwinning behaal. Ons lees dat toe Hy in ‘n sware stryd gekom, Hy met groter inspanning gebid en Sy sweet geword het soos bloeddruppels wat op die grond val. So het Hy die eerste fase van die stryd, die Getsémané fase, gewen.
Gebed kan die karakter van ‘n bloedige oorlog aanneem.
Gebed is nie net om rustig met God te verkeer en deur Hom verkwik te word nie. Soms behels dit ‘n “bloedige oorlog” waarin die gees van die mens groot uitputting kan beleef en intense pyn kan ly. In hierdie stryd is die Vader egter gedurigdeur aan ons regterhand sodat ons “nie sal wankel nie”. In Hebr. 12:4 maan die skrywer sekere Christene wat vervolg was vir hulle geloof en sê hy: “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.” Moontlik het hy Jesus se stryd in Getsémané in gedagte gehad toe hy dit geskryf het.
Jesus se arrestasie (Lees asb Luk 22:47 to 53. Sien ook Matt 26:47-56, Mark 14:43-52 en Joh 18:1-11)
Net ‘n paar kort opmerkings oor hierdie perikoop. Judas het die skare mense wat deur die Hoëpriester gestuur was, na Jesus toe gelei. Hy het voor hulle uitgestap en toe oorgegaan tot sy finale daad van verraad deur Hom te soen. Hy het voorgegee om Hom te groet maar eintlik was dit sy afgesproke teken met die groep. Daardeur het Hy gesê: “Dit is Jesus; gryp Hom.”
Petrus (sien Joh 10:10) het sy swaard getrek om die aanval op Jesus af te weer en die hoëpriester se dienskneg se oor in die proses afgekap.
Jesus, wat die geestelike oorwinning in gebed behaal gehad het, was nou in volkome beheer van die situasie, sonder vrees of twyfel. Hy het geweet dat Hy in die wêreld gekom het om die mens met God te versoen en was gereed om dit te doen. Daarom neem Hy die man se oor, heg dit weer aan sy kop vas, betig die groep omdat hulle Hom soos ‘n misdadiger behandel en vergesel hulle dan gewilliglik om verhoor te word.
Net so sal God elkeen van ons wat gewillig is om Sy wil uit te voer, deursien en Sy doelwit met ons lewens bereik.
……….