
A. GOD BESTAAN IN DRIE PERSONE
En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. (Gen 1:26).
God verwys hier na homself in die meervoud want Hy gebruik die woord “Ons” wat aantoon dat Hy meer as een is.
En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. (Gen 1:27).
Die man en vrou, dws die twee persone gesamentlik, beeld God uit. Dit impliseer dat Hy ook meer as een Persoon is.
En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. (Mat 3:16,17).
Hier sien ons hoe dat al drie Persone van die Godheid gesamentlik optree: God die Seun word gedoop, God die Heilige Gees daal soos ‘n duif neer en God die Vader spreek vanuit die hemel.
Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. (Mat 28:19).
Die Vader, Seun en Heilige Gees moet al drie as God erken word deur die vermelding van Hulle name wanneer gelowiges gedoop word.
En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. (Joh 14:16,17).
Weer word die Vader, Seun en Heilige Gees gemeld as Persone in die Godheid.
Hoe kan drie verskillende Persone dan een wees? Net soos in die vorige paragraaf, kom ons te staan voor ‘n bonatuurlike feit wat ons in geloof moet aanvaar alhoewel ons dit nie verstandelik kan begryp nie. Ons moet ook in gedagte hou dat God ‘n geestelike wese is en ons vleeslik; Hy kan bestaan op ‘n wyse waarop ons nie kan nie en vir ons vreemd en ondenkbaar is.
Kom ons poog om in alle eerbied ‘n prentjie te teken om hierdie begrip te verduidelik. Ons kan die Drie-eenheid vergelyk met ‘n koppie tee. Daarin is daar tee suiker, water en melk. Wanneer ons dit geniet, sal ons nie sê ek drink nou tee, suiker, water en melk nie, maar dat ons ‘n koppie tee geniet. Ons sal daaraan dink as ‘n eenheid maar, neem ek dit na ‘n laboratorium, sal ‘n tegnikus in staat wees om die inhoud te analiseer en sal hy bevind dat dit bestaan uit tee, suiker, water en melk.
Net so is God die Vader, die Seun en die Heilige Gees drie duidelik onderskeibare Persone, nogtans is hulle een God en sou Hy in ons harte met ons praat, of iets vir ons doen, sal ons nie in staat wees om te sê of dit die Vader, die Seun of die Heilige Gees was wat met ons gepraat het, of ons gesond gemaak, of in ons behoeftes voorsien het nie; ons sal net weet en sê dat dit God was wat dit of dat gedoen het.
B. DIE FUNKSIES VAN DIE VADER SEUN EN HEILIGE GEES
1 God die Vader
-
-
-
-
- Hy is die Bron.
-
-
-
Van God die Vader het die krag uitgegaan om die heelal te skape en daardeur word dit in stand gehou. Hy is die bron van al die gawes wat na die aarde vloei.
Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie. (Jak 1:17).
-
-
-
-
- Hy neem al die besluite.
-
-
-
Hy besluit wat, waar, wanneer, hoe en deur wie alles gedoen moet word. Hy het die eerste en laaste sê in alles wat op die heelal betrekking het. Alles moet in lyn met sy wil en gedagtegang geskied.
Hy is die Argitek en Ingenieur wat haarfyn moes uitwerk hoe die skepping moes lyk en funksioneer. Hy moes besluit oor die biljoene sterre en planete, hulle groottes, massa, samestelling en wentelbane.
Die aarde het Hy nog fyner beplan: die oseane, berge, plante, wesens in die oseane en in die lug en op die droë grond en natuurlik ook die mens wat bestaan uit gees, siel en liggaam. Om dit in menslike terme te stel: sy ateljee is gevul met ‘n menigte van bloudrukke van dit wat Hy ontwerp en reeds laat skep het, maar ook van die nuwe hemele en aarde wat Hy vir die verre toekoms beplan het. Nee, laat ons bykom, sy werksplek bevat ultra moderne superrekenaars waarop jy met die druk van ‘n koppie die verlede, hede en toekoms van die kleinste mikro organisme kan navors. Nee kom ons stel dit soos wat dit is: Hy dra dit alles in sy eie denke; Hy is nie van hulpmiddele afhanklik nie.
-
-
-
-
- Hy doen die aanstellings.
-
-
-
Hy stel aan wie Hy wil, hetsy sy Seun, mense of engele, vir take wat uitgevoer moet word. Jesus was deur sy Vader aangestel as die Verlosser van die wêreld en die Heerser daaroor.
Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. (Ps 2:6-8)
Toe die moeder van Jakobus en Johannes die Here Jesus versoek het om haar twee seuns aan sy linker en aan sy regterhand in sy koninkryk te laat sit, het Hy geantwoord dat net sy Vader die sê daaroor het. Maar om te sit aan my regter— en aan my linkerhand, berus nie by My om te gee nie, maar dit is vir hulle vir wie dit berei is. (Mar 10:40).
Voordat Hy sy twaalf apostels aangestel het, het Jesus die hele nag deur op die berg gaan bid om hulle name van die Vader te kry.
-
-
-
-
- Hy bepaal die tye.
-
-
-
Hy bepaal op watter presiese datums en tye sy planne uitgevoer moet word bv, wanneer die Here Jesus na die aarde sal terugkeer.
Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen. (Mat 24:36, lees in konteks).
-
-
-
-
- Hy is nie verantwoordelik vir die uitvoering van die werk nie.
-
-
-
Persoonlik is Hy nie direk betrokke by die eindproduk nie. Die Vader is nie betrokke by die uiteindelike uitvoering van enige van sy beplande take nie (soos wat die eienaar van ‘n plaas nie self die skape skeer of die mielies plant nie. Hy is afhanklik van die Seun en die Heilige Gees om hierdie werk te doen. In die Nuwe Testament lees ons van slegs drie geleenthede waartydens Hy persoonlik na vore tree en die mense in sy eie stem aanspreek, en in al drie gevalle was dit om te bevestig dat Jesus sy geliefde Seun was in wie Hy volle vertroue gehad het en dat hulle na Hom moes luister. Dit was natuurlik by die Here Jesus se doop, by sy verheerliking op die berg en toe Hy by geleentheid die skare kort voor sy kruisiging toegespreek het.
Vader, verheerlik u Naam! Daar het toe ‘n stem uit die hemel gekom: Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik. En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag gewees het. Ander het gesê: ‘n Engel het met Hom gespreek. Jesus antwoord en sê: Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. (Joh 12:28).
Moet ons dan aflei dat ons Hemelse Vader daar vêr van ons af in die hemel met sy betuursfunksies besig is, terwyl ons as sy kinders hier op aarde swoeg en sweet? Nee geensinds nie: as God is Hy alomteenwoordig en sien Hy selfs hoeveel hare op my hoof is. Soos ‘n klein seuntjie op sy pa se skoot klouter, kan ek ook ononderbroke met my liefdevolle Geestelike Vader in gemeenskap verkeer.
2. God die Seun; die Middelaar
-
-
-
-
- Die middelaarsfunksie.
-
-
-
Middelaarskap in die Skrif behels die tot stand bringing van God die Vader se planne in die skepping deur te luister na wat Hy sê en te kyk wat Hy doen en dit net so uit te voer. ‘n Voorbeeld van hoe die Vader te werk gaan om sy planne te verwesentlik, is die konstruksie van die tabernakel. Dit was asof die Vader ‘n model van die tabernakel in die hemel gebou het wat Hy toe aan Moses vertoon het, tesame met ‘n mondelinge beskrywing van elke deel daarvan en Moses moes dit toe presies net so soos wat dit aan hom voorgehou is, gaan uitvoer.
En kyk dat jy dit maak volgens die voorbeeld daarvan wat jou op die berg getoon is. (Eks 25:40).
-
-
-
-
- Die Seun die perfekte middelaar.
-
-
-
Die Seun is die Middelaar, die tussen in Persoon, en Hy voer die Vader se gedagtes en planne in die skepping uit. Dit is waarom die Skrif leer dat die heelal deur die Seun geskape is (Joh 1:3; Kol 1:16). Die Seun het nooit enigiets gedoen wat Hy nie van sy Vader ontvang het nie. Gedurende sy wandel op die aarde het hy verklaar:
… Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so. (Joh 5:19).
-
-
-
-
- Die Seun as middelaar in die skepping.
-
-
-
Presies hoe die Seun as Middelaar hierin opgetree het, word nie aan ons geopenbaar nie, maar waarskynlik het iets soos die volgende gebeur: die Vader het sekere woorde gespreek om lig op aarde te gee, die Seun het toe op die balkon van Vader se hemelse paleis uitgestap, sy hande na die donker aardbol in die verte uitgebrei en uitgeroep, “Laat daar lig wees” en ewe skielik is daardie eensame hemelliggaam oorspoel met ‘n lieflike ligglans wat meegebring is deur die Heilige Gees wat lank reeds oor die waters gesweef het, in afwagting van hierdie skeppingswoorde van die Seun.
-
-
-
-
- Die Seun as middelaar in die reiniging van die tempel
-
-
-
Hier het ons nog ‘n voorbeeld van die dieselfde beginsel.
Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het. (Joh 5:30).
Toe die duiwehandelaars en geldwisselaars uit die tempel uitgedryf moes word, sou die Vader in die hemel die hele episode simbolies uitgevoer het: die vleg van die toutjies sweep, die omgooi van die tafels, die uitdryf van die handelaars uit die tempel en die woorde wat daarmee gepaard gegaan het. Die Seun, die Here Jesus, sou toe deur die werking van die Heilige Gees sien en hoor wat die Vader doen en presies dieselfde doen en spreek hier onder op die aarde in die tempel in Jerusalem.
-
-
-
-
- Die Seun se bediening op aarde was ‘n spieëlbeeld van wat die Vader in die hemel gedoen het
-
-
-
Daar was geen ruimte vir self nie, alhoewel Hy een Wese met die Vader was; God die Seun. Wat ‘n uitdaging aan elkeen wat bedien in die Naam van die Here Jesus. Om op te som: die Seun en Heilige Gees doen presies wat Hulle die Vader sien en hoor doen en Hy steun algeheel op Hulle vir die uitvoering van sy planne.
-
-
-
-
- Die prys van Middelaarskap
-
-
-
Daar was een middel wat in die hemele ontbreek het om ons heelal projek te kon deurvoer en dit was dat die skuld van die mensdom gedelg moes word. Die Vader wou graag die mens se skuld kwytskeld en hom weer in sy Koninkryk inneem, maar as Hy die mens se sonde nie eers tot die laaste droeseltjie toe sou straf nie, sou Hy onregverdig optree en deel daaraan hê. Hierin het die Seun hom te hulp gekom en aangebied om daardie bydrae te lewer deur aan die kruis vir die sonde te betaal. Dit was Jesus se uitsonderlike daad as Middelaar.
… want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God. Nadat Hy hierbo gespreek het: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondoffers wou U nie hê en het U nie behaag nie—wat volgens die wet geoffer word—het Hy daarna gesê: Kyk, Ek kom om u wil te doen, o God. Hy neem die eerste weg om die tweede te stel. Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal. (Heb 10:4-10).
Ja, die Vader het geweet dat die mens uit sonde en dood verlos moes word, maar wie sou gewillig wees om daardie middelaarsrol te vervul; om sulke geweldige pyn en veragting te ly, om soos ‘n misdadiger aan ‘n kruis te sterf, om deur God verlaat te word omdat die straf vir die mens se sonde op hom rus? Toe kom die Vader se geliefde Seun, Jesus, en bied homself as vrywillige middelaar aan. So het Hy die pyplyn geword waardeur die Vader se seëninge van redding vanaf die hemel na die aarde kon vloei. Hy het al die rykdomme verwerf wat op die gevalle mens uitgestort sou word. Die kruisdood was die losprys wat die Middelaar moes betaal.
Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, … (1Tim 2:5).
Nadat hy hierdie groot werk afgehandel het, het Hy opgevaar na die hemel na die regterhand van die Vader waar Hy nou besig is om hierdie taak van middelaarskap voort te sit deur tot sy Vader te bid dat die seëninge wat Hy verwerf het deurgevoer mag word na die mensdom.
-
-
-
-
- Middelaarskap Vervul
-
-
-
Aan die einde van alle dinge, wanneer alles tot vervulling kom, sal die Seun se middelaarstaak afgehandel wees en sal Hy alles waaroor Hy beheer gehad het, aan die Vader oorgee.
Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees. (1Kor 15:24-28).
En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. (Rev 19:6).
3 God die Heilige Gees
Die Heilige Gees is daardie persoon in die Godheid wat die seëninge van die Vader en die verdienstes van die Seun oordra na, of aanwend in die skepping.
Ons lees in Gen 1:2 dat, toe die aarde donker en leeg was, die Heilige Gees oor die waters gesweef het. Soos ‘n hen wat besig was om op eiers te broei sodat daar lewende kuikens uit kan voortkom, het Hy begeer om die seëninge van plante, diere en mense wat die Vader beplan gehad het, op die destydse leë aardbol ‘n werklikheid te maak.
Net so begeer Hy ook om nuwe geestelike lewe in hierdie geestelike donker wêreld te bring. Daarom dan ook, toe die Here Jesus opgevaar het na die hemel, was sy eerste gebed tot die Vader dat Hy die Heilige Gees hierheen moes stuur om die mensdom te verlos; om die verlossing wat Hy, die Seun voor betaal het, aan die mensdom oor te dra. Die Vader het sy gebed beantwoord en die Heilige Gees is op Pinksterdag uitgestort. Hy verkondig nou hierdie groot Evangelie, hierdie goeie Boodskap van verlossing aan die mensdom, open hulle gedagtes om dit te verstaan en gaan woon in die harte en lewens van hulle wat hulleself vir Hom oopmaak.
Net soos wat Jesus niks uit homself kan doen nie, kan die Heilige Gees ook niks uit homself doen nie maar doen net dit wat hy die Vader hoor en sien doen.
Wanneer die Heilige Gees uiteindelik sy werk van verlossing hier op aarde in die tuin van God voltooi het, sal die Seun hierheen terugkeer om die oes in te samel.
Op hierdie wyse vervul elke Persoon in die Godheid ‘n afsonderlike, duidelik omskrewe funksie om tesame Hul voorafbeplande doelwit te bereik.
C. DIE HARMONIE IN DIE GODHEID
Wat ons reeds hierbo gesê het, wil ons net weer herhaal: Wanneer die Seun en die Heilige Gees, onder die bestuur van die Vader, alle opstand teen God binne sy skepping vernietig het, oorhandig Hy die mag oor die nuwe hemel en aarde met alles wat daarop is, aan die Vader van Wie alles aanvanklik uitgegaan het. Korrigeer Engelse teks
Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. (1Co 15:24).
In hierdie Koninkryk sal Jesus met sy bruid, die wedergebore mensdom ( wat intussen tydens die bruilofsmaal van die Lam sy vrou geword het) verewig saamleef.
O, wat ‘n heerlike, soete, heilige, liefdevolle atmosfeer heers daar tog in die hemel. Dit vul ‘n mens se hart met verlange en laat jou sommer weer uitroep, “Amen, ja kom Here Jesus, kom gou!”
(N.S Om oor die Heer se opdragte, beloftes, werke en handelinge met die mens te skryf, is alreeds ‘n heilige taak, maar om oor HOM te skryf, is ontsagwekkend; jy voel gedurig dat jy op heilige grond beweeg, asof die atmosfeer om jou gelaai is met sy teenwoordigheid en jy wens dat jy soos die engele vlerke gehad het waarmee jy jouself kon bedek soos die serafs waarvan in Jes 6:2 geskryf is.)
……….