Paulus se arrestasie en sy reis na Rome

2024-05-07

A. PAULUS SE BENADERING TOT OPOFFERING EN LYDING

Ons lees Handelinge hoofstuk 20:22-24:

En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, 23  behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. 
24  Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. 

Paulus het, deur die getuienis van die Heilige Gees, geweet dat geweldige lyding op hom gewag het; dat hy moontlik sy lewe vir Christus sou moes aflê. Laat ons nou ag gee op hoe hy dit tegemoet gegaan het.

Hy sê hy het sy lewe nie “dierbaar” geag nie; nie geag as iets om sorgvuldig na om te sien nie; nie iets om veilig te beskerm teen gevare en die dood nie; nie iets om hom oor te bekommer nie. Sy fisiese lewe was vir hom ‘n kommoditeit, ‘n besitting wat hy van God ontvang het, wat hy, op sy beurt, as koopprys kon gebruik deur dit op te offer sodat hy die taak wat God aan hom opgedra het, suksesvol kon voltooi. Dit was ook sy sleutel tot ‘n lewe van blydskap, sy geheim waarom hy dag vir dag opgeruimd kon wees (Fil 4:4); so nie sou hy geboë en met ‘n bekommerde donker gemoed deur die lewe geslof het.

Laat ons sy woorde oor en oor lees, dit op die mure van ons harte griffeer, dit deur meditasie en gebed ook ons eie leuse maak. “Ek ag my lewe nie iets om krampagtig teen my bors vas te druk en te beskerm nie, sodat ek U wil vir my kan volbring”. Dit is die goue sleutel wat hierdie wêreld vir die duiwel sal toe-, en vir Jesus sal oopsluit.

Sy wil, nie myne nie. Sy glorie, nie myne nie. Sy Koninkryk, nie myne nie. Sy vreugde, nie myne nie. O, hoe koester en beskerm ons, ons eie lewens. Hoe ywer ons om gemaklik en goed versorg te wees. Hoe streef ons na ‘n lewe sonder hartseer, sorge en druk. Hoe begeer ons om van God te ontvang, eerder as om aan hom te gee. “Ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek …” Kom ons oordink hierdie woorde dag en nag totdat ‘n paar druppels van die gees van Paulus in ons eie harte neerslag gevind het. Dan kan ons dalk saam met Hom sê: “Dit is nie meer ek wat leef nie, maar Christus wat in my leef.” (Gal 2:20) Dan kan ons miskien ook ietwat verstaan ​​waarom Paulus gehuiwer het om Johannes Markus saam te neem op ‘n sendingreis wat hy vooraf geweet het, elke stukkie lewe uit hulle sou uitmergel. Wat ‘n man. Wat ‘n groot God wat in hom geleef en gemaak het om die man te wees wat hy was.

Maar laat ons nou voortgaan. In die volgende verse vertel hy vir ons ‘n bietjie meer van hoe hy dit reggekry het om die Evangelie na sommige afgeleë gebiede te neem terwyl hy geen materiële ondersteuning daarvoor gehad het nie.

B. PAULUS SE FINANSIERING VAN SY BEDIENING (BY TYE).

Hoofstuk 20:33-35:

Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie; 34  maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was. 35  Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang. 

Paulus was opgelei as tentmaker en kon gevolglik op hierdie wyse ‘n inkomste inbring. Dit het hy gedoen wanneer hulle in ‘n nuwe omgewing was; waar gawes van gemeenstes wat hy gestig het, hulle nie kon bereik nie. Hy het dit dan in beste belang van sy Koninkrykswerk geag om nie die plaaslike ongereddenes of pasbekeerdes te belas nie. Dit sou die indruk skep dat hulle die Evangelie vir eie gewin verkondig.

Daarmee wou hy nie sê dat die Christenwerker voortdurend in sy eie lewensbehoeftes moes voorsien nie. Die teenoorgestelde was waar; daar moet deur andere in ‘n soldaat se behoeftes voorsien word sodat hy vry kan wees om te veg vir die Koning wat hom gewerf het (1 Kor 9:7; 2 Tim 2:4). Jesus, bv.,het nie ‘n “tentmakersberoep” beoefen nie – Hy het sy Vader vertrou om dag vir dag in sy behoeftes en dié van sy dissipels te voorsien. Omstandighede verskil en die Heilige Gees lei ons hoe om in elke situasie te werk te gaan.

C. PROFESIË OOR SY KOMENDE LYDING.

Toe hulle Cesaréa bereik, is hulle geakkommodeer deur Fillipus wat vroeër in Jerusalem as diaken gedien het.

Ons lees hoofstuk 21:10-14:

En onderwyl ons baie dae daar oorgebly het, het ‘n sekere profeet met die naam van Agabus van Judéa afgekom. 11  En toe hy by ons kom, neem hy die gordel van Paulus en bind sy eie hande en voete en sê: Dít spreek die Heilige Gees: So sal die Jode die man wie se gordel dit is, in Jerusalem bind en in die hande van heidene oorlewer. 12  En toe ons dit hoor, het ons saam met die broeders van die plek hom gesmeek om nie op te gaan na Jerusalem nie. 
Act 21:13  Maar Paulus het geantwoord: Wat doen julle dat julle ween en my hart week maak? Want ek is bereid nie alleen om gebind te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterwe vir die Naam van die Here Jesus. 14  Toe hy dan nie oor te haal was nie, was ons tevrede en het gesê: Laat die wil van die Here geskied! 

U mag heel moontlik vra: “Maar God self het Paulus voortdurend gewaarsku dat hy gearresteer gaan word. Waarom het hy nie ag geslaan op hierdie waarskuwing nie? Was hy nie net koppig nie? Het sy metgeselle nie reg gedoen om by hom te pleit om nie na Jerusalem te gaan nie”? Die antwoord op daardie vraag is dat hulle bedoeling lofwaardig, maar hul insig gebrekkig was. Hulle was gemotiveer deur hul diepe toegeneentheid tot Paulus. Ongelukkig het hul tekort geskied aan geestelike insig. In die proses het hulle in die vlees opgetree en die mens se welsyn bo die wil en plan van God verhef.

Dit is soortgelyk aan wat Petrus gedoen het toe Jesus vir hom gesê het dat Hy gekruisig sou word. Sonder om eers na te dink, het hy geantwoord: “Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! ” (Matt 16:21). Het Jesus hom geprys vir sy lojaliteit en liefde? Nee, inteendeel, Hy het hom bestraf en gesê dat sy woorde deur satan geïnspireer, en vir Hom ‘n struikelblok was. Jesus se koms na die aarde was juis om sy Vader se doel te vervul deur aan die kruis vir die sondes van mens te sterf. As hy na Petrus sou luister, sou die Meesterplan van God vir die mensdom verydel word!

Net soos Jesus, het Paulus ook geweier om aan sy vriende se pleidooie gehoor te gee. Hy het verstaan ​​dat die doel van die profesië was om hom vooraf te waarsku sodat hy voorbereid kon wees vir wat sou kom.

Ons moet baie versigtig wees wanneer ons Christene wat deur moeilike tydperke in die lewe gaan, beraad. Ons mag teen God inwerk en ‘n getroue dienaar weg lei van die pad van die kruis, in plaas daarvan om hom aan te moedig om nie daarvoor terug te deins nie, maar eerder alles in die stryd te werp om die wedloop te voleindig. (Ons moet bid vir geestelike insig voordat ons praat.)

D. SY ARRESTASIE, AANHOUDING EN VERHORE.

Ons stap verder saam met Paulus en sy geselskap. Toe hulle Jerusalem binnegegaan, het die duiwel sy plan gereed gehad om van God se onverskrokke dienaar ontslae te raak. Binne ‘n paar dae het die profesie in vervulling gegaan. Dit het gebeur toe iemand ‘n Griek saam met Paulus gesien en tot die gevolgtrekking gekom het dat hy hierdie onbesnedene in die tempel ingebring het. Hy het sy woede hieroor luid uitbasuin en die hele stad daardeur in beroering gebring. Honderde het die kreet opgeneem. So fel was die skare se woede, dat die weermag moes ingryp en Paulus arresteer om sy lewe te red.

Maar Paulus was mos vooraf deur God gewaarsku en was gereed om nog ‘n lansie vir die Koninkryk te breek. In plaas daarvan om verlig te wees dat hy nou veilig was, het hy ‘n beroep op die bevelvoerder gedoen om hom die geleentheid te bied om die menigte toe te spreek. Dit is toegestaan.

Het hy homself verdedig en om sy lewe gepleit? Nee, hy het net eenvoudig die Evangelie uitgestort in ‘n kragtige stroom van Heilige Gees geïnspireerde woorde (sien hoofstuk 22). Natuurlik het die skare van Jode dit gehaat en amper daarin geslaag om hom te laat gesel. Op die nippertjie, toe hy reeds op die pynbank uitgestrek was, is hy daarvan gered deur die feit dat hy ‘n Romeinse burger was (vers 23 tot 29).

Die volgende dag is hy egter voor die gereg gebring; voor ‘n volle sitting van die Sanhedrin, die hoogste raad van die Joodse godsdiens. Paulus het met die wysheid wat deur die Gees geïnspireer was, sy regters teen mekaar afgespeel met die gevolg dat die hof verdaag het sonder dat uitspraak gegee is. Hy is weer oornag deur die weermag in bewaring gehou.

Die meer heethoofdige Jode het egter nou genoeg gehad van hofsake en siviele prosedures. Hulle wou Paulus summier doodmaak en het ‘n listige plan bedink. Dit het egter onder die aandag van die bevelvoerder gekom. Hy het Paulus daardie nag nog onder swaar bewaking van Jerusalem na Cesarea oorgeplaas. So het die sameswering om hom te vermoor, misluk. God het presies geweet wat Hy sou toelaat en wat nie. (Hoofstuk 23 vers 12 tot 35).

Nou het ‘n reeks verhore gevolg waarin die Hoëpriester in Jerusalem uiteenlopende beskuldigings teen Paulus ingebring het, aanklagte wat hy nie kon bewys nie. In die eerste verhoor het die goewerneur Felix as regter voorgesit. Hy was goed vertroud met die Evangelie, maar wou nie toegee aan die waarheid nie. Kom ons lees net ‘n klein gedeelte van die Skrif oor hierdie verhoor.

Hoofstuk 24:24-27:

En ‘n paar dae daarna het Felix gekom saam met Drusílla, sy vrou, wat ‘n Jodin was, en het Paulus laat haal en hom aangehoor oor die geloof in Christus. 25  Maar toe hy spreek oor geregtigheid en selfbeheersing en die toekomstige oordeel, het Felix baie bang geword en geantwoord: Gaan vir hierdie keer heen, en as ek ‘n geleentheid vind, sal ek jou laat roep. 26  En tegelykertyd het hy ook gehoop dat geld aan hom deur Paulus sou gegee word om hom los te laat. Daarom het hy hom ook dikwels laat haal en met hom gesprekke gehad. 27  Maar twee jaar het verbygegaan, en toe kry Felix vir Porcius Festus as opvolger; en omdat Felix aan die Jode ‘n guns wou bewys, het hy Paulus as gevangene agtergelaat. 

Wat ‘n dapper gevangene was Paulus nie. In plaas daarvan om sy onskuld te bepleit, beywer hy hom vir Felix se siel deur sy sonde te ontbloot. Die boodskap het getref en Felix laat sidder vir God se oordeel. Hy het egter geen begeerte gehad vir God se heilige lewenswyse nie. Daarom het hy later uitgeroep: “Genoeg, di’s nou eers genoeg! Gaan nou. Wanneer ek dit geleë vind, sal ek jou laat haal.” 

Wanneer God dit geleë vind om met ons te praat, moet ons dit geleë vind om gehoor te gee. Om te dink dat dit môre makliker as vandag sal wees om aan hom oor te gee, is dwaas. Dit is duiwel’sraad. Gedurende die volgende twee jaar het Felix dikwels vir Paulus laat haal en met hom gesels, maar nooit ‘n geleë dag gevind om sy lewe aan Christus te gee nie.

Die volgende goewerneur, Festus, was net so korrup soos Felix. Weer het die Jode hulle aanklagte teen Paulus voorgebring, maar weereens kon hulle dit nie bewys nie. Festus wou egter aan die Jode ‘n guns bewys en het vir Paulus voorgestel dat hy na Jerusalem gaan om verhoor te word. Hy het waarskynlik geweet dat Paulus op pad vermoor sou word.

Paulus het nou genoeg gehad van hierdie korrupte amptenare. Gedagtig daaraan dat God vir hom gesê het, dat hy vir Hom teenoor die keiser sou moes getuig, het hy hom op sy reg as Romeinse burger beroep en geëis om in die hoogste hof van Rome verhoor te wod (hoofstuk 25:11,12). Festus het toe, volgens Romeinse Reg, geen ander keuse gehad as om sy versoek ‘n bevel van die hof te maak nie.

Maar daar sou nog een verhoor in Cesaréa wees. Een van die redes daarvoor was dat goewerneur Festus in ‘n verleentheid verkeer het aangaande Paulus se komende verhoor in Rome. Hy moes naamlik in ‘n gepaardgaande brief aan die appèlhofregters, uiteensit wat die klagtes teen die beskuldigde was; en hy het nie geweet wat om te skryf nie; want daar was geen werklike misdaad gepleeg nie. 

Hy het ‘n paar dae lank oor hierdie probleem gebroei en ‘n oplossing gevind toe koning Agrippa en sy vrou hom kort daarna in Cesaréa besoek het. Terwyl hulle oor dit en dat gesels, het Festus vir Agrippa van Paulus vertel. Agrippa het die aas gevat en sy begeerte uitgespreek om te hoor wat Paulus te sê gehad het.

Die volgende dag het Agrippa en sy vrou Bernice, albei uitgedos in hul imposante koninklike drag, hul sitplekke ingeneem in die saal wat vir verhore gereserveer was. Toe het die slinkse Festus vir Paulus laat inbring sodat Agrippa kon hoor wat hy te sê gahad het. Paulus het sy verdediging wyslik en duidelik voorgehou. Dit was weereens nie soseer gemik op sy persoonlike vryspraak nie, maar eerder daarop dat elkeen van sy luisteraars, en veral sy regters, die geleentheid kon kry om hul lewens aan Christus te gee en vergifnis van hul sondes te ontvang.

Ons lees hoofstuk 26:24-28:

Maar terwyl hy hom so verdedig, sê Festus met ‘n groot stem: Jy is kranksinnig, Paulus; die groot geleerdheid bring jou tot kranksinnigheid. 25  Maar hy sê: Ek is nie kranksinnig nie, hoogedele Festus, maar ek spreek woorde van waarheid en gesonde verstand. 26  Want die koning, met wie ek ook vrymoediglik spreek, weet van hierdie dinge; want ek glo nie dat aan hom iets van hierdie dinge onbekend is nie, want dit het nie in ‘n hoek gebeur nie. 27  Glo u die profete, koning Agríppa? Ek weet dat u glo. 28  En Agríppa sê vir Paulus: Jy beweeg my byna om ‘n Christen te word. 

Hoe hard kan die hart van die mens nie wees dat hy nie eers oortuig kan word deur God se grootste boodskapper, die apostel van apostels, die man wat die stem van die opgestane Christus persoonlik gehoor het nie. Hier was ‘n prediker wat beter as enige ander geweet het om die Evangelie te verkondig; die verhaal van verlossing voor te lê. Hier was ‘n man vervul met liefde en wysheid, ‘n man vol van die Heilige Gees en en van vuur. Hoe verskriklik sou die selfverwyt van ‘n man soos Agrippa nie wees as hy in die hel sou beland en vir ewig sy eie woorde in sy ore hoor klink het: “Jy oorreed my amper … Jy oorreed my amper … . Waarom het ek myself nie toegelaat om op daardie dag oorreed te word nie?”

Wel, selfs Agrippa het erken dat hy geen skuld by Paulus kon vind nie. Maar God se tyd vir Paulus om die mense van sy land te bedien, het tot ‘n einde gekom. Selfs God se uitgebreide genade het ‘n afsnypunt en nou het die Here Jesus sy geliefde boodskapper onder begeleiding geneem om in Rome, destyds die hoofstad van die bekende wêreld, vir hom te getuig. Kom ons kyk wat op sy reis gebeur het.

E. PAULUS ONDERWEG NA ROME; DIE SKIPBREUK.

Ons lees hoofstuk 27 in geheel. Dit gee ons insae in wat Paulus moes deurmaak om sy opdrag te kon uitvoer.

Handelinge 27:

En toe daar besluit is dat ons moes wegvaar na Italië, het hulle Paulus en sommige ander gevangenes oorgegee aan ‘n hoofman oor honderd van die keiserlike leërafdeling, met die naam van Július. 2  En nadat ons in ‘n skip van Adramíttium gegaan het met die doel om by die aanlegplekke in Asië aan te gaan, het ons afgevaar, en Aristárchus van Macedónië, ‘n man van Thessaloníka, was saam met ons. 3  En die volgende dag het ons by Sidon aangekom. En Július het Paulus mensliewend behandel en hom toegelaat om vriende te besoek en versorging te ontvang. 
4  En daarvandaan het ons afgevaar en onderkant Ciprus verbygeseil, omdat die winde teen ons was. 5  Ons het daarop die see langs Cilícië en Pamfílië deurgevaar en by Mira in Licië aangekom. 6  En daar het die hoofman oor honderd ‘n skip van Alexandríë gevind wat na Italië vaar, en ons daarop laat oorklim. 7  En verskeie dae het ons langsaam gevaar en met moeite teenoor Cnidus gekom; en omdat die wind ons nie toegelaat het nie, onderkant Kreta langs gevaar, teenoor Salmóne. 8  En toe ons met moeite dit verbygeseil het, kom ons by ‘n plek wat genoem word Mooi Hawens, in die nabyheid waarvan die stad Laséa is. 

9  En omdat ‘n geruime tyd verloop en die skeepvaart al gevaarlik geword het en die vastyd ook al verby was, het Paulus hulle gewaarsku 10  en gesê: Manne, ek sien dat die reis met ramp en groot skade verbonde sal wees, nie alleen vir die vrag en die skip nie, maar ook vir ons lewe. 11  Maar die hoofman oor honderd het meer aan die stuurman en die eienaar van die skip geglo as aan die woorde van Paulus; 12  en omdat die hawe nie geskik was om daar te oorwinter nie, het die meerderheid aangeraai om ook daarvandaan af te vaar en indien moontlik Fenix te bereik om te oorwinter, ‘n hawe in Kreta wat ooplê na die suidweste en na die noordweste. 
13  En toe die suidewind saggies waai, het hulle gedink dat hulle hul voorneme kon uitvoer en die ankers gelig en langs Kreta verbygeseil. 14  Maar nie lank daarna nie het ‘n stormwind wat Euroklídon genoem word, daarvandaan neergeslaan. 15  En toe die skip meegesleep is en nie teen die wind op kon seil nie, het ons dit opgegee en weggedrywe. 16  En toe ons onderkant ‘n eilandjie kom wat Clauda genoem word, kon ons met moeite die sleepbootjie onder beheer hou. 17  En nadat hulle dit opgetrek het, het hulle gebruik gemaak van hulpmiddels deur die skip onderom te gord; en omdat hulle bang was om op die Sirtis te lande te kom, het hulle die seile neergehaal; en so het hulle dan weggedrywe. 
18  En terwyl ons geweldig deur die storm geteister is, het hulle op die volgende dag van die vrag uitgegooi; 19  en op die derde dag het ons met ons eie hande die skeepsgereedskap uitgegooi. 20  En omdat die son en ook die sterre baie dae lank nie geskyn het nie, en ‘n hewige storm ons gedruk het, is eindelik alle hoop om gered te word, ons ontneem. 

21  En nadat hulle lank sonder ete was, het Paulus in hul midde opgestaan en gesê: Manne, julle moes na my geluister en nie van Kreta afgevaar het nie en julle so hierdie ramp en skade bespaar het. 22  Maar nou vermaan ek julle om moed te hou, want daar sal hoegenaamd geen verlies van lewe onder julle wees nie, maar alleen van die skip. 23  Want daar het in hierdie nag by my gestaan ‘n engel van die God aan wie ek behoort, wat ek ook dien. 24  En hy het gesê: Moenie vrees nie, Paulus; jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar. 25  Daarom, hou moed, manne; want ek glo God dat dit so sal wees soos aan my gesê is. 26  Maar ons moet op ‘n sekere eiland strand. 
27  En toe die veertiende nag kom, terwyl ons nog in die Adriatiese See ronddrywe, het die matrose omtrent middernag vermoed dat hulle naby land kom. 28  Daarop gooi hulle die dieplood uit en kry twintig vaam; en nadat hulle ‘n bietjie verder gegaan het, gooi hulle die dieplood uit en kry vyftien vaam. 29  En omdat hulle bang was dat hulle miskien op rotsagtige plekke kon strand, het hulle van die agterskip vier ankers uitgegooi en gewens dat dit dag word. 30  Maar die matrose het probeer om uit die skip te vlug en die sleepbootjie in die see laat sak onder die voorwendsel dat hulle ankers van die voorskip af wou uitgooi. 31  Toe sê Paulus vir die hoofman oor honderd en die soldate: As hierdie manne nie in die skip bly nie, kan julle nie gered word nie. 
32  Daarop het die soldate die toue van die sleepbootjie afgekap en hom laat afval. 33  En teen die tyd dat dit dag sou word, het Paulus almal aangemoedig om voedsel te gebruik en gesê: Dit is vandag die veertiende dag dat julle in afwagting bly vas sonder om iets te gebruik. 34  Daarom raai ek julle aan om voedsel te neem, want dit dien tot julle behoud; want van niemand onder julle sal ‘n haar van sy hoof val nie. 35  Toe hy dit gesê het, neem hy brood, dank God in die teenwoordigheid van almal, breek dit en begin eet. 36  En hulle het almal moed geskep en self ook voedsel geneem. 37  En ons was in die skip altesaam twee honderd ses en sewentig siele. 38  En nadat hulle met voedsel versadig was, het hulle die skip ligter gemaak deur die koring in die see te gooi. 
39  En toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie; maar hulle het ‘n inham met ‘n strand bemerk, waarop hulle van plan was om die skip te laat loop as hulle kon. 40  En hulle het die ankers afgekap en in die see laat lê en tegelykertyd die roertoue losgemaak. En hulle het die voorseil teen die wind opgetrek en op die strand aangestuur. 41  En hulle het op ‘n plek verval met die see aan weerskante en die skip laat strand; en die voorskip het vasgeraak en onbeweeglik bly sit, maar die agterskip is deur die geweld van die branders uitmekaar geslaan. 
42  Nou was dit die plan van die soldate om die gevangenes dood te maak, sodat niemand kon uitswem en ontsnap nie. 43  Maar die hoofman oor honderd wou Paulus red en het hulle verhinder in hulle voorneme en bevel gegee dat die wat kon swem, eerste in die see moes spring om aan land te kom, 44  en die ander, sommige op planke en sommige op stukke van die skip. En so het almal behoue aan land gekom. 

Daar is geen diep geheimenisse in wat ons so pas gelees het nie; daarom net ‘n paar opmerkings.

Eerstens hoe wonderlik het die Here na sy dierbare dienaars, Paulus en Silas, en ter wille van hulle, ook na hul metgeselle omgesien. ‘n Groter ramp kan ‘n mens jou skaars voorstel. Nogtans, alhoewel hulle deur groot ontberinge gegaan het, is nie een ernstig beseer, en het niemand sy lewe verloor nie. Al 276 siele het behoue anderkant uitgekom!

Tweedens, wil ‘n mens tog die vraag vra: waarom het die Here die skipbreuk toegelaat? Hy kon dit mos verhoed het? Ons kry selde volledige antwoorde op ons raaiselagtige vrae. Maar kom ons probeer. Soms laat die Here ons toe om maar net te deel in die lyding van die mensdom sodat hulle die oorwinning wat ons in Christus ervaar, kan sien en aangemoedig kan word om hul tot hom te bekeer. Dan weer, laat Hy toe dat die duiwel ons sonder enige ooglopende rede kasty soos vir Job. Dan wil die Heer ons leer om hom blindelings te vertrou. Onthou dan dat hy eendag gestraf gaan word vir elke hou wat hy op ‘n kind van God ingekry het; selfs vir een enkele haar wat hy uitgepluk het. Loof die Here vir sy regverdige oordele. 

Die goeie wat God uit hierdie rampspoedige voorval voortgebring het, was die redding van ‘n groot aantal van hierdie eilandmense. Nieteenstaande al Paulus se reise, was hulle oor die hoof gesien; het hulle nog nie die geleentheid gehad om die Evangelie te hoor nie. Paulus was sekerlik nie daarvoor te blameer nie, maar ons kan soms wel onsensitief wees vir God se leiding.

Ons bearbei gemeenskappe wat maklik bereikbaar is, jaar na jaar totdat hulle geestelik oorversadig is. Maar daar is vandag nog taal- en kultuurgroepe wat hulself afgesonderd, op ‘n eiland van geestelike onkunde bevind. As niemand vrywilliglik daarheen wil gaan nie, moet die Heer toelaat dat iemand op sy lewensreis skipbreuk lei, sodat hy op daardie vreemde kus kan uitspoel en die boodskap van verlossing kan deel met hulle wie se harte Hy lank reeds voorberei het om dit met dank te ontvang.

Derdens sien ons hoe die hoofman oor honderd, hoewel ‘n goeie man, nie ‘n godsman was nie. Daarom het hy eerder die advies van die skeepskaptein aanvaar as die waarskuwingswoord wat Paulus van God gekry het. Eers toe dit al amper te laat was, het hy hom tot Paulus vir raad gewend. So kan dit ook met gesoute diensknegte van God gebeur; dat ‘n woord wat hul van God gekry, in die wind geslaan en “kundiges” se advies eerder gevolg word. Die Heer sal egter toesien dat sy dienskneg op die ou end reg bewys en as Sy woordvoerder erken word.

Ten vierde, sien ons hoe Paulus die, gevangene, die kaptein geword en rustig beheer geneem het van ‘n desperate, hopelose situasie. Hoe so? Terwyl almal net die donker nag om hulle sien, die malende wolke, die reuse golwe wat die skip heen en weer slinger, sien Paulus skielik ‘n glansende engel voor hom staan. Hy kom met ‘n boodskap direk vanaf die troon van God. Dit lui: “Paulus, moenie bekommerd wees nie, jy sal nie omkom nie. Ek neem jou na Rome om vir die keiser (menslik gesproke, die magtigste man op aarde) van my te vertel. En, wat meer is, omdat Ek jou liefhet en jy hierdie soldate en matrose liefhet, skenk ek hulle almal aan jou, nie een sal sterf nie.”

Broer en suster daar is ‘n engel van God in elkeen van ons storms! Die volgende oggend toe almal bleek van moegheid en nukkerig van wanhoop op die dek rond steier om onbenullige takies te verrig, stap Paulus haastig na hulle. Sy gesig straal en hy roep God se boodskap van hoop jubelend uit. Ineens verander die atmosfeer, lag en skerts die manne weer. Nou was daar weer hoop.

Van daardie oomblik af het almal na Paulus opgesien vir leiding en het hy ook aangehou om dit van die Troon daarbo te ontvang. Die tweede woord wat hy gekry het, was dat hulle op ‘n sekere eiland sou strand. Hulle het dus iets gehad om dadelik te doen; uit te kyk vir ‘n eiland en die skip gereed te kry om aan land te gaan. Nou kon hulle ten minste pro-aktief optree – hul situasie bestuur.

Volgende voorval: Toe hulle ontdek dat hulle land nader, het ‘n aantal matrose probeer om stilletjies die reddingsboot in die see te laat sak om daarmee hul eie lewens te red. Weereens was dit Paulus wat hul komplot ontdek het. Hierdie keer het die hoofman oor honderd ag geslaan op sy waarskuwing dat almal aan boord moes bly om gered te kon word. Hy het beveel dat die sleeptou afgekap, en die boot toeglaat moes word om weg te dryf.

Die volgende oggend was dit weer Paulus wat goeie raad gegee het: “Julle het al 14 dae lank nie geëet nie. Eet nou liewer ’n stewige maaltyd om jul te versterk vir wat voorlê.” Almal het die wysheid daarvan ingesien, weggelê aan die kosvoorrad en die res van die graan oorboord gegooi om die skip ligter te maak.

Kort daarna het die oomblik aangebreek dat die skip sou strand enalmal dit sou moes verlaat. Op nommer nege-en-negentig het nog ‘n krisis ontstaan; die soldate het hul swaarde uitgepluk om al die gevangenes dood te maak om te verhoed dat hulle ontsnap. Hulle bevelvoerder het egter teen hierdie tyd soveel respek vir Paulus gehad dat hy hom ten alle koste in die lewe wou hou. Daarom het hy sy manne verhinder om hulle voorneme uit te voer. So het God se woord om al hierdie manne aan Paulus te gee, nog ‘n stappie gevorder om vervul te word.

Toe het die skip se boeg in die sand vasgesteek. Almal het oor boord gespring en gespartel om die strand te haal; óf geswem óf op stukke hout uitgedryf. Wonder bo wonder het nie ‘n enkele een gesterf of selfs beseer geraak nie: presies soos die Here deur sy kneg Paulus gesê het dat dit sou wees. (Hoeveel engele was by daardie reddingsaksie betrokke?) Loof hom, die Here van die heelal, die God van Paulus, my God, u God.

F. PAULUS OP DIE EILAND MELITE.

Ons lees nou hoofstuk 28 vers 1-10:

En eers toe ons gered was, het ons te wete gekom dat die eiland Melíte genoem word. 2  En die inboorlinge het ons buitengewone mensliewendheid bewys, want hulle het ‘n groot vuur aangesteek en ons almal daarby gebring weens die reën wat gedreig het en weens die koue. 3  En Paulus het ‘n klomp droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit, en ‘n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt. 
Act 28:4  En toe die inboorlinge die dier aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: Hierdie man is beslis ‘n moordenaar wat die goddelike wraak nie laat lewe nie, al is hy uit die see gered. 5  Maar hy het die dier in die vuur afgeskud en geen kwaad gely nie. 6  En hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik dood neerval; maar toe hulle lank gewag en gesien het dat niks besonders met hom gebeur nie, het hulle van gedagte verander en gesê dat hy ‘n god was. 
7  Nou het die hoof van die eiland, wie se naam Públius was, in die omgewing van daardie plek ‘n stuk grond gehad, en hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik geherberg. 8  En die vader van Públius het siek gelê aan koors en buikloop. En Paulus het ingegaan na hom toe, en nadat hy gebid het, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak. 9  En hierna het ook die ander wat siektes gehad het op die eiland, na hom gekom en is genees. 10  En hulle het ons ook baie eerbewyse betoon, en toe ons sou afvaar, ons van die nodige voorsien. 

Laat ons kortliks kommentaar lewer. Kyk eerstens verder hoe God ons kan beskerm en vir ons kan voorsien, selfs onder die moeilikste omstandighede. Op hierdie onbekende eiland het Hy dit op die harte van vreemdelinge gelê om vir sy nat, uitgeputte dienaars te sorg. Hulle het hout te bring en ‘n groot vuur gemaak waarby almal hulself warm en droog kon maak.

Tweedens, kyk hoe die duiwel, tot op die laaste oomblik nog nuwe aanslae sal loods om ons vertroue in God te skud. Is dit nie opvallend nie dat die slang juis vir Paulus, spesifiek vir hom, die geestelike leier van die groep, die man op wie almal so pas begin vertrou, gebyt het nie. Maar let ook op hoe Paulus net eenvoudig ontspan en God toegelaat het om oor te neem. (Het die Here dan nie deur die engel weereens bevestig dat Hy met hom op pad Rome toe was nie?)

Die eilandbewoners se eerste gedagte was dat hy ‘n moordenaar was wat besig was om deur God gestraf te word. Toe gebruik die Here net mooitjies die geleentheid om sy dienskneg te verhoog en vir hom die geleentheid te skep om die bevolking geestelik te bedien. Die goewerneur se vader was nogal die eerste een wat hy genees het. Dit het die deur na die harte van sy burgers geopen met die gevolg dat baie van die eilandbewoners gered is. Ons sien weer dat wanneer ons op die Here vertrou, ons verleentheid vir hom ‘n geleentheid skep.

Ons staan mettertyd op die hawe en sien hoe dat Paulus hulle ‘n skip haal om hul reis voort te sit Rome toe. Elkeen dra ‘n bondentjie in die hand; ‘n geskenk van die dankbare Melitiërs vir wat Paulus vir hulle gedoen het; soveel van hul siektes en kwale genees en die kanaal gewees het waardeur baie ander die Here Jesus en deur hom die Ewige lewe ontvang het. Die eiland sou nooit weer dieselfde wees nie. Die Evangelie voetspoor is daar agtergelaat. En wat Paulus hulle betref: ellendig het hulle op die eiland aangekom, maar in waardigheid daarvandaan vertrek.

G. PAULUS SE BIENING IN EN VANUIT ROME.

Ons lees hoofstuk 28:16:

En nadat ons in Rome gekom het, het die hoofman oor honderd die gevangenes oorgelewer aan die bevelhebber van die leër. Maar aan Paulus is dit vergun om op sy eie te woon met die soldaat wat hom moes oppas. 

Geen melding word gemaak dat Paulus daar, in Rome, deur die Keiser verhoor is nie; inteendeel, hy is baie vriendelik behandel en ruim geleentheid gebied om beide Jode en heidene te bedien.

Laastens hoofstuk 28:30,31:

En Paulus het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het, 31  terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering. 

Uit sy briewe aan die Filippense (Fil. 1:13 en 4:22) is dit duidelik dat hy dissipels gemaak het onder die Keiserlike lyfwag en ander lede van sy personeel.

‘n Geweldige seën wat deur God bewerk was deur Paulus se huisarres in Rome, is die briewe wat hy vandaar geskryf en uitgestuur het. Omdat hy nie meer vry was om na die gemeentes te reis nie, het hulle verteenwoordigers na hom gestuur. Op sy beurt het hy briewe (sendbriewe soos ons dit noem) aan hulle geskryf en gestuur. Hierdie dokumente was niks anders as die geïnspireerde Woord van God; ‘n reuse bydrae tot die voltooiïng van die Kanon soos wat ons dit vandag nog het; gelykstaande aan al die ander Boeke van die Bybel. Die Sendbriewe bevat ‘n rykdom van Christelike lering wat ons nie sou gehad het as Paulus in die posisie was om die gemeentes aan wie hy hulle geskryf het, verbaal te bedien nie.

H. DIE VOORTGANG VAN HANDELINGE.

U sal ook opmerk dat die Boek Handelinge taamlik stomp eindig. Dit wil voorkom asof Lukas verwag het dat hy gaandeweg nog verdere gebeure sou byvoeg maar dat dit toe nie so uitgewerk het nie. Maar as hy wel soos voortgaan, tot wanneer toe sou hy moes aanhou?

Die Boek Handelinge is eintlik deur die eeue heen ook deur duisende ander gesante van God voortgeskryf alhoewel dit nie alles in die Woord opgeteken is nie. Dit word ook nog deur u en my geskryf terwyl ons die Groot Opdrag van ons Here Jesus Christus uitvoer om die hele wêreld in te gaan en dissipels van al die nasies te maak (Matteus 28:18). Mag ons dit net so toegewyd soos Paulus doen.

(Wat ‘n groot skat het Lukas ook vir die Koninkryk van God nagelaat deur hierdie kosbare Boek saam te stel. Hy het altyddeur agter die skerms gewerk; nooit eers eenkeer sy eie naam genoem nie alhoewel dit uit die aanhef van die Boek duidelik was dat hy die skrywer was. Hy het baie van die ontberinge saam met die res van die span gely, maar nie die eer en erkenning begeer nie.)

Die Boek Handelinge is die verhaal van die magtige werke van die Heilige Gees na die uitstorting op Pinksterdag. Soos wat Jesus tevore getuig het dat Hy sou doen, so het Hy ook gedoen.

Ons het die einde bereik van ons studie van die Boek Handelinge. Ons vertrou dat u verryk; u hart aan die brand gesteek is om die Here net so toegewyd te dien soos Stéfanus, Filippus, Petrus, Bárnabas, Paulus en al die vele ander. Shalóm.

//////////

VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK →  Paulus se arrestasie en reis na Rome. Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.

//////////

Indien u hart deur hierdie Skrif en bespreking daarvan geraak is, hoor ons graag daarvan; ook indien u vrae het of voorstelle oor hoe ons dit kan verbeter. Gebruik gerus die onderstaande kontakvorm daarvoor.



    SwakRedelikGoedBaie goedTreffend


    captcha