2024-05-03
A. KONFLIK OOR DIE BESNYDENIS EN ANDER OU-TESTAMENTIESE VOORSKRIFTE.
Voordat ons Paulus op sy tweede sendingreis vergesel, moet ons eers stilstaan by die ernstige geskil wat in die Antiogië gemeente opgevlam het oor die toepassing van godsdienstige wette wat vroeër vir Israel gegeld het. Om hieroor uitsluitsel te kry was nie net vir hierdie gemeente belangrik nie, maar ook vir die verkondiging van die suiwer Evangelie wêreldwyd.
Hand. 15:1,2:
En sekere persone wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie. 2 Toe daar nou geen klein stryd en woordewisseling van die kant van Paulus en Bárnabas teen hulle ontstaan het nie, het hulle besluit dat Paulus en Bárnabas en nog ‘n paar ander van hulle sou opgaan na die apostels en ouderlinge in Jerusalem in verband met hierdie vraagstuk.
Wanneer ons ‘n Christelike bediening betree, betree ons ‘n oorlogsone; kom ons meer direk teen die bose te staan. Om daarvan te hoor, is soos om in jou sitkamer te sit en kyk na ‘n TV-prent oor ‘n oorlog wat êrens woed: geboue word opgeblaas en mense word gewond en sterf. Die soldate wat self daar veg, beleef dit egter heel anders. Hulle lewens word bedreig. Hulle moet elke oomblik waaksaam wees. Die lande wat betrokke is moet al hul vernuf en vermoëns aanwend om die stryd te wen. Die een wat verloor kan sy grondgebied vir ewig kwyt wees en sy burgers mag selfs totaal uitgewis word of slawe van die oorwinnaar word. So was dit deur die eeue heen.
Die geestelike oorlog wat rondom ons gevoer word, gaan oor selfs oneindig groter sake; ernstiger gevolge. Sou die bose en sy magte oorwin, sal hierdie planeet en al sy inwoners vir ewig in duisternis en ellende gedompel wees.
U mag argumenteer dat ons maar kan ontspan omdat Jesus reeds die oorwinning aan die kruis behaal het. Reggenoeg, maar nou moet die oorwinning na elke lewende siel uitgebrei word. Dan eers kom die kruisoorwinning tot sy reg. Jesus het nie terwille van homself gesterf nie, maar ter wille van die mens. Eers wanneer die mens die voordele van sy sterwe belewe, bereik die kruisdood sy doel. Daarom sy opdrag: “Gaan heen, maak dissipels van al die nasies ….”. Wanneer die nasies gered word pluk Jesus die vrug van sy offer. Die grootte en heerlikheid van die Koninkryk van God sal gemeet word aan die aantal burgers daarvan en aan hul toeweiding en liefde vir hul Koning. Daarom lê daar vir ons nog ‘n reuse taak voor en kan ons nie laat slaplê nie.
Wat hierdie stryd bemoeilik, is dat dit grootliks in onsigbare geestelike sfere geveg word waar ons as mense nie so bedrewe is nie.
Ons kyk nou na die verskillende fronte van die geveg:
- Eerstens is daar die onsigbare vyand self; die duiwel en sy hordes demone.
- Tweedens is daar die onwedergebore “kerk” wat die werklike gelowiges aanval. Daarmee bedoel ek daardie groot groep mense wat soos die Fariseërs, Sadduseërs en Skrifgeleerdes is; wat in ‘n sogenaamde kerk of denominasie saam groepeer, maar nie wedergebore is nie. Hulle behoort nie aan God nie en is in werklikheid die duiwel se skadu agente en moontlik die gevaarlikste van almal.
- Dan is daar die heidene of volstrekte ongelowiges wat natuurlik ook nie aan ‘n kerk behoort nie. Hulle geniet hul sonde en sal jou beveg en selfs doodmaak as jy hulle teëstaan. Hierdie goddelose mense besoedel die samelewing en manipuleer selfs die wet en regering vir hul eie doeleindes.
- Verder is daar die stryd binne die ware kerk van God; gelowiges wat mekaar opponeer. Die verkeerde interpretasie van die Skrif is dikwels die oorsaak daarvan. Dat die Woord van God reg verstaan word, is uiters belangrik want soos wat ons dit verstaan, so glo ons en wat ons glo, bepaal of ons by Jesus uitkom en die Ewige Lewe ontvang of nie. Jajoesie is ook ‘n dieplopende oorsaak van onenigheid tussen Jesus se kinders; elkeen wil so graag die belangrikste wees.
- Laastens is daar die vyand binne-in die Christelike werker; die vlees wat oorlog voer teen die Heilige Gees (en wie ken dit nie. Paulus het dit ook beleef. Lees meer hieroor in Rom 7).
Die boek Handelinge is dan ook grootliks ‘n verhaal van die heftige botsing tussen die Koninkryk van Lig en dié van duisternis. Die soldate was brose mense soos u en ek. Die verloop van die geveg het heen en weer gewoed. Soms sou die duisternis ‘n oorwinning behaal, maar skielik was daar ‘n wending en het die Lig weer geseëvier. Die oplettende leser sal egter gou tot die vreugdevolle gevolgtrekking kom dat daar geen twyfel oor die finale uitkoms bestaan nie. Satan en sonde sal uiteindelk vernietig word en die Here se vaandel sal hoog oor die hele heelal wapper. Halleluja!
In die laas gelese gedeelte, sien ons hoe Paulus en Bárnabas ontdek dat die duiwel deur die deur agter die preekstoel in hul eie gemeente ingesluip het. Die leerstellige polemiek wat daar in die Antiogië gemeente ontstaan het, was aangevuur deur besoekende Christenbroers vanaf die Jerusalem gemeente. Hulle het verkondig dat iemand besny moes word; so-nie kon hy nie gered word nie.
Paulus en Bárnabas het hierdie lering hand en tand beveg. Dit was om ‘n las by die suiwer, eenvoudige Evangelie by te voeg. Dit het die voltooide werk van Christus afgeskraal; geïmpliseer dat Christus se kruisdood nie voldoende was nie; nee die mans moes nog besny word ook.
Hierdie dwaling sou die Antiogië gemeente ook groot skade kon berokken want baie van hulle lidmate was nie-Jode. Hulle sou aanstoot neem aan hierdie Joodse eise om hulle te laat besny. Dit kon so maklik aanleiding daartoe gee dat hulle hulself afskei en hul eie gemeente stig.
Hoe die apostels ookal probeer het om die dispuut te besleg, die stryd het net aanhou voortwoed. Nie een van die twee opponerende groepe wou bes gee nie. Die leiers het toe besef dat hulle onpartydige hulp van buite die gemeente sou moes inroep. Die voor die hand liggende antwoord was om hulle na die Jerusalem gemeente te wend. Dit is daar waar die apostels was wat die Here Jesus gedurende Sy leeftyd opgelei en aangestel het. Hulle het Hy agtergelaat om Sy Kerk deur sy vroeë stadiums van ontwikkeling te lei. Daarom is Paulus, Bárnabas en ‘n aantal ander gelowiges, genomineer om na Jerusalem op te gaan en die saak voor die leiers van daardie gemeente te lê.
Ons het nie die Skrif wat oor die verloop van daardie Jerusalem vergadering handel, hier aangehaal nie, en sal dit ook nie bespreek nie. U sal egter goed doen om dit op u eie deur te lees (15:1-35) en te sien hoe die kontroversie opgeklaar is. Antwoorde is gevind onder leiding van die Heilige Gees. Dit het hulle deur middel van ‘n geskrewe brief na Antiogië teruggeneem. Laasgenoemdes wat hul asem opgehou het, was baie verlig en bemoedig. Die beslissing (in ‘n neutedop) was dat die Christene uit die heidendom nie gebonde was deur die juk waarmee die Joodse Christene hulself nog onnodiglik belas het nie.
Hulle is ook geseën deur die profetiese woorde van twee mans, naamlik Judas en Silas wat Paulus terug huis toe vergesel het. Jesus was weer die Oorwinnaar deur die werking van Sy Gees.
B. GEREED OM DIE SENDINGTAAK VOORT TE SIT.
Ons lees hoofstuk 15:36:
En ‘n paar dae daarna het Paulus vir Bárnabas gesê: Laat ons teruggaan en ons broeders besoek in al die stede waarin ons die woord van die Here verkondig het, om te sien hoe dit met hulle gaan.
Ons let daarop dat dit nie vir die Gemeente nodig was om die sendelinge wat hulle tevore vir hierdie taak afgesonder het, verder aan te por om hul godgegewe taak voort te sit nie; hulle en veral Paulus het dit nou self op die hart gedra. Hy het nou die stem van die Heilige Gees in sy gemoed hoor fluister om, na hul tydjie van mindere druk, hul bekeerlinge, nee, hul geestelike kinders, te besoek en verder op te bou. Daar was ook nuwe velde wat verower moes word.
C. VERDEELTHEID LEI TOT VERDELING – NEE, VERMEERDERING.
Ons lees verder: Hoofstuk 15:37-41:
37 En Bárnabas wou Johannes, wat Markus genoem word, saamneem. 38 Maar Paulus het dit nie reg geag om hóm saam te neem wat van Pamfílië af hulle verlaat het en nie saam met hulle na die werk gegaan het nie. 39 Daar het toe ‘n verbittering ontstaan, sodat hulle van mekaar geskei het; en Bárnabas het Markus saamgeneem en na Ciprus uitgeseil. 40 Maar Paulus het Silas gekies en afgereis nadat hy deur die broeders aan die genade van God opgedra was. 41 En hy het Sírië en Cilícië deurgegaan en die gemeentes versterk.
Kyk nou net wat hier gebeur. Het ons nie gesê dat die Christelike bediening ‘n voortdurende stryd is wat op verskillende fronte gevoer word nie? Kort tevore het ons nog gesien hoe hierdie twee magtige soldate van God, elkeen met die swaard van die Woord, skouer aan skouer, rug aan rug gestaan en veg het teen die valse leerstelling wat deur indringers verkondig was, en nou?
Nou het hulle die swaarde van die Woord terug in die skedes gesteek. Nou was hulle in die bokskryt. Met handskoene omhoog het hulle om mekaar gesirkel; houe gemik en geplant. Die hewige argument het naamlik oor Johannes gegaan wat tydens hul vorige reis uit die geveg gevlug het; terug huistoe. Was dit reg om hom nou weer op ‘n volgende reis as medewerker saam te neem? Twee magtige manne van God, was besig om, nie teen die vyand veg nie, maar teen mekaar. Bárnabas slaan: “Ja!” Paulus slaan: “Nee!” Die gemeente sit op die pawiljoen en byt hul naels. Sommige steun Bárnabas; die res vir Paulus. Hulle fluister onder mekaar: “Gaan ons leraars nou die gemeente in twee verdeel, of wat?” Op die ou end los die strydendes hul geskil self op. Hulle laat die hande langs die sye sak, haal die skouers op, pak die handskoene terug in die strydkas en skud hand. Dan kies elkeen sy eie medewerker en slaan sy eie koers in. Die Gemeente kon weer asemhaal en saamwerk.
Nou wie was reg en wie verkeerd? Was dit nie bloot ‘n botsing van persoonlikhede nie? Was die sagter Bárnabas nie reg deur meer toegeeflik te wees en ‘n man wat misluk het, nog ‘n kans te gee en sodoende nog ‘n arbeider vir dienswerk op te lei nie? Of het die strenger Paulus reg gedoen om ‘n hoër standaard vir geestelike werkers daar te stel en sodoende die Naam van die Here hoog te hou? Miskien het nepotisme ietwat van ‘n rol by Bárnabas gespeel; Markus was immers sy neef. Of het hy dalk teen Paulus gereageer wat die leidende rol in hulle gesamentlike bediening begin speel het? Ons kan net spekuleer.
Maar die Here het dié ding sien kom en was ‘n tree voor hulle. Hy het Silas kort tevore gelei om by die Antiogië-gemeente aan te sluit. Sodoende was hy beskikbaar toe Paulus ‘n vennoot nodig gehad het. Ook interessant om op te let, is dat waar Paulus geweier het om Johannes, (ook genoem Markus) ‘n tweede kans te gee, God dit later wel gedoen het deur hom te gebruik om die Evangelie van Markus te skryf.
Die goeie wat uit hierdie verleentheid gekom het, was dat die twee sterk manne nou twee afsonderlike spanne gevorm het. Sodoende het die “Antiogië Evangelisasie Span” verdubbel in getal en in sy vermoë om die onbereikte wêreld te bereik. Die Here het weereens gewen!
D. PAULUS SE TWEEDE SENDINGREIS.
Ons gaan voort om Paulus en Silas op hulle reis te vergesel want die Woord vertel ons niks meer van Bárnabas en Markus nie. Tog is ons oortuig dat die Here Jesus hulle net so heelhartig vergesel en gelei het as wat Hy vir Paulus en Silas gedoen het. Die feit dat ons foto’s nie op die voorblad van die kerkbulletin verskyn nie, beteken nie dat God ons minder liefhet en koester as die ander leiers nie. (Ons veel later verneem dat Paulus en Markus mettertyd versoen is en goeie vriende geword het.)
So het Bárnabas en Markus toe links gedraai en die see oorgesteek na Ciprus. Paulus en Silas het regs gedraai en oor land gereis, eers deur Paulus se tuisdorp Tarsus, en toe verder na Sirië en Cilicië.
Paulus het bedoel dat hierdie reis net ‘n besoek en versterking van die gemeentes wat hulle tevore geplant het, sou wees, maar die Here het ‘n baie wyer horison vir hulle in gedagte gehad. Die Heilige Gees het hulle verder en verder voortgelei. Soms weer, het Hy hulle pad versper, wanneer hulle natuurlike insigte sou maak dat hulle ‘n koers sou inslaan wat nie binne God se plan was nie.
Ons kyk na hulle roete. Lees asseblief self hoofstuk 16, vanaf vers 1. (Besigtig ook die kaart wat moontlik in u Bybel voorsien is.) Die dorpe, stede en lande wat genoem word, is Derbe, Listra, Troas, Samotráce, Neápolis, Filippi, ‘n stad in die kolonie van Masedonië, toe deur Amfipolis en Appolonia na Thessalonika, toe Berea en van daar regs na daardie metropool van Griekeland, die stad Athene. Daarvandaan verder na Korinthe en Kenchre vanwaar hulle die see oorgesteek het na Efese. In plaas daarvan om terug te keer na hul tuisbasis, Antiogië, het hulle ‘n skip geneem en die Middellandse See oorgesteek na die hawedorp Caesarea aan die Palestynse weskus. Vandaar oorland na Jerusalem om betyds te wees vir die Joodse Paasfees, wat Paulus gevoel het om by te woon (18:21). Eers daarna het hulle na Antiogië teruggekeer.
‘n Ruk later het Paulus en sy geselskap ‘n derde reis onderneem, baie langs dieselfde roete as sy tweede reis (18:23-21:16).
Ons wil u nie vermoei om al hierdie moeilike vreemde name te onthou nie. (Hierdie is immers net ‘n inleidende studie van die Boek Handelinge, nie ‘n in-diepte bestudering nie.) Die bedoeling is dat, deur net die verhaal te lees, u sal sien hoe groot ons God is. Hy het die meeste van die bekende wêreld gedurende ‘n kort tydjie ge-evangeliseer deur ‘n klein mannetjie te gebruik; en dit ‘n eertydse moordenaar van Christene. Hierdie man het duisende kilometers te voet en per skip afgelê en geweldige ontberings gely. Hy het egter onverskrokke volhard omdat die magtige Heilige Gees in hom, deur hom, met hom en vir hom gewerk het.
Kom ons kyk net kortliks na hoe hy sy wedervaringe vir Christus beskryf.
E. PAULUS SE LYDING VIR CHRISTUS.
Ons lees 2 Kor. 11:23-33:
Is hulle dienaars van Christus? —ek praat in uitsinnigheid—ek nog meer: in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels. 24 Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. 25 Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring — 26 dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; 27 in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. 8 Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes. 29 Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan wie word ‘n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie? 30 As daar geroem moet word, sal ek in my swakhede roem. 31 Die God en Vader van onse Here Jesus Christus, geseënd tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie. 32 In Damaskus het die goewerneur van koning Arétas die stad van die Damaskéners laat bewaak om my te vang; 33 en ek is in ‘n mandjie deur ‘n venster in die muur neergelaat en het aan sy hande ontkom.
Die ware Christelike bediening word op ‘n slagveld gevoer. Laat ons egter nie van die stryd af wegvlug nie, maar eerder daarheen hardloop en deel word van die veldslae en oorwinnings, want Paulus se God is ons God en Hy sal ons deurdra.
F. PAULUS KRY ‘N GEESTELIKE DEURBRAAK IN FILIPPI.
Dit is so moeilik om insidente uit Paulus se verdere ervarings uit te sonder om oor na te dink, maar kom ons doen dit. Ons lees uit hoofstuk 16:11-15:
Ons het dan afgevaar van Troas en reguit koers gehou na Samothráce, en die volgende dag na Neápolis,
Act 16:12 en daarvandaan na Filíppi, wat die eerste stad is van daardie deel van Macedónië, ‘n kolonie. En ons het in hierdie stad ‘n paar dae deurgebring.
13 En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs ‘n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het. 14 En ‘n vrou met die naam van Lídia, ‘n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ‘n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is. 15 En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing.
‘n Paar opmerkings. Ons let eerstens op Paulus se strategie. Hy was altyd op die uitkyk vir mense wat bymekaar gekom het omdat hulle ‘n belangstelling in God gehad het. As daar ‘n Joodse sinagoge was, sou hy hulle byeenkoms op die Sabbat bywoon. Daar het hy die Evangelie verkondig totdat hulle hom uitgeskop het. In die gelese gedeelte het hy ‘n plek buite die dorp Filippi ontdek waar vroue gewoonlik vir ‘n gebedsbyeenkoms vergader het. Hy en Silas het by hulle aangesluit. Dit sou destyds vir mans ongewoon gewees het om so iets te doen, maar dit was ‘n gunstige geleentheid om die Evangelie te deel. Die dames was gewillig om te luister en die Here het Lydia se begrip en gees geopen. Sonder verdere versuim het beide sy en haar gesin wat teenwoordig was, Christus aangeneem en is hulle gedoop. Prys die Heer; die eerste dissipels in Filippi is gemaak. Wie sou volgende wees?
G. DIE WAARSÊENDE SLAVIN.
Ons lees Hoofstuk 16:16-22:
En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom ‘n slavin met ‘n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het. 17 Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.
18 En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan.
19 En toe haar eienaars sien dat die hoop van hulle wins weg was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die mark voor die owerheid gesleep 20 en hulle voor die regters gebring en gesê: Hierdie manne bring ons stad in opskudding, omdat hulle Jode is, 21 en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is. 22 En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regters het hulle klere laat afskeur en bevel gegee om hulle met stokke te slaan.
Na Lydia se bekering het Paulus en sy span gereeld na daardie bidplek gegaan. Dit was vrugbare grond en het die belofte ingehou van nog gerwe wat ingebring kon word. Die duiwel was natuurlik ontstoke oor hierdie inval in sy koninkryk. Hy bedink toe ‘n slinkse plan om die werk van God te ontwrig. Hy sou homself vermom as ‘n engel van die lig.
Gestel u sou, as evangelis, u evangelisie-spannetjie in ‘n vreemde dorp na die sentrale plein lei, luidsprekers opstel en ‘n oppelug diens daar hou. Die mense drom saam en luister aandagtig. Dan, wanneer u die musiek vir ‘n oomblik onderbreek, tree een van die plaaslike inwoners, ‘n dame, na vore en roep uit: “Hierdie manne is dienaars van die Allerhoogste God. Hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.” Hoe sou u reageer? Juig? Haar dalk nooi om ‘n bydrae oor die mikrofoon te kom lewer?
Nie Paulus nie. Hy het besef dat sy nie onder die salwing van die Heilige Gees gepraat nie. Meer nog: hy het gewaar geword dat dit ‘n bose godsdienstige gees was wat deur haar gepraat het. God sou nie haar getuienis eer deur harte tot Christus daardeur te bekeer nie.
Maar hoe moes hy optree? In sy hart het hy op God gewag. Nadat hy hierdie demoniese aanslag vir baie dae verduur het, het hy van die Heer opdrag ontvang om die gees te bestraf; wat die vrou toe onmiddellik verlaat het.
Hieruit leer ons ‘n belangrike les by Paulus. Alhoewel ons Jesus se gesag het om demone uit te dryf, moet ons dit onder leiding van die Heilige Gees doen. Die Here self verduur die duiwel eeue lank al. Ons moet hom soms ook verduur al kos dit tande kners. God se werk, wat dit ook al mag wees, moet volgens sy tydsberekening gedoen word. Die Heer was besig om Paulus hulle se boodskap daar op die strate van Filippi in die harte van die inwoners te gebruik, te midde van hierdie demoniese steurnis. God het vooruit geweet dat na die uitdryf van die demoon uit hierdie slawe meisie, Paulus hulle gearresteer sou word en geen verdere geleentheid sou hê om die Evangelie in Filippi te verkondig nie. Daarom het die Hy dit uitgestel totdat Hy sy prediking deur Paulus voltooi het. Hy weet altyd die beste.
Om die duiwel trompop te loop het dikwels ernstige gevolge. Paulus se optrede het nie net die slavin geraak nie, maar ook haar eienaar se beursie. Nou, as jy moeilikheid wil hê, steek net jou hand uit na ‘n ryk en invloedryke sakeman se sak. Dit is presies wat gebeur het. Die arme misbruikte meisie se woedende eienaars het ontdek dat haar vermoë om die toekoms te voorspel (of voor te gee dat sy kon) haar verlaat het en daarmee saam ook hul vermoë om geld deur haar te in. Hulle was woedend en het Paul en Silas, wat vreemdelinge in die stad was, gegryp en hof toe gesleep. Daar is valse beskuldigings teen hulle gebring. Hulle is skuldig bevind, wreed gegesel en daarna onder maksimum sekuriteit aangehou.
H. DIE TRONKBEWAARDER VAN FILIPPI.
Ons lees hoofstuk 16:23-33:
23 En toe hulle hul baie slae gegee het, het hulle hul in die gevangenis gewerp en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle sorgvuldig te bewaak. 24 Hy het toe, omdat hy so ‘n bevel ontvang het, hulle in die binneste gevangenis gewerp en hulle voete in die blok vasgemaak.
25 En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister. 26 En skielik kom daar ‘n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak.
27 En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy ‘n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het. 28 Maar Paulus het met ‘n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.
29 En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer. 30 En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? 31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. 32 En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.
33 En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense. 34 Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle ‘n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.
Het hierdie soldate van die Kruis hulself bejammer? Het hulle gehuil; gekreun – dalk; God blameer; probeer om te slaap na so ‘n uitputtende dag? Nee, eerstens het hulle gebid; moontlik gebid om vrygelaat te word sodat hulle met hul werk kon voortgaan. Maar daar kom ‘n tyd wanneer God sê: “Ek het kennis geneem van jou versoeke. Hulle is in groot letters op my muur reg voor my geskryf. Hou nou op om oor hierdie saak te bid.” En jy mag protesteer: “Here maar ek het seer en bloei en is honger en bang vir wat voorlê; ek kan nie net rustig hier lê nie. Albei my enkels is in die blokke. Ek kan my skaars draai.” Weet u wat Hy eenkeer vir my gesê het toe ek vir baie weke lank pynlik siek was? Hy het gesê: “As jy nog verder met my wil kommunikeer, prys My en hou aan en aan. Jy mag dit doen solank jy wil. Ek sal nooit moeg word om na jou lofprysing te luister nie.”
Maar daar is ‘n dieper les hieruit te leer; ek moet God nie loof en aanbid om my gebed verhoor te kry nie. Ek moet dit doen omdat ek Hom regtig liefhet en hom aanbid, al beantwoord Hy nie my gebed nie. Dit is om ‘n lofoffer te bring. Dit stel ‘n heerlike soet aroma vry in die hofsaal van die hemele. Toe Paulus en Barnabas in hierdie oorwinningsmodus van geloof inbeweeg, het die engele seker ‘n groot vreugdekreet laat hoor (my verbeelding). Die hele tronk het so hewig geskud dat die deure oopgeswaai en die boeie van die gevangenes afgeval het. Sjoe.
Ons sou dalk straat toe gevlug het, maar nie Paulus en Silas nie. Al wat hulle in gedagte gehad het, waar hulle ook al was, was die maak van dissipels. Daarom, toe die tronkbewaarder probeer selfmoord pleeg, sroep Paulus uit: “Moenie dit doen nie vriend, ons is nog almal hier!”
Nog ‘n wonderwerk. ‘n Oop tronk, maar die gevangenes verkies om binne te bly; moontlik weens die heerlike teenwoordigheid van God. Verligting sprei oor die verstomde tronkbewaarder se aangesig. Hy gryp’n fakkel, hardloop na Paulus toe en val voor hom op sy knieë. Daarna lei hy hulle na buite en pleit: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” “So maklik,” antwoord Paulus: ”Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word—jy en jou huisgesin.” Na die belewing van God se majesteit en genade, was dit so maklik vir die sipier en sy mense om in die Here Jesus te glo en gered te word.
Vreugde en dankbaarheid het deur daardie huis gevloei. Hulle het water laat bring en Paulus en Silas se wonde gewas. Nog meer water is gebring en hierdie nuwe gelowiges is gedoop om hulle onherroeplike geloof in Christus te bevestig. Uiteindelik is kos uit die kombuis gebring en in daardie vroeë oggendure het Paul en Silas ‘n stewige maaltyd geniet; en dit op Staatskoste!
I. FILIPPI SE AFSKEIDSGROET AAN PAULUS EN SILAS.
Ons lees die laaste verse van hoofstuk 16:
35 En toe dit dag word, stuur die regters die geregsdienaars en sê: Laat daardie manne los. 36 En die tronkbewaarder het hierdie woorde aan Paulus oorgebring: Die regters het laat weet dat julle losgelaat moet word; gaan dan nou uit en reis in vrede! 37 Maar Paulus sê vir hulle: Hulle het ons in die openbaar onveroordeeld geslaan, ons wat Romeinse burgers is, en ons in die gevangenis gewerp, en wil hulle ons nou in die geheim uitwerp? Volstrek nie! Laat hulle self kom en ons uitlei. 38 En die geregsdienaars het hierdie woorde aan die regters oorgebring, en dié het bang geword toe hulle hoor dat hulle Romeine was. 39 Daarop het hulle gekom en hulle gesmeek en uitgelei met die versoek om uit die stad te vertrek. 40 En nadat hulle die gevangenis verlaat het, het hulle na die huis van Lídia gegaan; en hulle het die broeders gesien, hulle bemoedig en weggegaan.
Die volgende oggend het die verstomde tronkbewaarder nog meer wonderwerke gesien toe die regters opgedaag het om God se dienaars om vergifnis te vra omdat hulle, hul so onregverdig gestraf het. Daarna het hulle, hul soos konings in waardigheid uit die stad uit gelei.
God se werk sorg dikwels vir onverwagte, aangename verrassings.
//////////
VIR AFLAAI (“DOWNLOAD”) IN PDF FORMAAT, KLIK → Paulus se tweede sendingreis. Klik dan op die aflaai pyltjie regs bo-aan die bladsy ⇓ . Indien u webleser (“browser”) nie oor ‘n PDF fasiliteit beskik nie, kan u dit deur middel van ‘n toep (“app”) op u selfoon of ander instrument aflaai.
//////////
U kommentaar help ons om ons lesers se behoeftes beter te verstaan en nuttiger studiegidse op die web te plaas. Gebruik asb die onderstaande kontakvorm daarvoor. Vrede en vreugde u toegebid.